Foto: Christine Cronjé
|
Sêgoed van Jaco Fouché Na aanvaarding van sy tweede manuskrip: “Maar moenie my vra wat die sentrale tema is nie. Ek weet nie. Ek skryf net die storie, en voel agterna, soos André le Toit gesê het, dankbaar vir diegene wat die manuskrip aan my verduidelik het.” (De Kat, Julie 1996) In ’n artikel in Rapport van 4 November 2001 oor die jonger geslag skrywers: “As die Gar (groot Afrikaanse roman) soos sy gedefinieer word, ooit geskryf word (of reeds geskryf is), sal dit wees deur een van die ouer Garde. So glo ek. Ek glo ons jonges se koppe werk anders. Ons maak nie meer juis uit van die bestanddele wat krisis is vir daardie (gedateerde?) Gar nie: dis nie dat ons nie wil nie, dit is net hoe dit is.” “Skryf is ’n selfsugtige ding, maar dit skep die illusie dat ’n mens die hele wye wêreld tegelyk op die keper en onder beheer het.” (Vrydag, 31 Oktober 1997) “Hoekom kortverhale, is ek nie seker nie. Dit is korter, ja. Maar die meeste insidente is te skraal om tot boekvorm uitgerek te word. Ek bedoel nie onbenullig nie, maar die materiaal is te min, of my ingesteldheid is nie so dat ek bladsye en bladsye en bladsye met een karakter of omgewing wil deurbring nie.” (Vrydag, 31 Oktober 1997) “Daar is ’n sekere strakheid aan ’n kortverhaal wat dit groot mag kan gee. ’n Kortverhaal hoef net wreed of mooi of net hartseer te wees: ’n mens hoef nie al wat ’n passie is op te roep om die leser te beloon vir sy of haar belangstelling nie.” (Vrydag, 31 Oktober 1997) “Romanskryf kom met sy eie belonings, soos die ontdekkings wat ’n mens maak. Dis die reis wat so belonend is. Ek stap ’n droomwêreld binne en kan hier rondkyk en -krap vir so lank as wat ek lus het en waar ek wil.” (Vrydag, 31 Oktober 1997) “Ek’s jonk en Afrikaans en teen wil en dank ’n citizen of the world, en as ek oor iets skryf is dit dalk hieroor.” (Die Burger, 14 Junie 2010) “Ek is lief vir stap, maar geen dramatiese rugsaktoere nie. Ses ure op ’n bergpaadjie is te lank. Fynbos kan net so mooi wees en nie mooier nie. Ek is baie lief vir kort vakansies in die Karoo. Ek hou van goeie geselskap, maar is ongelukkig te eiesinnig of hardegat of demented om vir lang tydperke verdra te word. My beste vriende is een na die ander Engeland toe van waar hulle vir my saaklike poskaarte stuur.” (Beeld, 12 Junie 1997) Toekomsplanne? (In 1997): “Die toekoms is duister. Ek bly maar daar weg.” (Beeld, 12 Junie 1997) “’n Mens se toleransie vir drama is hoër as jy jonk is. Maar later raak jy moeg vir melodrama. Ek dink ek raak verveliger. Ek stel nie meer belang in drama nie.” “Vir fiksie is daar altyd ruimte, maar die medium waardeur dit oorgedra word, verander dalk weldra. Soms skrik ek vir die idee dat alles digitaal word, maar dan dink ek aan iets soos LitNet en dan lyk dit na ’n goeie idee, veral omdat dit soveel makliker is om met ’n kort search ou materiaal te vind en na te slaan. Wat van boeke gaan word, weet ek nie. Ek is opgewonde oor e-publikasies, want daar is heel moontlik geleenthede en werkswyses wat nou nog vir my onbekend is.” (LitNet) “Maar om terug te kom na fiksie. Wat vandag uit die werklikheid in ’n storie neerslag vind, sal oor twintig jaar ’n aanduiding gee van die tydsgees waarin daardie werklikheid hom eens afgespeel het. Lees ’n mens byvoorbeeld nou boeke uit die tagtigerjare, is jy verbaas oor als wat by jou opgeroep word. In fiksie steek daar heelwat waarheid, en selfs in die dele wat nie waar lyk nie, vermoed ’n mens ’n proses van vermomming van die werklikheid eerder as uit en uit fantasie.” (LitNet) Skryf hou dikwels vir hom magteloosheid en selfs verleentheid in. “Sommige dae vra mens jouself vir wat doen jy nie ’n ander werk nie, want jy kon nou ’n Audi-watsenaam gery het en net met ouens gepraat het wat goed sê soos: ‘Kom Saterdagaand oor. Ek entertain groot.’ Maar dan betrag ek sulke ouens van ’n veilige afstand en ek dink, jou bogger, jy hoort in ’n storie. En dan skryf ek maar eerder.” (Beeld, 10 Mei 2013) “Macho karakters irriteer my baie gou, baie erg, behalwe miskien in Western-flieks en superheld-verhale en selfs daar moet hulle myns insiens met komedie benader word. Dus hou ek eerder van iemand wat weerloos is, maar tog bereid is om moeilike dinge aan te pak.” (Beeld, 10 Mei 2013) “Ek dink as ek ’n boek sit en skryf, neem ek ook ’n rol aan. Ek wórd ’n karakter. Ek sleep my eie lewe saam die ding in. Ek weet nie of ’n mens dit method acting noem nie, maar as jy moet huil in ’n toneel, dink jy aan jou hondjie wat dood is. ’n Mens doen ’n soortgelyke ding in jou skryfwerk.” (Beeld, 24 April 2010) Kan Ed van Inligtingstelsels en Skrywersblok saamgelees word?: “Ek dink tog die verhale en die roman kan saam gelees word, veral as jy in gedagte hou dat ’n skrywer se oeuvre die uitbou van ’n enorme persoonlikheid is wat jy in die wêreld probeer vestig.” (Beeld, 23 September 2009) “’n Probleem met skryf is dat jy baie tyd op jou eie deurbring en dit maak ’n mens noodwendig behep met jouself. Dus kom allerhande ego-dinge ter sprake wanneer boeke, myne en ander s’n, vergelyk word. Dis hartewerk en dit kneus ’n mens wanneer jy voel jy word gering geag. Ek is egter dankbaar ek kan nog stories produseer.” (Rapport, 21 Julie 2013) Oor Verstevlei: “Miskien is daar nie altyd ’n duidelike storie nie, maar daar is altyd ’n reis. ’n Skrywer is ’n avonturier wat deur die binnelandskap reis en sy boek is die joernaal van die tog.” (Rapport, 21 Julie 2013) “Elke outeur het sy eie mening oor die ambag. Sommige meen dis jou eie skuld as jy nie gewild is nie. Ander meen jy moet baie navorsing doen en ’n redelik esoteriese produk lewer. Sommige hang wetenskapfiksie, liefdesverhale, erotika of speurverhale aan. My genre word algemene fiksie genoem, maar ek voel ek moet min of meer oorspronklik probeer skryf, selfs wanneer die gegewe oorbekend (of algemeen) is. Wat oorspronklik aan my is, is ’n soort eksentrieke oog waarmee ek ’n wêreld beskou wat aan ons almal bekend is sodat ek dit hopelik in ongewone skakerings kan weergee.” (Rapport, 21 Julie 2013) “Ek dink nie ’n mens moet weg van jouself skryf nie. Daar is ander skadelike stellings ook, soos kill your darlings. Dis verspot. Goeie sinne is moeilik genoeg om uit te dink. Waarom sou jy hulle wegmaak?” (Rapport, 21 Julie 2013) “Ek erken ek is ’n buitestander. Maar ek pes die kondisie, al kan ek dit nie altyd verander nie. Sodra ’n mens erken jy is geïsoleer, onttrek jy jou dadelik nog verder aan mense. Sosiale dinge is moeilik genoeg. Dis werk en stryd. Ek maak aantekeninge oor werk en stryd. Ek weet nie of alle skrywers buitestanders is nie. Daar is mense wat sal aanstoot neem as mens dit van hulle dink.” (Rapport, 21 Julie 2013) Hoekom skryf hy? “’n Vriendin van my en my vrou het verlede jaar as onderwyser afgetree en sê sy sien as sy terugkyk dat ’n mens se paadjie vir jou uitgekap is. Ek glo dit self, hoewel ek toevallig vandag dagdroom oor ander werk. Dit raak bra vervelig om heeldag alleen te wees en ek het pas ’n stuk werk voltooi, so nou moet ek in iets nuut verdiep raak en ek bly dink miskien moet ek iets heeltemal anders doen. Daar is ’n wonderlike aanhaling van Graham Greene wat ek nie meer akkuraat onthou nie, maar wat min of meer so lui: ‘I suppose in the course of writing a book which takes say two years one has a few days when one feels, this page has really come off. The rest is a discipline and sometimes a sense of extreme failure.’ Dit klink skielik vir my baie dramaties, so dalk moet ek net sê: dis een van die wonders van die lewe dat ’n mens kan gaan sit en tik aan ’n paar woorde wat ’n sin vorm, en sinne wat ’n paragraaf vorm, en paragrawe wat ’n boek vorm. Dis heerlik om dit te sien gebeur.” (LitNet) Oor skryf vir die jeug: “Skryf vir die jeug is anders in die sin dat ek meen ek eerliker skryf. Of miskien moet ek sê meer reguit. Daar is minder suggestie en woordspelings en liriese sinne en ’n mens ondergrawe nie dinge soos jy in volwassene-fiksie maak nie. Dis ’n terugkeer na ’n tyd toe ’n mens nie so sinies was nie.” (LitNet) “Publikasie is baie lekker, maar ek skryf in elk geval. Ek sou sê die helfte van wat ek skryf word nie gepubliseer nie, maar dis steeds vir my belangrike werk. Ek glo vas dat skryf terapeuties is. Veral verhoudings – met meisies, vriende en familie – kry sin as dit eers neergepen is. Hoekom ek skryf? Ek kan nie juis iets anders doen nie. En ek weet dit vir ’n feit, want ek het al ’n paar keer van werk verwissel, seker ses of sewe keer.” (LitNet, aan Haydee Morgan-Hollander) Hoe doen hy gewoonlik navorsing vir ’n storie en moes hy, as gevolg van die virus, met die skryf van Simoelégri op ’n ander manier navorsing doen? “Ek dink ‘navorsing’ is ’n baie groot woord. Akademiese mense doen dit. Ek lees maar rond vir my eie vermaak of ek skenk aandag in geselskap, dis hoe ek daaraan dink. Ek lees dus nie doelgerig met die oog op die skryf van ’n spesifieke storie nie. Wat gewoonlik gebeur, is dat ek iets interessant lees, of in videomateriaal sien, en dit dan iewers op ’n manier self wil aanwend. Ek dagdroom wel oor ’n geskiedkundige storie en daarvoor sal ek seker amptelike navorsing moet doen.” (LitNet, 17 Maart 2021) Oor die Groot Afrikaanse Romanwedstryd: “Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd is ’n wonderlike uitdaging. Ek het die eerste keer in 1993 ingeskryf. (Die wedstryd het toe ’n ander naam gehad.) Verlede jaar wou ek nie inskryf nie; ek het nog moeg en sonder idees gevoel nadat ek aan Aanspreeklikheid gewerk het. Maar hier voor die helfte van die jaar het ek gedink: Aanspreeklikheid word orraait ontvang en ek kan gerus weer probeer. En toe skryf ek ’n paar stukke, waaronder Simoelégri. Nie die hele boek nie – die terugflitse in die verhaal is bladsye wat ek vroeër geskryf het. Maar ek kon betyds klaarkry vir die sperdatum.” (LitNet, 17 Maart 2021) |
Gebore en getoë
Jacobus Phillipus Fouché is op 29 November 1967 in Klerksdorp gebore, die oudste van drie seuns van Koos en Magrietha. Hy begin sy skoolloopbaan in 1974 in Vereeniging en matrikuleer in 1985 aan die Hoërskool Hermanus. Sy pa was in diens van die Departement van Justisie en is gereeld verplaas, met die gevolg dat die gesin in verskillende dorpe gebly het voordat Jaco die huis verlaat het. Hy het grootgeword op Bronkhorstspruit, Vereeniging, Sterkstroom en Hermanus.
