Aardklop 2018: KROG, ’n onderhoud

  • 0

https://aardklop.co.za/2018/07/19/krog/

“Poësie is nie vervelig nie!”

Dít is wat Babette Viljoen en haar medelede Olga Leonard en Hilandi du Toit met hul produksie KROG, wat vanjaar sy debuut by die Aardklop Kunstefees maak, aan gehore wil oordra.

En vir die eerste keer sal gehore die geleentheid kry om op ’n nuwe manier ou bekende, maar ook nuwe, gedigte van skrywer Antjie Krog te beleef wanneer dit deur verskeie musiekstyle en met ’n verskeidenheid instrumente aan gehore oorgedra word.

Babette Viljoen brei teenoor Marius Boonzaaier uit oor dié produksie, hoekom dit nou die regte tyd was om Krog se gedigte te toonset, die tema’s wat dié trio wil aanspreek en waarna feesgangers kan uitsien.

Babette, jy het voorheen saam met Olga Leonard gedigte van onder andere Joan Hambidge en Elizabeth Eybers getoonset en aangebied. En nou, met jul nuutste produksie, KROG, toonset julle Antjie Krog se werk. Wat het vir julle laat besluit om juis háár gedigte aan te pak? 

Ons wou al lankal met Antjie Krog se gedigte werk en dit het nou soos die regte tyd gevoel om dit aan te pak. Ons almal het op skool verskeie gedigte van haar in die Afrikaanse klas behandel. Die eerste gedig wat ek in my lewe getoonset het, was in standerd agt (graad 10) nadat ons Krog se gedig “Ma" behandel het. Olga kom ook, soos Antjie, van die Vrystaatse dorp Kroonstad af, en sy het reeds as kind met haar te doen gehad.  

Hoe het julle besluit watter gedigte van Krog om te toonset, en hoe verskil dié gedigte van dit wat jul voorheen getoonset het?

Al drie van ons het Krog se digbundels van 'n kant af begin lees. Elkeen het toe 'n paar gedigte gekies wat met hul praat, waarna ons alles saamgesit het en 'n kortlys saamgestel het. Daar is 'n wye verskeidenheid gedigte - van haar eerste gedigte, kinderverse uit Mankepank en ander verse, tot gedigte uit haar mees onlangse bundel, Mede-wete. Ek dink die verskil van ons vorige produksies lê juis in die verskeidenheid van Krog se oeuvre. 

Babette, hoe het julle te werk gegaan om Krog se gedigte te toonset?

Ons het die gedigte opgedeel en elkeen het dan op haar eie die gedigte getoonset. Daarna het ons bymekaargekom en met verskillende instrumente begin werk en dit verwerk totdat ons by die eindprodukte uitgekom het. 

En hoe het dié proses van vorige produksies s’n verskil?

Die proses het nie hemelsbreed van vorige kere verskil nie. Die enigste verskil is dat ons hierdie keer vir Hilandi (du Toit) op kitaar by het, en ons het meer perkussie-elemente bygewerk. Daar is dus 'n klankverskil van ons vorige produksies. Hilandi en haar verskillende kitare maak 'n reuse-verskil! 

Watter boodskap wil julle met dié produksie aan gehore oordra, is daar temas wat KROG wil aanspreek? 

Poësie is nié vervelig nie! Behalwe vir die groot verskeidenheid gedigte, is die toonsettings ook in verskillende genres getoonset - van jazz en blues tot ballades en daar is selfs 'n amperse Kaapse Klopse-vibe in een liedjie. Ek dink die toonsettings maak die gedigte baie toeganklik. Die temas wat deur KROG aangespreek word, is universeel - dit kan nie tot net een tipe gehoor beperk word nie: Die gedigte gaan oor kindwees, ma-wees, verlief wees, alleen wees, hoopvol wees oor ons land, en dan is daar ook 'n komiese gedig (met ouderdomsbeperking vir taalgebruik) oor ouma-wees. 

KROG is een van die debuutproduksies by vanjaar se Aardklop-fees. Wat kan gehore verwag en waarna kan hulle uitsien tydens jul optredes?

Ons is baie opgewonde oor die finale produk. Dit is mooi gedigte en musiek! Die driestemmige harmonieë laat my tone elke keer omkrul. Dis lekker om die verhoog saam met sulke talentvolle musikante te deel! En natuurlik lê Krog se werk ons na aan die hart. Die gehore kan uitsien na 'n inklusiewe produksie met 'n verskeidenheid van ou bekende en nuwe gedigte, en 'n lekker mengelmoes musiekstyle. 

Dié debuutproduksie belowe om ’n kragtoer te wees en feesgangers kan dit op 2 Oktober om 17:00, 2 Oktober om 11:00 en 4 Oktober om 14:00 by die Roots Intieme Teater by Aardklop beleef. Kaartjies is beskikbaar by Ticketpro en beloop R120.

Roots Intieme Teater 2 Okt 17:00 3 Okt 11:00 4 Okt 14:00 R120, 60min, Woordkuns, Geen o/13 (T), Afr

Kaartjies by Ticketpro:
2 Okt 17:00 KLIK HIER
3 Okt 11:00 KLIK HIER
4 Okt 14:00 KLIK HIER

Hier is nog inligting oor KROG.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top