
Foto van Breyten Breytenbach: ©Naomi Bruwer
- Alle korrespondensie tussen wyle Breyten Breytenbach en wyle Daantjie Saayman verskyn met skriftelike toestemming van hul families. Alle foto’s is verskaf en verskyn met toestemming.
Die publikasie van Oorblyfsels (Junie 1970) en Titus Andronicus (laat 1970)
In Daantjie se brief van 6 Januarie 1970, waarin hy verantwoordelikheid aanvaar vir die gewraakte weglatings uit Kouevuur, soos uitgewys deur ’n hoogs ontstelde Breyten in sy brief van 1 Desember 1969 (kyk afd. oor Kouevuur in Deel 1), maak hy melding van sy plan met die gedigte wat weggelaat is uit Kouevuur:
Ek wou jou nie nou al vertel van my plan met jou weggelate gedigte nie, maar dit slaan my nou die dag soos ’n hou dat jy perdalks nie van die plan hou nie en kan dan van voor af vir my die moer in raak. Nou vra ek. Sonder om Merwe of enige ander persoon – behalwe André, my vrou en Adam Smal, met wie ek dit bespreek het – daarvan te vertel wil ek die gedigte in ’n beperkte oplaag op handgemaakte papier uitgee. Daar sal wel weer probleme met ’n drukker wees, maar ek dink ek kan met die beperkte oplaag wegkom. Die onkoste sal ek dra – noem dit bieggeld as jy wil. Laat weet my of die plan jou geval.
In Breyten se vergewensgesinde antwoordbrief van 11 Januarie 1970 (kyk afd. oor Kouevuur in Deel 1) reageer hy op hierdie plan:
Jou idee van ’n beperkte oplaag van die oorskiet maak my hart warm. Ek hoop regtig daar kom iets van, en dankie reeds by voorbaat vir die bedoeling. Indien en as dan ... watter verse het jy presies in gedagte gehad; is daar genoeg, of moet ek die oesie aanvul? En indien en as dan ... wat dink jy van, as titel: “vars verse”, of “Die Pelgrim Se Verse Na ’n Tydelike”? Indien en as dan ... hou tog asb. die voorkoms so onpretensieus moontlik, verkieslik sonder omslag, meer net ’n pamflet ens. Maar ek wil nie weer ge-involve raak nie. Dus, ek verwag niks, ek sien na niks uit, jy het my niks gesê of voorgestel nie, laat kom wat kan kom en wat nie kan kom nie kom dalk oor vyftig jaar en net betyds vir die viering van die nuwe republiek as jy en ek reeds stokstyf onder die sooie aan ons tonge lê en kou. (Maar intussen moer met die idee van self die onkoste te dra – dit doen ons om die helfte, net soos die skulde en die flaters.)
In sy antwoordbrief van 16 Januarie 1970 (kyk afd. oor Kouevuur in Deel 1) brei Daantjie uit oor sy plan:
My plan is om die weggelate gedigte teen April te laat verskyn onder jou titel “Die Pelgrim se Verse na ’n Tydelike”. Dit sal dieselfde formaat as Faulkner se Nobel-Prys toespraak – wat destyds in ’n beperkte oplaag by Chatto & Windus verskyn het – hê. Heeltemal onpretensieus, maar in goeie smaak. Informeel op ’n hoë vlak! Maar voorlopig genoeg hieroor, net solank jy saamstem met die gedagte en die res hou ons vir ’n verrassing.
In Breyten se brief van 23 Februarie 1970 oor die blydskap en treurigheid van die nuus oor die CNA-prys (kyk afd. oor Kouevuur in Deel 1) verwys hy weer na die plan met die weggelate verse:
Dit sal gaaf wees as jy die idee van die weggelate verse kan verwesenlik. Net vir geval stuur ek ’n afskrif van Please. Dié afskrif, wat effens anders as die oer-oorspronklike is, het jy reeds, maar jou sake is mos so georganiseer dat ek liewer nie ’n kans wil vat nie!
Daantjie skryf op 2 Maart 1970 dat Breyten so spoedig moontlik die afskrif van “Please” moet stuur – “as dit jou meer gerus sal laat voel – dit sal my in elk geval beter laat voel”. Hy noem dat hy die liefdesverse wat Breyten aan hom wil voorlê, met geesdrif afwag: “[S]aam met die April-verse verskyn daar dan dié jaar twee Breyten bundels – nie sleg nie.”
In ’n kort nota van 7 April 1970 laat weet Daantjie dat hy op ’n landsreis vertrek, ook na Durban vir die bywoning van die CNA-prysoorhandiging. “Intussen sal die galeiproewe van die oorblyfsels uit Kouevuur direk aan jou gestuur word. Sal jy dit intussen gou lees en die volgorde waarin jy dit wil hê aandui. Gee ons asseblief ’n nuwe titel.” Op 22 April 1970 ontvang Breyten ’n nota van ene M Last: “As Mr. Saayman is on a business tour he asked us to send you the gallies of ‘Oorblyfsels’ as we do herewith. Also attached please find the manuscript.”
Breyten ontvang die proewe net voor hy en Yolande uit Parys vertrek en hy stuur dit met ’n handgeskrewe nota (gedateer April of Mei) terug aan Daantjie met ’n groot “maar”:
En jy weet watter maar dit is: ek sien geen spoor van “Please” nie. Ek neem aan dat die weglating uit haas of agterlosigheid was. Ek weet ook dat ons verstandhouding is dat “Please” íngaan, of so nie (as dit onmoontlik is – dat die hele effort gedrop word).
Dan lys hy die volgorde van die gedigte soos volg:
-
- Bruin reisbrief
- Begrafnis in Lanciano
- Nie met die pen nie, maar met die masjiengeweer
- Skimme van die liefde, Jan
- Bokveld
- Op aarde en in hemel
- Bid vir Hanoi
- Lewe die Kommune van Mei 1968!
- Please don’t feed the Animals.
Hy het “Waterlelie” geskrap – dit word by die liefdesbundel gevoeg. Hy stuur groete van sy ouers en Yolande en noem dat hulle weer op 27 Mei terug sal wees in Parys.
Daantjie se volgende brief is 9 Junie 1970 gedateer – hy vra om verskoning dat hy lanklaas geskryf het, maar Breyten-hulle sou self eers onlangs teruggekom het in Parys. Hy doen verslag oor die vordering met Oorblyfsels:
Ongelukkig is [dit] nog nie klaar nie, ek sou dit bitter graag ook wou saam stuur. Ek verwag dit darem nou enige dag en hoop net dat jy tevrede sal wees met die voorkoms. Jammer dat ek jou weer laat skrik het met die galeiproewe sonder “Please”, dit het in my afwesigheid geskied. Alles is egter nou in selfs die kappie op Basjô. Jy sal begryp waarom ek dit in ’n beperkte oplaag uitgee – ek druk net 150 eks. @ R3 per eks. Op die manier kan niemand sê ek doen dit vir sensasie of eie gewin nie. En die publikasieraad kan my beswaarlik dagvaar. Die hoofsaak is dat die gedigte verskyn! Al wat ek wil doen is om produksiekoste te dek. Jy sal ook maar bloedmin uit “Oorblyfsels” verdien – miskien moet ek dit teen R3.50 verkoop en die ekstra 50c. by jou outeursaandeel insluit. Hoe tref dié plan jou?
Daantjie wys verder daarop dat hy ’n afskrif van die vertaling van Titus Andronicus by Pieter Fourie (van Kruik) gekry het en dat hy dit graag wil publiseer om saam te val met die opvoering. Breyten moet laat weet hoe hy hieroor voel. “Ook hier sal ons nie ’n baie groot oplaag kan druk nie. Ek dink aan so 1 500 om mee te begin, as die boek dan verkoop kan ons altyd herdruk.”
Hy wys Breyten daarop dat die direksie van Buren effens verander het.
Sy vele ander pligte het Merwe genoodsaak om van my direksie te bedank. Ek weet jy is moerig vir hom en sal seker bly wees. Alhoewel ek dikwels nie met hom saamstem nie is ons darem nog goeie vriende. Moet nou nie hieroor praat nie (met wie weet ek nie) maar ek is besig om Ampie Coetzee te oorreed om tot my direksie toe te tree. Ek dink hy sal ’n aanwins wees.


In die eerste van twee briewe met net die datum Junie (gerig aan “Beste Lina”) vertel Breyten dat Oorblyfsels (gedruk deur Disa Drukkers) die oggend aangekom het: “Bo-mooi, oppermooi, nog veel meer as wat ek verwag het.” Hy het wel net voor die verskyning onthou van ’n gedig wat verlore gegaan het – een wat eindig: “Vrystaat! Vrystaat! / ai, as die suiwer jong digter sterf /”. Ongelukkig het die res verlore gegaan en as Daantjie dalk op ’n afskrif daarvan afkom, moet hy dit aanstuur. Andersins is daar blydskap oor Oorblyfsels:
Ek hoop en hou my dym [sic] vas dat jy nie in Kakstraat voor ’n hek te staan kom met behoefte nie. Kritisies gaan sê dis ’n venynige (en swak, want histoeries) onder-die-belt-pomperige pieletieke pafflet. Dit gaan jammer wees, meestal omdat dit waar is. Maar dit kan nie anders nie. Tot hiertoe, en nie verder nie – want ons is blerrie moeg. Jy praat van die verkoopprys [...], maar ek waardeer dit dat jy net die drukkerskoste wil dek, en ek het self ook nie verwag om met OERBYSELS ryk te word nie – en buitendien wil ek amper sê dat ek in beginsel teen die artifisieel hoog aangeslaande eksklusiewe publikasie is; die maatstok is die student se sak (want sou die werker dit koop?). Nietemin, en siende dat en so-aan, dit is natuurlik die soort ding wat vir peper verkoop kan word. Wat ek eintlik met hierdie ompad wil sê, betreffende VERBRYSELDE OOR, is dat ek my by jou besluite neerlê en belê [...]. En indien jy profyt in die vingers kry, soveel te beter, maar dit kom my nie toe nie – ek bedoel, ek is steeds meer as tevrede met my 15 persent, en daarby moet dit bly. [...] Sterkte, ou vriend – en baie baie dankie tot dusver. Maak nie saak wat wie ook sê nie, jy het die moed gehad om iets te doen wat jou net vyandskap op die hals kan haal en boonop nie eens winsgewende vyandskap nie. Ek sal dit nie vergeet nie. Sterkte vir jou!
Hy versoek ’n paar eksemplare, gedebiteer teen sy rekening, om as getekende weergawes aan André, Jan, Adam, Rob en oom Martiens te skenk. Hy reageer ook op ander Buren-nuus in Daantjie se vorige brief – hy is onder andere bly dat Merwe weg is en hoop dat Ampie Coetzee sal aansluit. Hy het gehoor van Van Wyk Louw se afsterwe – “en dit ruk darem aan ’n mens. Hy was ongetwyfeld ons allerbeste.”
Twee ander eie publikasieprojekte kom ter sprake in hierdie brief. Breyten noem dat sy ma ook vertel het dat Daantjie Antonio uitgee – “Dit moet seker TA [Titus Andronicus] wees, waarna jy ook verwys het. Dis goed so, en ek is baie bly.”
Net, voor jy begin druk sal ek bly wees as jy kan wag tot jy my afskrif van die ms. het – ek het dit van Fierietjie gekry en gekorrigeer [...] en stuur dit vandag nog lugpos, sodat die ergste geneuk by die galeiproewe vermy kan word. En sal dit waardeer as jy die “skoon” kopie vir Foerie kan laat sien dat hulle in die lig daarvan weer kan kyk want so nié gaan dit ’n mislike getjôrts op die planke wees. Wat jy verder voorstel – dakkoord.
Hy gaan vir Daantjie, die “arme man”, die manuskrip van Lotus stuur “met die gedagte dat jy dit dalk vanjaar nog kan stoot (as dit jou geval) net om die Hertzog[prys]-mense volgende jaar dieper in die sloot in te help”. Hy besef dis baie vir een jaar, “maar ek lê my hand op my dym [sic] en sweer dat jy dan nie weer sommer so van my ’n ms. sal hoef te vrees nie. Dan sien ons weer oor ’n paar jaar.”