Die eerste keer dat Jaco agtergekom het watter geheimsinnige wêrelde die letterkunde vir ’n mens kan oopmaak, was toe hy tydens ’n reënerige naweek in Vereeniging in sy pa se boekrak rondgekrap het en op ’n boek van James Hadley Chase afgekom het.
“Toe ek my pa vra hoekom ’n man dan aan ’n vrou se borste sal wou vat, steek hy die boek en ’n hele rits ander weg,” vertel Fouché aan Theunis Engelbrecht (Beeld, 12 Junie 1997). “Daarna het ek my vrae versigtiger gekies, en my mentors verder van die huis af gesoek.”
Jaco probeer reeds van jongs af stories skryf, veral na aanleiding van strokiesprente en televisiereekse en jeugverhale wat hy gelees het. In 1981 lê hy sy eerste verhaal aan ’n tydskrif voor; die poging was egter ongelukkig onsuksesvol. Hierna volg nog verdere onsuksesvolle pogings om van sy verhale, gedigte en artikels gepubliseer te kry, totdat die Hermanus Times in 1989 enkele berigte van hom plaas.
Hy wou nog altyd skryf, sê hy aan Engelbrecht. “Skool was orraait, maar die taalklasse was die beste. Ek kon nie wag om te leer lees en skryf nie. LO was ook okay: ons het baie keer saam met die meisies rounders gespeel.”
Hy vertel ook aan Heindrich Wyngaard: “Ek was seker so nege toe ek besluit het dis (skryf) wat ek wil doen, want ek is absoluut mal oor boeke en flieks. Dis baie keer só met ’n goeie boek of fliek dat mens voel jy wil dit self geskryf het. En dan begin jy te skryf aan jou eie.” (De Kat, Julie 1996)
Hy sê sy skrywery kom van lees en fliek kyk. “Ek was nog altyd lief vir stories en het omtrent alles gelees, maar wetenskapfiksie en jeugverhale oor bendes was my gunstelinge. Trompie ook, maar daar was ’n spannetjie of wat wat gemener was as die Boksombende. Ek onthou ’n boek, Bakkies en sy maats, wat my diep beïndruk het. As ek reg onthou, het André P Brink dit nog geskryf. Maar ek het kleintyd al partykeer gevoel ’n storie wat ek lees, is nie heeltemal ‘reg’ nie. Dan probeer ek die ding oordoen.”
Nadat Jaco die jeugverhaal Somer geskryf het, vertel hy aan Naomi Meyer op LitNet dat die idee van skoolkinders wat werkies verrig, aan hom inspirasie verskaf het vir die skryf van die boek en dit het hom ook terug laat dink aan sy kinderjare: “Op skool het van my skoolpelle in tuine gewerk, huise geverf en hout gesaag vir sakgeld. Ek self het ook naweke en vakansies gewerk, meestal aflewering en rakke pak by ’n besigheid. En nog altyd wou ek daardie dae herroep en ek wou nie eintlik oor my eie werk skryf nie, want om met ’n kettingsaag te werk, is darem baie aantrekliker vir ’n leser as ’n ou wat produkte rondgestoot en afgelewer het, hoewel ek darem self ’n paar voorvalle beleef het wat besonders was en seker nog iewers neergeskryf kan word.
“Verder het ek ook baie tyd in die biblioteek en die dorp se boekwinkel deurgebring. By die boekwinkel het ’n tannie my boeke op haar rekening laat koop omdat sy afslag gekry het. By die biblioteek kon ’n mens ’n middag laat verbygaan en jy het gemeen dis ’n baie vrugbare besoek wanneer jy met jou drie boeke daar uitloop. Die bibliotekaris was ’n eksentrieke man wat kaalbolyf op straat verskyn het en my een vriend van rare boeke voorsien het wat hy maar kon hou. Daar was puik leesstof, sulke stokou uitgawes wat soms self uitgegee en glad nie goed versorg was nie. Een van daardie boeke is deur ’n De Villiers geskryf en het oor die ruimte gegaan. Dis gebaseer op sy dekade lange amateurwaarnemings vanuit sy agterplaas waar ek een aand was om deur die teleskope te kyk. Op ’n keer het daar ’n nuwe bibliotekaresse by die biblioteek begin werk en al die wonderlike ou boeke uitgewerk sodat daar plek kan wees vir nuwe publikasies. De Villiers se boek is ook weggemaak. Dit was erg, maar seker net nog ’n les oor die tydelikheid van alles.”
Oor boeke wat hy as jeugdige gelees het, vertel hy verder aan Meyer: “My gunstelingboeke was werk van Stephen King, Wilbur Smith, James Clavell en Eric van Lustbader. My gunstelingjeugboeke was SE Hinton se verstommende stories. Sy is bekend daarvoor dat sy die Young Adult-genre omtrent op haar eie gevestig het met The Outsiders. Ek het dit twee jaar gelede weer gelees en erg terugverlang skool toe. Ek het ook van die Just William-boeke van Richmal Crompton gehou. Dit gaan oor ’n elfjarige seun, maar ek het dit tot matriek nog gelees en vier jaar gelede weer een van hulle aangeskaf. Dan was daar Huckleberry Finn wat ek die eerste keer in die Afrikaanse vertaling gelees het. Dis vandag omstrede weens die rastema, maar dís nou ’n grootse boek as ek al een gelees het.”
Verdere studie en werk
Intussen is Jaco vir twee jaar weermag toe (1986–1987), waarna hy in 1988 ’n pos as assistent by ’n rekenaarkleinhandelaar kry. In 1989 loop hy ’n kursus in vryskutjoernalistiek aan die Kaapse Technikon. In 1990 begin hy met rekenaarverwerking by Sanlam in Bellville en word in 1991 ’n junior programmeerder.
Sy eerste sprong om ernstig te begin skryf, neem hy in 1993 toe hy by Sanlam bedank om oorsee te gaan. In Londen hou hy dagboek van sy ervaringe aldaar en met sy terugkoms tik hy sy dagboekinskrywings oor, en dit was die begin van sy eerste roman, Die ryk van die rawe (1996), wat in 1997 met die Eugène Marais-prys bekroon is. Die roman is ook benoem vir die M-Net-prys in 1997.
Oor sy besluit om in 1993 Londen toe te gaan vertel hy aan Heindrich Wyngaard (De Kat, Julie 1996): “Toe ek soontoe is, het ek groot idees gehad, soos om te kyk of ek daar kan werk, maar dis maar ’n blerrie koue plek daai.
“Ná die trip oorsee het ek een aand gaan sit en my dagboekinskrywings ingetik. (Ek het ’n bleddie skreeulelike handskrif wat ek self nie kan lees nie.) Dit het eintlik gou gegaan, dié skryf aan die boek.”
Die boek het Ratkas Goosen as hoofkarakter. Hy is ’n opvlieënde kêrel van Bellville, skryf Wyngaard, “wat Londen toe gaan om homself en die wêreld agter te kom. Daar ondergaan hy sy deurgangsrites onder ’n bisarre reeks straatmense, Londen se stilverlorenes. Dit alles terwyl ’n korrupte polisiehoof op sy spoor is om hom vir moord te ‘frame’.”
Toe die boek aanvaar is, het hy die aand nie geslaap nie: “Daar was nie tyd nie. Dit was ’n haze van celebration. Maar dit was harde werk, daarom is ek nie skaam om trots te wees nie.”
Oor Die ryk van die rawe het Elize Botha geskryf: “In baie opsigte kan ’n mens van hierdie boeiende debuut praat as ’n onversigtige begin, waarin die skrywer sy energie en energie-bronne, sy moontlikhede en vermoëns byna argeloos uitstal. Op heelwat plekke sou ’n mens kon roep om ‘strenger tug’. Maar laat ons nie vergeet nie: Henry James (‘I delight in a deep-breathing economy and an organic form’) het van Victor Hugo en Tolstoi se romans gepraat as ‘loose baggy monsters’!”
Na sy terugkeer uit Engeland werk hy vir vyf maande as bestuurder in ’n kroeg en die herinneringe aan daardie tyd is deesdae vir hom soos “soos oorlogherinnering vir ’n veteraan”. Van sy ervaringe daar verwerk hy in kortverhale wat saam met ander uitgegee word in Paartie by Jake’s (Queillerie, 1997).
Oor Paartie by Jake’s skryf Fanie Olivier dat die leser in hierdie kortverhaalbundel dieselfde stem vind as wat by Ryk van die rawe te bespeur is. Die karakters is ook meestal randfigure wie se lewens onder hulle padgee. En so word hulle dus buitestanders.
Een van Olivier se besware teen Paartie (net soos by Ryk) is dat Fouché nog daarna neig om te veel te wil sê: “By kortverhale word dit hinderliker omdat die vertelling onder die storie uitloop, en woordekonomie juis sou aansluit by ’n lewenshouding wat hierdie verhale yk.
“Paartie by Jake’s is, sy gebreke ten spyt, meer as net nog ’n bundel kortverhale in ons kortverhaal-era. Dit is ’n bewys dat die skrywer langer en korter prosa kan skryf, maar veral bevestig dit die eiesoortigheid van Jaco Fouché binne ons letterkunde waar inteelt van gedagtes, karakters en skrywers nogal benouend begin word het. En dit verskaf meteens aan ons in Afrikaans weer heelwat ironiese ruimte.”
In Die Burger (17 September 1997) is Johann de Lange van mening dat Jaco Fouché se stem onmiddellik herkenbaar is in Paartie. Die styl kan beskryf word as dié van “ekonomiese beweging” – die slotwoorde van die laaste storie. “Gestroopte vertellings wat dikwels bedrieglik eenvoudig aangebied word.”
En in sy resensie in Insig van Oktober 1997 skryf HP van Coller: “’n Tweede boek is dikwels die graf van ’n ‘belowende skrywer’. Ongeag ’n jeugdige oordaad wat betref beskrywing en simboliek; nieteenstaande enkele uitgesponne verhale en stilistiese gebreke, slaag Fouché sy toets met vlieënde vaandels. Hier is ’n skrywer aan die woord wat waarskynlik ook in ander genres (soos die jeugverhaal en die drama) sy stempel gaan afdruk.”
Intussen (1994) begin hy werk as klerk en verkoopsman by SprayTech in Bellville, maar om die pot beter aan die kook te hou, aanvaar hy weer ’n pos by Sanlam toe hulle hom dit aanbied. In 1998 bedank hy by Sanlam en verhuis na die platteland, na Prins Albert, om voltyds te skryf. Na drie maande daar moet hy weens ongesteldheid na Bloemfontein verhuis, waar hy by sy ouers gebly het.
In 2005 verskyn Die avonture van Pieter Francken en in 2007 die novelle Twee dae in Mei. Van Jaco se kortverhale word in Sarie gepubliseer en in 2007 vertaal hy Kleinboer se veelbesproke roman Kontrei in Engels; die vertaalde werk word deur Zebra Press uitgegee onder die titel Midnight missionary.
