Koos Oosthuysen (1933–2021): Vertaler van veelvoud

  • 3

Koos Oosthuysen het in die Xhosa-medium sendingskool by Isilimela leer lees en skryf, en voorts ’n BA Hons in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, ’n meestersgraad in teologie aan Yale in die VSA en ’n PhD in Afrikatale aan Rhodes-universiteit. Hy het ’n gegradeerde Xhosa-grammatika geskryf, en was betrokke by die vertaling van kerkliedere en die 1996-Xhosa-bybel.

Op 26 Augustus 2021 is Koos Oosthuysen oorlede. Antjie Krog bring hulde aan hom.

Koos Oosthuysen (Foto: verskaf)

In mý vertalingkop is Koos Oosthuysen die laaste van die heel grotes. Daar bestaan nie meer iemand op aarde wat só na Afrikaans kan vertaal nie. Omdat hy betrokke was by Bybelvertaling, het hy die tegnieke wat gebruik word in die vertaling van Grieks en Hebreeus, toegepas in sy vertaling van Xhosa. Hy sou ’n enkele woord opbreek in sy stam, sy huidige vervorming in die sin sowel as sy letterlike, figuurlike en idiomatiese betekenis en so die magtige rykdom wat in die inheemse tale verskuil lê, boontoe ploeg. Voeg daarby dat hy dit dan in ’n ongelooflik diepgaande en kragtige Afrikaans kon aanbied en jy het ’n droom van ’n vertaler.

Toe ek destyds die vertaalprojek van gedigte uit inheemse tale na Afrikaans aanpak (Met woorde soos met kerse, 2002), was die aanvanklike plan dat ek met die vertalingspan wat ek in die parlement leer ken het, sal saamwerk. Annari van der Merwe van Kwela was geesdriftig en kon ’n begrotinkie bymekaarskraap, maar reeds met die eerste vertaalsessies was dit duidelik dat daar groot probleme was. Die gedigte was dikwels in ’n taal wat beskryf is as onvertaalbare klassieke “deep Xhosa”, terwyl die werk van iemand soos Mqhayi ook ’n ortografie gebruik wat niemand meer kon lees nie. Buitendien was Mqhayi beroemd as ’n digter wat dikwels sy eie woorde gemaak het uit klanke wat diep gebed was in die landelike wêreld van die Oos-Kaap. Ook was die meeste van die boeke waarin die gedigte verskyn het, jare lank al nie meer beskikbaar nie.

Toe land ons by die Vertaalburo. Maar na ’n buitensporige rekening vir ’n redelik karige Engelse vertaling van ’n kort gedig was dit duidelik nie ’n opsie nie. Ons was gereed om handdoek in te gooi toe Erika Oosthuysen, wat op daardie stadium ook by Kwela gewerk het, vriendelik, byna ligweg sê: “Jy kan dalk my pa vra; hy was betrokke by die Bybelvertaling in Xhosa.” Ek het ’n paar gedigte aan die afgetrede dominee, Koos Oosthuysen, gestuur en hom ’n paar dae later besoek.

Met ’n sagte uitsig op die stil mere by Noordstrand het ons begin werk aan ’n teks, en toe gebeur die magiese moment: “Hierdie woord beteken ‘julle wit mense’,” sê hy, “maar letterlik beteken dit: ‘julle met die rooi pense’, en as jy nou bewus is van die idiomatiese gebruik, dan beteken dit dat die pense rooi is van komplotte en agteraf planne.”

En daar was dit: die opbreek van die woord self in sy letterlike en figuurlike betekenis, ’n hermeneutika wat die een metafoor na die ander moontlik maak; en so het Koos my ingelei in ’n wonderwêreld van benoeming. Hoe ons wit mense aanvanklik net fisiek beskryf is: Hulle-deur-wie-se-oë-die-wind-waai, Hulle-deur-wie-se-ore-die-son-skyn, Hulle-wie-se-neuse-’n-skaduwee-gooi, Visvreters / Hulle-wat-lispel (Engelse). En later is ons wese gepeil: Hulle-wat-nie-weet-hoe-om-te-deel-nie, Hulle-wat-met-ander-praat-asof-hulle-vuil-wasgoed-is, Vertrappers, Rooibaarde, Fonteinvuilmakers.

