Louise Viljoen stel ondersoek in na hoe Antjie Krog Nederlanders bewus maak van raakpunte met SA samelewing

  • 0

Globalisering en die nuwe tegnologieë lei eintlik noodwendig tot interaksie tussen kulture en samelewings en dus wég van ’n insulêre bestaan, skryf die Stellenbosse literator Louise Viljoen in ’n artikel wat onlangs op LitNet Akademies gepubliseer is.

“Binne hierdie konteks eis die kwessie van kulturele bemiddelaars, wat deur middel van veeltaligheid en vertaling tussen verskillende kulture kan beweeg, al hoe meer ons akademiese aandag op.”

Sy het Willem de Vries se vrae beantwoord oor “Antjie Krog as kulturele bemiddelaar: aspekte van haar skrywerspostuur in die Lae Lande”.

Antjie Krog (Foto: Naomi Bruwer)

In ’n vorige gesprek het jy daarop gewys dat Afrikaanse en Suid-Afrikaanse skrywers vanuit ’n lokale perspektief “en met ’n heel spesifieke invalshoek na die globale kyk — iets wat prikkelend kan wees vir lesers in ander situasies”. Watter aspekte van Antjie Krog en haar skryfwerk kry in gelyke mate aandag in Suid-Afrika en die Lae Lande? Indien dit verskil, waaraan skryf jy dit toe?

Dit wil my voorkom asof Nederlanders veral met Krog se eerste optrede op Poetry International in Rotterdam in 1992 positief gereageer het op die feit dat sy haar so sterk geïdentifiseer het met die stryd teen apartheid (net soos in die geval van Breyten Breytenbach en André Brink voor haar).

Dit was ook in die tyd wat die kulturele boikot van Nederland teen Suid-Afrika besig was om ten einde te loop sodat daar ’n ruimte ontstaan het waarin die resepsie van haar werk kon floreer. Dit is wel interessant dat die eerste vertaling van ’n versameling gedigte, Om te kan asemhaal, uit haar werk in 1999 verskyn het en dus vóór die vertaling van Country of My Skull (wat haar wêreldwyd beroemd gemaak het) in 2000.

Dit lyk dus vir my asof Nederlanders in ’n gelyke mate geïntrigeer is deur die gewaagdheid, die Afrikaansheid en die digterlike vaardigheid (wat ook deurskemer in haar prosa) as deur die politieke inhoud van haar werk. Só beskou, lyk dit asof daar wel raakpunte is met die manier waarop haar werk in Suid-Afrika ontvang word: daar is ’n groot waardering vir haar vaardigheid as digter en prosaskrywer tesame met ’n identifikasie (of nie) met die politieke inhoud daarvan.

Ek dink sy word in beide kontekste ervaar as skrywer wat die leser dwing of skok tot nadenke, of dit nou met instemming is of nie. Ek dink dat (Suid-)Afrikaanse lesers meer bekend is met die konteks waaroor sy skryf as wat Nederlanders is: hulle oordeel dus polities gesproke haar werk vanuit hul eie ervaring en oortuigings, terwyl Nederlanders dit miskien meer afstandelik ervaar.

Krog het egter in die afgelope tyd in onderhoude met Nederlandse joernaliste daarop gewys dat Nederlanders hulle allengs steeds meer in omstandighede soortgelyk as dié van (Suid-)Afrikaners bevind: sy wys daarop dat Nederlanders ook aandadig was aan die vergrype van kolonialisme, dat hul taal eweneens onder beleg is in ’n wêreld oorheers deur Engels en dat hul samelewing steeds meer gekonfronteer word met vraagstukke van die naasbestaan met ander kulture.

Beïnvloed die resepsie van Krog se optredes en haar skryfwerk in die Lae Lande op sy beurt hoe haar werk in Suid-Afrika beskou word? Hoe beïnvloed haar bydraes kulturele begrip tussen Afrikaans en Nederlands?

Dit is vir my onduidelik of die resepsie van Krog se skryfwerk en optredes in Nederland wel ’n impak het in Suid-Afrika. ’n Mens verneem wel soms in die Suid-Afrikaanse pers dat sy een van die bes-verkoopte digters in Nederland is en dat haar optredes met groot entoesiasme begroet word, maar ek is nie seker of dit wel ’n impak het op die manier waarop Krog se werk in Suid-Afrika gelees en getakseer word nie.