Agt jaar verloop voordat Jaco se volgende boek, Die avonture van Pieter Francken, in 2005 by Tafelberg uitgegee word. Toe ’n kollega van Jaco soek geraak het en hy hom moes gaan soek, het dit die saadjie geplant vir die ontstaan van Pieter Francken, vertel Jaco aan Jaco Jacobs (Insig, April 2005). “Maar van toe af het ek geworstel met die ding – wat kon van hom geword het as hy regtig verdwyn het ...?”
Hy verduidelik verder aan Jacobs: “Die enigste ander ooreenkoms met my eie lewe in Die avonture van Pieter Francken kan ek teruglei na 1993 tot 1994. ’n Vriendin van my het toe nog by die kraameenheid in Elsiesrivier gewerk. Ek het party nagte daar gesit en video’s kyk – darem nie in die kamer waar die bevallings plaasgevind het nie – en so het ek ’n gevoel gekry vir die kliniek in die nag. Ek het ook van die stories gehoor, soos mense wat vertel as een van die gangsters pa word, is die hele gang daar.”
Maar hy het nie eintlik verder enige formele navorsing gedoen oor bendes, politieke interaksies en die bruin woonbuurte in die Kaap nie – sy verbeelding het die res ingekleur.
Jaco wou ook wegbeweeg van die tipe hoofkarakter van Die ryk van die rawe, erken hy teenoor Jacobs. “Ratkas is klaar en verby. Hy’s ’n vreeslike senuagtige ou. Pieter is vriendelik. Hy reik uit na ander en hy’s hartlik. Hy’s een van daai aangename mense. Jy skrik so half, want jy kan nie glo ’n ou kan so nice wees nie. Hy het ook maar sy foute – hy’s nie eintlik ’n goeie gesinsman nie – maar hy’s ’n outgoing tipe mens, al is hy maar pieperig.”
Oor die storie van Pieter Francken skryf Stoffel Cilliers (Volksblad, 16 Mei 2005) dat hierdie beslis nie jou gewone avontuurverhaal is nie en dat die hoofkarakter ook nie juis ’n avonturier is nie.
Pieter Francken is ’n jong bestuurder in ’n familie-onderneming, nie baie bekwaam nie, en wat sy pos aan sy swaer te danke het. Toe, een Vrydagaand, gaan soek hy na een van sy werknemers wat vir ’n paar dae al nog nie op kantoor was nie. Só beland hy in die bruin gemeenskap van Koningsdal op die Kaapse Vlakte, in allerhande ongewone situasies en waar sy pad met ’n verskeidenheid mense s’n kruis.
“Uiteindelik wonder ’n mens of die eintlike pluspunt van die roman nie die skitterende detail-beskrywings van die milieu is wat voortdurend vinnig wissel nie. Ook die atmosfeer is met bekwame pennestreke geskets. Met die struktuur van die roman is baie geslaag geëksperimenteer.
“Om ’n minder bekende gemeenskap se andersheid deur vreemde gebeure oortuigend voor te stel; om feitlik die hele roman se storielyn in net één nag saam te pers; om op die ontwikkeling van hoofsaaklik één hooffiguur te fokus, is ’n groot uitdaging wat die skrywer vir homself gestel het.
“Hy het beslis nie misluk nie. Hierdie roman is aktueel en kan met vrymoedigheid aanbeveel word. Dit sal om meer as een rede aanklank vind by ’n verskeidenheid lesers en sal in die geheue voortleef.”
Ook Louise Viljoen was beïndruk met die boek. Sy skryf in Rapport (1 Mei 2005) dat dit ’n “helder en onpretensieuse roman” is, maar dat die skrywer dit ook in ’n verbeeldingryke Afrikaans geskryf het.
“Dit is ’n roman wat die leser op verskillende maniere aanspreek: daar is die avontuurlike realisme van die oppervlak, die sinryke implikasies van die argetipiese vlak, die beeld van die gewone mens wat hom uiteindelik versoen met die absurditeit van die lewe deur daaruit ’n bepaalde soort sin vir homself te kry, die boeiende perspektief op die opheffing van die hoofkarakter se rasse- en klassevooroordele en die sober tekening van die Suid-Afrikaanse werklikheid.
“Die avonture van Pieter Francken is ’n besonder knap roman wat hom eweneens gaan onderskei in die Afrikaanse letterkunde. Die lang wag ná die verskyning van Fouché se eerste twee werke was in alle opsigte die moeite werd.”
Fouché se volgende roman, 2 dae in Mei, speel in Bellville af en vertel van die dinge wat in twee dae met ’n groepie mense gebeur. Hulle is ’n klompie kennisse deur hulle lidmaatskap van of betrokkenheid by ’n tak van Alkoholiste Anoniem in Bellville.
Haydee Morgan-Hollander (LitNet) wou by Jaco weet hoekom hy die maand Mei gekies het vir die titel: “Ek het lank gedink om ’n storie oor die AA te skryf. Ek het so ’n plan gehad om vier kortverhale ineen te laat loop en kortverhale het mos gewoonlik ’n kort tydsverloop, derhalwe die twee dae. Ek het ook ’n fliek met Charlize Theron gesien met die titel Two days in the Valley en baie van die titel sowel as die kort tydsverloop gehou. Die titel was eers Robert, Elna, Jim en Ina. Eenmaal in 2005 het ek in Meimaand hier in Bloem in ’n parkeerterrein gesit en wag en sien toe ’n man wat van boompie na boompie loop en die laaste herfsblare met ’n harksteel afslaan. Toe dink ek: 2 dae in Mei. Dis nie ’n boek wat jou van vreugde laat rondtrippel nie, maar dit sal jou ook nie na opkikkers dryf nie. Dis ’n stil boek waarin mense hul voorstedelike gang gaan. Hul alkohol-afhanklikheid onderskei die karakters van hul bure.” (Die Burger, 29 November 2007)
“Ek dink die lae-middel- en werkersklas word in die algemeen verkeerd verstaan. Hulle het nie net hartseer lewens nie. Daar is dikwels meer spontaniteit en humor, minder geveinsdheid en ’n beter ondersteuningstelsel as onder meer welgesteldes,” vertel Jaco, die seun van ’n landdros, aan Die Burger. “Ons was nie welaf nie, maar het grootgeword met boeke en skilderye en daarom was ons bevoorreg.
“Ek dink my fassinasie met die werkersklas kom van my dae in die weermag. Die stories van mense uit dié klas het my tóé gefassineer. Terwyl ek in ’n kroeg in Bellville gewerk het, was van die gereelde ouens twee motorwerktuigkundiges wat altyd in swart klere opgedaag het. Hulle het na musiek geluister wat vir my vreemd was. Hulle was werkersklas maar ook anargiste en het goed op ’n ander manier gedoen. Dalk is daar iets eksoties vir my in die werkers- en laermiddelklas omdat dit anders is as hoe ek grootgeword het.”
Hy het self die pad van alkoholisme gestap en was ’n paar jaar by die AA. Hy was teen 2007 al vier jaar droog. “Die tyd by die AA was goed vir my. Ek het by hulle aangesluit omdat almal om my gesê het ek drink te veel. Ek het besef dinge sal nie beter word as ek nie self iets doen nie.
“Ek is bly ek was daar toe ek nog redelik jonk was. Dis beter om by so ’n groep aan te sluit as jy 26 eerder as 46 is. Ek het praktiese lewensvaardighede by die groep in Bellville geleer. ’n Mens raak moeg vir raising hell.”
Hy het lank rondgeloop met die idee om iets oor die AA te skryf. Maar daar is ’n kode van anonimiteit. “Uiteindelik het ek besef dit is laf om met iets só interessant rond te loop. Ek is ook nie meer lid van die groep nie. Ek is nog nie uitgeskryf oor my ervaring daar nie. Daar is nog soveel stories.”
In Rapport (16 September 2007) skryf Koos Kombuis dat 2 dae in Mei nie Jaco Fouché se dikste of belangrikste boek tot op daardie stadium was nie en daar gebeur ook nie veel met die karakters in hierdie storie nie.
“Daar is nie eintlik sprake van ’n spanningslyn of intrige nie. Soos die ouens in De Avonden van Gerard Reve strompel hulle lukraak deur hul eie lewens, vat hier en vat daar, en kom selde of ooit tot enige slotsom. (...)
“Die karakters is vaal. Die storie is vaal. Die enigste sekstoneel in die verhaal is ’n mislukking omdat die vervaldatum van die protagonis se ereksiepille verstryk het. Die hoogtepunt van die gebeure is wanneer iemand laat in die nag teen ’n dumpster vol vuilgoed vasloop.
“Nou hoe kry so ’n boek dit reg om so in ’n mens se hart te kruip? Hoe kry die skrywer dit reg om hierdie groepie uiters oninteressante mense so te skilder dat sy so intiem vir hulle omgee?
“Die tegniek wat Fouché gebruik, ontsnap my. Daar is geen fensie literêre truuks nie, geen overte boodskap nie, geen verduidelikings of prekery nie. Om die waarheid te sê, behalwe ’n effense hoogdrawendheidjie hier en daar, is sy verteltrant so gestroop van pretensie soos die siele van die mense wat hy beskryf. Ek is nie seker waarom hy die boek geskryf het nie. Ek weet ook nie of dit sal verkoop nie. Dit maak seker nie saak nie.
“Al wat ek weet, is dat ek my eksemplaar van 2 dae in Mei nooit wil weggee of uitleen nie. Ek wil dit een keer per jaar weer uithaal, daardeur blaai en aan die bladsye ruik. En dan sal ek dalk ’n droërige traantjie stort oor Elna, Robert, Jim en hulle vriende en wonder waar hulle nou is en wat van hulle geword het.”
Ook Mariana Loots is vol lof vir 2 dae in Mei (Die Burger, 27 Augustus 2007): “Die leser reis ’n paar uur op ’n keer in elke hoofkarakter se gedagtes saam – ’n wandeling wat so oortuigend word dat ’n mens naderhand byna verwag om hulle môre in Voortrekkerweg te eien as jy daar verbygaan.
“Tog staan die leser nie buite die teks nie: Die karakters se behoefte aan ’n tikkie normaliteit wat hulle om hulle bespeur, aan aanvaarding en die geleentheid om iemand binne te laat, klots teen daardie stukkie van die siel wat gewoonlik vir ander verberg bly. Met sy fyn skrywersoog ruk Fouché die leser pal tot heroorweging en herwaardering van dit wat pas klaar gelees is – en vanselfsprekend sy uitsonderlike talent.
“2 dae in Mei is ryk aan eerlikheid, deernis, menslikheid en spitsvondigheid. Maak dit deel van jou versameling.”
Jaco word beskou as een van ’n nuwe geslag Afrikaanse skrywers (wat ook jong skrywers soos Tom Dreyer insluit) wat Hennie van Coller “ons eie Tarantino-geslag” noem. In ’n artikel in Rapport sê Jaco self oor hierdie kwessie dat dié jonger geslag skrywers “die produk van swaar onderstrominge” is.
Jaco was huiwerig toe Theunis Engelbrecht (Beeld, 12 Junie 1997) hom vra watter temas tot hom spreek as dit by sy skryfwerk kom. “Ek weet nie van temas nie, nie in my eie skryfwerk nie, in elk geval. Godsdiens staan my baie aan, of pla my baie. Iets wat ek soms wonder oor Graham Greene is of hy in God geglo het. Lees ’n mens die biografie oor hom, The Man Within, dan dink jy nee. Maar lees jy sy boeke, dan neem jy aan hy beskou dit as aksiomaties dat God bestaan.