In Daantjie se brief van 29 Junie 1970 waarin hy ontvangs erken van die manuskrip van Lotus (kyk afd. oor Lotus hier onder) vertel hy vir Breyten: “Met ‘Oorblyfsels’ het die stront nou die waaier geslaan.” Rykie van Reenen het hom uit Johannesburg gebel om hom geluk te wens met die bundel. André Brink het vir haar ’n resensie gestuur, maar sy wil Daantjie se kommentaar hê. Hy verduidelik toe aan haar dat sy sy naam daaruit moet hou en net die resensie moet publiseer:
Mense gaan ’n politieke kritiese inslag in die gedigte sien en die hele bundel verkeerd verstaan dan kom ek in die moeilikheid by die Publikasieraad. Publiseer dus net André se resensie asb en moet in vadersnaam nie ’n bohaai maak nie. En kyk wat gaan staan en maak die meisiemens [...]. ’n Ordentlike joernalis kry mens net nie meer nie. Laat egter kom wat wil – al wat my die moer in maak is dat sy my nog verkeerd aanhaal. Terwyl ek hier aan die brief sit en skryf bel die hoof van die Publikasieraad vir ’n eksemplaar van Oorblyfsels omdat hy belang stel in jou werk sê hy, nie om my te vervolg nie, beloof hy.
Hierdie anonieme “moedswillige” berig (Die Beeld, 28 Junie 1970) bevat ’n parafrasering van wat die uitgewer tydens die telefoongesprek aan die joernalis vertel het (en wat hy gevra het nie gepubliseer moet word nie) en wat Brink te sê het (dit is nie ’n gewone “resensie” nie). Die opskrif is: “Breyten se nuwe bommetjie” en die eerste paragraaf lui: “Hanteer versigtig, hy kan ontplof! ’n Nuwe bundeltjie van nege verse van Breyten Breytenbach het vandeesweek in Kaapstad verskyn.” Dan word berig dat die uitgewer vertel van die klein oplaag van 150 wat regstreeks by die uitgewery bestel kan word. Die verse het “meestal ’n kritiese inslag”; “hulle sou vatbaar kon wees vir misverstand en hy wou hom en die skrywer geen potjie met die Publikasieraad op die hals haal met ’n vrylik beskikbare uitgawe nie”. Oorblyfsels “is met geesdrif begroet deur Breytenbach se vriend en wapenbroer André P. Brink”. Een uitspraak uit die gesprek met hom lui:
Ek wil met groot piëteit sê – en in die volle wete van presies watter mondvol ek sê – dat dit vir my aangrypende sin maak dat die klein bundeltjie met nege verse moet verskyn binne ’n week ná die dood van ons grootste: Van Wyk Louw. Want dis asof hierdie bundeltjie bevestig dat die Afrikaanse letterkunde aanloop en dat die tyd van die grotes nie verby is nie.
Die berig sluit af met die volgende woorde van Brink:
Wie hierin maar net ’n klein opstand teen Suid-Afrika sien, leef gekluister in die stinkhuisie van sy eie vooroordele. Wie bereid is om hierin te sien die groot opstand van die mens teen alles wat onmenslik is [...] sal nader kom aan die hart van hierdie klein bundel deur ’n baie groot digter.
Terugskouend was hierdie klein bundel, wat van die uitgewery bestel moes word en per pos versend is, die eerste voorbeeld van ’n ondergrondse (samizdat-) publikasie in Afrikaans. Tydens Breyten se gevangeskap is die uitgelate gedigte (soos opgeneem in Oorblyfsels) ingesluit in die tweede uitgawe van Kouevuur wat in 1981 deur Taurus uitgegee is.
In sy handgeskrewe (en onvoltooide) brief van 3 Julie 1970 bedank Breyten vir Daantjie vir bostaande brief en die knipsel van die “Skeerbekkie van Reenen”-berig in Die Beeld – “Man, joernaliste is nie verslaggewers nie, hulle is agitators.” Hy hoop wel dat daar nie moeilikheid van kom nie. Hy stuur in elk geval die No 1-genommerde eksemplaar van Oorblyfsels vir Daantjie en sy vrou Nici, want dit kom hom toe en hy glo Daantjie sal No 2 vir hom stuur.
In sy brief van 15 Julie 1970, gerig aan “Beste Breyten Blommenbach”, bedank Daantjie hom vir Oorblyfsels No 1 en noem dat No 2 saam met vyf ander al omtrent drie weke gelede per gewone pos aan hom gestuur is en hy hoop dit kom onbeskadig by Breyten uit. Oor die verkope van die boek, skryf hy:
Ons kon Oorblyfsels maklik teen R20 verkoop het. Die 150 is in ’n paar dae uitverkoop. Wat ’n stormloop na Die Beeld-artikel: Daar was telefoonoproepe en telegramme uit Pretoria, Bloemfontein, Johannesburg, Bethlehem, Potchefstroom – die hele land wou skielik ‘Oorblyfsels’ hê. Snaaks hoe die mense oor ’n skaars artikel te kere kan gaan, ek het darem sover moontlik probeer sorg dat net diegene met ’n belangstelling in die poësie die bundeltjie bekom.1
Breyten reageer einde Julie uit Rome op die nuus dat Oorblyfsels uitverkoop is en meen dat die geposte eksemplare nou seker in hulle afwesigheid in Parys aangekom het. Hy vra of daar enige verdere reaksie op die bundel was. Hy noem ook:
Revel Vos [sic] was nou net in die stad vir ’n paar dae. Ek verneem sy dogter Retha [sic] gaan die rol van Lavinia in Titus Andronicus speel. Is jou plan nog om die boek betyds vir die opening gepubliseer te kry? Julle moet vreeslik baie belasting betaal – hulle het net mooi 10% van die bedrag wat aan my uitbetaal is afgetrek vir taks.
In ’n lang ongedateerde handgeskrewe brief (waarskynlik in September 1970) bedank Breyten onder andere vir Daantjie vir ’n knipsel oor die opvoering Titus Andronicus en dan brei hy uitvoerig daarop uit:
Ja dit wil lyk asof mevr. Van Reenen lus gehad het om die hond ’n bietjie by te dam – maar dan moet sy darem ook nie enige stok gebruik nie. Ek wil nie in ’n steriele polemiek betrek word nie. Maar sê vir haar haar besware was baie oppervlakkig en oneerlik en as sy dan nie die tyd kon spaar om ’n ding behoorlik te lees nie moet sy dit laat staan vir iemand wat meer bevoegd is daartoe. Ta se skoenloosheid is aspris – daar word ’n bladsy of wat later weer daarna verwys – en as sy haar die moeite getroos sal sy op drie ander plekke in die teks soortgelyke “grappies” kry – dis nie regverdigbaar [onderaan die brief voeg hy in: *As suiwer “vertaling” nie, binne verband van herskrywe dalk wel] ek weet [...]. Verder, vir haar plesier, dit wil lyk asof ons twee heeltemal verskillende tekste (in Engels) onder die oë had. Die oorspronklikes waarvan ek gebruik gemaak het is die volgende uitgawes: “The Arden Shakespeare” edited by J.C. Maxwell, Methuen & Co. Ltd. 11 New Felter Lane EC4; en die “The New Shakespeare”, Cambridge University Press, edited by John Dover Wilson. Prof. Wilson bv. is glad nie so seker soos sy dat “urchin” kwelgees is nie; vir hom is dit ’n hedgehog. [...] Sê vir haar ek sal vir die amateuragtige here skryf en voorstel dat hulle in die vervolg by haar aanklop by enige onsekerhede in die teks. In my onnoselheid het ek raad gaan pleeg by ’n vriend wat met sy Oxford (Eng. Lit.) grade professor is aan ’n ou universiteit en dis toe hy wat my aangeraai het om van bovermelde uitgawes gebruik te maak. Nou weet ons ten minste die Engelse het al weer die skreeuende krimpvark by die stewels beet.
Hy noem dat hy gehoor het dat daar iets in Die Burger verskyn het oor die korrespondensie tussen hom en Pieter Fourie en hy hoop Daantjie kan vir hom ’n knipsel stuur. Hy wonder hoekom sy naam toe uit die advertensies gelaat is – nie dat dit hom skeel nie. Lateraan in die brief skryf hy dat Pieter hom pas gebel het: “Die opvoering (lieg hy) was toe glo ’n sukses. Was jy daar?”
Verder lig hy Daantjie in dat die eksemplare van Oorblyfsels wat sy tikster na Parys gepos het, nooit – of nog nie – opgedaag het nie:
Nou weet ek nie so mooi waar dit verlore gegaan het nie. Ons concièrge sweer dit het Parys nie gehaal nie. Ek weet jy sal nie meer eksemplare hê nie, maar ek wonder of jy nie ’n fotokopie vir my kan laat maak van joune nie? Jammer oor die geneuk.
Daantjie reageer op 28 September 1970 op hierdie brief van Breyten. Hy noem dat Pieter Fourie voortaan alle verdere Titus-knipsels aan Breyten sal stuur: “Hy gaan glo ’n fotostatiese afdruk van hulle eie plakboek aan jou stuur. Sodra daar oor die vertaling self geskryf word, sal ek weer begin knipsels aanstuur.” Hy meen ook dat Breyten hom nie te veel moet bekommer oor Rykie (van Reenen) se skrywe in Die Beeld nie. Hy sal vir haar ’n eksemplaar van die boek stuur met ’n aanhaling of wat uit Breyten se brief. Hy meen sy “het dit om die een of ander rede in vir ons”. Hulle was by die eerste opvoering van die stuk (met Dieter Reible as regisseur) en dit was ’n sukses:2
Ek was effens moerig vir Kruik omdat hulle nie jou ouers genooi het nie en wou eers my kaartjies vir hulle gee maar dit blyk toe dat Kruik se mense nie geweet het dat jou ouers in Wellington woon nie en dié fout is reggestel en ons was toe almal die aand daar, Ma, Pa, Uitgewer met vrou die hele lot. [...] Lees egter liewer wat die resensente van die stuk sê, genoeg van my dat beide Nici en ek dit geniet het.
Daantjie wonder of Oorblyfsels so lank vertraag is deur posstakings in Engeland. Hy het gelukkig ses ongenommerde eksemplare wat die drukker ekstra gedruk het en wat hy vir Breyten sal laat nommer en dan per lugpos aanstuur. Ongelukkig weet hy nie meer watter nommers hy vir hom per gewone pos aangestuur het nie, alhoewel een daarvan No 2 was. Die res sal hy nou maar spesiaal vir hom laat nommer.

Titus Andronicus verskyn laat in 1970 by Buren. Op 22 Januarie 1971 noem Daantjie in ’n brief dat hy ’n eksemplaar van die boek onder afsonderlike omslag aanstuur. Dit is net ’n groot jammerte dat die boek so laat verskyn:
Soos ek jou egter oor die telefoon gesê het, ek was geheel en al in die hande van ’n drukker. Dit gaan egter nou weer ’n bietjie beter en die drukker [Keartland Press (Edms) Bpk] druk nie meer so kwaai nie, nou kan ons weer laat waai.
Die kwessie van Rykie van Reenen en haar uitsprake oor Titus Andronicus het ’n nadraai. In sy brief van 24 Mei 1971 noem Daantjie dat hy gehoor het (waarskynlik by André Brink tydens ’n telefoongesprek waarna hy verwys) dat Breyten kwaad is vir hom:
Glo omdat ek jou briewe vir Rykie gewys het. Dis nie waar nie hoor. Ek het haar net een brief gewys, die een wat jy geskryf het na aanleiding van haar kritiek op jou Titus-vertaling. Die res het ek grepe aan haar voorgelees. Sy wou die een en ander van my weet vir ’n artikel wat ek as baie goeie reklame beskou het. Ek het toe ’n aantal grepe uit jou briewe aan haar voorgelees, dit was deurgaans stukke wat nie persoonlik is nie maar oor die een of ander aspek van jou poësie handel. Jy mag onthou dat ek jou oor die telefoon daarvan vertel het, juis omdat ek enige misverstand wou voorkom. Daar het jy nou die storie – ek het dit goed bedoel toe ek die stukke aan haar voorlees want ’n bietjie gunstige reklame kan op dié tydstip net goed doen.
