Woordfees-onderhoud:Diek Grobler gesels met Bibi Slippers oor die illustrasie van Mankepank en ander verse

  • 0

Titel: Mankepank en ander verse
Antjie Krog en Diek Grobler
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624052562
Prys: R153.95

Klik hier om Mankepank te koop by Kalahari.com.

Diek, Mankepank en ander verse is nie jou eerste kreatiewe samewerking met ’n digter nie. Jou animasie-video’s van Danie Marais se gedigte is nog ’n voorbeeld. Is daar ook ander? Het jy ’n spesifieke voorliefde vir die digkuns, of is dit eerder selektiewe collaborations in gevalle waar die werk jou aantrek?

Elke geval is uniek – ek het nie ’n spesifieke passie vir poësie nie. Ek het wel ’n passie vir die goeie gebruik van woorde (ek het al projekte van die hand gewys omdat ek nie by die skryfstyl en taalgebruik aanklank kon vind nie). Ook prosa kan ek aangrypend mooi vind, terwyl ek baie gedigte vervelig vind. Nie alle poësie vra om visuele interpretasie nie. Soms sou ’n prentjie afbreuk doen aan die impak van woorde.

Wat Mankepank betref: Wie sou ’n geleentheid laat verbygaan om met Antjie Krog saam ’n boek te doen? Ek sou egter nooit Country of my Skull wou illustreer nie.

Is daar spesifieke prenteboeke en storieboeke uit jou kindertyd wat jy onthou, en het hierdie boeke enige invloed gehad op jou keuse van beroep?

Mokka en die maanmuis. Ek kan glad nie onthou wie dit geskryf of geïllustreer het nie. My half-Nederlandse nefies het baie Donald Duck comics gehad wat my as kind mateloos geïnspireer het. Ek dink dat die kinderboeke wat ek gelees het, my wel beïnvloed het, want dit was die kuns waaraan ek blootgestel was. Dit het my geïnspireer om self te teken. Ek dink daarom dat goeie kinderboekillustrasies belangrik is, omdat dit ’n mens se estetiese belewenis vorm.

Om aan te sluit by die vorige vraag: Voel jy as illustreerder jy het ’n mate van verantwoordelikheid ten opsigte van jong lesers se estetiese ontwikkeling? Dit is vir my opvallend dat jou illustrasies nie noodwendig die "mooi prentjie"-benadering van baie ander illustreerders volg nie, maar ’n meer uitdagende estetika opdis. Is dit ’n doelbewuste besluit, of kom dit van nature?

Dit kom van nature. Ek is allergies vir niksseggende mooi prentjies. Ook vir voorskriftelike illustrasies wat niks aan die leser se verbeelding oorlaat nie. Ek voel ’n goeie illustrasie lewer ’n bydrae tot die teks, dit volg nie net die teks klakkeloos na nie. Dit moet die leser aan die dink sit oor wat in die teks aangaan, en hy/sy moet aan die hand van leidrade in die illustrasie op die storie kan voortborduur. Sommige uitgewers voel dat so ’n benadering te gesofistikeerd is vir ’n kindergehoor (en vernaamlik ’n Afrikaanse kindergehoor). Vir sulke uitgewers is ek ook allergies.

Is daar ’n spesifieke proses wat jy volg wanneer jy ’n bladsy in ’n kinderboek illustreer? Het die skrywer enige insae in die finale illustrasies, of word dit totaal aan jou oorgelaat om die verse te interpreteer en te besluit watter visuele elemente om uit te lig?

Ek is gelukkig al op ’n stadium in my loopbaan waar beide die skrywer en die uitgewer my in ’n groot mate vrye teuels gee. Soms is daar voorstelle of voorkeure wat in ag geneem word, en ek sal altyd die skrywer se wense respekteer, tensy dit teen my beter wete indruis. My naam staan op stuk van sake ook op die omslag van die boek. Toe ek jonger was, het ek met skrywers te doen gekry wat alles, tot die motief op die muurpapier in die illustrasies, wou dikteer. Ek sal geen name noem nie, maar dit was in elk geval nie iemand wat enigiemand sal onthou nie.

Ek was mal oor die verleidelike teksture van die illustrasies in Mankepank - dis vir my amper asof dit as bindingselement optree in die boek, waar daar nie deurlopende karakters of een storielyn is nie. Hoe gaan jy te werk om hierdie effekte te skep?