“Of is dit bloot net ’n beter letterkundige idee om ’n instelling soos die Rooms-Katolieke kerk te ondersoek as om verder op die saak in te gaan en so God self te wil konfronteer? Vir die doel van sy boeke maak dit seker nie regtig saak of God bestaan nie. Wat belangrik is, is dat die Roomse kerk bestaan. Maar dit is beslis iets wat my pla: hoekom bestaan God maar meestal in daardie oomblikke dat ’n mens (of ek) baie bang is, of baie gelukkig? Waar is Hy die res van die tyd? Besig om enkelrye spore op die sand neer te sit?
“’n Ander tema, as ’n mens dit so kan noem, is dié van die enkeling, die mens wat afgesny is van sy omgewing. En wanneer so ’n karakter wel aansluiting vind, is dit ten koste van soveel dinge: sy tyd, sy visie ... sy integriteit selfs, want ’n mens kan nie met
ander mense omgaan sonder om kompromieë aan te gaan nie.
“Ek dink selfsug is seker die bottom line. Dis my tema, ja, selfsug. Die hele ding van ’n mens het net soveel lewensjare tot jou beskikking. Hoeveel daarvan durf jy aan ander mense afstaan sonder om jouself te verloën? En hoe immoreel of sondig is dit nie dalk om daardie tyd vir jouself te hou nie? Ek lees nou die dag iets van Marthinus Versfeld waarin hy liefde definieer as die tyd wat jy bereid is om aan jou medemens af te staan. Dis ’n goeie definisie.”
Jaco het ook in 1997 aan Engelbrecht gesê hy het nie juis ’n mening oor die voortbestaan van Afrikaans nie, behalwe dat daar so ’n ophef van gemaak word dat hy nie glo dit is werklik so ’n krisis nie. Hy meen ook ons gaan Amerikaniste in die plek van die sogenaamde tradisionele Afrikaner kry. “Ons leefstyle word gedefinieer deur die indruk van Amerika. Ons tieners meet hul sosiale prestasies aan Party of Five. Ons jong mans is Bruce Willis- of Robert de Niro-aanhangers, ons jong vroue vergelyk hulself met Bridget Fonda en Elizabeth Shue. Ek praat nou die dag met iemand oor Marius Weyers, toe word ek ingelig dat ‘hy dit nie gemaak het in Hollywood nie’. Vergeet The Honeybird en Death in the Family en Phoenix en kie en al die werk wat die man al gedoen het. Die standaard waaraan gemeet is, was Amerikaans en die (Suid-) Afrikaner het dit maar weer nie gemaak nie.”
In 2009 verskyn Ed van Inligtingstelsels met die subtitel ’n kantoorwerkersklasroman. Ed, ’n geskeide man wat by ’n versekeringsmaatskappy werk, het ’n geskiedenis van alkoholisme. Sy lewe is maar bra vervelig en hy lewe maar so van dag tot dag. Ook sy vriendskappe is eensydig, sy verhoudings ontwikkel tot niks nie en sy een droom – om skrywer te word – is ook besig om ’n doodgebore droom te word, skryf Desmond Painter (Die Burger, 21 September 2009).
Vir Painter het die roman nie veel van ’n storielyn nie. Daar is terugflitse na Ed se huwelik, sy dienspligjare en ander momente uit sy verlede, maar oor die algemeen volg die leser Ed werk toe, biblioteek toe, kroeg toe, of op wandelinge deur Bellville se strate. Niks gebeur nie; Ed is aan die stagneer. Hy probeer ’n verandering in sy lewe teweegbring met ’n onbesonne daad, maar ook dit lei tot ’n antiklimaks. Die roman eindig met Ed, sy lewe grootliks onveranderd, wat deur Bellville se strate loop.
Ed van Inligtingstelsels is geskryf in die onopgesmukte, realistiese styl van iemand soos die Amerikaanse skrywer Richard Ford, self natuurlik ’n meester van die voorstedelike, middelklasroman. Anders as Ford en anders as in sy eie beter werk, ontgin Fouché nie sy gegewens hier bevredigend nie.
Die bakens van Ed se wêreld is vir die leser hoogs herkenbaar. Omdat hy egter redelik oppervlakkig, amper kosmeties, met dié ruimtelike gegewens omgaan, neig die roman, wat betref die uitbeelding van Bellville en die voorstede, by tye na die stereotipiese. Dieselfde geld die karakters. Hulle bly tot ’n groot mate eendimensioneel. Veral die paar vroue met wie Ed uitgaan, word ongeloofwaardig en amper verspot uitgebeeld. Verder word elemente wat tot spanning en meer gedronge, priemende skryfwerk aanleiding kon gee, soos Ed se liefdesverhoudings, alkoholisme en kwellinge by die werk, amper nooit trompop geloop nie.
Aanhangers van Fouché sal moontlik van dié roman hou, en vir sommige lesers sal die herkenbaarheid van die wêreld wat hy beskryf, dalk genotvol wees. Self vind Painter hierdie roman egter ’n (hopelik tydelike) insinking in Jaco Fouché se oeuvre.
Met die verskyning van Jaco se Skrywersblok en ander verhale (2009) keer hy terug na die genre van die kortverhaal. “Hy ken die suburbs soos die palm van sy hand,” sê die skrywer-karakter Chris Fourie in die verhaal “Skrywersblok”. Dié “hy” kon net sowel Jaco Fouché gewees het. Met hierdie kortverhaalbundel maak Fouché weer eens sy merk as skrywer wat die grinterige binnewerkinge van die ‘burbs soos ’n intieme vriend ken, staan in Rapport (16 Junie 2009).
Hy bou voort op temas wat nou reeds bekende terrein in sy oeuvre is: Net soos in sy vorige boeke speel baie van die verhale in Bellville af; en die kroeg Jake’s Place, wat reeds met Paartie by Jake’s (1997) ’n belangrike verwysingspunt geword het, is weer ’n gewilde uithangplek. Daar’s ook die nou reeds bekende droë, onderspeelde sin vir humor en selfs sekere karakters wat lesers van Fouché se werk uit vorige boeke sal herken. Veral treffend is Fouché se gebruik van gevatte dialoog, sodat jy nooit die idee kry dat die letterkunde vir hom ’n “saak van humorlose erns” is , soos dié waarvan Fourie in die titelverhaal praat nie. In die meeste verhale is daar ’n speelsheid en ’n ligtheid wat die teken van ’n ervare skrywer is.
Vir Jaco Jacobs (Beeld, 1 Junie 2009) is die groot plesier van Fouché se werk sy vermoë om die afgeloopte buitestander te skets en die manier waarop hy op intellektuele wyse die wêreld van die randfiguur verken: grinterig, subtiel en dikwels met ’n goeie skeut donker humor daarby. Jacobs het enkele besware, maar uiteindelik is Skrywersblok vir hom ’n boeiende leeservaring wat jou na ’n verskeidenheid ruimtes neem en jou bekend stel aan die soort mense wat jy elke dag sien, maar nie noodwendig ooit werklik leer ken nie.
In Beeld van 24 April 2010 skryf Willemien Brümmer dat Jaco se grysland op daardie stadium verby was. Dit was nie meer vir hom nodig om onbelangrike werk te verrig soos hy gedoen het by Sanlam of Spray Tech of Jimmy’s Grill nie. Vanaf 2000 is hy voltyds besig met sy skryf- en vertaalwerk. “Jy moet verantwoordelikheid vir jouself aanvaar” is een van Alkoholiste Anoniem se slagspreuke waaraan hy groot waarde heg.
In sy eie lewe was daar boonop, net soos in dié van Phillip in Grysland-verblyf, ’n deus ex machina in die vorm van ’n vrou. “Al wat ek kan sê, is ek is dolgelukkig getroud en dis baie lekker om weer op my tuisdorp te woon. Voor dit was ek vas oortuig ek gaan nooit trou nie. Ek het gedink ek gaan soortvan oud word in Bloemfontein en af en toe iets vertaal of skryf. En toe kom Lorraine, en dit was nogal ’n keerpunt.”
Lorraine se familie boer buite Wellington. En sy het vir Jaco in die wêreld van plase en plaasmense ingedra, vertel hy aan Willem de Vries. Hulle bly nou in Sandbaai naby Hermanus en hy dink nie meer aan homself as ’n Bellville-boytjie wat die penskant van die Boereworsgordyn tot op die droesem wil ontgin nie, skryf Willemien Brümmer in By in 2007. En “lo and behold. Ek gaan deesdae kerk toe.
“In my skrywerslewe tot dusver het ek Bellville soortvan as my tuisdorp aangeneem, terwyl dit glad nie in die regte lewe is nie. Ek het (ná die weermag) agt jaar daar gewoon. Maar ek het op baie ander plekke ook gewoon. En was ek in die Transvaal in die laerskool en toe ’n rukkie in die Oos-Kaap.
“Ek was in Hermanus op hoërskool, en ek het hier gematrikuleer. Dis lekker om terug te wees hierso. Hermanus is miskien my tuisdorp in die regte lewe, al het ek hierdie fiksasie met Bellville ontwikkel.
“Daar is net iets aan Bellville. Veral toe ek begin treinry. Ek was versot op treinry. Daar’s predikers op die trein, daar’s mense wat jou wil besteel, dis net so ’n lewendige wêreld. Ek mis dit in ’n mate.
“Desembermaand (2003) was ons in Bellville vir ’n fotosessie vir Kwêla Boeke, toe ry ek vir die eerste keer in agt jaar weer trein. Net van Tygerbergstasie na Bellville sodat sy (die fotograaf) ’n paar foto’s kon neem. Die interessante ding was, toe ons op die trein klim, het daar ’n plas halfdroë bloed op die vloer gelê.”
Willemien Brümmer skryf dat dit juis die halfdroë bloed, die randfigure, die “onbeduidendes” uit die middel- en laer-middelklas is wat sy skryfwerk reeds sedert sy debuut, Die ryk van die rawe, kenmerk. Dié roman, waarmee hy in 1997 die Eugène Marais-prys verower het, handel oor die jong Ratkas, wie se pa saans na treine geruik het en in Londen by allerlei onbesonnenhede betrokke raak. Sedertdien was sy karakters byna altyd opdrifsels, uitvaagsels, anti-intellektuele wat eerder bier sou drink as om die wêreld te probeer verander.
“Maar,” sê Jaco, “Die skop-skiet-en-doodslag-goed is alles wel as jy in jou twintigs is, maar dit lyk ’n bietjie fishy in jou veertigs.
“Die ander sy van die saak is, ’n mens sit vir sewe boeke vas in Bellville, so jy moet een of ander tyd vooruitgaan. Jy moet aanbeweeg na ander plekke en dinge. My boek wat verlede jaar verskyn het, Ed van Inligtingstelsels, is hopelik nou Bellville wat uit my uitgeskryf is. Dit het nog baie kroeë en bier en sulke goed in. Maar van nou af is dit chamomile-tee.”
“Ek wil nie meer hierdie negatiewe goed skryf nie. Dis niemand tot stigting nie, en dit lei ook nie tot goeie verkope nie.”
Dit is nou eers, met sy sewende en jongste boek, dat hy ’n slag “iets Oprah-rigs wou skryf”, sê hy. “Iets uplifting wat positief eindig en so.”
