Die Buren-periode in Breyten Breytenbach se plaaslike uitgeegeskiedenis, deel 1: Breyten Breytenbach oor samewerking met uitgewers

  • 0

Foto van Breyten Breytenbach: ©Naomi Bruwer

Die Buren-periode in Breyten Breytenbach se plaaslike uitgeegeskiedenis, deel 1: Breyten Breytenbach oor samewerking met uitgewers

  • Alle korrespondensie tussen wyle Breyten Breytenbach en wyle Daantjie Saayman verskyn met skriftelike toestemming van hul families.

Willem de Vries1 stel in sy onderhoud met Breyten Breytenbach in die huldigingsbundel woordenaar woordnar (Galloway 2019:26–7) die volgende vraag aan hom:

’n Belangrike band in die formalisering van skryfwerk is dié tussen skrywer en uitgewer. Watter rol het verskeie uitgewers in die publikasie van jou werk gespeel sedert dit in 1964 verskyn het?

Hierop antwoord Breytenbach:

Ek is bly en dankbaar dat wat ek skryf tot dusver nog altyd iewers ’n heenkome gekry het. Die aanbieding – formaat, lettertipe, versorging – kan sekerlik ’n verskil maak, maar dit is ook byna al plek waar die verskille tussen uitgewerye belangrik is. “Groot” uitgewers, waar dan ook, het nog nooit enigiets verander aan waarmee ek besig bly nie. Wat wel van onskatbare waarde is, is dat ek vir lang tye en met sleutelprojekte of oorgange so gelukkig was om besonderse agente en redakteurs te hê.

Hy gaan dan voort om te verwys na die rol van spesifieke mense wat by sy buitelandse publikasies betrokke was. Oor samewerking plaaslik, vertel hy:

Tydens die donker tye van blatante sensuur onder die vorige bedeling het Daantjie Saayman se entoesiasme my gedra. ’n Ligtoring tóé was die durf van die musketiers – Ernst Lindenberg, Jonna Miles, Ampie Danster Coetzee, Gerrit Olivier, later as vormgewer ook Tienie du Plessis – wat van die donkerte lig gaan staan en maak het met die “alternatiewe uitgewery” Taurus. Hulle het daarin geslaag om sommer so onder die neuse van die broeders boeke en bundels te publiseer en versprei wat andersins nie die lig sou gesien het nie, en dit bowendien mooi te laat lyk! [...] Ek is toe met my werk na Human & Rousseau – het altyd respek gehad vir Leon Rousseau – en eintlik na die sorg van koning Neels Breytenbach, waarby die Portugese Restaurant besonderlik gebaat het. En Alida Potgieter. Niemand ken my werk met so ’n suiwer aanvoeling as sy nie.

 

Fokus op uitgewery-ondersoek

Sedert die 2000’s is my navorsingsaktiwiteite gefundeer in die institusionele benadering tot die “kulturele veld”. Dit is die ruimte van beskikbare posisies wat verskillende rolspelers gedurende hulle loopbane opbou en wat op mekaar inspeel. Literêre werke het hulle status, waarde en rangorde nie alleen aan die aktiwiteite van skrywers te danke nie, maar ook aan die kwaliteit en status van materiële produsente (byvoorbeeld die prestige van ’n uitgewery) en verspreiders (byvoorbeeld die elite-boekhandel teenoor die boekklub of supermark), asook simboliese rolspelers (byvoorbeeld die reputasie van kritici, prysbeoordelaars, mediakanale).

Die uitgewery word gewoonlik geassosieer met ’n hekwagtersrol, maar dit speel ’n veel omvattender rol in die loopbaan en reputasie-ontwikkeling van ’n skrywer. Die uitgewery bepaal wie deel word van die boektoneel, wie hulself “skrywer” kan noem; die uitgewery reguleer die verskyning van werke op die mark, rig die skrywer af, besluit wie sal voortgaan om gepubliseer te word en wie nie. Die uitgewery bepaal die finale weergawe waarin die teks gepubliseer word en het die laaste woord oor die bandontwerp en voorkoms. Verder kies die uitgewery die spesifieke eksploiteringstrategie – soos om die teks uit te gee as hardeband, slapband, boekklubuitgawe, heruitgawe in ’n goedkoper reeks, opname in ’n “klassieke” reeks of in ’n versamelde werk. Die uitgewery kan ook van die begin af ’n rol in simboliese produksie speel deur byvoorbeeld die teks of skrywer binne die raamwerk van ’n bepaalde produksiekategorie, stroming, skrywersgroepering of modeneiging te posisioneer.

Terwyl ek hoof van die afdeling Uitgewerswese in die departement Inligtingkunde van die Universiteit van Pretoria was, was ek die koördineerder van jaarlikse bedryfsverslae in opdrag van die Publishers Association of South Africa (PASA). In 2016 het ek saam met Rudi Venter ’n perspektief op die Afrikaanse uitgewersbedryf saamgestel vir die nuwe uitgawe van Perspektief en profiel.2

 

Die uitgeegeskiedenis van Breyten Breytenbach

My doktorale navorsing het gefokus op Breytenbach se loopbaan as openbare figuur en skrywer en is later uitgebrei in ’n boekpublikasie.3 In hierdie monograaf doen ek uitgebreid verslag oor die publikasie en resepsie van sy oeuvre tot aan die einde van die 1980’s. In 2012 verskaf ek op LitNet ’n breë kartering van sy uitgeegeskiedenis tot op daardie stadium.4 Hierin het ek tussen drie plaaslike fases onderskei en dit oorsigtelik toegelig.

Die eerste produksieperiode (1964–1976): Rondomtalie

Die grense van hierdie produksieperiode word bepaal deur die eerste en laaste Breytenbach-tekste wat deur die Afrikaanse Pers-Boekhandel, wat later bekend sou staan as Perskor, uitgegee is. Naas hierdie “hoofstroom”-uitgewery, wat gekoppel was aan ’n mediamaatskappy, was daar in hierdie periode ook twee klein onafhanklike uitgewerye by die produksie van die oeuvre betrokke, naamlik Human & Rousseau in sy ontstaansfase en Buren-Uitgewers. Daar word ook na hierdie periode in die skrywer se loopbaan verwys as die “voortronkfase”.

Die tweede produksieperiode (1977–1994): In die stal en die wye wêreld in

Die grense van hierdie produksieperiode word bepaal deur die eerste en laaste tekste wat deur die eertydse onafhanklike, alternatiewe uitgewery Taurus geproduseer is. Die enigste ander plaaslike uitgewerye (ook onafhanklik) wat in hierdie periode by die oeuvre-ontwikkeling van Breytenbach betrokke is, is David Phillip Publishers, HOND en Intaka. Die grootste deel van die produksie in hierdie periode is deel van die “tronkfase” van die skrywer se loopbaan.

Die derde produksieperiode (1995–2019): Die wiel het gedraai

Politieke transformasie het in die 1990’s ’n uitwerking gehad op die funksionering van die Suid-Afrikaanse samelewing in die breë en op die struktuur en aard van organisasies en (kultuur-) bedrywe. Die politieke rondomtalie veroorsaak dat Breytenbach weer op Human & Rousseau (nou ’n hoofstroom-uitgewer) se publikasielys beland toe hulle die Taurus-fondslys oorneem. So word die ontwikkeling in sy postapartheid-oeuvre en -loopbaan aan hierdie uitgewery gekoppel.

Vandag meen ek dat daar ook ’n vierde produksieperiode onderskei kan word, veral na 2019, met publikasies buite die hoofstroom en op aanlyn platforms soos LitNet en Versindaba.

Na hierdie vroeë kartering, het ek uitgebrei op Breytenbach se plaaslike (en internasionale) uitgee- en resepsiegeskiedenis tot 2019 in twee hoofstukke in die huldigingsbundel woordenaar woordnar.5 Op 23 Februarie 2025 neem ek deel aan die viering van sy lewe by die Breytenbach-sentrum op Wellington met ’n oorsig van sy uitgeegeskiedenis en openbare optredes, later geplaas op LitNet.6 Tans fokus ek, met behulp van die verkenning van openbare en argivale bronne, in meer diepte op spesifieke periodes van Breytenbach se plaaslike uitgeegeskiedenis.

Boekomslag: verskaf

Die navorsing oor die Afrikaanse Pers Bpk- (later Perskor-) periode het uitgeloop op ’n bydrae in die huldigingsbundel vir Bartho Smit, uitgewer verbonde aan hierdie uitgewery.7 Breytenbach maak sy dubbele debuut in 1964 by die behoudende hoofstroom- Afrikaanse Pers Beperk (APB) met die digbundel Die ysterkoei moet sweet en die kortprosabundel Katastrofes. Dit word die volgende jaar bekroon met die APB-prys (die grootste geldprys van daardie tyd) wat in Parys aan hom oorhandig is. Hy verbreek egter sy bande met die APB, omdat hy sy uitgewery blameer vir die onwelkome publisiteit rondom sy privaatlewe (wat uitloop op die weiering van ’n visum aan sy vrou) en omdat die prosamanuskrip Om te vlieg van die hand gewys word.

Boekomslag: verskaf

Sy tweede poësiebundel Die huis van die dowe – die volgende jaar op omstrede wyse met die CNA-prys bekroon – word in 1967 met wysigings en die uitlaat van minstens een gedig uitgegee deur Human & Rousseau (wat in Februarie 1959 as onafhanklike tweemansuitgewery onder eienaarskap van Koos Human en Leon Rousseau tot stand gekom het). Alhoewel daar aanvanklik ’n gewilligheid was om ook Om te vlieg uit te gee, het twee van die drukkers wat die uitgewery se drukwerk doen, geweier om dit te set. Die skrywer se standpuntinname teen die apartheidbestel in die (Nederlandse) pers kulmineer in 1968 in ’n snydende ope brief van sy uitgewers waarin hulle hul distansieer van sy politieke posisie. Breytenbach beskou dit as ’n daad van verloëning en hy verbreek bande met Human & Rousseau.8

Vir die tweede maal in vier jaar was die toe reeds twee maal bekroonde skrywer sonder ’n uitgewer.

André P Brink (2009:346)9 vertel hoe onseker Breytenbach se toekomsplanne op daardie stadium was. Voorlopig kon of wou hy nie in Suid-Afrika publiseer nie en hulle het ooreengekom dat Brink ’n groep van Breytenbach se liefdesgedigte, getitel Skulp vir reën, onder sy eie naam in Suid-Afrika sou probeer uitgee en daarna die waarheid aan die groot klok hang. Hy het die bundeltjie aan die uitgewer John Malherbe voorgelê wat dit deur ’n keurder laat lees het wat dit vir publikasie afgekeur het, omdat dit “te sterk onder die invloed van Breyten Breytenbach” was!

 

’n Nuwe tuiste: Buren-Uitgewers (Edms) Bpk

Daantjie Saayman was ’n kleurryke figuur: eers polisieman wat spoedlokvalle gestel het; swerwer in Afrika; reisende boekverkoper; bestuurder van Nasionale Boekhandel se boekwinkel in Kaapstad; en uitgewer. Sy eerste eie klein uitgewery Buren is vernoem na ’n bastion van die Kasteel. Die kantoor was in die Cape Times-gebou, St Georgewandelstraat in Kaapstad. Die personeel het uit Saayman, Abe (Agmat) Brown10 en ’n tikster bestaan.

Die verskyning van Kouevuur by Buren-Uitgewers in 1969 was ’n verrassing vir sommige lesers wat verwag het dat Breytenbach, ná ’n tweede visumweiering aan sy vrou, nie weer in Afrikaans sou publiseer nie.11 Al het Breytenbach en sy nuwe uitgewer koppe gestamp tydens die publikasieproses van Kouevuur, toon die briefwisseling tussen hulle dat daar wel ’n vertrouens- en vriendskapsverhouding ontwikkel het. In 1970 verskyn Oorblyfsels: uit die pelgrim se verse na ’n tydelike en Lotus. Hierna volg Om te vlieg: ’n opstel in vyf ledemate en ’n ode (1971) – die prosateks wat deur twee ander uitgewerye afgekeur is – en Met ander woorde vrugte van die droom van stilte (1973).

