Titel: Mixtape van die liefde
Samesteller: Antjie Krog
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781776353590
...
Nes enige literatuur wat sy sout werd is, is dié bloemlesing beslis verleidelik, om meer redes as die variasie wat dit bied en die musiekkomponent. Die pragtige illustrasies op die voorblad en tussen afdelings maak dit nie net mooi nie, maar maak van die bundel ’n ronde kunservaring.
...
Nes tieners soms blitsvinnig ’n liedjie afskiet wat nie oortuigend verband hou met hul leefwêreld nie, kan die verkeerde gedigte in die klaskamer vinnig tieners se vooroordele versterk: Dis glo outyds of vervelig en bied nie ’n aanknopingspunt wat tieners kan boei nie.

Antjie Krog (Foto: Menán van Heerden)
Dis wat my opgewonde maak oor die splinternuwe bloemlesing Mixtape van die liefde (saamgestel deur Antjie Krog, 2022, LAPA). Soos YouTube met sy legio moontlikhede of verskillende boeke in ‘n boekwinkel, bied hierdie versameling gedigte waarlik ’n mix: Dis soos ’n hele bos sleutels wat tieners se uiteenlopende leefwêrelde en belangstellings op verskillende maniere kan verteenwoordig. Daarom kan dit die vreugde en troos van letterkunde vir selfs die mees skeptiese tiener help oopsluit.
Reeds die titel verlei en doen sy naam gestand in heelwat opsigte.

Ronelda Kamfer (Foto verskaf)
Die “mixtape” bied ’n tikkie nostalgie omdat dit herinner aan destydse kassetopnames, maar dis ook byderwets en verwoord die wêreld van tieners wat – steeds – graag ontvlug in musiek. Soortgelyk kombineer die bloemlesing onlangse gedigte (en jong digters) met meer klassieke gedigte wat rotsvas deur dekades bly resoneer. Daar is ’n lang lys ou staatmakers wat weer met bekende gedigte pryk – van so vroeg as Totius. Terselfdertyd klink heelwat nuwer digters se stemme op. Ronelda S Kamfer, wat internasionaal ál meer gewildheid geniet, spog met die grootste bydrae – ses titels.

Shirmoney Rhode (Foto: Verskaf)
Nog jong digters illustreer hoe gedigte in voeling kan wees met hedendaagse situasies: Onder andere ondersoek Ryan Pedro se gedigte oor jong liefde teen die agtergrond van ’n wêreld vol armoede, vrees en misdaad (vgl “mixtapes vir wendy #2, bl 29). Nathan Trantraal se “Lentegeur” (62) handel oor ’n hedendaagse verlore seun: Die spreker verwoord die pyn wat sy broer se dwelmverslawing en rehabilitasiereis vir die gesin beteken het. In “buite die eg” (Shirmoney Rhode, 57) word ’n gemeenskap waarin afwesige pa’s pandemies is, deur die oë van ’n spreker wat self nie sy/haar pa ken nie, beskou.

'n Bibi-selfie
Drie gedigte van Bibi Slippers is geneem uit haar debuutbundel Fotostaatmasjien (2015, Tafelberg). Soos die titel van haar bundel laat deurskemer, vind die konsep van opnames en kopiëring weerklank in haar gedigte – wat mooi aansluit by die idee van ’n kassetopname (“mixtape”). Die gedig “Moon” (116) sluit goed aan by tieners se sosialemedia-deurspekte bestaan: “ek geniet die oomblik van on- / sekerheid wanneer ek na ‘n foto / op Instagram kyk en nie weet of / dit Ruby Rose of Bieber is / wat pose nie.” Aktuele kwessies soos identiteit en gender word aangespreek.

