Antjie Krog (1952–)

  • 2

Gebore en getoë

Anna Elizabeth (Antjie) Krog is op 23 Oktober 1952 in Kroonstad gebore, die oudste van vyf kinders van Willem Krog, ’n boer van die plaas Middenspruit, en die bekende Afrikaanse skryfster Dot Serfontein. Antjie se oupagrootjie, Danie Serfontein, was parlementslid vir Kroonstad ná die Anglo-Boereoorlog.

Sy vertel aan Anet Pienaar-Vosloo (Taalgenoot, winter 2015) dat om te skryf, iets is wat in jou gene is en dit is net soos om te skilder of musiek te maak. In hulle huis het haar ma vir hulle baie gelees. “Ons het met boeke in die hand grootgeword. En omdat ons ’n huis van storievertellers is, gaan almal baie graag huis toe. Vir my kinders is dit ’n heerlike, onvervangbare opwinding om ‘die ooms’ en hul stories te beleef. Ons maak ’n groot vuur en dan vertel ons. Twee van my broers en my suster woon nog op Kroonstad. Almal is boekmense. Ek kry nie dieselfde bevrediging uit ’n digitale boek nie. Ek word woedend as mense van boeke en boekrakke skielik ornament-uitstalrakke maak.”

Toe Antjie in standerd 9 (graad 11) in ’n Afrikaanse klas van fonologie geleer het, was dit asof daar ’n lig vir haar opgegaan het: “Die feit dat elke klank ’n plek en beskrywing het. Skielik kon ek verstaan waarom ’n sin soos ‘Ek sal vir Israel wees soos die dou’ vir my mooi is. Dis die aanvanklike stemlose ritseling van die s’e wat dan uitloop in die stemhebbende plofklank van die letter d. Die d wat dan skielik stem het, verleen ontsettende krag en dus verrykende betekenis aan die woord dou.”

Antjie het een suster en drie broers. Sy matrikuleer in 1970 aan die Hoërskool Kroonstad.

As agtienjarige skoolmeisie skryf sy: “Gee vir my ’n land waar swart en wit hand aan hand / vrede en liefde kan bring in my mooi land.” Dié gedig waarin dié woorde verskyn, asook ander gedigte, word in haar skool se jubileumblad gepubliseer en veroorsaak ’n groot ophef landwyd in die koerante.

Verdere studies en werk

In 1971 gaan Antjie na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS), soos dit toe bekend gestaan het, en studeer BA met Afrikaans en Nederlands, Engels en Wysbegeerte. Tydens haar studentejare dien sy op die redaksie van Irawa en Shimla, twee studentekoerante. Na die verkryging van haar BA-graad behaal sy ook ’n honneursgraad in Engels in 1976 aan UOVS. In 1983 voltooi sy haar MA-graad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van prof AP Grové. Die titel van haar verhandeling is Familiefigure in die poësie van DJ Opperman.

Na ’n kortstondige huwelik met die pianis Albie van Schalkwyk tree sy in 1976 in die huwelik met John Samuel, ’n argitek en ’n jeugliefde van haar. Hulle het vier kinders en is ook al grootouers van twee dogters, van wie een Antjie se name geërf het.

Antjie gee onderwys by ’n bruin hoërskool in Kroonstad en in 1993 verhuis die gesin na Kaapstad, waar Antjie aangestel word by die tydskrif Die Suid-Afrikaan. Sy bedank in 1995 by Die Suid-Afrikaan nadat sy aangestel word as politieke verslaggewer by die SAUK en dra haar redakteurskap aan Sandile Dikeni oor.

Vir langer as twee jaar (1996 tot 1998) doen Antjie verslag van die verrigtinge van die Waarheid-en-Versoeningskommissie. Aanvanklik is sy slegs deel van die span, maar later voer sy die radiospan aan. Antjie het ook in ’n Nederlandse publikasie, Nieuw Wereldtijdschrift, verslag gedoen oor die WVK onder die titel “Brief uit Kaapstad”. Hierdie blootstelling aan die WVK en die trauma wat daarmee gepaard gegaan het, veroorsaak dat sy geestelik en fisiek ineenstort. Sy besef dat sy ’n anker nodig het en vind dit deur “al die seer, verdriet en woede en haat wat dag na dag uitgestort is” neer te pen in Country of my skull, wat in 1998 gepubliseer is. Sy skryf dit aanvanklik in Afrikaans, maar later vertaal haar oudste kind, Andries Samuel, dit in Engels. Sy het juis haar seun gekies om die vertaling te doen omdat sy die Afrikaanse onderbou in Engels wou behou. In 1999 bedank sy as politieke redakteur by die RSG, want sy glo sy kan nie dig as radiojoernalis nie.

Dit is met Country of my skull dat Antjie haar merk op die internasionale mark maak. Sy ontvang in 2000 die Year 2000 Award van die Hiroshima Foundation for Peace and Culture vir haar bydrae tot waarheid en versoening in Suid-Afrika. In 1999 word die boek ook eervol vermeld in die Noma-toekennings. Antjie ontvang in 1996 die Buitelandse Korrespondente-prys vir uitmuntende joernalistiek vir haar artikels wat in Mail & Guardian verskyn het. En ook in 1996 word sy en haar span bekroon met die Pringle-prys vir uitmuntendheid in joernalistiek vir hulle dekking van die verrigtinge van die Waarheid-en-Versoeningskommissie. In 1999 deel sy die Alan Paton Award for Non-fiction met Stephen Clingman en ontvang Country of my skull ook die South African Booksellers’ Choice Award. Hierdie eer val haar weer te beurt in 2004 toe A change of tongue ook die toekenning ontvang. Country of my skull word in 2001 met die Olive Schreiner-prys bekroon.

Country of my skull word in New York, Londen, Milaan, Denemarke en Nederland gepubliseer. Dit word verfilm met die titel In my country met Juliette Binoche en Samuel L Jackson in die hoofrolle, maar die film word nie so goed ontvang soos die boek nie.

Maar lank voordat Antjie Country of my skull geskryf het, maak sy indruk as een van die beste digteresse in Afrikaans. Na die oproer wat die publikasie van haar gedigte in haar hoërskool se jubileumblad veroorsaak het, word haar eerste digbundel, Dogter van Jefta, in 1970 gepubliseer, toe sy maar agtien jaar oud was. Dit bevat gedigte wat die omgewing van die skoolkind beskryf – adolessensie, muisneste en die unieke agtergrond van die skool met sy klaskamers en leerkragte. JC Kannemeyer (Beeld, 22 Oktober 1992) skryf dat “’n Bybelse gegewe as beeldraamwerk gebruik word en dit is geskryf in ’n eenvoudige praattoon met die afwesigheid van hoofletters, interpunksietekens en tradisionele strofiese vorme en rym.”

In 1972 verskyn Januarie-suite en ontvang Antjie die Eugène Marais-prys vir haar eerste twee bundels. Januarie-suite beleef in 1987 ’n sewende druk – iets wat amper ongehoord is vir ’n digbundel in Afrikaans. Teenoor haar eerste bundel wat primêr oor die skool gehandel het, beeld Januarie-suite die lewe van die student op die universiteitskampus uit met liefde as die motief. Die konservatorium en musiekterminologie is deel van die verwysingsraamwerk en die meer uitgebreide wêreld van die Vrystaat is meer op die agtergrond (JC Kannemeyer, Beeld, 7 Mei 1992).

In 1977 word Mannin en Beminde Antarktika, wat albei in 1975 uitgegee is, met die Reina Prinsen-Geerligsprys bekroon. Hierdie prys is ingestel om Nederlandse vroue en dogters wat hul lewens in versetbewegings teen Duitsland in 1940–45 verloor het, te gedenk. Sedert 1952 word die prys elke drie jaar aan ’n Suid-Afrikaner toegeken.

In hierdie twee bundels bekyk Krog die lewe van volwasse vrou voor sy getroud is, sowel as na haar huwelik. In Mannin verskaf Kaapstad die agtergrond, maar veral die vrou met haar liefde vir haar eggenoot en hulle huwelik word uitgebeeld.

“Siklus” is die titel van die tweede afdeling van die bundel en hier kan die leser die getroude paar se lewe saam, vanaf die die eerste nag saam, tot deur die geboorte en vroeë jare van die kind, volg. Die laaste twee verse in die bundel druk hierdie “huislike geluk” vir JC Kannemeyer (Beeld, 7 Mei 1992) baie mooi uit. Vir hom kan “Siklus” vergelyk word met Die stil avontuur (1939) van Elisabeth Eybers, waar die jong getroude vrou se geluk en haar moederskap aan die orde van die dag is.

In 1981 publiseer Antjie Otters in bronslaai. Oor die bundel skryf Carina Stander (Die Burger, 29 Mei 2010) as volg: “Die bundeltitel word deeglik in die verse ontgin: die otter as skugter waterdier; die bronstige otterjasie (vark) wat seksuele vernielsug simboliseer; die bron as fontein, oorsprong, moederliggaam of verwysingsdokument.

“Die slotsiklus in die bundel, ‘Die Leeu en die Roos’, is dan ook ’n helder voorbeeld van ’n historiese geskrif wat as bron vir digterlike inspirasie dien. Dit is gebaseer op die dagboekinskrywings van die Voortrekkervrou, Susana Catharina Smit (1799-1863), suster van die Groot Trek-leier, Gert Maritz. Op dertienjarige ouderdom word sy deur haar ma aan eerwaarde Erasmus Smit (34) gegee. As gevolg van sy drankprobleem (‘tussen sy tande blits sy asem ’n spoor/van ontbinding’), word hy telkens deur die sendinginstituut verplaas. Teen 1837 sluit hulle by die Trek aan. (…)

“Die openingsin in die gedig ‘6. Pietermaritzburg – 6 Augustus 1863’ lui: ‘Vannag reeds sewe keer wakker./ Die onderskeid tussen droom en kamer/ word al hoe swakker.’ Elders in die gedig vra sy: ‘Here, maak die visioen aan my bekend . . .’ Sy verklaar ook: ‘God dryf my . . .’

“In teenstelling met haar intieme Godsbelewenis, is daar haar huwelik met Eerwaarde: ’n swakkeling wat ontrou was aan haar. Daar is ’n botsing tussen haar ongelukkige gesinslewe en begeerte om te skryf: ‘Wat baat ’n gesin sonder aptyt; ’n man en kind/ wat al my woorde aan die hakskeen byt?’ 

“Steeds skryf sy vir selfbehoud en reiniging: ‘die pen in my hand/ is styf en ek skryf hom nuut’. En: ‘Ek het woorde snags/ geskryf wat soos blare suurstof gee,/ sodat ek kon bestaan/ en niks giftigs agter ooglede verberg . . .’ (…)

“In die gedigtereeks word Smit getransformeer van slagoffer tot pionier. Dié transformasie bereik ’n hoogtepunt tydens ’n toespraak voor kommissaris Henry Cloete wanneer sy die legendariese verklaring maak dat die vroue kaalvoet oor die Drakensberg sal stap vir vryheid en reg. Krog eggo dit in die slot: ‘om myself kaalvoet uit te skryf/ teen hierdie brons geskubde Drakensberg’.

“Regdeur haar oeuvre maak Krog gebruik van uitruilbare identiteit: Jefta se dogter, Lady Anne Barnard, Antjie Somers. Wanneer sy by monde van Smit praat, verteenwoordig sy die Afrikanervrou wat veg vir vryheid, geregtigheid, eerbaarheid en kreatiewe uitlewing. Die vraagstukke rondom geslagtelikheid, die selfopoffering en dapperheid van die vrou as moeder, volksfiguur en skrywer en die strewes van die individu teen ’n patriargale stelsel, is kenmerkend van Krog én Smit se skryfwerk.”

Jerusalemgangers (1985) word in 1987 met die Rapportprys bekroon. Die bundeltitel speel in op ’n groep “sweepsiekes” wat deel is van die Trekkers, maar wat geglo het indien hulle aanhou om noorde toe te trek, hulle uiteindelik Jerusalem sal bereik deur oor die land te trek.

M Nienaber-Luitingh skryf in Die Burger van 13 Maart 1986 dat een van die kenmerke van Jerusalemgangers is dat dit nie meer so outobiografies is nie en dat daar by die digter ’n behoefte is “om te kyk na die ruimer konteks van die Suid-Afrikaanse - veral blanke burgerlike - samelewing. Naas talle mooi poëtiese vondste vertoon Jerusalemgangers nog ’n hele aantal van die swakhede wat ons uit Antjie Krog se vorige bundels ken, soos die neiging tot ’n soms onnodig verwronge sinsbou en die gebruik van onduidelike neologismes. Die treffendste gedigte in die bundel is dié wat die persoonlikste van aard is en daardeur die digste aansluit by haar vroeëre poësie, veral by Otters in bronslaai wat nog die hoogtepunt in haar werk verteenwoordig.”

In 1990 ontvang Antjie die grootste een – die Hertzogprys vir Poësie – vir Lady Anne, ’n digbundel wat in 1989 deur die destydse “ondergrondse” uitgewery Taurus gepubliseer is. Die laaste publikasie van Taurus wat met die Hertzogprys bekroon is, was Yk van Breyten Breytenbach en hy het die prys geweier. Daar is derhalwe bespiegel of Antjie die prys sou aanvaar, maar sy het. Sy vertel aan Beeld (21 April 1990): “Soos ek vir prof Elize Botha gesê het, aanvaar ek die prys, want dit bewys nou onomwonde ek en die Akademie het mekaar na weerskante toe besmet. Die feit dat die prys die naam dra van ’n man wie se politieke sieninge lynreg ingaan teen dit waarvoor ek my daagliks beywer en waarin ek glo, ontstel my nie. Ek het sekerlik nie die prys gekry op grond van my politieke oortuiginge nie, maar dat ek dit wel gekry het ondanks dit, sê vir my iets. Ek is in der waarheid bly oor die politieke agtergrond van die prys.”

Prof Elize Botha, destyds voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, het gesê Lady Anne “is pragtige poësie in die post-modernistiese idioom. Dit word visueel ondersteun deur ander elemente, wat nie poësie is nie, om ’n pragtige boodskap oor te dra.”

Louise Viljoen skryf in haar resensie van Lady Anne (Die Burger, 28 Desember 1989): “Tot dusver het elke nuwe bundel van Antjie Krog haar groei as digter bevestig. Met die verskyning van dié bundel is dit weer eens die geval en word dit ook duidelik dat sy een van die belangrikste digters is wat tans in Afrikaans werk. Lady Anne is nie net ’n bundel wat die leser se bewondering afdwing vanweë sy virtuose kompleksiteit nie, maar ook vanweë die opwinding wat die aktuele aanbod en inhoud daarvan wek. Interessant genoeg word die aktualiteit in die bundel bewerkstellig deur die gebruik van ’n historiese figuur, Lady Anne Barnard. Krog gebruik hierdie vrou met haar sonderlinge geskiedenis as reisgenoot terwyl sy haar eie tyd en ruimte, Suid-Afrika vandag, verken.”

Die resensent in Beeld (onbekend, 18 September 1989) skryf dat betrokke digkuns dikwels “tegnies onbeholpe of poëties yl” kan wees, maar hierdie beswaar is nie van toepassing op Lady Anne nie. “Die bundel is ’n leesavontuur vir diegene wat hou van aktuele verse én ook vir die literêre speurder op soek na die verhulde en onverhulde interteks.” 

In 1995 verskyn Antjie se eerste roman, getiteld Relaas van ’n moord. In die vroeë 1990’s was Antjie in die koerante nadat daar ’n moord in haar tuisdorp, Kroonstad, was. Daar was beweringe van politieke beweegredes rondom die moord en Antjie was in die hof as staatsgetuie. Antjie gebruik hierdie gebeure as agtergrond vir Relaas van ’n moord

Fanie Olivier skryf in Beeld (4 Maart 1996): “Krog besweer die absolute betroubaarheid van haar storie deur vooraf te verklaar ‘Nie alles hierin is waar nie’, maar dit lyk my dat ’n mens dit maar met ’n knippie sout moet neem. Verdigsel het hierdie materiaal egter nie geword nie, bly heeltemal te feitelik relaas, sodat ’n mens gedwing word om met die leesslag ook te dink waarom die skryfster hierdie vertelling gemaak het. En een met so 'n lang aanloop wat weinig bydra binne die klein bestek van die boek (...)