In hierdie oorsig fokus ek op die verhouding tussen Saayman (uitgewer) en Breytenbach (skrywer), gegrond op hulle beskikbare briefwisseling. Afskrifte daarvan word bewaar in die Spesiale Versamelings-afdeling van die Universiteit Stellenbosch Biblioteek. Daar is min inligting beskikbaar, maar die skenker word aangedui as Daantjie Saayman en die datum waarop dit aan die instansie oorhandig is, is Mei 1975. Die nota daarby lui: “Fotokopieë is gemaak as gevolg van veiligheidsmaatreëls. Mnr Saayman het die oorspronklikes en dit sal later aan ons geskenk word.” Die skenking het vir 50 jaar dormant gebly in die afdeling totdat dit deur ’n personeellid ontsluit is en ’n klein inventaris opgestel is. Ek het bewus geword van die inventaris en toegang gekry tot die dokumentversameling.

Hierdie argivale dokumentasie bevat slegs die briefwisseling tussen Saayman en Breytenbach en dit is nie die volledige Buren-argief nie. Saayman se briewe is deur sy kantoorwerker (bo-aan elke bladsy aangedui as SDT en later JR – die J staan vir Joyce) getik; Breytenbach s’n is meestal getik (deur homself) met of sonder aantekeninge in skrif, maar soms ook in die geheel handgeskrewe. Die briefkommunikasie in hierdie versameling het teen die einde uitgedun en tot ’n einde gekom met die lotgevalle van Buren.

Ek gebruik die briefwisseling/dokumentasie slegs om die verhouding tussen Saayman (as uitgewer) en Breytenbach (as skrywer) te belig met klem op samewerking, asook die onderhandelinge rondom die inhoud en voorkoms van die boeke. Ander (persoonlike) kwessies, selfspot en (skinder- en skunnige) praatjies val buite die bestek hiervan en word net betrek indien van toepassing op die betrokke samewerking. Daar is baie min sprake van politieke/ideologiese kwessies, behalwe vir die dreigement van (pre-) sensuur. Ek laat soms kruhede in die briewe weg.12

Die briewe tussen hulle bied ook interessante inligting oor ander Buren-skrywers (soos Adam Small en Athol Fugard) en -publikasies, soos die boek Wynland: padlangs deur die wynroete, onder redakteurskap van H van der Merwe Scholtz en met foto’s deur Breytenbach se fotograafbroer Cloete, asook ander boeke in die reeks. Saayman het ook vir Breytenbach op hoogte gehou van belangrike Afrikaanse publikasies buite sy stal en gereeld vir hom nuwe boeke gepos.

Ek orden die oorsig wat volg aan die hand van die boeke wat Buren uitgegee het en nie bloot as ’n chronologiese relaas van die korrespondensie nie.

 

Die publikasie van Kouevuur (1969)

Daantjie Saayman was in April 1969 in Parys waar hy Breyten Breytenbach ontmoet het wat aan hom ’n manuskrip (getitel Bloed aan die deurposte) oorhandig het. In ’n getikte brief van Breytenbach aan Saayman, gedateer 19 April 1969,13 verskaf hy hulle vriend Jobst Grapow14 se adres in Rome, waar hy en sy vrou tot 15 Mei in geval van nood bereik kan word.

’n Brief van Daantjie,15 gedateer 9 Mei 1969, is aan Breyten gerig by die Rome-adres. Hy bedank hom en Yolande vir hulle vriendelikheid toe hy in Parys was en vertel dat hy daarna ’n draai in Rome by die Grapows gemaak het en dat hy sedert sy terugkeer twee weke gelede ook binnelands moes reis vir werk. Hy verskaf dan die volgende inligting oor die manuskrip wat by hom is:

Jou resitasies is vir my te pragtig. Soos ek jou egter gesê het moet Merwe Scholtz16 eers sy seën ook uitspreek voordat ek kan publiseer. Hy sit nou met die manuskrip en dit wil voorkom of hy net so geesdriftig soos ek is. Ek vra om verskoning dat hy so lank sloer – maar jy ken die akademici. Aanjaag help ook nie. Berus jou daarby dat ek baie geesdriftig is om jou gedigte te publiseer. Dit wil my voorkom dat Merwe in “alle relatiewe eerlikheid” bedenkings oor ’n paar van die gedigte en groot geesdrif vir die res het. Soos afgespreek sal ek egter my (en sy) kaarte oop lê voor jou. Meer kan ons nie van weerskant verwag as openhartigheid nie. Of hoe?

Hierdie brief arriveer nie in Rome terwyl Breyten nog daar is nie.

Op 11 Mei 1969 skryf Breyten in Rome ’n handgeskrewe briefie aan Daantjie. Hy kan nie meer onthou presies wat hy op die eerste bladsy van die brief geskryf het wat verkeerdelik aan Lina Spies gestuur is nie – maar dit was “iets in die lyn van: kan jy asseblief my ms vir my terugstuur?”

Ek het nl. besluit om weereens van voor af aan al daardie verse te werk en dit (die ms.) ook baie uit te dun. Dit beteken nie noodwendig dat ek teen alle publikasie besluit het nie, net dat ek alles weer rustig wil oorweeg sodat, as ek dan later wel iets voorlê ek ten minste seker is dat dit die beste is wat ek kan doen.

Hierdie nota het nog nie vir Daantjie bereik nie toe hy in ’n brief van 27 Mei 1969 vertel dat Merwe Scholtz hom gebel het en “in ekstase” oor die manuskrip is en meen “hier het ons van die mooiste gedigte wat nog in Afrikaans geskryf is”, maar:

Daar is natuurlik die ewige haakplekke. Hy voel nie te lekker oor ’n paar van die gedigte nie – ek dink dit is waarom hy so lank gesloer het. Ek dink hy het nog ’n mening bygekry, hoewel hy nie so gesê het nie – dis maar ’n raaiskoot omdat ék dit sou doen. Ons het mekaar nog net oor die foon gehad dus weet ek nog nie wat sy besware is en teen welke gedigte nie. Hy skryf egter sy verslag in ’n brief aan jou. Ek hou duim vas dat julle mekaar vind want Merwe is ’n opregte mens, heeltemal oop en sonder stront. Sy besware sovér ek uit ons gesprek kan aflei is om jou en jou mark te beskerm. Die boek moet tog hier verkoop word. Ek sal sorg dat sy brief môre aan jou gepos word. [...]

Ek sal uit die aard van die saak die gedigte waarteen Merwe beswaar het met hom bespreek en dan ook my mening vir jou stuur. Jammer net ek ken nie al die name van die woorde as dit by bespreking oor Poësie kom nie. My gevoel is al waarop ek kan gaan. Gelukkig is jy die soort digter (veral in Bloed aan die Deurposte) wat tot my gevoel deurdring.

Daantjie noem dat André Brink ’n besoek aan die Kaap en aan Buren gebring het en dat hy hom van Breyten se manuskrip vertel het – hy hoop Breyten het nie beswaar daarteen nie. “Hy is baie bly dat ek dit gaan uitgee – of liewer dat jy besluit het om dit uit te gee.” Brink het aangebied om “’n kleurskyfie van Yolande voor een van jou skilderye (sy staan glo met arms uitgestrek voor ’n kruis) te leen vir die stofomslag”. Hy vra of Breyten die foto ken en of hy dink dit kan gebruik word, of eerder ’n ander motief. Hy verneem ook of Breyten lus is om iets vir hom te vertaal.

Breyten bedank Daantjie in ’n getikte brief uit Parys, gedateer 30 Mei 1969, vir ’n onlangse telegram.17 Daantjie se brief wat Rome toe gestuur is, het na sy vertrek daar aangekom en Jobst het dit die vorige dag vir hom oor die foon voorgelees.

Blykens jou telegram het julle dus intussen besluit om te publiseer. Natuurlik maak dit my hart seer van blydskap, maar ek moet weereens daarop aandring, verskoon my, dat die ms. soos hy nou daar lê nie afgewerk is nie, “vas” is of voltooi is nie. Sommige van die verse wat jy reeds het het intussen klein veranderinge ondergaan – ’n groep van sewe verse verskyn in die eersvolgende no. van RASTER, ’n Hollandse kwartaalblad.18 ’n Hele klomp van die huidiges (soos die lang reisbrief bv.) val weg en ’n paar wat sedertdien afgerond is kom by.

Hy verduidelik dat die oorspronklike opset van die manuskrip ’n bundel reisverse was – reis in al sy vorme, vandaar die bloed aan die deurposte. Terselfdertyd het hy begin groepeer vir ’n “rond-om-reis bundel” tentatief Kouevuur genoem. Toe dit oplaas tot hom deurdring “dat alle reis maar net ’n aftakeling is”, was daar geen rede meer waarom die twee konsepte “afsonderlik moet ontwikkel met soortgelyke vryhede” nie. Hy lê nou die volgende “beleid” aan Daantjie voor:

Bundel KOUEVUUR bestaande uit vier afdelings – BLOED AAN DIE DEURPOSTE (wat al die suiwer reisverse gaan bevat, dus beide Afrika en Italië – en hier het ek baie gewan); EK SKUUS OORBLYFSELS – dit is die derde afdeling (gekwesde aap...) wat jy nou daar het waarvan ’n paar ook verdwyn; MENSVERSE – so vyf of ses gedigte opgedra aan mense; en les bes SLAAP ONDER LEDE wat daardie een lang ode is waarvan ek jou vertel het. Altesaam behoort dit nie ’n langer of dikker bundel te maak as dié wat jy reeds daar het nie en soos jy sal sien is die oorgrote meerderheid reeds daar.

Hierna besin hy oor die praktyk om alles bymekaar te kry sonder heen-en-weer stuurdery. Die beste uitweg sal dalk wees dat hy die uitstaande verse so gou moontlik pos met ’n inhoudsopgawe om aan te dui hoe hy “die ding sien, en in watter volgorde”. Hy mik om die voltooide bundel teen einde Junie te besorg en hoop dit kan nog in hierdie jaar verskyn (om sy vorige uitgewer Koos Human te irriteer). Hy vra weer dat die bundel, of moontlikheid van ’n bundel, voorlopig tussen hulle moet bly; anders gaan ’n skinderbladstorie versprei word.

Onderaan hierdie brief verskyn daar ’n handgeskrewe gedeelte met 11 notas as reaksie op Daantjie se brief van 27 Mei wat hy pas ontvang het – enkeles hiervan lui soos volg:

Bly om te hoor Merwe hou daarvan

Nog blyer dat jy daarvan hou: dis belangriker

Jammer jy’t vir André daarvan gesê ... (maar ek skryf vir hom)

Ek vertaal graag

Hierdie “markbeskerming” jong? Ai!

André se skyfie is besonder goed, maar ek weet nie of dit geskik sal wees vir ’n bundel wat handel oor suiwerder aspekte van kak nie. Hoewel die idee intrigeer my. Ons dink en skryf weer. Terloops, André is ’n goeie “layout” man (en “uitlê” ook).

Die argiefdokumentasie bevat sowel die handgeskrewe nota van Merwe Scholtz (gedateer 30 Mei) as die getikte weergawe daarvan (gedateer 3 Junie 1969). Hy lig Breyten in dat sy gedigte opwinding verskaf en dat Buren trots is om hom te publiseer. Hy versoek dat drie van die gedigte weggelaat word, naamlik “Bruin reisbrief”, “Don’t feed the animals”, en die een oor die masjiengeweer. Hy lig ook vir Breyten in dat Kruik die volgende jaar Shakespeare se “Titus Andronicus” wil opvoer en hy wonder of Breyten sou belangstel om dit te vertaal teen vergoeding van R600.19

Op 4 Junie 1969 skryf Daantjie aan Breyten en lig hom in dat Merwe toe op ’n kort briefie (bostaande) besluit het, wat die vorige dag gepos is net voor Breyten se brief van 30 Mei by hom aangekom het. Hy brei nou uit daarop:

Ek is dit met hom [Merwe] eens oor “Bruin Reisbrief” (wat jy self in elk geval wil weglaat) en “Nie met die pen nie maar met die Masjiengeweer” van “Don’t feed the Animals” weet ek nie so mooi nie. Jy moet my egter glo as ek vir jou sê dat Merwe tot in sy murg eerlik is – dan sal jy sy beswaar – vergeet nou van “Markbeskerming” – kan begryp. Hy is lid van die Publikasieraad en plaas my voor die voldonge feit dat sekere lede van die raad “Kouevuur” (mooi nuwe titel) sal verbied en hy hulle met die beste wil in die wêreld, nie sal kan keer nie. Dit is nou eenmaal so. Asseblief, Breyten, probeer verstaan in hoe ’n mate my (en Merwe) se hande gebind is. Jou gedigte móét verskyn maar wat gaan dit ons, jou inkluis, baat as die bundel verbied word oor ’n paar verse. Ek dink ons is gelukkig om ’n man soos Merwe te hê wat vanuit die binnekamer oordeelkundig kan waarsku. As jy sterk voel (en hoe kan jy anders oor jou “eige werk”) oor enige van die gedigte wat ons wil weglaat kan ons dit openhartig bespreek.

