’n Persoon, veel jonger as ek, het ’n slag vir my gesê studente “doen” Oppikoppi, oumense “doen” die Woordfees.
Nou ja. Hierdie oom het jonk en verspot gevoel terwyl hy enkele dae by die Toyota US Woordfees kon rondloop. Ek woon deesdae in Gqeberha, so vir my was twee en ’n half dae al wat ek kon afknyp. Maar dit was goed.
Toe iemand my ná die tyd vra of ek moontlik ’n kritiese oorsig sou kon gee, moes ek erken ek kon nie. Ek het meer soos ’n student op ’n partytjie gevoel as ’n kunskritikus op ’n missie.
Mea culpa.
Ek is nou eenmaal nie cool genoeg om op ’n skaatsplank die strate aan te durf nie, maar ek het lekker rondgeloop. Hiermee dus ’n subjektiewe kykie na die tydjie wat ek daar kon spandeer.
Ek het hard probeer om soveel as moontlik in te pas in die kort tydjie en het dus gekonsentreer op boeke, skrywers en die gespreksreekse. Eendag as ek groot is, sal ek baie meer teater wou sien. (My resensie van Krotoa Eva van die Kaap is reeds gelaai.)
Diskoersgesprekke
Talle diskoersgesprekke is onder die vaandel van die Toyota US Woordfees aangebied. Toegang was gratis vir die meeste hiervan.
Considering the archives of black/African feminism
Nomzamo Portia Ntombela was vroeg Maandagoggend reeds aan die gesels oor haar navorsing rakende die argiewe van swart Afrika-feministe.
Louise du Toit was in gesprek met haar.
Ntombela kyk sosiologies na kwessies soos inisiasie en tradisionele genesing, dan lees sy hierdie kwessies deur ’n feministiese bril.
Fassinerende gesprek.
Populisme van Trump tot Poetin: Is demokrasie uitgedien?
Christi van der Westhuizen het met Jo-Ansie van Wyk, Lindie Koorts en Qaanitha Hunter gesels oor populisme en die probleme wat dit vir ons demokrasie inhou.
Talle Suid-Afrikaners het byvoorbeeld vir Donald Trump gesteun – sommige het selfs gesê dat hy ’n goeie president vir Suid-Afrika sou wees. En nou is daar werklik Suid-Afrikaners wat vir Poetin steun.
Ter plaatse het ons vir Zuma gehad, en Julius Malema gebruik ook gereeld populistiese retoriek.
Die (sogenaamd linkse) populiste hamer op radikale transformasie van die ekonomie, terwyl daar ook ’n beduidende groep is wat erge uitsprake maak teen buitelanders – iets wat wêreldwyd deur sogenaamde regse groepe gebruik word om mense bang te maak.
Die soort vrees wat aangewakker word deur populiste, maak dat mense hunker na kragdadige leierskap om die “gevaar” teen te staan.
Onlangse meningspeilings het getoon dat ’n beduidende aantal mense in Suid-Afrika aangedui het dat hulle bereid sou wees om van hulle grondwetlike vryhede op te hef in ruil vir ’n sterk leier. Dit is gevaarlik.
Ons ken die tekens uit ons geskiedenis. DF Malan en Tielman Roos het hierdie kitare geslaan om Smuts uit te werk. Dieselfde soort retoriek word nou ook in Europa gebruik.
Dit is gewoon soveel makliker om mense te mobiliseer op grond van vrees en identiteit as om beginsels te probeer voorhou. Dit is deels hoekom dit so moeilik is om Julius Malema se kernwaardes vas te vang – hy hou daarvan om te sê wat mense graag wil hoor en verander sy deuntjie soos wat die situasie dit van hom vra.
’n Ander gevaar van die populisme is dat persvryheid altyd in gevaar is wanneer ’n populis oorneem. Qaanitha Hunter het byvoorbeeld verwys na Zuma wat tans besig is om Karyn Maughan van News24 te probeer vervolg.
Demokrasie is morsig en veel moeiliker om te verkoop, maar noodsaaklik. Populisme is makliker om te verkoop, maar baie gevaarlik.
