Kuns maak ons vry: Oor die Sol Plaatje-lesing deur Antjie Krog

  • 2

Wees obsessief met vertaling.

Dit was die kern van Antjie Krog se Sol Plaatje-lesing by die Vrystaat Kunstefees op Woensdagaand 19 Julie 2017. In hierdie lesing word hulde gebring aan die veelsydige skrywer en denker Sol Plaatje.

Die lesing is vanjaar beskou as die vlagskip-item op die program van die Vrystaat Kunstefees, soos in hierdie YouTube-onderhoud deur Ricardo Peach, feesorganiseerder, aangedui.

Die Vrystaatse winternag was koud, maar die saal was stampvol. En dit was ’n uiteenlopende groep mense wat kom luister het.

Wie was Sol Plaatje? Hier is wikipedia se inligting ter agtergrond. Die meeste mense wat enigiets van hom weet, was dalk bewus daarvan dat hy ’n swart perspektief op die Anglo-Boereoorlog neergeskryf het. Opvallend: hierdie feit word nie tydens Krog se lesing genoem nie. Plaatje was nie ’n skrywer wat net oor een tema geskryf het nie. Hy was geen marionet wat bloot as swart persoon oor ’n wit oorlog berig het nie. Sol Plaatje het sy eie kuns geskep, ter wille van kuns.

Willy Nel van die Universiteit van die Vrystaat se openingswoorde by die lesing Woensdagaand was baie van pas: "We are here to restore pre-colonial hospitality. Mag hierdie land julle omhels soos Khoi en San jul omhels." Hy praat in nog meer verskillende tale en heet almal welkom.

"This room tonight is our place of convergence."

Daniel Plaatje, ’n lid van die Plaatje-familie, is volgende aan die woord: "Hartlik dankie, ere-seremoniemeester, namens die Sol Plaatje-familie. Die familie is beïndruk met hierdie inisiatief. Maar laat my toe om nou in my derde taal te gesels, naamlik Engels."

Waarna hy klem lê op Plaatje se nalatenskap wat deur niemand beheer of besit kan word nie, maar deur die hele nasie gedeel word.

Die rektor en visekanselier van die universiteit, Francis Petersen, skets kortliks die agtergrond van wie Sol Plaatje was voordat hy Antjie Krog aan die woord stel: Plaatje was ’n intellektueel, ’n joernalis, skrywer, leier in die ANC, en boonop die eerste swart Suid-Afrikaner wat ’n roman in Engels geskryf het, al was hy Tswana van geboorte en kon hy sewe tale praat. Hy is eers na sy dood raakgesien en geëer.

Antjie Krog (Foto: Naomi Bruwer)

Krog bied hierna die lesing aan. Sy praat eerste oor haar herkoms en haal hierdie woorde van JM Coetzee aan: "The body can love only one landscape in one's lifetime."

En daarom is sy bly dat sy in die Vrystaat kan wees, sê sy, die plek waar sy vandaan is.

In haar lesing ontleed sy hoofsaaklik Sol Plaatje se boek Mhudi. Hier is nog inligting oor die boek.

Soos toe sy verwys het na haar herkoms en omgewing, betrek Krog ruimte terwyl sy oor die boek gesels. Verstaan die omgewing waar Plaatje hom bevind het terwyl hy die roman geskryf het (Londen), sê sy. Hy het kennis van die regsomgewing gehad en in howe beweeg, meer en meer verstaan van hoeveel strukture teen hom gediskrimineer het, en dat daar anders in Engeland of elders teen hom opgetree is as in Suid-Afrika. Hy was nie net ’n vertaler in die ware sin van die woord nie, hy het ook begin vertaal dat daar hier anders met hom gewerk word as dáár. Mhudi was ’n soort protes in ’n ander ruimte as waar hy vandaan was, waar hy begin verstaan het dat hy in sy eie land nie geag is nie.

Krog gebruik ’n moderne beeld: hy was ’n hommeltuig wat op ’n afstand bo-oor alles kon kyk en nou duideliker kon sien terwyl hy ver is.

In Mhudi skryf hy oor ’n oorlog en oor die gevoel van verlies en die onbekende, en hy sê: "The loneliness was frightful."

Dis ’n talige lesing – Plaatje wonder of hy nog sy eie taal kon praat. In sy alleenheid in Engeland skryf hy oor Lesotho en dink hy na oor die skoonheid van sy land. Krog lees dikwels voor uit die boek en ons hoor Plaatje se landskapbeskrywings.

Hy skryf ook oor vryheid: "All are created to be free, freedom is painful bondage ..."

Mhudi is ’n karakter in die boek. Sy is die heldin, ’n meisie wat hardloop na die jong man sonder om hom raak te sien.

Van daar ver af, in Engeland, sien Plaatje vir háár, vir Mhudi, baie duidelik. Hy beskryf die springbokvel wat sy dra, en haar verhouding met die jong man. Later in die boek betree die skrywer self die narratief, hy word deel van die verhaal wat hy skryf.

Die teenwoordigheid van die natuur is van belang in Plaatje se roman. Ook: oorloë.

Beeste is in Tswana met ’n goddelike frase beskryf: "god(s) with the wet nose(s)".

Krog wys daarop dat die belang van beeste in Plaatje se roman verduidelik word. "Money links you to no one." Maar beeste is van waarde, dis warm en dis iets wat meer beteken as iets anders (tydens ’n uitruiltransaksie).