Die tema van Die Grysland-verblyf put egter steeds uit die donker onderwêreld – dié keer die penskant van die gees. Die hoofkarakter, Phillip, is ’n skilder met een uitstalling agter die rug. Net soos Jaco destyds begin hy om den brode by ’n finansiële instelling in Bellville werk, maar hy het ander planne as om lewenslank ’n kantoorwerker te wees.
Stelselmatig kom verandering in sy eentonige en saai lewe: hy begin snags wakker word met die oortuiging dat daar pas iemand in sy kamer was. Soggens op pad werk toe begin hy agterdogwekkende figure opmerk.
Die boek word ’n onsentimentele blik op die geleidelike aftakeling van ’n man wat aan skisofrenie ly. Dit totdat sy lewe, à la Oprah, in die laaste ses bladsye opgehelder word deur “beduidende toeval en ingryping” in die vorm van ’n vrou.
Verskeie van die plekke in die boek is bakens uit Jaco se verlede: Bellville; Bloemfontein, waar hy tien jaar lank by sy ouers gebly het; Johannesburg, waar hy drie maande lank ’n teksskrywer by ’n televisiesender was; Prins Albert. “In ’n sekere sin is hierdie boek meer outobiografies as my vorige werke.”
Hy is onwillig om te veel teenoor Willemien Brümmer te sê oor sy “navorsing” oor skisofrenie – ’n siekte wat volgens hom in die populêre verbeelding gepaard gaan met “messe en byle”.
“Ek wil nie te veel daaroor sê nie, onder meer omdat ek nog iets wil skryf daaroor. (Wat hy toe wel gedoen het, in Verstevlei.) Maar ek het met skisofrenie te doen gekry, en in ’n stadium was ek vreeslik geïnteresseerd daarin. Ek dink ek het psigose redelik vasgevat, of so goed ek kón in elk geval. Ek het eintlik ’n interessante probleem met die storie gehad, want die ding van skryf oor al hierdie ervarings wat die hoofkarakter traumatiseer, is nie alles goed wat regtig gebeur het nie. Dis amper soos ’n hoërskoolkind wat ’n opstel skryf en aan die einde sê hy dis alles net ’n nare droom.”
Die saadjie vir dié “nare droom” is geplant toe hy self in Maart 1998 uit Bellville na Prins Albert getrek het om, so het hy gedink, die “kluisenaarsbestaan van ’n kunstenaar” op te soek.
“Dit was nogal vir my ’n belangrike stap in my lewe. Dit was asof alles daarop afgestuur het. Al wat ek daaroor kan sê, is ek het geweet dit gaan stil wees, maar ek het nie geweet dit gaan só stil wees nie.
“In Die Grysland-verblyf wou ek iets geskryf het oor die tyd wat ek in Prins Albert gebly het, en toe het die ander goed nou maar so aangeheg, aangelas en so.”
Dit het vir Jaco ’n hele tien jaar geneem om Die Grysland-verblyf te skryf – tot op daardie stadium die langste van al sy boeke. Hy het soms hier gevat en daar gelos en tussenin het hy vier of vyf ander boeke geskryf, wat nie almal uitgegee is nie.
Die Grysland-verblyf verken die lewe van Phillip, ’n jong en redelik suksesvolle skilder, wie se eerste uitstalling afgehandel is. Terwyl hy met die volgende een besig is, betree hy die korporatiewe wêreld – iets waarvan hy nie veel hou nie. Só begin hy geleidelik uitrafel – hy hoor stemme, ruik ’n vreeslike stank en raak paranoïes.
Hy verlaat die stad en trek Karoo toe, maar ook daar begin die vervolging. Hoe hy leer om sy siekte te herken en daarmee saam te leef, is die tema van Die Grysland-verblyf, skryf Cecile Cilliers in Die Burger van 14 Junie 2010.
“Die novelle is goed gekonstrueer. Vroeg al word die seine gelê wat dui op Phillip se groeiende verwarring en vervolgingswaan. En die verskillende stadia van sy skisofrenie en ander se reaksie daarop word goed hanteer. Van die oortuigendste tonele en karakters in die boek is in die psigiatriese afdeling van die Oranje-Hospitaal in Bloemfontein.
“Maar tragies soos die tema mag wees, is die aanbieding ver van somber. Fouché het ’n ligte, bykans humoristiese aanslag en ’n wrang ironiese manier van dinge sê. (...)
“Die Grysland-verblyf is ’n reguit, op die man af vertelling, ’n onthullende en soms onthutsende verslag oor die geestestoestand wat as skisofrenie bekend staan. Fouché se amperse staccato styl verleen aan die vertelling ’n beklemmende realiteit, maar daar is nie ’n sweem van sentimentaliteit of jammerte nie. Onder sy hande word Phillip, ten spyte van sy geestelike afwykings, ’n simpatieke karakter wat die leser saam met hom laat hoop en verlang dat hy tot selfbegrip en heling sal kom.”
Op LitNet sluit Stephanie Nieuwoudt haar bespreking van Die Grysland-verblyf as volg af: “Fouché se roman bied ’n meer hoopvolle toekomsvisie vir mense wat aan skisofrenie ly. Dis in kontras met Papawers, ’n boek waarin die Nederlandse skrywer Ingrid vander Veken haar stiefseun se hartverskeurende lyding as skisofreen uitbeeld. Die boek, wat oorspronklik in Nederlands geskryf is, het onlangs in Afrikaans verskyn. Vander Veken se stiefseun het meestal geweier om sy medisyne te drink en het ontken dat hy geestesversteurd is. Met tragiese gevolge. Daarteenoor erken Phillip in Die Grysland-verblyf dat hy siek is, en besef hy die waarde van medikasie. Dit is sy redding.
“In die literatuur oor skisofrenie word dikwels beklemtoon dat ’n ondersteunende gesinsverband positief tot die bestuur van die toestand bydra. In Die Grysland-verblyf begin Phillip ’n verhouding met ’n ou kennis en hulle is skynbaar vir altyd gelukkig saam. Maar hoewel ’n liefdevolle lewensmaat inderdaad ’n skisofrenie-lyer kan bystaan, is die beskrywing van die (her)ontmoeting en die verhouding en Phillip se pad na genesing te skraps. En dit lyk ook net te maklik dat Phillip onder invloed van sy lewensmaat by die kerk die aanvaarding en antwoorde vind waarna hy heeltyd soek. Dis asof Fouché gejaagd na ’n einde toe geskryf het. Man ontmoet vrou en tjoeftjaf is die lewe op pad na ’n sprokiesverhaaleinde. ’n Mens sou graag meer wou lees oor hoe die vrou en Phillip tot die besluit kom dat sy haar lewe sal wy aan iemand wat dalk enige oomblik weer ’n psigotiese insinking kan ervaar. Die leser kan dalk verkeerdelik onder die indruk kom dat liefde inderdaad alles oorwin en selfs ’n lewenslange, ongeneeslike toestand soos skisofrenie kan genees.
“Die Grysland-verblyf is soms humoristies en soms hartverskeurend. En hoewel daar voor in die boek duidelik gemaak word dat ooreenkomste met die werklikheid slegs toevallig is, voel die ‘verhaal’ baie soos iets wat die skrywer self deurgemaak het.”
En toe, in 2012, ontvang Jaco vir sy mees onlangse manuskrip, Liefste Lena, die derde prys in NB Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd, naas Ingrid Winterbach en Chris Karsten. Dit is in 2013 gepubliseer onder die titel Verstevlei. En volgens Jaco handel dit oor liefde, ’n Bolandse plaas, drie kroeë en ’n bietjie kranksinnigheid.
Die beoordelaars het in hul commendatio genoem dat die gebruik van twee verhaallyne wat in verskillende rigtings ontwikkel, hulle aan die film Fight Club herinner. Bibi Slippers wou weet of Jaco ’n fliekvlooi is en of hy dink sy skryfwerk word deur films beïnvloed. Is daar spesifieke regisseurs wie se werk hy bewonder?
“Ek hou van flieks, ja, maar ek is nie ’n discerning film guru nie en geniet omtrent enigiets wat ek kyk. Die Rocky-flieks geniet ek altyd, en die meeste romantiese komedies ook. Jackie Chan is puik. Op die oomblik kyk ek partykeer snags na e-tv se ou flieks en dis hartverskeurend om te dink dat daardie mense wat so lewendig en flink op die skerm voorkom, almal oorlede is.
“My vyf gunstelinge is The remains of the day (alhoewel ek moet sê, toe ek dit die laaste keer probeer kyk het, het ek gevoel nou het ek genoeg daarvan gesien), The Aviator (oor Howard Hughes, en deur Martin Scorsese gemaak), Into the wild (vir my die beste fliek wat ek in seker vyf jaar gesien het), Glengarry Glen Ross (die draaiboekskrywer David Mamet is uitstekend), en ja, ook Fight Club. Ek het nie voorheen besef dat daar ’n ooreenkoms tussen my storie en laasgenoemde fliek se verhaallyne is nie, maar ek sien dit nou raak. Ander flieks wat in hierdie verband genoem moet word, is egter ook Jacob’s Ladder en One flew over the cuckoo’s nest en miskien Birdy. Dis almal flieks oor nuttiness. Jacob’s Ladder het ek net ’n deel van gesien, maar dit was verstommend hoe die storie tussen verskillende verhaallyne glip en daar so ’n smorende atmosfeer van geweld en bedreiging bly hang. En aan die einde is daar ’n terugflitstoneel wat maak dat ek nie kon besluit wat moet ek glo en wat nie. Ek dink dis ’n goeie opsomming van kranksinnigheid, dat ’n mens nie weet wat jy moet glo en wat nie. Wat is relevant? Wat is waar? En as persepsie alles is, beteken die werklikheid as sodanig nog veel? Of is die waarnemer belangriker?”
Oor die derde prys wat Jaco vir Liefste Lena gekry het, sê hy dat dit lekker is om so iets te kry en dat hy verlig is dat die kranksinnigheid-tema toe tog die moeite werd was om oor te skryf. Hy wil nog ’n boek daaroor aanpak om ’n drieluik te vorm saam met Liefste Lena en Grysland-verblyf, maar hy wil intussen nog ander dinge ook aanpak. “Party keer snags wanneer ek Westerns op e-tv kyk, dink ek ek moet ook een probeer. Ek wil ook ’n liefdesverhaal aanpak. Liefste Lena is klaar een, maar ek bedoel ’n verhaal van ondraaglike begeerte en groot drome teen ’n eksotiese agtergrond. Maar die lewe gooi ook sulke draaie met ’n mens dat ek sal moet sien of hierdie planne gebeur.”
In teenstelling met sy stories waar verhaalgebeure in Bellville die fokus is, ontvou Verstevlei grotendeels in die Boland. “Toe ek begin publiseer, was dit in Bellville en vir lank was dit asof ek net Bellville ken en daaroor moes skryf.”
Hy vertel aan Willem de Vries: “Die blote Bolandse landskap verlei ’n mens al om aantekeninge te begin maak. En dan loop jy die mense in die landskap raak en moet met hulle omgaan en dis daardie spanning wat ’n mens aan die skryf, of sekerlik skilder, kry.
“Die plaas in die roman is gebaseer op ’n wonderlike plek in die Bovlei buite Wellington. Dis die plaas Welvanpas waar die Retiefs boer, waar ’n mens kan gaan bergfiets ry, en wyn proe as jou lus daarna is.”
Oor sy karakters, wat gewoonlik buitestanders is en wel ter tale is, wou De Vries weet of dit so is omdat hulle deur haarfyn beskrywings en momentopnames betekenis in hul verhale tot stand bring en of verteller en skrywer saampraat in die hoofkarakters se woorde.