Op 22 Junie 1971 volg Daantjie hierdie skrywe van hom op met die aanhef: “Jy skryf nie, né. Ek neem dus aan jy’s nog moerig vir my. Dis nie lekker vir my nie want ek is nog net so lief vir jou soos altyd.” In sy brief van 29 Junie 1971 vanaf Rome ontken Breyten:
Jy moenie so lieg nie! Ek was nooit kwaad vir jou gewees nie – dit was sommer beentrekkery. [...] ’n Sterk handvat vir jou – en jy moenie lol nie! Hoe sal ek ooit vir jou kwaad kan word? Jy soek skoor!
Die publikasie van Lotus (1970)
In sy brief van 2 Julie 1969 waarin Breyten die volgorde van die gedigte in die manuskrip van Kouevuur uiteensit, noem hy dat hy graag ’n bundel versamelde liefdesgedigte wil saamstel. In sy antwoordbrief van 8 Julie noem Daantjie dat hy ook ’n brief van André ontvang het met “Skulp van reën”. Hy vervolg:
Eintlik wil ek net ontvangs erken en vra of jy al van Jan Blom gehoor het. Ek het sy gedigte nog net oppervlakkig deurgeloer en dit is vir my al asof daar talent in die kêrel steek, die soort talent wat ek graag publiseer. Waarom die man só beskeie is kan ek gladnie verstaan nie. As hy egter sonder trompet-lawaai wil verskyn is dit ook goed.
(Kyk afdelings oor Kouevuur in Deel 1 en Oorblyfsels / Titus Andronicus hier bo vir vorige verwysings na liefdesgedigte en ’n nuwe bundel.)
In sy brief, gedateer 13 Augustus 1969, skryf Breyten:
En toe’t ek so by my selwers gedog dat dit seker beter sal wees as jy maar vir my die ms. van SKULP kan terugstuur dan neem en verwerk ek die bestes daaruit vir die beoogde liefdesbundel – wat volgende jaar gereed kan wees d.w.s. as en d.w.s. as ens. En as Koos [...] dan vassteek oor die paar miserabele rympies uit HUIS dan maak ek ’n splinternuwe bundel met al die nuwes (hoewel ek ’n versamelbundel sou verkies) en dan sit ons daai bak foto van my vrou Gertruida op die omslag. Of hoe sê baas?
Breyten stuur die nuwe manuskrip in Junie 1970 aan Daantjie. In die eerste van twee briewe wat net as Junie aangedui is, noem hy dat hy die manuskrip van Lotus daarmee saam stuur. Maar hierna volg ’n ander brief, gedateer en [ook] Junie, waaruit dit blyk dat die manuskrip toe nie saam met die vorige brief gestuur is nie. Hierdie brief is ’n sleutelteks waaruit die leser baie te wete kom van Breyten se werkwyse, selftwyfel en vaste idees oor vormgewing.
Eerstens verskaf hy die redes waarom hy gewik en weeg het om die manuskrip te stuur:
Hiermee dan, soos beloof en gedreig, LOTUS. Glo my, ek het lank gewik en geweeg voordat ek finaal besluit het om dit vir jou te stuur. Om verskillende redes – dis ’n vet en dik ding wat miskien te veel minderwaardige goed bevat; dit volg te gou op KOUEVUUR; een hele bundel oor die liefde is dalk te veel gevra van die eventuele leser; jy het nou genoeg van my werk gehad – voorlopig – en genoeg moeilikhede daarméé, en dis tyd dat ander manne ook kans kry ... ens.
Teenoor hierdie redes, gerig op die uitgewer en die eventuele leser van die bundel, is daar Breyten se eie gevoel oor die gedigte en die skryf van gedigte:
[D]ie bundel lê lankal gereed en meeste van die verse is voor of tydens dié in KOUEVUUR geskryf; net ’n paar het later ontstaan. Maar daar is ook ander oorwegings. Ek dink ek het so ver in hierdie rigting gegaan as wat dit vir my moontlik is om dit te doen. Ek is oortuig daarvan dat ek nie weer so-iets sal voortbring nie; erger nog, dit voel vir my ek het ’n immuniteit opgebou teen vers-maak self en net die lees daarvan maak my reeds naar. Dis uit en ek wil dit nie by my in die huis hê nie. Dis nou nie grootpraat of selfbejammering nie (dit allermins, want ek het altyd wou glo in die verlossingswaarde van skryf), maar hierdie is in alle eerlikheid die laaste bundel. Wie weet, eendag, oor ’n klompie jare, kom daar dalk ’n laatlammetjie, en eendag kan ons miskien praat oor OM TE VLIEG en ander prosa – maar hiermee is my sê uit. Dis nie ’n willekeurige besluit nie – dis geen reaksie teen wat of wie dan ook nie – ek voel net dis so.
Maar dan belig hy die moontlikhede en waarde, gekoppel aan vorm en ruimte, van die manuskrip (wat hy nou tog vir Daantjie stuur):
Terselfdertyd is dit definitief my mees ambisieuse bundel, en seker ook die moeilikste en baie moontlik gaan hy ook die swakste ontvangs kry. Maar dis nou my manifesto. Ek het die ms. so helder en duidelik moontlik probeer hou, met die hoop dan dat geen veranderinge nodig geag gaan word nie. Die vorm daarvan is belangrik. Dis ook eintlik meer tekste as verse – of sê dan maar nege verse, elk met ’n swetterjoel onderdele wat saam die geheel – eers van elk van die nege, en dan van die bundel – moet maak. Daarom is die syfers links bo langs die eerste strofe of titel daar en so sou ek dit graag gedruk ook wil sien. [Elders in die brief noem hy dat die onderafdelings ook onder mekaar gedruk kan word, soos by Tristia gedoen is.]
Met die soort van ding wat ek probeer skryf gaan mens, wat die vorm betref, op jou gevoel af. Die geheel-beeld moet groei, moet organies “ding” gaan word, en vir my is hierdie bundel dan veel hegter ’n éénheid as enige van die voriges – met die diversiteit en uiteenlopendheid wat daardie begrip behoort te behels (hopelik). Dit gaan tog om ’n soeke na ruimte. Daarby moet jy in aanmerking neem dat ek baie bygelowig is; ’n vers, ’n bundel, is ook (vir my) ’n poging tot inkantasie, tot beswering, ’n poging om die magiese te betrek. (En tog ontwyk dit mens altyd soos die diamant in die lotus – en dalk is dit juis goed so?)
Oor die skrywersnaam wat hy vir die bundel verkies:
Jan Blom: ek weet dis swak vir verkope, dat dit jou teen die bors stuit, maar ek moet tog daarop aandring dat dit (as dit verskyn) onder dié naam gedruk moet word. Ook dit is deel van die ritueel. Dis nie ’n skuilnaam nie, net ’n ander naam en dit móét m.i. so wees, in die lig van die werk self; trouens, dis selfs ’n onderliggende tema van die boek. Ek gee glad nie om dat mense weet wie agter of langs daardie naam sit nie – ek beklemtoon weer: dis nie ’n ontwyking van iets nie (so hoop ek maar!) maar slegs ’n draadjie wat moet help om die geheel te bepaal – of liewer, te benader. Indien jy dan besluit om te publiseer is ek oortuig daarvan dat enigeen wat enigsins kennis gemaak het met wat ek reeds doen sal weet dat dit weer uit Bekvol Bibbering se aweregse hand kom. As hierdie argumente jou nie oortuig nie, dan vra ek jou om dit nogtans so onder daardie naam te laat verskyn, as persoonlike guns (al het ek ook nie die reg of krediet om gunste te vra nie). Wat nié beteken – ek moet daarop aandring – dat jy hoef wég te steek dat dit my werk is nie. Sien dit so: dis nie dat ek enigiets ontken of ’n sekere persoonlikheid wil afskryf nie; dis net (en so hoop ek weereens vuriglik, al is die hoop ook ’n beslommernis) ’n stappie nader aan die oplossing van ’n bewussyn-van-sigself. INTEGRASIE!!
Oor die omslagontwerp:
Moge dit syn dat jy na rype beraad en met die astrantheid van baie wyn besluit om oor te gaan tot publikasie, dan wil ek mooi vra om my toe te laat om vir jou ’n omslagontwerp te stuur. Ek het dit reeds – dis nie van my nie, so moenie worry nie; dis ’n afdruk, in swart en wit, van ’n ou Indiese skildery (of tekening) wat die hele kwessie presies illustreer. Ek wéét jy sal daarvan hou. Trouens, my oortuiging is so sterk, en so staan ek gekniel dat ek sommer nou al die afdruk saam stuur. Maar, asseblief dan vriend, ek wil jou vra om die afdrukke soos goud te bewaar en weer aan my te besorg, of jy dit nou gebruik of nie. Ek sê afdrukke want ek stuur ook ’n tweede, mooie – want mens weet nooit...? Die titels onderaan beskryf die soort gebed of soetra wat uitgebeeld word, dis nie die skilders se name nie (hulle is blykbaar anoniem).
Hy dring sterk daarop aan dat, ten spyte van sy “pleidooi en apologie”, die manuskrip op eie meriete deur Daantjie beoordeel moet word:
Oorweeg nogtans die werk net op eie meriete en so objektief en koud as moontlik (hoewel jý nooit in staat sal wees om koudbloedig te weeg nie) en besluit dan daarvolgens. Ek laat alles net so in jou hande en ek sal nie selfmoord pleeg as jy sê: “kyk, dit klink alles baie mooi, maar eerlikwaar dis tweederangse werk”, “ons drukprogram vir vanjaar is reeds oorvol”, of “kom ons kyk later daarna, want ons moet die mark nie bedonder nie”, of “dis net nie ekonomies die moeite werd nie, want dis te vet vir ’n digbundel”, of wat ook al.
Hy sluit die brief soos volg af:
Daantjie, kan jy asseblief hierdie brief van my bewaar op ’n plek waar jy dit weer kan kry sodat ons die moontlike verwarring tot ’n minimum kan beperk? En dankie reeds by voorbaat. My sê is uit. Dis jou baby. Ek hoop op ’n spoedige antwoord en kan maar net weer sê dat ek volkome vertroue in jou het – wat nie op hoop gebaseer is nie, maar op ervaring.
Onderaan hierdie brief skryf hy in handskrif: “Jou vriend – kom maar hel en hoogwater! – Breyten”.
In ’n brief van Maandag 29 Junie 1970 bedank Daantjie vir Breyten vir sy brief wat die Donderdag (25 Junie) aangekom het, asook vir die een wat hy daardie oggend, saam met die manuskrip van Lotus, ontvang het. Hy reageer heel eerste op die laaste paragraaf van die tweede brief:
Wat bedoel jy? “Kan jy asb. hierdie brief bewaar op ’n plek waar jy dit weer kan kry”. Ek bewaar al jou briewe waar ek hul weer kan kry, jy het jou eie legger in my liasseerkabinet. Met jou naam op en alles. Ja ek weet daar was ’n bietjie verwarring met “Kouevuur” maar ek het mos klaar daarvoor om verskoning gevra. Moet my nou nie vir ewig daaroor verkwalik nie. En hou my dop met “Lotus”.
Hy hou van die afdrukke wat Breyten saamgestuur het en dink hulle kan moontlik “Kundalini” op die omslag en “Manusya” as frontispiece gebruik.3 Hy onderneem om ’n tipograaf (Horst Walter wat Wynland ontwerp het) opdrag te gee om ’n fopboek te maak met duidelike aanduidings waar elke gedig moet verskyn voordat hy begin druk. En wat Breyten se aandrang op “Jan Blom” betref, gaan hy “effens teësinnig” akkoord, solank dit nie weggesteek word dat dit Breyten se werk is nie:
Dit kan vir my in ’n lelike verleentheid bring as Jan Blom ’n CNA of Hertzog-prys kry sonder dat die keurder[s] bewus is dat dit jou werk is. Ek wil tog nie van enige vorm van oneerlikheid beskuldig word nie. Jou rede vir die skuilnaam kan ek verstaan maar onthou daar is altyd diegene wat ’n rede aan die Uitgewer wil toeskryf. Sommige mense sien altyd in alles ’n slim set van die Uitgewer en dit is van dié spul wat ek die stok moet weghou.
