SA-illustreerders: Diek Grobler

  • 0

Naam: Diek Grobler
’n Skrikkel, deur Diek Grobler
Wat is jou day job?

Ek verstaan nie die vraag nie. As ek gaan skryf “kunstenaar”, gaan jy vra: “Nee, maar wat doen jy regtig? Ek bedoel om aan die lewe te bly?”

Pubikasies: Woerts in die hoekie deur Hennie Aucamp.
Die Klits Kronkel-boeke van Fanie Viljoen.
Harlekyn deur Jaco Jacobs.
( Daar is nog ’n  klomp, maar dit gaan vervelig raak.)

In watter medium werk jy die graagste, en waarom verkies jy die spesifieke medium?

Elke medium het sy eie spesifieke sjarme. Wanneer ek illustreer, dikteer die teks watter gevoel ek in die illustrasies moet verkry, en dit beinvloed my keuse van medium. Net akrielverf sjarmeer my glad nie.

Is daar spesifieke genres of tipes tekste wat jy die graagste illustreer?

Kinderboeke wat die verbeelding aangryp. Nie die pedantiese hiperrealistiese soort wat sommige grootmense dink nuttig is om kinders mee ’n les te leer nie.

Wie is jou illustrasie-helde? Is daar ander illustreerders wat jou ontwikkeling as illustreerder en jou styl beïnvloed het?

Ek is per toeval ’n illustreerder. Ek het daarop afgekom in die loop van my loopbaan as kunstenaar, en omdat my kuns narratief van aard is, was illustrasie vir my ’n natuurlike verlenging van my artistieke aktiwiteite. Ek is dus nie deur iemand daartoe geïnspireer nie, en hang in die reël nie vreeslik helde van enige aard aan nie. Ek bewonder wel die werk van Wolf Erlbruch, Shaun Tan, en natuurlik Piet Grobler.

Lees jy graag, en indien wel, wie is jou gunsteling-skrywers?

Lewis Carrol, AA Milne en Antoine de Saint Exupery. Ek lees hulle minstens een maal per jaar weer deur.

Wat is die een bestaande teks wat jy die heel graagste sou wou illustreer?

The hunting of the Snark deur Lewis Carrol.

Saam met watter skrywer, lewend of dood, sou jy die graagste wou werk, en waaroor sou die fiksionele boek handel waaraan julle werk?

Ek sou verkies om saam met ’n lewende skrywer saam te werk, anders moet ek in elk geval alles self doen. Dalk met Deborah Steinmair, of Fransi Phillips. Dit sou gaan oor wraak op ’n kleinsielige mens, soos ’n inhalige kapitalis of ’n selfgesentreerde politikus. Dit sal eindig met ’n moord. Die perfekte moord waarmee die held(in) wegkom. Ek dink die moordwapen sal ’n bykans nuwe teflonpan wees. (Vanweë die onderwerp sal dit natuurlik ’n prenteboek vir volwassenes wees.)

Het jy ’n ideale leser/gehoor in gedagte wanneer jy ’n illustrasie maak?

Nee.

Illustrasies deur Diek Grobler:

Lees Bibi Slippers se onderhoud met Diek Grobler oor Mankepank en ander verse hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top