“Die verhaal speel hoofsaaklik af op Kroonstad, en grotendeels in die tydperk rondom en na die opheffing van die verbod op die ANC. Die hoofkarakter en verteller is die digteres A wat deur haar onderwyspos aan ’n swart skool en ’n vroeëre ontmoeting met swart skrywers by die Victoria-waterval, haar betrokke voel en maak by die lotgevalle van die buur-gemeenskappe. In hierdie proses raak sy vervreemd van die wit inwoners van die dorp, en haal haar hulle gramskap op die hals. Doodsdreigemente bly nie uit nie, en haar motor word die teiken van ’n suur- en spuitverfaanslag.

“Die ander sentrale figuur is die daar bekende Douglas Baartman, ’n bruin aktivis, hoewel daar nie juis van hom in die vertelling veel tereg kom nie. Dis jammer, want meer van hom sou iets meer van die novelle kon gemaak het. En dan is daar A se eggenoot, die argitek J, die karakter wat die sterkste uit hierdie verhaal na vore tree, en vir wie mens as leser die meeste empatie ontwikkel.

“Die verhaal ontplooi rondom die eerste maande van die bevryding, en die wyse waarop A in haar gewetenswroeging oor wat witmense in haar vel se naam gedoen het eenvoudig blindweg glo dat dit alles moet regverdig.”

Volgens die flapteks wil Relaas van ’n moord die leser forseer om “morele kwessies te laat rym met respek vir die lewe”, maar vir Fanie Olivier gebeur dit nie, want die etiese probleme waarmee A te kampe kry, word nie afdoende geteken nie. “Die verhaal (nie die gegewe nie) is gewoon te skraal sodat die vrae oor respek vir watter lewe of soort lewe nie bevredigend uit die verf kom nie. Miskien het me Krog ’n behoefte gehad om haar persoonlike dilemma uit te skryf, maar die publikasie van Relaas van ’n moord (met seker een van die lelikste bandontwerpe wat ooit by Human & Rousseau verskyn het) is ’n bewys dat die waarheid anders is as fiksie. En dat Antjie Krog haar waarskynlik moet bly besig hou met haar uitsonderlike talent as digter.”

Antjie se Engelse digwerk word ook bekroon – sy ontvang die FNB-Vita Poetry Award in 2001 vir Down to my last skin (2000) en die beoordelaars se kommentaar is dat hierdie gedigte nie as vertalings lees nie, maar as skeppings uit eie reg.

In 2000 verskyn Kleur kom nooit alleen nie en word dit met die eerste RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk bekroon.

Oor Kleur kom nooit alleen nie skryf André P Brink op die flapteks: “Hierdie bundel is vir my in poësie die ekwivalent van Bach se groot Toccata en Fuga, waar die ganse register van die orrel oopgetrek word ... Dis een van die min bundels waarvan ek kan sê dat ek ná die lees daarvan werklik op ’n ander manier na die wêreld kyk.” (Rapport, 15 Oktober 2000 in onderhoud met Hanlie Retief)

Dieselfde temas wat in haar ander digbundels was, kan ook in Kleur kom nooit alleen nie raakgelees word, naamlik verhoudings op verskillende vlakke: in die gesin, met kinders, met die landskap en met mede-Suid-Afrikaners. Aan Hanlie Retief: “Wat dit anders maak, is dat die landskap nie meer net Suid-Afrika is nie, maar die hele kontinent, en die stemme is nie meer net wit nie, daar’s ook ’n ander soort Afrikaans. Ek was verlede jaar saam met Breyten en ander Afrika-digters op die Poetry Caravan, ’n reis van die slawe-eiland Goree aan die Ivoorkus tot by Timboektoe in Mali. Op die reis het ek die mees afgryslike momente beleef, veral met kos, en ook die heel mooiste goed wat ek nog ooit kon beskryf het. Later eers het ek besef: dis eintlik wat ons is. Die aakligheid van hierdie vasteland, maar ook die ongelooflike, wonderlike ander kant, in landskap én in mense.”

Antjie vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 16 Oktober 2000): “Dis die mees onmiddellike manier waarop ek nog ooit geskryf het. Dinge wat ek waargeneem het, het dadelik op papier beland. Gewoonlik skryf ek eers ná die gewaarwording daaroor. Die reis het my ook laat vergeet van my teësin om voor ander mense te skryf.

“Ek vind dit phoney dat mense in die openbaar in kafees sit en skryf. Die eerste dag het ek gedink ek sou sterf as ek soos die ander digters my boek moet uithaal. Uiteindelik het ek my boekie onderlangs uitgehaal en ’n paar woorde geskryf. Teen dag drie het ek net so lekker soos die ander geskryf. Ek het hier ’n vrywording in die kontinent beleef wat nog nie voorheen gebeur het nie. Vir die eerste keer het my gedigte nie in afsondering gebeur nie.”

In 2003 word die bundel Met woorde soos met kerse, wat Antjie se Afrikaanse vertalings en herbewerkings van poësie uit al die ander Suid-Afrikaanse inheemse tale, en een van die San-tale, bevat, aangewys as die algehele wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse wedstryd. Antjie vertaal ook Long walk to freedom, die biografie van Nelson Mandela, in Afrikaans as Lang pad na vryheid. Die Nederlandse skrywer Henk van Woerden se boek oor Tsafendas, Mondvol glas, word deur Antjie vertaal as Domein van glasMamma Medea, ’n toneelstuk van die Belgiese skrywer Tom Lanoye, word deur Antjie vertaal en by Aardklop in 2002 ontvang die regisseur Marthinus Basson Beeld Plus se Aartvarkprys vir innoverende werk vir sy ontwerp en regie van hierdie stuk. Dit is dus nie vreemd nie dat Antjie tydens die KKNK in 2004 in ’n skrywersgesprek met Ingrid Winterbach, die Hertzogpryswenner, bepleit het dat die boek wat die Hertzogprys wen, as ’n gegewe in Engels vertaal moet word, sodat Afrikaanse skrywers deel kan word van die ander stemme in die land.

In 2013 vertaal sy Athol Fugard se The captain’s tiger as Die kaptein se tier en is dit tydens die Suidoosterfees in die Fugard-teater opgevoer met Neels van Jaarsveld in die hoofrol.

Antjie ontvang in 2009 saam met Richard van der Ross die ATKV-Prestigetoekenning tydens daardie jaar se KKNK.

Antjie se digbundel, Verweerskrif, wat terselfdertyd in Engels gepubliseer is as Body bereft, veroorsaak opspraak met ’n foto van ’n naakte, ouer vrou op die voorblad. Op 53 wou Antjie “skryf oor ’n leeftyd, oor ’n lyf wat haar irriteer én boei” (aan Willemien Brümmer, Die Burger, 2 Junie 2006). Byna veertig jaar na die verskyning van Dogter van Jefta draai haar gedagtes toenemend na haar liggaam, verál na die ligte beroerte in 2002.

Die Proteaprys vir poësie van 2007 word aan Verweerskrif toegeken. Oor die toekenning sê Antjie: “’n Digter skryf vandag in Afrikaans in die volle wete dat dit geen werklike statuur het nie. Jy skryf omdat jy móét en jy weet dat selfs ’n Afrikaanse rock band waarskynlik ’n groter omset as jy het. Dit is daarom dat ’n prys soos dié soos jasmyn in die voortuin is vroeg September … ’n Taal word as taal erken as hy die poëtiese kan uitdruk. ’n Taal begin taal wees in die stemme van digters. ’n Taal sonder digters is ’n sterwende taal: daarom is die bevordering, koestering, instandhouding en erkenning van poësie in Suid-Afrika en in Afrikaans belangrik.”

Vir Johann de Lange (Rapport, 16 April 2006) maak “Krog se vermoë om haarself telkens te vernuwe, om in haar bundels telkens ’n ander rigting in te slaan en vreesloos te waag, om nooit vir álmal aanvaarbaar of veilig te skryf nie, van haar een van die mees opwindende eietydse digters en een van Afrikaans se belangrikste stemme.”

Helize van Vuuren (Beeld, 17 April 2006) skryf in Verweerskrif “is die openbare sfeer teruggedring en feitlik volledig vervang met die private ruimte van die ouerwordende, menopousale vrou. Die sentrale tema in die bundel is die verweer en sterflikheid van die menslike liggaam, spesifiek die vroulike middeljarige liggaam, teenoor die ewigheid van die berg in die agtergrond: ‘méns-tyd’ teenoor ‘ewigheid’. Die titel dui dus op ‘’n teks oor liggaamlike aftakeling’, maar ook op ‘’n geskrewe verdediging teen ’n aanklag’.”

Wat tema en tegniek betref, vernuwe die bundel beslis, meen Van Vuuren, en is dit baie meer verwikkeld as wat binne die omvang van ’n resensie bespreek kan word.

Kwela-uitgewers publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê “tsau”: Xam-gedigte in Kweiten-ta-//ken, A!kúnta, Hankass’o en //Kabbo. Dit haal die kortlys van die M-Net-prys vir poësie vir 2005. In 2006 beweer Stephen Watson, digter en ook hoof van die Universiteit van Kaapstad se Departement Engels, in die tydskrif New Contrast dat Antjie plagiaat gepleeg het. Hy beweer in die artikel dat Krog “die hele gedagte Die sterre sê tsau van hom gesteel het sonder enige erkenning”. Antjie se kommentaar op hierdie aanklag is: “Dis ’n verskriklike ding omdat dit die heel belangrikste ding in jou lewe aangaan, en dis jou integriteit. Daar’s nie ’n manier wat jy dit kan herstel nie. As ek jonk genoeg was, kón ek. Maar ek kan NIKS daaraan doen nie.” (aan Willemien Brümmer in Die Burger, 2 Junie 2006)

Antjie se eerste en enigste toneelstuk, Waarom is die wat voor toyi-toyi altyd so vet? (1999), is onder andere by die Aardklop Kunstefees en by die Markteater in Johannesburg opgevoer met Marthinus Basson as regisseur en Nomsa Xaba en Tess van Staden in die hoofrolle.

Tess van Staden het in 1998 vir Antjie genader om vir haar ’n monoloog te skryf. “Teen my beterwete het ek ingestem. Ek het altyd gedink as ek weer ’n toneelstuk aanpak, sou dit ’n versdrama wees. Maar soms is ’n mens kreatief vasgekeer en sê jy ja vir iets. Dan pluk dit jou uit,” vertel sy aan Gert Coetzee (Volksblad, 1 Oktober 1999). “Dit is verstommend wat regisseur Marthinus Basson met die stuk gedoen het. Ek het die taal gegee, maar Marthinus het dit visueel laat gebeur. Hy red jou ondanks jouself en kry jou hebbelikhede (in die stuk) weggesteek.”

Antjie se oë was vol trane nadat sy Nomsa Xaba se “ontsluiting” van wit en swart mense se verhale oor die WVK gesien het. “En dis lekker dat daar ’n vet stuk poësie in die toneelstuk is,” sê sy aan Coetzee.

In 1979 word Antjie genooi om die NP van Wyk Louw-gedenklesing te lewer. Die titel van haar voordrag is “NP van Wyk Louw: die pad vorentoe”. In 2004 word sy weer genooi om dié lesing te lewer by die Randse Afrikaanse Universiteit met die titel “Die beautiful woorde van Van Wyk Louw”.

Antjie bevind haar vanaf die publikasie van daardie eerste gedigte op die voorgrond in Suid-Afrika en die akkolades bly nie uit nie. In 1986 vervaardig Carl Theunissen en André van den Heever ’n televisieprogram oor Antjie wat ’n ATKV-prys wen. In die laat tagtigerjare is sy een van die groep Afrikaanse skrywers en intellektueles wat deur Idasa na die Watervalberaad in Zimbabwe genooi is om met uitgeweke skrywers en ANC-lede te gesels. In 1989 lees Ahmed Kathrada, ’n eertydse gevange ANC-leier, ’n Engelse vertaling van haar gedig “My mooi land” voor op ’n massasaamtrek in Soccer City in Soweto. Antjie se verse het so ’n indruk op hom gemaak terwyl hy in die tronk was dat hy dit “gekoester” het en dit vir hom “moed gegee” het.

Antjie is nie iemand wat al ooit gehuiwer het om te sê wat sy dink en hoe sy voel nie. Dit is die rede waarom almal wat haar ken, haar eerlikheid en haar oortuiging om getrou te bly aan dit wat sy dink reg is, uitsonder. In 1987 het sy met Ton Vosloo, besturende direkteur van Nasionale Pers, gebots oor Dene Smuts se bedanking as redakteur van die tydskrif Fair Lady. In 1990 het sy by die Afrikaanse Skrywersgilde-beraad onder haar medeskrywers ingeklim oor die Gilde se apatie en dat Afrikaans van die Gilde bevry moet word. Tydens die funksie met die toekenning van die Boekjoernalis van die Jaar aan André P Brink in 2000 is Antjie die gasspreker. Sy bepleit in haar toespraak dat koerante hulle kunsblaaie ernstiger moet opneem, omdat daar “binne die kunste en kulturele verbande altyd meer ruimte bestaan vir bevraagtekening en begripvorming”. (Beeld, 16 Oktober 2000) Tydens ’n simposium wat in 2003 aan die Universiteit van Stellenbosch gehou is oor die uitdagings waarvoor die NG Kerk in ’n veranderende Suid-Afrika te staan kom, sê Antjie dat Suid-Afrikaners van verskillende rasse mekaar nie ken nie. Die kerke moet mense help om nuwe verhoudings as gelykes te bou. En een van die maniere om dit reg te kry is dat die Kerk gesamentlike etes vir wit en swart moet reël.

In 1990 veroorsaak Antjie se aanstelling op die NG Kerk se Psalmkommissie opspraak. Sy dien in hierdie kommissie tot 1992 toe sy bedank as gevolg van te min tyd. In 1992 word sy genooi om saam met digters uit ander wêrelddele deel te neem aan die Poetry International-poësiefees in Rotterdam, ’n eer wat haar weer in 2004 te beurt val. In 2003 word sy genooi om die Internasionale Letterkundefees Winternachten in Den Haag te open met ’n orakelspreuk oor die toekoms van Afrikaans.

Antjie word in 2001 verkies tot die komitee wat ’n taalbeleid vir die Suid-Afrikaanse tersiêre sektor moet ondersoek. Die komitee was onder voorsitterskap van Jakes Gerwel en die ander lede was proff Njabulo Ndebele en Willie Esterhuyse en dr Nomsa Satyo.

Erkenning van akademiese kant bly nie agterweë nie. In 2002 ken die Tavistock-kliniek in Londen ’n eredoktorsgraad aan haar toe vir die bydrae wat haar werk tot die veredeling van wêreld-humanisme gelewer het. In 2004 ken beide die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van die Vrystaat ’n eredoktorsgraad aan Antjie toe. Na afloop van die KKNK in dieselfde jaar word die Afrikaans Onbeperk se Kanna vir Vernuwende Denke aan haar toegeken. Ook in 2004 neem sy saam met die Nigeriese skrywer en akademikus Kole Omotoso deel aan ’n bespreking in die Sol Plaatje-diskoers.

2004 is ’n jaar van vele toekennings aan Antjie. Sy word saam met Coenie de Villiers en Gert Grobler deur die Kovsie-Alumnibond vereer en word benoem as Oud-Kovsie van die jaar. Die Universiteit van Stellenbosch verkies haar in 2004 tot die raad van dié universiteit en in dieselfde jaar word sy aangewys as Buitengewone Professor van Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

Tydens Exclusive Books se jaarlikse veiling by hulle tak in Hyde Park behaal ’n handgeskrewe gedig van Antjie, “Country of grace and grief”, R3 700. Die gedig is opgeneem in Down to my last skin. Die gedig “Van litteken tot rivier” behaal R1 900.

Antjie se werke is al vertaal in Engels, Nederlands, Italiaans, Frans, Spaans, Sweeds en Serwies. Robert Dorsman vertaal van haar gedigte in Nederlands en gee dit in 1999 in die bundel Om te kan asemhaal uit. Country of my skull word aan universiteite in Amerika en Europa voorgeskryf as deel van die leerplan wat handel oor die optekening van die verlede.

Georges Lory is verantwoordelik vir die vertaling van Antjie se werk in Frans. Hy vertaal Country of my skull in 2004 onder die titel La douleur des mots (Die pyn van woorde is die direkte vertaling). In 2004 verskyn Ni pillard, ni fuyard: poèmes wat vertalings uit verskeie van Antjie se bundels tot 2003 bevat. Van haar gedigte tot 2013 word deur Lory vertaal en gebundel in Une syllabe de sang: poèmes. Messe pour une planète fragile (2020) kom uit twee bundels, hoofsaaklik: “O Brose Aarde, ’n Misorde vir die Nuwe Verbond”, wat later in Plunder verskyn het, plus vier gedigte uit Kleur kom nooit alleen nie (“griots” / “ai tog” / “The Loneliness of Skin”/ “in tye van ineenstorting”).

