Krog met Hilandi du Toit, Olga Leonard, Babette Viljoen vertooon 7 Augustus om 20:30 by Die Boer. Kaartjies kos R130 en is beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com. Geen kinders onder 13 jaar sal toegelaat word nie. Remona Voges het met die lede van die groep gesels om meer oor die produksie te wete te kom.
Babette, Olga en Hilandi, baie geluk met jul musiekproduksie Krog.
'n Digter soos Ingrid Jonker se werk is al deur talle kunstenaars getoonset. In die geval van Antjie Krog, wie se gedigte eintlik baie ritmies en dikwels musikaal op die oor val, is dit vreemd genoeg minder so. Wat het julle op Antjie se werk laat besluit?
Ons het reeds 'n klomp produksies met onder andere Eybers, Totius, TT Cloete en Joan Hambidge se gedigte agter die rug. Krog het na die logiese volgende stap gevoel en ons ondervinding oor die laaste vyf jaar het ons genoeg waagmoed gegee om Krog volgende aan te durf. Ek (Olga) is van Kroonstad, soos Antjie Krog, en hiermee ook dan 'n tipe gemene vertrekpunt.
Krog se oeuvre is geweldig omvangryk. Hoe kies 'n mens die gedigte? Waar begin 'n mens? Is daar 'n sekere proses wat julle gevolg het?
Ons het as 'n groep letterlik deur elke Krog-bundel gewerk. Ons het gedigte gekies wat met ons 'praat' op 'n toonsettingvlak. Dit was moeilik om hier en daar selfs gunstelinggedigte uit te laat, omdat nie een van ons kans gesien het om dit te toonset nie. Dit bly maar die belangrikste om gedigte te kies wat "toonsetbaar" is (vir die betrokkke musikant), sonder om die oorspronklike werk van trefkrag te ontneem.
Sluit die toonsettings tematies bymekaar aan – vertel hulle 'n storie?
Ons gee baie aandag daaraan dat die toonsetting die gedig moet komplementeer. Daarom is dit onmoontlik om blindelings gedigte te kies rondom 'n tema, en sodoende 'n gedig in 'n toonsetting in te forseer, net sodat dit tematies pas. Ons het eerder gedigte gekies wat gemaklik wou musiek word en daarna aan 'n volgorde gewerk. Dit het op die ou einde 'n tipe lewensreis geword: gedigte oor kind wees, verlief wees, liefde, ouerskap, ouderdom en uiteindelik "My mooi land", waar mense oor grense heen saamgebind word.
Werk julle op die oomblik aan enige ander projekte? En dink julle daaraan om in die toekoms miskien een van ons ander groot digters se werk te toonset? Wie sal dit wees?
Ek (Olga) en Babette doen alreeds vir die afgelope vyf jaar elke jaar 'n digkunsproduksie. Hilandi is bekend vir haar gedigteproduksies soos "Gesnaarde Gedigte". Dus, ja! Ons sal beslis so voortgaan. Ons is tans besig om 'n skryf aan 'n produksie waar ons nie op een enkele digter fokus nie, maar eerder 'n handvol nuwe stemme. Ons is oop vir voorstelle, projekte en idees en daarom lees ons so veel as moontlik gedigte, oud en nuut.