Daantjie stem saam dat dit tyd sal bespaar as Breyten die nuwe verse met ’n inhoudsopgawe stuur. Hy mik om ’n eksemplaar van die bundel teen 16 September by Breyten in Parys te hê. Tans weet net Merwe, André, sy kantoorpersoneel, Adam Small en ongelukkig Cloete Breytenbach daarvan (en hy is nou die dood voor die oë gesweer as hy daaroor praat). Ander kwessies wat aangeraak word, is Merwe se versoek om vir Kruik te vertaal en die vertaling wat Daantjie self wil laat maak.

Op 23 Junie 1969 volg Daantjie hierdie brief van hom op en stuur dit per spoedpos, omdat Merwe dringend wil weet of Breyten die drama sal vertaal – en ook omdat hyself “effens angstig” raak oor Breyten se bundel, aangesien hulle dit so gou moontlik wil uit hê: “Dink jy ons sal vroeg in Julie die drukker kan voer?”

Breyten reageer in ’n brief, gedateer 2 Julie 1969, op talle kwessies. Hy bedank Daantjie vir sy briewe en dui aan dat meegaande20 met die brief die “hele boksemdaais” van die manuskrip is. Hierdie brief is ryk aan inhoud en voor hy uitkom by die “bees” wat van sy rug afgewerk is, wil hy eers ’n paar ander dingetjies afhandel. Hy sal graag sy hand waag aan ’n Shakespeare-vertaling, maar hy hoop Daantjie kan vir hom Uys Krige en André Brink se Shakespeare-vertalings stuur. Dan plaas hy twee idees op die tafel:

Hy sou graag ’n bundel versamelde liefdesgedigte wil saamstel: ’n afdeling elk uit Ysterkoei en Huis (van die dowe) saam met ander wat sedertdien ontstaan het, met die titel van iets soos Vleesroos. Sou Daantjie daarin belangstel en dink hy mens sou die nodige vergunning by APB en H&R (wat hy met ’n ander sarkastiese afkorting benoem) kry? Die tweede idee handel oor die opbou van ’n Afrika-biblioteek – boeke oor Afrika, staatkundig, histories, literêr, ensovoort, geskryf deur Afrikane en geskryf in Afrikaans of Engels of vertaal. Hy meen dit kan goeie universiteitmateriaal word: “Die Afrika-departemente sal al hoe belangriker word.”

Wat die “bees” betref: Alles lê in die volgorde waarin hulle by die manuskrip wat Daantjie het, moet inpas. Die inhoudsopgawe dui ook aan wat weggegooi is. Daar is enkele nietige veranderinge wat by die streekproewe/bladsyproewe reggemaak kan word. Hy brei uit:

Soos jy kan sien verskuif “aandmense” van groep en die “hand vol vere” word in jou afskrif dalk nog “mammie ek het gedog” genoem. Moan as daar gemoan moet word, dan sien ons weer. Ek het darem my bes probeer om die kakkerigste en die ontplofbaarste [...] uit te laat, maar ek dink “please don’t feed the vultures” móét bly. Ek vat mos geniemand in die gaseg nie, en ek ís mos Germaans! Daarom, soos die ding nou daar lê, is hy mi vás. Kon beter gewees het, dit gee ek toe – solank hy nie slegter word nie.

Hy stel ’n moontlike “strak layout” voor. Verder noem hy dat hy ’n foto (en die blok daarvan) het vir die omslag en dat hy graag ’n tekening sou wou maak vir die skutblaaie.21 Wat formaat betref, meen hy dis jammer dat sagtebande (soos in die Hollandse uitgawes) nie gedruk kan word nie – hy sien voor sy geestesoog “so ’n windmaker silwer band...”

Op 8 Julie 1969 skryf Daantjie in antwoord op bostaande brief. Hy skryf dit “met ’n gevoel van innige ‘dank God’”, want hy het al begin “weemoedig raak in die denke dat jou bundel nie meer na my toe kom nie”. Hy vertel dat die “aanvullende Kouevuur gedigte, jou brief en ’n brief van André met Skulp vir Reën22 kort op mekaar” by hom afgelewer is.

Wat betref Breyten se voorstel vir ’n versameling liefdesgedigte: Hy het nie ’n goeie verhouding met die uitgewers van H&R nie, maar “maak des nieteenstaande jou keuse dan kyk ons wat ek kan uitrig”. En oor die Afrika-biblioteek: “[Dit] is ’n nuwe en heeltemal goeie gedagte. Ons moet daaroor nadink en dit volgens plan probeer aanpak.” Verder het hy met Nasionale Boekhandel gereël om Uys se Twaalfde nag dadelik aan Breyten te stuur – en André se Richard III sodra dit verskyn.

Oor die pad vorentoe met die huidige manuskrip stel Daantjie hom gerus dat dit “sal staan soos jy hom nou wil hê – ek is mos ’n ou bakleier”. Hy vervolg:

Dit sal beter wees as jy die foto en die blok vir die omslag aanstuur. Jy kan maar die nodige veranderings op die strookproewe aanbring en op die bladproewe kontroleer – net jou bundel sal nou nie betyds vir jou verjaardag gereed wees nie. Ja ook vir die tekening op die skutblaaie, ek sal so spoedig moontlik [...] vir jou ’n dummy aanstuur, miskien nog ’n luukse sagteband – jy wil mos vir jou moer in bederf wees.

Op Woensdag 13 Augustus 1969 skryf Breyten aan “Beste Lina” en stel dat Daantjie se “omineuse stilswye seker net kan beteken dat daar een of ander vlieg in die salf” beland het: “Ek het juis besluit om my verjaardag uit te stel tot die 17de Oktober toe om dinge makliker te maak vir jou, maar verder as dit sal ek dit nie kan uitstel nie anders neuk dit in Krismis vas en dan slaan die jaar my oor.” Hy bedank ook Daantjie vir Uys se Twaalfde nag en noem dat hy stadigaan begin werk aan die Shakespeare-vertaling. Wat die omslag van die huidige manuskrip betref:

[...] ek het nog die materiaal hier en dink jy dan nie daardie bewerige foto van André – die een op die blou agtergrond – is, siende die strekking (in die algemeen) van die opgenome poëme iets wat haar leen tot gelukkige gebruikmaking nie?

Op 19 Augustus 1969 skryf Daantjie weer aan Breyten en in sy aanhef meen hy dat Breyten “die volste reg het om moerig te wees” oor sy “omineuse stilswye”. Daar is egter ’n rede daarvoor. Hy het pas terug gekeer van ’n drie weke landsreis om sy boeke “te gaan smous, o.a. Kouevuur waarvoor daar taamlik geesdrif by die boekhandelaars is”.

Voor sy vertrek was die drukkerskwotasie23 en dummy nog nie gereed nie, maar hy sluit nou die dummy hierby in – Breyten moet net gou maak as hy die skutblaaie wil illustreer; hy maan Breyten om by swart en wit lyn te hou anders gaan die drukprys handuit ruk en hom verplig om die verkoopprys té hoog te maak. Later in die brief verwys hy na die “band van die dummy van kleurdruk” wat goed lyk, maar vra tog: “As jy ’n beter kleurfoto as die een van André het moet jy dit ook dadelik spoedpos aanstuur. Ek sal al die posgeld aan jou terugbetaal.”24

Verder is daar “geen groot vlieg in die salf nie, wel ’n paar klein wynvliegies” waarmee Breyten moet help:

  1. Die aanhaling uit Marx op die Franse titelblad asb. moet weggelaat word.25
  2. Die volgende reël uit Op Fluit in Rome moet asb. ge-Godsuiwer word “dat hulle God se voete nie te ruik sal kry nie”.
  3. Net die titel “En op die sewende dag het hy homself gekritiseer” moet asb. verander word.
  4. “Bid vir Hanoi” moet asb. weggelaat word – dit is glo nie so goed soos Uys se “Lied van die Fascistiese Bomwerpers” nie.
  5. Uit “Sestiger” moet die volgende reëls asb. ge-Godsuiwer word:

“en briewe daaroor te skryf
aan God die Vader
vanuit die Toring van Babel”

  1. Die sub-titel by Kouevuur “Life is a shitsandwich” moet asb. weggelaat word.
  2. Die opskrif “Somber Stront” moet asb. weggelaat word.
  3. “Lewe die Kommune van Mei 1968” moet asb. weggelaat word.

Dit is duidelik dat Daantjie verwag dat Breyten ontsteld gaan wees oor die suiweringsversoeke:

Ek hoop nie ek vra te veel nie my kant het ek gebring, gestry en baklei so hard ek kon. Dan wil ek vra dat die gedigte (dis my eie versoek) “Vrou Kom Uit die Boord Langs die Pad”, “Oggendlied” en “Tot siens, Kaapstad” wat jy weggelaat het in die bundel opgeneem word. Dis drie gedigte wat ek graag in dié bundel wil sien.

Hy hoop dat Breyten nie gaan “staan en moer trek” oor die paar weglatings en veranderinge wat hy vra nie:

Dit is om ons albei te beskerm teen die Publikasieraad, dit gaan ons tog nêrens bring as Kouevuur in die ban gedoen word nie. Vir my gevoel word jou bundel ook nie baie geskend deur hierdie paar weglatings nie. Sal jy net dadelik jou toestemming en die wysigings vir besware 2, 3 en 5 per spoedpos aanstuur, ons tyd word nou min – ja dis my skuld. Ek-skuus baas.

Daantjie wil hierdie brief per spoedpos stuur, sodat dit hopelik vir Breyten sal bereik voor hy na Venesië vertrek. Hy sal dit opvolg met ’n volgende skrywe oor ’n ander aangeleentheid: Hy is naamlik dankbaar dat Breyten self besluit het om Skulp onder sy eie naam te laat verskyn en hy stuur die manuskrip saam met die volgende brief.

Op 22 Augustus 1969 antwoord ’n ontstelde Breyten op hierdie brief van Daantjie: “Alles wat ik heb in de lijn van hackles staan op hun achterpoten. Ek is hartseer, man. Hoekom het ek dan gedink ons is oor die berg?” Hy probeer egter kophou en reageer op elk van Daantjie se agt kwessies:

  1. Daardie aanhaling op die titelblad is nodig. “Ek neem aan dis nie wát gesê word wat aanstoot gee nie, maar die wié. Mag mens Marx dan glad nie aanhaal nie? Dis mos nie net bedoel as ’n rooi vlag voor die bul nie. As dit dan nie wettig moontlik is om die man se naam daar te hê nie – en ek bedoel nou nie in terme van wat die Publikasieraad dalk kan doen nie; want sou húlle dit kon bekostig om ’n Afrikaanse bundel in die ban te doen? – kan jy dit vervang met ’n M, of Groucho, of Harpo,26 of dit selfs anoniem laat as dit moet (hoewel dit darem baie kleinverneuk is daai).”
  2. Vervang met “dat hulle Niemand se voete nie te ruik sal kry nie”.
  3. Vervang met “En toe het hy homself gekritiseer”.
  4. “Gooi daardie gedig uit. Hanoi is te na aan Pretoria en dis hulle verdiende loon.”
  5. Vervang met “en briewe daaroor te skryf / aan Gam die Vader / vanuit die Toring van Babbel” (l.w. “babbel” en nie babel nie).
  6. “Hoekom? Dis dan my eerlike opinie. En as kak toelaatbaar is, waarom nie sy engelse boetie nie? Of moet dit ‘die lewe is ’n kaktert’ word? Weereens, soos in 1. – ek dink dit is literêr verantwoord. Swak smaak ja, onbeskof en wat nog, maar ek is seker elke lit van die Publikasieraad en miskien selfs alle ACVVeërs het die ene of ander tyd die weg balie toe bewandel. So masochisties kan hulle nie wees nie.”
  7. “Maar daardie opskrif bestaan mos nie meer nie – dis dan vervang deur ‘Ek skuus oorblyfsels’! Net soos die kakkoek hierbo by die opskrif van die lááste afdeling in die bundel – die laaste lang vers – pas, nè?”
  8. “Ek sal nie my lewe gaan verwed op ‘Kommune’ nie – en jy kan dit dus gebruik vir ruilgeld indien nodig. Ek moet darem net daarop wys dat hierdie ‘leuse’ nie eers in Parys verban is nie en dit speel tog hiér af, dat die gedig reeds is Avenue27 in Holland verskyn het (en is daardie blad in SA verbied?) en oplaas, dat dit juis ’n ietwat wrange siening is van die jong mense wat nog net in baniere vaskyk en nie noodwendig besef dat mense dalk gaan seerkry nie. Maar dis nie so ’n hot vers nie, so maak maar soos jy moet.”

