Woorde: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts en Jeremeo Le Cordeur (foto’s verskyn onderaan artikel en erkennings verskyn daarby)
Die opdrag van LitNet is eenvoudig: Woon die US Toyota Woordfees op Stellenbosch by en skryf na afloop van die fees ’n oorsig oor jou ervaring. Dis maklik om met die lekker lywige feesprogram voor jou te sit en te kies uit die veelsydige, prikkelende program – daar is geen tekort aan diskoersdebatte, vurige boekbesprekings of toneelstukke wat jou laat dink nie.
Elke denkbare sosiale kwessie is op een of ander manier in die soeklig; hetsy dit deur kuns, dans, die geskrewe woord of toneel is.
Maar om die vertonings te kies wat ek dink verteenwoordigend is, is toe nie so eenvoudig nie. Behalwe die tydbeperkinge (mens kan net sóveel sien, hoor en ervaar in die ure wat die fees duur) bring wie ek is, wat ek glo en hoe ek oor sekere sake voel, natuurlik ook ’n beperking.
Maar (hier moet ek vir myself in die bresse tree) ek is oop vir oortuiging, ek wil uitgedaag word, ek wil deel wees van debatte. Ek wil groei, vooruitgaan, “aanhou beweeg en geraas maak”. Ja, ek weet dit was ’n vorige jaar se slagspreuk, maar “Wild” soos 2022 se fees vra, is ek beslis nie.
Uit die beperkings wat aan my toegedeel is, skryf ek dus hierdie oorsig. As vrou, 51, met ’n goed-genoeg adres in ’n middelklas woonbuurt. Sit dus maar die klippe neer en gaan saggies met my opinies om. Dis uit my verwysings- en ervaringsveld geskryf.
Ek woon verskeie besprekings oor die Afrikaanse taal en sy variante by; hoe trots daar in Kaaps en Ghoema en Namakwalands en Noord-Kaaps geskryf word.
............
Uit die beperkings wat aan my toegedeel is, skryf ek dus hierdie oorsig. As vrou, 51, met ’n goed-genoeg adres in ’n middelklas woonbuurt. Sit dus maar die klippe neer en gaan saggies met my opinies om. Dis uit my verwysings- en ervaringsveld geskryf.
Ek woon verskeie besprekings oor die Afrikaanse taal en sy variante by; hoe trots daar in Kaaps en Ghoema en Namakwalands en Noord-Kaaps geskryf word.
.............
In die bespreking “Die tale wat ons praat” met skrywers Dianne du Toit Albertze, Elias P Nel, Grant Jefthas en Loit Sōls oor geskrewe Afrikaans wat deesdae in ’n velerlei variante uit alle hoeke van die land dans, open die gespreksleier, Donovan Lawrence, met die woorde dat al meer mense skryf soos hulle praat. “In die verlede het baie mense gedink jy praat op een manier, maar skryf op ’n ander. Maar dis nodig om te skryf soos jy praat. Dis nie net moontlik nie, maar belangrik om jou boodskap behoorlik oor te dra.” Hy sê dit gaan oor inklusiwiteit. “Dis om almal ’n plekkie in die son te gee.”
Elias P Nel, wat al 30 jaar besig is om die streekstaal van die Namakwaland neer te pen, sê die “stemlose mense kry stem deur my skrywes. Afrikaans is veelkantig en ons moet daai diversiteit nou uitbring. Ek glo as jy die taal kan praat, kan jy daarin skryf.”
Diane sê haar variant, Gayla (sogenaamde gay-Afrikaans), is ’n deurbraak, omdat daar voorheen “net ’n skemer straatlig of toiletlig op transgender geskyn het. As ons in Gayla ons stories kan vertel, sorg ons dat ons representasie reg is.
“Ek is ’n dramajuffrou op Okiep en is ’n stoute juffrou. Ek laat kinders toe om te skryf soos hulle wil. Dan hou hulle van skryf. Dis nie so militant soos Standaardafrikaans nie.”
Die skrywers is dit eens dat mens die variante hardop moet lees om dit te verstaan. Dianne sê: “Dalk moet ons ons manier van lees verander. Ons almal moet ons denkpatrone wyer oopstel. Kom ons probeer saam.”
Grant vra: “Wat as Standaardafrikaans die variant is? As ek dink aan menswees, dink ek aan stories. Spelling is belangrik maar creative licence is ook nodig, want ons het die emosies nodig.”
Loit sê: “Daar is ’n skryfleemte op die Flats. Ek was deel van daai leemte. Ek het in Engels geskryf, tot ek in 1996 met Ghoema begin het. Ek skryf nie poems nie, ek skryf skryfsels. Ek skryf nie net vir Cape Flats nie. Daar is Cape Flats regoor die wêreld. Mense skuil agter punctuation en leestekens en dan steek die stories vas.”