Hy het wel nog nie die manuskrip gelees nie, want hy het dit pas oopgemaak, maar hy reken Breyten het darem seker nie verwag dat hy dit sal afkeur nie. Hy sal dit nou lees en geen verdere mening vra nie: “Intussen ongelees kan ek maar vir jou sê, ek gee dit uit al is dit net omdat jy, jy is. Maar dit sal nie die enigste rede wees nie – jy weet dit ook.”
In ’n kort handgeskrewe en ongedateerde nota reageer Breyten op hierdie brief van Daantjie:
Dakkoord en skote, geen besware. Wat Janblom betref: my keuse is dat Bullebek hééltemal uit die skou [?] gelos word. As dit dan moet (maar mag dit nie) kan jy fyntjies iewers aandui Kopiereg: BB... Maar asseblief nie op titelblad of flapteks nie.
Dit word opgevolg met ’n langer handgeskrewe briefie wat onvoltooid is (of die tweede bladsy het nie in die koevert beland nie), gedateer 3 Julie 1970, waarin Breyten sy dank betuig:
My hart slaan bollemakiesie oor wat jy sê oor LOSLUS. Hoop jy sê nog so as jy eers klaar gelees het. En wat jou voorstelle betref: Gevolmagtigde, máák so, vir my is alles ôraait. [...] Dankie dat jy Jan Blom wil baar. Hy is [...] nog jonk in die land – maar darem. En natuurlik kan jy sê ek het hand bygesit. Hoewel ek eintlik sou wou hê dat die mense dink dis ’n gesamentlike werk van Koos Hieman en Prof. Apie Grové. En as ’n paar kritici in die slagkak trap – soveel te beter!
Hy noem dat indien Daantjie tot en met einde Augustus vir hom iets wil stuur, moet dit via Jobst Grapow in Rome wees.
Op dieselfde datum, 3 Julie 1970, stuur Daantjie met ’n kort nota die voorlopige uitleg vir Lotus vir sy goedkeuring. En vra: “Kan ek nie maar jou naam op die titelblad aanbring nie? So nie, sal ons maar in die flappieteks moet sê dat jy Jan is.”
Daantjie antwoord op 15 Julie 1970 op die onvoltooide handgeskrewe brief van Breyten van 3 Julie. Naas die nuus oor die versending en verkope van Oorblyfsels (kyk afd. oor Oorblyfsels hier bo) verwys Daantjie na ’n foto wat Breyten saam met die 3 Julie-brief gestuur het:
Jy is besig om my grys te maak met jou fokkin Jan Blom. Wat is jou bedoeling met die foto wat jy saam met jou laaste brief gestuur het? Die verduideliking is seker op die gedeelte van die brief wat agter gebly het. Onthou ek het in my vorige briewe aangedring dat ons nie wegsteek dat jy werklik Jan Blom is nie. Doen ons dit gaan ons, ons albei skade aandoen. Ek dink jy gaan die Hertzog-prys volgende jaar kry en is trouens bereid om ’n wedenskap [sic] aan te gaan – vir ses bottels rooiwyn en ’n halwe kaas. Ons moet nou net nie gekskeer met die mense nie. Jou werk is belangrik, jy word trouens nou na Van Wyk Louw se dood deur baie (ek inkluis – maar ek dink al lankal so) as die belangrikste digter in Afrikaans beskou. Enige “gimick” is benede jou waardigheid as digter. Ek raas nie, jy is die een wat altyd met my raas, ek pleit net mooi my baas. Gee my ’n goeie rede waarom jy Jan Blom wil wees en laat my toe om dit in die stofomslag te sê.
Hy vra hoe lank Breyten en Yolande in Rome gaan wees en stel voor dat hy hom gereeld met adresveranderinge op hoogte moet hou, want hy mag Breyten skielik nodig kry vir proewe of so.
Op dieselfde dag, 15 Julie 1970, skryf Breyten ook ’n brief aan Daantjie waarin hy hom bedank vir sy brief (waarskynlik die een van 29 Junie) – hy is voorlopig “skoon van sy spraak af”, omdat Daantjie bereid is om die nuwe manuskrip uit te gee en onderneem om van sy kant aan te stuur wat aangestuur moet word. Hierna volg ’n lang uiteensetting (’n soort bioskets) oor “ons vriend Jan Blom” vir wie mens “genadig moet wees”, want hy is “’n weeskind en oneg boonop”.
Hy is inderdaad beskeie met daardie beskeidenheid van ouens wat wil hê mens moet hul liefhê ter wille van hulself en nié vir die fancy naam nie. Daarby is hy ’n privaterige soort vent [...] en sku – seker weens sy lelikheid. Daarom het ek hom beloof geen haan sal snik oor sy eiers nie. Ek laat hom in jou hande. Maak meer met en van hom wat jy wil. Hy was destyds ten gunste van ’n artseenvoudige bundeltjie – so heeltemal wit van buite (want wit is mos die kleur van begrafnisse). Ek is seker André het net die foto. Hy hou nie van kritici nie. Hy is dalk dood. Maar sy regte naam ís Jan Blom. Sy werkies is dalk bietjie beïnvloed deur my (my invloed moes tog eendag iewers uitslaan, of hoe?) maar wie word nie beïnvloed nie? Sover ek weet was hy ’n onproduktiewerige soort Kapenaar wat dalk hier en daar ge-onderwys het en miskien selfs ’n enkele keer op reis oorsee was. Suiplap. Miskien nie eers ordentlik witman nie. Hoe dit ook sy of gaan sy, ek wil jou dit op die hart druk dat net André, Arme Kind [Daantjie se tikster], jy en ek van sy bestaan weet. Die versoeking was groot om van my eie verse by syne te sit – ek het dit ter nouernood weerstaan. Maar ek ontdek toe gister hier ’n beter variasie van die laaste vers in sy klompie – en ek stuur dit vir jou. Jy hóéf hom nie te publiseer nie. Besluit maar self. En as hy nie dood is nie stuur hy dalk eendag vir jou ander werk ook – of dalk ontdek ek nagelate goed tussen sy papiere.
Breyten se volgende brief is gedateer einde Julie (1970) en is versend van Jobst Grapow se adres in Rome, wat sy adres bly tot einde Augustus en indien dit verander, sal hy Daantjie laat weet. Wat die foto betref: “[D]it was om te wys hoe vet ek geword het – dis nie vir gebruik bedoel nie.” Wat Daantjie se bekommernis oor ’n Jan Blom-gimmick betref, is hy weer eens uitgesproke:
G’n gimmick is benede my waardigheid nie. Ek het geen waardigheid nie (dis seker juis die ding) en mag die Jere my met ’n kierie donner as ek waardigheid begin aansit.
Wat nou nie beteken dat ek die manne se gatte probeer uittrek met Jan Blom nie – eerlikwaar. Die basiese rede is natuurlik dat ek die dood probeer vrystap, dat ek, as hy soos ’n grys mot teen die venster kom tik, vir hom in sy bek kan lag en sê, nee man, ou Breideienag is daai haasbek boggelrug in Parys; ek ken hom nie.
Maar serieus – ek voel dit sal juis ’n gimmick wees as ons op die flap redes gaan aanbied. Redes is daar wel genoeg, en hulle is nie misterieus nie; ek voel net dat dit ’n onderwerp is – die idee van die snypunt en die maskers (verse) wat ek graag en liewer in ’n opstel sou wil benader. M.a.w. ’n verduideliking (beperk) op die flap sal dit na ’n gimmick laat klink. Ek dink nog steeds dat die aanduiding van die kopiereg in my naam genoeg behoort te wees. Moet nou nie worry nie, man: ons steek mos niks weg nie en dit behoort tog duidelik te wees vir enigeen wat al my goed gelees het dat dit, by wyse van spreke, dieselfde stront is wat agter darie poephol sit. Ek is seker ons maak nie fout nie. Jy kan hoog en laag verkondig dat dit myne is, en ek sal dit ook nie ontken nie. Daar hoef mos geen “rede” voor te wees nie. Ek hou sommer van die naam, en is gatvol vir die ander. As daar nou ’n verklaring op die omslag kom, dan word die hele ding mos belaglik. [...] Ek bly uitsien na die proewe. Hoop nie daar is enige ander skaafplekke nie.
In sy lang handgeskrewe brief van September 1970, waarin hy verwys na die knipsel oor Titus Andronicus (kyk afd. oor Oorblyfsels en Titus Andronicus hier bo), asook ’n telegram van Daantjie en Nici (waarskynlik vir sy verjaardag op die 16de), reageer Breyten op die proewe van Lotus wat hy intussen ontvang het:
Die proewe stuur ek dus terug. GROOT ASSEBLIEF – kan jy self seker maak by die laaste lees en in die lig van die ms. dat alle datums, byskrifte, leuses en asides mooi in gelid kom? Samblief Daniël, ek reken op jou. En die manier waarop die verse genommer is – dis belangrik dat dit 1.1, 1.2 ens. en 3.4, 3.7 e.d.m. bly. Sien ms. Jy sal oplet dat slegs twee woorde in die ms. vervang word. Daar is ’n bloei wat vloei word, en chapattas (wat brode beteken) word chappals (sandale). Die lettertipe lyk bakgat. (En het ek jou al gesê hoe bly ek is dat jy gebruik gaan maak van die afdrukke en dat dit by J. Blom bly?) Maar seblief ou vriend – kan jy sorgvuldig nagaan dat die foutjies reggemaak word?
Ek het lank gedraai met die proewe, dis waar. Rede is dat die moraal – en moenie my vra hoekom nie, ek weet nie – deesdae op die vloer rondgesleep word. Die gal werk oortyd. [...] ’n Laaste versoek: Dink jy ek kan die strookproewe van Lotus – na gebruik – weer kry? Dis vir Yolande.
Breyten vra Daantjie om vir Jack Cope namens hom te bel oor laasgenoemde se versoek om ’n ou vers van hom op te neem in ’n publikasie Best of Contrast. Hy kan in “alle eerlikheid” en vir “verskillende redes” nie sy toestemming gee nie, “veral omdat dit ’n swak vers is”. Dit is nie die eerste of laaste keer dat Breyten beswaar gemaak het teen die opname van sy gedigte in bloemlesings nie, of dat hy Daantjie vra om hom daarmee te help nie. Hy sluit die brief af met ’n uitnodiging aan Daantjie en Nici om by hulle te kom vakansie hou en “dan vat ons die kar en gaan wys Europa vir jou vrou”. Al onkoste sal hulle reisgeld van Suid-Afrika tot Parys en terug wees.
In sy antwoordbrief van 28 September 1970 verseker Daantjie vir Breyten dat die teruggestuurde proewe uiters versigtig gekontroleer sal word. Hy het Eddie du Plessis met sy arendsoog ingeroep om te help kontroleer. Du Plessis was eertydse hoofsub by Die Beeld en tans H&R se redaksionele hoof, maar laasgenoemde weet nie dat Eddie hom dikwels help nie.
Daantjie het Jack Cope dadelik na die ontvangs van Breyten se brief gebel, maar hy was toe in Johannesburg en hy kon hom eers die oggend waarop hierdie brief geskryf is bereik. Best of Contrast is alreeds in die pers en daar is niks aan te doen nie. Die boek verskyn by Reijger-Uitgewers en hy aanvaar Jack is die redakteur.4 Cope kan nie verstaan waarom Breyten nie sy gedig geplaas wil hê nie, volgens hom is dit ’n goeie gedig. Dit wil hom voorkom of Cope sal voortgaan met of sonder Breyten se toestemming – “Hy beskou jou as ’n ou Contrast man en klaar.” Hy sluit die brief af met die voorneme om as hulle dit kan bybring, “volgende jaar vir ’n week of wat by julle te kuier”. Hierdie voorgenome besoek het egter nie plaasgevind nie.