Samevattend is Breyten dan

[...] ’n bok vir vyf (met no. 8 pasella ingegooi as die wolwe nog honger is) – dan het ons mekaar mos halfpad ontmoet. Jammer dat ek so moet neuk ou vriend. Ek besef dat daar oorspronklik seker 16 of meer was en dat jy reeds die ander kon red.

Wat Daantjie se eie versoeke betref:

Natuurlik, met graagte. Kan jy sorg dat hulle weer min of meer waar hulle vroeër was ingepas word? En sit asb by “Oggendlied” vir Uys Krige en Paul van Ostayen – sodat mense nie moet dink ek het hierdie vers gesteel van sy “Dag Jannetje met de pet” of so-iets nie.

Wat die dummy betref, hy hou daarvan en vra of hy dit moet terugstuur.

Jy kry die skutbladtekeninge binne die eerskomende week. Ek wil jou glo dat die band kleurdruk vat. Ek stuur vir jou ’n alternatiewe foto – ook een van André s’n, vir die vergunning – en ek sien dit óf afgedruk in die formaat wat dit het, in die middel onder aan die omslag en met die titel in eenvoudige en formele blokletters bo-aan – óf gegooi oor die hele oppervlakte v.d. omslag met die titel oor die voorhoof of oor die pampoen, dalk selfs in so ’n halfmaan asof dit óp die pampoen geskilder is. [*In handskrif onderaan: Terloops, sit daardie foto net so op ’n wit agtergrond en kyk hoe ’n mooi diepte kry hy by.]

Daantjie se volgende brief is ’n week later, 26 Augustus 1969, geadresseer via Jobst Grapow in Rome. Daarin verwys hy na die brief van Breyten wat hy pas ontvang het en waaroor hy baie bly is, want hy het net daarvoor gewag “om die drukker te kan voer”: “Dankie dat jy so tegemoetkomend is, ek wens net dat dit nooit nodig was om so baie versoeke te hê nie.” Hy sien Merwe later die dag en hy “sal probeer vir Marx – en ook aandring dat ‘Shitsandwich’ staan, ek twyfel egter of ek ‘Kommune’ sal kan red”. Hy voeg by:

Hier sal ek bes moontlik ruilgeld moet gebruik – jy is hartseer, ek is taamlik gatvol. Daar is sekere dinge waaroor mens nie praat nie dus swyg ek maar. Eendag sal ons dalk kan gesels. Ek stem egter met jou saam “Life is a shitsandwich”.

Daar is ook ’n ander probleem:

[...] toe ek jou gedigte agtermekaar sit – volgens jou inhoudsopgaaf – vermis ek “Luistervink”. Ek kan die gedig glad nie onthou nie. Het dit dalk by jou agtergebly? Het jy ’n afskrif wat jy dadelik kan aanstuur? Die drukker set solank die ander, ons kan “Luistervink” later byvoeg.

Oor die dummy – Daantjie is bly dat Breyten daarvan hou en hy hoef dit nie terug te pos nie. Hyself “dink tog die foto van Yolande voor jou skildery is die geskikste vir die buiteblad. Die materiaal gaan die skildery baie meer eg laat voorkom as ’n gladde stofomslag.”

Op Maandag 1 September 1969 erken Breyten, in ’n handgeskrewe briefie geskryf in Rome, ontvangs van Daantjie se brief van 26 Augustus en bedank hom vir al sy moeite: “Ek het al begin nagmerries kry, gedog alles gaan op die laaste tippie deur die mat val – maar as die Marx en die ‘Life ...’ bly, dan is alles reg. Nou begin ek uitsien na streekproewe [...].” Hy het twee versoeke.

  1. “Luistervink” is ’n belangrike gedig (relatief tot die bundel natuurlik) en nogal nie onwaffers nie. Hy begin so: “‘Jy vra my hoe dit is om in ballingskap te leef, vriend.’ Ek het nie hier in Rome ’n kopie nie [...]. Dis ’n langerige vers: 1½ getikte velle, opgedra aan Etienne Leroux, Possak ?, Koffiefontein – en as jy nie kan wag vir my kopie nie (wat ek vandag oor ’n week, baie vroeg, gaan pos) is ek seker hy sal syne vir jou leen.”
  2. “Asseblief [...] ek hoop die omslagfoto en tekening het jou teen dié tyd bereik en ek hoop nog asseblief dit geval jou. Dis nie dat ek iets teen André se foto van Yolie het nie – net dat ek vrees dit gaan geïnterpreteer word as goedkoop sensasie – en dat dit glad niks te doen met die bundel het nie. Maar op daardie gebied berus ek my by jou oordeel en besluit.”

Op 16 September 1969 stuur Breyten ’n kort briefie aan “Lina” om te vra of hy die oranje koevert wat ook die vermiste gedig bevat, ontvang het. Hy lig Daantjie in oor onlangse briefwisseling tussen hom en H&R – hy sluit die betrokke briefies in. Koos Human (in sy brief van 9 September) noem dat hulle gehoor het dat sy nuwe bundel elders gaan verskyn. Hulle wil nie onaangenaam wees nie, maar wys hom op sy kontrakverpligtinge teenoor H&R, naamlik dat die skrywer die uitgewer eerste opsie gee om ’n nuwe manuskrip te oorweeg. Na drie maande verval die opsie en dan mag die skrywer na ’n ander uitgewer gaan.

Breyten skryf aan Daantjie dat hy nie mooi kan sien wat H&R se planne, indien enige, hiermee is nie en “ook nie waar hulle van die bundel gehoor het nie tensy dit van André is nie”. Hy vervolg:

Ek dink nie hulle oorweeg ’n hofsaak teen my nie: dis tog skaars die moeite werd. Dit kan wees dat hulle die mes vir jou in het, maar ek weet te min van die wet en weet dus nie of hulle sports kan maak nie.

Hy sluit sy antwoordbrief aan H&R in:

16 September 1969

Geagte mnre Human en Rousseau,

          Met verwysing tot u brief van die 9de deser: Wat my betref is die vereistes bevat in die klousule 16 van die ooreenkoms nagekom toe OM TE VLIEG destyds oorweeg is vir publikasie. Ek het dit duidelik gestel vir Daantjie Saayman dat ek geen verpligtinge meer teenoor u het nie. Ek is seker daar is ’n effense verwarring by u waarvan u u sal vergewis as u ons onderhandelinge, ooreenkomste en korrespondensie sou naslaan, en lees.

En dat mens jou ou koekie nie kan eet én behou nie.

Daarom sal ek dit waardeer as u in die vervolg u neus hou uit sake tussen my en Daantjie Saayman – of wie dan ook (soos bv God, my gewete, my vrou, my bakker ens) en dat verdere korrespondensie tussen ons beperk sal bly tot die uitbetaling van my sesmaandelikse outeursaandele.

[...]

                                                                                      Hoogagtend die uwe,

NS Haai, en weet u? ek is só bly dat ons nie onaangenaam wil wees nie.

Daantjie se volgende brief aan Breyten is 19 September 1969 gedateer. Hy het nog nie Breyten se laaste skrywe (oor H&R) ontvang nie. Hy hoop dat Breyten teen hierdie tyd al die galeie van Kouevuur gelees en teruggestuur het. Die voorwerk is nog nie geset nie – daarvan sal Breyten net bladproewe sien. “Alles is egter daar.” Die omslag word gemaak en sodra dit klaar is, sal hy dit per spoedpos stuur vir goedkeuring:

Al die materiaal wat jy vir my gestuur het is by my tipograwe, hulle is nou besig om daarmee te prakseer. Ek dink dit was ’n wyse besluit om Yolande nie op die omslag te gebruik nie. Daar is altyd die paar stronte wat dit verkeerd sou interpreteer. Ek sal sorg dat jou bundel ’n baie goeie omslag kry – daaroor hoef jy jou glad nie te bekommer nie ou vriend.

Hy skryf dat hy deur die riemtelegram gehoor het dat Koos Human ontsteld is dat Breyten sy bundel vir Daantjie gegee het. Hy voel dat Human maar ontsteld kan wees – hy het immers self die besluite geneem wat tot vervreemding gelei het.28

Breyten se volgende brief is gedateer 25 September 1969 en fokus op die galeie wat hy ontvang het. Daar was geen foute nie, danksy die drukkers (setters) en proeflesers. ’n Handgeskrewe nota onderaan die getikte bladsy lui: “Behalwe een wat die betrokke vers baie verbeter het en behou is.” Veranderinge wat aangebring moet word, is sy eie en in die verse self. Hy besef dat dit nou hyself is wat dinge ophou:

[...] dus, as jy dink dat dit vinniger sal gaan as jy my nie die bladsyproewe stuur nie – en as jy dus self die tyd het om alles weer sorgvuldig deur te gaan in die lig van die galeie – dan is dit ook goed. Ek vertrou die drukkers besef dat dinge soos “Bloed aan die deurposte”, “ek skuus ...”, “Mensverse” en “Kouevuur” die titels [...] van afdelings is en as sodanig moet staan, [...].

Hierna kom Breyten by die “bisnis” uit:

  1. Sy enigste “groot skrik” was “die nie-daar-wees van PLEASE”. Hy onthou dat die gedig tydens al die onderhandelinge uitgeval het en dat hulle twee dit toe eens was dat dit móét in en dat Daantjie toe net vergeet het om dit weer by te sit. Intussen het daar ’n paar veranderings bygekom en daarom stuur hy nou ’n finale weergawe. Vir hom bly dit ’n sleutelgedig, “al is dit dan ook van ’n huis wat lankal opgeblaas is”. Die gedig se plek in die bundel is tussen “pragtige slagter” en “mon repos”, op galei 15.
  2. Hy vra dan dat, indien moontlik, “oggendlied” vanaf galei 11 vorentoe gebring word tot onderaan galei 2 – dis tussen “gekookte kos...” en “paddas en rose”. “totsiens, Kaapstad” hoort tussen “fado” en “seeblommetjies” op galei 4. Die eerste afdeling loop min of meer chronologies en “dit tel nogal by die kruis-en-dwars verwysings ensomeer”.
  3. Hy het die spasiëring in die laaste lang vers gewysig, want so word die vers as geheel meer verstaanbaar.
  4. Hy verwys na ’n nuwe gedig onderaan galei 17. En nou sal daar versigtig gekyk moet word na die inhoudsopgawe.

Hy hoop dat Daantjie se vertroue in die bundel beloon word – “al is dit ook net wat verkope betref”, want daar kan sekerlik negatiewe kommentaar van die kritici verwag word.

