Laurinda Hofmeyr het min bekendstelling nodig – veral as musikale interpreteerder van gedigte het sy al diep spore getrap. Sy beantwoord ’n paar vrae oor haar proses, die lewe en haar nuwe album, Wat ek wou sê.
Goeiedag, Laurinda. Hoe's dinge?
Hi Henry. Dinge is uitstekend op die oomblik. Dol, maar plesierig.
Baie geluk met die onlangse vrystelling van jou nuwe album, Wat ek wou sê. Hoe het jy spesifiek anders te werk gegaan met hierdie album as met jou vorige drie, in terme van die opbou- en opnameproses? Wat wou jy behou van vorige prosesse en waarop wou jy uitbrei? In ’n onderhoud met Die Burger het jy gesê alles behalwe die stemme is tuis opgeneem – hoe het dít die uiteindelike klank en gevoel van die album beïnvloed?
Die vorige prosesse was nogal senutergend. Alles moes binne drie weke klaar opgeneem word en mens het die hele tyd intensief met dieselfde mense in dieselfde studio gewerk. Hierdie keer het ons ’n paar dae op ’n slag gewerk en dan weer tyd gehad om voor te berei en aan te pas vir die volgende paar dae van opneem. Die opnameproses was ook rustiger omdat dit by ons huis en by die Ou Meulteater, wat ’n hanetreetjie van ons huis is, gebeur het. Ek het vooraf nogal tyd bestee aan die vokale en strykverwerkings. Tog het ons ook probeer om nie hare te kloof tydens die opnameproses nie, iets wat voorheen soms moeilik vir my was. Of hierdie werksmetode ’n invloed op die finale klank het, weet ek nie. Ek weet wel dat dit ’n baie makliker proses was en dat ek enige tyd weer ’n CD sal maak as dit op hierdie manier kan gebeur.
Hoewel die album in die algemeen voel of ’n betreklik minimalistiese benadering gevolg is in terme van die "arrangements" (ek bedoel daar's geen “oorproduksie” hier ter sprake nie), is die snitte nogal uiteenlopend – daar is byvoorbeeld ’n groot verskil in aanslag tussen "Blou" en "Ons kan nie praat". Benewens die interpretasie wat jy aan die onderskeie gedigte wou skenk (ons kom daarby!), wou jy opsetlik ’n mate van uiteenlopendheid op die album hê? Speel ’n behoefte aan afwisseling ’n rol in watter gedigte/snitte jy op die ou end kies vir ’n album, of gebeur dit maar toevallig? Wat is die grootste uitdagings rondom die samestelling van ’n album in hierdie verband vir jou, en wat kom die maklikste?
Die 13 snitte op die album is eintlik al die toonsettings wat ek oor die jare ná die vorige CD gemaak het, wat ek voel op eie voete kan staan. Ek het gedink daar sal weer ’n snit of twee in die slag bly soos gewoonlik, omdat iets net nie wil werk nie, maar dit het toe gelukkig nie dié keer gebeur nie. Ek hou daarvan as daar afwisseling ook is. As mens aandagtig na die CD luister, moet jy na die volgende snit kan luister terwyl jy geboei bly, soos in ’n vertoning ook, asof jy na ’n storie luister. Ons het spesifiek probeer om die album naby te hou aan dit wat mense in ’n vertoning sal hoor. Vandaar die redelik minimalistiese benadering.
Dit is ’n goeie sewe jaar sedert jou vorige album, Reis na die suide, uitgereik is. Dit is nogal relatief lank – watter elemente het ’n rol gespeel hierin, dat dit lank geneem het vir die nuwe album om voltooi te word? Is dit ’n geval van geleidelik afwerk en afwerk tot jy wéét die interpretasies is gereed en jy ook weet presies hoe die samestelling snitte moet lyk, of is dit bloot ’n geval van prioritiseer (jy is ma van ’n jong dogtertjie, as die inligting op die web korrek is!)?