Ek dink Suid-Afrikaanse lesers het ’n heel spesifieke, konteks-gebaseerde verhouding met Krog se werk: Afrikaanse lesers ken haar werk vanaf die verskyning van haar eerste digbundel in 1970 en het oor die jare ’n spesifieke verhouding met haar werk opgebou (met sommige wat baie entoesiasties met haar werk identifiseer en ander wat krities staan teenoor die grensoorskrydende en politieke aard daarvan). Ander lesers in Suid-Afrika het haar vir die eerste keer leer ken met die verskyning van Country of My Skull in 1998 en daarna in haar poësie begin belangstel.

Dit is my indruk dat Krog, tesame met ’n aantal ander Afrikaanse skrywers, vir Nederlandse lesers ’n venster bied op wat in die Afrikaanse letterkunde gebeur en in daardie opsig kulturele begrip skep vir die spektrum van moontlikhede wat daar in Afrikaans bestaan. Ek lei uit resensente in Nederland se reaksies af dat hulle hoë waardering het vir die forsheid van haar werk en dit waardeer dat sy sommige Nederlanders se indruk, dat Afrikaans ’n soort prettige kindertaaltjie is, verpletter met haar optredes en die inhoud van haar werk.

Jy het destyds jou opleiding ontvang by Merwe Scholtz vir wie “die woord ’n ding en ’n baie mooi ding” was. Vertel asseblief in breë trekke van die ontwikkelingsgang van literêre teorie waar dit gaan om die beskouing van die skrywer en dit wat geskryf is, vanaf die tyd wat gemaan is oor aannames oor die skrywer se oorspronklike bedoeling met ’n teks, tot postuur-teorie waarin skrywer, teks én buitetekstuele verbande met betrekking tot mekaar ondersoek word. Wat voeg hierdie laasgenoemde literêr-sosiologiese lees by ’n skrywerskap soos dié van Krog?

In die tyd toe ek my voor- en nagraadse opleiding ontvang het, was die aksent nog baie sterk op teksgesentreerde benaderings, ’n oorblyfsel van die New Critics se opvatting dat die literêre teks ’n selfgenoegsame wêreld op sy eie is én van die strukturalistiese siening dat ’n literêre teks ’n struktuur of ’n sisteem met sy eie interne samehang is.

My geneigdheid om verseild te raak in die stiplees of “close reading” van ’n teks dateer waarskynlik uit daardie dae; so ook my versigtigheid om tekstuele elemente direk na die skrywer te herlei en om stellings oor die skrywer se intensie met ’n teks te maak (ek voel steeds iemand gaan my met ’n liniaal oor die vingers tik as ek na die “mens agter die boek” verwys).

Sedertdien het dit egter ook duidelik geword dat die bestudering van die letterkunde baie vrugbaar in interaksie kan tree met teorieë uit ’n verskeidenheid ander dissiplines soos die linguistiek, filosofie, psigologie, politieke wetenskap, sosiologie en ekologie. Myns insiens is dit hierdie moontlikheid wat letterkunde-studie so opwindend maak: daar gaan vir jou steeds nuwe perspektiewe oop op hoe betekenis geskep word deur literêre tekste, hoe letterkunde en die lees daarvan beïnvloed word deur ’n bepaalde tydsgees, hoe die letterkunde as ’n instelling funksioneer in die samelewing, watter agente almal betrokke is by produksie, verspreiding en verbruik van die letterkunde, ensovoorts.

Die literatuursosiologie, waarvan postuur-teorie maar ’n klein deel is soos wat Alain Viala waarsku (hy noem dit ’n beskeie instrument wat ’n mens nie oral moet inforseer nie), gee veral aandag aan die rol wat ’n hele spektrum van “agente” betrokke by die letterkunde speel: die skrywers, uitgewers, bemarkers, resensente, lesers, dosente, studente, ensovoorts.