Breyten stuur hierna die tekening vir die skutblaaie saam met ’n ongedateerde handgeskrewe brief en hy vra Daantjie om die oorspronklike voorlopig vir hom te bewaar as die drukkers klaar daarmee is. Hy stuur ook ’n foto wat deur Jobst Grapow geneem is, wat as omslagfoto gebruik kan word en hy brei uit oor hoe hy die omslag visualiseer:

Hierdie foto [...] met die oop spasie bo en alles wat rondom die kop gebeur uitgewit. Dan die titel en die naam in dieselfde lettertipe – dié wat gebruik word op die titelblad van HUIS VAN DIE DOWE [...]; die naam bo-aan, die titel oor die oubaas se pet gedruk (in lyn met dié v.s. voorkop). Hoe lyk dit hier vir ’n luukse? Ek dink nl. aan KOUEVUUR in twee kleure: die “koue” blou (of wit) en die “vuur” rooi?

Op 7 Oktober 1969 skryf Daantjie ’n kort briefie aan Breyten, met die belangrike mededeling: “Please is ingevoeg so vergeet finaal van jou skrik.” Hy volg dit die volgende dag, 8 Oktober, op met ’n langer brief. Hy deel Breyten mee dat die bladsyproewe nagegaan is en dat ’n paar korreksies aangebring is en dat die gedigte in die volgorde wat hy gevra het, geplaas is. Die afdelingtitels sal opvallend en mooi staan by elke afdeling. Hy bevestig weer dat “Please” terug op sy plek is. Dan is daar ’n “tikkie bisnis wat [jou] moontlik die moer in gaan maak”:

Ons het jou of liewer Jobst se foto van die ouman gepas, gedraai en gemeet maar dit bly morsdood, daar is om mee te begin nie kontras in die foto nie en dit sou baie sleg druk. Aangesien ek dus tyd wil bespaar (en weet dat jy volle vertroue in my oordeel het) het ons (Al Todd en ek) toe ’n mooier en pasliker foto vir die omslag geneem. Die stofomslag bly wit en swart, ek wil jou nie sê wat dit is nie, maar is oortuig dat jy aangenaam verras gaan wees as jy die proewe sien.

Hy onderneem om ’n telegram te stuur sodra die eerste bundel van die pers af kom.

Die volgende brief in die dokumentasie is een van Breyten aan Daantjie, gedateer 6 November 1969 (en met ’n handgeskrewe nota, gedateer 13 November, onderaan). Hy vertel dat die afgelope weke “holderstebolder” was onder andere met talle besoekers aan huis, ook André Brink wat hom vertel het dat SA se “uitgewersbedryf behoorlik in sy moer is” en dat Koos Human verneem het van die Jan Blom-bundel. Hy vra ook: “Wat het toe verkeerd gegaan met onse bunnel?” – hierdie vraag maak dit duidelik dat Kouevuur nog nie verskyn het/by hom aangekom het nie.

Dit bring hom by die doel van sy skrywe. Hy werk hard aan die Shakespeare-vertaling, maar dit gaan nog lank wees voordat hy betaling kan eis. En die verkoop van skilderye bring tans ook nie inkomste nie. Dus vra hy vir ’n “voorskottetjie” om die wolwe van die deur te hou.

Met betrekking tot die kontrak,29 noem hy dat Daantjie “so rewolusionêr was om [hom] 15% van die verkoopprys aan te bied” en “dankie ek oorweeg dit nog”. Dit dui aan dat gedigte nie sonder vergoeding “weggegee” sal word vir toekomstige bloemlesings nie, maar dit spesifiseer nie hoeveel gratis eksemplare hom toekom nie. Hy weet dis min, maar dis hoekom hy nou reeds vra dat Daantjie “’n stewige klompie” per seepos aanstuur en bereken teen sy toekomstige inkomste. Hy vra of Daantjie sou belangstel in ’n verspreider/verkoper in Holland. En dan rig hy ’n spesiale versoek, naamlik dat Daantjie dit bewerkstelling dat ’n eksemplaar gestuur word “aan my pel pal Marius Schoon, Nuwe Gevangenis, Possak 45, Pretoria”.

Hy herinner Daantjie daaraan dat hy die manuskrip van Skulp een of ander tyd moet terugpos (of André vra om dit te doen). Dan vra hy: “En die omslagproewe [van Kouevuur]?”

Op 19 November 1969 skryf Yolande ’n handgeskrewe nota aan Daantjie namens Breyten. Sy noem dat hulle vir die naweek in Londen was en dat sy steeds daar is. Breyten moes dringend terug na Parys, maar hy bedank Daantjie vir die voorskot wat hy per telegram voorgestel het, want dit sal hulle vir twee weke aan die gang hou.

Breyten vertel in sy brief van Donderdag 20 November 1969 aan Daantjie dat Yolande se suster en swaer vir hom en haar op hulle onkoste Engeland toe laat kom het vir die naweek en dat sy agtergebly het met ’n week siekverlof. Hy bedank Daantjie vir die telegram waarin hy ’n voorskotaanbod maak – “maar lees eers verder voordat jy besluit of jy dit nog wil stuur”.

Die res van die brief staan in die teken van wat ’n diep ontstelde Breyten as ’n fundamentele vertrouensbreuk beskou:

Ek het verneem dat jy toe besluit het om Please don’t feed the animals uit te laat omdat die drukkers dit nie wou druk nie. Ek glo dit nie (dat dit nie in die bundel is nie) en daarom skryf ek jou inderhaas vir bevestiging of ontkenning en as ek dit kon bekostig sou ek dit per telegram wou doen. Indien dit wel waar is sal ek dit beskou as ’n lae messteek in die rug. Dan ontken ek alle verantwoordelikheid vir die bundel en sal dit ook duidelik in die openbaar stel. In daardie geval wil ek nóg kopieë van die ding, nóg outeursaandele hê. Maar jy hoef nie bang te wees vir ’n hofsaak nie. Waar sou ’n stront soos ek nou geld vandaan haal vir sulke dinge?

Dit gaan egter nie vir Breyten daarom nie. Vir hom gaan dit “om ’n vriendskap wat vir my baie beteken”: “Jy weet hoe ek omtrent die Afrikaners voel; jy weet ook dat jy die enigste en die laaste man daar is met wie ek in kontak was. My hart is lam vanmôre; ek weier eenvoudig om te glo dat jy so-iets sou doen.”

Jy wéét dat dit die sleutelgedig in die bundel was en dat ek – in die lig van die ander weggelate verse – definitief nié sou voortgaan met die publikasie sonder Please nie. Dit gaan hier nie om politieke of watse opvattings nie, dit gaan om die basis vir die wedersydse vertroue wat daar tussen ons was.

Juis ter wille van hierdie verstandhouding van vertroue, glo Breyten nie dat dit waar is nie en hy vra Daantjie om vir hom te skryf en te sê dat dit ’n vergissing is. Hy het die inligting gekry uit ’n brief van André Brink en hy wil glo dat André dit verkeerd verstaan het tydens ’n telefoongesprek. As dit ’n vergissing is, vra hy vergiffenis vir sy liggelowigheid. Hy besef dat hierdie ’n “deurmekaarbrief” is, maar hy voel tans bitter deurmekaar oor die “peil van enige samewerking tussen ons”. Sy teleurstelling is inderwaarheid ’n simptoom van ’n omvattender onbehae:

Dit wil lyk asof alles vernietig word deur ’n hardkoppigheid, omdat ek nie die skynheiligheid – die absolute amoraliteit – van die Suid-Afrikaner kan vat nie; maar [...] ek het lankal my neus afgesny om my gesig te spite en ek kán net nie onder sulke omstandighede met myself saamleef nie. Al gaan dit dan beteken dat ek my heeltemal moet afsonder van my mense en op ’n hopie sit en krepeer van my eie bitterheid (en so is dit byna reeds) – dan liewer dit.

Hy skryf dat hy homself begin haat, omdat hy die verwaandheid gehad het “om ’n paar versies in my lewe te wil skryf”. Maar so is dit:

[E]k probeer my sien soos ek is, en ander sien soos hulle is en ek gaan nie toelaat dat ek gebruik word om (o.a.) die valse fassade van Afrikanerintegriteit wit te pleister nie (ek praat oor sensuur en onderdrukking van gedagtes onder Afrikaners).

Hy besef hy vernietig homself in die proses en dat hy te klein is om hond haaraf te maak – “maar ek sal nogtans probeer – wéér en wéér. Dat al die stank, indien daar stank is, ten minste op die lappe kom”. Hy sluit die brief af: “Skryf asseblief onmiddellik en vergeef my as ek verkeerd is.”

Op Maandag 24 November 1969 skryf Daantjie aan Breyten dat sy boek op daardie dag moet verskyn en dat hy die een eksemplaar wat hy van die drukker ontvang het, saam met die brief sou stuur, maar “na jou brief weet ek nie of nog iemand ooit die boek te sien gaan kry nie”. Hy voel so sleg en het lus “om die hele oplaag te verbrand en bankrot te gaan”. Hierna skets hy sy kant van die saak ten opsigte van twee weggelate gedigte.

“Please don’t feed the animals” en “Have a heart Koedoe” het sover soos bladsyproefstadium gekom toe hy “uitgevang” is. Hy het die gedigte sonder Merwe Scholz, wat hulle van die begin af nie wou deurlaat nie, se beterwete ingesluit, maar die drukker het op die einde beswaar gemaak. Daar is weer na die gedigte gekyk en hy is meegedeel dat Kouevuur met dié twee gedigte in verbied sou word, wat beteken dat hy R1 400 verloor, genoeg om hom te knak.

Ek praat nou van ’n paar weke gelede en daar ek die bundel hierdie maand nog wou uitkry, het ek besluit dat liewer om jou te raadpleeg (voorbarig erken ek) maar voort moet gaan sonder die twee gedigte en dan my verduideliking saam met die eerste eksemplaar van die bundel aan jou te stuur. Dit was nie nodig vir André om met die doodstyding na jou te hardloop nie!

Hy meen dat as die twee gedigte, “glo as gevolg van hul politieke aard”, die hele bundel moes verongeluk, dit ’n ramp sou wees:

Daar is soveel mooi gedigte in die bundel dat ek eerlikwaar gedink het ons kan sonder die twee en die polemiek (nie literêr) wat hulle sou veroorsaak klaarkom, as die bundel dan nog verbied moes word sou dit my as uitgewer meer as net finansieel knak en glo my daar is genoeg manne wat hiervoor wag. Jou beskuldiging dat ek jou in die rug gesteek het, is ’n hou onder die belt. Van hofsake hoef jy nie te praat nie, as die verskyning van “Kouevuur” sonder dié twee gedigte jou so seer gaan maak, hou ek die bundel terug. Geld is meer volop as vriende.

Sy bedoeling met die bundel was nooit om ’n polemiek te ontketen nie – soos wat ’n beriggie in Die Beeld suggereer nie. Hy beskou die bundel as een wat op streng literêre vlak op eie bene kan staan en dit is wat hy wou hê: “Ek stem saam dat ’n polemiek miskien meer geld sou inbring, maar ek wou nooit geld maak uit die bundel nie en sou tevrede wees as ek my onkoste kon dek.” Hy is bitter jammer dat hy nie vir Breyten kan skryf dat die weglating ’n vergissing is nie:

Had ek genoeg geld het ek vandag op ’n vliegtuig geklim om persoonlik te kom verduidelik, misverstande uit die weg te ruim en verskoning te vra. Onthou net, ek woon hiér, hiér moet ek my bestaan maak en hierdie land se wette moet ek gehoorsaam. Dat ek, soos byna elke ander uitgewer in die land, nie met sensuur saamstem nie beteken tog nie dat ek kan uitgee wat ek wil nie! Wat nog as ek goedsmoeds iets uitgee waarteen ek vooraf gewaarsku is. Daar is trouens nou nog genoeg in “Kouevuur” om ’n paar verkramptes hartkrampe te gee.

Breyten se brief het hom baie sleg laat voel en hy gaan die bundel, wat op daardie dag afgelewer word, terughou totdat hy van Breyten hoor. En hulle praat dan nie verder oor ’n voorskot nie, maar hy sou as Breyten dit verkies, by Kruik vir ’n voorskot reël en ook uit sy eie sak bydra, want hy wil nie dat hierdie saak hulle vriendskap bederf nie. Hy onderneem om nog dieselfde aand vir Breyten te bel.

