Persoonsnaamgewing onder die Xhosasprekendes van Suid-Afrika

  • 0

Persoonsnaamgewing onder die Xhosasprekendes van Suid-Afrika

Bertie Neethling, Departement Xhosa, Universiteit van Wes-Kaapland

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

In ’n veeltalige en multikulturele land soos Suid-Afrika speel name, veral onder die swart Suid-Afrikaners, ’n baie belangrike rol. Onomastiek is die dissipline wat hom bemoei met name en naamsisteme. Die woord onomastiek is afgelei van die Griekse onoma wat die begrip naam verteenwoordig. Die totale bevolking van Suid-Afrika staan tans op ongeveer 58 miljoen, en Xhosasprekers is die tweede grootste bevolkingsgroep in die land (7 tot 8 miljoen). 

Die doel met hierdie bydrae is om die rol van naamgewing onder die amaXhosa (soos hulle ook bekend staan) te ontleed. Omdat voorname, en soms ook agtername of vanne, meestal uit die Xhosaleksikon afkomstig is, is dit dikwels semanties deursigtig. Juis daarom word naamgewing as ’n uiters belangrike kultuuraspek beskou. Naamgewers is dus geneig om name met ’n positiewe betekenis te kies. Soos wat die naamdraers grootword, word hulle bewus van die positiewe eienskappe wat hulle name verteenwoordig, en streef daarna om dit uit te leef. Die name speel dikwels ’n belangrike rol ten opsigte van identiteit, en dit sal ook aandag geniet. Verskillende kategorieë word uit die databasis geabstraheer om die verskillende tipes name te illustreer.

Trefwoorde: identiteit; IKS; naamgewers en naamdraers; naamkategorieë; onomastiek; Xhosasprekers

 

Abstract

Personal-name-giving among the Xhosa speakers of South Africa

In a multilingual and multicultural country like South Africa names, particularly among black South Africans, personal names play a very important role. The discipline concerned with names and systems of names is called onomastics. The term is derived from the Greek word onoma that means “name”. There are various categories in the onomastics field of study, with anthroponymy (personal names) and toponymy (place names) being the most important. The total population of South Africa is around 58 million, with Xhosa speakers numbering between seven and eight million, making it the second biggest ethnic group. 

The purpose with this contribution is to analyse the role of name-giving and the names themselves among the amaXhosa, as they are also known. Because personal names and occasionally also last or surnames are derived from the Xhosa lexicon, the names are often semantically transparent. Because of this transparency name-giving is considered as an extremely important cultural aspect. Name-givers therefore tend to choose names that have a positive meaning. As the name carriers grow up, they become aware of the positive qualities their names represent, and strive towards fulfilling those qualities. In this context the names are often intimately and strongly linked to the concept of identity, and this will also be investigated.

The database represents various categories that will be abstracted to serve as illustrations to be discussed. In many cases name-givers, given the specific circumstances around the birth of a child, can be extremely creative. Some of the names were collected in a project at the University of the Western Cape by way of a questionnaire. Besides the university campus questionnaire, many other printed sources in the Western Cape, like books, dissertations, articles and newspapers were also consulted, as well as printed sources from the Eastern Cape, which forms a strong base of the Xhosa community.

The basic approach in this contribution is socio-onomastic, in other words, the analysis and interpretation of names as they appear in the Xhosa community. The rise of Indigenous Knowledge Systems (IKSs) has become popular over the last 25 years, and it is clear that Xhosa onomastics, notably the anthroponymy feature, is an important part of the IKS. A common viewpoint nowadays is that IKS exists in a post-millennium modernising Africa. Name-giving traditions among the amaXhosa can be considered as a part of IKS, notably because of the strong link between the personal name and identity. That sets the amaXhosa apart from other non-black ethnic groups. It is likely that IKS would apply to all ethnic groups where semantic transparency exists in personal names and hence remains a strong cultural feature.

Keywords: identity; IKS; name categories; name-givers and name carriers; name-giving; onomastics; Xhosa speakers

 

1. Inleiding

Onomastiek, die studie van name en naamsisteme, is steeds ’n betreklik nuwe studieveld in Suider-Afrika. Die term onomastiek is afgelei van die Griekse woord onoma, wat “naam” beteken. Die dissipline is goed gevestig in Europa en die Nordiese lande, asook in Brittanje en die VSA sedert die laat 19de eeu. Dit het egter eers in die tweede helfte van die 20ste eeu in Suider-Afrika begin posvat. Suider-Afrika is deel van UNGEGN (Engelse afkorting vir Verenigde Nasies se Groep Spesialiste op Geografiese Name). Veral onder die Afrikatale in Suid-Afrika was studies op die gebied van naamkunde uiters skaars.

In die vroeë 1980’s was daar ’n bestendige groei in naamkundige studies, met naamkundekongresse waar voordragte gelewer is, en artikels wat gereeld gepubliseer is in die tydskrif Nomina Africana. By die totstandkoming van die tydskrif (1988) het dit aanvanklik tweetalig verskyn: In Engels was die subtitel Journal of the Names Society of Southern Africa, en in Afrikaans Tydskrif van die Naamkundevereniging van Suider-Afrika. Op die voorblad van die tydskrif bo links het die akroniem NSA ook verskyn. Uiteindelik het die tydskrif in 2013 eentalig (Engels) geword weens die toetrede van veral swart naamkundiges wat nie Afrikaans kon besig nie. Die akroniem is ook effens gewysig na NSSA, omdat “Southern” nou ook geïnkorporeer is om ander lede van die Afrika-Suid-afdeling, naamlik die buurlande soos Mosambiek, Zimbabwe, Malawi, Namibië, Botswana en Lesotho in te sluit. 

Tans verskyn daar twee volumes per jaar, en die titel en voorkoms het effens verander. Nomina Africana is behou, maar ’n subtitel is ingevoeg, naamlik The Journal of African Onomastics. Die tydskrif het ’n vennoot gevind wat nou die drukwerk doen, naamlik NISC, en het nou ’n nuwe kleurvoorblad met Afrika as agtergrond. NISC is die akroniem vir die geregistreerde naam National Inquiry Services Centre.

Figuur 1. Nomina Africana 1988, 2(1) en Nomina Africana: The Journal of African Onomastics 2019, 33(1)

 

2. Naamgewing

Die mensdom, oftewel Homo sapiens, gaan deur die lewe deur verskillende entiteite deurgaans te benoem by wyse van naamgewing. Om iets te benoem is ’n onontbeerlike aktiwiteit om ons lewe te organiseer. As alle mense, plekke en goedere, om maar ’n paar te noem, nie name dra nie, sou dit onmoontlik wees om ’n sinvolle lewe in die hedendaagse wêreld te lei. Bill Nicolaisen, ’n prominente naamnavorser in die laaste helfte van die vorige eeu, het die mensdom benoem as Homo nominans, “Man the namer” (die mensdom as naamgewer) in een van sy vroeë skrywes (1978:40). Die studieveld van die onomastiek is wel besig om te groei. Daar bestaan verskeie tydskrifte wat daarop toegespits is, en waarskynlik die vernaamste naamkundekongres in die wêreld is ICOS (International Congress of Onomastic Sciences) wat elke drie jaar op verskillende plekke gehou word.

In hierdie bydrae is die fokus op die persoonsnaamgewing onder die Xhosasprekendes in Suid-Afrika. Die amaXhosa, soos hulle ook bekendstaan, is die tweede grootste etniese groepering, met byna agt miljoen sprekers, en is oor die hele Suid-Afrika versprei, met die grootste konsentrasie in die Oos-Kaap en die Wes-Kaap. Die taal wat hulle praat, is Xhosa, wat tot sowel die Bantoetaalfamilie as tot die kleiner Nguni-groepering (wat ook Zoeloe insluit) behoort. In die afgelope paar jaar is daar taalkundiges, asook ander persone wat daarop aandring dat Xhosa met sy naamklasprefiks isi- geskryf en uitgespreek moet word, dit wil sê isiXhosa. Of dit werklik nodig is, is te betwyfel. Die verwysing na die vol vorm isiXhosa is noodsaaklik slegs wanneer dit in konteks gebruik word, byvoorbeeld Ndithetha isiXhosa ngoku (“Ek praat nou Xhosa”). As daar bloot na die taal verwys word (in Afrikaans en ook in Engels) kan dit bloot Xhosa bly, soos in “Hy verkies om Xhosa te praat” of “He prefers to speak Xhosa”. Xhosa is ’n agglutinerende taal, met ander woorde bepaalde klein betekenisdraende elemente kan nie op hulle eie funksioneer nie en moet by veral werkwoorde in die struktuur geïnkorporeer word. Dit gebeur ook dikwels by bepaalde langerige name. Waar nodig, sal hierdie merkers en hulle betekenis verduidelik word.

