Toyota US Woordfees: Al om Antjie

  • 2

Een van die lekkerste vertonings wat ek by vanjaar se Toyota US Woordfees kon sien, was Al om Antjie, ’n musiek-en-poësie-produksie waarin die room van die Afrikaanse musiekbedryf verskynings gemaak om Antjie Krog se werk te vier.

Schalk Joubert

Schalk Joubert, die man wat ook met ’n baskitaar kan toor, was die musiekregisseur; die hooffeesindoena, Saartjie Botha, het self die regie waargeneem.

Geen wonder nie.

’n Aktrise het in die agtergrond sit en skryf by kerslig, soos ’n Antjie Krog van destyds

Brechmari van Wyk was verantwoordelik vir die stelontwerp.

Diegene wat die Toyota US Woordfees vroeër vanjaar op TV kon volg, sou die produksie daar kon gesien het. Ek het nie ’n TV wat werk nie, dus is ek en twee goeie vriendinne met groot verwagting na die vertoning toe.

Ek was beïndruk, om dit sagkens te stel. Adéle Changuion het dit beter verwoord: “Elke keer, nes jy dink dit kan nie beter nie, is daar nog ’n #WTF-oomblik.”

Nou ja.

Miskien moet ek ophou praat en eerder wys wie op die verhoog was, dan sal julle Changuion se woorde beter verstaan.

Laurinda Hofmeyr

Laurinda Hofmeyr, een van ons bekendste toonsetters van gedigte en iemand wat al jare met Schalk Joubert saamwerk, het gesing en in talle gevalle ander begelei. Haar toonsettings van “Lied van die fietsers”, “Nuwe maan”, “Stil maar” en “Slaapliedjies vir Ntombizana Atoo” is gebruik.

Soms is van Krog se verse ook voorgelees sonder musiek; by ander is subtiele begeleidings gebruik saam met die voordragte. “My mooi land”, “Liefdeslied”, “Ma”, “Ontwei”, “Transparant van die tongvis”, “Sanctus, hosanna aan die bome”, “Visioen van ’n lessenaar”, “Land van genade en verdriet” en “Paternoster” is deur verskeie vroue voorgedra.

Tinarie van Wyk Loots

Tinarie van Wyk Loots was een van die voorlesers.

Amanda Strydom

Amanda Strydom het gesing en voorgedra.

Luna Paige

Luna Paige het ook voorgedra en haar toonsetting van “Fughetta vir drie stemme” is in die produksie gebruik.

Franco Prinsloo

Die komponis en pianis Franco Prinsloo het “Bly by my”, vyf gedigte uit die bundel Fynbosfeetjies en twee uit die Engelse bundel Fynbos fairies gekomponeer. Verder het hy ook ’n verwerking van Krog se “Slaapliedjie” vermeng en gekomponeer saam met dele uit haar siklus Xam-gedigte.

Prinsloo is ’n klassieke komponis, ook bekend vir sy gewyde musiek.

Merna Gebuza

Merna Gebuza en Christopher Vale het Prinsloo se klassieke werke vertolk.

Christopher Vale

Prinsloo se stil verwerkings, gejukstaponeer met elektriese kitare en perkussie, het ’n lieflike diversiteit na die produksie gebring – iets wat mooi kon weerspieël hoe divers Krog se poësie is.

Prinsloo het ook nie bloot ’n sagte inslag gehad nie; tydens die lied oor die lawaaierige hadeda (getoonset uit die bundel Fyntjiesfeetjies) wys hy toe ook hoekom die klavier as ’n slaginstrument geklassifiseer word.

Dié soort klankwisseling het ook gemaak dat die gehoor die hele tyd met iets nuut vermaak is.

Die regie het daarmee gespeel.

Anton Goosen

Merna Gebuza en Christopher Vale het byvoorbeeld saam “Bly by my” as ’n klassieke kunslied gesing, getoonset deur Franco Prinsloo, met Prinsloo op klavier. Net daarna het Anton Goosen sy eie toonsetting van “Bly my my” gesing.

Krog se baie bekende “Ma” uit haar debuut is direk opgevolg met “Ontwei” wat veel later geskryf is deur ’n veel ouer Krog oor ’n verteller wat besig is om haar ma aan die vergetelheid af te staan.

Babalwa Mentjies

Of Babalwa Mentjies se lieflike ryk stem sou saam met Laurinda Hofmeyr se soet stem in gesprek tree tydens ’n lied soos “Stil maar”.

Jolyn Phillips

Jolyn Phillips se toonsetting van “Depressie” was wonderlik, woedend byna. Sy het dit self gesing direk na die byna gewyde uitvoering van die Xam-verwerkings deur Prinsloo, uitgevoer deur Merna Gebuza.

