Dr JC (Koos) Oosthuysen het sy skoolopleiding in ’n isiXhosa-medium skool in Pondoland begin waar sy ouers baanbreker-sendelinge van die NG Kerk was. Hy het vir 42 jaar gedien as leraar in isiXhosa-sprekende gemeentes van die Kaaplandse NG Kerk in Afrika, wat opgeneem is in die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika. Vir 21 jaar was hy aktuarius van eersgenoemde kerk en moderator van dié kerk se eerste sinode van die Kaapse streek.
Hy was die koördineerder van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se vertaalprojek wat die funksioneel ekwivalente 1996-vertaling van die Bybel in isiXhosa geproduseer het. Na sy aftrede het hy ’n doktorsgraad aan Rhodes-universiteit verwerf en ’n omvattende grammatika van isiXhosa in beide Engels en isiXhosa gepubliseer, sowel as ’n handleiding in beide Afrikaans en Engels vir die aanleer van isiXhosa.
Koos hou hom besig met vertaalwerk in isiXhosa en lewer as vrywilliger van die tussenkerklike Hope-gevangenisbediening diens as berader in herstellende geregtigheid aan Xhosasprekende aangehoudenes.
Koos Oosthuysen is op 26 Augustus 2021 oorlede.