Die eerste gedig wat ons aangepak het, was die beroemde vers van Mqhayi waarin hy die Prins van Wallis “prys”. Die gedig was goed bekend in sy geroemde Engelse vertaling van Robert Kavanagh en ZS Qangule. Hier onder is ’n voorbeeld van Koos se indrukwekkende vermoë om ’n veel voller lading aan te bied:

30. Here comes the boy of the raw dung, the old dung of royal descent.

30. Hier kom die ster van die heel oudste mis onder in die kraal (die mis van die eerste beeste van die stoet, maw die mis van die beste en adellikste)

31. Here he comes in plumes and in feathers.

31. Hier kom hy met die ringkoppluime van ’n bloukraanvoël;

32. Here he comes decked in finery, wearing the grass of the initiates.

32. Hier kom hy met ’n halssnoer van rare veelkleurige krale, selfs rooi vere vir dapperheid;

33. Here he comes beautifully attired, resplendent and bejeweled.

33. En die sagte velskort van ’n duikerlam;

34. Here he comes in scent and fragrance,

34. Hy ruik na geurige kruie, die parfuum van hoofmanne;

35. in mint and grass necklaces

35. Hy ruik na kruisement en die lekkerruikgras van gevlegte armbande;

36. Smelling of the sacred tambuti.

36. Hy ruik na aromatiese struike en tambotie.

37. Here he comes with the virtue of the leopard, the lion,

37. Hier kom hy, verfyning straal uit hom uit (sy gesig met wit en swart vlekke versier)

38. Here he comes in raiment and fine robes.

38. Hy loop netjies op sy tone soos ’n luiperd.

So sal Koos dan verduidelik dat daar by die 60 Xhosawoorde is vir “loop”, omdat ’n mens soms van ver af aan iemand se loop moet aflei hoe die persoon voel, wie dit is, watse nuus gebring word, wat gesoek word, en of gevaar dreig.

Koos het my in kontak met die Bybelvertalingvereniging gesit en so het ek kennis gemaak met ’n opsygeskuifde groep begenadigdes. Die briljante akademiese werk Of revelation and revolution: Christianity, colonialism and consciousness in South Africa, Volume 1) van Jean en John Comaroff het pas verskyn waarin die vernietigingswerk wat sendelinge verrig het deur middel van die optekening en Bybelvertalings van die inheemse tale, in besonderhede uiteengesit word. Die sendelinge en Bybelvertalers was beslis personae non gratae – geen werk kan ernstig opgeneem word as hulle daarby betrokke is nie.

Maar Koos se aangrypende vertalings het die deurslag gegee en so het professore Koos van Rooy (Venda), Van Dyk (Zoeloe), Murray Louw (Noord-Sotho) en Andries Odendaal (Sesotho) deel van die vertaalprojek geword. Soos Koos het baie van hulle in die inheemse gemeenskappe grootgeword; hulle studeerkamers was gevul met ekstensiewe dokumentasie, onverkrygbare boeke, woordeboeke en onverbeterlike kontakte met moedertaalsprekers met wie lang rukke gekonsulteer is om die presiese aard van ’n woord vas te stel. Soos by Koos, as mens by hulle aftreehuise aankom in Hermanus, Polokwane, Harrismith en Louis Trichardt, dan lê die tekste gereed op die tafel, netjies langs die woordeboeke, en in ou kladskrifte of antwoordstelle is die vertaling reeds gedoen, gekontroleer, uitgebrei, alles met die hand neergeskryf. Dit alles sonder ’n enkele sent betaling.

Op ’n dag kontak Koos my: Ons moet ’n voordrag van Xhosa en Afrikaans by een of ander geleentheid gaan doen. En so leer ek ’n ander kant van Koos ken: Hy kan voordra met die keelstem van ’n imbongi, beskryf as die “stentorian voice with sliding downdrifts and identifiable breathgroups”. Koos kry my om hom so goed moontlik na te maak, wat toe ’n wonderlike nuwe invloed op die Afrikaans het wat nou soos Xhosa moet klink. Dit was altyd heerlike oomblikke om binne die energie van Koos op plekke in mensself uit te kom wat net deur hom moontlik gemaak is.

Koos Oosthuysen en Antjie Krog lees voor by Versindaba 2010. (Foto: Retha Ferguson)

Nooit sal ek die dag vergeet toe ons in Stellenbosch opgetree het en daar ’n swart meisie agterna op hom afstorm en hom aan die bors gryp nie: “I can’t believe this! I close my eyes and I am in Idutywa, the voice is black; when I open my eyes, it is a white man.I am shivering, I cannot stand that!”

