Die kuns van toonsetting: ’n resensie-onderhoud met Laurinda Hofmeyr

  • 0

Animasie deur Diek Grobler

“Ek werk stadig. Ek het ook nie baie selfvertroue wat my stem betref nie. Ek dink wel ek is buitengewoon musikaal (en musikaal redelik goed opgelei) en ek het ’n spesifieke gawe om musiek by woorde te sit. Ek is bang om foute te maak en mense teleur te stel wat, as ’n mens dieper grawe, op hoogmoed neerkom, en wat my dikwels gevange hou en ‘van minder nut’ maak as wat ek kan wees. Iets wat ek wel kan doen, is om in mense se skoene te klim en te probeer voel wat hulle voel (amper soos met ’n gedig). Ek wil graag meer en meer vry word van vrees en meer en meer ‘verdwyn’ in die groter storie,” sê die pianis, sangeres en toonsetter Laurinda Hofmeyr, wat aanvanklik bekendheid verwerf het met haar toonsettings van die gedigte “Ek het ’n huisie by die see”, “Kabouterliefde” en “Vir ’n pepermossie” vir Laurika Rauch.

Laurinda se loopbaan getuig van professionaliteit en gehaltewerk. Sy stagneer nie en skroom nie om te eksperimenteer en te waag nie. Met die grade BMusEd en BMus Hons (klavierdidaktiek) van die Universiteit van Pretoria mág sy, want sy doen dit met verantwoordelike kundigheid.

Sy is ’n bedrewe konsertpianis en benut haar musikale en vokale vermoëns ten bate van poësie – veral bekend om haar spesialistoonsettings. Verse van bekende digters soos Sheila Cussons, Antjie Krog, Breyten Breytenbach en NP Van Wyk Louw kry met Laurinda se toonsetting daarvan ’n eietydse wêreldmusiekbekoring.

Sy het reeds vier albums – Perd oor die maan (1999), Ligdag (2003), Reis na die Suide (2008), wat ek wou sê (2015) – uitgereik; werk wat haar SAMA-benoemings en Geraas- en Ghoema-toekennings besorg het.

Laurinda tree gereeld by kunstefeeste op, ook in samewerking met ander kunstenaars, ook in België en Nederland. Sy is onder meer met ’n De Kat Slurpie-toekenning, ’n Sarie Pronkpluim-toekenning, ’n KKNK Kanna en ’n Woordfees-toekenning bekroon. Onder haar bekroonde produksies is Verse in my vingers, Sameloop, Hadedas en sterre en Perd oor die maan.

Die FAK het haar al ook vir haar besondere kultuurprestasie vereer.

Laurinda is in die ware betekenis van die woord ’n skeppende en uitvoerende kunstenaar.

Haar jongste opdragwerk, Afrique mon désir / Afrika, my verlange, is ’n grensverskuiwende pragproduksie en het reeds gehore elders oorrompel en is onder vanjaar se uiteenlopende musiekaanbod by die KKNK op Oudtshoorn. Dié produksie is by vanjaar se US Woordfees vir ’n WoordTROfee in die afdeling kontemporêre musiek as beste groep benoem.

David Kramer is die regisseur van dié multimedia-wêreldmusiekproduksie, wat aangebied word deur die Cape Town Music Academy (CMTA). Die geselskap onderneem in Junie ’n Europese toer.

Die gepaardgaande klankbaan is ’n musikale meesterstuk. Dié gedagtevlug van Nico MacLachlan, die uitvoerende hoof van die CTMA, spog met die uitsonderlike talent van ’n wêreldklasensemble, bestaande uit Wes-Afrikaanse musikante en sangers.

Die deurdagte narratief ondersoek temas van verplasing en verlange, die gepaardgaande innerlike konflik, terwyl die bewoners van Afrika gil – én fluister – oor die vooruitsigte van verlossing, genesing en omhelsing.

Hulle ontdek en onthul ’n skatkis van Afrika-poësie uit Franssprekende lande soos Madagaskar, die Ivoorkus, Kameroen, Mauritanië en Tsjaad – waarteen Suider-Afrikaanse digters in Afrikaans, Lingala, Swahili, Tshiluba en Kikongo weerkaats.

