’n Onderhoud met bekroonde navorser Cilliers van den Berg

  • 4

Cilliers, hartlik geluk met die bekroning van twee van jou akademiese artikels deur die ATKV/SAAWK:

Wat beteken so ’n bekroning vir jou?

Dit is tog altyd lekker om erkenning te kry vir werk wat in die afgeslotenheid van ’n ivoortoring gedoen word. Dit is ’n aanduiding dat die mure dalk tóg poreus is en dat iemand anders daarby stilgestaan en dit bes moontlik interessant gevind het. Hierdie spesifieke bekroning is egter spesiaal, omdat dit vir my ook oor navorsing in Afrikaans gaan. Ek is eintlik ’n Germanis en is veronderstel om my met die Duitse letterkunde besig te hou, maar Afrikaans sal altyd die taal wees waarin ek my die beste kan uitdruk. Dat goeie navorsing steeds in hierdie taal gegiet kán word, is klinkklaar, en dit is graag hiér waar ek ook ’n bydrae wil lewer. Uiteindelik gaan dit seker ook nie oor watter individue watter bekronings ontvang nie, maar eerder dat in Afrikaans gepubliseer word.

Hoe pas hierdie twee artikels in jou oorkoepelende navorsingsfokus is?

Die artikel oor Horrelpoot is ’n bietjie van ’n uitskieter wat my navorsing betref – oorspronklik wou ek ’n vergelykende studie doen van Eben Venter se werk en ’n Duitse roman wat ek voorgraads doseer. En soos wat gewoonlik gebeur, is ek verlei en afgerokkel deur die teorie en het ek besluit om meer op die aard van intertekstualiteit, wat dan mimesis sou insluit, te fokus. My navorsingsfokus tans is redelik wyd: ek hou baie daarvan om vergelykend te werk met werke of tendense uit ander letterkundes en dan spesifiek met betrekking tot die rol wat letterkunde in ’n sosiopolitieke konteks (kan?) speel. Een van die beste wyses om laasgenoemde rol te deurdink, is om te kyk wat gebeur in die drukkoker van sogenaamde Vergangenheitsbewältigung, ofte wel die omgaan met moeilike verledes. Sommige akademici noem sulke navorsing traumastudies, maar dit is uiteindelik iets veel wyer as dit, iets wat ook heeltemal interdissiplinêr is. Kollektiewe traumas (indien so iets enigsins bestaan) verteenwoordig ’n ekstreme situasie in die Sartreaanse sin van die woord, waarbinne die funksies van kuns en die letterkunde op die spits gedryf en dus bedink kan word. Maar die teoretisering van trauma is ook erg problematies, deurdat dit verskeie roetes volg, wat sosiologiese en psigoanalitiese perspektiewe insluit. Tans fokus ek op die problematiek van laasgenoemde, by name veral Jacques Lacan se teoretisering van die sogenaamde Reële. Die (morele) vraag is gewoon of trauma inherent deel is van die struktuur van talige wesens se bestaan en of dit eerder histories bepaald is. Die artikel oor “histerie” en “perversie” sluit hierby aan, deurdat dit kyk na hoe die narratief van slagofferskap ontwikkel.

Een van die keurders het genoem dat die komplekse struktuur en werkswyse wat gekies is vir die artikel oor Horrelpoot, hoë eise aan die skrywer en die leser stel om die ontwikkeling van die betoog goed te kan volhou of volg. Het die keurders sinvolle insette gelewer wat jou gehelp het om jou argument te verfyn? Gee asseblief enkele voorbeelde.

Ek moet myself altyd telkens daaraan herinner om eenvoudiger te probeer skryf. Ek het die slegte gewoonte ontwikkel om te veel te probeer sê met die woorde tot my beskikking, wat dikwels tot gevolg het dat dit gewoon te kompleks raak. Ek het baie groot waardering vir skrywers wat komplekse begrippe op ’n eenvoudige manier kan stel – dit is werklik ’n gawe en behoort absoluut nagevolg te word. Ek vind die insette van keurders gewoonlik uiters produktief, selfs al sou ek nie noodwendig met hulle menings saamstem nie. Mens kry baie gou ’n gevoel vir die moeite wat keurders doen met ’n nougesette lees van ’n artikel – en ek het ontsettende waardering daarvoor. Ek vind dikwels dat ek attent gemaak word op dinge wat ek eintlik geweet het moet verander en dit is dan goed om bevestiging daarvan te kry. Soms is dit uiters produktief om te sien waar die onduidelikheid te groot raak en waar ’n eenvoudiger stelwyse gebruik moet word. Soos wat die geval is by taalgebruik, lees mens uiteindelik oor jou eie foute wat konseptuele presisie aanbetref. Wat betref die artikel oor Horrelpoot, was dit waarskynlik die belangrikste wins wat ek uit die kommentaar gekry het.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Minda van Zijl

    Ek het 'n groot probleem met d woord "horrelpoot". Ja, ek weet dit was algemene gebruikstaal vir 'n sekere fisiese defek, maar voel nog altyd dis 'n vieslike woord, net soos kruppel. Indien jy nie self die gebrek het nie, kan jy nooit weet wat dit is om prakties daardie woord te leef nie en dus dan ook nie die woord ligtelik gebruik nie.

  • Avatar
    Naòmi Morgan

    Wat hiérdie leser tref, is Cilliers se keurige Afrikaans. Dit sou tragies wees om 'n navorsingsmedium wat tot so 'n vlak ontwikkel is, te moet verloor, want die navorser verloor dan sy grootste oortuigingskrag. 'n Mens sou hoop dat diegene wat oor taalbeleide by universiteite besluit, die moeite sou doen om die uitsette van die beste navorsers in Afrikaans te lees.

    • Avatar
      Johannes Comestor

      Dankie, Naomi. Ek voeg by: Universiteite behoort studente en dosente aan te moedig om artikels, verhandelinge en proefskrifte in Afrikaans te skryf en publiseer en lesings en toesprake in Afrikaans te lewer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top