Toe ek die Poësiefeeste by Spier begin aanbied, was Koos ’n absolute moet, want mens het toe reeds besef dat iimbongi eintlik net as tradisionele oulikgeid beskou word en dit wat hulle sê, glad nie as van belang gereken word nie. Daar kort dus iemand om die iimbongi op die fees te vertaal. Toe verrig Koos die absolute onmoontlike: Met ’n mikrofoon in die hand gestop vertaal hy terwyl die imbongi bonga. Dit vat gewoonlik ure om imbongifrases te ontleed, maar Koos was wragtig in staat om ’n begrip van wat gesê word, oor te dra. Daarby het hy vir my gedigte uit Nederlands en Afrikaans in Xhosa vertaal sodat ons die Spierfees gelyktydig in drie tale kon aanbied – iets wat eintlik nog nooit weer in die land gebeur het nie.

Talle akademici het by Koos kom raad skep, van prof Peter McDonald in Oxford tot prof Russel Kaschula:

I remember Tat' uKoos walking into my office at Rhodes carrying a manuscript. We chatted about it and he registered for his PhD. Within the record time of a year and with special concessions from the Senate his degree was awarded. Koos then became my first post-doctoral student under my NRF Chair at Rhodes when he turned 80 years old (as I recall). During this time the PhD thesis was converted into a book and also translated into Xhosa. Koos was a wonderful person, a great intellect to have in the School of Languages and in our African Language Studies Section where he fitted in perfectly with colleagues. We attended conferences together and he continued to publish. He also generously left me with a first edition of Kropf's 1915 dictionary (together with a handwritten note dated 5th April 2013) which I will always cherish. Koos was a kind and generous man and he has left us as a Xhosa community with his books and intellectual legacy. Your laughter, passion and compassion as well as your questioning intellect will be missed. Lala ngoxolo Tata Koos.

Die Waarheid-en-versoeningskommissie is op ’n stadium beskuldig dat hulle doelbewus die Xhosa-woord “vergifnis” vir “versoening” gebruik het, maw dit was die Waarheid-en-vergifniskommissie wat dus druk op Xhosasprekers uitgeoefen het om vergifnis te gee. Koos het vir my die volgende verduideliking gestuur:

noxelelwaniso is die Xhosa-weergawe van “en versoening”. Die no- bestaan uit die konnektiewe na- (en, saam met) plus die voorvoegsel u-van uxolelwaniso (versoening), wat soos die naamwoord uxolo (vrede; ekskuus!) afgelei is van die werkwoord ukuxola (om tevrede te raak), wat merendeels in die voltooide tyd [-xolile (is tevrede)] en die applikatiewe vorm ukuxolela (om te vergewe) gebruik word. Wanneer ukuxolela nou verder met die passiewe verlengingsmorfeem -w-, die resiprokale verlengingsmorfeem -an- en die kousatiewe verlengingsmorfeem -is- verleng word, gee dit die werkwoord ukuxolelwanisa (om te veroorsaak dat mekaar vergewe word, maw om te versoen. Hiervan word die naamwoord uxolelwaniso (versoening) afgelei.

Vir my tweede groot vertaalprojek uit die inheemse tale was Koos die vanselfsprekende keuse vir die gedigte waar hy met die digter Gabeba Baderoon saamgewerk het om die pragtige vertalings in Engels te maak (Stitching a whirlwind, 2018). Ek was bekommerd of ’n jong Moslem-meisie saam met ’n bejaarde wit Christen-man kan saamwerk oor ’n Xhosa-gedig, maar op ’n dag sien ek hoe sy vir hom haar pasverskene boek, Regarding Muslims: from slavery to post-apartheid, present gee. Op sy sterfbed het hy so mooi van haar gepraat en sy het ’n roerende boodskap vir hom uit Amerika gestuur.