Tydens die skryf van A change of tongue, wat in Afrikaans gepubliseer is as ’n Ander tongval, kry Antjie ’n ligte beroerte-aanval, maar sy herstel gelukkig feitlik heeltemal – iets wat sy glo toegeskryf kan word aan haar gereelde joga-oefeninge. ’n Ander tongval is deur Saartjie Botha omgesit in ’n toneelstuk met Nina Swart wat die rol van Antjie vertolk.

In 2006 onderneem Antjie ’n toer van ses weke saam met die Vlaamse skrywer Tom Lanoye. Dit is aangebied deur Behoud de Begeerte, ’n onafhanklike kunsliggaam wat hom uitsluitlik beywer vir die bevordering van die Nederlandse/Vlaamse literatuur. Na die toer sê ’n Nederlandse vrou in Nederlands aan Antjie: “Dis die taal. Toe jy jou mond oopmaak, skiet die Afrikaans my deur die hart.” (Die Burger, 18 November 2006)

In 2007 ken die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha (Port Elizabeth) ’n eredoktorsgraad in die letterkunde aan Antjie Krog toe uit erkenning vir haar beduidende bydrae tot die letterkunde en tot sosiale transformasie in Suid-Afrika.

Antjie was in 2008 vir ’n jaar in Berlyn waar sy genooi was om die Wissenschaftskolleg zu Berlin – ’n sentrum vir gevorderde studie en navorsing – te besoek.

Sy vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 13 Maart 2009) dat haar kinders elkeen op hul eie vir haar in Duitsland kom kuier het: “Ek het Duits geneem op skool, maar my kinders ... Dit was eintlik vreeslik lekker om hulle in ’n ander kultuur in te vat. Daai goed is high culture: dis klassieke musiek, dis Wagner, dis Thomas Mann, dis Bertolt Brecht, maar dan daarmee saam is daar onder dit alles ’n sosialistiese mind-set van Berlyn wat jy die hééltyd oralster optel; die heeltyd funksioneer bevraagtekening, ondermyning en dan so ongelóóflik geartikuleerd! Ek meen jy kan nie ...

“Jy lees daai koerante en dan wil jy in tráne uitbars oor hoe ongelooflik ... of hulle nou praat oor die sokker of die budget of die opera of die Páse. Hulle hele analíse van Páse ... here en dan lees ek ... ek het nou Faust gelees, van Goe­the, en dan kýk jy daar en dan sien jy: here, hiérdie man het die bose al bevráágteken terwyl ons nog in ons f—n óssewaens rondgevál het in dié land! En dan dink jy g’n wonder ons is nog hier besig met evolusie nie. Ek kan dit nie verdúúr dat jy nie ...” Sy struikel oor haar woorde van verontwaardiging. “... hoe ... hoeveel jaar gaan daai debat al aan? Hy kóm nié genuanseerd nie. Hy ís net die heeltyd pateties gepolariseer, jy weet.”

Sy erken teenoor La Vita dat sy dink digters is nie vol selfvertroue nie. “... om ’n gedig te doen moet iets ékstra bykom; jy kan nie net talent hê en gaan sit nie. Daar moet iets anders gebéúr. En jý weet nie hoe om daai te láát gebeur nie. Dit hélp as jy baie skills het; dit hélp as jy ... álles help, maar dis nie noodwendig dat daar ... Terwyl as jy ’n taléntvolle prosaskrywer is en jy het die selfdissipline om te gaan sit, en jy doen móéite en jy wérk ... iéts gaan gebeur.”

Begging to be black word in 2009 uitgegee. Dit het as agtergrond die dood van ’n bendeleier wat in Kroonstad doodgeskiet is. Die moordwapen is op Antjie se stoep weggesteek. In Begging to be black begin Antjie om haar posisie in hierdie saak na te vors. Die boek vertak dan in verskillende rigtings, beide in tyd (van die dae van koning Moshoeshoe van Lesotho) en in ruimte, soos die leser op Antjie se ondervindinge naloop. Die flapteks beskryf Begging to be black as ’n boek van reise – etiese, geskiedkundige, filosofiese en geografiese reise. “These form strands that Krog interweaves and sets in conversation with each other, as she explores questions of change and becoming, coherency and connectedness, before drawing them closer together as the book approaches its powerful end. Experimental and courageous, Begging to be black is a welcome addition to Krog’s own oeuvre and to South African literary non-fiction.”

Begging to be black is die derde deel van die trilogie wat voorafgegaan is deur Country of my skull en A change of tongue.

“Die boek bestaan uit drie verhale,” sê Antjie aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 14 November 2009). “Die een verhaal, die moordverhaal, is ’n terugkyk na ’n insident wat ek gedink het ek tóé moreel korrek hanteer het, en nou daaroor begin vrae vra.”

Die insident is die een waarvan in die vorige paragraaf geskryf is.

Die tweede verhaal is die geskiedenis van die Basoeto-koning Moshoeshoe I. “Die verhaal verwys na daardie eeue lange gesprek tussen wit en swart wat eintlik nog nooit ’n werklike gesprek was nie. Wit en swart het met mekaar gepraat en gedink hulle verstaan mekaar: Moshoeshoe het gedink hy verstaan die wittes en die wittes het gedink hulle verstaan hom, maar uiteindelik het hulle mekaar nie verstaan nie. Want hulle het gepraat vanuit verskillende raamwerke.”

Antjie gaan voort: “Die derde verhaal is my Europese verblyf en ervarings as ’n navorsingsgenoot in Berlyn. Daar het ek besef hoe mense die wêreld vanuit verskeie ‘raamwerke’ beoordeel.”

Antjie se volgende digbundel is ’n Engelse een met die titel Skinned wat in 2013 deur Umuzi en Seven Stories Press in Amerika uitgegee is. Hierdie bundel bevat gedigte uit tien van Antjie se gepubliseerde bundels wat ’n tydperk van dertig jaar dek. Dit verteenwoordig haar totale loopbaan as een van Suid-Afrika se bekendste digters. Die gedigte is nog nie vantevore vertaal nie en dit is die eerste maal dat dit in druk verskyn. Dit is ook die eerste keer dat ’n bundel met Antjie se verse in Amerika uitgegee is.

In die inleiding skryf Antjie: “Three themes have fingerprinted my work for four decades: politics and the land, family and love, and the being-ness of the poet. This volume attempts to present a kaleidoscope of how these themes changed and developed in the course of ten volumes against the background of profound political and social changes within South Africa.” (Bron nie meer beskikbaar nie)

In sy resensie van Skinned skryf Leon de Kock in Die Burger van 14 Julie 2013 dat die titel heel gepas is vir hierdie versameling van Antjie Krog se gedigte in Engels: “Die onderdele van die boek is vergelykbaar met ’n reeks digterlike velle wat stelselmatig afgewerp word. Dit is ’n proses van gedaanteverwisseling wat alles in die stryd werp om vaste ras- en kultuurmodusse om te vorm.

“‘Vertaling’ in die breedste sin moontlik, dit wil sê struktureel, linguistiek, ontologies en kultureel, staan sentraal in Krog se estetika, en hierdie versameling – ondanks sy tekortkominge – is effektief ’n poëtiese manifes van die allergrootste belang. Dit is ’n verkenningstog vir alle Suid-Afrikaanse digters oor alle grense heen en veral vir die diep-enkelsinnige, eenogige Engelssprekende Suid-Afrikaanse digterlike gemeenskap.”

De Kock sluit sy resensie af: “Krog bly een van die min Suid-Afrikaanse digters wat werklik ambisieus te werk gaan wat betref digterlike strekking, vormverwisseling en taalgebruik. Mag sy dit al hoe beter doen, want dit is ’n grootse tog.”

Die gedigte in Skinned kom uit Otters in bronslaai (1981); Jerusalemgangers (1985); Lady Anne (1989); Gedigte (1995); Country of My Skull (1998); Kleur kom nooit alleen nie (2001); Met woorde soos met kerse (2002); die sterre sê ‘tsau’ (2004); en Verweerskrif (2006).

Antjie se gedigte word gereeld getoonset. In 2012 is gedigte uit Verweerskrif gebruik as die basis vir ’n liedsiklus wat deur die komponis Ruan Strauss Kalis getoonset is. Hierdie musiek was ’n kombinasie van kunslied en kabaret.

In Februarie 2013 is die produksie “Woorde met wieke” in die Oude Libertas-teater op Stellenbosch op die planke gebring. Van die bekendste Afrikaanse kunstenaars in Suid-Afrika, soos Coenie de Villiers, Jak de Priester, Herman van den Bergh en Andries Bezuidenhout het elk van Antjie se gedigte getoonset.

Antjie het haar 60ste verjaardag in Den Haag gevier met ’n aandgeleentheid op 10 Oktober 2012 wat deur Writers Unlimited The Series aangebied is. Sy sou by hierdie geleentheid van haar Afrikaanse gedigte voorgelees het en ander digters het ook opgetree. Adriaan van Dis sou met haar gesels oor die posisie van die digter in Suid-Afrika.

Met Antjie se sestigste verjaardag het die volgende skrywers haar gelukgewens:

  • Max du Preez:
    My wens vir Antjie is gesondheid en hope liefde, en mog ons land nader beweeg aan dit waarvan sy so lank gedroom het.
  • Breyten Breytenbach:
    Mag sy nog lank vir ons word-en-verwordtaal uitgespaar bly, mag sy genade en geduld hê met die Dwaalvolk, en mag sy net van krag tot krag gaan. Viva, Antjie! Viva!
  • Joan Hambidge:
    Mag jy op sestig, voortdig
    op jou uniek woedende 
    en priemende wyse.
  • Deon Meyer:
    Baie geluk, Antjie. Mag al die regte woorde in die volgende jaar gedienstig voor jou pen se punt kom lê. Lekker verjaar.
  • André P Brink:
    Net ’n dankie-sê, liewe Antjie, dat jy is wie en wat jy is, en dat jou daar-wees dit vir almal van ons die moeite werd maak om te wees wie en waar ons is.
    Met liefde,
    André en Karina
  • Marita van der Vyver:
    My hartewens vir Antjie op 60: dat jou woorde nooit sal opraak of wegraak nie; dat jou geliefdes se liefde jou tot die einde sal abba; dat jou hart altyd so vol passie sal bly klop.
  • Riana Scheepers:
    ’n Rympie, vir Antjie, op 6(0)
    Antjie S maak kinders bang
    en Antjie K skryf versies
    my wens vir jou op hierdie dag:
    ’n versekoek met kersies. (Beeld, 23 Oktober 2012)

In Die Burger van 3 Maart 2012 gee Antjie haar mening oor godsdiens: “Hoe ouer ek word, hoe meer dink ek dat die mens se behoefte aan godsdiens, God, Jesus en ’n heilige gees hoofsaaklik met mag te doen het. Hoe meer ‘uit beheer’ jy voel, hoe meer het jy iets nodig om te stabiliseer. Maar dit is nie te sê dat dit nie vir my soms wonderlik is om in ’n kerk te wees nie, dat as ’n vorm van saamwees, veral in ’n swart kerk, dit ’n mens sterk bind aan iets groters as jyself, nie God nie, maar mense, die spiritualiteit van menswees.

“Wat glo ek nóú? Ek hou nie van die woord ongelowige nie. Want ek is gevul met geloof, maar ek is nie ’n Christen nie. Ek glo nie aan God soos hy vertel word deur die Bybel of die kerk nie. Maar ek glo dat daar iets groters as ekself is. Die beeld waarmee ek dit miskien kan verduidelik, is dat elke mens aan die struktuur van dit wat groter as jyself is, drink soos ’n baba aan ’n bors. Ons voel die tepel tussen ons kake, dan sê ons: dis God. Ons voel die melk in ons mond en sê: dis Christus. Intussen is daar agter die tepel ’n hele bors met ’n ingewikkelde klierstelsel, daar is nog ’n bors, en daaragter die hele liggaam. Maar ons kyk met ons bababrein en ongekoördineerde oë na die tepel en sê: ghoeghoe-ghoe.”

In 2012 is daar ’n skrywerskonferensie in die Fugard-teater in Distrik Ses gehou wat deel was van ’n internasionale herbesoek aan die Edinburgse wêreldskrywerskonferensie van 1962. In haar spreekbeurt oor die tema “Moet letterkunde polities wees?” het Antjie gesê: “Die departement van kuns en kultuur is ’n nul op ’n kontrak en kan geensins krediet neem vir Suid-Afrikaanse kunstenaars se suksesse nie.”

In haar praatjie het sy gewys op hoe belangrik dit is dat daar wel wisselwerking tussen skrywers en politici moet wees, ook teen apartheid. Sy het Karl Marx aangehaal: “’n ­Regering hoor net sy eie stem. Hy wéét hy hoor net sy eie stem. Hy hou graag die illusie voor dat hy die stem van die mense hoor. En dring daarop aan dat die mense ook hierdie illusie voorhou.”

Sy het voortgegaan: “Dáárom moet ’n kabinet letterkunde lees. Nóg die staat wat hulle beheer, nóg die goeie planne om die land om te laat draai, sal help in die afwesigheid van ’n ­visioenêre woordeskat wat ten beste gemaak word deur skrywers en digters om te skep, besiel en fokus op sosiale kohesie.” (Die Burger, 24 September 2012)

Antjie Krog was in 2014 aan die ontvangkant van die Mbokodo-toekennings wat sedert 2013 toegeken word. Dit word gesamentlik aangebied deur die Departement van Kuns en Kultuur en Carol Bouwer-produksies om erkenning te gee aan vroue wat ’n beduidende bydrae tot die kunste in Suid-Afrika gelewer het. Sy het dit ontvang in die kategorie van taal en die kuns van storievertel, veral vir die invloed wat Country of my skull (1998) gehad het en nog steeds het.

In 2014, agt jaar na die verskyning van haar vorige bundel, Verweerskrif, word Mede-wete / Synapse gepubliseer. Dit word in 2015 met die ATKV-Woordveertjie vir poësie bekroon (beoordelaars Diana Ferrus, Margot Luyt en Bernard Odendaal) en in 2017 palm Antjie met Mede-wete vir die tweede maal die Hertzogprys vir poësie in.

In sy huldigingswoord by die oorhandiging van die Hertzogprys aan Antjie sê Hein Viljoen dat Mede-wete ’n “sterk en ontstellende bundel is, oorspronklik en vindingryk. Die digter ondersoek ’n wye reeks aktuele kwessies, veral politiek en rasseverhoudings (soos in die skrynende reeks ‘Bediendepraatjies’). Die bundel is oorweldigend (en baie moedig) in die wyse waarop dit die kwessies van bevoorregting, wit-wees en inherente rassisme aan die orde stel. Dit is fel betrokke poësie – baie naby aan die aktualiteit.

“Die teks ontgin ’n wye reeks taalregisters op ’n byna argeologiese wyse. Taal word – op die voetspoor van Paul Celan na die Groot Brandoffer – gebreek en hersaamgestel, so asof die bestaande (standaard)taal te swaar dra aan ’n ideologiese ballas, uitgedien geraak het en daarom nuut uitgevind moet word. Deur sy/haar mede-wete en mede-pligtigheid is die leser betrokke by hierdie ontdekkingstog. ’n Soort meedoënlose woordspel kenmerk die bundel – ’n voorneme as’t ware om meer as een betekenis op ’n slag uit te druk en betekenis ekspressionisties uit te vergroot, soos in die gedig by Mandela se dood of in die gedigte oor die geliefde. Deur sy volgehoue (taal-) eksperimentering is die bundel vergelykbaar met Marlene van Niekerk se bundel, Kaar. (...)

“Die gewaagde en intense aanpak van die politiek van skuld, die verskeidenheid en veelstemmigheid daarvan en die uiters vernuwende eksperimentele gebruik van die taal maak Mede-wete ’n waardige ontvanger van die Hertzogprys – ’n besondere prestasie in ’n jaar waarin verskeie puik bundels meegeding het om die prys.”

In haar antwoord het Antjie Krog onder andere gesê (Die Burger, 22 Junie 2017): “(D)ankie aan die Akademie vir soliede gewoonheid. Want waarom dit eintlik hier gaan, is dat literêre pryse die manna uit die hemel is, die dou op Gideon se skaapvel, dan op dan af. As dit na jou kant toe kom, is dit iets waaroor jy jou van harte verbly, jouself toelaat om vir ’n oomblik in rond te dryf, dalk jou bek bokant die water soos ’n seekoei te groot te rek of klein spuitfonteintjies van plesier te blaas. Want ’n digter kan nie lewe van poësie alleen nie. Nog erger: om poësie te kan skryf, moet jy as ’t ware toegang tot lugleegtes hê, oop tyd, ruimtes vol tyd. Geld soos dié stel ’n mens in staat om van die agtervoet na albei voete te beweeg en uitgewers weer op goeie voet te vind. (...)