Laurinda se toonsettings ontgin die oorspronklike bedoeling van die poësie en komplementeer die skeppers daarvan. Sodoende herskep sy die woord tot atmosferiese en ritmiese klankbeelde wat verrassend en tematies-progressief boeiende sosiale betrokkenheid weerspieël.

Die bekroonde musikant en musiekregisseur Schalk Joubert het die luisterryke verwerkings behartig. Die vokale fluweeltekstuur – Laurinda, Malako Wekuna Soba, Yamato Bonkuta Loyeke en Deodata (Dea) Kinzunga-Walo – word gekomplementeer deur klawers (Laurinda), snare (Schalk, Kayembe Ilunga en Jurgen von Wechmar), tromme en perkussie (Kevin Gibson) én – veral – die treffende en melankoliese teenwoordigheid van die ontslape trekklaviermeester Régis Gizavo.

Die meesleurende animasiefilms deur die gevierde kunstenaar Diek Grobler wat die eiesoortige sensoriese oudiovisuele verhoogproduksie vergesel, vergestalt in die kunstige CD-verpakking wat al die lirieke in Frans, Engels en Afrikaans bevat.

Breyten Breytenbach se “26 November 1975” (2001), Antjie Krog se “Stil maar” (2000) en Eugéne Marais se “Die dans van die reën” (1936) pryk langs die werke van digters van elders.

Dit word ’n veeltalige literêre fees – met gedigte wat vertaal as “Onder die aarde”, “Die swart koei”, “Nou is dit tyd”, “Seeblou lig aan die eb”, “Stroomlangs”, “Mense van stilte”, “My geheim”, “In die woud” en “My land”. Die kreatiwiteit word in ’n klanktapisserie van Afrika-begeesterde melodieë geweef om ’n energieke, luisteryke en boeiende produksie te skep.

Die kunstenaars

Hoe trots is jy op dié produksie?

Uiters! Elke CD is ’n mylpaal en hoogtepunt, maar die hoogtepunte lê ook in die mense met wie jou pad kruis. Afrique mon désir is ’n hoogtepunt omdat iemand (Nico McLachlan van die Cape Town Music Academy) gehoor het wat ek doen en ’n idee gekry het wat my sou insluit, maar wat groter sou wees as die onderskeie dele. Hierdie organisasie het die projek ook finansieel en andersins moontlik gemaak. Vir die eerste keer is daar ’n groot masjien agter my wat momentum gee en dinge laat gebeur. Ek dink dit is die rol wat groot platemaatskappye gewoonlik vervul het. So iets gebeur een keer in ’n mens se leeftyd.

Wat was die moeilikheidsgraad en uitdagings van die onderskeie tale en die lirieke waaraan jy ’n klankvertolking moes gee?

Daar was verskeie uitdagings. Eerstens om geskikte gedigte te kry wat nie te lank is nie en met temas wat met my resoneer. Breyten Breytenbach het Catherine du Toit, hoof van Vreemde Tale aan die US, aanbeveel. Ons het saam Frans aan Tukkies studeer (sy was tóé al baie slim!). Catherine het die gedigte in die hande gekry en my laat kies uit ’n paar gedigte van elke digter.

Die kiesery kon ek natuurlik doen eers as ek die uitdaging van die Frans waarin die gedigte geskryf is, kon oorkom. Ek het Frans op skool en tot op tweedejaarvlak op universiteit gehad, maar dit was lánk terug – met slegs die hoflikheidsgeselsies met Franssprekende karwagte in die Paarl as oefening sedertdien.

Catherine het soms al voorlopige vertalings van die gedigte gehad, maar selfs dan het ek omtrent elke Franse woord opgesoek. Daarna sou ek en Catherine lekker besprekings hê oor elke gedig. Sy het so ’n wye agtergrondskennis oor al die lande en digters en literatuurtendense dat ons besprekings vir my een van die lekkerste prosesse was.

Eers dan het ek ’n gedig van ’n digter gekies. En eers ná nog bietjie oplees oor die digter en sy land van herkoms het ek probeer toonset.

Ek het geluister na musiek van die digter se land van herkoms en gekyk of daar stylelemente is wat as inspirasie kon dien. Drie van die vier Rabearivelo-toonsettings het byvoorbeeld ’n saamgestelde tyd (dit klink soos ’n vinnige ¾-tyd) soos baie Madagaskar-musiek. In “Mon pays” van Diagana (van Mauritanië) kan ’n suggestie van ’n modus wat ek raakgeluister het, gehoor word en “Gens du silence” (van Patrice Nganang) is ’n bietjie geïnspireer deur die Makossa-musiekstyl van Kameroen. Die toonsetting moes steeds iets wees waarna ek graag sou wou luister. Dus is die inspirasie-elemente is net ’n suggestie. Dit moes deur my filtreringsproses gaan.