“Ek is geseënd om ’n mate van uitdrukkingsvermoë te hê. En jy vat iets raak wanneer jy sê so iets bring betekenis in ’n lewe in. Beslis in myne. Dis bemagtigend om ’n toneel of situasie te kan beskryf en aan ’n leser bied vir sy goedkeuring, of ten minste dan betragting. Die welsprekende karakters kom uit sy mond uit,” sê Jaco. “Hulle is maar almal ek in vermomming, selfs die grootste droogmakers.”
Hy sê Verstevlei sluit by sy vorige romans aan “veral ten opsigte van die soort hoofkarakter wat seker nie die wêreld se dapperste of eerbaarste ou is nie”. Hy hou van karakters wat weerloos is, maar tog bereid is om moeilike dinge aan te pak.
“Ook kom die hoofkarakter uit ’n gebied soos Bellville, maar hierdie slag Vereeniging. Dus is die voorstedelikheid weer in ’n mate aanwesig, hoewel daar weggekom word daarvandaan.”
In Verstevlei kom verskeie sienings van die Afrikaner aan bod. “Ek is soos baie wit Afrikaanssprekendes behep met die idee Afrikaner,” sê Fouché. “Is daar so ’n volk? Moet daar so iets wees? Moet ons nie eerder heeltemal uitmekaar gaan nie? Is ons homogeen? Moet ’n mens bly wees vir regse mense? Moet jy bang wees? Dit sluit ook by die plaas aan, wat ’n soort bakermat vir die boer én Boer is. Dis ’n interessante onderwerp.”
De Vries wou by Jaco weet of hy ook soos die Amerikaner Edward Hopper is wat telkens in sy skilderye ’n soort storieverteller is wat die kyker ruimtes en figure wys en dit aan die kyker oorlaat om sin te maak van dit waarmee hy fasette van Amerika versinnebeeld. Is ’n soortgelyk verteller in Verstevlei aan die beurt?
Hierop antwoord Jaco: “Dis ’n interessante benadering. Ek kan ’n ooreenkoms sien met my eie ... Ek bedoel dat ek ook dink ’n mens moet ’n situasie – beelde, ruimtes, figure – aan ’n leser bied sonder kommentaar, maar natuurlik met leidrade wat hom of haar na ’n slotsom kan neem. Soms dink ek ek is lafhartig om nie in te klim en ’n verskriklike groot kwessie in een fel bloedtappende werk aan te pak nie.
“Daar is mos die vier kritiese kategorieë: ras, klas, gender en ekokritiek. Ek heul met al vier, maar dis soms asof klas en gender vir my die interessantste is, sonder dat ek ’n vaandeldraer wil word.”
Jaco het met die skryf van Verstevlei baie aantekeninge gemaak en die feit dat die roman in die eerste persoon geskryf is, is ’n uitvloeisel daarvan, vertel hy aan JB Roux (Rapport, 21 Julie 2013): “Die eerstepersoon het bly steek toe ek die boek later begin skryf, al was ek maar lugtig vir die eerstepersoon. Ek het gedink dis beperkend, maar dit is glad nie so nie en ek gaan weer die eerstepersoon gebruik.”
Roux het verder oor Verstevlei vertel: “Dis nie ’n boek vir lui lesers of sissies nie. Dis ’n karaktergedrewe roman, ’n skets in fyn, pastelkleurige hale waarin die skrywer se skerp waarnemingsvermoë en sy besonderse vermoë om sommer net iets te sê, telkens beïndruk. (...) Dié boek is vir lesers wat op soek is na méér as ontvlugting. En wat ’n ruk lank met ander oë, sensitiewes, na die skynbaar alledaagse wil kyk.”
Jaco self beskryf Verstevlei as volg: “Verstevlei is ’n mirage of skimmewêreld. Dis die bestemming (al bestaan dit nie) wat die reis die moeite werd laat voel. Dis dalk wat ook al ná die dood gebeur.”
Louise Viljoen noem Verstevlei ’n goedafgewerkte roman wat ’n mens verras met ’n onkonvensionele aanpak van bekende temas in die Afrikaanse literatuur, en Linda Rode sê dit is ’n reis deur die hoogs sensitiewe gees van die ewige buitestander. (Volksblad, 8 Junie 2013)
Dit vertel die storie van Renier Proot, vlak in sy veertigs. Proot het die grootste deel van sy bestaan in Vereeniging gewoon en kon in beide sy liedeslewe en sy werksloopbaan net nie rigting vind nie. Hy het nie net as klerk in ’n boekwinkel gewerk nie, maar was ook ’n danser in ’n klub, skryf Jaco Botha in Volksblad van 8 Junie 2013.
Botha vervolg: “Die storie of stories wat vertel word, is dié van Renier Proot (in sy vroeë 40’s), wat die grootste deel van sy lewe in Vereeniging deurgebring het en wat loopbaan en liefde betref maar net nie rigting vind nie. Hy het as danser in ’n klub en ook as klerk in ’n boekwinkel gewerk,” skryf Jaco Botha.
Die roman se subtitel, “Een lewe, twee bestemmings”, bied die eerste leidraad tot die ontrafeling van hierdie Boere-Freudiaanse teks. Renier se storie word in twee tydfases, of werklikheidsfases, aan die leser gebied en deur die gebruik van kursiefdruk van mekaar onderskei.
“In die een fase beleef hy ’n uitsiglose bestaan in ’n woonstel in Vereeniging, die dorp waar hy as die kind van staatsamptenare grootgeword het (ook die kinderlandskap en biografiese werklikheid van die skrywer, Jaco Fouché). Hy ontmoet ‘vriende’ in restaurante vir leë gesprekke en besin baie oor sy drome, verlede en herkoms. Een so ’n vriendin, Pamela, wat hy in ’n braairestaurant ontmoet, vertel hom van Wellington in die Boland waar sy grootgeword het en van die familieplaas, Verstevlei, waar haar neef Bill Andrais en sy gesin steeds woon. Sy wil hê Renier moet haar na die Boland vergesel.
“In die ander fase is hy ’n ‘gas’ in Huis Genade, waar hy klaarblyklik op sy suster Michelle wag om terug te keer. Renier kan kom en gaan soos hy wil – of is dit net in sy drome? – ten spyte van die drakoniese suster Kloppers, wat hom eintlik net daar uit wil hê.
“Uit die staanspoor word ’n psigoanalitiese lees gevra (‘Vroeë drome was daar ook, veral van moord en water’ (9)) en regdeur die teks word die tema van die onderbewuste (soms dalk te bewustelik) deurgetrek (‘... en ek dink aan die son wat dag na dag oor ons lewens ondergaan, en hoe ons telkens nog iets moet aflê, nog iets moet reduseer tot ’n herinnering wat ná ’n ruk nie meer akkuraat is nie en slegs onduidelike buitelyne in die skemer vorm. Ons geheue is nie so betroubaar soos ons verbeelding nie’ (221)).”
“Die teks gryp terug na die literêre taal, truuks en reëls van 50 jaar gelede en Fouché sluit – bewustelik al dan nie – by die tradisie van die Sestigers aan. Veral in Huis Genade (wat later as gestig ontbloot word) herinner die teks sterk aan vroeë Leroux-werk.
“Soos in Leroux se werk is die hoofkarakter ’n ewige buitestander – die selfbewuste, verontruste skrywer-tipe – en die karakters tree bloot as argetipes op en word nooit werklik as ‘mense’ van vlees en bloed verken nie.
“Die tema van Renier se lewe wat basies in limbo of ‘purgatorie’ (203) verkeer, word ook goed in die vertelstyl weergegee. Dit is of die landskap deur ’n dik laag plastiek waargeneem word en min episodes kom tot volvoering. So byvoorbeeld sterf Pamela lank voordat sy Proot na die Boland kan vergesel en dis bloot sy toevallige raaksien van ’n advertensie vir ’n pos as assistent op Verstevlei wat hom uiteindelik na die Andrais-plaas lei. Op pad na die plaas swem hy in die stroom by Bainskloof, stap kaal deur ’n tonnel en ontmoet so – op ’n ietwat Brinkerige wyse – vir Lena – die Andrais-dogter op wie hy natuurlik verlief raak.
“Uit Huis Genade verken Proot onder meer ’n opleidingskamp vir Afrikaners waaroor hy ’n dokumentêr vir z-tv wil maak en ontmoet in die proses karakters soos majoor De Wet en Ernst Jwara. Wat werklik gebeur en wat suiwer verbeeldingsvlug is, word langsamerhand deur fyn leidrade ontbloot.
“Natuurlik word binne die geesteswêreld van Leroux ook mitologie betrek in die vorm van Christenskap: die praat in ‘tale’ en die uitstorting van die Heilige Gees. In eg Lerouxiaanse tradisie neig alles na die uiteindelike vereniging van die animus en die anima wanneer Proot sy intrek neem by sy suster, Michelle, in Huis Genade – wanneer die skisofrenie genees word.”
“Ek hoop dat sekere letterkundiges en lesers met ’n genuanseerde blik groot waarde, heelwat literêre semantiek en baie plesier uit hierdie boek sal kan kry.”
In 2014 word Jaco se eerste verhaal vir tieners deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel Siobhán van die sirkus.
Op LitNet wou Naomi Meyer by Jaco weet hoe Siobhán van die sirkus sy bestaan gekry het. Jaco antwoord: “Daar is ’n paar bronne vir die boek, maar die een waaraan ek nou dink, is dat Adinda Vermaak, wat bundels vir skole saamstel, my so twee of drie jaar gelede vir ’n kortverhaal gevra het. Ek het toe ’n seun van so 12 of 13 as verteller gebruik. Sy stem het vir my so goed geklink dat ek dit ook in ’n ander, langer storie probeer gebruik het. Dit was ’n verhaal wat nog nie gepubliseer was nie, oor ’n meisie van so 14. En vandaar het ek na Siobhán se stem beweeg wat ek as so half astrant teenoor gesagsfigure gehoor het.
“Verder hou ek al die jare van narre in watter gedaante ook al: harlekyne, boemelaarnarre, mimiekkunstenaars. Toe ek oor hulle begin lees, kom ek op ’n ryk veld van figure en legendes af. En ek kom so elke drie maande of wat in Wellington, wat ’n lieflike plek is, so ek kon oor die omgewing skryf.”
Oor die moeilikste deel by die skryf van Siobhán vertel Jaco aan Meyer dat hy geweet het hy wil iets oor ’n sirkuskamp skryf, maar hy het niks geweet van sirkuskampe nie. Waarvan hy wel iets geweet het, was ’n kampterrein in Wellington waar hy in standerd 8 (graad 10) in 1983 ’n skoolkamp bygewoon het: “Ons is weerbaar gemaak en het min geslaap. Vandag is ek bly ek kon daardie ervaring met so ’n draai in my storie aanwend. Om ’n nuwe agtergrond vir ’n storie te kry, is vir my nogal moeilik.”
Vir Jaco is die karakter meestal die belangrikste in sy boeke: “Ek is eenkeer in ’n tydskrifonderhoud as ’n randfiguur beskryf, maar die waarheid is, ek is baie lief vir mense. Ek is veral versot op familie-uitleg en staaltjies oor figure uit die ou dae. As jy ’n karakter het, kom die ander dinge gewoonlik daarmee saam, soos elkeen van ons ’n hele sleepsel, ruimte, atmosfeer, tema en intrige aan ons het.”