Ryan Pedro (Foto: Izak de Vries)
Die musiek wat geïmpliseer word met die woord “mixtape”, word hoorbaar in dié bloemlesing en kan ook tieners se belangstelling prikkel. Die woord “mixtape” in die titel is geïnspireer deur Ryan Pedro se gedigte, oa “mixtapes vir wendy #2” (29) en “mixtapes vir wendy #3” (80). Dié gedigte kan maklik lewe kry in ’n klasbespreking, veral omdat dit met ’n “Track list” onderaan gepaard gaan: ’n lysie musiek wat die gedig aan tieners se bestaan anker en die betekenis intertekstueel kan verryk. Ook “Ronelda” (23) deur Nathan Trantraal begin met ’n aanhaling uit The National se lirieke. Gedigte wat ekstra roem verwerf het as toonsettings en sodoende musiek kan laat opklink, is ook ingesluit: “Bantom hom so en flennie die snare” (13, Boerneef), “Beautiful in Beaufort-Wes” (67, Gert Vlok Nel) en “Bitterbessie dagbreek” (77, Ingrid Jonker).
...
Soos die geval telkens met goeie letterkunde is, het ons hier te make met ’n meedoënlose Delila wat innooi met skoonheid en vermaak, maar lesers ook kan uitoorlê: om hul destruktiewe driehoeke van nougesette idees te verander in prismas waaruit ’n hele reënboog van perspektiewe straal.
...
Nes enige literatuur wat sy sout werd is, is dié bloemlesing beslis verleidelik, om meer redes as die variasie wat dit bied en die musiekkomponent. Die pragtige illustrasies op die voorblad en tussen afdelings maak dit nie net mooi nie, maar maak van die bundel ’n ronde kunservaring.
Mixtape van die liefde is egter meer as net verleidelik, soos “Jesse” wat “gewys [het] tot waar sy beenhare skeer / agter in die skoolbus” (15, “Skoolseunblues” deur Johan van Wyk). Soos die geval telkens met goeie letterkunde is, het ons hier te make met ’n meedoënlose Delila wat innooi met skoonheid en vermaak, maar lesers ook kan uitoorlê: om hul destruktiewe driehoeke van nougesette idees te verander in prismas waaruit ’n hele reënboog van perspektiewe straal.
...
Dié Delila kan elke Afrikaansonderwyser in die VOO-klaskamer se beste vriendin wees, want sy kan tieners boei én hul nooit weer met dieselfde oë laat kyk nie.
...
Dié Delila kan elke Afrikaansonderwyser in die VOO-klaskamer se beste vriendin wees, want sy kan tieners boei én hul nooit weer met dieselfde oë laat kyk nie. Hier word dit byvoorbeeld sigbaar dat die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans nie kan lyk soos ’n plaat oënskynlik eenderse tulpe nie. Ons stemme is eerder soos fynbos wat saam uit ons harde, klipperige aarde groei en op verskillende maniere blom. Die kosbaarheid lê juis daarin dat ons so divers klink en saam soveel eerlike skoonheid bring.
Tieners sal ook sien dat vernuwing meer kan beteken as Miley Cyrus wat Hannah Montana se pruik afpluk en poedelnakend mure omstoot terwyl sy op ’n wrecking ball rondswaai. Antjie Krog – as samesteller – is hier die vrou (steeds op háár befaamde rots) wat die grense van liefde en taal platslaan en daarmee haar lesers uitdaag om nuut te kyk.
Krog versplinter bestaande idees oor wat ’n versameling liefdesgedigte in Afrikaans beteken. Die strekkinge van wat as liefdesverse geld, word hier breër beskou as in voorgangers soos Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (saamgestel deur Fanie Olivier, 1992, Human & Rousseau) en Die mooiste liefde is verby (saamgestel deur Etienne van Heerden, 1999, Tafelberg). Daar is ses afdelings, waarvan slegs die eerste twee, en ‘n paar gedigte uit die derde afdeling, te make het met verliefdheid en romantiese liefde wat volstaan, vorm of verlore gaan. Meer as die helfte van die gedigte het niks met romantiese liefde te make nie. Hierdie inklusiewe beskouing van liefdesverse maak dat lesers besef: Gedigte oor aspekte van die lewe soos gesinsverhoudings en die uitdagings en pyn wat dit veroorsaak, bewondering vir die natuur, gemengde gevoelens oor liefde vir jou land, geloof en genade en liefde (of passie) vir Afrikaans is ook liefdesgedigte. Die teenpool van liefde word ook ingesluit: ’n Gedig soos die klassieke “Wiskunde” deur Antjie Krog is in die afdeling “Liefde en woede” en verwoord juis die spreker se renons in hierdie vak.

