Akademiepryse 2023: Hertzogprys vir Poësie – Antjie Krog

  • 0

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die wenners van die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig. Die pryse word by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig. Lees Hein Viljoen se huldigingswoord hier onder.

Plunder is ’n ongewone titel vir ’n digbundel. “die sigbaarmaking van strooptogte” (bl 39) werp ’n bietjie lig daarop. In daardie gedig “val [die spreker] ander se werk binne” soos ’n kolonis, sy “omhels”, “verorber”, “stroop” dit; “stop [haar] kop vol” daarmee. Maar hierdie “kollektief verslinde buit” is uiteindelik net “pluiings vir die verrinneweerde liggaam van latenstyd”. Die poëtika van plunder is dus kompleks: Die digter stroop gedigte van oraloor – ook uit haar persoonlike ervaring – as ’n middel teen ouderdom en dood.

In dié proses bestryk die bundel ’n wye scala van emosies: intense liefde, verdwasing en verlies, teer gevoelens teenoor kleinkinders, liriese ontboesemings, intense verset, radeloosheid oor die politiek. Die digter jubel en kla, verheerlik en verdoem, treur en sing.

Om dit alles te kan uitdruk, verwring die digter die taal kreatief, maar steeds met ’n intense deernis met alles en almal. Die bundel praat die taal van plante, van geweld, van verkragting, van die lyf, van politiek, maar ook van skoonheid. Die skoonheid van die aarde bied ’n soort redding uit die ontreddering van oudword, taalverlies en politieke wantoestande, soos in “tydspad deur die tuin” of in “familiekersfees op ’n vakansieplaas” wat die wolke, die vlaktes en die groene van die Vrystaat vier.

Wat besonder bydra tot die bundel se intensiteit, is die talle lig- en vuurbeelde daarin. Dinge vonkel, priem, vlam, knetter, brand, skitter, blits of ril van lig. Dit is asof die mistieke taal van vuur en lig die wêreld met ’n vuurkwas bestryk.

Daarby is die bundel intens betrokke by eietydse angste en bemoeienisse soos #feesmustfall, die wit staar (of gaze), veral ook by geslagsgeweld. Soos altyd pak Krog hierdie moeilike kwessies direk en onverskrokke aan. Veral die politiek van die lyf en van seks word eksplisiet aangepak in die figuur van Baubo, wat die wêreld met haar geslagsdele uitdaag. In die reeks “dit spuls die aarde vol” verwoord sy die broosheid van “die vagina: veragte wond”, soos sy dit noem, aangrypend.

“Broos” is trouens ’n sleutelwoord vir bundel. Die magistrale reeks “o brose aarde – misorde vir die nuwe verbond” waarmee die bundel afsluit, is talig en konseptueel heerlik uitdagend en aangrypend. Dit dig die woorde van die Katolieke mis om in liedere wat die son, die aarde, die maan, die water verheerlik. Die intreelied roep die universum aan, oa met hierdie woorde:

o Allerhoogste Bergheid, maak ons u gesante van Wolkheid
u proseliete van Herfs, u ab van Water
ons strek ons in aanbidding neer, o Somerappelkoosheid
ons lofprys die leefsuisende suurstofmantels van Sterlipsaligheid.

Maar hierdie reeks is ook ’n diep hartseer treursang wat ’n dag van wraak aankondig oor die mens wat die aarde met sy hebsug verwoes.

Plunder is kortom ’n verruklike bundel. Dit is ryk en omvattend, gewaagd, intens maar ook teer, kreatief en aangrypend. Dit is intens polities en innig persoonlik, oordadig en onthutsend, maar ook subliem en vol skoonheid.

Mevrou die Ondervoorsitter, ek versoek u om die Hertzogprys vir Poësie aan Antjie Krog te oorhandig.

Stellenbosch
1 September 2023

Lees ook:

Aankondiging: Wenners van die SA Akademiepryse 2023

LitNet Akademies-resensie-essay: Plunder deur Antjie Krog

Toyota US Woordfees 2022 Instagram-resensie: Plunder

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top