Clara Kirstein het op Storiewerf ook ’n klompie vrae aan Jaco gestel oor Siobhán en die sirkus. Sy wou weet waar hy aan die naam Siobhán met die eksotiese spelling gekom het. “Ek het die naam al voorheen gehoor en eendag ’n straat in Bellville gesien wat ‘Chavonne’ genoem is, maar die eksotiese spelling het ek die eerste keer op ’n TV-program gesien toe ’n onderhoud met so iemand gevoer is en haar naam onderaan die skerm geplaas is. Dit was ’n groot verrassing om te sien ’n mens spel dit so en dit het my bygebly.”
Sy wou ook by Jaco weet hoe hy dit regkry om so akkuraat met die jeug te vereenselwig. Hierop het Jaco geantwoord dat hy nie weet of dit so akkuraat is nie, maar wat vir hom van groot hulp is, is die feit dat sy vrou ’n onderwyseres is en hom gereeld van die tieners se doen en late en sêgoed vertel: “Verder lees ek jeugfiksie soos SE Hinton se boeke. Haar eerste werk is The outsiders en dis ongelooflik. Maar ek dink die belangrikste om te onthou is dat tieners soos enige mense drome en ambisie het. Hulle wil iets hê, partykeer iets konkreet soos ’n prys vir ’n prestasie, partykeer iets groot soos volwassenheid. Die vraag is natuurlik of volwassenheid die moeite werd is om na te streef. Maar dis uit so ’n vraag dat ’n skrywer moontlik ’n storie kan maak. Ek moet ook noem dat ’n skrywer ver kom met ’n goeie redakteur. Aldré Lategan het aan die manuskrip geskaaf het en dit meer tienervriendelik gemaak. Sy ken jeugfiksie baie goed en het my handige raad gegee.”
Op LitNet skryf Bibi Burger in haar resensie van Siobhán dat die skrywer gebruik maak van die universele formule van tienerboeke waar tieners weg van hulle ouers af (soos Siobhán, ’n graad 11-meisie wat in hierdie boek gedurende die tiendae-vakansie na ’n sirkusskool-kamp gaan) deur ’n tipe inisiasie gaan en so die eerste treë na hulle onafhanklikheid gee.
“Hierdie motief van ’n inisiasiereis beteken dat Siobhán van die sirkus nie soveel van Fouché se ander romans verskil as wat mens aanvanklik sou dink nie.
“Siobhán van die sirkus is veel meer positief as die res van Fouché se oeuvre en aan die een kant is dit verblydend dat Fouché nie, soos vele ander Afrikaanse jeugromanskrywers, probeer om so donker moontlik te gaan en te veel hamer op ‘issues’ nie. Ook Fouché se taalgebruik is onopgesmuk en probeer nie te hard nie (die haakplek van vele belowende jeugromans). (...)
“Aan die ander kant kan ’n ligte toon ook gesien word as patroniserend – asof die skrywer dink dat tienerlesers nie te veel ontstel moet word nie. Die roman word egter gered deur Fouché se kenmerkende dubbelsinnigheid – heelwat gebeure in die roman word nooit volledig verklaar nie en dit word aan die leser oorgelaat om daarvan te maak wat hy of sy wil. (...)
“Fouché gebruik die sirkusomgewing om op ’n subtiele manier kwessies rondom identiteit, geslagsrolle, seksualiteit en verhoudings te verken. Soos Siobhán oor haar narklere sê: ‘As ’n mens vermom is, kan jy enigiets doen.’ Wat Fouché se presiese boodskap rondom hierdie temas is, is nie duidelik nie. Ek beskou dit as ’n positiewe eienskap van die roman, omdat dit die werklikheid weerspieël. Volwassenes het nie noodwendig die antwoorde op hierdie kwessies nie, en dit is nie noodwendig by die volwasse kampleier, Klein-Piet, se lesse dat Siobhán die meeste leer nie, maar eerder by die goed waarmee hy self sukkel. Só probeer Fouché nie vanuit die posisie van volwasse skrywer antwoorde bied nie, maar beeld hy soos met sy ander romans op ’n genuanseerde manier karakters se soeke en reise uit en laat die interpretasiewerk aan die leser oor.”
In Volksblad (18 Augustus 2014) sluit Anél Viktor haar resensie af: “Jaco Fouché se eerste jeugboek gee nie voor om enigiets meer te wees as ’n tienermeisie se twee weke lange soektog na haarself nie. Niks is glansryk of oordrewe aan dié coming of age-verhaal nie.
“Die karakters is dalk minder kleurvol as die verwagting wat die woord ‘sirkus’ in die titel skep, maar hulle is nogtans geloofwaardig en jy kry met ’n menslike storie te doen. Die het ’n diepte-gevoel, maar nie almal gaan rêrig vóél vir Siobhán nie. Die idee van ’n sirkusskool op ’n plaas is verfrissend.”
Jaco se volgende boek, Somer, is weer ’n roman vir tieners. Jaco vertel aan Naomi Meyer op LitNet dat sy belangstelling in literatuur vir die jeug weer opgevlam het toe hy met sy vrou, Lorraine, ’n onderwyser aan die Hoërskool Hermanus, getroud is: “Ek het ook van die voorgeskrewe boeke nadergetrek. Veral iets soos Krismis van Map Jacobs van Adam Small het ’n groot indruk op my gemaak. Ook het ek van my eie gunstelinge uit my kinderjare weer bekyk. En wat gewoonlik gebeur, is dat die lees van ’n goeie boek my lus maak om my eie een te probeer skryf.
“Skryf vir die jeug is anders in die sin dat ek meen ek eerliker skryf. Of miskien moet ek sê meer reguit. Daar is minder suggestie en woordspelings en liriese sinne en ’n mens ondergrawe nie dinge soos jy in volwassene-fiksie maak nie. Dis ’n terugkeer na ’n tyd toe ’n mens nie so sinies was nie.”
Oor die karakters in Somer vertel hy aan Naomi Meyer dat die verteller ’n bruin matriekseun, Maison, van Hawston naby Hermanus, is wat dol is oor rugby, maar nie so erg oor die akademie is nie. “André is dieselfde, maar meer welaf en wit. Hulle tree aanvanklik in konflik met mekaar, maar word vriende wat saam die somer geniet. Albei ervaar frustrasie en hartseer in hulle gesinslewens en reik uit na ’n vriend. Dis iets wat ek van my eie jong jare onthou, dat ’n mens in ’n mate jou gesin verloën om jou vriende aan te hang. Vir my het dit soms skuldig en verward laat voel, want my vriende was ontsettend belangrik vir my en ek besef vandag ek het te veel van hulle verwag.”
In Somer gee Jaco erkenning aan die kinders van die Hoërskool Hermanus. Hulle was vir hom ’n inspirasie nadat sy vrou aan hom vertel het van die vriendskap tussen ’n bruin en wit seun: “My swaer het ook eendag aan my gesê dat ek in Hermanus bly maar nooit daaroor skryf nie. Die kinders aan wie ek erkenning gee, het die episode in hoofstuk 13 beleef toe ’n toeris na hulle verwys as ’n ‘mixed breed’. Die twee was baie ontsteld daaroor. Tersia Smit, ’n onderwyseres, het my daarvan vertel en dit het my getref op ’n wyse wat my skaam gemaak het. Ek bedoel, ’n mens ry verby Hawston en Mount Pleasant en wat jy gewoonlik dink, is dat dit swaar moet gaan hier en wat het jy met die Chris Rea-CD gemaak? Maar daar woon mense daar en wonderlike mense ook.
“Ek het met ander skoolkinders ook te doen gekry, soos eendag toe ek hekdiens by die rugby doen saam met twee bruin kinders en ek vir hulle koeldrank bring en ons ’n bietjie gesels. En ek het al in die skoolbussie gery saam met kinders, en na ’n uur vergeet hulle van die oom wat net voor hom sit en uitstaar en te skaam is om iets te sê en dan begin die stories oor hulle lewens vertel word. Daar is baie sulke voorvalle, miskien op hulle eie te klein om oor te vertel, en tog tel hulle op tot ’n geheelindruk.”
Op LitNet bespreek Dewald Koen Somer: “Fouché bespreek talle temas in die roman: emigrasie, godsdiens, seksualiteit, vriendskap, geestesgesondheid, armoede, misdaad, afwesige ouers, rassisme en stereotipering kom aan bod. Beide Maison en André se lewensverhale geniet aandag deur die loop van die roman en enkele raakpunte tussen hul onderskeie lewens word sodoende geïdentifiseer.
“Alhoewel die narratief op sigself interessant daar uitsien, is daar enkele aspekte wat my kwel. Maison en André se taalgebruik kom as ongeloofwaardig voor. As kritiese leser het die skrywer se volwasse stem te dikwels deurgeskemer en sodoende afbreuk gedoen aan die geloofwaardigheid van die tienerkarakters. Op bl 137 antwoord Maison André byvoorbeeld soos volg: ‘Aag, hel. Oud en moeg en der dagen sat in die diens van die Here’. Dit is hoogs onwaarskynlik dat ’n tienerseun (wat homself as ’n swak akademiese presteerder beskryf) in 2018 so ’n Nederlandse aanhaling in ’n informele gesprek met ’n vriend sal gebruik. Op bl 34 sê André hy ‘hoor [h]ulle het teenspoed gehad’. Alhoewel daar nie noodwendig van skrywers verwag word om streng by Standaardafrikaans te hou tydens die skryf van ’n jeugroman nie, is dié twee karakters se taalgebruik effens dik vir ’n daalder. (...)
“Die konsep waarmee Fouché gewerk het, het die potensiaal gehad om ’n opwindende jeugroman tot stand te bring. Die teks kon egter strenger geredigeer gewees het om die verhaal in sy geheel meer vaartbelyn te maak. Te veel temas word by die narratief betrek en die soms té formele taalgebruik doen afbreuk aan die hoofkarakters se geloofwaardigheid. Vergeleke met ander jeugromans wat onlangs verskyn het, haal Somer nie die paal nie.”
In Die Huisgenoot (22 Maart 2018) was Elna van der Merwe meer positief oor Somer: “Dis ’n verhaal waarby hoërskoolleerders groot aanklank sal vind. Dit beskryf helder die tyd wanneer ’n mens nóg vis nóg vlees is, nie juis geld het nie, nie mooi weet wat om met jou toekoms te doen nie en geen anafhanklikheid het nie omdat jy nog aan jou ouers gebind is vir ’n dak oor jou kop. Gee die boekg erus present aan jou inwonende tienerseun wat in ’n liefde/haar-verhouding met jou is.”
Jaco en Haydee Morgan-Hollander het gesels oor die skrywer Jack Kerouac en sy wou weet vanwaar sy fassinasie met Kerouac: “Toe ek in die weermag was, het ek begin ryloop en dit vir ’n paar jaar na diensplig nog gedoen, gewoonlik vir die uitstappie, maar soms omdat ek moes. En toe ek On The Road lees, het ek dadelik geweet hoekom Kerouac so graag geryloop het. Almal wat hom lees, is eintlik versot op hom. Sy boeke laat my dink aan daardie liedjie van Albert Hammond waarin hy sing: ‘But I gave it up for music and the Free Electric Band.’ Hy laat ’n mens glo jy kan van die gebaande weë afdwaal en nog ’n heenkome vind. Ek beny hom ook as skrywer sy werkywer. Of ek hét, tot ek uitgevind het hy was op Benzedrine of iets toe hy On the road in ’n rekord drie weke geskryf het. Baie skrywers het dit blykbaar al gebruik. Graham Greene ook. Dit was seker hulle weergawe van ’n tonikum in daardie jare.” (LitNet)
In 2010 sê Jaco aan Willemien Brümmer: “Deesdae is ek seker minder gejaagd en ambisieus. Ek is ook deesdae daarvan bewus dat ek ’n B-lys-skrywer is, en dis piekfyn om nie eersterangs te wees nie. Ten minste is ek ’n skrywer, en dis wat ek wou wees. Ek is bly oor my lewe. Dis nie ’n slegte lewe nie.”
