Antjie Krog ontvang Nederlandse prys vir haar bydrae tot Nederlandse kultuur

  • 1

Foto deur Antonia Steyn

Human & Rousseau en NB-Uitgewers is verheug om te verneem dat Antjie Krog die pas afgelope naweek vereer is met die 2018 Gouden Ganzenveer.

De Gouden Ganzenveer is ’n kulturele prys wat jaarliks in Nederland ​​toegeken word aan ’n persoon of instituut ter verering van hul bydrae tot die geskrewe en gedrukte woord in die Nederlandse taal. Dié prys word vanjaar vir die eerste keer aan iemand van buite Nederland en België toegeken. In 2017 is dit toegeken aan die bekroonde romansier Arnon Grunberg.

Gerdi Verbeet, voorsitter van die Akademie van die Gouden Ganzenveer, het die nuus op die Nederlandse radioprogram De Taalstaat bekendgemaak: “Die Akademie van die Gouden Ganzenveer eer Krog as ’n spesiale en veelsydige digter, as ’n uitsonderlike skrywer en joernalis van integriteit, en as ’n begaafde kunstenaar van haar eie werk.”

Eloise Wessels, besturende direkteur van Media24-Boeke en hoof van NB-Uitgewers, het die nuus verwelkom. “Dit is vir ons as Krog se uitgewer eweneens wonderlike nuus – ons is saam met haar trots en bly.”

Joost Nijsen, Krog se Nederlandse uitgewer by Podium, meen dat die entoesiasme vir haar werk bogemiddeld groot moet wees vir die Akademie om ’n uitsondering te maak vir ’n “buitelandse” outeur. “Ons het hier by Podium op die tafel gespring toe ons dit gehoor het. Nie alleen is die Gouden Ganzenveer waarskynlik die mees gesogte literêre prys in Nederland nie, maar dit is bowendien uniek dat die prys toegeken word aan ’n nie-Nederlandse skrywer.”

De Gouden Ganzenveer sal op 19 April tydens ’n geleentheid in Amsterdam aan Krog oorhandig word. “Ek is verbysterd en op ’n vreemde manier tog ook ontroerd,” het sy gesê in reaksie op die nuus. “Dit is ook uitermate heerlik dat 'n taal en letterkunde deur wie mens self so veel en diep verryk is, voel dat daar nie net gevat is nie, maar ook iets van waarde terug gegee is.”

Krog se jongste publikasies sluit in:

Lady Anne: A Chronicle in Verse (2017, Human & Rousseau), ’n vertaling van die oorspronklike uitgawe van Lady Anne in 1989
Mede-wete (2014, Human & Rousseau), asook die vertaling Synapse, deur Karen Press

Mede-wete is onder meer bekroon met die Elisabeth Eybers-prys (2015), die ATKV-Woordveertjieprys vir poësie (2015) en ook die Hertzog-prys vir poësie (2017). Medeweten is in Nederlands uitgegee deur Podium, en Remo Campert sê onder meer in de Volkskrant die volgende: “Lees de hele bundel Medeweten. Dan zult u het hopelijk met me eens zijn dat Antjie Krog Nobelprijs-waardig is.”

Luister na die aankondiging.

Lees die persverklaring.

  • 1

Kommentaar

  • Baie geluk aan Antjie Krog - ook in hierdie openbare ruimte. Hand aan hand met haar poësie loop natuurlik haar interessante en goed geskrewe joernalistieke verslae in die drieluik (as 'n mens dit 'n drieluik kan noem) "Country of my Skull" (1998), "A change of Tongue" (2003) en "Begging to be Black"(2009). Dit is die ander ding wat Krog gedoen het wat in Nederland opgepik is en waaraan nuuskierig gesmul is. Sy het 'n politieke era vanuit haar eie ervarings raak belig. Miskien gaan sy dit weer doen? Wat ook al die geval is, daarvoor is ek haar besonder dankbaar. Vir haar onverskrokkenheid om die onsêbare dinge onder woorde te bring. 1998 is die jaar waarin ook my 'n skedel gekraak is!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top