Hier is die aanvanklike vertaalspan:

Van links, voor: Johan Lenake (Sesotho), Stephen Masote (Setswana), Fred Khumalo (Zoeloe), Seleka Thembane (Sepedi), Thoko Mabeqa (Xhosa). Agter: Antjie Krog (koördineerder), Nankajani Sibiya (Zoeloe), Lucy Ndlovu (Sepedi), Tsepiso Mothibi (Sesotho), Nkosinathi Sithole (Zoeloe), Xwayani Gama, student, Koos Oosthuyzen (Xhosa). Afwesig: Sindiwe Magona. (Foto: verskaf)

Koos het, soms ten spyte van groot pyn en ongerief, altyd blymoedig deelgeneem met die takt van iemand wat aanvaar dat sy enorme vermoëns niks wil oordonder nie, en het selfs jong Xhosa-digters met vertaling bygestaan sodat die volle potensiaal van hulle gedigte hulle in staat kon stel om aan literêre feeste te begin deelneem. Hier onder is hy saam met imbongi Bonke Xakatha.

(Foto: verskaf)

Toe ’n Franse poësiefeeskomitee vra of ek ’n imbongi kan aanbeveel, moes ons skriftelike tekste stuur. Die imbongi se eie vertaling was so flou dat die fees die aansoek wou terugtrek. Weer eens was Koos bereid en het toe hierdie wonderlike deeglike teks vol verwysing, bevraagtekening, erkenning en ontdekking aangebied wat gebruik kon word en ja, natuurlik is imbongi Bulelani Zantsi Frankryk toe!

Oor Koos treur ek soos ’n mens wat skielik voor ’n toe deur na hierdie land te staan kom. Mooi loop, my vriend.

Bulelani Zantsi (verskaf)

Vertaling van Bulelani Zantsi se “Iimbongi zakwantu”
(Met die vriendelike vergunning van Bulelani Zantsi)

IiMbongi zakwaNtu

Die prysdigters van die Huis van Ntu
[of “SiNtu-digters” – die B-woord is seker te polities inkorrek om te gebruik]

Awu! Ndiqale ngaliphi na, makwedini?

Awu! Met watter [woord] sal ek begin, julle kwediens?
[makwedini: In Xhosaland is dit baie belangrik of jy ’n onbesnede seun (inkwenkwe) of ’n man (indoda) is, wat stamskool toe was en besny is. Die aanspreekvorm nkwenkwe hoor mens nooit. Die vokatiewe suffiks ‑ndini word bygevoeg en nkwenkwendini dan verkort tot kwedini. (In ons onkunde maak Afrikaanssprekendes van hierdie vokatief die nominatief kwedien.) Die uitgang ‑ndini voeg ’n element van emosie by die vokatief, óf van familiariteit óf aangetrokkenheid, of van neerhaling. Wat kwedini betref is dit gewoonlik laasgenoemde – die man beklemtoon sy status as man teenoor die seun se japsnoetgeit. Hier meen ek spreek die digter sy toehoorders as makwedini aan om gemoedelikheid te bevorder.]

Ndithi makhe ndiyiloze ndibhexesh’ amaxethuka

Ek sê/dink ek moet ’n slag vals sing en dryf/dirigeer [soos in osse dryf of ’n koor dirigeer] die ruwe/gebroke/opdraand landskap. [ndibhexesh’ amaxethuka kry nou die digter aan die gang met x-klaplank-alliterasie in die volgende drie reëls.]

ndixongx’ iilwimi ngoba ndixelel’ abaxongxi besiXhosa

en vorm/vervaardig (soos uit klei vorm) [ek vermoed dit is wat hy bedoel – The Greater Dictionary of Xhosa (GDX – waarvan ongelukkig nog net deel drie van Q tot Z beskikbaar is) ken net ukuxonxa vir formeer en nie ukuxongxa nie] tonge / tale want ek deel mee aan die formeerders van Xhosa

ndaxel’ inxanxad’ intak’ eneengxak’ ezingxakangxaka

soos die laksman, ’n voël met moeilikhede/bedrywighede wat uitgebreid (ngxakangxaka) is [ngxakangxaka is aan my onbekend en ook nie in Kropf se woordeboek nie – navraag het aan die lig gebring dat dit “breed / baie uitgebreid” beteken]

suka ndaxananaza ndaxel’ amaphiko exhalanga.

en ek het omvangryk begin werk soos die vlerke van ’n aasvoël.

Antjie: Ja, vriende, wat sal ek sê?
Laat ek dit waag om ruwe terrein te betree
en taal skep soos die skeppers van Xhosa,
so bedrywig soos ’n dreigende laksmanvoël,
so omvangryk soos die vleuels van ’n roofvoël.

Ndicel’ inzol’, iyanxakam’ eyaseXhalang’ imbongi.