Daar is baie faktore wat ’n rol gespeel het. Na 2008 se ekonomiese insinking het die een na die ander CD-winkel toegemaak en mense luister nou op ander maniere na musiek. Vir ’n lang tyd het ek nie heeltemal geweet wat om nou te doen nie. Ek was betrokke by ander projekte, soos die wonderlike Wasgoedlyn van Riku Lätti, maar dit was altyd net los snitte, verkieslik net ek en die klavier. Dit was eers toe Carel Hoffmann van Oppikoppi aan die begin van 2014 vir my genoem het dat Hilltop Live betrokke sou wou raak as ek dink aan nog ’n CD, dat ek begin dink het dat dit moontlik is. My dogtertjie het ook ’n rol gespeel. Dis of ek makliker my tande in iets kan slaan vandat sy so nege jaar oud is en die skooldag langer is. Ek dink teen die tyd dat ek vir Schalk Joubert gevra het om weer eens betrokke te raak, was hy ook al gekonfyt in hierdie manier van tuis-CD maak. Daar is baie ander redes ook, maar eintlik voel dit nou net weer reg, of die tyd ryp is.
Gepraat van – hoe begin jy werk aan ’n interpretasie en hoe wéét jy wanneer dit reg is, dat dít is hoe dit moet klink? Luidens die biografie op jou webwerf kies jy gedigte om te interpreteer wat in ’n sekere stadium van jou lewe tot jou spreek. Is daar soms gedigte wat bloot nie saam met die musiek wil werk nie, wat jy eerder moet wegsit? Hoe gebeur daardie vonk wat jou laat besluit jy wil met hierdie of daardie gedig werk, en hoe verloop daardie proses van sit-met-die-eerste-woorde-en-note tot jy tevrede is?
Dis ’n mondvol! Ek moet definitief aanklank by die gedig vind. Daarna lees ek dikwels die eerste reëls oor en oor. Ek verlaat my dan op die eerste wysie wat in my kop kom by daardie woorde. En dan probeer ek "die musikale lyn volg", natuurlik terwyl ek heeltyd die gevoel en kleur van die woorde by daardie musikale lyn in gedagte hou. As die wysie die volgende dag steeds by my opkom as ek die woorde lees en dit steeds vir my reg klink, dan weet ek ek kan daarop voortbou. Ek probeer doelbewus meer intuïtief werk en vir myself sê die idees wat in my kop kom, het waarde, ek kan dit maar vertrou, al is dit so eenvoudig of arbitrêr. Die feit dat hierdie proses vir my makliker word, meer soos dit op skool vir my was, gee my nogal moed.
Dit gebeur dikwels dat ek ’n gedig maar weer moet los omdat ek dit nie regkry nie. Party toonsettings gebeur oor ’n lang tyd. Ek hou byvoorbeeld van die begin, maar daar bly iets wat pla met die res. Tot ek uiteindelik ’n idee kry vir die vorm wat dit moet aanneem. Met "Ons kan nie praat" was dit ’n voorstel van Riku wat die vorm uiteindelik laat sin maak het.
Ek weet nie presies wat my aantrek na sekere gedigte nie. Dis maar soos met mense – dit gebeur net.
Vir die nuwe album het jy onder meer vir Schalk Joubert op die baskitaar nadergeroep – iemand saam met wie jy al dikwels gewerk het. Is daar ander musikante wat jy spesifiek vir hierdie album wou gebruik met wie jy nog nie voorheen gewerk het nie? Watter musikante sal jy nog graag in die toekoms wil inspan vir ’n collab of twee?
Ek en Schalk het die hele tyd probeer om dinge so koste-effektief en eenvoudig moontlik te doen. Schalk het voorgestel dat Tim Rankin die opnames hanteer en dat Dave Langeman die meng van die klank behartig, wat beide uitstekende keuses was. Behalwe vir my en Schalk en Kevin Gibson (tromme) is dit die eerste keer dat ’n bekwame agtergrondstem, Mabet van Wyk, sowel as Ronan Skillen (perkussie), ’n album saam met ons opneem. Toevallig was my broer se dogter, Joan Hofmeyr (tans ’n operastudent in New York) vir ’n paar maande in die Kaap en ek kon haar ook lekker inspan, veral vir die derde snit, "Moya". Vir die vokale ensemble op die laaste snit (wat die "Onse Vader" in die agtergrond sing) het ek ’n paar Paarl-vriende bygesleep. Die strykensemble op die tweede laaste snit is ook deur my Paarlse violisvriendin Lucy von Molendorff behartig. Ons het ook heelwat van Schalk se iPad gebruik gemaak. Daar is wonderlike musikante met wie ek graag nog sal wil saamwerk, maar vir hierdie tuisopgeneemde album wou ons dinge eenvoudig, maklik en outentiek hou.