“My grootste dankie gaan egter aan die poësieliefhebbers in Afrikaans, of hulle self ook skryf, pryse toeken of onderrig gee, of net ’n gedig lees en vir ’n oomblik hulle oë toemaak asof hulle iets bowe-werkliks ervaar het, mense wat glo dat poësie die slagaar van ’n taal is, die diepste vorm van filosofie. Wat weet dat poësie die gevoelige ervaring van menswees verleng; wat aan iemand wat sigself aan die einde van wanhoop bevind, ’n opening bied, ’n asem, ’n oomblik van insig - verblindend van die onsegbare.

“Poësie is die groot Ongekontamineerde. Dit is seëvierend omdat dit die mens in ’n verhoogde staat van bewussyn plaas, altyd met verhelderende gevolge. Asof jy op die drumpel van asem staan. Asof jy suurstof uit koel bome kry en skielik vorentoe gaan. Dis waarom digters skryf. Dis waarom lesers lees. Om die verheldering, die intensifisering, om iets van die onsterflike te ontruk.

“’n Goeie gedig is ’n versneller van die bewussyn. Indien jy ooit eenmaal hierdie versnelling meegemaak het, smag jy daarna en raak volslae afhanklik. Wie sigself in hierdie soort verruklike afhanklikheid van taal bevind, heet, so dink ek, digter en gedigliefhebber. Ek salueer julle en ’n uitgewery wat al vir honderd jaar poësie publiseer.

“So hou die poësie voet by stuk, gee sy nie om as haar gesig verbrand nie, selfs al word sy toegegooi deur nimmereindigende internetmeule-variasies wat geen komplekser handeling van lesers verg as ’n duimpie op of af nie.”

Mede-wete is Antjie se gunsteling bundel, vertel sy aan Pienaar-Vosloo. “Ek het die grootste risiko’s daarmee geloop. Hoe ouer jy raak hoe meer vra jy jouself af of dit nie nou tyd is om stil te bly nie. Moet vandag nie uitgesê word deur die jongeres en digitaal-ratses nie? Hoe ouer jy word hoe meer bewus word jy van weerloosheid en sterflikheid en dit raak moeilik om skerp en hard te werk om van oortollige woord-gewig ontslae te raak. Dit word al hoe moeiliker om ’n digbundel te publiseer en om legitimiteit daarvoor te kry. Met al die nuwe tegnologie en vlugtigheid van woorde op die internet, die digitalisering, Facebook en blogs is daar net soveel digters. En mense kan so vinnig, soms ondeurdag en so onbevange daarop reageer.”

Wanneer sy met Murray la Vita oor Mede-wete gesels, noem sy aan hom dat sy gewoonlik altyd ’n stel tipiese temas het. “Ek skryf politiek, ek skryf persoonlike gedigte, ek skryf oor taal, ek skryf oor die maak van gedigte, ek skryf oor my familie en hierdie keer toe ek begin werk aan ons plaas en die werf, toe besef ek dat eintlik is werf ’n ideale plek vir álmal.

“Die werf van ’n plaas is waar álle dinge bymekaarkom, die sterre, die diere, die mense wat daar werk, die eienaar, die kinders, die kos, die honger, die onreg - dis alles, alles plek op ’n werf.

“Ek het aanvanklik gedink die bundel se titel moet wees Die werf en toe het Johann de Lange vir my gesê, nee, jô, hierdie gedigte ... jy weet nie wat maak hulle daarin nie en as mens dit lees, is dit te vreemd en dit is te wild, hy dink hulle moet uit.

“En toe het ek gedink ek probeer juis ’n ánder taal kry ... En dis dan waar ek begin het om by Paul Celan te kyk wát doen jy aan taal om die woorde wat nie meer iets beteken in daai taal nie, terug te bring dat hulle iets beteken. Toe het ek die gedigte almal uitgehaal en hulle in ’n aparte afdeling gesit.”

Op Versindaba skryf Marlies Taljard as volg oor Mede-wete: “Die bundel Mede-wete herinner aan ’n laataand-gesprek waarin die knelpunte van ons lewe in hierdie land en ons bestaan op aarde op diepsinnige wyse en met inagneming van die geskakeerde aard van die werklikheid en die waarheid uitgepluis word. Die bundel het ’n diep spirituele stramien wat in die grein van die gedigte lê, dikwels sonder om beredeneer te word. (...)

“Die digterlike styl van Mede-wete is, soos ons nou reeds van Antjie Krog te wagte is, kenmerkend van ’n digter wat ’n meester van haar ambag is. By haar gaan gedigte met ’n narratiewe aard naatloos oor in liriek, in argumentatiewe betoog; van die mees informele register na die formele akademiese register sonder dat sy ooit haar greep op die poëtiese aard van die gedigte verloor. Die wyse waarop sy taal hanteer, vorm en vervorm om nuut te klink en nuut te beteken het reeds by haar ’n handelsmerk geword en laat die leser telkens sprakeloos. Sy skryf ewe gemaklik in vrye versvorm as wanneer sy van ingewikkelde vaste poëtiese strukture gebruik maak. Mede-wete hoort myns insiens voor in die vertoonkas van die Afrikaanse poësie. Ek haal ten slotte die laaste deel aan uit een van my gunsteling gedigte, mirakel, met sy pragtige liriese – byna inkanterende – inslag:

ek behoort aan hierdie land
dit het my gemaak

ek het geen ander land
as dié land nie

mateloos is my liefde vir die land
verwikkeld gehard en onomwonde

ek glo nie aan wonders nie maar
die vreedsame vrymaking van my land

was ʼn wonder – onkant en lighoofdig bly
dit by my die weergaloosheid daarvan

bly my by

Die Nederlandse vertaling, Medeweten, vertaal deur Alfred Schaffer, Robert Dorsman en Jan van der Haar, was een van die vyf benoemdes vir die Filter Vertaalprijs vir 2016.

Oor die Nederlandse vertaling skryf Remo Campert onder andere in De Volkskrant: “Lees de hele bundel Medeweten. Dan zult u het hopelijk met me eens zijn dat Antjie Krog Nobelprijs-waardig is.”

Die beoordelaars vir hierdie prys het onder andere oor die vertaling geskryf: “Medeweten vormt zonder twijfel een hoogtepunt in het oeuvre van de Zuid-Afrikaanse dichteres Antjie Krog. Het is een bundel van een verbluffende complexiteit waarin centrale motieven uit haar werk samenkomen: grond en gemeenschap, het vrouw-zijn, de menselijke vergankelijkheid (zoals in het prachtig en tegelijk ontluisterende ‘ontweiden’ over de levende dode die haar moeder geworden is, een ‘dodin’), maar ook het schrijven zelf. Alle stijlregisters worden ingezet, zowel spreektalige als hooggestemde, de toon schiet heen en weer tussen nuchter, ontroerend en schokkend, en genreconventies moeten eraan geloven. Tafereeltjes die in verwondering stilstaan bij het dagelijks leven volgen op prozagedichten over de worsteling met ongelijkheid en racisme of op beschouwingen over de taal als grondstof van de dichter. Dankzij Robert Dorsman, Jan van der Haar en Alfred Schaffer beschikken we nu ook over een tweetalige leeseditie, met telkens op de linkerpagina de Nederlandse vertaling en rechts het origineel. Een toelichting bij de vertaling is er niet, waarschijnlijk om de poëzie laagdrempelig te houden. Dat is een begrijpelijke bekommernis, al vraagt de lezer zich nu wel af waarom bijvoorbeeld het koppelteken uit de Afrikaanse titel (Mede-wete) werd weggelaten, of waarom niet de integrale bundel werd vertaald. De vertalers hebben zich strikt gehouden aan de strofebouw en aan de bladspiegel en slagen er uitstekend in om de sfeer en het ritme van de oorspronkelijke gedichten op te roepen.” (Bron)

Antjie se ma, Dot Serfontein, is op 4 November 2016 oorlede. Haar reaksie op haar ma se afsterwe teenoor Charles Smith was: “Die verlies is oorweldigend. Die woord huldeblyk skielik ook ...” Antjie het die gedig “ontwei” in die bundel Mede-wete aan haar ma opgedra:

ontwei

jy gly onder my uit, Ma, in hierdie virulentgeurende lente
vanoggend toe ek jou groet, klamp jy aan my vas
en byna te buite hou ek jou

hou jou lignemendheid jou werpwrakende woedebrokke
jou brak onuitblussende steenkooloë vegtend bloed-
veragtendvegtend maar jy’s reeds sonder skouers

(here die gedagte aan ’n ontdagte-jy klief op my af die weg-
glip van die vreesloosste priemhonger sillabe
van my lewe) – dis boggel wat ek
in my arms hou    newe-aards skots-skreef probeer jy
die inmekaarplons toeskoffel
die swetsende terdoodbrenging van slyt-
bare vlees soos voortgedryf deur pis deur die onwaardigheid
van skyt van herberglose breuke knoppe en fynmasige
wade van immerende onmagtigheidsmakings

maar altyd

altyd met die vlammende dapperswaard stip vooruit dit robbel
en skree Ma want hoe benaam ek jou tot leef tot nader-
baar bly as boegbeeld wat die aarde voor my kloof

torsende briefvellige vrou morsend met jou nat grys hare
asof jy met moeite uit die grond geruk is ek sien die wanhoop
in jou oë ons gryp na die enigste wat ons ken: die skrifgeluid van

skerwe angsvallig tastend teen soveel vergruisende weerloosheid
om die dood te probeer indink tot die dood-in toe hoor ek jou
beier aan onverlore taal jou woede spaar jy nie nog jou deernis
nog jou arms nog jou bors in die truspieëltjie sien ek jou staan
staan in jou vooroorstortende lyf

alleen, onnoembaar mensonterend alleen dodin van my wese
en trillende keelvel van my alfabet

In Taalgenoot (winter 2015) vertel Antjie vir Anet Pienaar-Vosloo dat sy ’n beter ouma is as wat sy ’n ma was. “Ek glo onwrikbaar daarin dat jy vir kleinkinders moet lees vandat hulle jou kan hoor. Om vir ’n jong kind daagliks voor te lees is die grootste geskenk wat jy die kind kan gee. Rymelary en die klank van rym, sonder om te verstaan wat die woorde beteken, vorm ’n ritme in ’n kind se brein wat haar meer laat begryp as wat sy verstaan. Rym werk met klanke en asem, jy voel dus taal deur jou lyf.

“Rudolf Steiner noem dit ‘innerlike semi-spirituele ruimtes’ wat ’n kind se psige verruim. Rym stel ’n kind voor aan sulke komplekse sinstrukture dat haar maatjies, wat lesers is, eers op 15 by haar gaan opvang. Rym skep ’n enorme passiewe woordeskat – mens ken mos baie meer woorde as wat jy gebruik. Dit laat ’n kind kreatiewe spronge maak: ‘lap’ en ‘kap’ het niks met mekaar te make nie, maar klankgewys konfronteer hul samehang jou. Daar word beweer dat ’n Engelstalige kind in 1945 maklik 10 000 woorde geken het. Vandag is dit skaars ’n duisend. Een van die belangrikste redes vir die agteruitgang is glo dat ouers nie meer vir kinders rympies en berymde gedigte lees nie.”

Tydens die Volksblad Kunstefees in Bloemfontein in 2017 lewer Antjie Krog die Sol Plaatje-lesing wat hulde bring aan hierdie veelsydige skrywer en denker onder die titel “Kuns maak ons vry”.

Voordat Antjie aan die woord gekom het, het die die rektor van die UV Sol Plaatje aan die gehoor bekendgestel as ’n “intellektueel, ’n joernalis, skrywer, leier in die ANC, en boonop die eerste swart Suid-Afrikaner wat ’n roman in Engels geskryf het, al was hy Tswana van geboorte en kon hy sewe tale praat. Hy is eers na sy dood raakgesien en geëer.”

Antjie het in haar lesing grotendeels gefokus op Sol Plaatje se boek Mhudi. Naomi Meyer het op LitNet Antjie se lesing opgesom:

“Hier is ’n paar ander hoofpunte uit haar lesing:

  • Sol Plaatje nooi wit mense in die literatuur van swart mense in, nie andersom, soos normaalweg die geval is nie.
  • En hy skryf oor wit en oor swart mense op doodgewone manier – niemand is verhewe bo die ander nie. Almal het ’n storie om te vertel. ’n Manier vir swart en wit om mekaar te verstaan (in sy roman): “Their noticing of each other’s pleasures and discomforts.”
  • Sy verwys na Plaatje se “verbal engagement”. Ten spyte van Plaatje se persoonlike gevoelens oor wit en oor swart, hoe daar teen hom as swart mens gediskrimineer is, tree mense van verskillende rasse en kleure met mekaar in die boek in gesprek. Geen mens kan oor ander regeer nie, is sy houding. Plaatje kies, ironies genoeg, vir Moody as sy held (die mag van kolonialisme – Engeland – en die kerk/godsdiens, ten spyt).
  • Naamgewing speel ’n rol: name van mense is in hul eie tale, soos Afrikaans, maar plekname is gegee volgens die inheemse name, gegee volgens die naam van die mense wat daar gewoon het. Taal en naamgewing het te doen met besitreg.
  • Alliansies is van belang in die boek. Oorloë is voortdurend ’n agtergrondtema, en dan ook tale, oor en weer: kommunikasie oor en weer.

“Soos wat oorloë ’n tema vorm in Plaatje se werk, is ook meertaligheid iets wat Krog deurlopend in Plaatje se werk uitwys. Plaatje wys op hoe belangrik vertaling vir hom as skrywer is deur in sy boek vertaling van Tswana-woorde te verskaf.

“Krog wys op hoe die Bybel aangepas word in die roman, waar Paulus skryf dat almal gelyk voor God is. In Plaatje se roman betrek hy nie net Romein en slaaf nie, maar swart en wit, man en vrou.

“Krog sê dat Plaatje nie net oor mense skryf nie, maar ook alles van die groter heelal ondervang: komete, insekte, die kosmos ... In sy werk is daar ‘ever-widening circles of inclusion: religions, races’.

“‘Dit het meer as 20 jaar van demokrasie geverg om haar oë oop te maak vir waar Suid-Afrika verkeerd geloop het,’ sê Krog. ‘Kyk wat gebeur uiteindelik in sy boek: die twee groepe is uit mekaar, swart en wit. Dit kon verskillend gewees het, dit kon ’n huwelik gewees het wat gewerk het. Maar Plaatje is in beheer van sy karakters en van hul uitkomste. Hy is dus vryer in sy boek as in die werklike lewe. Hy het ’n visie terwyl hy skryf; sy skrywe oor onderlinge verbintenisse is wat hy sien van die land waar hy nie is nie.’

“Krog se slot is verrassend. Plaatje se roman, sê sy, is egter nie net ’n boodskap vir ons tyd nie. Kom ons vier die lewe en die werk van ’n man wat ver van hier gewoon het, jare gelede, en wat ons vry maak omdat kuns vry maak. Kom ons wees vry soos wat kuns ons vry maak, ’n viering van kuns.”

Op van die vrae wat die gehoor aan Antjie Krog gevra het, was haar pleidooi: ’n land soos Suid-Afrika met al sy tale, behoort ’n obsessie met vertaling te hê. “Ons moet vertaal. Ons moet mekaar se tale praat.”

In ’n onderhoud met Murray la Vita in Die Burger van 30 Junie 2017 praat Antjie met hom oor die dood: “Ek is tog altyd bietjie teen die feit dat die dood soms in die poësie ’n ontsnapping word van die léwe; met ander woorde jy hoef nie te skryf hoe jy oud word nie en hoe jy sleg lyk en voel nie. As jy praat, praat jy oor die dood. En ek sê nie dis maklik om oor die dood te praat nie, maar ek sê net daar is ’n stadium van verwoording wat verwaarloos word en dít is die pre-dood.

“Ek het vir my ma die heeltyd gesê: ‘Skryf oor nóú. Wat dink ’n mens? Wat doen ’n mens? Wát?’ En sy het glad nie belang gestel daarin nie.