In plaas daarvan om net te kyk na ’n skrywer se tekste soos wat die New Critics sou doen, maak iets soos die postuur-teorie ’n mens daarop attent dat ’n skrywer nie net ’n impak maak deur die tekste wat hulle skryf nie, maar ook deur die manier waarop hulle praat daaroor, hoe hulle optree, hoe hulle hulleself presenteer in die openbaar en wat daar oor hulle gesê word.

Vir my is dit nie ’n verkettering van die suiwerheid van die literêre teks (wat ek wel moet bely tog maar die werklike objek van my lesersbegeerte is) nie, maar eerder ’n verruiming om ondersoek in te stel na die spektrum van verskynsels wat die teks en die skrywer omring. Die ondersoek na Krog se rol as kulturele bemiddelaar, aan die hand van die begrip skrywerspostuur, het my, met my nogal teks-gerigte instelling, bewus gemaak van die impak wat buite-tekstuele faktore kan hê op ’n skrywer se ontvangs in ’n bepaalde omgewing en hoe dit so ’n skrywer se invloed kan versterk.

In die formulering van literêre teorie kan ook iets van die betrokke tydsgees weergegee word. Wat vertel postuur-teorie vir ons van die huidige era? As deel van watter breë stroming is hierdie benadering ten beste te verstaan en hoe dien dit as skakel of onderdeel daarvan?

Die toepassing van idees uit die sosiologie op die letterkunde het al vroeg in die twintigste eeu begin, veral in Duitsland. Die literatuursosiologie gee veral aandag aan die sosiale omstandighede waarbinne literatuur geproduseer word en wat die sosiale implikasies van die letterkunde is.

’n Belangrike figuur soos Pierre Bourdieu, wie se werk ’n enorme impak gehad het op die bestudering van die sosiale werking van kultuur, het sy werk in die 1970’s begin publiseer. Viala, wat een van Bourdieu se studente was, se werk oor postuur kom uit die 1990’s, maar word vandag nog deur Jérôme Meizoz en ander toegepas.

Ek wonder of ons hernude aandag hiervoor nie aangewakker is deur die huidige kultus wat rondom die skrywer of die idee van die skrywer as glanspersoonlikheid of “celebrity” ontstaan het nie (iets wat myns insiens sterk verband hou met die bemarking van skrywers). Liesbeth Korthals Altes het byvoorbeeld baie interessant geskryf oor die skrywerspostuur van Michel Houellebecq, wat ’n baie suksesvolle, maar ook kontroversiële Franse skrywer is.

As ’n mens postuur-teorie bekyk teen die agtergrond van populêre kultuur kan dit voorkom of dit ’n reaksie daarop inhou waar mense in laasgenoemde gou tot kortbegrip “verhef is” vir ’n sekere voorkoms, eienskap of waardebepaling en wat ’n breë aanklank veronderstel. Kan postuur-teorie dan gelees word as ’n reaksie op die kultuur van die opwip-roem en die hutsmerk? Wys postuurteorie in sekere sin dat sistematiese aandag aan besonderhede en onderbou die weg na ’n meer diepgaande gesprek tussen kulture kan oplewer?

Omdat postuur-teorie dateer uit die 1990’s dink ek nie dat ’n mens dit noodwendig kan lees as ’n reaksie op die huidige populêre kultuur nie. Dit is onder andere gebruik om historiese ondersoeke na skrywers te doen: Meizoz stel byvoorbeeld in die Engelstalige artikel, waarby ek in my artikel aansluit, ondersoek in na die skrywer Jean-Jacques Rousseau wat doelbewus die postuur van die skrywer-burger (“writer-citizen”), die skrywer wat hom identifiseer met die gewone mense eerder as die adel, gekultiveer het, en dit bevestig het deur die manier waarop hy opgetree het in die openbaar. Die manier waarop hierdie ondersoeke geskied, is — getrou aan die aard van die literatuursosiologie — inderdaad deeglik en sistematies met gemotiveerde aandag aan besonderhede.

