...
Tussen pynlike emosionele ervarings en hartstogtelike liefde vir hierdie land en sy mense, is daar oomblikke wat jou mondhoeke kan laat skeeftrek of jou uit jou maag uit kan laat lag.
...
Op 29 April en 1 Mei kan jy kom luister hoe Antoinette Kellermann die poësie van Antjie Krog vlerke gee op die Suidoosterfees se verhoog in die oerkluts kwyt.
*
Antoinette, jy vertolk baie gereeld rolle wat uitgedink is deur skrywers, en dan moet jy inderwaarheid ’n ander mens word. Om poësie voor te dra is anders, want die digter skryf tog ook oor sake wat nie noodwendig haar eie is nie. Jy probeer sekerlik nie Antjie word in hierdie stuk nie? Of lees ek dit verkeerd?
Nee, ek probeer nie om in die oerkluts kwyt Antjie Krog te speel of te wees nie. Ek vertolk Antjie se verse binne die raamwerk van die samesteller en regisseur (Frieda van den Heever) se narratief oor sekere dele van die lewe en werk van Antjie Krog. Alhoewel dit ’n biografiese siening van haar oeuvre is, volg die formaat nie noodwendig ’n chronologiese deurlyn nie.
Ek het jou al gepak en gedas gesien in As die broek pas. Antjie is van die min skeppende mense wat nog das dra in Suid-Afrika. Gaan jy ’n das dra op die verhoog?
Ek het ’n pak en das gedra in die genoemde As die broek pas, aangesien die karakter, ter oorlewing, haar man se werk en identiteit moes oorneem. Soos ek genoem het, probeer ek nie Antjie Krog wees of speel nie, en dra ek dus nie ’n pak of das nie.
Antjie dra self gereeld van haar werk voor. Het jy gaan kyk hoe sy dit doen, of dalk juis nie?
Ek het al gesien en gehoor hoe Antjie haar verse voorlees, maar haar vertolking en hoe sy “woorde in klank kalibreer” en myne verskil uit die aard van die saak .
Beide van julle vier verjaarsdagmylpale in 2022, maar die produksie sluit bydraes van jonger mense soos Anna Davel en Frieda van den Heever ook in. Beide is bekend daarvoor dat hulle uitstekend is met die voordra van poësie. Hoe hanteer jy al die stemme en idees, terwyl dit juis jy is op daardie verhoog? Mense kom tog om na jou kyk?
Ek het vir ’n hele klompie jare met jong studente gewerk en ten spyte van ’n generasiegaping, het hulle my altyd saamgeneem op ’n kreatiewe reis van ontdekking en nuwe insigte. Die jonger mense wat deel is van die oerkluts kwyt, soos Frieda, Anna, Lungiswa en Nomapostile, wat elkeen ’n uitsonderlike oor vir gevoel en ritme het, was soos ’n veilige vangnet wat my kon toelaat om my ten volle oor te gee aan die digter se beeldskone taal en die musiek van haar woorde. ’n Projek soos dié is uiteindelik ’n ensemble van almal wat hul kreatiwiteit met groot vrygewigheid en sonder perke deel. En ek glo dat ’n gehoor teater toe kom om ’n lewendige opvoering te sien en nie om ’n persoonlikheid te sien nie.
Antjie kan lekker stout wees in haar digkuns. Wat kan kykers verwag as hulle die oerkluts kwyt sou wou raak?
Antjie deel altyd haar skerp tong-in-die-kies humorsin en fyn waarneming van die menslike geslag in haar verse. Tussen pynlike emosionele ervarings en hartstogtelike liefde vir hierdie land en sy mense, is daar oomblikke wat jou mondhoeke kan laat skeeftrek of jou uit jou maag uit kan laat lag.
*
die oerkluts kwyt
Ondersteun deur: NATi, die LW Hiemstra Trust en Het Jan Marais Nationale Fonds
Vervaardiger: KKNK, Suidoosterfees en Aardklop
Met: Antoinette Kellermann
Teks: Antjie Krog
Regie en samestelling: Frieda van den Heever
Produksiebestuurder: Anna Davel
Taal: Afrikaans
Venue: kykNET Teater
Datum en tyd: 29 April 11:00, 1 Mei 14:00
Tydsduur: 70 min
Prys: R125