Philips het ook Anton Goosen se toonsetting van “Êrens is jy” uitgevoer. Puik. Die lied met die rou seksuele verwysings het Phillips se stem en uitvoering gepas.

Christopher Vale het die siklus uit Fyntjiesfeetjies gesing, Merna Gebuza die liedere uit Fynbos fairies. Direk na mekaar. Soortgelyke toonsettings, ander stemme, ander klanke.

Frazer Barry

Frazer Barry se verwerking van “Wiskunde” het byna soos ’n struggle-lied geklink – iets wat natuurlik bewustelik gedoen is. (My eie wiskundepunte vertel ’n storie wat daarby aansluit.)

Churchil Naudé

Barry en Churchil Naudé was verantwoordelik vir “Ai tog”.

Ronan Skillan

In die agtergrond was musikante wat melding verdien. Joubert se lof is al besing. Ronan Skillan op perkussie is die moeite werd om dop te hou. (Wat moeilik was tydens die verhoogproduksie, want hy was in die skaduwees.) Sy aanslag is subtiel en gevarieerd. Hy skud sade, speel klokkies, tik allerlei simbale en verskeie hol goed; soms laat hy selfs ’n didjiridoe rammel.

Anjulie Nock

Anjulie Nock het tjello gespeel. Sy het gepiek en gestryk. Soms sag, soms uitbundig.

Henry Steel

Henry Steel het die kitaar geslaan.

Karen Zoid

En toe klim Karen Zoid op die verhoog. Schalk Joubert het sy basmasjien neergelê, en die ander Schalk, ’n Van der Merwe, het langs Steel stelling ingeneem.

Henry Steel, Schalk van der Merwe en Marlon Green

Marlon Green het agter die tromstel ingeskuif.

Jiehaa!

Zoid en haar span het gedigte uit Verweerskrif en Jerusalemgangers uitgevoer.

Al om Antjie was lekker en dit was goed.

Subtiele verskille

Ter voorbereiding van hierdie resensie het ek toe wel die opname gekyk wat vir die TV gemaak is. Die twee produksies was baie eenders, maar ook subtiel anders.

Ek is bly ek het die verhoogproduksie gesien, hoewel die opname subliem gedoen is. Op die verhoog is die klank geskep vir ’n konsertsaal. Die videoproduksie was sagter en intiemer.

Ek het albei baie geniet.

René Cloete, ’n lieflike kookwaterakteur wat ek al van haar jare in die ATKV-Tienertoneel volg, het aan die TV-produksie deelgeneem, maar was gewoon te besig met ander produksies tydens die Woordfees.

Antoinette Kellerman het ook voorgedra in die TV-produksie, maar sy was by Aardklop betrokke by die ander Krog-produksie, die oerkluts kwyt.

Dit het egter nie luister ontneem aan die verhoogproduksie nie. Inteendeel. Tinarie van Wyk Loots, Luna Paige en Ms Mandy het gewoon oorgeneem.

Henry Steel en Schalk Joubert

Robin Auld, wat kitaar gespeel het in die TV-produksie, se plek is deur Henry Steel van die Zoid-brigade ingeneem op die verhoog. Daaroor sou geen mens kon kla nie. Saam met Schalk Joubert was die kitaarspel rooiwarm – en soms weer so sag en subtiel dat dit net-net hoorbaar was saam met die stemme.

Beide produksies het waardig hulde gebring aan Antjie Krog in die jaar waarin sy sewentig jaar jonk sou word.

  • Fotografie: Izak de Vries
Lees ook:

Toyota US Woordfees 2022 Instagram-resensie: Plunder

Die Toyota US Woordfees: boeke, gesprekke en mense

Toyota US Woordfees 2022: Afrikaans herontdek by feeste

Toyota US Woordfees 2022: Diversiteit in die praktyk

Toyota US Woordfees 2022: Eerste foto's

Toyota US Woordfees 2022: Nog foto’s

Die Toyota US Woordfees 2022 deur Jeremeo le Cordeur se lens

Toyota US Woordfees 2022-passasiersitplekaantekeninge: Die tale wat ons praat, mAaNmAaTs en Tiek ons boksies in kinderboeke?

  • 2

Kommentaar

  • Fantasties op skrif.
    Puik geskryf.
    Die produksie opsigself moes eenvoudig uit 'n ander wêreld gewees het?

  • Sakkie Spangenberg

    Ek wens ek kon vanjaar die Woordfees bygewoon en hierdie opvoerings beleef het. Die kort beskrywings van Izak de Vries laat my mond water.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top