Dit beteken nie dat ’n mens nié sulke deeglike en sistematiese ondersoeke sou kon doen na die besitters van opwip-roem en hutsmerk-slaankrag nie. Dit mag baie interessant wees om uit te vind wat presies die kragte en magte is wat in sulke gevalle ’n rol gespeel het. Omdat ek egter veral geïnteresseerd is in komplekse literêre tekste (mý “obscure object of desire”), was die ondersoek na Krog se skrywerspostuur vir my interessant.

As ’n begrip deur verskeie kenners toegepas, aangepas en verder gekontekstualiseer word, dui dit telkens op gesprek, op iets waarmee dit resoneer in die hedendaagse lewe. Dit bring ook verskeie kragte wat inwerk op die betrokke term na die voorgrond. Watter dinamieke en kragte het ’n invloed op hoe die begrip “kulturele bemiddelaar” tans gesitueer word tussen Afrikaans en Nederlands?

Ek dink globalisering en die nuwe tegnologieë het ons almal bewus gemaak van die feit dat dit byna onmoontlik is om deesdae ’n volledig insulêre bestaan in ’n enkele omgewing of taal te lei. Interaksie met ander kulture en samelewings vind onvermydelik plaas.

Binne hierdie konteks eis die kwessie van kulturele bemiddelaars, wat deur middel van veeltaligheid en vertaling tussen verskillende kulture kan beweeg, al hoe meer ons akademiese aandag op. Die bande tussen Afrikaans en Nederlands bestaan natuurlik al baie lank vanweë verwantskappe tussen die twee tale en omdat Nederland deel was van Suid-Afrika se koloniale geskiedenis.

Die omstandighede waarbinne hierdie bande bestaan en die bemiddeling tussen die twee tale en lande plaasvind, het natuurlik drasties verander in die laaste paar dekades. Dit het vanselfsprekend ’n impak op die interaksie tussen die twee tale en lande.

Die rol van kulturele bemiddelaar kan ontwikkel in ’n opset waar daar ontvanklikheid en/of belangrike voorstanders en geleenthede vir so ’n (her)bekendstelling is. Krog het in die negentigerjare onder die aandag gekom van die Nederlandse leserspubliek deur onder andere die bemiddeling van die indertydse redakteur van die Nieuw Wereldtijdschrift, die digter Herman de Coninck (wat haar in Suid-Afrika ontmoet het), en die Poetry International-fees in Rotterdam. Is die belangstelling in die Lae Lande in haar werk verskillend vandag as wat dit in die negentigerjare was? Het die ontstaan van hierdie soort situasie enige implikasies vir die wyse waarop Afrikaans en Nederlands in Suid-Afrika gedoseer word op universiteit?

Ek het hierdie vraag gedeeltelik beantwoord in my reaksie op die eerste vraag hierbo. Dit is my indruk dat die belangstelling in Krog se werk aanvanklik baie sterk gedryf was deur haar sterk standpunt-inname teen apartheid, maar dat die belangstelling in haar werk eweneens sterk beïnvloed is deur die gehalte en intensiteit daarvan.

Soos wat die fokus van haar werk oor die jare verskuif het (en ek probeer dié verskuiwing in die artikel aandui deur haar werk in verskillende fases in te deel), het die aard van die belangstelling ook verskuif. Dit is my indruk dat die belangstelling in haar werk steeds aangevuur word deur haar vaardigheid as skrywer én deur die wyse waarop sy as skrywer betrokke bly by die steeds veranderende samelewingskwessies.

Ek het reeds genoem dat sy as kulturele bemiddelaar Nederlanders bewus maak van raakpunte tussen die Suid-Afrikaanse samelewing en hul eie: die nalatenskap van kolonialisme, die uitdaging van die saambestaan met ander kulture, die ondergeskiktheid van klein tale in die globale konteks, die mens se posisie binne die ekosisteem, en so meer.

Enersyds is daar dus nuwe raakpunte tussen die twee tale en lande; andersyds is daar ook deesdae belangstelling vir ’n groter spektrum van Afrikaanse skrywers as net dié wat as “politieke” skrywers beskou word (naas skrywers wat in ’n ander toonaard en oor ander onderwerpe skryf, is daar ook byvoorbeeld ’n hele aantal skrywers van midsdaadfiksie wat baie gewild is in Nederland). Vir my lyk dit asof hierdie groter spektrum verteenwoordig word in die kursusse in Afrikaanse letterkunde wat in Nederland en België aangebied word en verantwoordelik is vir die belangstelling daarin.