Dis nou die boer die kuns afvra. Maar jy het ’n punt beet. Dit het my baie lank gevat om die “look” van die boek te vind. Die teks het ’n “gewigtigheid” wat ek visueel moes probeer troef. Die geaardheid van my krapbordtekeninge was vir my die naaste aan Antjie se teks; ek het die illustrasies digitaal geskep deur foto’s van my tekeninge te manipuleer en nuwe beelde daaruit te skep. Soos ’n tipe collage: ek het bestaande prente opgeknip, geherrangskik, kleur gegee en ’n nuwe prent daaruit saamgestel. Daar is dus moontlik ’n stukkie van ’n enkele prent wat in elke illustrasie in die boek mag voorkom. Ek is nie seker dat dit wel so is nie, maar die moontlikheid is groot.

Is dit moeilik om ’n boek soos Mankepank te illustreer wat reeds deur ’n vorige illustreerder verbeeld is? Was jy bekend met die illustrasies in die oorspronklike uitgawe, en het dit enige effek gehad op hoe jy die projek benader het?

Nee, dit was nie moeilik nie. Ek was bekend met die vorige uitgawe, maar het dit nie weer bestudeer nie. Ek het bloot na die teks gekyk en dit so goed as moontlik vertolk. My benadering in my kuns is baie anders as dié van Hannetjie de Clercq en die boek is in ’n ander tyd (polities en kultureel) geskep, en dit kan mens wel sien aan die illustrasies.

Glo jy in die toekoms van boeke of dink jy dat nuwe tegnologie die tradisionele boek gaan vervang? Vir animasiekunstenaars bied leestoestelle soos die Kindle en iPad seker eintlik interessante moontlikhede wat uitgewers en kunstenaars kan ontgin: ek verbeel my byvoorbeeld nou ’n weergawe van Mankepank vir die iPad waar Antjie die gedigte voorlees oor jou kenmerkende animasievideo's. Dit maak dat ek weer vyf wil wees ...

Ek hou van boeke, en hoop dat boeke nie sal verdwyn nie. Die moontlikhede en uitdagings van die nuwe tegnologie is egter ook opwindend. Daar is sprake van ’n Mankepank-e-boek, maar koste is ’n oorweging. Animasie is tydrowend en dus duur. Op die ou einde gaan alles mos maar oor geld.

Het jy ’n gunsteling-gedig/-illustrasie in Mankepank?

’n Hele paar kom dadelik op. Soos die illustrasie van Mankepank self: net ’n deel van die ou mensvreter wys, sodat die kind hom die res van die gruwel moet verbeel. Ek hou ook van die een waar die seuntjie en sy hond spook speel onder ’n laken, tot die verstomming van die werklike dwaalgeeste. Tokkelossie is ook lekker, al het Antjie gemeen hy is te klein en lyk na ’n teddiebeer. Ek wou hom aspris klein in die mielieland wys. Ek dink ’n klein monster wat ’n mens amper nie kan sien nie, is baie meer skrikwekkend as ’n groot, sigbare een.

Is daar enige van die jonger-generasie illustreerders wat jou beïndruk?

Dit is moeilik om regtig te sê. Omdat goeie illustrasiewerk so skaars is en ek nie met opleiding van illustreerders te doen het nie, weet mens dikwels nie wie die jonger generasie is voordat hulle oor dertig is nie. Ek wens daar was ’n meer sigbare platform vir jonger illustreerders. Marli Heunis het geweldig potensiaal, maar het helaas nog nie die geleentheid gekry om ’n werklike boek te doen nie.

Waaraan werk jy op die oomblik?

Ek werk op die oomblik, soos maar altyd, aan verskillende projekte tegelyk. Ek is hierdie jaar een van die feeskunstenaars by Inniebos Kunstefees, en moet ’n stapel nuwe werk daarvoor maak. Dan is ek ook besig met ’n tweede animasiefilm van een van my broer Piet se boeke: Net een Slukkie Padda. Ek is ook besig om ’n animasie-kinderreeks te ontwikkel, geskoei op die Uit die bloute-animasiereeks wat ons in 2010 vir kykNET geskep het. Jy het in ’n ander onderhoud gevra wat my day job is: skilder, beeldhouer, illustreerder, animasiekunstenaar, filmvervaardiger, animasieregisseur, ens. Op die ou end tel hulle almal saam seker as ’n “real job”.

 

 

Mankepank by die Woordfees!

Mankepank en ander verse
Met Antjie Krog en Diek Grobler

Hierdie allermooiste Tafelberg-produk is ’n keur van nuwe, sowel as voorheen gepubliseerde verse deur Antjie Krog. Sy vertel die storie van Mankepank, die pad wat die gedigte van 1985 tot nou geloop het, en lees verse voor. Soos net sy kan! Diek Grobler se illustrasies vir die boek word vertoon. Hy gesels oor sy benadering tot die projek, die uitdagings daaraan verbonde en die kunsvorme wat hy gebruik het.

 

10 Maart 17:00 | Boektent | 50min | R40

Klik hier vir die volledige Woordfees-program.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top