Die basiese benadering in hierdie bydrae kan as sosio-onomasties beskou word, met ander woorde die ontleding en interpretasie van name soos hulle in die Xhosagemeenskap voorkom en funksioneer.

 

3. Xhosanaamgewing

Net soos by alle ander kultuurgroepe, word die pasgeborenes onder die amaXhosa deur ’n naam verwelkom. Die primêre funksie is om die pasgeborene van al die vorige naamontvangers te onderskei, met ander woorde die naamgewing het ’n referensiële of verwysingsfunksie. In ’n Euro-Westerse konteks funksioneer name hoofsaaklik op hierdie vlak. In die Xhosagemeenskap (asook ander Afrika-gemeenskappe) is die keuse van ’n naam ’n baie belangrike een. Volgens Thipa (1987:108) word die kind veral in tradisionele huise in die Xhosa- en Sothogemeenskappe beskou as nie net behorende tot die direkte biologiese familie nie, maar ook tot die uitgebreide familie en uiteindelik die breër gemeenskap. Dit blyk dat naamgewing in ’n Afrikagemeenskap ’n ander dimensie aanneem as in ’n Euro-Westerse konteks. Die ubuntu-begrip met die betekenis van “goedhartigheid, medemenslikheid, mededeelsaamheid” word dikwels beklemtoon: Die individu is nooit belangriker as die gemeenskap nie. Die Xhosa-uitdrukking Umntu ngumntu ngabantu (’n individu is ’n individu deur ander mense) beklemtoon hierdie aspek. Bangeni en Coetser (2000:60) beskou Xhosanaamgewing as ’n spieëlbeeld van die strukture in die gemeenskap. 

Die effens afgesaagde en holruggeryde twee reëls uit Shakespeare se Romeo and Juliet (1967:86) word veral deur joernaliste gebruik wat suggereer dat daar dikwels gereeld meer in ’n naam vervat is as wat mense dink:

What’s in a name? that which we call a rose,
By any other name would smell as sweet.

Vanuit ’n onomastiese gesigspunt word Juliet se alleenspraak gewoonlik nie verder ontwikkel nie. Juliet se siening oor die naam wat iemand dra, is min of meer verteenwoordigend van die Euro-Westerse standpunt. Juliet smeek Romeo soos volg aan: “Romeo, doff thy name ... which is no part of thee.” 

Doff is ’n Oudengelse woord met die betekenis van “afhaal, uittrek”. Juliet wil hê dat Romeo sy naam moet prysgee, aflê of uittrek, soos ’n kledingstuk, want dit is nie deel van hom nie. Die meeste Xhosasprekers sou nie met haar saamstem nie. Vir hulle is die naam ’n intrinsieke deel van hulle bestaan. Zabeeh (1968:5) haal Goethe aan: “A man’s name is not like a cloak that merely hangs around him [...] It grows over him like his very skin. One cannot scrape and scratch at it without injuring the man himself.”

Omdat baie Xhosaname dikwels vanuit die leksikon afgelei kan word en dus betekenisvol is, gebruik die naamgewers die leksikon as die vernaamste bron, en dit dien as die motivering vir die naamkeuse. Herbert (1997:6) tref ’n onderskeid tussen die leksikale betekenis en die onderliggende betekenis of motivering van die keuse. Die leksikale betekenis is meestal ooglopend en duidelik, maar wat die naam presies beteken, is dikwels ondeursigtig en verdien verduideliking.

Oor die afgelope ongeveer 25 jaar het die studie van die inheemse kennissisteme, oftewel IKS, van Indigenous Knowledge Systems, gewild geraak. Om dit volledig te definieer is problematies, want dit is ’n omvattende begrip. Dit word gekoppel aan enige vorm van tradisionele kultuur, wat allerlei praktyke, gewoontes, informele kennis, en wêreldbeskouings insluit. Dit word selfs ingesluit by sang, dans, folklore, ontwerp, teater en die visuele kunste. ’n Algemene gesigspunt in die moderne tyd is dat IKS tans bestaan in ’n postmillennium moderniserende Afrika, en dat universiteite gebruik moet word om Afrika-identiteit te herwin en om die IKS te bewaar. Omdat identiteit soos veral in persoonlike voorname ’n belangrike rol speel, word Xhosa-onomastiek as ’n belangrike komponent van IKS beskou (sien Neethling 2014).

 

4. Naam en identiteit 

Sommige van die Xhosaname en verskeie aannames en gevolgtrekkings kom uit vorige studies (sien De Klerk 2002; De Klerk en Bosch 1995, 1996; Neethling, B. 2005, 2012; Neethling, S.J. 1983, 1988 en 2000). Een van die belangrikste navorsingstudies het die titel gedra van “Exploring the link between name and identity: A UWC profile”. Die projek het in 2007 begin en is nog tot ’n mate aan die gang deurdat nuwe name op die toneel verskyn en dikwels nuwe perspektiewe na vore bring. Vir die doel van hierdie bydrae is die fokus uiteraard net op Xhosaname. Baie van die data is ingesamel by wyse van ’n vraelys wat op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) versprei is. ’n Aantal assistente is aangestel om te help dat medestudente die vraelys voltooi. Die aanvanklike projek het al die tale op die kampus geakkommodeer, en nie net Xhosa nie. ’n Moontlike vraag oor die sosiale omgewing of herkoms van die respondente het nie gefigureer nie, omdat dit destyds nie as belangrik beskou is nie. Al die respondente was gewoon studente op ’n kampus.

Een vraag in die vraelys vra aan deelnemers of hulle hul name sien as ’n uitbeelding van hulle identiteit. Die uitkomste was waarskynlik voorspelbaar: Alhoewel die meeste Xhosastudente nog nooit vantevore deur so ’n vraag gekonfronteer was nie, het die meeste deelnemers hulle name geïdentifiseer as ’n sterk identiteitsaanduider. Wêreldwyd word ’n naam gesien as een van die mees stabiele elemente van enige persoon se identiteit. Tog is identiteit ’n ontwykende begrip en nie ’n vaste konstruksie nie: Dit is altyd aan die verander of pas aan, en baie individue ontwikkel ’n verskeidenheid van identiteite oor hulle lewensduur heen (sien Wassermann en Jacobs 2003:15–28). Hulle beskou identiteit as ’n “reis” en nie ’n “bestemming” nie.

Baie individue funksioneer in meer as een en dikwels verskillende kontekste, wat aanpassings aan hulle identiteite verg om optimaal in ’n bepaalde konteks te funksioneer. Soos die omstandighede, strategieë en interaksies wissel, kan die identiteit ook verander. Baie navorsers beskou identiteit as ’n proses en nie ’n eienskap nie. Indien ’n mens dit as sodanig beskou, bly dit altyd veranderlik, en nooit voltooid of gefinaliseer nie. Identiteit word dus dikwels bepaal deur wat ons doen, en nie deur wie ons “is” nie (sien Puttergill en Leildé 2006). In ’n meertalige en multikulturele konteks soos in Suid-Afrika, en wanneer dit tot die kampus van UWK beperk word, kan ’n verskeidenheid identiteite wat aan een persoon toegedig word, te voorskyn kom. Dit word onder andere ook bevestig deur die groot aantal addisionele byname wat slegs in bepaalde kontekste en deur bepaalde individue gebruik word. Die kategorie van byname word nie in hierdie bydrae gedek nie.

Ten spyte hiervan sal ’n individu nie maklik afstand doen van sy amptelike persoonlike naam nie, en bly dit stabiel. Sou ’n individu iets onwettigs pleeg, word ’n skuilnaam dikwels aangeneem om die ware identiteit te verbloem.

’n Briefskrywer (W. van der Merwe) aan die briewekolom van Die Burger (6 Mei 2005) het die volgende te sê gehad:

Die filosowe stem saam dat jy nie jou identiteit kan verkoop of ruil nie. Dit is soos jou eie naam wat jy nie self kon kies nie, maar wat jy in die hof sal verdedig sou iemand dit minag. Jy kan later ander identiteite aanneem, maar jy kan nie jou eerste oorspronklike identiteit negeer nie. Sou jy dit doen, draai jy jou rug op ’n persoonlike geskiedenis. Jy word ’n banneling in jouself.

Die hoofdoelwit met hierdie bydrae is dus om vas te stel of hierdie “persoonlike geskiedenis” deur die tradisionele naamgewing van Xhosasprekers oor ’n relatief lang tydsduur as ’n vorm van IKS beskou kan word. Die basiese voornaam van die Xhosaspreker sal as vertrekpunt gebruik word.