Ek vra stilte, die prysdigter van Xhalanga (Aasvoël – as ek dit reg het ’n berg naby Indwe in die Oos-Kaap) blêr (soos ’n kalf).

Imingqandandan’ ebikad’ igqutsuba makhe ithi nqwadalala

Die ou paartjies [imingqandandana kom nie in Kropf voor nie – volgens wat ek gehoor het, dui dit op nietige voorwerpe van ’n lae getal] wat lank reeds soos uitgeteerde vee lyk [igqutsuba is ’n werkwoord, ek ken net die naamwoord imigqutsuba wat maer uitgeteerde beeste beskryf, soos dié waarvan Farao gedroom het – Kropf noem die diminutief umgqutsubana en beskryf dit as “a horse or other animal that cannot run fast”) moet ’n slag sprakeloos wees

ngoba ndiza kutheth’ izinto ezintarhantarha.

want ek gaan dinge praat wat uiters swaarwigtig is [ezintarhantarha is ’n relatiefkonstruksie – Kropf ken net die naamwoord intarhantarha en beskryf dit as “a mob”].

Ndiza kutheth’ Xhosa sasemaXhoseni.

Ek gaan Xhosa van Xhosaland praat [egte Xhosa].

Ndiza kusithetha de nixananaze nixel’ amaxoki,

Ek gaan dit praat totdat julle omvangryk bedrywig is soos leuenaars [let op die alliterasie met x-klapklanke hier en in die volgende reël]

wona axananaz’ axel’ inxala mhla ligquthayo.

hulle wat omvangryk besig is soos ’n rooi ribbok die dag as ’n storm woed. [Kropf noem ’n aan my onbekende werkwoord ukugqutha (“to stab; to make a hole in the ear, or to bore through a calabash; to extract by probing”), maar ek dink die digter het ’n wisselvorm van “ukuqhutha” in gedagte wat voorkom in die spreekwoord wat in sy eufemistiese vorm lui “isisila senkuku sibonwa mhla liqhuthayo” (’n hoender se stert word gesien die dag wat ’n stormwind waai – die ware toedrag van sake kom eers tydens ’n krisis aan die lig).]

Ndiza kunqangaza ndixel’ unogqaz’ eqaqeni.

Ek gaan hard uitroep soos ’n sangvoël [Kropf: Gunning’s Little Pinc-pinc grass-warbler] op ’n klipperige berg.

Antjie: Skenk my stilte sodat die digter van Aasvoëlberg dit kan uitblêr.
Die stommeriks wat soos uitgeteerde vee aangestrompel kom
moet ’n slag sprakeloos wees
want ek gaan swaarwigtige uitsprake maak.
Ek gaan egte Xhosa uit Xhosaland praat.
Ek gaan praat dat hulle vervaard rondval soos leuenaars
hulle wat rondspring soos ’n verskrikte rooi ribbok in ’n storm.
Ek gaan uitroep soos ’n sangvoël op ’n klipperige berg.

Zimbongi, ndiboleken’ iminweba yehlosi ngambini.

Prysdigters, leen my twee tierboskat-mantels.

Ndakuwuthi wamb’ omnye, ndihlahl’ indlela ngomnye.

Een sal ek omhang en met die ander die pad skoonvee.

Zintondini, ndiboleken’ amabhunguza ngamabini.

Kêrels, leen my twee knopkieries. [“Zintondini’ is moeilik vertaalbaar. Dit is die meervoud-vokatief met die vokatiewe agtervoegsel ‑ndini van “into” (’n ding) – maar “into” kan ook dui op ’n seun in ’n sin soos “uPhalo yinto kaTshiwo” (Phalo is ’n ding/seun van Tshiwo). Die prediker kan die gemeente aanspreek as “zintondini zikaBawo” (julle dinge/seuns/kinders van ons Vader). “Zintondini” is hoegenaamd nie derogatief nie en “julle dingese” sal glad nie deug as vertaling nie. “Broeders” is te kerklik en “manne” moet ons bêre vir “madoda” ondertoe in die gedig. “Kêrels” is die naaste waaraan ek kan dink.]

Ndiza kuliphath’ ebhungen’ elinye, ndibhodloz’ amabibi ngelinye.

Een sal ek vergadering/byeenkoms/samespreking toe meeneem en met die ander gaan ek die droë onkruid weg moker.