En toe betree Sarel Cilliers die verhaal. Hy is op soek na grond en na ’n plek om te kolonialiseer en om te aanbid.

En so redeneer Cilliers en die Barolong-mense in die verhaal: die Boere wil net hê God moet regeer, maar die Barolong sê hulle het ’n vrou en ’n koning nodig. Cilliers: Die Engelse kan spoedig ’n koning(in) hê, en ’n man kan nie deur ’n vrou regeer word nie.

Krog wys daarop dat daar in die verhaal genderkommentaar gelewer word.

Hier is ’n paar ander hoofpunte uit haar lesing:

  1. Sol Plaatje nooi wit mense in die literatuur van swart mense in, nie andersom, soos normaalweg die geval is nie.
  2. En hy skryf oor wit en oor swart mense op doodgewone manier – niemand is verhewe bo die ander nie. Almal het ’n storie om te vertel. ’n Manier vir swart en wit om mekaar te verstaan (in sy roman): "Their noticing of each other's pleasures and discomforts."
  3. Sy verwys na Plaatje se "verbal engagement". Ten spyte van Plaatje se persoonlike gevoelens oor wit en oor swart, hoe daar teen hom as swart mens gediskrimineer is, tree mense van verskillende rasse en kleure met mekaar in die boek in gesprek. Geen mens kan oor ander regeer nie, is sy houding. Plaatje kies, ironies genoeg, vir Moody as sy held (die mag van kolonialisme – Engeland – en die kerk/godsdiens, ten spyt).
  4. Naamgewing speel ’n rol: name van mense is in hul eie tale, soos Afrikaans, maar plekname is gegee volgens die inheemse name, gegee volgens die naam van die mense wat daar gewoon het. Taal en naamgewing het te doen met besitreg.
  5. Alliansies is van belang in die boek. Oorloë is voortdurend ’n agtergrondtema, en dan ook tale, oor en weer: kommunikasie oor en weer.

Soos wat oorloë ’n tema vorm in Plaatje se werk, is ook meertaligheid iets wat Krog deurlopend in Plaatje se werk uitwys.

Plaatje wys op hoe belangrik vertaling vir hom as skrywer is deur in sy boek vertaling van Tswana-woorde te verskaf.

Krog wys op hoe die Bybel aangepas word in die roman, waar Paulus skryf dat almal gelyk voor God is. In Plaatje se roman betrek hy nie net Romein en slaaf nie, maar swart en wit, man en vrou.

Krog sê dat Plaatje nie net oor mense skryf nie, maar ook alles van die groter heelal ondervang: komete, insekte, die kosmos ...

In sy werk is daar "ever-widening circles of inclusion: religions, races".

Dit het meer as 20 jaar van demokrasie geverg om haar oë oop te maak vir waar Suid-Afrika verkeerd geloop het, sê Krog.

Kyk wat gebeur uiteindelik in sy boek: die twee groepe is uit mekaar, swart en wit. Dit kon verskillend gewees het, dit kon ’n huwelik gewees het wat gewerk het

Maar Plaatje is in beheer van sy karakters en van hul uitkomste. Hy is dus vryer in sy boek as in die werklike lewe. Hy het ’n visie terwyl hy skryf; sy skrywe oor onderlinge verbintenisse is wat hy sien van die land waar hy nie is nie.

Krog se slot is verrassend. Plaatje se roman, sê sy, is egter nie net ’n boodskap vir ons tyd nie. Kom ons vier die lewe en die werk van ’n man wat ver van hier gewoon het, jare gelede, en wat ons vry maak omdat kuns vry maak. Kom ons wees vry soos wat kuns ons vry maak, ’n viering van kuns.

Agterna is die vrae vanuit die gehoor ’n soort demonstrasie dat ’n ander soort diskoers geopen is, dat ’n platform geskep is vir gesprek tussen almal om vrylik te praat en te bevraagteken.

’n Swart student vra hoe ons vandag se struggle-helde eer. Is Plaatje steeds relevant en van pas?

Krog: Ja, die Fallist-bewegings demonstreer dalk juis dat vandag se studente duideliker gehoor word as Plaatje in sy eie tyd.

En op al die ander vrae, oor hoe om meer narratiewe te skep, oor Afrika-letterkunde en ander kwessies ten opsigte van die Anglo-Boereoorlog, is haar pleidooi eenvoudig: ’n land soos hierdie, met al sy tale, behoort obsessief te wees oor vertaling. Ons moet vertaal. Ons moet ook mekaar se tale praat.

En hiermee eer sy finaal die nagedagtenis van Sol Plaatje, spreker van sewe tale.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Naòmi Morgan

    Baie dankie vir 'n opsomming van groot waarde vir diegene wat agv botsende produksies nie daar kon wees nie. Twee dinge staan vir my uit, dat Plaatje dikwels in die lesing self aangehaal is (boekbesprekings gaan ook oor die 'laat klink' van 'n skrywer se styl) en dat die klem op vertaling geval het. Vertaling is die alternatief vir 'n een-taal-strategie; Vertaling maak vry.

  • Avatar
    Gert van der Westhuizen

    Sol Plaatjie het ook grafies geskryf oor hoe die landwet van 1913/14 die hele Vrystaat vir geslagte begin ontneem het van boerderykundigheid ... inheemse kennis wat in die niet verdwyn ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top