...
My skrywe gaan eintlik oor die feit dat die 90-jarige, hupse Hans eers ’n kortverhaal was.
...
Ek is bly vir Rudie van Rensburg. En ek praat nie nou van die 72-jarige voormalige joernalis se vyfde Hans Kraaienburg-roman Hans kry troukoors nie, maar van die film wat op sy bekroonde komedie Hans steek die Rubicon oor gegrond is. Ek het dit nog nie self gekyk nie, maar Tobie Cronjé het super opgewonde geklink toe hy op leesD!T oor die film met ons gepraat het. Ek moet bieg, vergewe my, maar ek sal gewoond moet raak om nie vir Tobie in die hoofrol te sien nie, want sedert hy die trefferboeke op RSG voorgelees het, kan ek doodeenvoudig nie iemand anders in die hoofrol sien nie. Sy stem gaan gedurende die film by my spook! Dit is amper soos met die twee Lee Child-films (Jack Reacher en Never go back) waarin Tom Cruise die hoofrol van voormalige militêre-polisieoffisier Jack Reacher vertolk. In die boeke het ek iemand soos Gerard Butler (Den of thieves) of selfs Liam Neeson (Taken) voorgestel. Dit het op ’n manier die films vir my bederf. My skuld, maar steeds. Gelukkig is ou Spike een van my geliefde filmsterre.
Máár my skrywe gaan eintlik oor die feit dat die 90-jarige, hupse Hans eers ’n kortverhaal was. Ek wed jou jy sukkel om dit te glo. Maar wat leer Rudie vir ons hieruit? Droom groot. Ja, ek weet nie alle kortverhale word boeke, daarna radiodramas en dan uiteindelik ’n film nie, maar sit jou drome op papier. Jy weet nooit!
Jip, ek gebruik skaamteloos Hans se ongekende sukses as lokaas om aspirantskrywers aan te moedig om te skryf. Begin by kortverhale, dit is ’n goeie – maar vrek moeilike – medium om in te oefen.
Kyk byvoorbeeld na Rina Bester wat met die Woordfeesbundel se R30 000-prysgeld weggestap het. Verlede jaar was sy nog ’n student by die ATKV-slypskool in Potchefstroom, en kyk waar is sy nou!
Daar is heelwat kortverhaalskryfkompetisies waaraan jy kan deelneem om jouself te toets. Natuurlik kan nie almal van ons wen nie, maar jy kry ’n geleentheid om jou naam bekend te maak. Wat het jy om te verloor? Ek dink nie Rina het gedink sy gaan wen toe sy ingeskryf het nie. Veral nie toe sy haar naam tussen die gros groot name soos Francois Bloemhof, Trisa Hugo, Anzil Kulsen en Gerda Taljaard sien nie.
Ek weet, ek weet, jy gaan nou vir my sê: Wat van jou, grootbek? Ek het verlede jaar my hand gewaag aan LitNet/Om te skryf se kortverhaal-mentorskapkompetisie en het genadiglik die uitverkorelys van vyf gehaal. Om seker te maak dit was nie ’n vloek nie, het ek vanjaar vir die Woordfeesbundel, Ons Klyntji en Skryfgeheime se moordstoriekompetisie ingeskryf. Met laasgenoemde het ek derde geëindig en ek is – ek kan dit steeds nie glo nie – in die Woordfeesbundel en Ons Klyntji opgeneem.
Ek weet dat Ink Skryf in Afrikaans se gedig- en kortverhaalwenners eersdaags aangekondig word, so wees bedag op die jaarlikse kompetisie. Ek het van die kompetisie bewus geraak nadat Adelle van Wyk verlede jaar gewen het. Sy en Hendie Grobbelaar het hul name in my geheue geprint nadat ek hul wenverhale in 2022 se Pen Afrikaans-kortverhaalskryfkompetisie gelees het. Haar skryfstyl het so ’n indruk op my nagelaat dat ek ingestem het om vanjaar op die paneel van beoordelaars te dien. Ek wou nog sulke talent ontdek.
Ek is nie doodseker nie, maar NS-Skrywershuis bied ook gereeld (maandeliks?) skryfkompetisies aan. Die wenverhaal word in hul tydskrif Naskrif gepubliseer. En daar is in Desember ’n sci-fi-kortverhaalskryfkompetisie. Wat verhinder jou om in te skryf?
Maar wat dan? Jy het deelgeneem en uitgeval. Is dit die einde van die wêreld? Natuurlik nie, net een persoon kan wen. Maar hou aan skryf en probeer weer. Weer en weer en weerweerweer.
Aan die wenners en naaswenners wil ek sê, waag dit om ’n flitsbundel vir VivA-Uitgewers saam te stel. Hulle publiseer kortverhale wat net digitaal gelees kan word en is ’n uitstekende platform om jou naam te vestig. Selfs gevestigde skrywers kan dit vir bemarking gebruik.
Trisa Hugo en Analize Viljoen het met VivA-Uitgewers se eerste produk Aanlyn ’n baie hoë standaard gestel. Ervare skrywers soos Erla-Mari Diedericks (Die geheime klippieklub), Cliffordene Norton (Hartsmense) en Constant van Graan (Kreng) het goed daarop gevolg. Die uiters gewilde resensent Anschen Conradie van uitdieperdsebek het al vier bundels se lof besing.
(Terloops, ek het gesien Trisa en Analize se nuwe boek Oop deure het onlangs by Naledi verskyn. Ek weet nie waar Trisa al die tyd kry nie, maar buiten haar en Analize se Boekemakranka-onderhoude, boeke en gereelde resensies, is sy ook in die Woordfeesbundel Borrel opgeneem. Ek bewonder regtig hierdie groot gees.)
En as jy nog nie selfvertoue het vir ’n flitsbundel – so vyf tot nege kortverhale afhangend van die lengte van jou verhale – is daar nog die hoogs begeerlike Huisgenoot. Iemand sê net gister vir my, as jy nog nie vir die Huisgenoot geskryf het nie, kan jy nie skryf nie. So, jy weet wat ek volgende probeer. Ek weet nie hoeveel waarheid is daarin nie, maar ek hoor toe so ewe terloops dat Jaco Wolmarans jare gelede vir die Huisgenoot geskryf het. Ek wens ek kan dié kortverhale lees. Ek het ook gesien dat Erla (Herinneringe), Elsa Winckler (Port op ’n Vrydagaand) en Malene Breytenbach (Pasop vir leeus) onlangs vir Huisgenoot geskryf het.
Ek het êrens gelees dat die meester-krimiskrywer, Julio Agrella, eens op ’n tyd in die Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer het. So, daar is nog ’n platform, ek’s net nie seker hoe om vir hulle te skryf nie. Dit klink vir my net te ingewikkeld. LitNet plaas ook kortverhale.
’n Ander uitweg is natuurlik ’n persoonlike webbladsy. Ek weet dat die meester-krimiskrywer, Sidney Gilroy, al kortverhale op sy webbladsy geplaas het. Hoe gereeld weet ek nie. En onlangs – tot my groot vreugde moet ek erken – het Albert Short 13 kortverhale vanuit Nieu-Seeland op sy webbladsy gedeel. Flippen hoogtyd. Maar dankbaar dat hy gesê het dat die volgende kortverhale binnekort gaan verskyn.
Al wat jy nou moet doen, is skryf. Geniet elke oomblik van die proses en ek kan nie wag om jou verhaal te lees nie.
Kommentaar
Haai jinne, Stefaans! Dankie.