Makrwala, ndiboleken’ imigotywa ngamibini.

Pas geïnisieerde mans, leen my twee kromsteelmesse.

Ndakuhlinzel’ iminyanya ngomnye, ndibengel’ iingwevu ngomnye.

Met een sal ek slag vir die voorvaders en met die ander repe vleis sny vir die grysaards.

Madoda, ndiboleken’ iminquma ngambini.

Manne, leen my twee wildeolyfboomkieries.

Ndakuqala ngomnye, ndichilel’ iindudumo ngomnye.

Met die een sal ek diere inbreek en met die ander die donderweer wegdryf. [Na bewering kan die donderweer verdryf word deur met ’n kierie in die wind te slaan en die donderweer aan te spreek om na elders te verkas.]

Bafana, ndiboleken’ iminqayi ngambini.

Jong manne, leen my twee danskieries.

Ndakuwunik’ izithwala-ndw’ omnye, ndinkqangaze ngomnye.

Een sal ek gee aan die ringkoppe [ringkoppe het ons uit die Zoeloe-kultuur; in Xhosa is hulle letterlik die kraanvoëldraers (izithwala-ndwe), dit wil sê die senior manne wat ’n kraanvoëlveer in die kop dra] en met die ander geraas maak deur op my skild te slaan.

Bafazi, ndiboleken’ amazw’ abe luthotho.

Vrouens, leen my ’n lang ry woorde.

Ndakumemezel’ ibuya-mbo ngesixa, ndibong’ uQamata ngesinye.

Ek sal herstel [ibuyambo = terugkeer van wat waardevol / jou eie is] uitroep vanuit die oorvloed daarvan en Qamata [tradisionele Xhosa-naam vir die Opperwese] loof met die res.

Antjie: Prysdigters, leen my twee tierboskatmantels.
Een sal ek omhang en met die ander die pad skoonvee.
Kêrels, leen my twee knopkieries.
Een sal ek vergaderings toe neem en met die ander die onkruid wegmoker.
Pas geïnisieerde mans, leen my twee kromsteelmesse.
Met een sal ek slag vir die voorvaders en met die ander repe vleis sny vir die grysaards.
Manne, leen my twee wildeolyfboomkieries.
Met die een sal ek diere inbreek en met die ander die donderweer wegdryf.
Jong manne, leen my twee danskieries.
Een sal ek gee aan die ringkoppe en met die ander hard op my skild slaan.
Vrouens, leen my ’n lang ry woorde.
Ek sal herstel uitroep vanuit die oorvloed daarvan en die Opperwese loof met die res.

Ngxatsho, mathol’ oonyongande kudlelana!

Mooi so, julle lofwaardige mense wat ek prys [letterlik kalwers van “oonyongande kudlelana” – die herkoms en letterlike betekenis van hierdie segswyse is dusver nog bo my vuurmaakplek; dit klink soos “julle lang heupbene wat dinge met mekaar deel”, maar waar die kloutjie en waar die oor sit, begryp ek nie; wat wel onteenseglik waar is, is dat die digter daarmee sy toehoorders aanspreek as diegene wat prysenswaardig is en hoë lof aan hulle toeken].

Ze ningayibamb’ intlwa ngentlok’ isavela.

Julle moenie die gevleuelde termiet aan die kop vang terwyl hy nog uitkruip nie. [Maw moenie oorhaastig optree nie.]

Ziqokeleleni ilanga. Liya kunina, mathol’ omthonyama.

Maak die son vir julle bymekaar. Die son gaan na sy ma, kalwers van die ou swart beeskraalmis. [Maw gebruik geleenthede terwyl hulle daar is, julle egte kinders van die land.]

Ath’ amaXhosa amathol’ akhethwa kusakhanya.

Die Xhosas sê die kalwers word uitgekeer terwyl dit nog lig is.

Ze niqule niligangathe, niqule nababethwe ngemf’ iphindiwe.

Word geheel slaggereed [woel beskermende materiaal om die linkerhand en afweerkierie ter beskerming van jou kneukels en stamp/slaan dit goed vas om te toets of dit reg is] en bewapen julle teen dié wat geslaan is met ’n dubbele stuk wilde suikerriet [maw diegene met skelmstreke en oneerlikheid – die riet maak geraas maar slaan nie seer nie].

Yiyo loo nto ndisithi ningamathol’ atol’ intengu entabeni.