Wat ek wou sê is by vanjaar se Oppikoppi-fees bekendgestel, en volgens jou webwerf is die album ook met behulp van Oppikoppi Records gemaak. Wat is Oppikoppi Records en hoe het dié samewerking begin? Hoe het jy die gig ervaar, en hoe was 'Koppi in die algemeen vanjaar vir jou? Hoe beskou jy die rol wat feeste soos Oppikoppi speel in die musiekbedryf hier in Suid-Afrika en ook musikante se deelname daaraan, in teenstelling met – sê maar – kunstenaars wat slegs op eie houtjie hul eie gigs reël?
Carel Hoffmann van Oppikoppi wou ’n manier kry om kunstenaars van wie hy hou, maar wat nie noodwendig sulke groot gehore het nie, aan te moedig om steeds musiek op te neem. Hy verskaf dus ’n soort lening vir 50% van die kostes. (In my geval het hy kykNET ook betrek, so hulle betaal elkeen 25%.) Die lening word dan terugbetaal met CD-verkope sodat die volgende kunstenaar weer gehelp kan word. Hulle maak nie wins daarmee nie. Dis ’n wonderlike inisiatief, want dit gee mens net daai hupstoot wat nodig is om jou so iets te laat aanpak.
Oppikoppi was heerlik en baie indrukwekkend. Die fees het die afgelope 21 jaar in iets baie spesiaals ontwikkel wat die hele kulturele landskap verryk. En om te dink daar is plek vir die soort musiek wat ek ook maak. Dit was regtig ’n voorreg om weer daar te kon speel. En weer al die bekendes raak te loop. Ek dink dis vir alle bands ’n lekker inspuiting en ’n soort erkenning.
Jy is nou al ’n hele paar jaar aktief in die musiektoneel en -bedryf, met ’n klomp albums, optredes, toere en ook ’n paar toekennings agter die blad. Enige gebeure of geleenthede wat vir jou uitstaan as hoogtepunte as jy nou terugkyk? Enige ongewone of bisarre agter-die-skerms-stories wat ons nog nie gehoor het nie? Enige plekke waarheen jy spesifiek sal wil terugkeer, of eerder in die toekoms sal verbyhou?
Die KKNK van 2000 sal altyd uitstaan. Dit was die vertoning wat my eerste CD, Perd oor die maan, moes bekend stel. Saam met my was ’n bloedjong Schalk Joubert, Mike Rennie (viool) en Lise Swart (stem). Ek onthou my ongeloof en verbasing toe ek hoor ek (ons) het die Kanna vir beste nuweling asook die Sarie Pronkpluim vir beste vrouekunstenaar ingepalm. Ons het net te veel gelag en pret gehad om nog beloon te word ook, het dit gevoel. Met oa Schalk Joubert in die band, was daar volop bisarre oomblikke. Maar ook net dinge wat my nou nog laat glimlag. Soos die twee Engelsmanne, Mike Rennie en Nic Turner, se stryd in "Hadedas en sterre", om behalwe vir die instrumente wat hulle speel, nou ook Ingrid Jonker frases te moet opsê soos: "Jou lyf is swaar van bloed en jou rug ’n singende kitaar" of "Jou lag is ’n oopgebreekte granaat. Lag weer dat ek kan hoor hoe lag die granate." En hulle het dit sowaar gedoen. Saam met David Klassen en Schalk Joubert het ons in 2006 ’n heerlike toer gehad in die mooiste plekke in die Overberg. Ons geselskap het ook die mense wat die wynborg se produkte moes hanteer, ingesluit. Behalwe die klein probleempie dat ons soms meer mense in die geselskap as in die gehoor was, was hierdie toer in alle ander opsigte ’n hoogtepunt.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Laurinda Hofmeyr, in so ver jy dit kan beheer?
Vir eers moet ek die nuwe CD so wyd as moontlik bekendstel en verkoop. (Dis op iTunes beskikbaar en mense kan die harde kopie bestel deur ’n boodskap op my Facebook-kunstenaarsbladsy te skryf.) Daar is heelwat optredes wat wag. Ek moet op ’n manier ’n musiekvideo/musiekvideo's gemaak kry en dan sien ek daarna uit om weer besig te wees met toonsettings, ná ek vir ’n hele ruk net op die verwerkings vir die CD gefokus het. Ek hoop om nog lank hierdie ding te kan doen: toonset, opneem, optredes – hopelik terwyl ek verbeter namate ek verouder ...
Wat is die sin van die lewe?
Om iets te kan gee?





Kommentaar
Goeie dag
Graag wil ek weet hoe ek te werk kan gaan om my gedigte aan iemand te stuur wat dit kan toonset en musiek daarvan kan maak.
Groete