Hoender en Moeder Perske – die prag van Xhosa-name

  • 1

Bertie Neethling se Geesteswetenskappe-artikel “Persoonsnaamgewing onder die Xhosasprekendes van Suid-Afrika” het onlangs op LitNet Akademies verskyn. Koos Oosthuysen, wat die Bybel in Xhosa vertaal het, het die volgende gedagtes met Bertie uitgeruil na aanleiding van die artikel.

.........................

LitNet Akademies-gespreksgenote: Koos Oosthuysen en Bertie Neethling (Foto's: verskaf)

Ten regte, anders as wat die geval by Euro-Westerse denke is, is dit opmerklik dat Xhosaname ’n intrinsieke deel van ’n Xhosasprekende se bestaan is. Sou daar ter opheldering van die Euro-Westerlinge se onkunde nie hierop uitgebrei kon word nie? Eiename word deur Xhosasprekendes met groot respek behandel. Kinders mag nie volwassenes se name gebruik nie en moet hul ouderdomsgroep se name gebruik om te verwys na byvoorbeeld Themba se pa of Nombeko se ma, terwyl skoondogters nie eers woorde mag gebruik wat klink soos hul skoonvader se naam nie en moet dit hlonipha oftewel respekvol vermy.

My oorspronklike bedoeling was om na die inleiding oor onomastiek veral Afrikaanssprekendes bekend te stel aan die fassinerende aspek van Xhosanaamgewing deur die mees prominente kategorieë kortliks te beskryf na name by geboorte toegeken is. Natuurlik kan hierop uitgebrei word. Ek is baie bewus van die kulturele hloniphagebruik en ook die kinders se respek teenoor volwassenes as dit by die gebruik van name kom. Dit sou baie interessant wees om hierdie aspekte in ’n hedendaagse moderne stedelike konteks te ondersoek om te sien of dit nog streng toegepas word.

Sou dit nie insiggewend wees om te verwys na Xhosasprekendes se spaarsamige gebruik van eiename nie? Hulle verkies om selfs bekendes na aanleiding van verwantskappe en titels, soos bhuti, sisi, tat’ omkhulu, titshala en mfundisi, aan te spreek. Veral vroulike persone spreek mekaar dikwels aan as wethu (een van ons), terwyl mans hou van mfondini (kêrel).

Om die amaXhosa se gebruik van eiename as “spaarsamig” te beskryf, is debatteerbaar. Dit hang af van die konteks – lees maar die koerante en kyk na die televisie. Wat die sogenaamde verwantskapterme betref, het ek self “deurgeloop” onder die titel van titshala of mfundisi (dosent) toe ek nog klasgegee het. Deesdae as ek by enige dienspunt in die samelewing aanmeld, dan word ek (vanweë my ouderdom!) as tata (vader/pa) aangespreek. As ek goed behandel is en ek met Ndiyabulela, sala kakuhle! (Ek sê dankie, mooibly!) afskeid neem, word ek voortdurend aangemoedig met Hamba kakuhle, tata! (Mooiloop, vader/pa!) Ek het ook al kleinkinders, dus sal tat’ omkhulu (oupa) ook reeds pas. Dit is egter nie eiename nie.

Clan-name, iziduko, word algemeen gebruik om mekaar aan te spreek eerder as eiename. Uiteraard is die iziduko ’n studieveld op sy eie, maar is dit nie van belang om daarna te verwys ten opsigte van die gebruik van aanspreekname in Xhosa nie?

Dit is inderdaad ’n studieveld op sy eie. Ek het wel aandag daaraan gegee, maar nie eintlik as ’n aanspreekvorm nie. Omdat die amaXhosa uit ’n redelik groot aantal clan-affiliasies bestaan, is ’n eerste vraag by ontmoeting dikwels Ngubani isiduko sakho? (Wat is jou clanverwantskap/clannaam?). Sodoende word afkoms of voorvaderskap bepaal, en dit is ook ’n belangrike identiteitsaspek. Soos ek wel aangedui het, kom die clanname soms wel voor as eiename, maar omdat dié name dikwels lank is, kan dit soms afgekort word.

Sou dit nie gerade wees om as steekproef die naamgewers van etlike van die aangehaalde name uit te vra na die oorsprong van spesifieke name nie? Feitlik deurgaans verwys Xhosa-eiename duidelik na die omstandighede of die gemoedstoestand van die naamgewers, soos jy duidelik aandui, maar ek het al vreemde name teëgekom. ’n Jeugvriend was Nkuku (Hoender) en ’n vroulike gemeentelid Nopesika (Moeder Perske). Sommige name se betekenis, indien enige, is ook duister, byvoorbeeld skaars name soos Gilitsho, Mtobose en Galifo. Na ek verneem, is dit tradisioneel eerder die vader as die familie wat die kind ’n naam gee.