Die probleem is dat populisme so diep in ’n samelewing ingeweef kan word dat dit uiteindelik slegs met ’n geweldige ontploffing uitgewis word, soos dit die Tweede Wêreldoorlog geverg het om van Hitler ontslae te raak.
Ongehoord: “Turksvy” – Feminisme in Afrikaans
Juliana Claassens het met Azille Coetzee en Bibi Burger gesels oor hulle feministiese nuusbrief “Turksvy”.
Verskeie aspekte van die feminisme is aangeraak. Een daarvan is dat verskeie jonger vroue hulleself as postfeministies sien, want hulle verstaan gewoon nie waarom dit nodig sou wees om hul eie regte op te eis nie.
Die uiteinde van ’n traak-my-nieagtigheid rakende vroueregte is te sien in die nuwe aborsiewetgewing wat vroueregte nou in die VSA ’n geweldige knou gegee het.
Dit is dus nodig om jong vroue attent te maak op die verlede, die hede en die toekoms van feministe se stryd om gelykheid.
Die probleem is natuurlik dat hierdie jonger generasie nie verstaan hoe nodig dit was vir selfs hul ma’s se generasie om teen die patriargie op te staan nie. Geslagte vroue het die weg gebaan vir vandag se jonger vroue, wat nou die vrugte van feminisme pluk.
Daar is met groot lof gepraat oor mense soos Marita van der Vyver wat soveel gedoen het om vroue se regte aan te spreek. Haar biografiese werk ’n Baie lang brief aan my dogter is genoem as ’n baken vir ’n jonger generasie vroue om aan vas te hou.
Tog is daar ook ooreengekom dat feminisme vele vorme aanneem.
Die sogenaamde blommetjiesrokfeministe hoef nie mindere feministe te wees as diegene wat meer radikaal is nie.
Hierdie benamings het ook aanleiding gegee tot ’n gesprek oor die taal van feminisme, en dan ook hoe moderne feminisme in Afrikaans kan gebeur. Burger veral, wat baie van die taalversorging van “Turksvy” doen, is geïnteresseerd in die ontwikkeling van Afrikaanse terme vir nuwe konsepte, of idees wat van die buiteland kom en dan ook in Afrikaans benoem moet word.
Science Café: Hallusinogene in die behandeling van geestesgesondheid
Dave Pepler het ’n fassinerende gesprek gevoer oor hallusinogene, veral dié wat in sampioene voorkom, met Heinz Mödler en Louis Awerbuck. Pepler is ’n wetenskaplike, Awerbuck ’n sielkundige en Mödler ’n narkotiseur.
Die kwessie van depressie, angs en posttraumatiese stres wat moontlik met hierdie middels behandel kan word, is veral aangeraak.
Die probleem is egter dat die brein ’n geweldig komplekse meganisme is, en ons dit gewoon na al die eeue van navorsing nog nie verstaan nie. Ons verstaan dus nie waarom sommige mense baat by tradisionele, Westerse antidepressante en ander nie. Hierdie pille word op groot skaal deur farmaseutiese maatskappye vervaardig en deur dokters voorgeskryf; vir sommige help hulle baie, vir ander glad nie.
Psilosibien, die aktiewe bestanddeel in sekere fungi, beheer skynbaar die limbiese brein, die ouer deel van die brein dus. Deur hierdie deel van die brein te kalmeer, wil dit voorkom of die prefrontale korteks, die denkende deel van die brein, makliker werk.
Daar is baie en baie goeie, wetenskaplike, mediese studies wat tans aan die gang is oor die gebruik van hallusinogene, en die kanse is goed dat daar in die nabye toekoms meer hiervan gebruik gemaak sal kon word in die behandeling van psigiatriese siektes.
Tog het al drie gewaarsku: Ons weet nog nie genoeg nie. Medici is opgewonde oor psilosibien; die toetse lyk belowend. Ons kan egter nog nie sê dat dit onder sekere omstandighede almal sal kan genees nie.
Ook ander middels het ter sprake gekom.
Mödler, wat ’n biografie van die daggaplant geskryf het (En daar was dagga: ’n biografie, uitgegee deur Naledi), het gesê dat mense onder die ouderdom van 25 liefs nie dagga moet gebruik nie. Awerbuck het saamgestem. Hulle is glad nie teen dagga nie, hulle wil bloot sê dat ’n onvolwasse brein negatief reageer op dagga, terwyl mense ouer as 25 se breine dit veel beter kan hanteer.