 

5. Naamkategorieë

Publikasies wat die naamkategorieë onder Xhosasprekers asook in ander Afrikatale in Suid-Afrika verken het, is relatief skaars. In twee vroeëre artikels deur Thipa (1986, 1987) ten opsigte van Xhosa identifiseer hy ’n aantal kategorieë. Na hom het Gysman (1992) en Ntwana (1994) ongepubliseerde honneursstudies oor persoonlike Xhosaname voltooi, en toe het die publikasie van Mthembu-Salter (2001) gevolg met die titel Call me by my name. Sy hanteer die kwessie van motivering vir naamkeuses deur haar naamdata in temas te organiseer en dit dan basies alfabeties aan te bied. Haar ontleding is egter gebrekkig en die kulturele betekenis geniet geen aandag nie. Sy het ook probeer om al vier taalgroepe binne die Ngunigroepering (Xhosa, Zoeloe, Swazi en Ndebele) te akkommodeer. Sommige van haar kategorieë het uiteraard met dié van Thipa, Gysman en Ntwana ooreengestem.

Thipa en Mthembu-Salter se inhoud is, hoewel goed bedoel, nie goed hanteer nie. Daar is dikwels oorvleueling van name in verskeie kategorieë sonder dat enige kommentaar volg. Gysman en Ntwana se werk is wel beperk, maar deeglik gefundeer. Waar toepaslik sal voorbeelde uit hulle naamdata gebruik word. Daar is uiteraard geweldig baie name in enige korpus van naamdata, en die keuse en beskrywing van die name wat aandag verdien, moet noukeurig uitgevoer word.

Dit is ongelukkig so dat daar nie meer publikasies van moedertaalsprekers verskyn het nie. Dit sou waarskynlik insiggewend kon gewees het ten opsigte van hierdie bydrae. By ’n hele aantal onlangse kongresse van die NSSA, wat elke twee jaar plaasvind, was dit opvallend dat geen Xhosaspreker dit bywoon of as spreker optree nie. Skynbaar is onomastiek nie ’n gewilde studieveld nie. Dit mag ook wees dat betekenisvolle name as vanselfsprekend beskou word en geen verduideliking benodig nie.

’n Meer uitgebreide en noukeurige ontleding volg nou met die klem op Xhosavoorname. Soms is die betekenis van die name direk, duidelik en positief, en soms is dit subtiel en effens versluier. Die naamgewers, meestal die ouers, verwag dan dat hulle kinders eendag hierdie goeie en mooi eienskappe vervat in hulle name sal uitbeeld. Indien dit gebeur, dan is die bekende uitdrukking soos volg: Ulilandele igama lakhe (Hy/sy volg sy/haar naam).

Die mees algemene en gewilde name onder die Xhosasprekers, dié wat duidelike betekenis dra, volg aanvanklik. Baie algemene elemente uit die leksikon, soos naamwoorde, werkwoorde en deskriptiewe, en ook ander minder bekende en kleiner linguistiese strukture soos onderwerpmerkers (algemeen en persoonlik), tydvorme en besitlike vorme kom in die samestelling van die name voor. Hierdie strukture uit die leksikon sal soms in die naamvoorbeelde geïnkorporeer word en “opgebreek” word ten einde die betekenis duidelik uit te beeld. Alle naamvoorbeelde in al die kategorieë word lukraak aangebied, behalwe natuurlik daardie name wat binne ’n bepaalde kategorie bymekaar hoort.

5.1 Aspirasies/Verwagtinge 

Baie ouers gee aan hulle kinders by geboorte bepaalde name met positiewe verwagtinge wat hulle by hulle kinders wil inskerp soos hulle groter word. Die meeste name het bepaalde morfologiese kenmerke wat die geslag suggereer. Waar nodig, sal daarna verwys word. Hier volg nou verskillende name wat basies hierdie verwagtinge uitspreek: 

Khanyisa: “skep lig in die toekoms”
Ntomboxolo: “dogter/meisie van vrede” (uxolo = vrede)
Fezidinga: “vervul die belofte”
Mthobeli: “die gehoorsame een”
Themba/Thenjiswa/Nomathemba: (-themba = hoop)
Thembisile: “wat belofte toon” (-thembisa = belofte toon, selfvertroue vertoon)
Thembeka: “die betroubare een”. 

Talle van die laaste afleidings soos hier bo aangedui, kom van die basiese werkwoord -themba (“hoop”).

Ander voorbeelde:

Thozama/Thozamile: < -thozama “om sagmoedig/beskeie te wees”
Qukeza: “die flukse een”
Monde/Nomonde: “die geduldige een”
Mncedisi: “helper”
Mlungisi: “die hersteller” < ww. -lungisa “regmaak”
Mthobeli: “die gehoorsame een”
Nomathamsanqa: “die gelukkige een” < ithamsanqa = goeie geluk
Nompumelo/Phumelele: “die suksesvolle een” < impumelelo = sukses
Ndileka: “waardig/ deftig wees”
Lulama: “sagmoedig wees”
Ntombokhanyo:< intombi “dogter/meisie” + ukhanyo “lig” = dogter/meisie van lig
Thanduxolo: “liefhebber van vrede”
Thandeka: “is/wees liefdevol”. 

Dit is redelik maklik om die positiewe persoonlikheidseienskappe ingebed in die name te sien. Die voorvoegsel No- dui bloot aan dat dit ’n vroulike naam is. In baie gevalle word saamgestelde name gebruik wat dikwels aan eersgeborenes gegee word, en veral aan seuns. Die ouers plaas ’n verantwoordelikheid op die kinders deur die naam. Dit kan positief geïnterpreteer word, maar kan ook uiteindelik in ’n swaar las ontwikkel. Dit kan dus as ’n voorreg óf ’n lotsbestemming beskou word. Hier volg ’n paar voorbeelde:

Khayalethu: < ikhaya “tuiste/huis” + lethu “van ons” = ons tuiste/huis. Die ouers beklemtoon die feit dat die seun aan hulle familie behoort, en saam daarmee kom verantwoordelikhede.
Jongikhaya: < -jonga “kyk na” + ikhaya “tuiste” = kyk na (ons) huis. Die ouers plaas druk op hulle seun om na die huis en ook by implikasie na hulle om te sien.
Solomzi: < iliso “oog” + lomzi “van die huis” = oog van die huis. Die seun moet ’n oog hou oor die omstandighede van die huis; hy is die verantwoordelike een.
Gcinikhaya: < -gcina “bewaar/kyk na” + ikhaya “die huis” = kyk (mooi) na die huis. Die boodskap is duidelik.

Soms word ’n tweeling gebore. Toepaslike name vir so ’n tweeling is Qukeza en Khuthala. Al twee beteken “fluks” en/of “vlytig”. Identiteit hier is ook identies. Die ouers koester dus hierdie positiewe eienskap vir die tweeling.

Soos in alle gemeenskappe gebeur, is daar ook soms rare vierlinge. Een bepaalde geval is dié van ’n moeder wat aan ’n vierling by wyse van ’n keisersnit geboorte geskenk het: twee seuns en twee dogters (Die Burger, 6 Julie 2017). Die name is interessant: Al vier begin met die verkorte klasvoorvoegsel (u)bu (= klas 14) wat normaalweg vir abstrakte begrippe gebruik word. Voorbeelde hiervan is die adjektiewe -dala (“oud/oud wees”) wat dan in klas 14 ubudala (“ouderdom”) word, of -hle (“mooi, mooi wees”) wat ubuhle (“skoonheid”) word. Die doel is waarskynlik om die goeie eienskappe wat uit die name afgelei kan word, aan te moedig. Die name vir die meisies is Bunono “respekvol(heid)” en Bungcwele: “rein/kuis(heid)”. Vir die seuns is dit Bubele: “goedhartig(heid)” en Buchule: “ervare(nheid)”.

Statistieke Suid-Afrika (2018) dui aan dat die gewildste naam vir seuns wat in 2017 in die Oos-Kaap gebore is, Enzokuhle is. Die beste vrye vertaling vir die naam is “om goed te doen”. ’n Ander unieke meisienaam het onlangs in 2019 in die nasionale dagblaaie verskyn. Die naam is Uyinene, die naam van die student wat in Augustus 2019 in Kaapstad verkrag en vermoor is. Die naam het nie ’n ooglopende betekenis nie. Dis ’n besonderse naam wat letterlik beteken “sy is die ware een”, die een wat al die mooi en goeie dinge wat haar ouers vir haar gekoester het, verteenwoordig. So speel ironie ook ’n rol by die assosiatiewe betekenis van persoonsname.

Hierdie kategorie is baie gewild onder talle ouers by die geboorte van ’n kind. Die verwagtinge en aspirasies vir die kind word dikwels mooi in die name versinnebeeld. Min Euro-Westerse name bevat sodanige verwagtinge.

5.2 Dankbaarheid teenoor God/voorvaders

Dit is waarskynlik korrek om aan te neem dat die meeste Xhosasprekers in die een of ander bonatuurlike krag glo wat dikteer, lei, straf, beloon, bevorder ens. – wat met ander woorde invloed op die mense en hulle alledaagse lewe uitoefen. ’n Groot persentasie van die Xhosasprekers is tot die Christendom bekeer na die sendelinge hierdie godsdiens aan die begin van die 18de eeu bekendgestel het. Die begrip God word benoem met die woord uThixo, en dis bloot natuurlik om vir sy leiding en hulp te vra, veral ook wanneer ’n kind begeer word. Wanneer ’n kind gebore word, dan word ’n naam gekies om Hom te bedank.