Lynthia Julies (Foto: Izak de Vries)
In die derde afdeling, “Liefde in gesinsverband”, handel heelwat gedigte oor sprekers se verhoudings met hul ma’s en pa’s. Gebrekkige verhoudings met pa’s kom in meer as een gedig onder die loep; in “Luna” (45) skryf Lynthia Julies byvoorbeeld: “skyn met jou vol pram oor die man / wat ek Daddy noem vanaand / dalk raak jy hom soos ek nooit kon / wees sag en teer soos hy nooit was met my / en vergewe hom dit wat ek nie kan nie.” In Jolyn Phillips se “heil die leser” (40) word die vissermanspa se liefde vir leer pragtig verwoord: “ek onthou sy gliserien-oë / my pa die letter-boemelaar / hy soek sy storie / hy tel hulle op / hy stryk hulle plat / sy oë smeul soos ’n gebakte patat.”
Ma’s word nie sonder tekortkominge geskets nie, maar word wel oorwegend in ’n beter lig gestel. Menslikheid, deernis en eerlikheid staan sentraal in heelwat van dié verse. In die gedig “hammie” (46, Nathan Trantraal) vereer die spreker sy ma. Haar rol in die spreker én gemeenskap se lewens skemer deur: “My ma groet gangsters en kêkmense dieselle / wan sytie kêkmense geken / voor hulle gangsters geraak et / ennie gangsters voo hulle / hulle harte virrie Here gegie het.”
Twee gedigte voer ’n pleidooi vir Afrikaans en daag lesers uit om nuut oor die taal en hul rol as sprekers te dink. In Breyten Breytenbach se “liefling, taal” (115) is Afrikaans die apostroof – voorgestel as ’n jong vrou wat by implikasie eintlik vrugbaar moet wees, maar hier in ’n graf lê – sterwend omdat haar sprekers haar nie oppas nie en te “skaam” is vir haar. Wanneer die spreker “’n laaste keer” “ons liefde” (sy verhouding met Afrikaans) wil “besing”, sê hy: “ek skaam my dat ek my nou daarvoor moet skaam” – wat die Afrikaanssprekendes uitdaag tot introspeksie, omdat min bereid is om vir hul taal te baklei. Die spreker in Churchil Naudé se “Praat saam my” (113) voer ’n vrolike, dog uitdagende betoog vir Afrikaans as ’n soepel taal wat nie aan bande moet gelê moet word met voorskriftelikheid nie. Hy noem dat “die uitverkorenes” hom wil “kruisig” vir sy spontane taalverbuigings, maar nooi nogtans ander om ook hul taalvariante te gebruik: “kom sprei my taal soes ’n boem met klom’ takke / laat val dit soes rieen op ienageen se dakke / van daa’ annekan’ tot Namakwaland / van Mitchells Plain tot binne-in Pretoria / ô’s celebrate my taal nou hoor hoe sing’ie kooria”. Leerders word dus aangemoedig om nie hul taal of taalvariant as minderwaardig te ag nie, maar dit te sien as ’n bemagtigingsmiddel wat hulle moet beskerm en gebruik.
...
Enigiemand vir wie die teerheid van liefde of die afwesigheid daarvan in enige hoedanigheid al iets laat voel het, sal hierby kan aanklank vind.
...
Lesers se oë gaan inderdaad oop vir die hele kaleidoskoop van taalvariante wat Afrikaans bied. Soos reeds in haar oeuvre te siene is, verbreed Krog ook die grense van perspektiewe in die Afrikaanse letterkunde deur Afrikaanse vertalings van andertalige gedigte in te sluit. Sodoende kry Afrikaanse lesers ’n venster op die letterkunde van Zoeloe, Setswana, Xam, San en Spaans. Op dié manier word “Mandela se brief aan Nomzamo” (74, geskryf deur Mazisi Kunene en uit Zoeloe vertaal deur Nkosinathi Sithole en Antjie Krog), oopgesluit vir Afrikaanssprekendes en kan ons ’n blik kry op Mandela se tronkjare en die mooi manier waarop hy Nomzamo bedank vir haar bemoedigende woorde. ’n Kort en eenvoudige gediggie deur Lucebert (“sonnet”, 18) verskyn in Nederlands en bied blootstelling aan dié taal vir jong lesers.
Binne al die verskeidenheid wat bymekaarkom in dié bloemlesing, is die woord “liefde” – selfs in sy breë beskouing – in baie opsigte die gemene deler wat ons herinner aan dit wat ons almal eintlik dieselfde maak. Dit gooi die teikengroep van dié bloemlesing as’t ware wyd oop, want enigiemand vir wie die teerheid van liefde of die afwesigheid daarvan in enige hoedanigheid al iets laat voel het, sal hierby kan aanklank vind.
Dit vertel ook die universele storie van menslikheid en dat respek en liefde baie dinge kan oorbrug. Die klassieke “Vergewe en vergeet” (98) deur Totius dateer wel uit die nadraai van die Suid-Afrikaanse Oorlog, maar vir lesers sal die tema – dat vergifnis dalk ’n belangrike onderdeel van liefde en medemenslikheid is – vandag net so relevant wees soos jare gelede.
In Ronelda S Kamfer se “To all the boys I loved before” (11) dink die spreker terug aan “Damian / wat [haar] geleer het om met ’n bottermes / by ’n kar in te breek en die radio te steel”. Mixtape van die liefde kan die Delila wees wat graad 10- tot 12-leerders boei met die skoonheid wat gedigte bied, maar ook die Damian wat hulle nuwe soorte sleutels gee om hul gedagtes oop te sluit vir die vreugde en insig wat Afrikaanse letterkunde bied.
Lees ook:
’n Steam punk-keilhoed vol pluimpies vir Die 17de veer as hoërskoolroman