Boekomslag: verskaf

Op Maandag 1 Desember 1969 skryf albei aan mekaar. In sy brief bedank Breyten vir Daantjie vir sy oproepe van die vorige week (waarskynlik op 24 November, soos Daantjie in sy brief onderneem het), asook van die vorige dag (Sondag 30 November); vir die bundel wat hom die vorige Donderdagaand bereik het; en vir die geld van daardie oggend.

Eintlik moet ek verder teruggryp en jou weereens bedank vir alles wat jy moes deurstaan ter wille van die bundel, al die moeite wat jy moes deurstaan ter wille van die bundel, al die moeite, moeilikhede, onkoste en sorge. Ek is eerlikwaar bly en trots dat jy so ’n vertroue in die literêre gehalte van die werk het dat jy bereid was om deur te druk al was dit ook hoe moeilik [...].

Hy meen die boek lyk mooi en hy vra Daantjie om Al Todd daarvoor te bedank; hy is bly dat die formaat behou kon word; hy weet nie hoeveel dit kos nie, maar hopelik kan studente dit bekostig30 – daarom is dit belangrik dat die boek nie pretensieus lyk nie. Hy erken dat Daantjie waarskynlik reg was om hom nie vooraf in kennis te stel van die weglating nie, want dan sou hy waarskynlik kop uitgetrek het en dan later besef het dat die kool die sous nie werd was nie.

Tog kan hy hom nie daarvan weerhou om weer beswaar te maak nie: “Een, ek weet in alle eerlikheid nie waarteen daar in bv ‘Koedoe’ opgesien is nie; twee, ek vertrou niemand meer nie.” Wat laasgenoemde betref, skryf hy:

[...] ek kan eenvoudig vir jou geen verdere ms. stuur nie; ek sal nooit weer seker wees dat wat ingaan op galeiproefstadium weer so daar sal uitkom nie en die ergste is (om by my eerste beswaar te kom) dat ek wragtig nie weet wáárom sekere dinge weggelaat word nie. Om weereens vir Koedoe te vat – dis tog ’n ietwat ironiese siening van my self. [...] Dan, Marx is uit [die naam, maar nie die aanhaling nie] – goed en wel, ons het saam hieroor besluit hoewel ek nog dink dis die leser in die bek fok. Waaroor ons nie besluit het nie is die weglating van die skutbladtekeninge, die opdrag voor in die boek (vir jou en Gamat Boeta) en die subtitel by Bloed ... – nl. Die Pelgrim se Verse na ’n Tydelike.

Hy voer aan dat as die beswaar teen die tekening dié van onkoste is, stem hy saam – watter ander beswaar daar kan wees, weet hy nie. En hy veronderstel die opdrag het uitgeval, omdat Gamat Boeta ’n bruin man sou wees, terwyl dit net ’n verafrikanisering van Gautama Boeddha is. En hoekom die Pelgrim? “Nee, ek gee oor.” Maar nou is die boek uit en hy sit hom in die hoek neer, “soos ’n koue ding en dis vir my soos ’n kind wat sonder oë gebore is en die ding soek vir my en hy wil sê dis my skuld”.31 Hy vra wel vir ’n paar eksemplare van die boek en dat Daantjie deur Cloete een by sy ouers besorg.

Hy sal nie weer vir Daantjie ’n boek stuur nie, want dit is nie die moeite werd om hulle vriendskap so te beproef nie: “Ek verkies om jou as vriend te hê, liewer as uitgewer. En ek weet jy het hierdie bundel gepubliseer as vriend en nie as uitgewer nie. Ek hoop regtig dat dit jou as uitgewer nie aangetas het nie.” Self is hy bygelowig en dink die boek gaan soos ’n klip in die modder sink. Ter wille van Daantjie, hoop hy egter die boek doen goed (met verkope). En Daantjie moet nie kwaad wees vir André nie.

Daantjie se brief, gedateer 1 Desember 1969, begin met ’n verskoning:

Daar is seker ’n taamlike stink brief van jou aan my in die pos. Toe jy my Sondag oor die foon vra, wat van die opdragte? – was ek ’n paar oomblikke heeltemal geboul, wat yl die man, dag ek – was so seker niks is weggelaat nie. Skielik slaan dit my – ek het die voorwerke soos gebruiklik heel laaste laat set – jou manuskrip met die ou titel [wat die opdrag en subtitel waarna Breyten in sy brief verwys, bevat] lê toe almal veilig in ’n legger in my liasseerkabinet weggesluit. Al wat my nou te doen staan is om ’n errata te laat druk en dit voor in die bundel te plak.

Hierna is daar ’n paar weke geen korrespondensie tussen Daantjie en Breyten nie.

Op 3 Desember 1969, in die tyd van die briefstilte, lê Buren vier eksemplare van Kouevuur aan die CNA voor vir oorweging vir die CNA-Letterkundeprys. Op 9 Desember is daar ontvangserkenning van die sekretaresse, M Jennings. Op 26 Januarie 1970 vra sy in ’n nota vir biografiese besonderhede van Breytenbach, asook sy huidige adres. Hierna volg ’n kort nota wat basiese gegewens oor Breyten aan die CNA verskaf.

Daantjie antwoord Breyten op 6 Januarie 1970 op sy vorige brief (van 1 Desember) en verduidelik waarom dit hom so lank geneem het:

[...] daar is eintlik net twee redes. Ek wou natuurlik eers vergeet van die geboortepyne, flaters en plein ordinêre fokops waarmee die verskyning van Kouevuur gepaard gegaan het. Dan wou ek eers oor die seermaak kom. Dit was vir my duidelik aan jou brief dat jy seergemaak is – iets wat ek probeer vermy het en toe met my eie slapgattigheid gaan vererger het. Die weglating van “Vir jou, Gamat Boeta” en “Die Pelgrim se Verse na ’n Tydelike” is my skuld en daar is, soos ek in my vorige brief verduidelik het, geen verskoning voor nie. As jy op grond hiervan besluit om nooit weer aan my ’n manuskrip te stuur nie – begryp ek. Wat Merwe aan betref – hy sal nooit weer die eer hê om ’n boek van jou voor publikasie te lees nie.

Hy vertel dat daar tot op datum net ’n resensie van Rob Antonissen in Die Burger verskyn het (waarvan hy ’n afskrif aan Breyten gepos het). Daar word verwag dat die Argus, Cape Times, Die Beeld en Sunday Times nou van hulle sal laat hoor. Die boek het tot dusver ’n goeie ontvangs by die boekwinkels gehad, wat sal toeneem na die ander resensies, veral in die Sondagblaaie, verskyn het. Hierna sou Daantjie voortgaan om Breyten op hoogte te hou van die oorwegend positiewe kritiese ontvangs van die bundel en knipsels van resensies aan hom stuur.

In hierdie brief vra Daantjie vir Breyten of hy sal instem tot ’n plan wat hy met die weggelate gedigte het.32 Hierna vertel hy van ander Buren-publikasies, die Sestiger-Oujaarspartytjie en ’n staptog (en gevallery) in die Waaihoekberge. Hy het nog nie Breyten se beplande skrywe oor sensuur vir die Sunday Times gesien nie en hy verkies om te dink dat dit nooit gepos is nie.

Breyten antwoord op 11 Januarie 1970 met ’n speelse brief gerig aan “Lina” waarin hy vra: “Waar, hoe en wanneer het ek vir jou gesê ek gaan nie weer by jou (probeer) publiseer nie? Ek mag bedonnerd wees, maar so onnosel godhopelik nog nie.” Hy stuur goeie wense vir 1970 en bedank Daantjie vir sy brief, vir die knipsel met Rob se resensie (“maar hy is heeltemal van sy verstand af”) en vir die boeke wat hy gestuur het. Hy wonder of Daantjie toe ’n eksemplaar vir Schoon kon stuur. Hy het gehoor van die Sestigerfees en hy bevestig dat sy “ope brief” oor sensuur toe nie weggestuur is nie. Bowenal is hy positief oor Daantjie se voorstel oor die uitgelate gedigte.

Daantjie reageer op 16 Januarie 1970 – toe hy “Lina” bo-aan Breyten se laaste brief sien, “wis ek dat alles tussen ons weer reg is. My dag is gemaak. Jy het gesê jy gee my nie weer ’n boek nie – hoe moes ek weet jy speel maar.” Hy het wel vir Schoon ’n eksemplaar van Kouevuur aangestuur, maar dis ’n ander saak of hy dit wel gekry het. Die res van die brief, behalwe ’n paragraaf oor die plan met die weggelate gedigte, fokus op ander publikasies en skrywers van Buren.

Op 17 Februarie 1970 ontvang Daantjie ’n “persoonlike en konfidensiële” brief van LW Gerber (persoonlike assistent van die besturende direkteur van die CNA). Daarin word hy meegedeel dat die Afrikaanse CNA Literêre Prys van 1969 aan Breyten Breytenbach toegeken is vir Kouevuur:

I must, however, ask you to keep this information confidential until the date of the presentation which will take place on 17th April, 1970.

As Breytenbach’s publisher, would you therefore please inform him that he has won the award and enquire if he will be present in Durban on the 17th April to receive it.

If Mr. Breytenbach cannot attend, we would invite his father and his mother to be present to receive the award on his behalf. If they in turn cannot come we would appreciate it if you or one of your fellow Directors would agree to be present. CNA would, of course, pay for the necessary air fares and accommodation.

Will you please let us know Mr. Breytenbach’s plans as soon as possible as we are now somewhat pressed for time.

Breyten begin sy lang brief van 23 Februarie 1970, gerig aan “Beste ou Lina”, deur te verwys na Daantjie se telefoonoproep Vrydagoggend die 20ste waartydens hy hom die nuus meegedeel het “dat ons die CNA gewen het”. Hy het nog nie skriftelike bevestiging ontvang nie en wonder of dit ’n droom – of nagmerrie – was. Hy stel dit dat hy “bly is vir Buren en wil hoop dat dit julle uitgewersaak goed gaan doen, dat dit nie boemerang nie”. Hy is bly oor die geld: “Ek kry myself eintlik jammer as ek dink hoe bly ek oor die geld is. Ek is bly vir my ouers; ek is seker oubaas is so trots soos ’n splinternuwe kruiwa.”

Wat die prys self aangaan, het hy tog bedenkinge – veral omdat poësie en prosa met mekaar vergelyk word en om dan die een bo die ander te gaan verkies, sou mens dieselfde maatstawwe op die verskillende genres kon toepas. Maar dit lê op die jurie se gewetens (en wie was dit?). Dan kom hy by die “treurigheid” wat hy nou al vir Daantjie moet sê, sodat daar nie misverstande kom nie.

Ek weet natuurlik nie wat en wanneer CNA se planne is nie. Soos jy weet het ek laaskeer ’n verklaring uitgeskryf wat toe in Koos se sak bly lê het. Ek maak weer my groot bek oop – anders kan dit tog nie – en stuur vroegtydig vir jou en vir die CNA self ’n afskrif daarvan. Ek verwag nie dat jy die verklaring daardie aand daar voorlees nie – sal eerlikwaar selfs verkies dat jy dit nie doen nie. As julle daarvoor kans sien kan ek ’n bandopname maak van wat ek wil sê wat julle dan kan voorspeel, hoewel ook dit seker net skoorsoekery is. Van my kant af neem ek my voor om nog voor nog ná die gedoente met persmanne te praat. Ek wil egter wel die reg voorbehou om die verklaring aan die pers vry te stel as daar nie gebruik van gemaak is tydens die verrigtinge nie. En ek verwag dan – ek vra jou dit selfs – dat jy as uitgewer en die CNA indien nodig ook, julle distansieer van wat ek te sê het. Ons verhouding is gebaseer op my werk en op wat jy daarvan dink. Jy is nie verantwoordelik vir my opinies nie en ek dink as dit duidelik so gestel kan word – deur ’n verklaring aan die pers of hoe ook dan – dan verhoed ons die verleentheid waarin mense jou gaan probeer stel. Dis tog die enigste manier waarop ons die gesonde werkverhouding tussen ons kan bewaar. Indien ek dan die verklaring iewers probeer laat verskyn sal ek dit duidelik stel dat dit my menings is, net myne, dat jy of die CNA of die beoordelaars nie daarmee gemoeid is nie – trouens dat dit ’n aanvaarde verstandhouding is dat julle waarskynlik glad nie so oor sake dink nie.