Ten einde laas is daar gewaarsku: Lees baie studies voor jy enige middel neem. Elkeen van die deelnemers is dit eens dat daar baie waarde opgesluit lê in plantgebaseerde hallusinogene, maar dat dit nie sonder kennis gebruik behoort te word nie.
Terloops, dit het my opgeval dat hierdie gesprek in Engels gevoer is – al is al drie die deelnemers Afrikaans. Het dit te doen met die feit dat dit onder die vaandel van die Universiteit Stellenbosch geskied het?
Vroeër het Nomzamo Portia Ntombela Engels gepraat, wat geen probleem was nie, en die volgende dag het die gesprek oor die ANC ook in Engels plaasvind, omdat William Gumede en Carol Paton gemakliker is in Engels. Geen probleem nie.
By die gesprek oor populisme het Qaanitha Hunter Engels gepraat, die res in Afrikaans.
Ek is gemaklik in albei tale, maar skielike Engels deur drie Afrikaanssprekendes was tog opvallend.
Die einde van uhuru? Die ANC se voorland oor die volgende twee, drie en vier jaar
Ten einde laas moes ek weer vertrek, maar eers het ek die bespreking oor die ANC se onmiddellike toekoms bygewoon. Pieter du Toit het met Oscar van Heerden, William Gumede en Carol Paton gesels.
Hoe het dit gekom dat die eens magtige ANC so kon struikel?
Die ANC het eers baie goed gevaar.
Hulle ’n bankrot staat geërf by die NP. Onder Mandela het Suid-Afrika gedy. Mbeki het water getrap, maar dinge het steeds goed gegaan.
Toe Zuma.
So, is dit die einde van uhuru, soos die Woordfeesprogram gevra het?
Ongelukkig is die ANC besig om te misluk. Dit is duidelik uit die gesprekke.
Daar is min hoop om die party te herbou, en daar is min hoop om staatsinstellings te herbou terwyl daar nie duidelike leierskap is nie. Baie van ons staatsinstellings is reeds verby maklike antwoorde. Talle sal van nuuts af herskep moet word. Die staatsdiens is vol mense wat aangestel is om ’n mislukkende party by te staan; nie almal is daar weens hul vaardighede nie.
Daar word ook nie genoeg gedoen teen mens wat hulself verryk nie.
Die geskiedenis leer ook dat bevrydingsbewegings bitter selde hulself kan red.
Hoe lank dus nog? Dis éintlik die vraag. Gaan ons ’n nuwe regering kry met die volgende verkiesing?
- Die werklike probleem is natuurlik dat daar geen alternatief is vir ons kiesers nie.
- Die ANC bestuur steeds die raskwessie die beste van almal. Selfs onder Mbeki, wat ’n groot genoeg meerderheid in die parlement gehad het om die Grondwet te verander, is die raskaart nooit op groot skaal gespeel nie. Die DA, daarenteen, kan nie eens hul eie party se raskwessies hanteer nie; en onder die populiste, soos die RET-faksie en sommige lede van die EFF, word verwysings na ras en buitelanders lustig rondgeswaai.
- Tot onlangs was die ANC se fiskale beleid goed, en steeds is daar min verkeerd daarmee. Die implementering van daardie beleide is die probleem.
Die antwoorde oor die ANC se opvolger is dus nie duidelik nie.
Aangesien daar geen opposisieparty is wat hond haar af maak nie, sal mense gewoon weer ANC stem, of gewoon wegbly van die stembus.
Die paneel was dit eens dat dit nodig is om mense aan te moedig om te stem. Dit maak eintlik nie saak vir wie daar gestem word nie. Ons moet mense net so ver kry om die demokratiese proses te steun.
Die werklike vraag skyn te wees of Cyril Ramaphosa nog ’n termyn sal kry om die party te lei, of sal die populiste weer toegelaat word om te plunder? Laasgenoemde sal waarskynlik maak dat meer mense vir ’n ander party gaan probeer stem, want die gewone mense word seergemaak deur mense in die boonste kringe wat hulself verryk.
