
Foto van Laurinda Hofmeyr: Izak de Vries
Mixtape van die liefde
Ondersteun deur NATi
Vervaardiger: Momentum Beleggings Aardklop
Met: Jana Cilliers, Mathys Roets, Christo Davids, Anna Davel, Stephanie Baartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp
Geskep deur: Anna Davel en Alexa Strachan, na die bloemlesing saamgestel deur Antjie Krog
Regie: Anna Davel
Taal: Afrikaans
Venue: kykNET Teater
Datum en tyd: 28 April om 14:00
Tydsduur: 60 min
Prys: R125
Hierdie produksie bring Antjie Krog se bloemlesing Mixtape van die liefde (LAPA 2022), waarin verskeie digters aan die woord is, na die verhoog. Dit reik oor grense van temas, kultuurgroepe en generasies heen, maar op die ou end word almal ewe hard omgedolwe, platgetrek óf opgehef.
Soos die programnotas sê: “Die liefde is soms morsig, meestal misterieus, en maak mense dikwels mallerig.”
Izak de Vries het met Laurinda Hofmeyr gesels oor haar bydrae tot die produksie.
Ek het Mixtape van die liefde gelees en is werklik mal daaroor. Daar is soveel variasie in. Hoe gaan julle die variasie musikaal aanbied?
Baie van die gedigte in die bundel is reeds bekende toonsettings, soos “My nooi is in ’n nartjie” en “Voshaarnooi”.
Sommige gedigte is nuut deur my, Leon Gropp of Anna Davel getoonset en soms ondersteun die musiek net ’n gedig soos dit voorgedra word. Al musiekbegeleiding wat daar is, is ek by die klavier en Leon op kitaar. Die gedigte wat gesing word, is dié wat lekker klink as ons twee dit begelei. Daar is wel vyf verskillende sangstemme wat oorgenoeg variasie verskaf.
Die bloemlesing bevat natuurlik ’n veelheid stemme. Julle produksie ook. Krog was verantwoordelik vir die saamstel van die stemme in die boek. Wie het al hierdie wonderlike kunstenaars op een verhoog gekry vir jul produksie?
Alexa Strachan van Aardklop het die idee gekry (Aardklop wou Antjie Krog vereer omdat sy laasjaar 70 geword het) en sy het toe vir Anna Davel gevra om die program saam te stel en die regie te behartig. Ek dink hulle het so saam-saam op die deelnemers besluit.
Jy is bekend, dalk selfs beroemd, vir jou toonsettings van gedigte. Wie het die keuse gemaak van die gedigte wat in die stuk gebruik is, en hoeveel daarvan het jy getoonset?
Anna en Alexa het ons vrye teuels gegee en gesê ons kan enigiets uit die bundel toonset. Ek het toe ’n gedig van Elizabeth Eybers gekies en daar was ’n gedig van Ingrid Jonker in die bundel wat ek voorheen getoonset het. Leon het ook ’n bestaande toonsetting gehad van ’n gedig wat in die bundel verskyn. Anna het ’n gedig van Antjie Krog getoonset en ek en Leon het van die bekende toonsettings vir die ander stemme verwerk. Dis verbasend hoe baie van die gedigte reeds bekende liedjies is.

Foto: Robyn September
Kaartjies vir die vertoning is te koop by Computicket.
Die bloemlesing Mixtape van die liefde is uitgegee deur LAPA en is te koop by Graffiti.
Lees ook:
Die kuns van toonsetting: ’n resensie-onderhoud met Laurinda Hofmeyr
Laurinda Hofmeyr: "Ek weet nie presies wat my aantrek na sekere gedigte nie"
Mixtape van die liefde kan die vreugde van gedigte vir tieners oopsluit