Mense is dit eens dat Afrikaans almal s’n is – ook die mense onder die brug s’n – en terwyl universiteite en die wetsgeleerdes baklei, is dit tog wat ons praat.
..........
Mense is dit eens dat Afrikaans almal s’n is – ook die mense onder die brug s’n – en terwyl universiteite en die wetsgeleerdes baklei, is dit tog wat ons praat.
............
Die vraag: “Wie skryf die reëls?” bly aan die einde van die bespreking onbeantwoord.
Die paneel dien gehoorlede se vrese van “Babelse verwarring as almal kan praat en skryf soos hulle wil” ’n nekslag toe met: “Dis hoogtyd dat die toring val.”
Maar, wonder ek, as jy nie die resep vir ’n brood volg nie, gaan jy dalk nie ’n brood uit die oond haal nie ...
Die paneel van “Tiek ons die boksies in kinderboeke?” (André Trantraal, Cliffordene Norton, Joha van Dyk en Zelda Bezuidenhout) met Magdel Vorster as gespreksleier sê dat hulle nie deur uitgewers voorgesê word oor hoe inklusief hulle moet skryf nie; dat ons land regtig so ’n allegaartjie is van kulture, mense en kleure wat almal gelukkig onder die reënboog saamwoon. Dat “boksies tiek belaglik en tog so formulaic is”.
Elkeen van die skrywers verduidelik dat hulle uit persoonlike ervaringsvelde vir kinders en tieners skryf, en in daardie wêreld is temas soos vriendskap, selfdood, eetversteurings, depressie, gesinskonflik en boelies ’n werklikheid onder alle inkomstegroepe, kulture en rasse. “Dis geheime wat nie toentertyd in kinderboeke genoem is nie,” verklaar Joha.
Ek sien twee vertonings waar die dramaturg (Athol Fugard) of die hoofkarakter in die toneelstuk (Liesl Naudé) in die gehoor is. Dit maak die stories meer eg, meer waar, nader aan die hart. Athol se Concerning Babyboy Kleintjies is ’n hartverskeurende vingerwysing na hoe die samelewing haweloses miskyk; misgun; net mis. Hoe mense in hul groot motors neus opgetrek neersien op die mens aan die ander kant van die ruit.
Hoe ’n pasgebore baba op ’n ashoop eintlik die hele samelewing se kind is. Hoe daardie kind se lewe die resultaat van ons almal se droogmaak is. Die inklusiewe reënboognasie het skielik soos mis voor die son verdwyn.
...........
Hoe ’n pasgebore baba op ’n ashoop eintlik die hele samelewing se kind is. Hoe daardie kind se lewe die resultaat van ons almal se droogmaak is. Die inklusiewe reënboognasie het skielik soos mis voor die son verdwyn.
.............
Twee van die karakters sit onder ’n brug en dink terug aan hul kinderdae. Een se pa het wedvlugduiwe gehad. Hy vertel liries oor hoe daardie duiwe hoog bo die aarde vlieg; terugkeer huis toe. Hoe hy gewens het hy het vlerke. Tot sy maat besadig en ontnugterend sê: “Nee wat, al kon ons vlieg, sou ons ook maar net weer hierheen teruggekeer het.”
Oom Bey, my pa is die storie van die struggle-held Beyers Naudé soos gesien deur die oë van sy jongste kind en enigste dogter, Liesel. Sy het eerstehands beleef hoe hy metodies getransformeer het van die jongste lid van die Broederbond tot een van Suid-Afrika se voorste stryders teen apartheid. Liesel ontleed haar verhouding met haar pa teen die agtergrond van sy stryd tussen gehoorsaamheid aan God en gehoorsaamheid aan die Kerk.
Liesel sit reg voor my in die vertoning. Foto’s van haar pa en ma, hul gesin flits oor die reuseskerms verby. Dis haar storie daar op die verhoog. Haar pyn oor hul gesin se verdoemenis, toe haar pa destyds vasgestaan het oor sy geloof oor gelyke regte vir almal; die huisarres; veiligheidspolisie. Die stuk is ’n aanklag teen alles en almal wat vir soveel jare anderpad gekyk het terwyl wit bevoorregting geseëvier het.
The unlikely secret agent is ‘n stuk met Erika Marais, Gideon Lombard, Wessel Pretorius, Carlo Daniels en Ntlanhla Kutu. Dit volg die verhaal van hoe ’n doodgewone boekwinkelklerk en enkelma van ’n sewejarige dogter, Eleanor, se pad met dié van die anti-apartheidaktivis Ronnie Kasrils kruis en hoe hulle saam agente vir die ondergrondse ANC is. Sy word in hegtenis geneem en onder Wet 37, waarvolgens sy vir 90 dae sonder prokureur of verhoor aangehou kan word, ondervra, rondgepluk en verneder. Die veiligheidspolisie probeer haar breek met die woorde dat hulle haar sal breek of hang vir verraad, maar opgee sal hulle nie.