Baie Xhosasprekers funksioneer gemaklik in sowel die Christelike as die tradisionele godsdienskonteks waar die voorvaders wat reeds die aarde verlaat het, nog steeds ’n belangrike rol speel. Die bonatuurlike krag word uQamata benoem. Hy is ’n veraf godheid wat nie direk by sy onderdane inmeng nie. Die voorvaders wat as tussengangers optree, is hier belangriker. Indien ’n kind gebore sou word, dan sal die naam van die kind ook erkenning gee en die voorvaders bedank vir hulle goedhartigheid teenoor die ouers van die pasgeborene. 

Baie name suggereer die begrip dankbaarheid, en dit is nie altyd duidelik of dit teenoor die Christelike God of die voorvaders is nie. Soms word albei dalk geïmpliseer. De Klerk en Bosch (1995:74) skets die volgende voorbeeld: ’n Seuntjie is vroeggebore, en die familie het hom in die hospitaal besoek en ’n “klein dingetjie” in ’n broeikas gevind. Hulle was so teleurgesteld en het nie gedink hy sou oorleef nie, en het hom by die voorvaders (amawethu) en God gelaat. Hy het egter oorleef en toe die naam Mawethu (= een van [ons] voorvaders) gekry.

Daar is uiteraard baie voorbeelde wat een of ander vorm van dankbaarheid uitbeeld. Hier volg ’n paar:

Nkosinathi: < inkosi “Here” + “met” + thi(na) “ons” = die Here is met ons
Nkosivumile: < inkosi “Here” + ivumile “Hy het ingestem” = die Here het ingestem
Nkosiphendule: < inkosi “Here” + -phendule “het geantwoord”= die Here het geantwoord
Ntombenkosi: < intombi “dogter/meisie” + (y)enkosi “van die Here” = die Here se dogter/meisie
Mntanenkosi: < umnt(w)ana “kind” + (w)enkosi “van die Here” = die kind van die Here
Mandlenkosi: < (a)mandla “krag” + enkosi “van die Here” = die krag van die Here
Bonginkosi: < -bonga “prys” + inkosi “die Here” = prys/dank aan die Here. 

Baie ander name druk bloot die begrip dankbaarheid van die familie vir die toevoeging uit:

Nombulelo/Mbulelo: < umbulelo = danksegging, dankbaarheid
Siyabulela: < si- “ons” + -ya- + -bulela “bedank” = ons is dankbaar . Die tydsmerker -ya- kom voor in eenwoordsinne en verteenwoordig ’n aksie in die teenwoordige tyd.
Nomthandazo: < no + umthandazo “gebed” = ’n gebed (as antwoord op versoek)
Vuyo/Nomvuyo: < uvuyo/no + uvuyo “blydskap” = blydskap
Vuyani: < vuya + -ni “wees bly” = wees bly, julle. Die meervoudige imperatief (bevelsvorm) -ni aan die einde van werkwoorde verteenwoordig meestal ’n manlike naam.
Ndivuyeleni: < ndi- “ek, my” + -vuyela “wees bly vir” + -ni “julle”= wees (julle) bly oor my (geboorte)
Sinovuyo: < si- “ons” + na- “met” + uvuyo “blydskap”= ons is bly
Ntsikelelo: < intsikelelo “seëning” = ’n seëning
Sipho/Nosipho: < (i)sipho “geskenk” = ’n geskenk
Siyamthanda: < si- “ons” + -ya- + -m- “hom” + -thanda “liefhê” = ons het hom lief.

Die laaste voorbeeld hier bo (Siyamthanda) is die volle voornaam van Siya Kolisi, Suid-Afrika se kaptein tydens die onlangse (2019) Wêreldrugbybekertoernooi wat in Japan gehou is. Baie min mense weet dis sy volle voornaam met die mooi betekenis soos hier bo aangedui. Die naam Siya dra geen leksikale betekenis nie. Soos hier bo by ’n ander voorbeeld verduidelik word, beskik sy naam ook oor die tydsmerker -ya-. ’n Voorwerpmerker -m- wat “hom” verteenwoordig, funksioneer ook in die eenwoordsin.

Langerige name word dikwels verkort en funksioneer dan as ’n bepaalde kategorie van byname. Baie navorsers (sien Neethling 1990, 1994, 2012; Bosch 1994, De Klerk en Bosch 1998, 2002; De Klerk 1998, 2002) het reeds byname onder die amaXhosa bestudeer. Dit word nie in hierdie bydrae behandel nie. 

Die voorvoegsel No- kom slegs by vroulike name by, soos ook in die vorige kategorie. Gysman (1992) verwys na ’n gesin wat beplan het om vyf kinders te hê. Na die toekenning van die name het hulle versigtig ’n sin geskep waarin al die name voorkom: Esi sipho sisiphiwe ngokuthembeka nokuthobeka kumawethu (“Hierdie geskenk [= die kinders] is aan ons gegee omdat ons vertrou op en gehoorsaam is aan ons voorvaders”).

Die vyf name het soos volg in die sin verskyn: Nosipho (“geskenk”), Siphiwo (“geskenk”), Thembeka (“die betroubare een”), Thobeka (“die gehoorsame een”) en Nomawethu (“een van ons”, naamlik die voorvaders). Al hierdie name kan in die eerste twee kategorieë voorkom.

Die begrip dankbaarheid word baie effektief in die name vervat. Baie voorbeelde kan nog bygevoeg word. 

5.3 Samestelling/uitbreiding van die gesin

Hierdie kategorie is deesdae ’n baie gewilde kategorie, een wat Thipa (1986, 1987) en Mthembu-Salter (2001) nie gebruik het nie. Dit gaan oor die samestelling van die gesin in terme van geslag. Onder sowel die Xhosasprekendes as die Zoeloes (sien Koopman 2002:35) is dit belangrik om ’n gebalanseerde samestelling te hê. ’n Man met baie seuns is daarvan verseker dat die familielyn sal voortgaan, maar as hy nie ook dogters het nie, loop hy gevaar om weens die lobolagebruik ’n groot aantal beeste (of finansiële bates) aan die bruide se families te betaal. Sodoende kan hy letterlik verarm. As hy egter baie dogters het, maar geen seuns nie, sal hy verryk word deur die lobolabeeste (of ander wêreldse goed), maar sy familielyn sal saam met hom sterf. Ouers is dus deeglik hiervan bewus en hou die balans fyn dop. ’n Mooi voorbeeld hiervan is die volgende: ’n Meisie met die naam Nomalinge (< ilinge = “probeerslag”) het die naam gekry na vier seuns gebore is, en die ouers desperaat was om ’n dogter te kry. 

In die laaste jare is die werkwoordmorfeem -anda (om uit te brei, toe te neem) ’n baie gewilde keuse. Die naam doen aan die hand dat die gesin groter geword het. Algemene en gewilde voorbeelde sluit in:

Bandile: < ba- “hulle” (= die kinders) + -andile “het toegeneem” = hulle het meer geword
Sandile: < si- “ons” + -andile “het toegeneem” = ons het meer geword
Mzwandile: < (u)mzi “huis” + -andile “het toegeneem” = die huis (familie) het meer/groter geword
Lwandile: < lu- “dit (= die gesin)” + -andile “het uitgebrei” = dit (die gesin) het meer geword. Lu- is die onderwerpmerker van die naamwoord usapho wat “gesin” beteken.
Andile: < a- “hulle” + -andile “het uitgebrei” = hulle het meer geword.

Die suffiks -ile dui aan dat dit ’n manlike naam is. Die laaste voorbeeld se onderwerpmerker, naamlik a-, kan as genderneutraal beskou word, want dit kan na amantombazana (dogters/meisies), óf na amakhwenkwe (seuns) verwys. 

Sommige voorbeelde afgelei van -andile kan as dubbelsinnig in terme van geslag beskou word. Vergelyk die volgende: 

Siyanda: < si- “ons” + -ya- + -anda “neem toe”= ons word meer. Dis meer algemeen as ’n manlike naam.
Lusanda: < lu- “dit” (= die gesin) + -sa- “nog” + -anda “neem toe” = Dit (die gesin) word nog meer. Soos bo aangedui, verwys die lu- na usipho (gesin).
Bayanda: < ba- “hulle” + -ya- + -anda “neem toe” = Hulle word meer.

’n Ander werkwoordstam wat soms gebruik word, is -ongeza (“voeg by”):

Songezwa: < si- “ons” + -ongezwa “is bygevoeg” = een is tot ons bygevoeg. Indien die passiefmerker -wa/-iwe aan die einde gebruik word, is die nuutgeborene ’n dogter.