Ja, dit sou gehelp het as ek meer sodanige reaksies gekry het. My databasis was aanvanklik aan die UWK afhanklik van die reaksies van studente op ’n vraelys wat nie spesifiek uitgespel het wie die naamgewer was nie. Senior studente en kollegas het wel by wyse van honneursskripsies vorendag gekom met bepaalde gevalle waar die ouers die naamgewers was en ’n duidelike motivering verskaf het. Dis in die artikel ingesluit. Dit is wel so dat baie name ooglopend semanties deursigtig is en indien ’n mens ’n bietjie Xhosa ken, dan kan die naam dadelik aandui wat dit beteken en wat die waarskynlike omstandighede by geboorte was. Vreemde name is ook nie ongewoon nie. Ek het Bangeni en Coetser (2000) se “snaakse” name wel opgeneem omdat dit volgens hulle negatiewe konnotasies bevat het, maar hulle kon nie daarop uitbrei nie. Selfs my óú woordeboek van Kropf en Godfrey (1915) kon nie juis help nie.

’n Vergelyking van die name wat dogters by geboorte kry, in vergelyking met die nuwe name wat hul skoonfamilie na die huwelik aan hul toeken, is ook stellig ’n studieveld op sy eie, maar behoort dit nie wel genoem te word ten opsigte van vroulike eiename nie?

Ek moet erken ek het nie aandag aan hierdie saak geskenk nie en net gefokus op die naamgewing by geboorte. Die nuwe name is ’n studieveld op sy eie. ’n Mens kan weer hieroor debatteer. Ek kry die indruk dat baie van vandag se jongerige Xhosa-ouers wat hulle in moderne, stedelike en professionele kontekste bevind, met groot omsigtigheid name kies vir hulle nuutgeborenes, dogters of seuns. Indien hulle bereid sou wees om so ’n goedgekose naam (al is dit net vir dogters) in ’n bepaalde konteks (by die skoonfamilie) opsy te skuif, sou dit my nogal verbaas.

Die stelling “Die suffiks -ile dui aan dat dit ’n manlike naam is”, is wel dikwels waar, aangesien vroulike name wat van werkwoorde in die voltooide tyd afgelei is, normaalweg die passiewe aspekmorfeem -w- bevat, wat meebring dat die suffiks -e is en nie -ile nie, in byvoorbeeld Thenjiwe en Khungiwe. Daar is wel vroulike name met die suffiks -ile, gewoonlik as vroulik aangedui met die voorvoeging van no-, maar soms met ntomb’-, byvoorbeeld Noncedile, Nohombile, Nosandile, Nozolile en Ntombifikile.

Ja, dit is so dat name wat -ile bevat sonder enige ander prefikse, inderdaad as manlik beskou word, terwyl name met die passiewe suffiks -w- ingesluit, altyd vroulik is. Soos aangedui in die artikel, dui die No-voorvoegsel aan dat die naam vroulik is. Dis wel die geval dat No- soms saam met -ile verskyn, maar dan is No- die bepalende geslagsmerker, naamlik vroulik. ’n Naam soos Ntombifikile dui gewoon aan dat ’n dogter gearriveer het of gebore is. Die werkwoordstam –fika beteken “arriveer, aankom” met -fikile as die verlede tyd (“het [pas] gearriveer, is [pas] gebore”). Manlike name met  No- as voorvoegsel sou werklik ’n rare en ongewone verskynsel wees. Dis nie ongewoon onder die Zoeloes nie.

Die kategorieë van name soos aangebied, is baie insiggewend en volledig. Sou ’n mens die sesde kategorie breër kon omskryf en vrouename insluit wat na volkere verwys, soos NomaIndiya, NomaFrench, NobeSuthu en MamaJelemani? Het ons enige aanduiding van hoe dit gebeur dat dogters name soos laasgenoemdes en ’n clannaam ontvang, soos NomaTshezi?

Vrouename wat verwysings na ander volkere bevat bestaan wel, selfs onder politieke figure. Dié tipe naamgewing moes deur een of ander affiliasie geskied het. Ek het nie gemeen dis belangrik dat sodanige name ten opsigte van die Xhosagemeenskap van belang was nie, want dit het nie verwys na die Xhosakultuur wat Indië, Frankryk en Duitsland ook insluit nie. Indien NobeSuthu dalk verwys na die Sothogemeenskappe in Suid-Afrika, is dit wel aanvaarbaar. Ek het ook voorbeelde ingesluit van vrouename wat clanname bevat. Dit dui ’n verbintenis met die clan aan en is ook ’n vorm van identiteit.

Opsommend sou ’n mens gewoon kon sê dat Xhosaname wat voortspruit uit die tweede grootste etniese bevolkingsgroep in Suid-Afrika, ten spyte van baie herhalings vanweë die semantiese deursigtigheid, dalk nog steeds in die toekoms kan uitbrei ten opsigte van vernuwende eiesoortigheid. Die uitgebreide en bestaande leksikon sou dit kon bewerkstellig.

 

Lees gerus Bertie Neethling se interessante artikel in LitNet Akademies:

Persoonsnaamgewing onder die Xhosasprekendes van Suid-Afrika

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top