Die toneelstuk is interessant aangebied met terugflitse en baie sinne wat herhaal word om die boodskap duidelik tuis te bring. Vier stoele teen die kant van die verhoog waarop die vier mans sit wat verskeie rolle vertolk, laat jou bewus bly van die inkyk; die alomteenwoordige veiligheidspolisie wat elke beweging van verdagtes dopgehou het.
Eleanor word gereeld gevra of dit alles die moeite werd is, want Ronnie “en sy soort” is nie lief vir haar nie, hulle gebruik haar net vir die struggle.
Sy word na ’n senuwee-inrigting oorgeplaas, van waar sy ontsnap om weer by Ronnie aan te sluit.
In laasgenoemde twee toneelstukke is dit nie net ’n visuele geskiedenissamevatting van hoe sleg dinge vier, vyf dekades gelede was nie; daar skuil ook ’n belangrike les dat ons moet onthou hoeveel mense aan alle kante van die kleurgrense baklei het vir die demokrasie, waarmee daar deesdae baie los en disrespekvol omgegaan word.
In twee vertonings gee ek my net oor aan die kunste: in Pots and pans with strings and things deur The Scullery Quintet in die Endler vermaak Hana Yim-Wahl, Tiisetso Mashishi, Amaeshi Ikechi, Peter Auret en Dieter Hendricks met viool, altviool, kontrabas en dromme. The Scullery Quintet is ’n nuwe Suid-Afrikaanse klassieke en kontemporêre musiekgroep wat genres aweregs oorspan.
Ek weet te min van klassieke musiek om ’n oordeel te vel of oor die kwaliteit van hul klassieke uitvoerings goed of sleg is, maar die byvoeging van ’n trom en die oorspan tussen klassiek en jazz is vir my heerlik. Dis asof die tromme en die musikante se vertolkings twee genres en twee gehore byeenbring. Daar is ’n amper-opgewektheid wat die melankolie óf wegholmalligheid van die strykinstrumente tem. En soos Peter sê, in klassieke konserte klap gehore op sekere plekke; jazzvertonings is anders. “Klap net wanneer en soveel julle wil!” En ons doen dit.
By die Drostdy-teater meld ek aan vir Klankdig in die donker met Babette Viljoen (stem en trekklavier), Olga Leonard (stem en klavier) en Rina Schutte (tjello).
Die verhoog is in semidonkerte gehul, met net een kers. Toe die musikante op die verhoog verskyn, blaas Babette die kers dood. Die reuk hang vir lank om ons. Hoewel dit donker is, maak ek ook my oë toe. Ek teug aan my glas rooiwyn; laat die klanke van die klavier, trekklavier en tjello my omvou.
Die woorde: “Jy kry een lewe. Net een,” weergalm oor die luidsprekers. Die trekklavier en basviool sleur my mee.
Niks trek jou aandag af nie. Jy is ín daai musiek vir die hele vertoning. Dis die geskenk wat musiek in die donker jou gee. Geen handegeklap. Doodse stilte na elke liedjie. Dis soos “shuffle” op jou ou CD-speler of Spotify wat vir jou iets kies en jy luister net.
’n Rapsie meer as 55 minute later steek Babette weer die kers aan; die ligte word aangeskakel en my oë voel vreemd. Die sessie was ’n reusegawe van skoonwas, herstel, lig word.
Dié ligtheid word is gou iets van die verlede met Terminaal 3 deur Lars Norén, wat as die grootste Sweedse dramaturg ná August Strindberg gereken word. Sy werke word wêreldwyd opgevoer en is bekend om die emosioneel treffende aard daarvan. Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Edwin van der Walt, Carla Smith en André Roothman is in die rolverdeling. ’n Jong getroude paartjie sit eenkant in ’n hospitaalwagkamer in afwagting van die geboorte van hul eersteling, terwyl ’n geskeide ouerpaar aan die anderkant sit en wag om die lyk van hul 19-jarige kind uit te ken. Die opwinding van ’n nuwe lewe word as’t ware afgespeel teen die verlies van ’n kind en die finaliteit wat eers egskeiding en toe die dood vir die ouer egpaar bring. Die vaal hospitaalwagkamer en onbereidwillige hospitaalbeampte dra by tot die steurnis wat die stuk in jou binneste meebring.
Dit bring my dan by die oorsig- gedeelte.