“En ek het een keer vir ’n ander baie ou skrywer gesê: ‘Ek wil weet oor daai tydperk, ek wil daai tydperk verstaan.’ Die poësie het my in staat gestel om die fases van my lewe te begryp. Jy raak verlief met die gedigte van Ingrid Jonker, Jy hét lief met Breyten se goed, of Van Wyk Louw se ‘Ek haat en ek het lief’... (...)

“Dit gee jou toegang tot ’n intensiteit van sekere fases van jou lewe en dáái deel word nie verwoord nie. En toe sê die skrywer vir my: ‘Ék skryf om wég te kom daarvan.’ En toe dink ek dit is ’n probleem, want dit is hierdie ... En dan, wanneer manskrywers in prosa wél daaroor skryf, dan maak hulle hulself ou vrouens - sowel Coetzee as Karel Schoeman; die karakters is ou vrouens wat sterwend is.

“Nou weet ek nie of dit die uitmekaarval van ’n vrou se liggaam is wat makliker is om jou te verbeel as die uitmekaarval van ’n mán se liggaam nie.

“En jy weet, sodra die digters oud word, dan vat hulle meesal jong vrouens, so dan het jy hierdie fantastiese kontras van die jeug en die dood. Maar nié hierdie arme stokou man saam met die jeug nie; die uitmekaarvallende manlike liggaam is nie ’n teenwoordigheid nie; ek ken nie gedigte waarin dit figureer nie.”

Dit het Murray la Vita opgeval dat iets wat Antjie fassineer van die manlike teenwoordigheid is dat “sodra dit verdwyn, vat dit die mag saam”.

“En nou kyk jy na die letterkunde - die lesers is eintlik vroue, oral waar jy kom, sien jy vroue; die meeste van die mense wat klas gee in die letterkunde, is vroue; al hoe meer van jou resensente is vroue. En soos wat dit gebeur, kan jy sien hoe die mag van die letterkunde verdwyn.

“In die argitektuur en die mediese beroepe gebeur dit ook: hulle sê die beroep word vervroulik.

“En dan sê hulle mans gaan nooit net weg nie, mans vat ook die mag saam met hulle weg en dan bly daar nou net ’n klomp vrouens oor en skielik daal die statuur van daai beroep. Om ’n argitek te wees, is nie meer daai aangrypende Fountainhead-ding van die ou dae nie. So hulle gaan word dan spesialiste, die mans of hulle gaan in geld in.

“Ek kyk na die politiek wat nou sulke sterk vrouens het en hierdie mans wat uitruilbaar lyk. (...) Hulle lyk almal of hulle in dieselfde fabriek gemaak is. (...) Ek vermoed oor ’n ruk gaan daar geen mag mee oor wees in die politiek nie. Die geld gaan die politiek só lamlê dat dit nie eintlik saak maak wat die politici daar binne besluit nie. Dis eintlik klaar so - geld run die wêreld en jy sien daai mans wat dit doen nooit.

“Nou in die kreatiewe letterkunde blý mans gelukkig, so ek is altyd bly as ek na ’n plek gaan en jy sien daar gaan manskrywers wees want dan weet jy hulle bring met hulle die mag saam, die aandag, die respek.

“Ek dink dit is jammer dat dit so is en dat ’n mens nie leer hoe om waarde te heg aan dit wat vrouens doen nie. Of doen ons dit op so ’n manier dat dit móéilik is om dit te eer?”

In Januarie 2018 is die Gouden Ganzenveer vir 2018 aan Antjie Krog toegeken. Dit is ’n kulturele prys wat elke jaar in Nederland toegeken word aan ’n persoon of instituut wat vereer word vir hul bydrae tot die geskrewe en gedrukte woord in die Nederlandse taal. Dit was die eerste maal dat hierdie prys aan ’n persoon van buite Nederland toegeken is.

Gerdi Verbeet, voorsitter van die Akademie van die Gouden Ganzenveer, het die nuus op die Nederlandse radioprogram De Taalstaat bekendgemaak: “Die Akademie van die Gouden Ganzenveer eer Krog as ’n spesiale en veelsydige digter, as ’n uitsonderlike skrywer en joernalis van integriteit, en as ’n begaafde kunstenaar van haar eie werk.”

Eloise Wessels, besturende direkteur van Media24 Boeke en hoof van NB-Uitgewers, het die nuus verwelkom. “Dit is vir ons as Krog se uitgewer eweneens wonderlike nuus – ons is saam met haar trots en bly.” (LitNet)

Antjie het in ’n onderhoud met NPO Radio 1 gesê: “Ek is verbyster, ontroer en opgewonde oor die erkenning wat ek uit Nederland kry. Die Nederlandse taal het baie vir my as digter beteken. Die Nederlandse taal het my verryk. Die prys kom op ’n interessante tyd, aangesien die Afrikaanse taal met rede bedreig voel.” (Maroela Media)

Joost Nijsen, Krog se Nederlandse uitgewer by Podium, meen dat die entoesiasme vir haar werk bogemiddeld groot moet wees vir die Akademie om ’n uitsondering te maak vir ’n “buitelandse” outeur. “Ons het hier by Podium op die tafel gespring toe ons dit gehoor het. Nie alleen is die Gouden Ganzenveer waarskynlik die mees gesogte literêre prys in Nederland nie, maar dit is bowendien uniek dat die prys toegeken word aan ’n nie-Nederlandse skrywer.”

Willie Burger het aan Jo Prins (Netwerk24, 19 April 2018) gesê hy dink Antjie Krog se werk het baie om aan Europese lesers te bied: “Juis omdat sy met die kompleksiteite van menswees in omstandighede van uiterste verskille tussen arm en ryk, geleerd en ongeletterd, en ’n ‘mengelmoes’ van beskouings in haar werk worstel. En hierdie is temas wat belangrik is hier in Suid-Afrika maar ook toenemend daar (Nederland).

“Deur hierdie prys word Krog veral onder die aandag van ’n wyer Nederlandse publiek gebring. Die soort erkenning dra ook daartoe by dat haar status as skrywer in die buiteland verhoog – wat kan help om haar werk ook verder bekend te maak – in ander lande en vertalings.”

Louise Viljoen het ook soos Jo Prins gesê dat dit merkwaardig is dat hierdie Nederlandse prys nou aan ’n Afrikaanse skrywer toegeken word.

“Wat my betref, is die prys welverdiend: Krog is ’n uitmuntende en waagmoedige skrywer wat met elke nuwe teks ’n stroomverlegging in mense se denke bring. Sy prikkel en provokeer met haar werk. Verder het sy die vermoë om deur haar fokus op plaaslike Suid-Afrikaanse sake mense ver buite die grense van die land te raak.”

Rudie van Rensburg se opmerking teenoor Jo Prins was: “Met Afrikaans tans spartelend om kop bo water te hou as akademiese taal, is die verhouding tussen Afrikaans en Nederlands te verwelkom.”

In 2017 verskyn ’n Engelse vertaling van Antjie se Hertzogprys-bundel Lady Anne onder die titel Lady Anne: a chronicle in verse. Antjie vertel aan Nathanael Freed hoe dit gebeur het dat die bundel in Engels vertaal en uitgegee is: “It is the visit of professor Greg Clingham who came into my office and asked wouldn’t I oversee, or look, or do a translation of Lady Anne into English. And I said, ‘Why?’ And he said, ‘No, no, no, I think Lady Anne is on a comeback, and that the book would fit in nicely with all the other projects.’ And so I said yes, and I was too nervous to ask anyone else to do the translation, because maybe the poems don’t work, and then that one has to tell you, or you have to realize, and so I said no, I’d do it myself. I think on 1 December – our long holidays are over December, so November, December, January, February – I translated them into English. There is a whole controversy about poets’ translating themselves. Brodsky did that, and some playwrights did that, and it’s very problematic because you’re not really a translator; you’re a poet. So when the line doesn’t work in English, you don’t look for a better line; you change the line. So this time, I tried my best not to do that, but to behave like a translator, and not to make too big a difference between the Afrikaans version and the English version.”

Freed wou by Antjie weet watter probleme sy ondervind het met die vertaling van Lady Anne. Sy het verduidelik dat een van die kenmerke van die Afrikaanse bundel is dat die Afrikaans baie kripties is. “It didn’t flow necessarily, and Afrikaans is a language that lends itself easily to any kind of distortion. It’s a young language, so you can do with it what you want, which you can’t in English. It’s very jarring if you do the word distortions in English that you’ve just done in Afrikaans. So, there’s none of that, and I think the flow is much more logical. But when the book was written in Afrikaans, when it was filled with anger against your leader, after other Afrikaners, you actually didn’t want them to read you. You didn’t want them to like what you wrote, so you made it deliberately difficult to read. This time it was not like that. The other biggest issue was the form, because I chose a specific rhyme pattern for the historical parts. It’s sort of ABAB et cetera, and the last line is again A, so that the whole stanza ends with a rhyme. It’s like a circle; it comes together with a rhyme. And that I was not always able to do in English. So it’s less formal, and it’s less structured.”

Freed het baie belanggestel oor hoekom Antjie Krog op Lady Anne as onderwerp van hierdie digbundel besluit het. Sy het geantwoord: “It’s like a treasure if you come across someone who is herself or himself a good articulator, and because she wrote a lot – diaries, letters – she not necessarily expressed herself so well, but she had the eye of a painter, and so she could describe the things that she saw, which is wonderful because you move with her through the Cape during that era. And then, she had these unbelievable drawings which you could also then use in your poems, and you could then treat her as a fellow artist. So she’s not only a fellow woman, she’s not only a fellow observer, but she’s also agonizing about how to do justice to what she sees, or to the complexity of what she sees. One more example is that there was a sale of paints in London at Newman’s, and she went there and bought a lot of paint to bring back to the Cape, and when she arrived at the Cape, she realized that she completely misjudged the sun and the clear clarity of that landscape. She had all these dull English greens, and she doesn’t have yellow, red, or others. And how many times she tried to draw somebody or something and it didn’t work out. All of that is a precious extra thing that she brought to why I wanted to choose her. Or, I chose her, and then, in the end, there are a lot of spinoffs. Like also, the notion of the turtle or the soul-fish, this I also got from her. And it became a constant metaphor for me in other works as well. I often used ‘in change of tongue’. It’s the same as the fish in South Africa. We have ‘to change our tongues’ if we want to live there.”

Op Amazon word die bundel as volg opgesom: “Lady Anne: A Chronicle in Verse by Antjie Krog is the first English translation of an award winning book published in Afrikaans in 1989. It engages critically and creatively with a key moment of colonial history—the time Lady Anne Barnard spent at the Cape of Good Hope, from 1797 to 1802. Usually mentioned merely as a witty hostess of fabulous parties, Anne Lindsay Barnard, the daughter of a Scottish Earl and the wife of a colonial administrator, was an independent thinker and a painter and writer of genius. She left diaries, correspondence and watercolors documenting her experiences in this exotic land, the contact zone of colonizers and indigenous peoples. Antjie Krog acts as bard and chronicles an epic about this remarkable heroine’s life in South Africa, and intertwines it with life two hundred years later in the same country but now in the throes of anti-apartheid anger and vicious states of emergency. Krog’s powerful and eloquent bringing together of the past and the present, and the historical and the poetic embodies an experience that is as pertinent and compelling today in a democratic but still turbulent South Africa, as it is in the USA and other places where the intersections of race, identity, power, and language lie at the center of civic life.”

Stephen Clingman het op Amazon geskryf dat daar deurgaans in hierdie bundel ’n sterk en boeiende kwaliteit aan Krog se taal te bespeur is, “digging deep into the nature of South African life and her own self-challenging relationship to it ... There is a substance here, a regard, a responsibility, a creative response which is in keeping with the original nature of the volume when it was first published during the turmoil of the last decade of apartheid in South Africa in the 1980s. This is an extraordinary opportunity to present a writer of tremendous significance to a wholly new realm of readers.”

Vir Ingrid de Kok is Lady Anne nie net ’n bundel wat fikseer op twee geskiedkundige oomblikke nie – die koloniale lewe van die agtiende eeu en die teenstand teen apartheid in die 1908’s. Soos alle groot gedigte is sy omvang wyd en diep. “In this masterly English translation it speaks to new circumstances, in particular renewed attacks by young South Africans on what they register as a still repressive colonial legacy. It also speaks to conditions of power in many other places, including the United States, where issues of belonging, identity, speech and silence, are alive and active. There too writers and thinkers are challenged to address the moral, intellectual and creative challenges these themes generate. Alert to the dangers of complicity and despite her view that it is impossible ‘to hone truth with the pen/to live an honourable life within so much privilege,’ Antjie Krog engages these difficult subjects with originality and power, in poetic language of great beauty, passion and complexity.” 

Antjie Krog maak in 2018 ’n persoonlike keuse uit De kleur van je hart (Country of my skull)Een andere tongval (’n Ander tongval) en Nietz liever dan zwart (Begging to be black) en dit word deur Podium in Amsterdam uitgegee onder die titel Hoe alles hiert verander. Sy het ook ’n “aangrypende” voorwoord (volgens die uitgewers) tot die bundel geskryf. Die resultaat van hierdie keuse is ’n “intrigerend nieuw werk dat niets aan kracht heeft ingeleverd, omdat de kwesties die Krog zo grondid onderzocht en lucide beschreef nog altijd brandend actueel zijn.” (Uitgewers se inligtingstuk)

Hier volg enkele aanhalings uit besprekings van Antjie se werke in Nederland:

  • “De grote kracht van dit boek is dat Antjie Krog de ongemakkelijkheid van haar emoties daadwerkelijk voelbaar weet te maken. Wat zij aan den lijve ervaart, voelt de lezer dankzij haar macht over de taal net zo. (...) Oordeel: virtuoze verbeelding van al dat onrecht en die pijn.”
    Trouw
  • “Met dit boek heeft Antjie Krog me lamgeslagen.”
    – Adriaan van Dis over De kleur van je hart
  • “Een grandioze caleidoscopische reportage.”
    NRC Handelsblad over Een andere tongval 
  • “Antjie Krog weet haar lezers altijd te raken.”
    de Volkskrant over Niets liever dan zwart
  • “Op zeer geëngageerde wijze analyseert de auteur de nog steeds actuele zoektocht van de inwoners van Zuid-Afrika naar samenleven in vertrouwen. Een bundel non-fictie die de lezer aan het denken zet.”
    NBD Biblion

In September 2018 was Antjie Krog en haar werk die fokus op die kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging op Stellenbosch, onder die titel: “Antjie Krog en die vele raamwerke van die Afrikaanse literatuurwetenskap”.

Jildou Fabriek van die Universiteit Utrecht het gekyk na Krog se plek in die Lae Lande; Yves T’Sjoen van die Universiteit Gent het haar en Herman de Coninck se werk onder die loep geneem, terwyl Jerzy Koch van die Adam Mickiewicz-Universiteit in Pole Krog se digkuns in vertaling bespreek het.

Antjie was self ook aan die woord met ’n bydrae getiteld: “Vertaling as werktuig om nuwe maniere van mede-wete te ondersoek”. Susan Smith van die Universiteit van Fort Hare was verantwoordelik vir die hoofreferaat oor Krog se werk met ’n eko-kritiese invalshoek op ’n gedigteks van haar.

Antjie Krog se werk is verder op die kongres uit verskeie invalshoeke benader. Daar was gesprekke oor haar impak op etlike diskoerse; daar is gefokus op haar intertekste; vertalings van haar werk is bespreek, terwyl daar ook op haar bundel Mede-wete gefokus is.

Verder is daar vergelykings getref tussen Antjie se Lady Anne en Alfred Schaffer se Shaka Zulu; gekyk na persepsies en humor in ’n Ander tongval; en besin oor leesstrategie van die outobiografiese poësie van vrouedigters aan die hand van Krog se gedig “hoe en waarmee oorleef mens dit?”

Antjie was ook een van die deelnemers aan die vierde Festival voor het Afrikaans in die Vlaams Cultuurhuis de Brakke Grond in Amsterdam. Hierdie fees fokus op kuns en kultuur en Antjie het saam met die rapkunstenaar Churchill Naudé en die skrywer-sanger Jolyn Phillips opgetree.

Antjie Krog as digter en as mens inspireer persone om op ander gebiede as net die letterkunde haar werk uit te beeld.

By Aardklop in 2018 was Babette Viljoen saam met Olga Leonard en Hilandi du Toit verantwoordelik vir die produksie KROG. Met hierdie produksie het gehore die geleentheid gekry om op ’n nuwe manier ou bekende, maar ook nuwe gedigte van skrywer Antjie Krog te beleef wanneer dit deur verskeie musiekstyle en met ’n verskeidenheid instrumente aan gehore oorgedra word, het Viljoen aan Marius Boonzaaier op LitNet vertel. Hulle wil aan gehore vertel dat poësie nie vervelig is nie. Hulle het ook by die Woordfees in 2019 opgetree.