Op 19 Desember 1970, ’n koue grys wintersdag in Parys, ontvang Breyten ’n eksemplaar van Lotus (geset, gedruk en gebind deur Keartland Press [Edms] Bpk en met verkoopprys R3,00). Dit is ’n hardeband met los omslag waarop die Kundalini roeskleurig pryk; skrywersnaam “Jan Blom”; geen frontispiece; kopiereg: Breyten Breytenbach.
Hy skryf ’n ekstatiese handgeskrewe briefie aan “Beste Daantjie, Lina dierasie”. Hy staan met “hierdie silwer wonder” in sy hand: “En van die hand af tot in die hart is mos net ’n hanetree. [...] Ou Haan! Ou vriend! Dankie dankie dankie vir die lotus.” Soos Yolande dit stel: “[S]o eenvoudig, maar tog so ryk.”
En dis ’n plesier om hom oop te slaan, vars en “aired” soos ’n blom, ’n rus en ’n plesier vir die oog. Omslag, “mise en page”, lettertipe(s), spasies – alles fyn, alles rein. [...] Daantjie, jy is my hero en my vader Krismis. Jy bring ’n moerse groot gerf lig in hierdie gekneusde seisoen. En mag dit soos barsnate [?] verkoop vir Kersfees. Ek sou wou hê jy moet ryk word hiermee – maar tja. [...] Ek sluit af en vat weer die lotus – tot dusver het ek nie geléés nie, net gekýk. Dankie man, dankie en geluk – maar veral dankie.
Daantjie skryf weer op 22 Januarie 1971 en wens vir Breyten en Yolande ’n blomjaar toe; hy verwys na Breyten se tevredenheid met die voorkoms van Lotus. Tussendeur ander nuus, vra hy:
Het jy van plan verander oor jou prosastukke? Jou ma vertel my veral van ’n aantal reissketse wat jy glo al lankal geskryf het. Waarom probeer ons nie dié keer om die CNA prys met ’n prosabundel te kry nie? Ek probeer nie jou arm draai nie – dis nes jy wil.
Saam met ’n kort briefie van 9 Februarie 1971, stuur Daantjie twee berigte uit die Argus en voeg by:
Sover ek kon vasstel het die Publikasieraad nog nie “Lotus” bespreek nie, maar dit is duidelik dat Terblanche sy allerbeste gaan doen om die boek te bedoner. Moet jou nie nou al te veel bekommer nie, ek kan nie sien hoe die Publikasieraad “Lotus” op krag van hierdie gedig kan verbied nie. Ons swyg maar totdat ons van die owerheid hoor. Ek dink dit sal verstandig wees om nou onderhoude met koerantmanne te weier. Ons wag tot ons meer weet.
Die Argus-berigte is gebaseer op ’n berig van 5 Februarie 1971 in Die Afrikaner waarin daar aangevoer word dat daar “besliste pogings aangewend gaan word deur konserwatiewe kerk- en kultuurliggame om ’n digbundel van Breyten Breytenbach – wat onder meer ’n parodie op die gebed ‘Onse Vader’ bevat – verbied te kry.” Volgens Hennie Terblanche, voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans, het Breytenbach met dié gedig in Lotus “te ver gegaan en die Afrikanervolk sal dit nie aanvaar nie”. Hy self sou sorg “dat instansies so optree dat die boek verbied [word] en die uitgewer en die skrywer aan die pen ry”. JH Jooste, direkteur van die Christelike Kultuuraksie, het gesê dat die CKA die boek en in die besonder die gedig onder die aandag van die Publikasieraad sal bring, al twyfel hy of daar enigiets van dié vertoë sal kom (vgl Galloway 1990:102). In die korrespondensie tussen Breyten en Daantjie is daar dan ook geen verdere verwysing na sensuuroptrede teen Lotus nie.
In ’n brief, gedateer 23 Februarie 1971, in opvolg van ’n telefoniese gesprek, bevestig die persoonlike assistent van die besturende direkteur van die CNA, PG Lewis, amptelik aan Daantjie dat die Afrikaanse afdeling van die CNA-prys gewen is deur Breyten Breytenbach vir Lotus. Omdat die skrywer nie die banketgeleentheid op 2 April kan bywoon nie, word sy ouers genooi om die prys namens hom in Johannesburg te ontvang. In die skrywe van 24 Februarie aan Breyten se ouers waarin Lewis hulle meedeel dat hulle seun die prys vir die derde maal verower het, meen hy: “Dit is regtig ’n merkwaardige prestasie waarop u baie trots kan wees en ek moet u gelukwens met u seun se sukses.”
Daantjie het Breyten gebel met die nuus en in sy brief van 24 Februarie 1971 reageer Breyten op die nuus:
Ek kan nou nog nie regtig glo dat die CNA ons weer oorgekom het nie. Ek dink ons behoort ’n bossie blomme vir die Sensuurraad te stuur omdat hulle so gaaf is om al die ander kandidate se werk te verban. Ek dink ook die CNA behoort jou ’n direkteur te maak op voorwaarde dat ek nie meer probeer publiseer nie. [...] Maar dit begin nou vir my ruik na grootpratery. Jou bliksem, ek is seker jy en jou vriend Ampie Coetzee koop die keurders om. Dis skandelik om te sien tot watter laagtepunte die Afferkaners kan styg.
Alle grappies op ’n tikmaarsien. [...] En ek weet dat as jy nie daar was nie sou ek lankal opgehou publiseer het en sonder publikasie sou ek ook nie bly skryf het nie. Deur jou toedoen, deur jou daar-wees is my lewe in ’n sekere rigting gestuur, is dit lekker om ’n boek – ’n Afrikaanse boek oop te slaan, is dit lekker om ’n vel papier in ’n tikmasjien te stop, het ek die gevoel dat daar dinge is wat die moeite werd is om te probeer sê, dat kommunikasie dalk tog moontlik is, dat die lewe nie net ’n pil is wat mens so gou moontlik probeer insluk nie. Ek is daarvan oortuig dat mens sterf wanneer jou verlede vrek of van jou afgeneem word. En my verlede lê daar in die berge en op die strande en in die wingerde. [...] Jy hou daardie naelstring vir my lewendig en oop. Dankie vriend. Dis moeilik om sekere goed vir ’n vriend te probeer sê sonder om skuins aan die grens te raak, maar ek wil hê jy moet weet hoe baie dit wat jy doen – jou vertroue en net jou doodgewone mensevriendskap – vir my beteken. [...] Al maak ons niks meer saam nie – ek bedoel wat boeke betref – dan is dit reeds meer as genoeg. Die prys se moer man – die enigste rede waarom dit mens se hart verbly is dat dit die vertroue wat jy in die werk had beloon. Ek dink nie mens moet te veel illusies hê nie, maar ek hoop dat Buren Uitgewers by die dag sterker gaan word. Wat maak dit saak as die brakke kef? Jy moet aandonder ou maat!
Breyten vertel vir Daantjie dat hy ’n versoek van H&R gekry het om Katastrofes, wat hulle destyds by APB oorgeneem het, te herdruk en of hy veranderinge wil aanbring. Hy het nog nie geantwoord nie, maar hy meen nou dat dit seker nie so baie saak maak nie en hy vra wat Daantjie daarvan dink. Hy vertel ook oor sy huidige projekte. Hy stuur vir Daantjie Om te vlieg en hy werk aan ’n vet prosamanuskrip wat hy ’n Boek noem:
My ma sê mos dis reissketse en dit is ook so as mens aanvaar dat die lewe ’n soort verkenningstog is. ’n Groot trek om die draad stywer te span! Dis ’n moeilike boek, daar is seker ook ontoelaatbare passasies in, en dis lank – prosasketse, essaytjies, vloekrym, knope in my sakdoek ens.
Dit sal dan al wees – ek bedoel, daar is geen ander boeke in die pyplyn nie en sal, afgesien van ’n laaste bundel so oor ’n paar jaar, ook die laaste bly. Mens moet weet wanneer om die handdoek in jou groot keelgat af te druk.
Teen die einde van die brief vra hy dat Daantjie (per seepos en op sy koste) eksemplare van Lotus aan ’n paar mense by bepaalde adresse stuur: H.C. ten Berge, E. Bendien, Simon Vinkenoog, Gerrit Kouwenaar, Bert Schierbeek en Olivier Boelen. Dit is duidelik dat Breyten en sy publikasies aandag geniet in die Lae Lande.
In sy antwoordbrief van 4 Maart 1971 beklemtoon Daantjie dat Breyten die CNA-prys verdien, veral na dít wat Terblanche en kie kwytgeraak het:
Jy vlei my, dit is goed vir die ego maar dis nie regtig waar dat ek jou aan die skryf hou nie. Jou talent is die dryfkrag nie ekke nie. Jy sal skryf al gebeur wat ookal, ek is net gelukkig dat jy jou werk vir my stuur. [...] Nogmaals baie dankie vir al die mooi goed wat jy sê [...]. Ek gaan nie probeer sê wat jou vriendskap vir my beteken nie – ek grens te maklik. Dankie man, dis lekker om jou as vriend te hê.
Hy vertel van die reëlings vir reis en verblyf rondom die CNA-toekenningsgeleentheid in April in Johannesburg. Daar het nog nie baie resensies oor Lotus verskyn nie, maar hy verwag dat daar na die prys heelwat oor dié boek geskryf sal word en dan sal hy afskrifte stuur. En die eksemplare waarvoor Breyten gevra het, sal aan sy vriende gepos word. Hy sluit, soos versoek, die strookproewe van die boek by die brief in. Hy vra wanneer Breyten meen dat hy die “Boek” gereed sal hê – hopelik kan dit nog in hierdie jaar verskyn. Hy dink ook dat Breyten toestemming moet gee vir die herdruk van Katastrofes, want dit sou ’n fout wees as die boek geheel en al uit druk gaan.
Op 26 Maart 1971 laat weet Daantjie dat hy besluit het om per motor en al smousend na Johannesburg te reis vir die toekenningsgeleentheid. Waarskynlik het hy Breyten tydens die geleentheid gebel, maar daar is nie verdere korrespondensie daaroor nie.
In 1971 kom Breyten in aanmerking vir die Hertzogprys vir poësie met Kouevuur, Oorblyfsels en Lotus – ander moontlike kandidate was Elisabeth Eybers (Onderdak), DJ Opperman (Edms Bpk), Ina Rousseau (Taxa), MM Walters (Apocrypha), SJ Pretorius (Argekrobaat) en Sheila Cussons (Plektrum). Soos gewoonlik, word daar in die pers bespiegel oor die toekenning en dit is veral die Engelse koerante wat reeds in vroeg Maart voorspel dat ’n herrie gaan losbars, wie ook al bekroon word. Die Letterkundekommissie van die SA Akademie is verdeeld tussen Eybers en Breytenbach. Op 19 Mei 1971 word die wenner aangekondig, naamlik Eybers se Onderdak. Hierop volg uitgebreide openbare reaksie.5
In die briefwisseling tussen Breyten en Daantjie is die enigste melding van die aangeleentheid in ’n kort brief van Daantjie, gedateer 24 Mei 1971:
Ek sluit ’n paar knipsels in oor wat gesê is nadat die Hertzog-Prys uiteindelik amptelik aan Elisabeth Eybers toegeken is. Jy het mos destyds al geweet jy kry dit nie, nadat die Rand Daily Mail jou getelefoneer het. Die CNA-prys dra deesdae meer prestige en is ook heelwat meer geld werd [...].
Die publikasie van Om te vlieg en Met ander woorde,
asook sprake van ander boeke
Taurus publiseer in 1981 ’n heruitgawe van Lotus, met ’n kunswerk van Breyten in die bandontwerp.
Reeds vroeg in hulle korrespondensie, in die brief van 27 Mei 1969, het Daantjie sy belangstelling in die manuskrip van Om te vlieg laat blyk: “Sal jy my ’n kans gee om ‘Om te Vlieg’ te lees. Ek sê nie ek gaan dit uitgee nie maar ek het baie lus daarvoor – laat my dit net lees.” In Breyten se antwoordbrief van 30 Mei is daar ’n nota: “Ek laat weet jou oor ‘Om te Vlieg’.”6 Dit sou egter ’n ruk duur voordat Breyten iets daaraan doen.