EasyEquities-skrywersfees
Boekgesprekke is sentraal tot die Woordfees.
Die kapokdokter
Heinz Mödler met François Loots gesels oor Die kapokdoter, sy roman oor James Barry.
Barry was ’n mediese dokter in die Britse weermag. Hy het onder andere ook in die Kaap gewerk, onder meer as lord Charles Somerset se persoonlike huisarts.
Toe Barry sterf, het ’n verpleegster wat sy lyk moes voorberei, agtergekom Barry is ’n vrou.
Dit het ’n redelike skandaal veroorsaak, want vir dekades lank het Barry dit reggekry om die weermag om die bos te lei.
Loots het aan Mödler verduidelik dat daar eenvoudig geen kans sou gewees het vir ’n vrou om as dokter te werk in Engeland nie. Dit is waarom die jong Margareth haarself as ’n man vermom het en gewoon die werk van ’n man gedoen het.
Die kapokdokter, wat Barry se lewe aan die Kaap ondersoek, is deur Umuzi uitgegee.
Whitey: Shoprite se sakereus
Esmaré Weideman het met Whitey Basson oor sy sakevernuf gesels. Hy het enorme suksesse behaal met OK Bazaars en met Shoprite Checkers.
Basson het veral moeite gedoen om sy bestuurders te bemagtig.
Bemagtiging is ’n belangrike konsep vir hom en hy is veral dankbaar dat hy sy sakekennis kon gebruik om werk te skep; ook om, waar moontlik, mense te help.
Meer onlangs het Basson en Christo Wiese, ’n ou vriend, ernstig vasgesit oor Steinhoff. Weideman het Basson gevra hoekom hy nie wou dat sy sakeryk by Steinhoff ingelyf moet word nie. Sy antwoord was versigtig. Hy het gesê dat Steinhoff gewoon nie ’n duidelik sakeplan gehad het nie.
Een voorbeeld wat hy genoem het, was dat hy en Wiese eendag ’n relatief nuwe winkel in die Steinhoff-stal besoek het en oral bokse sien rondlê het. Basson het vir Wiese gesê dit wys dat hierdie winkel nie optimaal funksioneer nie. Wiese het glo kort daarna gebel om te sê die winkel vaar goed, hulle is presies waar hulle moet wees volgens hulle begroting. Basson se antwoord was: “Skiet die dôner wat die begroting opgestel het!”
Basson se biografie is deur Niel Joubert geskryf. Whitey, sakereus van Shoprite sal eersdaags by Tafelberg Uitgewers verskyn.
Dan Sleigh, speurwerk en pseudogeskiedenis
Dan Sleigh het baie kritiek gelewer teen uitgewers wat volgens hom kwasigeskiedenis bedryf. Jean Oosthuizen het reeds deeglik daaroor verslag gelewer. Hier gesels Sleigh met Elmari Rautenbach, wat in beheer was van die EasyEquites-skrywersfees.
Die skrywer as kamera-oog
Bibi Slippers het met Tom Dreyer en Hans Pienaar gesels oor die manier waarop hulle kort stukkies teks en interessante fokalisators gebruik om ’n kamera se sluiter na te boots. ’n Breukdeel van ’n sekonde moet ’n storie in fotografieterme kan vertel.
Dreyer se tekste is ook baie kort; elkeen vertel ’n klein storietjie.
Pienaar het weer vreemde perspektiefkarakters, soos ’n lamppaal, ingespan om sy storie te vertel.
Die US Woordfees se kortverhaalbundel
Lynthia Julius is aangewys as die wenner van die US Woordfees se kortverhaalbundel. Die bundel en die prysgeld word geborg deur Du Toitskloof Kelder.
Antjie Krog: Plunder
Tydens die gesprek oor Antjie Krog se bundel Plunder het Krog aan Azille Coetzee gesê die lyf word geplunder deur die ouderdom. Sy ervaar dit – sy is immers 70 jaar oud.
Dit is egter nie al betekenis opgesluit in die titel nie. Sy het naamlik skaamteloos ander se tekste en idees geplunder om haar eie verse lyf te gee. Boerneef, die Bybel, die Griekse mitologie, en soveel meer, is geplunder om gesprekke met die nóú moontlik te maak.