In 2019 verskyn Antjie Krog se MI(SA) wat saam met komponis Antoni Schonken in opdrag van NATi geskryf is. Dit is in 2019 tydens die Toyota US Woordfees onder regie van Marthinus Basson saam met die Kaapstadse Operakoor en met Amanda Strydom as priester uitgevoer. ’n Korter gedeelte is tydens Poetry International se 2019-feesvieringe in Rotterdam onder leiding van Pieter Bezuidenhout uitgevoer.

Die gedig “O brose aarde – ’n Misorde vir die nuwe verbond” is later opgeneem in Antjie se bundel Plunder. “O, brose aarde” is in 2020 in Nederlands vertaal deur Robert Dorsman en Jan van der Haar onder die titel “Broze aarde. Een mis voor het universum”.

In 2022 word die musiek-en-poësie-produksie Al om Antjie op die planke gebring by die Woordfees. In hierdie produksie kom die room van die Afrikaanse musiek- en toneelbedryf bymekaar om Antjie Krog se werk te vier. Schalk Joubert was die musiekregisseur en Saartjie Botha die regisseur. Van die bekende name wat opgetree het, is onder andere Laurinda Hofmeyr, Tinarie van Wyk Loots, Amanda Strydom, Luna Paige, Anton Goosen, Babalwa Mentjies, Jolyn Phillips, Merna Gebuza en Karen Zoid.

Om ook Antjie Krog se 70ste verjaardag te gedenk het die Suidoosterfees, met die hulp van ’n subsidie van die LW Hiemstra-prys en in samewerking met LitNet, dele uit haar bundel Met woorde soos met kerse as ’n video- en aanlyn produksie aangebied.

Met woorde soos met kerse is ’n bundel met Antjie se vertalings van inheemse gedigte. Die Suidoosterfees het 15 gedigte laat vertaal in Afrikaans, tesame met hulle eweknieë in al die ander landstale, uitgevoer en verfilm vir gratis aanlyn verspreiding. Die projek het ten doel om Afrikaans binne die konteks van meertaligheid in Suid-Afrika te bevorder. (Bron)

Ook in 2022 (by die Suidoosterfees en Aardklop en in 2023 by die KKNK) is Frieda van den Heever as samesteller en regisseur verantwoordelik vir die produksie die oerkluts kwyt waarin Antoinette Pienaar Antjie Krog se verse binne die raamwerk van Van den Heever se narratief oor sekere dele van Krog se lewe en werk vertolk.

Op LitNet vertel Pienaar aan Izak de Vries: “Hoewel dit ’n biografiese siening van Krog se oeuvre is, volg die formaat nie noodwendig ’n chronologiese deurlyn nie.” Min van Antjie Krog se verse is ingesluit in die teks, maar dit bevat wel ’n monoloog wat Krog spesiaal vir die produksie geskryf het. Al om Antjie het weggestap met twee Kannas – aan Frieda van den Heever vir haar uitnemende literêre bydrae en aan Ancient Voices vir beste vrouebyspeler.

In Oktober 2022 het Johan Rademan ’n konsert ter viering van haar 70ste verjaardag saamgestel en is dit oor RSG uitgesaai. Met Nicole Holm (voorleser), Jolyn Phillips (voorleser), Garth Erasmus (inheemse instrumente), Pieter van Zyl (klavier) en Maria Viviers se Vivox Voices onder leiding van Christiaan Kotze. Johan Rademan (bindteks) bied ’n kort oorsig van wat tussen die eerste en laaste bundel van Antjie Krog gebeur het. (Bron)

Nog blyke van waardering uit Nederland het na Antjie Krog se kant toe gekom met haar aanstelling in 2020 as Gent-Universiteit se eerste inwonende skrywer. En in 2021 is sy met ingang van die Europese herfs ook as Leiden-Universiteit se inwonende skrywer aangestel.

Die Tuin van Digters by die Breytenbach Sentrum in Wellington het in 2022 vir Antjie gehuldig en in 2023 is sy genooi om aan die Welgemoedse Kunstefees deel te neem.

In 2020, om saam te val met die 50ste herdenking van die publikasie van haar eerste bundel, Dogter van Jefta in 1972, publiseer Human & Rousseau ’n Vry vrou. Die digbundel is saamgestel deur Karen de Wet wat op die flapteks van die bundel as volg oor die bundel en die digter skryf: “In ’n Vry vrou word vyftig jaar van Antjie Krog se gedigte gevier. Die digter van onsterflike reëls soos ‘kleur kom nooit alleen nie’ en ‘die ondraaglike intimiteit van taal’ word hier verteenwoordig deur verse uit al elf haar digbundels, van Dogter van Jefta tot Mede-wete, asook drie ongepubliseerde verse uit die mis ‘O brose aarde’.

“Krog se digterskap is bekend daarvoor dat sy verskillende gedaantes van die liefde en die geliefde verken, soos wat dit ook politieke onreg aan die kaak stel, verset aanteken, en voorspraak maak vir medelewing. Die vrou in die gedigte is kind en ma en ouma, vrou en huisvrou, onderwyser en joernalis, maar veral digter. Die digter kyk deur die lens van haar rolle in die samelewing en verwoord deur karakters en alter ego’s. Sy ondersoek en bevraagteken die geskiedenis en die samelewing. Van Bessie, vrou van Tshomane, tot Lady Anne. Van kleindorpse sages tot onluste en die WVK.

“In haar laatwerk word sensitief, maar sonder huiwering, geskryf oor ouderdom, hoe die lyf ons faal, en ook oor die dood. In haar landskapsgedigte, waaruit ’n groot verknogtheid aan die aarde spreek, klink die liriese Krog op. Daar is gedigte oor Afrika, oor die Oos-Vrystaat en die Richtersveld en bergmeditasies oor Tafelberg. Die leser reis saam tussen uiterstes soos ‘na die reëns / gee die veld haar oor soos ’n slet aan die groen’ en ‘nêrens kan ons so stilslaap / as in die oop hand van hierdie land’. Maar terselfdertyd is daar ook gedigte waarin die problematiek oor grond en eienaarskap ondersoek word, soos in ‘Oom Jakobus de Wet praat poetry’ of die versugtende erkenning:

ek wil ondergronds gaan met jou grond
grond wat my nie wou hê nie
grond wat nooit aan my behoort het nie

grond wat ek vergeefser as vroeër liefhet.

“Oplaas is die gedigte in ’n Vry vrou die werk van ’n deurdagte digter. ’n Digter wat nie net skryf omdat sy woedend is nie, maar bewus daarvan dat sy ‘in die spervuur van potlood en papier’ staan. ’n Digter wat liries stem gee, eroties meevoer en ontnugterend oopvlek. ’n Digter wat grense verskuif en verskoningloos skryf: ‘elke haal akkuraat brutaal’. Die intens poëtiese, erotiese, skromelose Krog is hier aan die woord. Die essensiële Krog. Jou onontbeerlike Krog.”

Heilna du Plooy is die resensent van ’n Vry vrou vir Versindaba en sy sluit haar uitgebreide resensie só af: “Vir my was die lees van hierdie bundel opnuut soos ’n reis deur Krog se oeuvre, ’n ander en nuwe reis op ’n ander manier wat die raaksien van ander verhoudinge tussen temas en tegnieke oopgemaak het. Dit is ’n genoeglike reis omdat dit ’n bestaande gesprek verder voer, omdat dit aansluit by wat bekend is, maar dit tog weer nuut maak.

“Die bundel is netjies en goedversorg uitgegee in hardeband deur Human & Rousseau met ’n foto van Krog wat die leser nogal stoer, direk en ferm in die oë kyk op die voorblad.”

Antjie Krog se eerste versdrama met die oog op môre word in 2020 deur Protea Boekhuis uitgegee en op Versindaba som Alwyn Roux die storie as volg op: “Met die oog op môre (2020) deur Antjie Krog is ’n versdrama wat die deerniswekkende verhaal vertel van die vriendskap tussen koning Moshoeshoe I van Basoetoland (die hedendaagse Lesotho) en die Franse sendeling Eugène Casalis. Die verhaal speel af teen die agtergrond van die 19e eeuse geskiedenis van die Basotho-nasie. Moshoeshoe spreek die wens uit om nader te beweeg aan die ‘aanspreiende wit wêreld’: ‘Ek wil iemand/ hê wat my band met hulle onderhandel,/ iemand uit die aanspreiende wit wêreld./ Al my spioene sê waar sendelinge/ is, is daar vrede. Ek soek dus …/ ’n sendeling …’ (bl. 12). In die tweede bedryf se eerste toneel word ons voorgestel aan die sendeling Eugène Casalis, wat op ’n dag deur die koning van Basoetoland versoek word om hom te besoek. Dié oproep is vir Casalis bevestiging van sy goddelike roeping om die evangelie te verkondig. Alhoewel hulle aanvanklik met verskillende agendas bymekaar kom – koning Moshoeshoe I om politieke redes en Eugène Casalis as deel van sy sendelingsopdrag – verander hulle verhouding gou tot ’n vriendskap wat die uitkyke van beide karakters se menswees op kardinale wyse verander. Hierdie vriendskap tussen Moshoeshoe en Casalis is dan ook die katalisator vir die gebeure wat in die versdrama volg.”

Antjie het op LitNet aan Melt Myburgh meer oor die ontstaan van met die oog op môre vertel: “Na universiteitstudie van die versdramas van TS Eliot, Auden, Isherwood en Fry, het ek in my vroeë dertigs ’n eenvrou-versdrama oor Susanna Smit geskryf en dit vir Fred le Roux, wat my ma se redakteur was en intiem betrokke was by Opperman se Periandros van Korinthe se uiteindelike opvoering, gestuur. Hy het ’n vernietigende kritiek gegee (of dis soos ek dit onthou) en basies gesê: Hou jou by jou lees. So, Susanna Smit het deel van Otters in bronslaai geword en vir baie jare al hou ek my netjies by my lees.

“Na Begging to be black, waarin Moshoeshoe ’n belangrike gegewe is, het Saartjie Botha op ’n dag vir my gesê: Die Moshoeshoe-storie moet ’n drama word. Ek het onmiddellik geweet dit is waar! Dit moet, maar nie deur my nie.

“Intussen het die vertalings van Tom Lanoye se versdramas Mamma Medea en Koningin Lear gebeur en my ontságlik baie geleer oor tegniek, oor watter grense van die klassieke versdrama gebreek, watter geskuif en watter absoluut gehoorsaam moet word, hoe vyfvoetige jambes werk in ’n Germaanse taal, ensovoorts. Maar nog steeds, ’n wit mens kan nie ’n stuk oor swart mense doen nie. Dis appropriasie. Dis imposisie. Dis vir my nie bloot selfsensuur en gedienstige gehoorsaamheid aan politieke korrektheid nie; ek self is oortuig dat wanneer ’n wit mens oor ’n swart mens skryf, gee sy/hy bloot ’n weergawe van haar/homself. Om mekaar oor hierdie vreeslike grens van ras te verbeel moet jy jare en jare se intensiewe navorsing en saamleef doen. Dis ons morele plig om mekaar te verbeel, maar dit moet met baie meer selfondersoek gepaard gaan as bloot ‘ek verbeel my ek is swart’. So nee. Iemand anders moet.

“Toe kry ek in 2019 ’n maand lange skrywersverblyf in Amsterdam waarin ek beplan het om ’n bundel klaar te maak. In die lieflike liggevulde vertrek gaan sit ek die eerste oggend en op die bladsy van ’n gedig waaraan ek wou werk, begin ek, asof in ’n dwaal, asof ek oor ’n groot skeur in die grond spring, die drama skryf. Dis die eerste keer dat so iets my oorkom. Ek dink my denkende, kritiese self het in ’n beswyming gegaan sodat my kreatiewe self uiteindelik kon oorneem. Die feit dat ek ook uit my land was, vryer gevoel het om kreatiewer paaie te volg, het waarskynlik alles gehelp.

“Die aand was ek baie opgewonde en ontsteld oor wat ek besig is om te doen en myself gehamer met kritiek. En toe besluit ek dit sal net wit mense wees wat óór Moshoeshoe praat, hy self sal die Groot Afwesige wees. Maar ja, hier by toneel 3 kom hy gewoonweg op in suiwer Afrikaans.”

Joan Hambidge skryf op Woorde wat weeg oor met die oog op môre: “Die twee hoofspelers is Moshoeshoe 1 en Eugène Casalis, ’n Franse sendeling in 1837 - 1855 in Basoetoeland. ’n Swart koning word geplaas teenoor ’n wit sendeling. In hul poging om saam te werk word die spanninge en verskille tussen hulle uitgewerk. Die koning van prysliedere teenoor die man van God.

“Grondbesit is die ondergrond van die drama en hoé wit trekkers hulself as superieur ervaar. Aan wie behoort die grond? Die drama ondersoek eweneens die hele problematiese kwessie van die sendeling wat ‘heidene’ wil kersten en dink hy het die waarheid in pag. Met die koning wat priemende vrae stel oor die heilige Drie-eenheid en die betekenis van Jesus Christus. Is hy nie maar net ’n voorvadergees wat intree nie? 

“Krog se opposisies tussen wit/swart, man/vrou, Afrika/Engeland, hede/verlede word kompleks uitgewerk. Sy wys op die ideologiese verskille en maak van haar karakters werklike mense met foute en mistastinge. So vermy sy die maklike slaggat wat die drama eentonig of enkellynig sou maak. Sy aktiveer ’n gender- en rasdiskoerse wat volgens moderne teoretici beide as konstruksies benader moet word. Die rol van vroue as teenspelers en hier ’n gewete, soos verbeeld in Mevrou Casalis en haar dogter wat oorneem by die vader, word ’n teenpool.

“Die metriese eise van die versdrama kom die digter na. Sy speel met die jambiese versmaat en maak alles dramaties vir die leser-as-kyker. Name word genoem sodat die teaterganger ’n karakter sal herken. Daar is ook toordokters, ’n profetes en ’n koor. ‘Die draaiende bal van vuur met ’n arend se glurende oë wat niks ontgaan nie’, teenoor koning Salomo se wysheid word ’n verdere spanning in die teks. Primordialiteit, argetipes en Die Bybel word ingespan in hierdie teks van grootse opset.

“Aan wie behoort wat? Waar word die grense getrek? Dit is ’n teks van liminaliteite en grense wat oorgesteek word.

“Ook die geskiedenis word betrek met die rol van Cathcart en Brittanje se hantering van protektorate. Koningin Victoria en Prins Albert is in die agtergrond aanwesig. ’n Luiperdvel as geskenk aan Koningin Victoria begrond alles verder.

“Die ellendes van misverstand: Basotho’s sit opmekaargedruk soos paddavisse in ’n skepkalbas (85). Krog se beeldende vermoë is hier oortuigend in aksie en in haar digkuns het sy deur die jare verskeie koorsange in bundels geskryf, bykans as voorlopers of oefeninge vir hierdie teks. (...)

“Die leser word van ’n uitgebreide leeslys voorsien vir verdere navorsing. 

“In hierdie dae waar teaters in beleg is en opvoerings tans onmoontlik geword het, sal RSG se vindingryke Kobus Burger hopelik die uitdaging sien om hierdie teks vir die radio aan te bied. Anders is my geld op Marthinus Basson sodra die teaters weer volskaals funksioneer.”

In haar 70ste verjaardagjaar, 2022, verskyn Vetplantfeetjies met ’n versameling kinderryme van Antjie Krog en Ingrid de Kock met pragtige kunswerke van inheemse vetplante wat ook feetjies is deur Fiona Moodie. Die uitgewer skryf dat net soos die voorganger, Fynbosfeetjies (2007), “kry die plante se wonderlike volksname lewe en word die wetenskaplike name ook aangedui”. (Netwerk24, 9 Oktober 2022)

In Kerkbode (3 November 2022) skryf Rethie van Niekerk oor Vetplantfeetjies: “As jou oog al Kersboom se kant toe staan, is Vetplantfeetjies ’n heerlike geskenk vir oud en jonk. Die span gerekende skrywers en kunstenaar lewer ’n toon-krul lekker verseboek wat plaaslike vetplante behoorlik laat lewe. Langs verruklike illustrasies is verse wat jou tong laat knoop en spring, terwyl jy speel-speel ’n indrukwekkende kennis van vetplante opdoen.”