Daarom sê ek dis ’n treurigheid. Dit sou lekker gewees het as alles minder gekompliseerd was, en niemand dwing my om sulke kak droog te maak nie; ek kan net in alle eerlikheid nie anders reageer nie. Dis vir my belangrik dat so ’n affêre nie ons vriendskap bederf nie.

Hy hervat sy brief die volgende dag en gee terugvoer oor sy positiewe indrukke van die Wynland-boek van Buren wat hy ontvang het. Hy noem dat hy hoop om so teen die middel van die jaar vir Daantjie ’n bundel liefdesgedigte te stuur. Daar is ook sprake van die moontlikheid van ’n publikasie in Holland.

Op 23 Februarie 1970 bedank Daantjie vir Gerber van die CNA vir sy skrywe van die 17de. Hy deel hom mee dat hy telefonies met die skrywer in kontak was “and he is as delighted with the news as I am”. Ongelukkig lyk dit nie op hierdie stadium moontlik dat die skrywer self na Durban sal kan kom om die prys te ontvang nie, maar sy ouers (woonagtig by Burgerstraat 14, Wellington) sal dit namens hom kan ontvang – hulle beplan om vroeg in Mei Parys toe te gaan en sal dit dan persoonlik aan hom oorhandig.

Op 27 Februarie 1970 reageer Gerber hierop: Dit is jammer dat die skrywer nie self sy prys kan ontvang nie, maar die CNA is verheug dat sy ouers dit sal doen. Hy stel ’n reisplan voor en as dit die ouers pas, sal die vliegkaartjies aan hulle versend word en die hotelbespreking gedoen word. Op 2 Maart 1970 laat weet Daantjie vir Gerber dat die vlugreëlings die Breytenbach-ouers geval; hulle verkies egter om by hulle seun in Durban te bly en vra dat uitnodigings na die toekenningsgeleentheid aan hulle seun Sebastian en sy vrou gestuur word, asook aan hulle dogter Rachel en metgesel. Dit word dan die volgende dag so bevestig deur die CNA.

Daantjie ontvang Breyten se brief van 23 Februarie op 2 Maart. Hy het dadelik vir hom ’n kabel gestuur om hom weer geluk te wens met die prys en hy volg dit nou op met ’n brief. Hy sou al vroeër geskryf het, maar

[...] het nog met so ’n draai die klimaat gevoel om te probeer vasstel of ons nie vir jou en Yolande hier kan kry om die prys te kom haal nie. Sonder dat ek nou enige politikus direk genader het, wil dit vir my voorkom dat ons kanse nie te goed gaan wees nie. Die prys oorhandiging is kort voor die verkiesing en ek dink eerlik nie ek sal hond kan haaraf maak nie. Jammer, jammer my ou maat die situasie maak my behoorlik gatvol maar ek is magteloos – dit begryp jy tog immers.

Hy deel ook vir Breyten mee dat sy trotse ouers ingewillig het om die prys namens hom in ontvangs te neem en hulle reis- en verblyfkoste word deur die CNA gedra. Die oorhandiging vind die aand van 17 April plaas en hy sal ook daar wees “om verdere luister aan die geleentheid te verleen”.

Hierna kom hy uit by Breyten se “treurigheid” soos uiteengesit in sy laaste brief. As Breyten nou wel so sterk daaroor voel, kan hy dit daar voorlees – maar miskien sal die CNA verwag dat Breyten se pa dit voorlees, want hy neem die prys in ontvangs. Hy probeer bietjie walgooi, maar “trek nie klein koppie” nie:

[...] wil maar net sê ons gaan nog gedigte uitgee. Miskien is dit nie te sê nie – maar tog. As jy ’n verklaring aan die pers wil stuur, sal ek dit namens jou vrystel, ek kan my tog van jou menings distansieer sonder om my van jou as vriend te distansieer. Dit sal ’n goeie ding wees as jy dit ook pertinent kan stel dat die beoordelaars niks met jou opinies te make het nie maar net met jou gedigte. Wat ook al gebeur dit sal niks aan ons vriendskap doen nie – het Shakespeare nie gesê dat vriendskap wat eindig nooit begin het nie.

Hy wag met vreugde op die nuwe bundel waarna Breyten verwys. Noem ook dat daar geen rede is waarom Breyten nie ook in Holland kan publiseer nie – hy moet dit egter duidelik aan sy uitgewers stel “dat as hulle jou oorspronklike gedigte publiseer wat ook by my verskyn die bundel nie in Suid-Afrika mag verkoop nie”. Hy sluit die positiewe resensie van Die Beeld in: “Die kêrel [wat blyk FIJ van Rensburg te wees] is met reg opgewonde – ek het jou mos gesê jy moet nie Oggendlied weglaat nie. Julle manne dink ek weet fôkol van resitasies af en daar het jy dit nou.” En dan noem hy:

Terloops – die man wat al die baklei werk gedoen het om vir jou die CNA-prys te kry is Ampie Coetzee.33 Hy was by Natal (waar Abraham H [de Vries] hom opgevolg het) en is nou senior lektor by Wits. Ek ken hom goed, het trouens destyds ’n Kouevuur aan hom gestuur om vir voorskrywing te oorweeg maar het eers verlede week van PG du Plessis verneem dat hy een van die beoordelaars was. Die prys is nog ’n geheim en Du Plessis dink nog hy het ’n kans met Legio!

Op Vrydag 6 Maart 1970 erken Breyten ontvangs van Daantjie se brief van 2 Maart en die ingeslote knipsel en hy antwoord:

Ja, jy was reg om daarop aan te dring dat sommige verse in moet bly – ook Rob het mos die Vrou kom uit die Boord uitgesonder. Met die getuigskrifte van my onkreukbare karakter in die koerante en die prys behoort die boek soos soetkak te verkoop, en tot wedersydse voordeel.

Wat sy voorgenome verklaring vir die CNA betref:

Na verdere oorweging en beraad met my pyp (tans die enigste ander afrikaanssprekende in die stad) het ek besluit om julle nie te belas met ’n verklaring nie. Wat sal dit tog baat? Sê help fokol – en ek begin dink dat my vingerwysing te veel van ’n selfkritiek, te veel van ’n gewetenssalf is. Protes is ook ’n spel. Saka, my verhouding van Saka, hang my by die keel uit. Dit word ’n spasmodiese siekte – en op die draai van die spiraal waar ek nou sit wil ek net wegfok van dit alles, laat die mense maar self klaar maak met hulle apartheid. Wat ek te sê het sal ek elders sê, wat ek kan doen sal ek probeer doen waar dit darem (miskien) kan help. Intussen, vriend, dankie dat jy bereid was om my profesieë voor te lees of aan die pers vry te stel – dit sal nie meer nodig wees nie. Die ding wat ek geskryf het sal ek in my laai bêre. Die titel was: How to say the obvious while really trying.

Hy vra Daantjie om namens hom die CNA en die jurie te bedank, en veral vir Ampie Coetzee. Hy is bly dat sy ouers Durban toe gaan. Ook hy versoek dat sy jongste broer Basjan en sy vrou genooi word na die geleentheid. Hy sal bly wees as Daantjie hom die aand van die oorhandiging bel. Self gaan hy die komende Maandag Londen toe vir ’n week of tien dae. Hy vra dat Daantjie vir Pieter Fourie laat weet dat hy sy vertaling vir Kruik uit Londen sal pos.

Op 7 April 1970 stuur Daantjie ’n kort nota – hy staan op die punt van ’n uitgebreide landsreis om boeke te smous en op die 17de in Durban te wees. In ’n later brief van 9 Junie meld hy: “Jou ouers het jou seker alles vertel van die prysoorhandiging – het hulle ook gesê dat die CNA-prys nou opgestoot is na R1 500?” In hierdie brief sluit Daantjie weer ’n klompie knipsels (“ook ’n paar wat ene Peers Hartzenberg aan my gestuur het”) en ’n Standpunte met bespreking deur TT Cloete in.

Breyten reageer later in die eerste van twee briewe wat net die datum Junie dra, daarop:

Dankie ook vir die varieuse knipsels – jy moet Cloete se resensie léés, veral die aanhalings! Beste een wat ek tot nou toe gesien het, en wat jy nie wou stuur nie, was in die Cape Times (dag ek amper), deur die een of ander dame.34

Dat Kouevuur ook goed doen wat verkope betref, blyk uit: “Dankie vir die tjekkie van nou onlangs. Ons is bly om te sien KOUEVUUR verkoop so knetterend en dat die voorskot ingehaal is.”

Die toekenning van die CNA-prys aan Kouevuur het min, maar uiteenlopende openbare reaksie uitgelok. Frans Esterhuyse in ’n berig oor die CNA-pryswenner (in The Argus, 17 April 1970 en The Star, 18 April 1970) voer aan:

It is clear from these poems that Breytenbach’s isolation and accompanying sense of deprivation have unleashed passions in him that are having a profound effect on his art. [...] at this stage at least two outstanding qualities in his work auger well for the future: a certain universality and an almost prophetic insight into the human condition.

’n Berig in Die Transvaler (20 April 1970) stel dit dat die tweede CNA-toekenning geen geringe prestasie is “vir ’n jong digter [...] en ’n digter boonop wat weg leef van sy taal” nie, en vervolg: “Dat ons hom as digter aanvaar en keer op keer kroon, is skraal troos vir die feit dat die land hom as mens nie wou aanvaar nie.” Hierop (en met verwysing na uitsprake van die digter) reageer die tydskrif Ster (22 Mei 1970) met ’n uitdaging aan Afrikaanse blaaie:

Ons daag hulle om nou eenmaal standpunt in te neem oor ’n man soos Breyten Breytenbach – wat pas weer die groot CNA-prys vir sy bundel Kouevuur verower het. Ons daag hulle om te sê wat hulle van hom dink – omdat hy apartheid vernietig wil sien in ’n gewelddadige revolusie! (vgl Galloway 2019:208)

In ’n brief van 24 Februarie 1971 waarin Breyten reageer op die nuus dat hy die derde CNA-prys gewen het (kyk afdeling oor Lotus), vra hy vir Daantjie om ’n paar eksemplare van Kouevuur te stuur en hy wonder hoe die boek verkoop. In sy antwoordbrief van 4 Maart 1971 laat weet Daantjie dat hy ses eksemplare van Kouevuur aanstuur: “Die boek verkoop redelik – ons word nie ryk nie maar ook nie armer nie.”

Daantjie deel op 22 Junie 1971 met Breyten ’n brief wat Tafelberg Uitgewers aan hom geskryf het insake oordrukregte. Hierdie brief stel dit dat Tafelberg weens ’n misverstand nie vooraf Buren se toestemming gevra het om ’n paar gedigte uit Kouevuur op te neem in die derde uitgawe van Groot Verseboek nie, maar dat dit nie beskou moet word as ’n gebrek aan goeie trou teenoor Buren of die skrywer nie. Die bedrag betrokke vir die oordrukregte van vier gedigte (vyf bladsye) word aangedui en daar word versoek dat die nodige oordrukreg toegestaan word. Daantjie meen Tafelberg was “onverantwoordelik”; hy wil sy skrywer se regte verdedig en vra Breyten hoe hy die kwessie moet hanteer.

In ’n handgeskrewe lugposbrief van 29 Junie 1971 vra Breyten vir Daantjie om vas te stel of die Groot Verseboek nog gestop kan word en moedig hom aan om op te tree. Self vertrek hy na Dar-es-Salaam vir ’n kongres en sal die derde week in Julie terug wees. Hierna hanteer Daantjie die saak wat ook prokureursbriewe insluit. Op 22 Julie 1971 verskaf hy egter redes aan Breyten waarom hy meen dit nie gerade sal wees om die saak in die howe te laat sleep nie. Sy raad is dus om hulle met ’n waarskuwing te laat gaan en die gewone outeursreg te laat betaal.

In Breyten se volgende brief, gedateer Vrydag 13 Augustus 1971, vertel hy dat hy ook ’n brief van Tafelberg ontvang het. Hy besef dat Daantjie nie ’n saak kan maak nie, maar hy verwag dat hulle die verse so gou moontlik uithaal.