Dit is hoekom ek sê julle is kalwers wat die byvangervoël met ’n pyl raakskiet op die berg. [Let op opeenvolgende t-klanke hier en ny-klanke in die volgende reël. Of hierdie net mooi is of ’n dieper betekenis het, weet ek nie. Die byvanger se fluit klink soos dié van ’n beeswagter. Hy kan glo na die beeste omsien terwyl die wagter slaap of speel!]

Nyelan’ inyheke kumanyange, ninyol’ abangenanyaniso.

Vaar uit oor die haaslip by die mense van ouds en wys met die vinger na die onopregtes [om met die vinger na iemand te wys dui op minagting].

Antjie: Mooi so, julle lofwaardige beeskalwers!
Moenie die gevleuelde termiet aan die kop vang terwyl hy nog uitkruip nie.
Benut die son voor hy terugkeer na sy ma, julle kalwers van die swart kraalmis.
Die Xhosas sê mos die kalwers word uitgekeer terwyl dit nog lig is.
Bewapen julle vir die stryd en moenie bedrieg word met ’n riet vir ’n kierie nie.
A-nee-a, julle is mos jongelinge wat die byvangervoël met ’n pyl kan raakskiet op die berg.
Vaar uit oor die haaslip by die mense van ouds en wys met die vinger na die onopregtes.

Ze ningabamb’ isisila sehobe, ngoba nakuzibhud’ izingqi.

Moenie die duif by die stertvere beetkry nie, want julle sal die kluts kwyt raak [deurmekaar dink oor die voetstappe / die aanhoudende klanke].

Ze nivath’ iminweba yenyamakazi ninyaniseke.

Hang karosse (van die velle) van wilde diere om en wees opreg.

Ze niphath’ imikhonto, nilande ngokwesakhono.

Neem assegaaie op en volg die spoor op bekwame wyse [met voorarmlikheid – ’n sterk voorarm is veral nodig om te kan melk en dui op vaardigheid].

KwezikaTshiwo nivath’ iimbadada, ngoba loo mhlab’ uyahlaba.

By Tshiwo s’n moet julle sandale dra want daardie grond is stekelrig.
[Tshiwo was die pa van Phalo, die eerste Xhosa-opperhoof wat met Westerse standaarde histories gedateer kan word – hy het in 1736 geregeer en was toe ’n volwassene. Phalo se seuns Gcaleka en Rharhabe het die Xhosa-nasie in twee geskeur. Om as ’n volbloed-Xhosa getipeer te kan word, moet jy daarop aanspraak kan maak dat jy afstam van opperhoof Tshiwo se Xhosas.]

Ndiyekeni ndehl’ eqongeni, kuba ndocikoza de ndicikeke.

Los my dat ek afkom van die verhoog, want ek praat vlot tot op die punt dat ek ’n deksel opgesit kry. [Alliterasie met c-klanke.]

Hayi, yo-o-o! Ndee bosololo-o-o-o!

Nee, o! Weg is ek! [Ek sê/maak/doen wat soos “bosololo” klink. Die woordeboek sê niks, maar ek verneem dit dui daarop dat hy alles los, oorgee of ophou.]

Antjie: Moenie die duif by die stertvere beetkry nie, dan is julle die kluts kwyt.
Hang karosse van wildsvelle om en wees opreg.
Neem assegaaie op en volg die spoor suiwer.
In Xhosaland moet julle sandale dra, want die grond is stekelrig.
Laat ek afkom van die verhoog en ’n deksel op my pratery plaas.
Nee, o! Weg is ek!

 

Lees ook:

In 2020 het Koos Oosthuysen vir LitNet Akademies ’n gesprek met Bertie Neethling gevoer oor sy Geesteswetenskappe-artikel “Persoonsnaamgewing onder die Xhosasprekendes van Suid-Afrika”:

Hoender en Moeder Perske – die prag van Xhosa-name

 

  • 3

Kommentaar

  • Breyten+Breytenbach

    Dankie vir hierdie ontsluiting van 'n rykdom van nuanses en insae - en ritmes wat die rede dra. Koos Oosthuysen sou dankbaar en met reg trots op jou wees.

  • Johann de Lange

    Antjie, behalwe dat dit my hartseer gemaak het dat ek Koos Oosthuysen nie geken het nie, het dit vir my 'n ander blik op taal gegee waarvoor ek dankbaar is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top