Met Antjie se tweede bundel wat ook in haar 70ste verjaardagjaar verskyn, die digbundel Plunder, verwerf sy vir die derde maal die Hertzogprys vir poësie, asook die UJ-prys vir 2023. Die Engelse vertaling, Pillage, deur Karen Press word bekroon met die UJ-prys vir literêre vertaling.

Hein Viljoen het die huldigingswoord gelewer (LitNet): “Plunder is ’n ongewone titel vir ’n digbundel. ‘die sigbaarmaking van strooptogte’ (bl 39) werp ’n bietjie lig daarop. In daardie gedig ‘val [die spreker] ander se werk binne’ soos ’n kolonis, sy ‘omhels’, ‘verorber’, ‘stroop’ dit; ‘stop [haar] kop vol’ daarmee. Maar hierdie ‘kollektief verslinde buit’ is uiteindelik net ‘pluiings vir die verrinneweerde liggaam van latenstyd’. Die poëtika van plunder is dus kompleks: Die digter stroop gedigte van oraloor – ook uit haar persoonlike ervaring – as ’n middel teen ouderdom en dood.

“In dié proses bestryk die bundel ’n wye scala van emosies: intense liefde, verdwasing en verlies, teer gevoelens teenoor kleinkinders, liriese ontboesemings, intense verset, radeloosheid oor die politiek. Die digter jubel en kla, verheerlik en verdoem, treur en sing.

“Om dit alles te kan uitdruk, verwring die digter die taal kreatief, maar steeds met ’n intense deernis met alles en almal. Die bundel praat die taal van plante, van geweld, van verkragting, van die lyf, van politiek, maar ook van skoonheid. Die skoonheid van die aarde bied ’n soort redding uit die ontreddering van oudword, taalverlies en politieke wantoestande, soos in ‘tydspad deur die tuin’ of in ‘familiekersfees op ’n vakansieplaas’ wat die wolke, die vlaktes en die groene van die Vrystaat vier.

“Wat besonder bydra tot die bundel se intensiteit, is die talle lig- en vuurbeelde daarin. Dinge vonkel, priem, vlam, knetter, brand, skitter, blits of ril van lig. Dit is asof die mistieke taal van vuur en lig die wêreld met ’n vuurkwas bestryk.

“Daarby is die bundel intens betrokke by eietydse angste en bemoeienisse soos #feesmustfall, die wit staar (of gaze), veral ook by geslagsgeweld. Soos altyd pak Krog hierdie moeilike kwessies direk en onverskrokke aan. Veral die politiek van die lyf en van seks word eksplisiet aangepak in die figuur van Baubo, wat die wêreld met haar geslagsdele uitdaag. In die reeks ‘dit spuls die aarde vol’ verwoord sy die broosheid van ‘die vagina: veragte wond’, soos sy dit noem, aangrypend.

“‘Broos’ is trouens ’n sleutelwoord vir bundel. Die magistrale reeks ‘o brose aarde – misorde vir die nuwe verbond’ waarmee die bundel afsluit, is talig en konseptueel heerlik uitdagend en aangrypend. Dit dig die woorde van die Katolieke mis om in liedere wat die son, die aarde, die maan, die water verheerlik. Die intreelied roep die universum aan, onder andere met hierdie woorde:

o Allerhoogste Bergheid, maak ons u gesante van Wolkheid
u proseliete van Herfs, u ab van Water
ons strek ons in aanbidding neer, o Somerappelkoosheid
ons lofprys die leefsuisende suurstofmantels van Sterlipsaligheid.

“Maar hierdie reeks is ook ’n diep hartseer treursang wat ’n dag van wraak aankondig oor die mens wat die aarde met sy hebsug verwoes.

Plunder is kortom ’n verruklike bundel. Dit is ryk en omvattend, gewaagd, intens maar ook teer, kreatief en aangrypend. Dit is intens polities en innig persoonlik, oordadig en onthutsend, maar ook subliem en vol skoonheid.”

Tydens ’n kuier by die Boekeplek en Kuierstoep in Garsfontein, Pretoria het Antjie aan die gehoor vertel dat Plunder die eerste van haar bundels is waarvoor sy eerste die titel gehad het: “Dis die enigste bundel van my waar ek by myself gedink het as ek ooit weer iets skryf, moet dit die titel wees.

“En die titel … die idee van plunder is dat ons almal eintlik daarvan beskuldig word dat ons plunder, wat sekerlik waar is. Maar dan word ons ook geplunder, ons lewe, ons lyf, ons herinneringe.

“En óns plunder. Ek plunder ander digters. Hierdie bundel is vol van die werk van digters vir wie ek lief is en vir wie ek bang is. Daar is byvoorbeeld die mooi frase van GA Watermeyer, ‘hings wat my oorkant ry’, en dit was vir my so mooi. En ek is so bang dit verdwyn net, so ek het dit hier ingewerk. Hier is Boerneef, ook Ingrid Jonker.” (Netwerk24, 25 Oktober 2022)

Alwyn Roux sluit sy resensie van Plunder op Netwerk24 só af: “Plunder is bewys van die meesterlike digterskap van Krog. Sy bou voort op temas uit haar omvangryke oeuvre, maar gee terselfdertyd vorm aan haar poëtika deur die tematiek opnuut in ’n hedendaagse tydvak uit te werk. Krog se digkuns is op soek na heling, ’n aardse taal wat vrese in die gesig staar.”

Met Krog se huldiging deur die Tuin van Digters in Oktober 2022 het Frieda van den Heever haar as volg oor Antjie Krog uitgespreek: “Ek kan nie my lewe as vrou, lover, ma, kunstenaar – of mens – indink sonder die Krog-digbundels as handboeke nie. Sy het die rare vermoë om die onvermoë van menswees uit te druk, om die dinge te uiter wat anderkant sê lê, om die eggo’s van die onweetlike te laat hoor en dit te laat tand in ’n sagte mede-wete. (…)

“Uit Antjie se gedigte vloei die hartroerendste woorde in Afrikaans, vanuit die rou materiaal van die lewe. Sy maak poësie van die dinge rondom haar. Die wilde vrou onder haar vel het my en vele ander al menigmaal deur haar woorde aangespoor om die lewe bloots te ry en ons gewys dat daar dinge is wat eenvoudig nie met handskoene aangepak word nie. Bo en behalwe die feit dat haar gedigte, artikels, toesprake en boeke my leer dink het, het haar werk dié voorstel aan my gerig: om lief te hê asof liefhê nie verlies is nie, asof my lewe daarvan afhang. ’n Mens word in haar werk opgeneem: Jy kan daar nie los van kom nie, want haar werk kry gestalte binne-in jou. Ek eer elke tree wat sy moes gee tot vandag, al die kere dat sy in haarself moes tuiskom, haar ook te buite moes gaan vir ander se onthalwe. Ek draai na Antjie Krog as ek keelvol is van teorie en tellings.” (Netwerk24, 8 Oktober 2022)

Oor skryf in die wêreld van vandag vertel Antjie aan Murray la Vita (Netwerk24, 21 Oktober 2022): “Net soos wat die [nuwe] tegnologie ’n groot uitdaging is, net so is die veranderde tye én die feit dat dit nie meer net heel bevoorregte mense is wat skryf nie. Mense met anderster soort lewens skrýf. En die wonderlikste vir my … die werklike stém van wat in Suid-Afrika aangaan, vind ek in Afrikaans van die skrywers van kleur omdat hulle naby aan grass roots is.

“Én hulle het die reg vir hulleself toegeëien om te skryf in die taal waarmee hulle intiem leef; en dit veroorsaak ’n ongelóóflike kragtigheid. Dit bring ánder temas in; dit bring ander strýde en goete in, en dit bring ’n ander soort táál in wat ek nie op hierdie stadium in Engels sien nie.”

En dan oor ouer word, haal sy Regardt van den Bergh aan wat toe hy Hollywood toe is op 70, gesê het: “Maar 70 is nog nie 90 nie!”

En sy gesels laggend verder met Murray la Vita: “Ek dink dit is só wonderlik! Elke week dink ek daaraan. 70 is wrágtig nog nie 90 nie! Jou oorlewingstrategieë wat jy as ’n mens aanleer van hoe om fiks te bly; hoe om ordentlik te slaap; hoe om te gaan stap … Net so het jy maniere wat jy aanleer in skryf – dat jy weet daar is sekere dinge wat jy nie meer kán doen nie, maar wat jy eintlik ook nie meer wil doen nie.

“Daar is ook sekere boeke en digters wat nié meer tot jou spreek nie, maar skielik begin ánder dinge met jou praat, veral mense wat kýk na oudword, want dit is ’n tyd van afgeskaaldheid, maar ook van sekere brandende perspektiewe.

“So, dis hierdie mengsel van nog altyd onhandig wees in die wêreld en met tye ’n gréép kry op dinge.”

Publikasies:

Publikasie

Dogter van Jefta

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1973
  • 1974
  • 1980
  • 1982

ISBN

  • 0798102632
  • 0798113537

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Frans; vertaal deur Georges Lory en opgeneem in die bundel Ni pillard, ni fuyard poèmes, 1969–2003 in 2004

Resensies en besprekings

  • Kannemeyer, JC: Verse vir die vraestel: Krog verlewendig taal met ratse woordkeuse. Beeld, 22 Oktober 1992

 

Publikasie

Januarie-suite

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1980

ISBN

079810211X

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Eugène Marais-prys 1973

Vertalings

Frans; vertaal deur Georges Lory en opgeneem in die bundel Ni pillard, ni fuyard poèmes, 1969–2003 in 2004

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Beminde Antarktika

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1980

ISBN

0798105860

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Reina Prinsen-Geerligsprys voor Zuid Afrika 1977

Vertalings

Frans; vertaal deur Georges Lory en opgeneem in die bundel Ni pillard, ni fuyard poèmes, 1969–2003 in 2004

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Mannin

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1980

ISBN

0798105879

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Reina Prinsen-Geerligsprys voor Zuid Afrika 1977

Vertalings

Frans; vertaal deur Georges Lory en opgeneem in die bundel Ni pillard, ni fuyard poèmes, 1969–2003 in 2004

Resensies en besprekings

  • Kannemeyer, JC: Verse vir die vraestel: Krog se “Klein vrede”. Beeld, 7 Mei 1992
  • Kannemeyer, JC: Verse vir die vraestel: ’n Lofsang oor die geboorte van ’n kind. Beeld, 5 Augustus 1993

 

Publikasie

Otters in bronslaai

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1983

ISBN

0798111739

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Frans; vertaal deur Georges Lory en opgeneem in die bundel Ni pillard, ni fuyard poèmes, 1969–2003 in 2004

Resensies en besprekings

  • Stander, Carina: Woorde om asem te haal. Die Burger, 28 Mei 2010

 

Publikasie

Eerste gedigte

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1990
  • 2004

ISBN

  • 0798117362
  • 0798127473 (sb)
  • 0798144599 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Mankepank en ander monsters

Publikasiedatum

  • 1985
  • 2011 (illustrasies deur Diek Grobler)

ISBN

  • 0620087706 (sb)
  • 9780624052562 (sb)

Uitgewer

  • Emmarentia: Minotaurus
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderpoësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

 Publikasie

Jerusalemgangers

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1986
  • 1992

ISBN

  • 079811939X
  • 07981130792 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Rapportprys 1987

Vertalings

Frans; vertaal deur Georges Lory en opgeneem in die bundel Ni pillard, ni fuyard poèmes, 1969–2003 in 2004

Resensies en besprekings

  • Nienaber-Luitingh, M: Sweepsiekes, swartes en kleindorpse blankes. Die Burger, 13 Maart 1986

 

Publikasie

Lady Anne

Publikasiedatum

  • 1989
  • 2004

ISBN

  • 0947046186 (sb)
  • 0798144475 (sb)

Uitgewer

  • Bramley: Taurus
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1990

Vertalings

Engels 2017 deur Bucknell University Press (Lady Anne: a chronicle in verse)

Resensies en besprekings

  • Antjie sê sy vát die prys. Beeld, 21 April 1990
  • Belangwekkende digbundel. Beeld, 18 Oktober 1989
  • Viljoen, Louise: Eietydse epos. Die Burger, 28 Desember 1989
  • Viljoen, Louise: Lady Anne

 

Publikasie

Voëls van anderste vere = Birds of a different feather = Iintaka zolunye usiba: gedigte vir kinders

Publikasiedatum

1992

ISBN

1874863059 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Buchu Books

Literêre vorm

Kinderpoësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

 Publikasie

Siklus

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132469

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Frans; vertaal deur Georges Lory en opgeneem in die bundel Ni pillard, ni fuyard poèmes, 1969–2003 in 2004

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Relaas van ’n moord

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798135107 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

  • Engels 2017 deur Bucknell University Press (Lady Anne: a chronicle in verse)
  • Frans; vertaal deur Georges Lory en opgeneem in die bundel Ni pillard, ni fuyard poèmes, 1969–2003 in 2004

Resensies en besprekings

  • Hambidge, Joan: Prosadebuut in uiterste pyn. Die Burger, 20 Desember 1995
  • Olivier, Fanie: Antjie moet liewer bly gedigte skryf. Beeld, 4 Maart 1996

 

Publikasie

Gedigte 1989–1995

Publikasiedatum

1995

ISBN

1874969124 (sb)

Uitgewer

Groenkloof: Hond

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Gouws, Tom: Kragtige, vernuwende poësie van Antjie Krog. Beeld, 1 April 1996
  • Viljoen, Louise: Verhaal van bevryding word vertel en gevier. Die Burger, 24 April 1996

 

Publikasie

Country of my skull

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2002

ISBN

  • 0958419515 (pbk)
  • 0958419566 (pbk)

Uitgewer

Johannesburg: Random House

Literêre vorm

Niefiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • Honourable mention Noma Award for Publishing in Africa 1999
  • Sunday Times/Alan Paton Award for Non-fiction 1999
  • South African Booksellers’ Choice Award 1999
  • Hiroshima Foundation for Peace and Culture Award 2000
  • Olive Schreiner Prize 2001

Vertalings

  • Word gepubliseer in Londen, Amerika, Milaan, Denemarke, Nederland
  • Frans; vertaal deur Georges Lory onder titel La douleur des mots in 2004

Resensies en besprekings

  • Blom, André: Krog deel WVK se dramas met radioluisteraars. Die Burger, 29 April 1998
  • Boshoff, Carel: Verstaan verlede – Krog kan Afrikaners help sin maak. Beeld, 29 Augustus 1998
  • Cilliers, Cecile: Wreed-eerlike verslag van digter-joernalis. Rapport, 17 Mei 1998
  • Coetzee, Carli: “They never wept, the men of my race”: Antjie Krog’s Country of my skull and the white South African signature. Journal of Southern African Studies, Desember 2001
  • Heyns, Christof: ’n Boek waarvan mens nie gou herstel nie. Beeld, 15 Junie 1998
  • Jordaan, Wilhelm: Ons kán meer wees as “Moermekaarlanders”. Beeld, 10 Junie 2002
  • Kok, Dirk: Soeke na waarheid. Volksblad, 14 Februarie 2000
  • Müller, Ampie: Emosies kry aangrypend gestalte. Die Burger, 27 Mei 1998
  • Nieuwoudt, Stephanie: Antjie Krog skryf oor die WVK. Beeld, 3 Februarie 1998
  • Nieuwoudt, Stephanie: Antjie moes haar boek skryf om ’n anker te vind. Die Burger, 13 Mei 1998
  • Nieuwoudt, Stephanie: WVK ’n storie anderkant woorde, sê Krog oor boek. Beeld, 28 April 1998
  • Pakendorf, Gunther: What if the truth is a woman? Reflections on Antjie Krog’s TRC report “Country of my skull”.
  • Vosloo, Robert R: Traumatic memory, representation and forgiveness: some remarks in conversation with Antjie Krog’s Country of my skull

 

Publikasie

Kleur kom nooit alleen nie

Publikasiedatum

2000

ISBN

0795701179 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Britz, Elretha: Proses van heelword belangrik in Krog-werk. Volksblad, 23 Oktober 2000
  • De Wet, Karen: Om die kleur van taal te kan agterhaal. OuLitNet, 2000
  • Nieuwoudt, Stephanie: “Met die bundel is alles vryer”. Beeld, 16 Oktober 2000
  • Odendaal, Bernard: Krog se kragtige digterstem ontroer intens. Volksblad, 27 November 2000
  • Olivier, Fanie: Antjie verwoord Afrika in skitterende stukke vers. Beeld, 27 November 2000
  • Snyman, Henning: Deernisvol en delikaat, tog onverskrokke, banaal. Rapport, 3 Desember 2000
  • Taljard, Marlies: Kleurvol hibried: Kleur kom nooit alleen nie en die talige ruimte van saambestaan. LitNet, 18 Augustus 2010
  • Van Vuuren, Helize: Krog bring gebrokenheid van die psige tot heling. Die Burger, 15 November 2000
  • Wasserman, Herman: Afrikaans vibreer van genade Krog. Die Burger, 26 Oktober 2000