In Daantjie se brief van 27 Augustus 1971 deel hy Breyten mee dat Groot Verseboek verskyn het en dat hy vir hom ’n eksemplaar gaan koop het by Nasionale Boekhandel en dit deur hulle laat aanstuur het. Hy meen wel dat dit jammer is dat Tafelberg nie self ’n gratis eksemplaar aan Breyten aangebied het nie.

Word vervolg met Deel 2

 

Eindnotas

1 De Vries, W. en B. Breytenbach. 2019. Nogtans word die woorde aan die wind toevertrou. In: Galloway, F. (red.). 2019. breyten breytenbach: woordenaar woordnar ’n huldiging. Pretoria: Protea Boekhuis:11–34.

2 Galloway, F. en R. Venter. 2016. Die Afrikaanse uitgewersbedryf. In: Van Coller, H.P. (red.). 2016. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3, tweede uitgawe. Pretoria: Van Schaik:365–557.

3 Galloway, F. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM Literêr.

4 Galloway, F. 2012. Grepe uit die uitgeegeskiedenis van Breyten Breytenbach. LitNet, 27 Julie. https://www.litnet.co.za/grepe-uit-die-uitgeegeskiedenis-van-breyten-breytenbach/ (27 Julie 2026 geraadpleeg).

5 Galloway, F. 2019. Breyten Breytenbach. Fragmente van sy loopbaan as skrywer en openbare figuur. In: Galloway, F. (red.). 2019. breyten breytenbach: woordenaar woordnar – ’n huldiging. Pretoria: Protea Boekhuis:196–313.

Galloway, F. 2019. Breyten Breytenbach en die Hertzogprys vir Poësie. In: Galloway, F. (red.). 2019:314–43.

6 Galloway. F. 2025. Breyten’s career as writer and public figure in South Africa: a brief overview. LitNet, 6 Maart. https://www.litnet.co.za/breytens-career-as-writer-and-public-figure-in-south-africa-a-brief-overview/ (27 Julie 2026 geraadpleeg).

7 Galloway, F. 2023. Saam op die rondomtalie: Bartho Smit en Breyten Breytenbach. In: Hauptfleisch, T. en M. Keuris (reds.). 2023. Bartho Smit. Koorddanser tussen triomf en tragedie. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns:59–102.

8 Kyk die bespreking hiervan in Galloway (1990:80–6 en 2019:206–7).

9 Brink, A.P. 2009. ’n Vurk in die pad. ’n Memoir. Kaapstad: Human & Rousseau.

10 Bronne verskil oor die voornaam van Brown. In ’n Seisoen in die paradys (1976:55) skryf Breyten oor sy besoek aan sy uitgewer se kantore “wat die een verdieping van ’n groot en sentrale Kaapse gebou” beslaan. Hier loop hy “die grootbaas self op die lyf – Ybie Brown”. In die “Notes on persons and places” agter in A season in paradise (1980), vertaal deur Rike Vaughan, word vermeld: “Brown, Mr Abe; Secretary of Buren Publishers” (Londen: Jonathan Cope). In ’n brief wat Daantjie self tik (Oktober 1972) vertel hy vir Breyten van ’n “taamlik geil” middagetekuier saam met vriende die vorige dag en dat hy nou sit met ’n pyn agter die oë: “Maar Agmat, my persoonlike Hadjie, is nou besig om tee te maak vir die baas, dit sal seker aandstonds beter gaan.” In ’n telefoniese mededeling vertel Sandra Saayman dat Achmat Brown die geliefde bode van Buren-Uitgewers was wat later saam met Daantjie oorgegaan het na Tafelberg.

11 FIJ van Rensburg in Die Beeld, 1 Maart 1970. Hierdie resensent meen die bundel bevat van die digter se beste verse.

12 Vir aanhalings uit Breyten Breytenbach se briewe het ek skriftelike toestemming gekry van sy Literêre Eksekuteur Kerneels Breytenbach en via hom van Yolande Breytenbach. Vir aanhalings uit Daantjie Saayman se briewe het ek skriftelike toestemming gekry van sy dogter Sandra Saayman.

13 Hierdie brief het nogal vir konsternasie gesorg en die aanspreekvorm het gereeld opgeduik as deel van die naamspel met Daantjie Saayman se naam. Breytenbach het die eerste bladsye van briewe aan twee verskillende mense in verkeerde koeverte geplaas. Die een wat Saayman ontvang, is gerig aan “Beste Lina Spies” en daarin reageer Breytenbach op ’n brief en gedig wat sy aan hom gestuur het om sy kommentaar te vra. Spies ontvang dus die eerste bladsy van die brief wat aan Saayman gerig was.

14 Breytenbach en Jobst Grapow se paaie het gekruis toe albei studente in Kaapstad was. Grapow was ’n Suid-Afrikaanse gebore aktivis, filmmaker, skrywer en vertaler wat die grootste deel van sy lewe in Rome, Italië, deurgebring het.

15 Van hier af gebruik ek die informele aanspreekvorme “Daantjie” en “Breyten”. Wat die skryfwyse/voorkoms van gedig- en bundeltitels betref, behou ek dit in woordelikse aanhalings so ver as moontlik in die wyse waarop dit getik/geskryf is.

16 H. van der Merwe Scholtz was ’n direkteur van Buren-Uitgewers en lid van die Publikasieraad. Hy het in 1977, na die verbod op Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein!, as sensor bedank. In die 1980’s het hy wel, onder ’n meer pragmatiese sensuurbedeling, in komitees van deskundiges gedien. (Peter D McDonald, The literature police. Apartheid censorship and it’s cultural consequences. 2009:271–2.)

17 Telegramme waarna in die korrespondensie verwys word, is nie ingesluit by die dokumentasie nie. En natuurlik het mens ook nie toegang tot telefoniese gesprekke waarna in briewe verwys word nie.

18 In ’n brief van 15 Julie 1970 aan Daantjie noem Breyten dat die groep verse uit Kouevuur in die someruitgawe van Raster verskyn. Die redakteur HC ten Berge het vir nog verse vir die herfsnommer gevra.

19 Terugvoering oor die vordering met die vertaling is in hierdie afdeling ter sprake; die publikasie van die teks in die volgende afdeling.

20 Aan die einde van die getikte brief is daar ’n geskrewe nota waarin hy kommentaar lewer op die “meegaande”: “17 blerrie frank het ek betaal vir die vet koevert en toe vergeet ek so wragtag om die brief by te sit.”

21 Die huis van die dowe (H&R 1967) het tekeninge in die skutblaaie.

22 In ’n brief aan André Brink (Junie 1969) het Breyten hom gevra om Skulp aan Daantjie voor te lê. Hy kan maar noem wie die werklike skrywer is, maar die gedigte moet verskyn onder die naam “Jan Blom”.

23 In die dokumentasie is daar ’n afskrif van die kwotasie van Cape & Transvaal Printers Limited / Kaap & Transvaal Drukkers Bpk.

Size 8 x 4¾ - 76 pages and 8 pages plain end papers.
Setting Text set 12 point Perpetua to an area of 20 ems of 12 point wide by 36 lines deep exclusive of folio at foot.
Printing Text letterpress from type in black throughout.
Cover lithographed in four colours on front and spine.
Binding Thread sewn in 16 page sections, flexiback lined and full
Integral bound in white Kinline.
Price 1 000 copies @ 90 cents per copy = R900.00
  per 500 copies run-on @ 26 cents per copy = R130.00
Material Text Sappi Antique Wove – 85 gsm.
  End papers White Cartridge – 190 gsm.
  Cover White Kinline.
Proofs One set of galley and one set of page proofs of case.

 

Daar is nie kwoteer vir skrywerskorreksies nie, maar dit sou sekerlik ’n impak gehad het op setkoste.

24 Dit is nie uit die korrespondensie duidelik hoe die bandontwerp op daardie stadium lyk of visualiseer word nie – tot hier was daar sprake van die foto wat Brink van Yolande voor ’n skildery geneem het, asook ’n foto/blok waarvan Breyten gepraat het. Later is daar ook sprake van ander foto’s.

25 Die vertaalde Marx-aanhaling lui soos volg: “In die geskiedenis, soos in die natuur, is ontbinding die laboratorium van alle lewe.”

26 Hierdie name verwys na die “Marx Broers”, ’n familie van Amerikaanse akteurs wat komiese films gemaak het: Twee van hulle is Groucho Marx (sy regte naam was Julius) en Harpo Marx (sy regte naam was Adolph).

27 Avenue was ’n eertydse Nederlandse glanstydskrif wat in sy oorspronklike vorm in 1965 geloods is en in 1994 doodgeloop het.

28In sy memoir Koos Human – ’n Lewe met boeke (H&R 2006) wy Human ’n hele hoofstuk aan Breyten Breytenbach en hy beskryf die ernstige oordeelsfoute wat hy/die firma begaan het ten opsigte van die verhouding en onderhandelinge met die skrywer. Die voorvalle is ook deur die jare wyd gerapporteer in die media (soos toegelig in Galloway 1990).

29 Die kontrak is nie ingesluit by die argivale materiaal nie.

30 My eie eksemplaar van die bundel, wat ek as student aangekoop het, toon dat die verkoopprys in Desember 1971 R2,25 was. R2,25 in 1971 is gelykstaande aan die koopkrag van omtrent R200,00 vandag (bron: Inflation Adjustment Calculator). In die argief is daar ’n paar outeursaandeelstate. Van Kouevuur is daar van November 1969 tot Februarie 1971 1 478 eksemplare verkoop; die outeursaandeel beloop R442,52.

31 In hierdie brief noem Breyten dat hy ’n lang artikel geskryf het oor wat hy sien as “die korrupsie en die lafhartigheid waartoe die land se wette die Afrikaanse skrywers en uitgewers gedwing het”. Hy beplan om dit vir ’n koerant soos die Sunday Times te stuur, wetende dat hulle daarvan gebruik sal maak vir hulle eie doeleindes. Hy noem geen name van uitgewers daarin nie, maar hy stel dit duidelik dat al sy boeke tot dusver voor publikasie gesensureer is op nie-literêre gronde.

32 Hierdie voorstel, Breyten se reaksie daarop en die verdere verloop daarvan sal in die volgende afdeling aan die bod kom.

33 Dit was op hierdie wyse dat Ampie Coetzee aan Breyten voorgestel is. Sy naam duik meermale in die korrespondensie op – onder andere oor ’n versoek van hom aan Breyten om van sy verse op band voor te lees. Nie lank hierna nie sou hy ’n belangrike rol in Breyten se loopbaan begin vertolk en het daar ’n vertrouens- en vriendskapsverhouding tussen hulle ontwikkel soos dit duidelik sal word in die hieropvolgende teks oor die Taurus-periode in Breytenbach se uitgeegeskiedenis.

34 Daar was ’n bespreking, getitel “Breytenbach’s poetry”, deur Hazel Prinsloo in die Cape Times (30 Januarie 1970). ’n Bespreking wat reaksie uitgelok het, was egter die een van Freda Plekker, getitel “Kouevuur is ’n vermoeienis eerder as ’n genot”, in Die Vaderland (27 Februarie 1970). Sy begin die bespreking van die “doem-profeet”-digter se nuwe bundel só:

Dis asof hierdie digter die woord, die kuns self, tart en uittart, asof hy uit pure frustrasie alle vensters stukkendgooi, en dan verwese uitstaar op ’n antwoordlose, stom ruimte, wat hom telkemale weer terugdryf in die dolgange van sy eie ingewande.

Ampie Coetzee reageer kort daarna in ’n lesersbrief in hierdie koerant op die resensie. Hy noem die resensie afbrekend en vra:

Moet poësie dan altyd ’n genot wees? Sê nou maar die digter het werklik iets te sê oor aftakeling, ’n gangreen – hoe sê hy dit ‘mooi’? Of moet hy liewer niks sê nie? [...] Ek het nog altyd gemeen ’n bundel is onbevredigend omdat die poësie daarin swak is. Nou is die tema die oorsaak van die swakheid.

Lees ook:

50 jaar gelede: tydlyn van Breyten Breytenbach se traumatiese jaar

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top