Antjie Krog: An Ethics of Body and Otherness, saamgestel deur Judith Lütge Coullie en Andries Visagie

  • 1

 

Die bekendstelling van die eerste akademiese boek in Engels oor die werk van Antjie Krog het Vrydagaand, 13 Junie by die onafhanklike boekwinkel Bibliophilia in Woodstock, Kaapstad plaasgevind. Antjie Krog: An Ethics of Body and Otherness is saamgestel deur Judith Lütge Coullie en Andries Visagie en is uitgegee deur UKZN Press. Andries Visagie gee sy indrukke en Izak de Vries deel sy foto's.

Andries Visagie

 

 

Louis Gaigher

 

Die geleentheid is goed bygewoon deur belangstellendes uit die boekewêreld. Antjie Krog kon nie die bekendstelling bywoon nie, weens familieverpligtinge in Kanada, en een van die redakteurs, Judith Lütge Coullie, woon tans in Nieu-Seeland en was ook nie aanwesig nie.

Franci Vosloo, Louise Viljoen, Christy Weyer en Andries Visagie

 

Tydens die bekendstelling het Andries Visagie ’n gesprek met drie van die skrywers wat hoofstukke tot die boek bygedra het, gevoer: Louise Viljoen (Universiteit Stellenbosch), Christy Weyer (Universiteit van Pretoria) en Franci Vosloo (Universiteit Stellenbosch). Visagie het eers die gehoor ingelig oor die redakteurs se hoofoogmerk met die boek, naamlik om ’n oorsig van Krog se werk te bied wat verder strek as net haar prestasies as digter as skrywer. Bydraers is genader om ook oor Krog se werk as vertaler, joernalis en openbare intellektueel te skryf. Daar is selfs ’n bydrae van Susan Spearey (Brock Universiteit) oor haar ervaring as dosent in Kanada, waar sy gereeld Krog se bekende boek Country of My Skull vir haar Kanadese studente voorgeskryf het. Antjie Krog: An Ethics of Body and Otherness is dus ’n publikasie wat die verskillende werksaamhede van Antjie Krog belig en aan lesers ’n goeie greep bied van hierdie merkwaardige skrywer en denker se bydrae tot die kultuurlewe in Suid-Afrika en elders in die wêreld.

 

Louise Viljoen

 

Tydens die geleentheid het Louise Viljoen, ’n gerekende navorser oor die werk van Krog, ’n beeld gegee van Antjie Krog se aansien as skrywer in Suid-Afrika en in die buiteland. Sy het daarop gewys dat Krog in haar skryfwerk doelbewus daarna streef om oor taalgrense heen te skryf. ’n Verbasende feit oor Krog se aansien in Nederland, waar sy ’n gewilde gas by poësiefeeste soos Poetry International is, is dat haar poësie die heel beste verkope haal – haar digbundels verkoop dus selfs beter as die werk van Nederlandse digters.

 

Christy Weyer

 

Viljoen het ook onderhoudend gepraat oor die rol van die moeder in Antjie Krog se werk, spesifiek in ’n Ander tongval. Krog se verhouding met Dot Serfontein, as haar moeder en literêre voorganger het volgens Viljoen verskillende fasette. Enersyds is dit duidelik dat Krog haar bewustelik as ’n skrywer en digter met ’n eie stem wou posisioneer in die lig van Serfontein se prestasies as besonder gewilde skrywer in Afrikaans. Terselfdertyd is daar by Krog ’n behoefte om ook by die werk van haar moeder as skrywende voorganger aansluiting te vind.

 

Franci Vosloo

 

Christy Weyer het oor haar hoofstuk in die boek uitgewei en verduidelik wat sy met “the ambiguity of the erotic” in Krog se poësie bedoel. Sy het opgemerk dat die digter-spreker in ’n bundel soos Down To My Last Skin, die eerste bloemlesing in Engels van die poësie van Krog, soms die ervaring het dat sy as mens tot stand kom deur en danksy die erotiese verhouding met die geliefde. By ander geleenthede spreek sy weer die wens uit om die man aan haar eie wil en wense uit te lewer deur hom seksueel as lusobjek voor te stel. Franci Vosloo het aan die gehoor ’n oorsig gebied van Krog se bydraes as vertaler. Haar groot deurbraak as vertaler was volgens Vosloo die opdrag wat sy ontvang het om Nelson Mandela se omvangryke outobiografie as Lang pad na vryheid in Afrikaans te vertaal nadat André P Brink aangedui het dat hy weens ander verpligtinge nie vir die taak kans gesien het nie. Sy het egter ook ’n aantal boeke uit Nederlands vertaal, waaronder Domein van glas, Henk van Woerden se biografie oor Demitrios Tsafendas. Vosloo se hoofstuk gaan in op die verhouding tussen Krog se posisie as vertaler en haar aansien as bekende skrywer van kreatiewe werk. Vosloo het bevind dat die respek wat Krog oor die jare as skrywer verdien het, ten minste gedeeltelik daarvoor verantwoordelik was dat sy ook ’n profiel as vertaler kon opbou.

 

Annie Klopper

 

In die vraetyd het Annari van der Merwe die opmerking gemaak dat die stemme van Afrikaanse skrywers soos Krog en Breyten Breytenbach op ’n eiesoortige Afrikaanse manier in Engelse vertalings van hul werk opklink. Die Afrikaanse sinsbou en woordeskat vind dus duidelik neerslag in hul skryfwerk in Engels en dra daartoe by dat hulle op unieke maniere in Engels gehoor word.

 

Ingrid Winterbach

 

Die boekbekendstelling is afgesluit deur Deborah Primo van UKZN Press, wat almal uitgenooi het om die boek teen ’n afslagprys aan te koop en om as gaste van Bibliophilia verder te kuier oor ’n glas wyn en versnaperinge. Gaste soos Ingrid Winterbach, Izak de Vries, Karen Press en ander bekendes uit die boekwêreld het aangebly en verder gesels oor boeke en ook die werk van Antjie Krog.

 

Debrah Primo

 

Foto's: Izak de Vries

 

  • 1

Kommentaar

  • Waldemar Gouws

     Die inhoud klink belowend, maar waarom die afbeelding op die voorkant van 'n ware piknies-uitgedaagde  figuurtjie? Hoe reflekteer daardie proporsies iets van Antjie Krog se verse? 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top