Indien bepaalde leksikale items gebruik word om geslag duidelik aan te dui, is dit die ouers se doelwit om dit in die naam aan te dui, naamlik dat ’n seun of ’n dogter nou tot die gesin toegevoeg is. ’n Paar voorbeelde:

Mzwamadoda: < (u)mzi “huis” + wa- “van” + amadoda “mans” = huis vol mans
Madodonke: < (a)madod(a) “mans” + onke “almal, net” = almal mans, net mans

Voorbeelde van vroulike name sluit dikwels die leksikale item intombi (“dogter/meisie”) in:

Nontombi: < no + intombi = “dogter/meisie”
Ntombentsha: < (i)ntomb(i) “dogter/meisie” + entsha “wat nuut is” = ’n nuwe dogter/meisie
Ntombifikile: < (i)ntomb(i) “dogter/meisie” + ifikile “het gearriveer” = ’n dogter/meisie het gearriveer
Ntombizodwa: < (ii)ntombi “meisies” + zodwa “almal, net” = net dogters/meisies
Nokwayiyo: < no- + kwa- “ook” + yiyo “dit is een” = dis ook een. Hierdie voorbeeld is besonders: Die No- dui aan dis ’n vroulike naam. Die ouers is desperaat: Dit blyk dat hulle net dogters het, hulle is teleurgesteld, en kan nie aan ’n mooi naam dink nie. Hierdie voorbeeld dui daarop dat die babadogter haar identiteit deur haar susters wat voor haar gebore was, vind. Koopman (2002:49) gee ’n uitstekende voorbeeld van ’n soortgelyke penarie by ’n Zoeloefamilie. Die vader het net seuns en by die geboorte van sy laaste en sewende seun het hy hom uit desperaatheid die naam Mbizeni gegee (“Wat moet hy genoem word?”). Biza is die Zoeloe-werkwoord vir “benoem”. Dit was asof hy nie meer aan enige geskikte manlike naam kon dink nie.

’n Ander groepie name suggereer dat die ouers besluit het dat hulle genoeg kinders het, en die een wat laaste gebore is, kry ’n sodanige naam om dit te bevestig. Soms verwys dit na die geslag van die kinders. Die werkwoordstam -anela/-anele (“word/is genoeg”) word dikwels gebruik:

Ntombizanele: < (ii)ntombi “dogters/meisies” + -anele “is genoeg” = die dogters/meisies is genoeg
Zanele: < zi- “hulle” (= dogters/meisies) + -anele “is genoeg” = hulle is genoeg. Dis net ’n verkorte vorm van die vorige voorbeeld.
Sanele: < si- “ons” + -anele “is genoeg” = ons is genoeg
Mzwanele: < (u)mzi “huis” + -anele “is genoeg” = die familie is groot genoeg, die huis is vol.

Soms word geboorte geskenk aan ’n tweeling. Soos reeds hier bo aangedui, word daar dan in die Xhosagemeenskap twee name gegee wat op die een of ander wyse, meestal semanties, met mekaar verband hou. Die eertydse Xhosaskrywer S.E.K. Mqhayi het ’n roman geskryf met die titel Ityala lamawele, wat in Afrikaans vertaal kan word as Die hofsaak van die tweeling (1970). Die Xhosawoord vir ’n tweeling is amawele. In die boek word een van die tweeling Wele en die ander een Babini (= “hulle is twee”) genoem.

’n Ander voorbeeld word deur Gysman (1992:19–20) verskaf: Na die geboorte van die tweeling het ’n frase ontstaan: Bezile bemanyiwe, wat beteken “hulle het verenig gekom”. En daarna het die een die naam Bezile (“hulle het gekom”) gekry, en die ander een die naam Bemanyiwe (“terwyl hulle verenig was”). Identiteit is dan uitgedruk by wyse van ’n verhouding tot ’n ander een, ’n soort van kollektiewe identiteit.

Opsommend ten opsigte van hierdie kategorie kan dit gestel word dat dit duidelik baie gewild is en dat baie ander voorbeelde bygevoeg kan word. Ouerpare is trots daarop om die samestelling van hulle gesin by wyse van name uit te beeld, en ook om die uitbreiding van die gesin gewoonlik by wyse van geslag in die naam aan te toon.

5.4 Omstandighede tydens swangerskap/by geboorte

Nog ’n prominente kategorie is name wat spontaan ontstaan het net voor, tydens, of net na geboorte. Dat hierdie kategorie ’n spesifieke kulturele patroon uitbeeld, kan betwis word, maar dit is tog algemeen in baie ander Afrikalande. Dit is egter vernuwend en soms humoristies. Die omstandighede rondom die geboorte kan nie voorspel word nie, en as sodanig vorm die name nie ’n patroon nie. Sommige van die name kan selfs in ander reeds bespreekte kategorieë voorkom. Volgens Ntwana (1994:19) is die voorkoms van sodanige name nie meer so volop in moderne tye nie, omdat bevallings merendeels in hospitale geskied waar goeie mediese fasiliteite bestaan en komplikasies vinnig hanteer kan word. 

Sommige name verwys na probleme wat die vroue tydens swangerskap voor die geboorte ervaar het. ’n Paar voorbeelde hiervan volg.

Celukuphila: < -cela “vra” + ukuphila “om te lewe” = Hy wat vra om te lewe/gesond te wees. Die eggenoot het so gereageer: “My vrou was baie siek tydens haar swangerskap en ek het God gevra om gesondheid aan haar te gee.”
Thandazile: < -thandazile “het gebid” = Hy wat gebid het. Die moeder het so gereageer: “Ek was so siek tydens my swangerskap dat ek God vir my herstel gevra het.”
Sithembiso: < isithembiso “belofte” = Belofte. Een van die ouers het gesê: “Die Bybel vertel ons dat die Heer enigiets belowe wat in sy naam gevra word, en hier is ons seun.”

Dit is egter die totaal ongewone omstandighede wat impulsief tot buitengewone name lei. Selfs indien die ouers reeds vooraf aan bepaalde name gedink het, het die ongewone gebeure aanleiding gegee tot die nuwe naam wat ingespeel het op die rare en vreemde omstandighede. Gysman (1992:19) het die volgende storie vertel: Die jong swanger vrou het in kraam gegaan en toe was daar komplikasies. Die dokters het mekaar geraadpleeg en op ’n keisersnit besluit, en ook die toekomstige vader van hulle besluit verwittig om sy toestemming te verkry. Hy het geweier deur die volgende kwyt te raak: Nada nathi makatyandwe, nakanye! Sy reaksie in Afrikaans sou só kon lui: “Het julle nou gesê daar moet op haar geopereer (oopgesny) word, nooit!” Hy is egter oorreed dat dit die beste vir die moeder en die baba sou wees, en hy het huiwerig toegestem. Die keisersnit het vlot verloop. Die kind, ’n dogter, se volle naam is summier geregistreer as Nada nathi makatyandwe nakanye, maar in die alledaagse lewe het sy bekend gestaan as Nada, ’n naam sonder enige betekenis. Dis ’n goeie voorbeeld van hoe onvoorsiene omstandighede naamgewers kan beïnvloed. 

Soms moet swanger vroue onverwags geboorte skenk in veraf vreemde plekke. Dis nie ongewoon dat mense wat behulpsaam was by die geboorte of die plek waar die geboorte plaasgevind het, soms in die naam van die pasgeborene herdenk word nie. Die Daily Dispatch (14 Junie 1999) het ’n berig gepubliseer van ’n swanger vrou op ’n Greyhound-bus onderweg na Mthatha. Die bus moes stop sodat die vrou kon kraam. Toe is die kind Umtata Greyhound genoem. (Dit was voor die nuwe spelling van die dorpnaam.)

Een van die deelnemers van UWK dra die naam Viwe, wat beteken “is gevoel”. Sy het vertel dat haar swanger ma met haar haar eerste kontraksies gevoel het toe sy die verpleegkunde-eksamen geskryf het.

Die verskyning van die baba gee dikwels aanleiding tot die skepping van ’n naam en wat die oomblik verewig. Die gelaatskleur, die ooreenkoms met iemand anders, die baba se grootte, ens. kan almal bydra tot die skepping van ’n naam. De Klerk en Bosch (1995:75) onderskei ’n bepaalde subkategorie wat hulle “Physical appearance” (fisieke voorkoms) noem. Hier volg ’n paar sodanige voorbeelde in geen bepaalde volgorde nie: 

Nontsikizi: < intsikizi “swart voël” = dogter/meisie met ’n donker gelaatskleur
Somikazi: < isomi “spreeu” = dogter/meisie met donker vel. Die agtervoegsel -kazi dui op vroulikheid.
Nomasomi: < isomi “mooi spreeu” = mooi en aantreklike baba. Geen sprake van ’n “donker” gelaatskleur nie.
Mnyamana: < -mnyama “swart” = babaseun met donker gelaatskleur
Notumato: < Eng. leenwoord “tomato” = mooi dogter/meisie by geboorte met rooierige gelaatskleur
Nofoto: < Eng. leenwoord “photo” = dogter/meisie beweer sy het presies soos haar ouma by geboorte gelyk
Nomhle: < -hle “mooi” = ’n mooi dogter/meisie by geboorte
Zintle: < zi- “hulle” + -hle “mooi” = ’n mooi laaste dogter/meisie (alhoewel sy nie “mooi” was nie)
Ntozimbi: < (i)nto “iets, ’n ding” + zimbi “hulle is lelik” = ’n lelike babaseun
Ntlokozenkomo: < (i)ntloko “kop” + ze(e)nkomo “van die beeste” = babaseun met baie groot kop.