Soms het ek gesukkel. Met laasgenoemde gedig van Nganang kon die toonsetting werk eers na Schalk Joubert ’n ander voorstel vir die harmonieë gemaak het. Die hele ding is nou net om een akkoord gebou. Ook in Véronique Tadjo se gedig het Schalk ’n voorstel gemaak vir ’n derde instrumentale deel, wat die komposisie meer opwindend maak.

Die groot uitdaging was maar soos met enige toonsetting: om die gedig natuurlik te laat klink as dit gesing word, om die stemming (van my interpretasie) van die gedig vas te vang met musiek en om die musiek só te maak dat ek en hopelik ’n paar ander mense dalk vir ’n tweede keer daarna sou wou luister.

Watter slaggate moet ’n toonsetter vermy en hoe gaan jy daarmee om?

Ek dink die beste argitektuur gebeur wanneer die argitek hiperbewus is van die landskap en die konstruksie en dit dan boonop visueel en prakties bevredigend is. Ek dink die beste toonsettings gebeur wanneer die toonsetter die skoonheid in die gedig raaksien en waardeer presies soos dit is en dan iets musikaal daarby voeg wat die gedig komplementeer, musikaal werk en die rol vervul waarvoor die musiek gemaak word.

Dis belangrik om eers die stylelemente wat as inspirasie dien, by jou huidige konteks aan te pas, anders kry ’n mens “Toskaanse villas in Suid Afrika”.

Met dit alles gesê, glo ek nie ’n mens kan volgens reëls heeltemal voorspel wanneer ’n toonsetting gaan werk of nie.

Hoe bepaal jy genre, stemming en melodie wanneer jy poësie in klankkuns omskep?

Ek dink nie gewoonlik aan genre terwyl ek toonset nie. Ek kry wel ’n prentjie van wie ek dink die gedig “vertel” en wat die geleentheid is. Dit bepaal ook die stemming. Die metrum word ook gewoonlik vóór die melodie bepaal. As ek wonder oor die melodie van die eerste reëls, probeer ek dikwels die stem se intonasie na-aap wanneer mens die reëls hardop sou sê.

Hoe word die verwerkings, instrumentasie en orkestrasie bepaal?

Hierdie afdeling trap ek en Schalk Joubert gewoonlik saam deur. Hy is die musikale regisseur. Ek verskaf die basiese toonsetting en spesifieke ander melodielyne of harmonieë wat ek op plekke hoor. Hy maak voorstelle oor hoe ’n mens die struktuur dalk kan rondskommel om die toonsetting nog gemakliker op die oor te maak. Met hierdie projek het hy dikwels ’n ekstra refrein uitgedink waarop die sangers van die Kongo dan woorde in byvoorbeeld Lingala verskaf het (volgens hoe hulle die gedig verstaan het). Dit het dan die “fusion”-gevoel versterk en terselfdertyd die toonsetting meer toeganklik gemaak. Soos ek genoem het, het Schalk se voorstelle oor die harmoniese progressie in Nganang se “Gens du silence” uiteindelik die toonsetting laat “werk” en het hy medekomponis geword.

Ons dink gewoonlik saam aan watter instrumente gebruik moet word en hy maak seker dat ek hou van wat hy voorstel. Ons albei heg ook baie waarde aan die klankopname- ingenieur, Jürgen von Wechmar, se voorstelle. Met sy klankvermenging en ander voorstelle dra hy natuurlik geweldig baie by tot die uiteindelike klank van elke snit. Met hierdie opnames het ons vrye teuels aan die musikante gegee en dan het Jürgen en Schalk uit elke musikant se “takes” ge-“cut and paste” wat die beste by ’n spesifieke deel sou klink. Dis Schalk wat die proses van die opnames uitdink en ek kan ontspan in goeie hande. Ons luister ook albei na die uiteindelike “vermengings” en maak voorstelle as daar nog iets moet verander.