In sy brief van 24 Februarie 1971 waarin Breyten reageer op die nuus van die derde CNA-prys (kyk afd. oor Lotus hier bo) laat weet hy vir Daantjie:
Ek stuur vir jou Om Te Vlieg. Ek verwag nie dat jy kans sien om dit te publiseer nie. Dis nie watwonders nie, maar m.i. tog interessant. Maar as jy voel dat dit onnodig provokasie gaan beteken, dan liewers nie. Die ms. is woord vir woord nog presies soos hy destyds was. Al wat ek vra is dat jy hom terugstuur as jy dink dis nie publiseerbaar nie.
Daantjie skryf op 4 Maart 1971 in antwoord op hierdie brief:
Dankie vir “Om Te Vlieg”. Ek gaan sodra Joyce [...] hierdie brief getik het begin lees daaraan in die hoop dat ek dit kan uitgee sonder om met my gat in die tronk te beland. Kan jy jou ’n publikasieraad voorstel wat “The Beastly Beattidues of Balthajar B” [sic]7 verbied? Maar ek voel nie lus om vir hulle weg te hardloop of voor hulle te gaan lê nie.
In ’n brief van 26 Maart 1971 skryf hy: “O ja, het ek jou gesê? – ek dink ‘Om te Vlieg’ behoort voor die einde van die jaar uit te wees – en fok die Publikasieraad. Dis ’n goeie werk. Later meer hieroor.” Op 24 Mei 1971 laat weet hy Breyten dat hy eersdaags Om te vlieg se bladproewe stuur.
In sy handgeskrewe brief vanuit Rome op 29 Junie 1971 verneem Breyten hoe dit vorder met Om te vlieg en of hy die kans sal kry om ’n omslag en skutbladontwerp te maak en stuur. Hy bedank Daantjie vir sy briewe, knipsels en tjekkies en vertel van sy bedrywighede. Hy was by die skrywersfees in Rotterdam, waar hy saam met drie ander digters vier gesamentlike gedigte geskryf het wat in Holland, Italië, Israel en Joegoslawië gepubliseer gaan word. Hy werk ook aan ’n kunsuitstalling in Parys einde September en begin 1972 in Amsterdam. Nou is hy op pad na Dar-es-Salaam op uitnodiging van Unesco vir ’n kongres oor kultuur in die opkomende lande – sal in die derde week van Julie terug wees in Europa. Daar is nog nuus:
Baas Daniël, ek is aan’t skrywe aan ’n definitiewe boek vir jou. Dis nog steeds BOEK, maar hy word dieper as wat ek kon vermoed en jy kry hom so gou hy klaar is – maar seker te laat vir publikasie vanjaar nog. Maak nie saak nie, hoe ryper hoe beter, en ’n publikasie-blasie is ook goed? – of hoe? (Ek is opgewonde oor daardie boek, ek dink hy breek.)
Daantjie reageer op 22 Julie 1972 – hy is baie opgewonde oor die Boek en bly dat Breyten nie kwaad vir hom is nie. Dit gaan redelik goed – daar is wel ’n paar probleme met die uitgewery waarvan hy Breyten oor ’n paar dae (na die probleme hopelik opgelos is) breedvoerig sal vertel. Hy stem in dat Breyten ’n omslagontwerp vir Om te vlieg kan stuur – dit sal in dieselfde formaat as Kouevuur wees.
Na sy terugkeer uit Dar-es-Salaam, in die brief van 13 Augustus 1972 waarin hy kennis neem van Daantjie se terugvoer oor die oordrukregte-kwessie van Tafelberg (kyk afd. oor Kouevuur in Deel 1), verneem hy weer na die vordering met “die vlieg”: “Jy kan maar stuur, ek is reg vir hom. Ek sal salf aan sy seerplekke smeer dat hy kan stink soos ’n koning! En ek maak vir jou ’n omslag en ’n skutbladtekening – alles swart op wit.” Ander skryfprojektenuus is: Hy werk aan die Boek vir Daantjie. En hy het vir die mense van Rotterdam ’n “kleine bundelkie versjes gaan beloof, met tekeninge [...]. Dit sal seker net sowat 20 gedigte wees: Om ’n Sinkende Skip Blou te Verf, noem ek dit.”
Sondagaand 22 Augustus 1972 om 10:15 skryf Breyten ’n nota aan Daantjie waarin hy hom bedank vir twee telefoonoproepe en veral vir die een van daardie aand:
Dis soms of die verlange te kwaai word. Ek wil sommer deur die mure breek, die pad vat, daar by jou agterdeur kom klop. Dis by sulke geleenthede dat jou vriendskap vir my so baie beteken. Uitgewer se moer! [...] Uitgewers lê die wêreld vol – vriende is min. Al wat ek wil sê is ek hoop nie ons werk kom ooit tussen ons nie, en dit hoef ook nie.
Nouja, ek wou vir jou (vanoggend al) ’n vreeslike pretensieuse verslag skryf – dis dié dat die reëls genommer is. Slim né? Ek wou die duisterhede woord vir woord opklaar – veral omdat jy seker nie meer sal onthou waaroor ons oor die foon gepraat het nie. Maar [...] jy kan alles weer probeer uitpluis. (En, ek onthou buitendien nie meer die verduidelikings nie, of selfs wát nie verstaanbaar is nie.) Hier is hy dan, en ek gaan dit nie weer lees nie want ek vermoed dat jy gelyk het: mens beter wag tot dit dag word voordat jy jou aan die woord vergryp.
Saam met die briefie, is die handgeskrewe “Huildronk” of “Verslag aan ’n Uitgewer / Wie se Hart hom nog / in die Wiele gaan ry” van 77 reëls waarvan die eerste reël soos volg lui: “jy sê ou Helderberg lê blink van die sneeu”. Geskryf 20/21/22 Augustus – voltooi: 4:30 die nag van die 21/22. As naskrif noem hy dat hy dit nou ook getik het en die getikte een is die finale weergawe.8
Op 27 Augustus 1972 bedank Daantjie vir Breyten vir sy “huilmooiheildronk”: “Die geselse en gesange oor die foon sal my – dalk effens vaag – moerslank bybly”; hy sal sý eie gedig bewaar om te lees en te lees totdat hy elke woord uit sy kop kan opsê en dan sal hy dit net vir homself opsê saans voor hy slaap en soggens voor hy opstaan. Hy bedank Breyten vir die omslag en skutbladtekeninge vir Om te vlieg. Hy sal sorg dat Breyten proewe van die kunswerk en teks kry: “Stuur dit net dadelik terug asseblief: ons tyd is min, dis my groot kersboek of dalk afkakboek as oom Jannie se buie nie lekker is nie. Maar ek gee hom uit!” Dan deel hy nuus oor sy besigheid – hy is besig om Keartland Press wat 51% aandeel in Buren het, se belang uit te koop op ’n afbetaalbasis oor vyf jaar (insluitende drukgeld en geld wat hulle aan die begin aan hom voorgeskiet het).
In ’n brief aan “Beste Lina”, gedateer (vorige) Sondag November 1971, bedank Breyten vir Daantjie vir sy briewe, die knipsels, ensovoort. Hy noem dat hy verneem het dat hy “in die knyp sit met Buren” – en dit verbaas hom nie en voel medeverantwoordelik daarvoor:
Ek het verneem, selfs hier in die vreemde, dat jy tot vervelens toe die oorvloedige gebabbel van een ou publiseer, party keer tot twee keer per jaar. [...] Dis waar, ek hét verneem dat die ou wat soos ’n luis aan Buren se skene bly lek [...], ek hét verneem dat die ou hoog en laag en in die middel langs beloof het om jou op te hou pla maar dit wil nie lyk of hy sy belofte gestand gaan doen nie [...]. Kyk uit! Kyk uit!
Van André Brink het Breyten gehoor dat hy die proewe van Om te vlieg gelees het en dat “alles intak in die tak” is.
Ek sien uit na die verskyning [...]. En die omslag? Die skutblaaie makeer seker. Ja, donder, ek weet jy’t al weer vergeet wat ek vir jou gevra het en wat ek jou aangebied het. Gaan lees na! [...] (Dis jammer van die skutblaaie.) (Nè?) Wat ek eintlik wou sê is, jy hoef nie te worry oor OTV nie. En ek hoop dit loop goed. Hoe verkoop die ander?
In hierdie brief verwys Breyten weer na die gerugte dat H&R Katastrofes wil uitgee en vra hy of Daantjie iets daarvan gehoor het en of dit stopgesit kan word. Hy sal in ieder geval vir die here skryf om “dit vooruit duidelik te maak dat hulle nie my toestemming het nie”. (Hy doen dit dan ook so op 15 November.)9 Hy hoop nog dat Daantjie eendag die boek by hulle kan oorneem en dan knap hy hom so effens op vir hom.
In hierdie brief is daar ’n komiese anekdote oor die lotgevalle van die “manuskrip vir Holland” wat deur Martin (Mooij) van Rotterdam aangevra is; daar is ’n moontlikheid dat die uitgewery Meulenhoff belangstel om ’n gedeelte van die oplaag vir verspreiding oor te neem.
Die volgende brief in die versameling is gedateer 28 Januarie 1972. Daaruit kan mens aflei dat Daantjie intussen telefonies met Breyten gesels het. Hy vra of Breyten Om te vlieg ontvang het en of hy daarvan hou. Die enigste resensie tot dusver is André Brink s’n in Rapport:
Ek hoop nie jou stilswye oor Om te Vlieg is omdat jy ontevrede of kwaad oor die skutblaaie is nie. [...] My plan met jou toestemming natuurlik is om die boek sonder omslag – ek het 2,000 daarvan gedruk teen R2.50 te verkoop en dié met stofomslag deur die skrywer ontwerp (1,000 eksemplare) teen R3.00 te verkoop. Nog ’n Breytenbachiana vir die versamelaar!
Ander nuus is dat André Brink tans in Kaapstad is. Hy het met H&R gaan gesels oor Katastrofes “en dit lyk of die here nie gaan publiseer sonder jou toestemming nie. [...] Hulle het egter ook nog nie besluit om afstand te doen van die regte nie”:
Die rede is glo dat hulle voel dat jy weer met hulle versoen sal raak en dan sal julle almal jammer wees dat ek die boek uitgegee het. Volgens André het hy hulle goed laat verstaan dat die “contingency” op so ’n versoening taamlik “remote” is. Nou gaan K en L glo eers weer met Dirk gesels en dan sal die drie here glo ’n gesamentlike brief vir jou skryf.
Breyten antwoord iewers in Februarie se maand 1972. Wat Om te vlieg betref:
Natuurlik is ek bly oor die boek. Hy lyk windgat, lê lekker in die hand, die layout en die lettertipe is distinguished. Dis ’n móói boek, ek is trots op ons albei – en dankbaar vir André ook want as hy nie aangehou het nie sou die ding nooit die lig gesien het nie. (Hoewel hý bietjie lat slaplê het: baie drukfoute!) Nou wonder ek wat die kritici gaan sê. Baie dankie vir die boeke, Daantjie; trouens al my boeke by jou tot dusver, sonder enige uitsondering, was absoluut praguitgawes. [...] O ja, dit spreek vanself dat jy Om te Vlieg verkoop soos jy goed dink; trouens, dit klink vir my ’n goeie idee soos jy dit daar gestel het.

In bostaande brief vertel Breyten dat hy toe wel die brief van H&R ontvang het om te sê “dat hulle (húlle!) toegestem het om nie Katastrofes te herdruk nie, maar dat hulle hoop dat die breuk tussen ons (siek) herstel kan word”. Hy meen egter dat Daantjie reg is:
[O]ns moet net geduldig wees, maar dit sal mooi wees as jy Katastrofes oor kan neem, dan fix ek hom so bietjie op vir jou, vat ’n paar weg en sit ’n paar goeies wat omtrent terselfdertyd ontstaan het by. Siende hulle my nou skriftelik laat weet het dat hulle nie herdruk nie, kan ons dan nie sommer voortgaan met publikasie nie? Dan noem ons dit KATASTROFES HERDRUK?? (In die formaat van Om te Vlieg).10
Intussen werk hy aan die groot prosaboek (Boek) vir Daantjie:
Ek wil hom nie kneus nie, maar as ek nou vir my sê half-Junie as vreklyn gee, dink jy – indien jy hom vat – dat jy hom nog vanjaar uit kan kry? Ek het die gevoel dié boek gaan saamvattend wees. Dan is dit, soos ek jou beloof het, uit en klaar, behalwe vir een allerlaaste groot skryt, maar dan eers oor ’n klompie jare. I’m closing down shop, boss, maar ek moet darem eers uitverkoop hou, so ’n ou rompiesale – en ek’s self verstom oor wat daar in die donker hoekies bly lê het, waarvoor die muise blykbaar nie kans gesien het nie.