 

Publikasie

Down to my last skin: poems

Publikasiedatum

2000

ISBN

0958419558 (pbk)

Uitgewer

Kaapstad: Random House

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

FNB-Vita Poetry Award

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Nel, Jo: Krog se intense verset in Engelse verse afwesig. Beeld, 19 Februarie 2001
  • Snyman, Henning: Haar Engelse poësie sterk Afrikaans gerig. Rapport, 3 Desember 2000

 

Publikasie

A change of tongue

Publikasiedatum

2003

ISBN

0958446849 (pbk)

Uitgewer

Johannesburg: Random House

Literêre vorm

Non-fiction

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

South African Booksellers’ Choice Award 2004

Vertalings

  • Ook in Afrikaans gepubliseer
  • Nederlands

Resensies en besprekings

  • Burger, Willie: Met ’n nuwe tong. Beeld, 20 Oktober 2003
  • Loots, Sonja: Die tong van transformasie. Rapport, 12 Oktober 2003
  • Murray, Jessica: “They can never write the landscapes out of their system”: engagements with the South African landscape. Gender, Place & Culture, 2011
  • Rossouw, Johan: Krog spieël wêreld, lewe. Die Burger, 17 November 2003
  • Smith, Francois: Wording van ’n digter. Die Burger, 29 Oktober 2003
  • Strauss, Helene: From Afrikaner to African: whiteness and the politics of translation in Antjie Krog’s A change of tongue. African identities, 2006
  • Van Niekerk, Anton: Merkwaardige intellektuele prestasie. Rapport, 23 November 2003
  • West, Mary & Van Vuuren, Helize: The universal sanctity of whiteness: Antjie Krog’s negotiation of black responses to white transformation in A change of tongue. Current writing, 2011

 

Publikasie

Die sterre sê “tsau”: Xam-gedigte in, Kweiten-ta-//ken, A!kúnta, Hankass’o en //Kabbo

Publikasiedatum

2004

ISBN

0795701748 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Vertaalde poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Ook in Engels gepubliseer

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Ryp, deurwinterde bundel. Rapport, 27 Junie 2004
  • Kloppers, Jacolette: Krog laat taal van eerste mense herleef. Volksblad, 17 Julie 2004
  • Oosthuizen, Mia: Krog se ster nog nie verskiet (OuLitNet)
  • Odendaal, Bernard: Boek gedenk verdwene kultuur. Volksblad, 3 Mei 2004
  • Pakendorf, Gunther: Krog terug na die elementêre. Die Burger, 5 Julie 2004
  • Visagie, Andries: /Xam-vertellers kry stem in Afrikaans. Beeld, 23 Augustus 2004

 

Publikasie

The stars say “tsau”

Publikasiedatum

2004

ISBN

0795701756 (pbk)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

  • Terselfdertyd in Afrikaans gepubliseer
  • Nederlands 2003

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

’n Ander tongval

Publikasiedatum

2005

ISBN

 062404209X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Niefiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Ook in Engels gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar

 

Publikasie

Verweerskrif

Publikasiedatum

2006

ISBN

1415200068 (sb)

Uitgewer

Roggebaai: Umuzi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Protea Poësieprys 2007

Vertalings

  • Body bereft terselfdertyd in Engels gepubliseer
  • Frans; vertaal deur Georges Lory en uitgegee in die bundel Une syllabe de sang in 2013

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Body bereft

Publikasiedatum

2006

ISBN

1415200122 (pbk)

Uitgewer

Roggebaai: Umuzi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Verweerskrif gelyktydig in Afrikaans gepubliseer

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Fynbosfeetjies

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781415200223 (hb)

Uitgewer

Roggebaai: Umuzi

Literêre vorm

Kinderpoësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Gus Ferguson 2007

Resensies en besprekings

  • Antjie Krog: Fynbos fairies launches at CTBF
  • Greeff, Rachelle: Wat deurnagdans met feetjievoete maak. Rapport, 16 Augustus 2007
  • Hugo, Daniel: Letterlik. Die Burger, 21 Julie 2007
  • Pople, Laetitia: Feetjieboek sieraad in beeld en klank. Die Burger, 9 Julie 2007

 

Publikasie

Digter wordende: ’n keur

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798149266 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  •  Frans; vertaal deur Georges Lory en uitgegee in bundel Une syllabe de sang in 2013

Vertalings

  • Digter wordende: ’n keur (Roekeloos)
  • Du Plooy, Heilna: Nuwe volgorde bied ander blik op Krog. Beeld, 7 Desember 2009
  • Hambidge, Joan: Antjie Krog – Digter wordende. Woorde wat weeg, 2 Februarie 2015

Resensies en besprekings

  • Digter wordende: ’n keur (Roekeloos)
  • Du Plooy, Heilna: Nuwe volgorde bied ander blik op Krog. Beeld, 7 Desember 2009
  • Hambidge, Joan: Antjie Krog – Digter wordende. Woorde wat weeg, 2 Februarie 2015

 

Publikasie

Begging to be black

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781770220706 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Random House Struik

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Kossew, Sue: Cross-cultural conversations: Antjie Krog’s life in Begging to be black. Life Writing, 2014
  • Krog ploeg met leser se kop in haar laaste werk. Die Burger, 3 Maart 2011
  • McGregor, Tony: “Begging to be black” – a review of the book by Antjie Krog. HubPages, 27 Maart 2011
  • Pienaar, Hans en Kozain, Rustum: Hoe swart kan wit dan word? Rapport, 26 Desember 2009
  • Pienaar, Hans en Kozain, Rustum: Review: Begging to be black. Groundwork
  • Upton, Jennifer: Vulnerable bodies in Antjie Korg’s Begging to be black. Current Writing, 2016

 

Publikasie

Skinned: selected poems

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781415203859 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Umuzi
  • New York: Seven Stories Press

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Conditional tense: memory and vocabulary after the South African Truth and Reconciliation Commission

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780857421746 (sb)

Uitgewer

  • Chicago: University of Chicago Press

Literêre vorm

Kultuurgeskiedenis

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Mede-wete / Synapse

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798167871 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • ATKV-Woordveertjie vir poësie 2015
  • Elisabeth Eybers-prys vir poësie 2015
  • Hertzogprys 2017

Vertalings

  • Engels 2014
  • Nederlands 2016; vertaal deur Albert Schaffer, Robert Dorsman en Jan van der Haar
  • Frans; vertaal deur Georges Lory en uitgegee in die bundel Une syllabe de sang in 2013

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Lady Anne: a chronicle in verse

Publikasiedatum

2017

ISBN

  • 9780798175180 (sb)
  • 9781611488159 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Lewisburg, Pennsylvania: Bucknell University Press

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Vertaal deur Antjie Krog uit Afrikaans

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Hoe alles hier verandert

Publikasiedatum

2018

ISBN

9789057599156 (sb)

Uitgewer

Amsterdam: Podium

Literêre vorm

Nie-fiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Vertaal deur Robert Dorsman

Resensies en besprekings

 

Publikasie

’n Vry vrou: gedigte van Antjie Krog. Saamgestel deur Karen de Wet

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780798180511 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

met die oog op môre: ’n versdrama

Publikasiedatum

2020

ISBN

9781485311256 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Versdrama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Plunder

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780798183178 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • UJ-prys 2023
  • Hertzogprys 2023
  • 2023 Pillage vertaal deur Karen Press kortlys vir UJ-prys vir literêre vertaling

Vertalings

Engels; Pillage, vertaal deur Karen Press in 2023

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Vetplantfeetjies. Saam met Ingrid Kok, met Fiona Moodie as illustreerder

Publikasiedatum

2022

ISBN

9781415210758

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Kinderverse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Antjie Krog as vertaler

  • Browning, Robert: Die rottevanger van Hameln. Pretoria: Daan Retief, 1989 [ISBN 0795920830]
  • Cilliers, Cecile: Xhosa-verse na Afrikaans met ’n swier. Beeld, 13 Maart 2003
  • De Wet, Karen: Krog steek ’n kers op “maak vi’ ons lig moer hierie woorde soes moet kerse”. Beeld, 17 Junie 2002
  • Dikeni, Sandile: ’n Bundel wat bekoor en bekeer. Rapport, 26 Mei 2002
  • Hambidge, Joan: Krog se vertaling net seekoei-oortjies. Beeld, 7 Desember 2002
  • Hough, Barrie
    • Boek vol pyn oor Tsafendas se lewe. Rapport, 11 Junie 2000
    • Roman wysig beeld van Tsafendas. Rapport, 9 April 2000
  • Jansen, Herman: Van Woerden buitestaander nes Tsafendas. Rapport, 27 November 2000
  • Kannemeyer, JC: Krog laat Medea práát. Die Burger, 24 Februarie 2003
  • Krog, Antjie
    • Gesoek: Afrikaans vir sy lang pad na vryheid. Beeld, 1 September 2001
    • Vertaling van Mandela-boek “’n unieke ervaring”. Volksblad, 5 September 2000
  • Lanoye, Tom: Mamma Medea: na Apollonios van Rhodos en Euripides. Kaapstad: Queillerie, 2002 [ISBN 0795800142 (sb)]
  • Mandela, Nelson: Lang pad na vryheid: die outobiografie van Nelson Mandela. Florida Hills: Vivlia, 2001 [ISBN 1868674983 (sb)]
  • Met woorde soos met kerse. Kaapstad: Kwela, 2002 [ISBN 0795701187] Algehele wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse vertaalwedstryd 2003
  • Nieuwoudt, Stephanie: Vertaling is altyd ’n vorm van verraad, maar hou taal soepel. Beeld¸13 September 2002
  • Odendaal, Bernard: “Regstellende” bloemlesing leersaam, noodsaaklik. Volksblad, 10 Junie 2002
  • Pakendorf, Gunther: Kerslig hier verdof deur ideologie. Die Burger, 19 Augustus 2002
  • Pakendorf, Harald: Die vermensliking van ’n sluipmoordenaar: die blootlê van ’n ontmenslikende stelsel. OuLitNet
  • Smith, Francois: Monsters en die mens se psige. Beeld, 2 Oktober 2002
  • Van Coller, HP: Lewe van Tsafendas knap beskryf. Volksblad, 27 Maart 2000
  • Van Woerden, Henk: Domein van glas. Kaapstad: Queillerie, 1999 [ISBN 0795800096 (sb)]
  • Venter, LS: Tsafendas-storie nou roman. Beeld, 29 Mei 2000
  • Wasserman, Herman
    • Boeiende verhaal uit doofpot gelig. Die Burger, 19 April 2000
    • Wasserman, Herman: Henk van Woerden wou Tsafendas se menslikheid behou in boek. Beeld, 31 Maart 2000

 Antjie Krog as samesteller

  • Cilliers, Cecile: Nuwe digterstemme ironiseer taal, klink goed op die oor. Die Burger, 22 Augustus 2005
  • Die dye trek die dye aan: verse oor lyflike liefde. Saamgestel deur Johann de Lange en Antjie Krog. Kaapstad: Human & Rousseau, 1998 [ISBN 0798135646 (sb)]
  • Hambidge, Joan
    • Jong digters wil breek met tradisie. Volksblad, 16 Mei 2005
    • Nuwe stemme: nog ’n mening. Rapport, 12 Junie 2005
  • Jordaan, Marenet: Krog en Schaffer laat “Nuwe stemme 3” praat. Die Burger, 2 April 2005
  • Joubert, Maureen: Dot se mense is taai en opreg. Die Burger, 20 Julie 1993
  • Losvoor: ’n versameling van Afrikaanse poësie. Saamgestel deur Antjie Krog. Pietermaritzburg: Shuter & Shooter, 1996 [ISBN 0796009473 (sb)]
  • Met woorde soos met kerse. Saamgestel deur Antjie Krog. Kaapstad: Kwela, 2002 [ISBN 0795701187 (sb)]. Algehele wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse vertaalwedstryd 2003.
  • Mixtape van die liefde. Pretoria: LAPA, 202009781776353590 (sb)
  • Nuwe stemme 3. Saamgestel deur Antjie Krog en Alfred Schaffer. Kaapstad: Tafelberg, 2005 [ISBN 062404288X (sb)]
  • Odendaal, Bernard: Erotiek en poësie lê lepel in tema-bundel. Volksblad, 16 November 1998
  • Olivier, Fanie: Al dié erotiese verse is glad nie op standaard. Rapport, 7 Maart 1999
  • Persverklaring: Mixtape van die liefde is Woensdag by die KKNK. LitNet, 30 Maart 2023
  • Pienaar, Hans: Doodloopstraat vir stemmige stemmetjies. Rapport, 5 Junie 2005
  • Pieterse, HJ: ’n Puik blik op verse van lyflike liefde in Afrikaans. Beeld, 23 November 1998
  • Samuel, Susan: My ouma Dot dra blou velskoene. Volksblad, 15 Augustus 2005
  • Serfontein, Dot: Deurloop: keur uit die essays van Dot Serfontein. Saamgestel deur Antjie Krog. Kaapstad: Human & Rousseau, 1992 [ISBN 0798129808 (sb)]
  • This is my land/ saam met Meg van de Merwe en Sindiwe Magona. Kaapstad: Universiteit van Wes-Kaap, 2012
  • Tomlinson, Karen: Mixtape van die liefde kan die vreugde van gedigte vir tieners oopsluit. LitNet, 5 Augustus 2022
  • Van Vuuren, Helize: Veelvoud stemme te hoor in boeiende bloemlesing. Die Burger, 17 Februarie 1999
  • Visagie, Andries: Digters, maar nie profete. Beeld, 20 Junie 2005
  • Wybenga, Gretel: Dot se essays ’n genoeglike leeservaring. Beeld, 15 Februarie 1993

 Werke oor Antjie Krog

  • Adlam, Elizabeth Kollman: Antjie Krog: an ethics of body and otherness (review). Life writing, 2016
  • Conradie, Pieter: Geslagtelikheid in die Antjie Krog-teks. Rondebosch: P Conradie, 1997 [ISBN 0620 20719 1 (sb)]
  • Coullie, Judith Lütge & Visagie, Andries, red.: Antjie Krog: an ethics of body and otherness. Pietermaritzburg: University of KwaZulu Press, 2014 [ISBN 9781869142537 (sb)]
  • Daymond, MJ: Antjie Krog: an ethics of body and otherness (review). Transformation, 2015
  • De Vries, Izak: Antjie Krog: an ethics of body and otherness, saamgestel deur Judith Lütge Collie en Andries Visagie. LitNet, 25 Junie 2014
  • Garman, Anthea: Antjie Krog and the post-apartheid public sphere: speaking poetry to power. Pietermaritzburg: UKZN Press, 2015
  • Hambidge, Joan
  • Olivier, Fanie: Boeiende, insiggewende studie oor die werk van Antjie Krog. Beeld, 16 Junie 1997
  • Van Heerden, Chantelle Gray: An ethics of body and otherness
  • Van Niekerk, Jacomien: baie worde: identiteit en transformasie by Antjie Krog. Pretoria: Van Schaik, 2016. [ISBN 9780627035302 (sb)]
  • Viljoen, Louise: Ons ongehoorde soort: beskouings oor die werk van Antjie Krog. Stellenbosch: Sun Press, 2009 [ISBN 9781920109981 (sb)

 LitNet Akademies-artikels

LitNet Akademies-artikels

 Keur van artikels oor Antjie Krog

 Gedigte van Antjie Krog

 Artikels deur Antjie Krog

 Plagiaat-debat op LitNet na aanleiding van Stephen Watson se aantygings in New Contrast

Antjie Krog se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2017-07-25 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 2

Kommentaar

  • Sulaiman Martheze

    Dear Antjie - Congratulations on being awarded the Gouden Ganseveer. You richly deserve the honour. Thank you for highlighting the contributions of slaves from Indonesia to the Afrikaans language, a language which Apartheid stigmatised forever in the minds of 'non-whites' of this country. Like "Oom Bey" you were destined for humanistic stardom.
    Best

  • Indrukwekkend tekst oor Antjie. Maar wat van die vertaling van haar werk in Frans, "Country of my Skull" en twee bundels van haar gedigte?
    Alors, Mme Terblanche, on oublie de mentionner la langue de ses ancêtres?
    Cordialement.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top