Verder dink ek dat kwessies soos die nadraai van die kolonialisme en die eis om dekolonisering, multikulturele en veeltalige samelewings, die impak van globalisering en omgewingskwessies beslis neerslag vind in die manier waarop beide Afrikaans en Nederlands gedoseer word in Suid-Afrika. Ek kan nie met sekerheid namens ander departemente praat waar Afrikaans en Nederlands gedoseer word nie, maar daar is beslis ’n gevoeligheid dat die doseer van Nederlands in Suid-Afrika moet kennisneem van hierdie veranderde omstandighede sodat die werk van Nederlandstalige skrywers, wat die ervaring van kolonisering, multikulturele samelewings en globalisering aanspreek, by die leerplanne ingesluit word.

Jy skryf Jérôme Meizoz stel dat ’n skrywer se postuur ’n interaktiewe proses is en geskep word deur die skrywer, tesame met bemiddelaars soos joernaliste, kritici, uitgewers, biograwe, en so meer: postuur begin volgens hom op die oomblik van publikasie en kan selfs bepaal word deur die voorkoms van ’n boek. Dit is bekend dat verskeie skrywers in die literêre veld telkens eers publiseer in literêre tydskrifte, as joernaliste werksaam is of in pryskomitees dien. Waarom sou Meizoz die beginpunt van postuur tot die eerste gepubliseerde boek beperk? Hoe is dit dan gesteld met diegene wat aanvanklik dalk ’n selfpublikasie-roete volg, asook ander nietradisionele, niekanonieke prosesse (blogs, YouTube, verhoogoptredes en dalk eers veel later publikasie in boekformaat)? Is die prosesse waardeur kanonisering plaasvind ook aan die verander? Indien wel, bring dit gehalte en gewildheid nader aan mekaar of kry kritiese onderskeid verdere aksente?

Dit was nie my indruk dat Meizoz die publikasie van ’n eerste boek as die absolute wegspringpunt vir die ontwikkeling of werking van ’n skrywer se postuur stel nie. Ek dink hy gebruik die verwysing na die oomblik van publikasie gewoon as ’n voorbeeld van die soort oomblik waarop ’n skrywer se postuur kan begin funksioneer en die verwysing na die voorkoms van ’n boek as ’n voorbeeld van die wye spektrum van faktore wat ’n rol kan speel. Die artikel waarin hy hierdie formulering gebruik, is gerig op die werk van Jean-Jacques Rousseau, sodat hy moontlik formuleer met ’n vroeër soort literêre sisteem in gedagte.

Ek dink jy is reg om te dink dat ’n skrywer se postuur eintlik al vroeër kan begin vorm aanneem en op ’n verskeidenheid van ander maniere as net met die publikasie van ’n boek. In sommige gevalle kan dit publikasie in ’n literêre tydskrif wees, vir ander publikasie op ’n blog, ’n self-publikasie, ’n traktaat, voorlesings by open mic-geleenthede of literêre feeste.

Dit kan waarskynlik ook al voor publikasie begin, byvoorbeeld wanneer daar in die pers verwys word na die “ontdekking” van ’n opwindende nuwe skrywer (dikwels deel van ’n reklame-strategie wat daarop gerig is om wins te maak). Daar is waarskynlik ook ander soorte scenario’s waaraan ek nie nou kan dink nie. Jou verwysing na gehalte en gewildheid, ook na kritiese onderskeid en kanonisering, verg eintlik ’n nuwe ondersoek. Ek dink nie dat gehalte noodwendig bepalend is vir of deel uitmaak van die literatuursosiologiese ondersoek na skrywerspostuur nie.

’n Mens sou ’n postuur-ondersoek kon doen na ’n hoogs populêre skrywer wat nie noodwendig beskou word as ’n goeie skrywer nie óf na ’n skrywer wat slegs vir ’n kort tydjie aandag geniet en toe weer verdwyn het. Dit mag dalk baie interessante resultate oplewer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top