Oor die Holland-bundel het hy ook nuus. Hulle het toe besluit om die bundel groter te maak, met so sewe tekeninge, en dit word nou in samewerking met Meulenhoff gepubliseer:
Ek kan maar net hoop hulle gee die ding uit voor hulle besluit om dit te léés. Die Belge, so verstaan ek, wil nou ook gaan torring aan ’n soort bloemlesing met ’n geleerderige opstel daarby – seker oor ooreenkomste tussen die skilderye en die geskritte.
Onderaan die getikte brief vra hy in ’n handgeskrewe nota: “Sou dit jou interesseer om ’n aantal v.d. Holland-bundel oor te neem vir verspreiding daar?”
In ’n brief, gedateer einde Mei 1972, verwys Breyten weer na die (prosa-) boek waaraan hy werk:
Ek hoop om hom betyds vir vanjaar se oes by jou te hê. Nou wonder ek al wat jy daarvan gaan dink. Die sketse en bevlieginge, sommige van voor Katastrofes nog en dan dwarsdeur Sjina en die voorstede tot die dag van vandag toe [...].
Hy vertel dat hy die volgende maand na Poetry International in Rotterdam gaan. Wel ’n paar dae vroeër, omdat die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde op 17 Junie hulle jaarlikse Lucy B en CW van de Hoogt-prys aan hom gaan toeken vir Lotus. Hy versoek dat eksemplare van Lotus en Kouevuur per lugpos aan die sekretaris in Leiden gestuur word, asook voorraad van die boeke vir verkope deur die Atheneum Boekhandel – laasgenoemde via HC ten Berge en op Breyten se koste. Self ontvang hy ook graag ’n paar eksemplare om saam te neem na Rotterdam.
Breyten is wel besorg oor Daantjie se boekesaak en moedig hom aan om nie moedeloos te word nie:
Dis maklik om hier van die kantlyn af moed te probeer inpraat maar ek wil net hê jy moet weet dat jy nie somaar ’n ordinêre uitgewer is nie. Dit lyk vir my, so ver ek kan oordeel natuurlik, dat jy so eerlik ’n uitgewer is as wat moontlik is onder die omstandighede. [...] Ek dink jy het die enigste ordentlike standpunt – jy probeer jou saak aan die lewe hou want dis nie ’n liefdadigheids-affêre, maar daarby publiseer jy waarvan jy hou, of dit nou van links of van regs kom en al weet jy nou ook vooruit dat dit nie sal verkoop nie. [...] Ek glo dat jy selfs in hierdie kort tydsbestek van slegs 2, 3 jaar reeds ’n blywende bydrae gelewer het tot ons skrale Suid-Afrikaanse kultuur. Maar wat vir my veel belangriker is as enige “bydrae” is die blote feit dat jy, wat my betref, die enigste uitgewer is met wie mens (en ek is daarvan oortuig dat jou ander skrywers ook so voel) verhoudinge van opregte vriendskap het.
In ’n brief van (24) Oktober 1972 verwys Daantjie na bostaande brief van Breyten, asook na telefoongesprekke intussen. Daantjie het self hierdie brief getik (want sy tikster is weg saam met haar man wat na Johannesburg verplaas is). Hoe die “probleme” van Buren tydelik afgeweer is (of nie), is nie uit die korrespondensie duidelik nie. Intussen is al sy boeke vir hierdie jaar laat en het hy niks vir die Kersmark nie – vir volgende jaar is daar wel ’n goeie oes op pad. Hy hou hom intussen reg vir Breyten se groot prosaboek en nou ook vir ’n “verrassing” waarvan daar sprake is. En hy sal aan Martin Mooij skryf oor Skryt:
Daar is heelwat wat ek hier vir hom kan doen om “ruchbaarheid aan het boek te geven”. Ek kan ook vir hom bestellings werf en as hy daarvoor wil betaal kan hy die geld vir jou stuur, ek wil niks hê nie, ek doen dit vir jou. Hy moet net vir my ’n paar resensie eksemplare aanstuur.
Of daar enigiets daarvan gekom het, is nie duidelik nie.
Hy vra vir Breyten of hy reg gehoor het oor die foon dat hy en Yolande in Desember kom kuier.
Hierna is daar slegs ’n paar ongedateerde handgeskrewe notas van Breyten in die versameling en mens is aangewese op ander bronne om die afloop van hierdie skrywer/uitgewer-verhouding te rekonstrueer.
Breyten en Yolande was op ’n “negentig-dae-sonder-aanhouding besoek” in Suid-Afrika van 30 Desember 1972 tot 30 Maart 1973. Hulle reis deur die land en Breyten lewer ook sy eerste plaaslike openbare toespraak, getitel “’n Blik van buite”, tydens die Sestiger Somerskool van 12 tot 16 Februarie aan die Universiteit van Kaapstad. In ’n kort en ongedateerde handgeskrewe nota tydens hierdie reis verwys Breyten na die “proewe” wat hy by Daantjie laat aflewer. Dit is die proewe van die “verrassing” hier bo ter sprake, naamlik die klein publikasie Met ander woorde vrugte van die droom van stilte wat tydens die somerskool die lig sien (uitgegee deur Buren, gedruk deur Kaap en Transvaal Drukkers Bpk).11

Breyten teken hierdie reis op in ’n manuskrip, getitel ’n Seisoen in die paradys. Uit die reisverslag blyk die ingrypende plek wat sy vriend en uitgewer tydens hierdie reis ingeneem het: die (klandestiene) ontmoeting op die Jan Smuts-lughawe en die eerste oornag aan Daantjie se broer se huis en die vlug na en aankoms op die lughawe in Kaapstad (bl 19 ev); die komiese weergawe van sy kuier in die Kaap by “mý uitgewer” se groot kantoor, kompleet met Namakwalandse bokke in ’n vertrek “om die surplusoplae weg te werk” (bl 54–5); besoeke aan Daantjie se huis en gesin in Somerset-Wes (bl 43 en elders); die reis in Daantjie se Opel na Martin Versfeld (oom Tao) se plasie in die Kougaberge en terug Kaap toe (bl 61–70); die groot kuier op die laaste aand van die Somerskool (bl 146); die bywoning van ’n vriend se Moslem-troue (bl 147–8); ’n intense kuiernag (bl 173 ev); die epiese Sederberg-tog (bl 192–219). Daantjie is ook by die Kaapstadse lughawe toe Breyten en Yolande na die “paradysverblyf” (met fokus op herontdekking van die landskap, familieverbande en vriendskappe) via Johannesburg terug vertrek na Parys (bl 222).
Voor hierdie reisboek deur Buren gepubliseer kon word, het daar sensuurwater in die see geloop. Buren gee in September 1973 André P Brink se Kennis van die aand uit. Op 29 Januarie 1974 verbied die Publikasieraad dit onder die sensuurwetgewing van 1963. Op 1 Oktober beslis drie regters van die Kaapse Hooggeregshof dat die verbod bekragtig word.12 Dit het sake vir Daantjie en Buren moeilik gemaak. Intussen het die manuskrip van Breyten se ’n Seisoen in die paradys stuksgewys by hom begin opdaag, met instruksies waar bepaalde dele inpas en selfs ’n voorstel vir die bandontwerp. In ’n ongedateerde brief (van 1974) van Breyten, gerig aan “Baasdaan”, skryf hy:
Ai here, die hart voel darem nie lekker oor daardie nuse van vanoggend [moontlik telefonies] nie. Hoe kan dit dan nou met my ou buurman, my ou tjom, my crony gebeur? Is daar dan niks wat ons kan doen om die saak te red nie? En wat word nou van jou [...]? Sê net wat mens kan doen om te help. Onthou nou – soos wat jy deur die dik en die dun by my gestaan het, so moet jy nou op my ook reken. Maak nie saak wat jy besluit nie, maak selfs nie eens saak of dit nog ’n boekebedryf of wat ook al is nie – ek loop sáám. Ek het gedog, dis nou ’n paar moontlikhede of alternatiewe:
-
- As jy dink dat daar op hierdie stadium nog iets te red is vir Buren, en dat my boek [Seisoen] kan meehelp, dan is ek bereid om te sny (maar slégs vir jou, vir geen ander uitgewer of skrywerskring nie, en dan alleen as ons sodoende vir Buren uit die kakemmer kan kry.)
- Wat ook al gebeur, jy bly my uitgewer. [...] Met ander woorde, as André kans sien vir die vertaling en ons kry ’n uitgewer op ’n ander plek, dan bly staan ons oorspronklike deal nog – 50–50.
Intussen, asseblief Baas, ek wil nie hê jy moet my boeke aan Tafelberg of wie dan ook verkoop nie. Daar is geen ander uitgewer in die land by wie ek my boeke wil sien nie.
Wat “Seisoen” betref – as Ampie-hulle hom kan uitgee soos hy daar staan, dan OK. Maar darem net 2 dingetjies. Een: daar was nog van altyd af al ’n laaste stukkie gewees, ’n na-skrif wat ek by die boek wou sit – indien Ampie-hulle dan wil uitgee dan moet hulle vir my laat weet waarnatoe ek dit moet stuur. Twee: kan jy asseblief aanhang aan die foto’s wat in die boek sou wees asseblief – dis kwesbare familiebesit. Ek weet jy het nou al genoeg bekommering en ek wil nie nog bysit nie, maar ek sal dit baie waardeer.
Daar is nie skriftelike terugvoering op bostaande brief in die versameling nie. In Rapport van 13 Oktober 1974 is berig dat Daantjie Saayman, uitgewer van Kennis van die aand, voor die vraag te staan gekom het of hy Seisoen onveranderd moet publiseer. Met die Hooggeregshof-uitspraak van 3–0 teen Kennis het sake vir hom as uitgewer moeilik geraak: “Ek moet nou by die lees van ’n manuskrip dubbel probeer oordeel: Eers wat ek dink, en dan wat ek dink die Publikasieraad sal dink!” Hy weier om die manuskrip voor publikasiedag aan die Publikasieraad voor te lê; hy sal egter ook nie daarvan hou om dele uit te sny nie – en die skrywer sal in elk geval daarteen gekant wees. Later word ook berig dat die skrywer weier om aan die werk te verander (vgl Galloway 1990:188). Seisoen verskyn uiteindelik, met snitte, in 1976 by Perskor terwyl Breyten in die gevangenis is.13
***
Wat betref ander titels ter sprake in hierdie afdeling:
Skryt: om ’n sinkende skip blou te verf is teen die einde van 1972 deur die Nederlandse uitgewery Meulenhoff as koproduksie met die Rotterdamse Stichting Poetry International gepubliseer, kort voor die Breytenbach-egpaar se eerste besoek aan Suid-Afrika. Dié bundel bring weer ’n radikale verskuiwing in die lesersverwagtingshorison. Die vroegste twee kritiese reaksies daarop is een van hewige ontsteltenis (TT Cloete) en die ander gedemp (André P Brink). In 1974 kom dit saam met Met ander woorde in aanmerking vir die Hertzogprys en dit gee weer aanleiding tot ’n polemiek. (Kyk bespreking in Galloway 2019:324–31.) Op 21 Junie 1975 kondig banieropskrifte in Afrikaanse koerante aan dat die bundel Skryt, reeds plaaslik onbekombaar, die eerste Afrikaanse slagoffer van die Wet op Publikasies van 1974 is, op grond daarvan dat dit die staatsveiligheid in gedrang bring. Kort daarna vra Breytenbach vir Brink om daarteen te appelleer, ’n proses wat drie maande duur en ná Breytenbach se eerste verhoor doodloop. Die verbod word eers 8 Junie 1985 opgehef (vgl Galloway 2019:211–2).
Oor wat geword het van (die manuskrip van) die beoogde “groot boek” waarna Breyten gereeld in briewe verwys, is daar nog nie duidelikheid nie.
Een uitvloeisel van die streng nuwe sensuurwetgewing was die stigting in November 1975 van die subversiewe anti-establishment-uitgewery Taurus deur drie letterkundiges van Johannesburg – Ampie Coetzee, John Miles en Ernst Lindenberg. Hierdie waaghalsige onderneming het na Breyten in die tronk uitgereik en twee bloemlesings uit sy bestaande werk uitgegee, asook ’n heruitgawe van Kouevuur en herdruk van Lotus. Na sy vervroegde vrylating (einde 1982) het Breyten tuis gekom in hierdie uitgewershuis. Tussen 1983 en 1987 verskyn sewe nuwe titels by Taurus. Die laaste hiervan is die poëtikale refleksies, getitel Boek (deel een): dryfpunt. Die voorwerk bevat die volgende inligting:
Witskrifte van ’n wit albino;
’n Boek bedenkinge;
Voetnote by Om Te Vlieg
Is daar ’n verband tussen hierdie publikasie en die prosaboek waaraan Breyten vir Daantjie gewerk het in die vroeë 1970’s? Of is dit weer een van die herhalende titels (soos die drie “Oorblyfsels”) wat voorkom in sy oeuvre? Aan die einde van die boek word uitdruklike datums vir die ontstaan van die tekste vir hierdie Taurus-publikasie verskaf: Beverley Hills; Desember 1975–Julie 1977. Dus, in die fase van eensame aanhouding in die Sentrale Gevangenis in Pretoria. Daar bestaan die moontlikheid dat van hierdie bespiegelinge oor die wese van dig en die digkuns gebaseer is op vroeëre nadenke en optekening.
Naskrif
Terwyl Breyten tronkstraf uitdien, kry Daantjie weer sy loopbaan op dreef. Hy werk as reklamepersoon vir Tafelberg en in die 1980’s breek hy weg en begin die klein uitgewery Saayman en Weber.
Van Februarie tot einde Maart 1991 onderneem die Breytenbachs weer ’n landsreis wat neerslag vind in die 1993-boek Return to paradise (Kaapstad: David Philip). Hierdie reis het gefokus op die noorde van die land en hulle het net vlugtig in Kaapstad vertoef. Daar was twee ontmoetings met Daantjie: ’n (kort) uitstappie na die Sederberge (bl 197–9) en ’n middagete in ’n Indiese restaurant in Langstraat (bl 212):
There’s a wet glint of nostalgia in Baas Saayman’s eye. He still runs a publishing house up the road, if only he can find the key, upstairs from a café where the best roti in town is made by a stately Malay lady, but burglars regularly pilfer the stock he never managed to pay the printers for, so that his books can be found for next to nothing in the second-hand shops. Still, riches (he says) are waiting just over the hill. Xhosa, that is the answer. [...] He’s going to publish books in Xhosa and they will be prescribed in thousands! To this we raise our glasses.

Daantjie Saayman is in 1995 oorlede en sy finale rusplek is in sy geliefde Sederberge. Breyten se ode aan sy vriend word twee jaar later gepubliseer: Jan Blom. 1997. Oorblyfsels: ’n roudig. Ter herinnering aan Daantjie Saayman (Kaapstad: Human & Rousseau). Dit is die eerste bundel met nuwe verse wat H&R, na die Taurus-periode van Breyten se uitgeegeskiedenis, publiseer. Die klein elegiese geleentheidsbundel ter herinnering aan Daantjie roep sy netjies verpakte voorganger op met die titel Oorblyfsels uit die pelgrim se verse na ’n tydelike wat in 1970 deur Daantjie se Buren uitgegee is. Die bundel word besonder positief ontvang deur resensente. Lucas Malan (Rapport, 22 Junie 1997) byvoorbeeld meen dat die bundel in die teken van die reismotief staan – in hierdie geval “enersyds ’n reis na die dood en andersyds ’n reis deur die streke van ’n besonderse vriendskap” en mens “kan jou kwalik ’n ryker groet by die uitvaart voorstel as dié een”.
Die Letterkundekommissie van die SA Akademie wys Breyten in 1999 aan as wenner van die Hertzogprys vir poësie op grond van hierdie bundel, asook Papierblom (72 gedigte uit ’n swerfjoernaal), die eerste volwaardige bundel met nuwe gedigte wat in 1998 deur H&R uitgegee is. Hierdie keer aanvaar hy die toekenning en ontvang dit in persoon tydens ’n geleentheid in die Aula van die Universiteit van Pretoria. Die wiel het gedraai – maar daar was reeds nuwe stokke in die wiel.14
1 Tussen die argiefdokumente is daar ’n briefie aan Buren-Uitgewers, gedateer 7 September 1970, op die briefhoof van die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika. Dit kom van Japie Basson, LV vir Bezuidenhout. Hy verneem of daar ’n eksemplaar van Oorblyfsels is – betaling sal dadelik gemaak word. “Indien die beperkte oplaag uitverkoop is, en u hoor van iemand wat sy private eksemplaar wil verkoop, sal ek tog te dankbaar wees as u my daarvan laat weet.”
2 Die inskrywing in The Encyclopaedia of South African Theatre, Film, Media and Performance (ESAT) lui soos volg:
1970: The Breytenbach Afrikaans translation of Titus Andronicus was first performed at the Hofmeyr Theatre in Cape Town, produced for CAPAB by the German director Dieter Reible. The production featured Pieter Geldenhuys (as Titus Andronicus), Jannie Gildenhuys (Saturninus), Pietro Nolte (Bassianus) and James Norval (Marcus Andronicus). Other members of the cast included Mees Xteen, Chris Swanepoel, Peter Grobbelaar, Pieter von Dissel, Ben Dekker, Dawid van der Walt, Johan Naudé, Chris Swanepoel, Johan Esterhuizen, Johan Malherbe, Will Bernard, Pieter Joubert, Willem de la Querra, Grethe Fox, Annelisa Weiland, Anna Cloete. Decor and costumes by Bert Kistner. It was a controversial but a successful production. Including a tour, it saw 19 performances.
3 Kundalini beteken “opgerolde een” of “opgerolde slang” wat ’n voorstelling is van dormante, spirituele en sakrale vroulike energie gesetel in die onderkant van die ruggraat. Manusya beteken “mens”, “man” of “persoon” in Sanskrit. Die Kundalini sou later gereeld as die frontispiece van boeke wat na sy gevangeskap gepubliseer is, verskyn.
4 Cope, J. (red.). 1970. Seismograph. Best South African Writing from Contrast. Kaapstad: Reijger Uitgewers.
5 Ek lewer uitvoerig verslag oor die 1971-polemiek in die hoofstuk “Breyten Breytenbach en die Hertzogprys vir Poësie” (314–43). In Galloway, F. (red.). 2019. Breyten Breytenbach: woordenaar, woordnar – ’n huldiging. Pretoria: Protea Boekhuis.
6 Annari van der Merwe en Adriaan van Dis (1980:56–106) se bydrae in die boek Woorde teen die wolke – vir Breyten (Emmerentia: Taurus) is “’n Beknopte geskiedenis; ’n Ondersoek na die oorspronklike manuskrip; ’n Aantal aantekeninge by die uiteindelike uitgawe van Om te vlieg”.
7 Die Beastly Beatitudes of Balthazar B is die derde roman van die Iers-Amerikaanse skrywer JP Donleavy en dit volg die pikareske wedervaringe van die gelyknamige karakter van geboorte tot sy middel-twintigs.
8 Hierdie vers is opgeneem in die bundel nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde (HOND/INTAKA, 1993). Sandra Saayman was die dryfkrag agter hierdie bundel. Die bundel is in 1993 bekroon met die gesogte Helgaard Steyn-prys.
9 Koos Human vertel in sy memoir ’n Lewe met boeke (Kaapstad: Human & Rousseau, 2006:138–9) meer oor die botsing rondom Katastrofes. Nadat APB vir H&R laat weet het dat hulle afstand doen van die regte in Katastrofes, is verskeie briewe met Breyten Breytenbach gewissel oor die herdruk, waaraan hy enkele wysigings wou aanbring. Toe ontvang hulle sy brief van 15 November 1971 waarin hy hulle verwittig dat hy onder geen omstandighede sy toestemming verleen vir ’n herdruk of nuwe uitgawe van die boek nie. Human het toe op 1 Desember 1971 aan Breytenbach geskryf dat hoewel daar nog geen kontrak is nie, die briefwisseling van die voorafgaande maande regtens genoegsaam bindend is. Hy voeg die volgende (volgens hom gewraakte) sin by: “As jy nie ’n herdruk wil sien omdat jy meen dat die boek minderwaardig is en nie jou reputasie as skrywer ten goede kom nie, is dit ’n standpunt wat ons in ag kon neem.” Hierdie “agterdeur” het aanleiding gegee tot ’n “meesterlik sarkastiese antwoord aan ‘waarde here’ onder die datum 15 Desember 1971”. Hierdie brief is, met Breytenbach se toestemming, opgeneem in ’n Lewe met boeke. Dit kan daar gelees word.
10 ’n Tweede uitgawe van Katastrofes is toe wel in 1981 deur H&R gepubliseer. Gedruk en gebind deur Nasionale Boekdrukkery, Goodwood. Dit is ’n hardebanduitgawe met ’n stofomslag wat ’n kunswerk van Breytenbach bevat. Die woelinge rondom Katastrofes sal ook te berde kom in my optekening oor die Taurus-periode van Breytenbach se uitgeegeskiedenis.
11 Ek het my eksemplaar tydens die Somerskool gekoop, geteken B Breytenbach, teen R2,75.
12 Brink (2009:244–50) skets die omstandighede rondom die publikasie van Kennis van die aand in sy memoir ’n Vurk in die pad. H&R het die manuskrip afgekeur uit vrees vir sensuur en hy het hom na ’n jaar gewend na Daantjie Saayman van die klein uitgewery Buren. Die reaksie op die boek was “verstommend” en toe die nuus kom dat die boek na die Publikasieraad verwys is, is die oplaag binne dae uitverkoop. Die uitgewer was gretig om te herdruk, maar die gevaar van ’n verbod het hom laat aarsel: “Buren se finansies het maar altyd noustrop getrek, en as ’n verbod sou plaasvind, kon hy nie die risiko loop om al sy voorraad te verloor en die terugsending van verkoopte eksemplare te hanteer nie.” Na die verbod bevestig is, het hulle besluit om dit in die Hooggeregshof te beveg. Brink het by voorbaat van die verwagte voorskotte en tantieme op oorsese transaksies (vir die vertaalde boek) vir die hofsaak opsy gesit. Daantjie het “die troppie bokke wat hy as sy ‘pensioen’ vir sy oudag op ’n vriend se plaas in Namakwaland aangehou het, verkoop”. Ses maande later was die vernietigende 3–0 uitspraak van die Hooggeregshof ten gunste van die verbod. Daar was min hoop op sukses om die saak na die Appèlhof te neem – hulle kon nie die risiko loop om nog geld te verloor nie: “Die saak het alreeds die doodsklok vir Buren-Uitgewers gelui.” Elders in die memoir is Brink se loflied aan Daantjie (bl 78–9).
13 Ek beskryf hierdie stukkie uitgeegeskiedenis in die hoofstuk “Saam op die rondomtalie” in die huldigingsbundel vir Bartho Smit. In T. Hautptfleish en M. Keuris. (reds.). 2023. Bartho Smit: koorddanser tussen triomf en tragedie – ’n huldiging. Pretoria: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
14 Ek lewer verslag oor die toekenning van hierdie prys in die “nuwe” Suid-Afrika in die 1990’s in die hoofstuk “Breyten Breytenbach en die Hertzogprys vir Poësie”. In Galloway, F. (red.). 2019. Breyten Breytenbach: woordenaar, woordnar – ’n huldiging. Pretoria: Protea Boekhuis.
Lees ook:
50 jaar gelede: tydlyn van Breyten Breytenbach se traumatiese jaar