Vir die vertonings se orkestrasie verlaat ek my ook op Schalk, hoewel ek ook sê as iets my pla. Hierdie projek is ’n goeie voorbeeld van hoe ek en Schalk (en Jürgen) mekaar aanvul ná baie jare se saamwerk.

Is toonsetting skepping of herskepping?

Dit is skepping, want mens dink iets nuuts uit – maar die toonsetting is heeltemal afhanklik van die oorspronklike gedig vir sy bestaan. Ek sou nie die musiek kon uitgedink het sonder die woorde nie.

Waaraan moet ’n geslaagde toonsetting voldoen?

Dit hang af van wat die rol is wat die toonsetting moet vervul. Vir my doeleindes moet die toonsetting natuurlik klink as dit gesing word (soos wanneer ’n gedig treffend voorgedra word); die stemming van die gedig moet vasgevang word (dit hang af van die komponis se interpretasie van die gedig); en die musiek moet die komponis, en hopelik ’n paar ander mense, weer wil laat luister. Maar dis alles subjektief; ’n kwessie van smaak, dink ek.

Die gepaardgaande verhoogproduksie behels multimedia. Hoe voed die onderskeie elemente en simbole in die animasiekuns die temas?

Diek Grobler het die animasies vir die vertoning gedoen. Ek het vir hom gesê hoe ek elke gedig verstaan, maar daarna het hy sy eie idees gevorm en daarvolgens gewerk. David Kramer het sommige grafiese stilbeelde verskaf as agtergrond tot die musikante van die Kongo se liedjies. Al die elemente versnit naatloos.

Hoe weeg jy gewildheid versus gehalte in jou strewe na volmaaktheid op?

Ek dink nie die twee sluit noodwendig mekaar uit nie. By die maak van die toonsetting konsentreer ek net op ’n eerlike weergawe waarvoor ek nie sal moeg raak nie. Ek probeer iets maak waarvan ek sal hou. (Natuurlik deel nie almal my smaak nie.) Daarna is ek oop vir enigiets wat die toonsetting gewild kan maak. Dit verg baie kreatiwiteit om te “kuns” en om te vermaak. Dit verg baie kreatiwiteit om net vol te hou met énigiets.

Daar is gedurig bekgevegte oor die stand van Afrikaanse musiek, veral oor die liriekinhoud. Die meriete van melodieë – met meestal maar min progressie – word ook bevraagteken. Jou gevoel?

Ek glo daar is ’n plek vir alles. Ek sal mense nie sommer kwalik neem as my musiek nie in hul smaak val nie. Daar word lekker Afrikaanse sokkiemusiek gespeel in ons oefenklas; ek en my man, Jantjie, luister na ’n verskeidenheid musiek; en by my 13-jarige dogter, Joanie, se skool is daar nie so ’n skeiding tussen Afrikaanse en ander musiek nie. Dit moet maar net ’n lekker beat hê. Ek dink wel dit sal lekker wees as daar meer platforms kan wees waar mense aan ander musiek ook blootgestel kan word. Die internet help, dink ek. ’n Mens moet maar net die regte platforms vir jou musiek kry.

Wat is jou lewensleuse?

Ek sien Danie du Toit (van Spoegwolf) het anderdag gesê: “Be brave and be kind.” Dit klink reg!

  • Afrique mon désir / Afrika, my verlange word 2 April (18:00) en 3 April (14:00) by die ABSA Burgersentrum aangebied.
  • Die verhoogproduksie van Afrique mon désir onderneem in Julie ’n toer na Frankryk, Nederland en België. Die CD word internasionaal deur die Franse maatskappy InOuïe Distribution versprei.
  • “Waarom en hoe toonset ek ’n gedig?” is vanjaar een van die gesprekke by die KKNK. Met Hendrik Hofmeyr en Laurinda Hofmeyr. Daniel Hugo is die gespreksleier. By Netwerk24 se Feeskafee, 2 April om 10:30
  • Die volledige feesprogram is beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600 of verblyf@kunste.org.za gedoen word
  • Gun jouself die geleentheid om ook in die visuele ervaring te deel. Loer hier na die musiekvideo’s van:

“Die dans van die rëen”: Laurinda Hofmeyr, Afrique mon désir Ensemble & Regis Gizavo:

“Sous la terre”: Laurinda Hofmeyr, Afrique mon désir Ensemble & Regis Gizavo: 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top