Die Toyota US Woordfees was alles wat ek tydens die grendelstaat só gemis het. Die opwinding van ’n donker skoolsaal voor die akteurs se eerste woorde kom; die rondstap in die Eikestad en kort geselsies met dié wat jy lanklaas gesien het; kuns op sypaadjies, onder bome, in parke en teen stil galerymure; die besprekings oor ’n glas wyn, oor wat jy ervaar en voel.
Die week was ’n ware tuimeltrein van die lewe in Suid-Afrika. Jy beleef al die hoogte- en laagtepunte in sewe dae. Sommige goed wat ná bykans 30 jaar van demokrasie amper ongeloofwaardig in hul absurde waarheid lyk; ander hartverskeurend nóú; ongelyk en onregverdig ten spyte van demokrasie.
Ek luister na mense se geselsies na afloop van verskeie besprekings (selfs dié wat ek nie kon bywoon nie) en voel effe minder alleen: Ons sprekers wil nie in besprekings die heilige koeie aanraak nie.
Dit voel my ons het só polities korrek geword dat niemand op uitgewers/besluitnemers/universiteitsrade se tone wil trap nie; niemand tot by die punt kom van hoe kompleks Afrikaans, rasseverhoudings en ons brose land nou eintlik is nie. Ons noem vlugtig Afrikaans is die “grootste oorblyfsel van kolonialisme”, maar smeek dat Afrikaans nie polities is of moet word nie, dis “die taal waarin ons leef en praat”.
Babelse verwarring as jy my vra.
Dit voel my ons laat dit aan die dramaturge oor om die heilige koeie wat soos reusagtige wit olifante in die hoek staan, te takel. Dalk omdat die gehore daar nie kan terugpraat of kritiseer nie en ons laat die storie begaan. Maar wanneer ons die mikrofoon op gespreksverhoë hanteer, is ons versigtig vir aanstoot.
Ek sien die koppe saamknik in Tweespoor, waar Nicole Holm se middeljarige karakter sê sy mag in hierdie reënboogland van ons geen opinie uitspreek nie, sy is net “white noise”. En ook dat sy nie die nuwe sleutels en toonlere verstaan waarin sy nou as landsburger moet sing nie.
Selfs die twee komediante wat ons laat skaterlag, Melt Sieberhagen en Alan Committie, bied net vermaak, nie die spitsvondige kritiek teen korrupsie en die regering en rassisme en klasse en patriargale bedelings nie. Hulle gesels eerder oor verhoudings, troues, die pandemie en dies meer.
Dit laat my wel wonder of die skerp waghonde van ons samelewing na wie ons ons altyd kon wend om ons almal in gelid te hou om demokrasie op sy beste te laat vertoon, se monde stil was.
............
Dit laat my wel wonder of die skerp waghonde van ons samelewing na wie ons ons altyd kon wend om ons almal in gelid te hou om demokrasie op sy beste te laat vertoon, se monde stil was.
.............
Die naaste aan kritiek teenoor die regering se onvermoë (of onwilligheid) kom in die gesprek oor wetgewing oor bystandsdood, na aanleiding van Sean Davison se boek The price of mercy: a fight for the right to die with dignity. Die gespreksleier is Martie Meiring en die paneellede is Willem Landman van Dignity SA, Chris Jones van die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir Moraliteit en Morele Leierskap en Dieter Harck, wat aan ongeneeslike motorneuronsiekte ly en deel is van ’n hofstryd om die wettiging van aktiewe bystanddood. Daar sê Willem dat mense wat ly en sterf, nie drukgroepe is nie, daarom slaan die regering nie ag op hulle nie. “Die wet op die terminasie van swangerskap is met ons nuwe Grondwet gewysig, omdat die helfte van die regerende party se kiesers vroue is en druk kan uitoefen.”
Gelukkig lees ek later in resensies dat staatskaping en die benarde stand van teaters darem in ander besprekings lekker debat ontlok het.
Ek soek die volgepakte sale vir musiek en kuns en dans, want ons is mos almal uitgehonger. Toneelstukke lok wel dié vol sale, maar in sommige ander vertonings is daar skaars 35 mense. Dit demp egter nie musikante of gehore se gees nie.
Ook nie myne nie.
Hoera vir die kunste, hoera vir fisiese feeste, hoera vir dié op (en af van) die verhoog wat ons op ons tone hou.
Foto’s:
Lees ook:
Toyota US Woordfees 2022: Dan Sleigh roskam uitgewers oor verspreiding van pseudogeskiedenis
Toyota US Woordfees 2022-diskoers: Konteksveranderinge in die Afrikaanse letterkunde
Toyota US Woordfees 2022: Boekemacrazies by die Toyota US Woordfees