Sommige name hou verband met baie algemene omstandighede, byvoorbeeld weersomstandighede: 

Nolita: < Eng. leenwoord “light” = dogter/meisie wat gedurende die dag gebore is
Nontsasa: < (i)ntsasa “vroegoggend” = dogter/meisie vroegoggend gebore
Nomvula: < (i)mvula (reën) = dogter/meisie gebore toe dit gereën het
Nomaqabaka: < (i)qabaka “koue” = dogter/meisie gebore toe dit baie koud was
Nokresmesi: < Eng. leenwoord (i)kresmesi “Kersfees” = dogter/meisie op Kersdag gebore
Nopasika: < Eng. leenwoord (i)pasika “Paasfees” = dogter/meisie tydens Paasfees gebore.

Selfs woorde vir maaltye kom voor:

Nobrakfesi: < Eng leenwoord “breakfast” = dogter/meisie tydens ontbyt gebore
Nodinala: < Eng. leenwoord “dinner” = dogter/meisie tydens aandete gebore
Nosopholo: < Eng. leenwoord “supper” = dogter/meisie tydens aandete gebore.

Dis interessant dat net meisiename vanuit hierdie alledaagse kontekste voorkom. Dis nog nie verklaar nie, alhoewel De Klerk en Bosch (1995:78) die opmerking maak dat hierdie name eintlik verbeeldingloos is. Net by kinders wat eerste en tweede gebore is, is daar ’n sterk begeerte by ouers om aan die naamgeetradisies te voldoen, en dit geld nie meer by dié wat later kom nie. Wanneer ontlening uit ander tale figureer (soos hier bo), is so ’n siening waarskynlik moontlik, alhoewel dit tans steeds bespiegeling bly. Indien hedendaagse tydskrifte, koerante en televisiereekse bekyk word, kom hierdie tipe naam nie meer voor in die moderne Xhosa-samelewing nie. 

In sommige Afrikagemeenskappe kan kinders (ook seuns) vernoem word na die bepaalde dag van die week waarop hulle gebore is. Die name van twee Afrikaleiers sal dit illustreer:

Kwame: Dis die voornaam van die voormalige Ghanese politieke leier, Kwame Nkrumah. Kwame beteken “manlike kind gebore op Saterdag”.
Kofi: Kofi Annan het bekend geword as die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies. Kofi beteken “manlike kind gebore op Vrydag”.

In die Xhosa-data kom ook ’n paar sodanige name voor, maar weer eens net vroulike name: 

Nocawe: < (i)cawe “Sondag” = dogter/meisie gebore op Sondag
Nomvulo: < (u)mvulo “Maandag” = dogter/meisie gebore op Maandag
Nomgqibelo: < (u)mgqibelo “Saterdag” = dogter/meisie gebore op Saterdag.

Dit kan bloot toevallig wees dat so baie dogtername met die vroulike merker No- in hierdie kategorie voorkom. Alle beskikbare data sal vergelyk moet word om vas te stel of ouers ’n voorliefde daarvoor het om hulle babadogters met hierdie name te benoem. Dit wil voorkom asof hierdie name, vernoem na ’n dag van die week, minder kulturele waarde as ander tipe name het. Omdat meisies die oorweldigende draers van hierdie name is, kan die suggestie geskep word dat die patrilineêre Xhosagemeenskap dalk onbewustelik hierdie minder belangrike name na die vroulike geslag relegeer. 

Die tipes van hierdie kategorie wat op een of ander besondere wyse die omstandighede voor of by geboorte beskryf, verskil baie. Omdat dit dikwels die onvoorspelbare daarstel, sal dit waarskynlik so bly. Die besonderheid van die name weerspieël ook die mooiheid daarvan: Die naamgewers word so opgesweep deur die omstandighede en die emosies wat daarmee saamgaan, dat hulle naamgewing gebruik om hulle emosies uit te druk. Sommige name volg dus nie die kultuurgebaseerde “patroon” soos dit meestal verwoord word nie. Dit is nie duidelik hoe die naamdraers reageer soos hulle grootword nie. Dalk kan trots en aanvaarding geskied omdat sommige name uniek is.

5.5 Sterfte: Oorlewing en vertroosting

Die dood van ’n kind word in enige gemeenskap as traumaties beskou, veral dalk nog meer in gemeenskappe waar die geboorte van ’n kind toegeskryf word aan die welwillende ingryping van ’n bonatuurlike krag. Sou ’n kind dan sterf, word dit dikwels geïnterpreteer as die invloed van bose magte, want dit word nie maklik aanvaar dat ’n kind voor die ouers sterf nie. Die Xhosagemeenskap stoei met al die vrae wat ’n kindersterfte bring.

Een wyse waarop so ’n opset hanteer word, is om ’n kind wat na die sterfte van ’n vorige kind gebore word, te benoem met ’n neerhalende of verkleinerende naam. Die frustrasie en wanhoop van die ouers gekoppel aan ’n doodgebore kind, miskraam of ’n vroeë dood, laat die ouers dit dikwels oorweeg om ’n betekenislose of neerhalende naam aan die nuwe aankomeling te gee. Die redenasie is dat die draer van so ’n naam as nutteloos en nie waardevol nie beskou sal word. Dit is ’n boodskap aan die bose magte dat hulle hul nie hoef te steur aan hierdie nuweling nie. Op hierdie manier het die nuweling ’n beter kans om te oorleef. Die onderstaande voorbeelde kom voor in Bangeni en Coetser (2000:63). Alhoewel Bangeni Xhosasprekend is, gee hulle geen verdere verduideliking van die Xhosaname nie. Xhosabronne dui dit ook nie aan nie. Dis nie ’n baie groot kategorie nie, en hier volg hulle voorbeelde:

Nomathaxase: “sonder vorm, grasie, of selfbeheersing”
Nomatyhifilili: “lelik en onsmaaklik”
Nonduxu: “groot en lelik”
Nontwingento: “waardeloos”

Die name, weer almal vroulik vanweë die No- voorvoegsel, het ’n besliste “ou” vorm, wat waarskynlik De Klerk en Bosch (1995:70) se bevinding staaf dat sodanige name nie juis meer in ’n moderne Xhosasamelewing voorkom nie. In een bron (Kropf en Godfrey 1915) kom die term ubu-tyifili voor met die betekenis van “stupidity, folly”. Dis die naaste aan een van die bostaande voorbeelde (Nomatyhifilili).

Die teendeel van hierdie uiters negatiewe reaksie is ’n positiewe een waar die ouers verheug is dat ’n nuwe geboorte op die sterfte gevolg het. Hierdie nuutgeborenes kry positiewe name, en word beskou as ’n vorm van kompensasie en vertroosting: 

Nomathamsanqa: < ithamsanqa = “goeie geluk”. Die deelnemer het opgemerk dat sy die enigste dogter was wat geleef het.
Nontuthuzelo: < intuthuzelo = “vertroosting”. Die deelnemer het opgemerk dat sy die plek van die oorlede broers ingeneem het, en sodoende die res van die familie vertroos het en weer die vrede herstel het.
Nomawethu: < iwethu = “voorvader”. Die voorvader(s) is bedank deur hierdie naam na die dood van ’n vorige baba.
Nomalizo: < ilizo = “een wat ons bygestaan, gehelp, vertroos het”.

Dit is ook ’n klein kategorie, wat waarskynlik daarop dui dat die ouers en die familie die vroeë sterftes verwerk het en dit ook op ander wyses hanteer, nie net deur naamgewing nie.

5.6 Naamherdenking/Affiliasie

In die Oos-Kaap het De Klerk en Bosch (1995:73) die naamgeepraktyke tussen die Xhosa- en die Engelssprekende gemeenskappe vergelyk, en hulle het ook ’n kategorie geskep met die naam Commemorative. Daar is verskillende subkategorieë. Ten opsigte van Xhosaname lyk dit asof die beste opsie waarskynlik is om ’n naamherdenking ten opsigte van ’n affiliasie uit te beeld. Xhosasprekers beskik oor ’n clan-naam (isiduko) wat aan dieselfde voorvader gekoppel is. Wanneer Xhosasprekers mekaar vir die eerste keer in ’n meer tradisionele konteks ontmoet, doen hulle gewoonlik op die volgende wyse navraag oor die clan-affiliasie: “Ngubani isiduko sakho?” (Wat is jou clan-naam?). So kan hulle die clan-verwantskap bepaal, wat dan ook die kulturele identiteit bepaal. Die skakel tussen naam en identiteit is belangrik in die Xhosagemeenskap en die clan-verwantskap dra daartoe by om dit uit te lig. Daar bestaan talle clans onder die sambreelterm amaXhosa, en hulle name kom dan in persoonsname soos die volgende voor: 

Mahlubi/Nomahlubi (Hlubi)
Mashwabada (Shwabada)
Gcina (Gcina)
Bhelekazi/NomaBhele (Bhele)
NomaWushe (Wushe)
NomaTshawe (Tshawe)
NobaThembu (Thembu)
NomaZizi (Zizi)
NomaMpondo(Mpondo)
NomaTshezi (Tshezi).

Soms sal die clan-naam aan ander frases gekoppel word, dikwels om ’n vermeerdering in getalle te bevestig deur die gebruik van die werkwoordstam -anda (soos ook in ’n vorige kategorie), ’n aansporing en aanmoediging om na die sake van die clan om te sien, of om dankbaarheid uit te druk. Baie van hierdie name sou in vorige bespreekte kategorieë geakkommodeer kon word, maar die skakel met die clan noodsaak hierdie afdeling:

Mahlubandile: < amaHlubi “die Hlubi’s” + -andile “het uitgebrei” = die Hlubi-clan het uitgebrei
Mabhelandile: < amaBhele “die Bheles” + -andile “het uitgebrei” = die Bhele-clan het uitgebrei
MaJolandile: < amaJola “die Jolas” + -andile “het uitgebrei” = die Jola-clan het uitgebrei
MaZizandile: < amaZizi “die Zizi’s” + -andile ‘het uitgebrei’ = die Zizi-clan het uitgebrei
JongamaBhele: < jonga “kyk na/sien om na” + amaBhele “die Bheles” = kyk na/sien om na die Bhele-clan
AbongilamaBhele: < abongile “hulle het bedank/geprys” + amaBhele “die Bheles” = die Bhele-clan is dankbaar.

Daar is baie min ander name wat ander bepaalde gebeurtenisse uitbeeld. Dit is egter moontlik dat sodanige “gedenkname” weer in die toekoms kan ontwikkel.

5.7 Neerhalende/negatiewe name

Die laaste kategorie wat Xhosanaamgewing in hierdie bydrae betref, gaan oor neerhalende of negatiewe name. Indien ’n neerhalende of negatiewe boodskap in ’n naam vervat word, is dit redelik seker dat die faktore wat daartoe aanleiding gegee het of bygedra het, waarskynlik nie beskikbaar gaan wees nie. Die naamdraers weet meestal nie, of as hulle weet, deel hulle dit nie maklik met ander Xhosasprekers nie. Dikwels kan ’n mens gewoon net spekuleer oor die omstandighede wat tot die naam gelei het.

Die naamgewingproses behels in beginsel ’n baie positiewe aktiwiteit. Dit sonder hoogtepunte uit van die individu of sy familie, die aspirasies of verwagtinge van die nuutgeborene, die dankbaarheid teenoor ’n hoër gesag, dié se rol in die lewe en in sy familie, die gespog oor die toename in die familie, en die herdenking of affiliasie van die individu en sy familie. Oor die algemeen weerspieël die name ’n positiewe trots in die familie en wat hulle voorstaan.

Hierdie bepaalde kategorie, wat lyk asof dit die teenoorgestelde uitbeeld, is dus op een of ander dramatiese wyse gekoppel aan onverwagse en onaangename gebeure wat die ewewig versteur het, en om die naamgewers te “dwing” om atipiese name, moontlik uit die tradisie, te kies om hierdie negatiewe omstandighede te weerspieël. Die feit dat name dikwels semanties deursigtig is, vererger die naam vir die draer: Elke keer as die naam genoem word, aan gedink word of geskryf word, word die naamdraer op ’n kragtige manier aan die onaangename herinneringe blootgestel wat tot die bepaalde naam gelei het. Daarom word hierdie kategorie as ’n eiesoortige een beskou.

Thipa (1987:112) lê klem op kinders wat buite-egtelik gebore word, en beskou hulle as “rocking the boat”, met ander woorde die kalm verhouding in ’n huis, in die gemeenskap en tussen die gemeenskap en die bonatuurlike, word ontwrig. Ongewenste swangerskappe veral onder die jeug is deesdae baie algemeen, ook onder die amaXhosa. Waarskynlik moet Thipa se sterk bewoording beoordeel word teen die agtergrond van die tyd toe hy dit waargeneem het.

Dit is egter nie net seksuele oortredings wat tot ongewenste name lei nie. In haar inleiding verwys Mthembu-Salter (2001:10) na name soos Jabhile wat “ontevredenheid”, en Zanempi wat “een wat oorlog bring” beteken. In haar “temas” verskyn begrippe wat hierdie negatiewe name verteenwoordig, naamlik bekommernis, verwarring en onsekerheid, bedrog en geheimhouding, misnoeë, skinder, vyandigheid en verwoesting, teenspoed en oortreding. Omdat sy name uit al die Ngunigroepe gekies het, is dit problematies om die Xhosaname uit die alfabetiese lys te identifiseer. Sy het ook nie kategorieë geskep nie.

Hierdie negatiewe name is redelik skaars. Volgens ’n student het meisies vroeër dikwels die naam Nolishwa gekry wat “teenspoed” beteken, maar nie meer nie. Oor die teenspoed wou sy nie uitwei nie. ’n Manlike student het die naam Nyakambi < unyaka “jaar” + mbi “is sleg” = ’n slegte jaar. Niemand noem hom op daardie naam nie, maar gebruik sy Engelse naam. ’n Mens kan gewoon spekuleer oor die swak omstandighede wat die naamdraer se familie in daardie jaar ervaar het.

’n Soortgelyke naam kom voor by ’n welbekende vakbondleier, Zwelinzima Vavi. Hy was ’n vorige sekretaris-generaal van Cosatu (1999–2015). Sy geboortedatum is 1962, en hy is in ’n gesin met nog vier broers en sewe susters. Waar hy inpas, is nie duidelik nie, maar miskien speel hierdie buitengewoon groot gesin ’n rol in die naam wat hy gekry het. Ilizwe is die volledige woord vir “land”, en -nzima is ’n deskriptief wat “swaar, moeilik” beteken. Die klasprefiks van ilizwe (klas 5), naamlik ili- verval en die woord word verkort tot zwe- gevolg deur die onderwerpmerker li- + -nzima, met ander woorde “die land kry swaar”. Die betekenis van sy voornaam het nie destyds aandag getrek nie. Alhoewel Vavi polities gesproke grotendeels eintlik van die toneel verdwyn het, dra hy vandag daardie geboortenaam wat inderdaad van toepassing is op baie Suid-Afrikaners wat ekonomies swaarkry.

Ander negatiewe name:

Velaphi: < vela “kom van” + phi “waar?” = Waar kom jy vandaan?
Nomfazwe: < imfazwe “oorlog” = moeder van oorlog
Nontshaba: < iintshaba “vyande” = moeder van vyande
Nonyewe: < unyewe “twispunt” = moeder van (’n) twispunt
Dideka: < -dideka “verwar wees” = is/wees verward

In gevalle soos hier bo waar die vroulike merker No- voorkom, verskaf Xhosasprekers dikwels die verwysing na die persoon wat deur hierdie negatiwiteit gekenmerk word as die “moeder” van die onmin.

Ntwana (1994:21) verskaf nog twee voorbeelde: 

Xolani: < -xola “vergewe” + -ni (imperatiewe suffiks) = vergewe (hulle)! Die naamdraer verduidelik dat sy buite-egtelik gebore is en haar tante probeer het om haar teleurgestelde grootouers te vertroos.
Nompazamo: < impazamo “fout” = fout. Die naamdraer verduidelik dat sy nie ’n beplande baba was nie en ook buite-egtelik gebore is.

Mthembu-Salter (2001) verskaf ook ’n lys van negatiewe name, maar geen verdere inligting waarom die name toegeken is nie. Hier volg ’n paar:

Bazini: < ba- “hulle” + -azi “weet” + -ni “wat?” = Wat weet hulle?
Zifihlephi: < zi- “jouself” [refleksief] + -fihla “steek weg / wegkruip” + phi “waar?” = Waar kan jy wegkruip?
Phumephi: < -phuma “vandaan kom” + phi “waar?” = Waar kom jy vandaan?
Danisile: < -danisa “het teleurgestel” = een wat teleurgestel het
Madolonzima: < amadolo “knieë” + -nzima “swaar” = die twyfelagtige een. Die verband lê op die figuurlike/idioomvlak, met ander woorde die individu na wie verwys word, lyk nie opgewasse vir die taak wat vir hom voorlê nie.
Mhlebekile: < m- “hy/sy” + -hlebekile “is oor geskinder” = die een oor wie [maklik] geskinder word
Diliza: < -diliza “vernietig, afbreek” = die vernietiger
Mpisendlini: < impi “strydlustige faksie” + endlini “in die huis” = daar is ’n geveg in [ons] huis
Sonosakhe: < isono “sonde” + sakhe “van hom” = sy sonde. 

Oor die redes vir hierdie name kan ’n mens spekuleer. Sodanige name is redelik skaars deesdae, terwyl Mthembu-Salter se data eintlik die teenoorgestelde verteenwoordig. Sy het ’n redelike aantal van hierdie negatiewe name onder Ngunisprekers versamel. Opmerkings deur die naamgewers of die naamdraers sou die interpretasie van hierdie name vergemaklik het. Dis nie duidelik of hierdie kategorie afneem of selfs toeneem nie.

 

6. Ten slotte

Dit behoort duidelik te wees dat naamgewing ten opsigte van persoonlike name onuitputlik is. Bepaalde Xhosaname, veral dié wat as positief beskou kan word, word herhaaldelik gebruik as ’n bepaalde konvensie, maar daar is nog steeds uiters baie geleenthede om kreatiewe naamgewing te beoefen. Dat baie Xhosaname intrinsieke dele van IKS oor ’n baie lang periode vorm, is uiteraard waar, maar IKS skep ook ruimte vir moderne en kreatiewe naamvorming wat geleidelik maar ook onvermydelik deel sal vorm van IKS. 

Omdat basiese sosiolinguistiese faktore soos omgewing, status en ouderdom nie in hierdie bydrae aandag geniet het nie, sou daar waarskynlik geargumenteer kon word dat die uiteindelike resultate kon verskil. Maar die finale bevindinge toon duidelik dat die oorspronklike en tradisionele naamgewingspatrone baie prominent figureer, al word baie Xhosakinders deesdae in ’n stedelike middelklasomgewing gebore. Dit wil voorkom asof die IKS ten opsigte van naamgewing baie belangrik geag word, en dat weggedoen word met die ou patroon om ’n tweede, Engelse naam te gee. 

Persoonlike naamgewing onder die amaXhosa gaan hand aan hand met óf gebruikmaking van bestaande name, óf die skepping van nuwes. Die verskillende kategorieë wat in hierdie bydrae aandag geniet het, het bepaalde kultuuraspekte toegelig. Name in die Xhosagemeenskap funksioneer nie net as ’n verwysingsraamwerk om bepaalde individue van mekaar te onderskei nie. In ’n Euro-Westerse konteks funksioneer name hoofsaaklik op hierdie vlak, maar onder die amaXhosa is name sterk gekoppel aan familiebande, en hulle is dikwels semanties deursigtig. Hierdie betekenisvolle aspek bly ’n baie belangrike element. Xhosa is ’n taal met ’n uitgebreide woordeskat, wat ook deur taalkundige afleiding geweldig baie moontlikhede ten opsigte van naamgewing bied. Vernuwende naamgewing kom van tyd tot tyd voor, en skep ’n nuwe naamskat wat onophoudelik groei. 

Onomastiek is ’n multidissiplinêre studieveld wat vele uitdagings bied. Antroponimie, dit wil sê die naamgewing oor en aan mense, is een van die uitdagings. Omdat dit verband hou met hierdie aktiwiteit wat feitlik alle mense dwarsoor die wêreld een of ander tyd besig hou, is dit waarskynlik die belangrikste een.

 

Bibliografie

Bangeni, G.N. en A. Coetser. 2000. Xhosa first names, societal values and power relations. Nomina Africana, 14(2):59–69.

Bekker, S. en A. Leildé (reds.). 2006. Reflections on identity in four African cities. Plek nie vermeld: African Minds Publishers.

Bosch, B. 1994. Bynaamnavorsing: ’n Bestekopname. Nomina Africana, 8(2):27–39. 

Coetser, A. 1996. Afrikaans se bydrae tot familiename in Xhosa. Nomina Africana, 10(1/2):43–53.

De Klerk, V. 1998. Nicknaming across cultures: Borrowing and other linguistic tricks. Nomina Africana, 12(1):1–14.

—. 1999. Beauty or Buhle? On changing one’s name. Nomina Africana, 13(1/2):1–17.

—. 2002a. Changing names in the “New” South Africa: A diachronic survey. Names, 50(3):201–221

—. 2002b. Xhosa nicknames for whites: A double-edged sword. Nomina Africana, 16(1/2):146–63.

De Klerk, V. and B. Bosch. 1995a. Naming in two cultures: English and Xhosa practices. Nomina Africana, 9(1):68–85.

—. 1995b. Byname in ’n multitalige milieu: Aanduider van taalprestige? Nomina Africana, 9(2):23–39.

—. 1996. Naming practices in the Eastern Cape province of South Africa. Names, 44(3):167–88.

—. 1997. Nicknaming among Xhosa-speaking children and adolescents. South African Journal of African Languages, 17(3):95–9.

Felecan, O. (red.). 2012. Name and naming: Synchronic and diachronic perspectives. Newcastle upon Tyne: Cambridge Scholars Publishing. 

Gysman, L.B. 1992. Naming among the Xhosas. Ongepubliseerde Honneursskripsie. Departement Xhosa, Universiteit van Wes-Kaapland.

Herbert, R.K. 1997. The politics of personal naming in South Africa. Names, 45(1):3–17. 

Joubert, E. 1987. Die swerfjare van Poppie Nongena. Kaapstad: Tafelberg.

Kropf, A en Godfrey, R. 1915. A Kafir-English Dictionary. Lovedale Mission Press.

Koopman, A. 2002. Zulu names. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press.

Mabeqa, T.V. 1998. Getting a new name: The Xhosa daughter-in-law. Ongepubliseerde referaat gelewer by die NSA-kongres. Hermanus, September.

Mthembu-Salter, L. 2001. Call me by my name. Kwela Books: Cape Town

Neethling, B. 2005. Naming among the Xhosa of South Africa. New York: Mellen Press.

—. 2012a. Bynames as an expression of identity: A student profile at the University of the Western Cape. In Nyström (hoofred.) 2012:23–38.

—. 2012b. The right to a good name: Muslim and Xhosa children. In Felecan (red.) 2012.

—. 2014. Xhosa onomastics as part of Indigenous Knowledge Systems (IKS). Names, 62(4):218–28. 

—. 2018. Onomastics. A multidisciplinary field of study. Krugersdorp: BooksAfrica.

Neethling, S.J. 1983. Enkele Xhosa-naamgewingkonvensies geïllustreer aan die hand van Elsa Joubert se Poppie Nongena. In Sinclair (red.) 1983. 

—. 1988. Voorname in Xhosa. Nomina Africana, 2(2):223–7. 

—. 1990. Iziteketiso in Xhosa. Nomina Africana, 4(1):11–34. 

—. 1994. Xhosa nicknames. South African Journal of African Languages, 14(2):88–92.

—. 2000. An onomastic renaissance: African names to the fore. South African Journal of African Languages, 20(3):207–16.

Nicolaisen, W.H.F. 1978. Are there connotative names? Names, 26(1):40–47.

Ntwana, L.T. 1994. Xhosa personal names. Ongepubliseerde Honneursskripsie, Departement Xhosa, Universiteit van Wes-Kaapland.

Nyström, S. (hoofred.). 2012. Binamn. Uppkomst, bildning, terminology och bruk. Norna-Rapporter 88 (’n Sweedse geleentheidspublikasie). NORNA-förlaget: Uppsala: Swedish Science Press.

Puttergill, C. en A. Leildé. 2006. Identity studies in Africa. In Bekker en Leildé (reds.) 2006. African Minds Publishers

Raper, P.E. (red.). 1986. Name. Verrigtinge van die Tweede Suider-Afrikaanse Naamkunde-kongres, Pretoria. 13–15 September 1983. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

Shakespeare, William. 1967. Romeo and Juliet. Harmonthsworth: Penguin Books.

Sinclair, A.J.L. (red.). 1983. G.S. Nienaber – ’n huldeblyk. Bellville: UWK Drukkery.

Thipa, H.M. 1986. By their names you shall know them. In Raper (red.) 1986.

—. 1987. What shall we name him? Nomina Africana, 1(2):107–19.

Van der Merwe, W.L. 2005. Brief. Die Burger, 6 Mei.

Wassermann, H. en S. Jacobs. 2003. Shifting selves: Post-apartheid essays on mass media, culture and identity. Kaapstad: Kwela.

Zabeeh, F. 1968. What is in a name? An inquiry into the semantics and pragmatics of proper names. Den Haag: Martinus Nijhoff.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top