Krog het, soos gewoonlik, voorgelees uit haar werk.
Van Fritz Deelman tot slimstede
Mense wat my ken, sal weet dat ek nog nooit heeltemal grootgeword het nie, so die praatjie “Van Fritz Deelman tot slimstede” kon ek natuurlik nie misloop nie. Ek het Deelman verslind as kind.
Boonop was die deelnemers uit die boonste rakke: Beer Adriaanse, ’n puik gesprekleier, het gesels met Willem Anker (Skepsel), Anton Roodt (Weerlose meganika) en Madelein Rust (Moederland).
Lekker. Saam met Isa Konrad se Toekomsmens is dit dié wetenskapfiksietekste van die afgelope ruk in Afrikaans.
Die probleem, sê Willem Anker, is dat vandag se toekomsfiksie môre se geskiedenisfiksie word.
Adriaanse het die gesprek laat vloei en uiteindelik by die punt uitgekom waar daar oor die weerloosheid van die masjien gepraat kon word. Op watter punt moet ons sommige masjiene as bewuste wesens begin ervaar en begin beskerm?
Algemene indrukke
Dit was deksels lekker om weer in Stellenbosch rond te loop en mense te sien wat ek laas voor Covid kon sien.
Selfs kollegas met wie ek elke dag aanlyn saamwerk, is goed om in persoon te sien. Hier is ek saam met Naomi Meyer en Menán van Heerden, beide van LitNet. (Foto deur Lara Aucamp.)
Dit was soos ’n reünie, waar die mense van wie jy hou, weer bymekaargekom het.
Cool mense soos Veronique Jephtas en Jolyn Phillips laat my sommer goed voel.
Tessie Hector werk nou al soveel jare in die Boektent ek kan my nie ’n fees sonder hom indink nie. Dit was heerlik om hom weer te sien.
Elmari Rautenbach en Susan Louw het ook oor die jare deel van my Woordfees-raamwerk geword.
Allistor Adriaanse is die man in beheer van vervoersake, ’n veteraan in die Woordfees-mondering.
’n Hengse klomp Toyotas het onder sy leiding die strate deurkruis.
Ek het Lynthia Julius en Grant Jeftas by Tuin van Digters ook gesien, maar onder Skelmbos se bome lyk mense anders.
En min mense kan so lekker lag soos Lynthia.
Ek het Michelle Meyer danksy die Woordfees ontmoet, jare gelede, en kontak behou. Nog ’n lekker mens om weer raak te loop.
SJ Naudé en Andries Visagie het ook hul beste glimlagte uitgehaal.
Adéle Changuion en Lara Aucamp is maats wat al ver paaie met my gestap het.
Shireen Crotz en Chareldine van der Merwe van die ATKV se projek Vriende van Afrikaans is eweneens ou vriende. Hier is hulle saam met Lidia Carstens en Annelynn Denyssen.
Ek was dankbaar om te sien dat skoolkinders na van die produksies aangery is. Ons moet nou al bou aan ’n volgende generasie feesgangers.
Dit is ook hoekom PEN Afrikaans en die WOW-projek ’n skrywerswerkswinkel vir hoërskoolleerders aangebied het. (Foto deur Lara Aucamp.)
Die Woordfees doen baie om jong fotograwe ook geleenthede te gee. Keeran het ’n bietjie met my kameras gespeel en vir my sy portefeulje gewys. Die man is goed. Werkgewers, neem kennis. Raap hom op. Nie net is hy ’n knap fotograaf nie, hy is ’n baie goeie ontwerper. Ons klomp ouer fotograwe sal eendag moet plek maak. Keeran se generasie staan reg.
Intussen het die grysbaarde darem nog ’n bydrae om te lewer!
Dit was ook goed om vir Erhardt Thiel, self ’n uitstekende fotograaf en die skepper van die iMadiba-projek, in die lens te kry.
Daar was so baie om te sien. Ek het ook moeite gedoen om die kunsuitstallings te gaan besigtig en sou meer tyd daar kon deurgebring het.
Uiteindelik kan ’n mens nie anders nie as om ’n saluut te gee vir soveel mense wat agter die skerms gewerk het.
Dankie aan almal dat ek weer onbetaamlik jonk kon voel!
Sien ook: