Die belang van literêre toekennings binne die Afrikaanse literêre sisteem

  • 1

Onlangs is aangekondig dat M-Net besluit het om die M-Net Literêre Toekennings na 22 jaar op te skort. LitNet Akademies se redakteur Geesteswetenskappe, Francis Galloway, lewer kommentaar op die belang van en die debat rondom literêre toekennings. Sy was, terwyl sy aan Sensal (Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing) verbonde was, betrokke by die van stapel stuur en bestuur van die Louis Luyt-prys (1981 tot 1985) en die “eerste” Rapport-prys (1986 tot 1988).

Later was sy ook betrokke by die konseptualisering van Rapport se Boeke van die Jaar-prys (1990 tot 1992).

Sy dien op die beoordelaarspaneel van die internasionale DeLong Book History Book Prize (2011 tot 2013) en was ook op die keurpaneel van die 2013 M-Net-toekennings.


Die belang van literêre toekennings binne die Afrikaanse literêre sisteem

The literary prize environment is one that continues to provoke debate. At the heart of any literary award are issues of literary value, taste and judgment, of representation and gatekeeping, and the uneasy equations of artistic and commercial value. (Claire Squires, 2013)

Wat is die nut en belang van literêre toekennings / pryse in die groter sisteem?

Vir skrywers verskaf literêre toekennings simboliese erkenning vir voortreflike en/of grensverskuiwende werk; dit moedig hulle aan en dit ondersteun die vooruitgang van hul skrywerskap; dit bied ook (broodnodige) finansiële steun aan pryswenners (deur prysgeld en/of verhoogde verkope).

Pryse hou ook sterk simboliese kapitaal in vir uitgewerye – dit bou die prestige uit van die firmas wat pryswennerboeke produseer, asook die statuur van hulle fiksielyste.

Vir die mark (lesers en kopers van boeke) dien pryse as rigtingwyser na gehalte.

Vir die borge van toekennings dra dit bemarkingswaarde via mediablootstelling.

Vir die “professionele smaakmakers” (kritici) is pryse ’n literêre barometer, en vir die literatuurgeskiedenis dien pryse as kanoniseringsmiddel.

Die breë samelewing baat by die aanmoediging en uitbou van skrywerskap en die daarmee gepaardgaande ontwikkeling van die lesersgemeenskap.

Pryse self het natuurlik ook meerdere of mindere status wat vloei uit die gehalte van die instel, instandhouding en bestuur daarvan. Faktore soos die volgende speel ’n rol: die doelwitte van die instelling wat toekennings daarstel en/of borg; die aard van die reglement en beoordelingskriteria; die keuse van beoordelaars / samestelling van beoordelaarspanele; die beoordelingsprosedure; die prosedure rondom die bekendmaking van wenners; die (geld)waarde van die toekenning; mediablootstelling en reklame, insluitende die bekroningsgeleentheid; die impak van die toekenning op die mark (ook op institusionele aankope); die kanoniserende invloed van die toekenning op langer termyn.    

Talle polemieke en debatte rondom prystoekennings, asook die kom en gaan van pryse, deur die jare dui daarop dat literêre toekennings – ook dié wat met die suiwerste bedoelinge van stapel gestuur en bestuur word – nie “belangeloos” in ’n laboratorium-omgewing bedryf kan word nie. Daartoe dra allerlei magsverhoudinge by, asook kwessies van waardeoordeel, smaak en literatuuropvatting.

In Suid-Afrika is daar al navorsing gedoen oor die bestaan en bedryf van, asook polemieke rondom, pryse (bv Smuts 2005; Venter 2006:176 e.v.; Van Coller 2010; Kleyn 2013:102 e.v.). Daar bestaan egter nie ’n uitgebreide en teoreties-gefundeerde verkenning van die totale (kulturele) pryslandskap nie. So ’n ondersoek sou die agtergrond kon verskaf waarteen die instel en ondergang van spesifieke pryse afgespeel en beoordeel kan word.

Daar bestaan verskillende teoretiese vertrekpunte vir die bestudering van die geskiedenis en werking van literêre (kultuur-) pryse. Claire Squires verwys byvoorbeeld na James F English (The Economy of Prestige: Prizes, Awards, and the Circulation of Cultural Value), wie se metode ontwikkel is uit Pierre Bourdieu se “kulturele veld”, wat tussen ekonomiese en kulturele kapitaal onderskei. Eersgenoemde verwys na kapitaal in terme van byvoorbeeld verkoopsyfers, terwyl laasgenoemde verwys na erkenning wat nie aan die mark gekoppel is nie, byvoorbeeld resensies, erkenning deur ander skrywers, asook die ontvangs van kulturele toekennings (wat nie noodwendig tot topverkoperstatus aanleiding gee nie – spesifiek hier ter lande). Hierby voeg English ’n derde term, naamlik “joernalistieke kapitaal” (sigbaarheid, roem, skandaal); met ander woorde die bemarkbaarheid van toekennings en die wenners daarvan binne die groter strukture van die literêre markplein. Squires pas English se onderskeid tussen die verskillende soorte kapitaal toe op die pryslandskap in Brittanje en kom tot die gevolgtrekking wat hier bo aangehaal is.

Die onderskeid tussen ekonomiese, kulturele en joernalistieke kapitaal sou met vrug aangewend kon word om die opskorting van die M-Net Literêre Toekennings in konteks te plaas.

Bronne

Kleyn, Leti. 2013. ’n Sisteemteoretiese kartering van die Afrikaanse literatuur vir die tydperk 2000–2009: Kanonisering in die Afrikaanse literatuur. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit Pretoria.

Smuts, JP. 2005. Die Akademie se letterkundepryse. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45(1):1–14.

Squires, Claire. 2013. Literary prizes and awards. In Harper, Graeme (red), A Companion to Creative Writing. Oxford: Wiley-Blackwell.

Van Coller, HP. 2010. ’n Kritiese blik op enkele van die literêre pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 50(4):484–501.

Venter, Rudi MR. 2006. Die materiële produksie van Afrikaanse fiksie (1990–2005): ’n Empiriese ondersoek na die produksieprofiel en uitgeweryprofiel binne die uitgeesisteem. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Ingrid Winterbach by M-Net se literêre pryse vir 2013 (Foto: Naomi Bruwer)

Kerneels Breytenbach by M-Net se literêre pryse vir 2013 (Foto: Naomi Bruwer)

July Innocent Mtsweni het met Inzinto Ziyaphenduka (Things Are Changing) die prys in die kategorie Ndebele-romans by M-Net se literêre pryse vir 2013 ontvang. (Foto: Naomi Bruwer)

Die pryswenners by M-Net se literêre pryse vir 2013 (Foto: Naomi Bruwer)

Eloise Wessels oorhandig die debuutprys van Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012 aan Carié Maas. (Foto: Christine Cronjé)

Jaco Fouché is met die derde plek bekroon in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012. (Foto: Christine Cronjé)

 
Bettina Wyngaard, wenner van die Jan Rabie Rapport-prys vir innoverende Afrikaanse letterkunde tydens die Via Afrika-prystoekenningsgeleentheid van 2010
(Foto: Gert van der Walt)
 
Eben Venter, wenner van die WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse letterkunde oor alle genres heen tydens die Via Afrika-prystoekenningsgeleentheid van 2010 (Foto: Gert van der Walt)

  • 1

Kommentaar

  • Die probleem begin al by die omvang van navorsing wat literêr eng afbaken as slegs gepubliseer by enkele uitgewers of toekennings deur erkende instansies met geld en 'n bemarkingsdoelwit. Sommiges gee moontlik nie veel om vir Afrikaans nie, maar die groep se steun vir hul produkte. Daar is ander ondersteuners sonder enige ander doelwit as bloot die bevordering van Afrikaans.

    Sedert 2000 speel Cordis Trust 'n rol deur die RAU/Mardene Marais toekennings (in 2004 opgeskort) wat direk gelei het tot die RAU-beurse. Dit is vervang met Cordis Trust se eie inisiatiewe wat teen groot koste uit 'n privaatbegroting die Orde van die goue pen toekennings in 2010 en 2012 aan 24 ontvangers - laasgenoemde met gratis publikasievoordele, moontlik gemaak het. Die pryse strek oor die volle spektrum van die Afrikaanse woordkuns (dig-,skryf-,drama-, liriekekuns en kultuur-historiese bydraes).

    Ek kon gedurende 2013 geen reaksie op talle toenaderings kry om die basis uit te brei om sekere fasette van wat in die artikel aangeraak word werklikheid te maak nie. http://www.cordistrust.co.za

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top