Naomi Meyer (LitNet) wou by Jaco weet hoe hy die stand van die Afrikaanse letterkunde sien as hy terugkyk. “As ek terugkyk, sien ek jare se ontdekking en leesgenot. Dit wil egter lyk of die laaste werklik noemenswaardige figure die Tagtigers is. Kyk maar wie vat die groot pryse nog steeds. Was hulle die laaste werklik geletterde generasie?”
En as hy vorentoe kyk? “Die landskap vorentoe lê besaai met handrekenaars en slimfone wat almal eenkant gegooi is ter wille van nuwer handrekenaars en slimmer fone. Ek voel bekommerd oor die toekoms van die boek en my eie vooruitsigte. Dit lyk of ’n mens draaiboeke sal moet begin skryf en jou stories as visuele materiaal probeer verkoop. Ek word aangeraai om speurverhale te skryf, maar ek het reeds twee: Die ryk van die rawe en Die avonture van Pieter Francken. Stories sal daar egter altyd wees, waarskynlik visueel en skouspelagtig, maar afgewater, met swaar steun op die literêre werke van ouds, soos die hedendaagse musiekbedryf met sy vlugtige deuntjies op die klassieke musiek met sy grootse simfonieë steun.”
Jaco waag nie net sy hand aan die skryf van jeugboeke en romans nie, maar durf ook poësie aan – en dit in Engels. In 2019 was hy die wenner van die AVBOB-poësiekompetisie met sy gedig “A feeling like leaving the harbour” en in 2023 was hy in die vierde plek met sy gedig “Train of thought”.
Oor sy skryfwerk in Engels vertel Jaco aan Erika Terblanche (e-pos, 10 Januarie 2024): “Ek is nogal bly om in Engels te kan skryf. Dis iets heel anders as Afrikaans. Die woorde kom op ’n ander manier na ’n mens, meer uit ’n mens se leeswerk as uit die regte lewe, dink ek soms. En die skryfwerk is als meer kompak, omdat ’n mens so soek na die juiste woord.”
Ná twee jeugboeke publiseer Human & Rousseau in 2020 Aanspreeklikheid en waar hy in 2012 met Verstevlei die derde plek in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd gehaal het, word Aanspreeklikheid in 2018 as naaswenner aangewys. Dit is ook op 2018 se kortlys vir die UJ-prys.
Die beoordelaars vir die GAR het as volg oor Aanspreeklikheid geskryf: “Aanspreeklikheid is ’n intelligente en goed verwoorde roman wat aanvanklik verras weens ’n ongebruiklike buitestander-karakter, ’n paar interessante kinkels en diverse verhaallyne. Die uitbeelding van die hoofkarakter, wat telkens na kleiner dorpe en dan na die stad verhuis, is besonder goed gedoen. Die titel kry betekenis as mens agterkom dat dit gaan oor hoe ’n indiwidu aanspreeklikheid moet aanvaar vir sy lewe en keuses in ’n wêreld van sosiale en politieke verwildering. ’n Wêreld waarin die mens lukraak uitgelewer is aan geweld, psigopatiese persoonlikhede en irrasionele gedrag. Die verhaal het ’n ritme wat telkens lyk of dit op die onafwendbare afstuur. Dit is vlot en bedrewe geskryf met genoeg intrige om jou aan die raai te hou.” (LitNet)
“Aanspreeklikheid is ’n besonder boeiende roman oor ’n man, ene Jaco Diehl, wat betrek word by moorde. Hy woon eers in Hermanus, dan in Sandbaai en beland dan in Kaapstad. Hy het ’n vriendin in ’n inrigting, daar is verwysings na dwelms, alkoholmisbruik (die AA) en die verkragting van ’n man deur ’n man. En dan moord…
“Die peregrinasieverhaal gemeng met ’n speurverhaal en ’n onbetroubare verteller op die koop toe, maak van hierdie roman iets besonders.
“Aanspreeklikheid is sowat 250 bladsye lank en ’n mens wil die hele tyd weet wát gaan volgende gebeur. Gaan die moordenaar – eintlik dalk in die meervoud – aan die pen ry? (…)
“Aanspreeklikheid bevat apokaliptiese en distopiese elemente. Die nawoord gee belangrike sleutels vir verdere speurwerk in hierdie roman. ’n Mens behoort Skrywersblok (2009) weer te lees (...).
“’n Spannende roman wat iewers die draak steek met die letterkunde se beheptheid met speur- en moordverhale tans en wys dat jy helder en toeganklik kan skryf sónder om oppervlakkig te wees.”
Nadat Aanspreeklikheid as naaswenner in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd aangewys is, het Naomi Meyer op LitNet met Jaco gesels oor die roman en die prys. Hy het die roman as volg opgesom: “’n Mens weet eenvoudig nie of jou maaksel iets beteken tot jy die stempel van goedkeuring kry nie en dit het ek nou gewis. Die boek word in die eerste persoon vertel deur ’n skrywer met ’n verlede en ’n paar ongure neigings. Die verhaal gaan oor hoe sy lewe in die dorp Hermanus tot ’n einde kom en dan in Somerset-Wes, Bellville en Kaapstad voortgaan, altyd teen die agtergrond van spanning en konflik. Dit beeld sy gesukkel om homself as skrywer te hervestig uit, en ook daardie ongure neigings, waaroor hy soms skuldig voel, dikwels nie. Die temas waarvan hy bewus is, is wetteloosheid, immoraliteit, bloedlus, maar ook kreatiwiteit en ondernemingsgees. En dis hopelik snaaks hier en daar.”
In ’n ander onderhoud op LitNet nadat Aanspreeklikheid gepubliseer is, noem Naomi Meyer aan Jaco dat terwyl sy gelees het, het sy gedink: “Aanspreeklikheid is ’n misdaadroman in murg en been. Kan enigiets in hierdie land oplaas iets anders wees? Die timbre van spanning, alomteenwoordig, selfs snags op die radio. Wat is jou gevoel?”
Hierop antwoord Jaco: “Ek moet bieg dat ek erge publikasieberou gehad het na die verskyning. Was spyt oor alles en nog wat wat in die boek staan. Miskien vra ’n mens jou met die skryf van ’n storie af: Is ek en my donkerte orraait? Ek dink ook aan ‘verkennende veralgemenings’, dit wil sê die manier waarop ’n mens ’n scenario aanbied om te hoor wat ander mense daarvan dink, omdat jy glad nie gerus is oor jou eie opinies nie. Ek bedoel, ek is wit en Afrikaans en oor die vyftig jaar oud en het sekere idees in my kop. Ek kom tog sekerlik met baie bagasie na ’n kunspoging? Dis nodig dat ek uitvind wat mense dink van my moontlik verwronge blik op die lewe.
“Ek dagdroom dat ek iets skryf wat uitstyg bo al hierdie dinge wat ons so vrees en ons so besig hou. Of dit kan, weet ek nie. Het te min politieke insig. Ook word ek te meegevoer deur dingetjies. I miss the forest for the trees. Eintlik verkwis ek baie tyd deur te knies en te kwel oor dit wat ek nie kan verander nie. Maar ja, daar skryf ek toe iets oor die misdaad en moord en geweld en agteruitgang wat so baie mense pla. ’n Misdaadroman. En dit voel uiteindelik na heel die regte boek vir die tyd.”
Die hoofkarakter in Aanspreeklikheid is “skrywer, onbetroubare getuie, slagoffer en misdadiger”, soos Meyer dit stel. Sy wou weet of die hoofkarakter, Jaco, ook Jaco, die skrywer van die boek, is. “Ja, hy is ek. In voornaam, in sy preokkupasie met Fouché, die minister uit Napoleon se tyd, in sy negatiewe emosies. Nie in daad nie, wil ek sê, maar in gevoel. Ek het nie moord gepleeg nie, maar die sterk gevoelens wat ek probeer uitbeeld, dit ken ek maar te goed. Ken jy Mark Gungor, die motiveringspreker? In een van sy praatjies oor die huwelik sê hy mans ervaar een of twee emosies in ’n dag, maar ’n vrou beleef ’n honderd. Ek is dan soos ’n vrou, want my gevoelens speel wipplank met my. Daarby kom vlae paranoia, en saam met die vrese en woedes het ek dit als in die boek probeer plaas.
“Ook is die boek in die eerste persoon geskryf en daar is heelparty besonderhede uit my lewe in: skryf, Hermanus, Bellville. Dis ’n selfportret, maar soos deur iemand wat grafiese romans teken.”
Jaco vertel ook aan Naomi Meyer dat die titel van Aanspreeklikheid eers Die aandadigheid was: “Toe vra my vrou Lorraine se ma my oor die boek uit. Ek vertel dit gaan oor iemand wat deel voel van die misdaad en verval om hom. En sy sê, nee, dis nie aandadigheid wat ek beskryf nie, dis aanspreeklikheid. Maar dit het wel ’n regskonnotasie: misdaad wat gestraf moet word. Aanspreeklikheid vir jou optrede as burger in ’n regstaat. Vrae oor die doeltreffendheid en selfs relevantheid nog van daardie regstaat.
“Die eerste toneel het na my gekom soos ’n paar stories nou al gekom het, as ’n reaksie op die lewe in ’n woonstelblok. Hier woon verskillende soorte mense. Hier was al baie drama in die twaalf jaar wat ek saam met Lorraine is. Dis egter ’n wonderlike plek ook, waar ons al spesiale tye saam met mede-inwoners gehad het. Maar in ’n misdaadroman sal ’n mens op misdaad fokus – vandaar die eerste toneel.”
Op LitNet sluit Willie Burger sy LitNet Akademies-resensie-essay só af: “Uiteindelik is dit betekenisvol dat Aanspreeklikheid by die misdaadgenre aansluit. Jansen is tegelyk speurder en terapeut. ’n Speurtog na die verlede is nodig, vrae oor betrokkenheid en aanspreeklikheid moet gevra word. Die speurder hoef nie te veroordeel of te vervolg nie, en kan uiteindelik nie, maar moet uitvind wat gebeur het, ook in die verlede, en wat die individu tot konfrontasies met daardie gebeurtenisse lei.
“Die speurverhaal as genre is tans besonder gewild. Aanspreeklikheid sluit nie slegs daarby aan as vorm nie, maar dui ook aan wat die belangrikheid van die genre in ’n land soos Suid-Afrika kan wees.
“Aanspreeklikheid is nie ’n maklike of gemaklike roman om te lees nie. Dit onthuts en ’n leser moet versigtig lees, twee keer lees, drie keer lees. Dit is dalk een van die redes waarom Fouché nie die populêre aanhang geniet wat sy werk verdien nie. Maar om tyd met hierdie boek deur te bring is beslis lonend, nie omdat die roman troos nie, nie omdat dit lekker is om in ’n speurverhaal te ontsnap nie, maar omdat die speurverhaal aangewend word om die permafrost om jou hart soos ’n warm ploeg om te keer.”
En Chris van der Merwe se slotparagraaf van sy resensie op LitNet is as volg: “Jaco Fouché se Aanspreeklikheid is ’n komplekse, diepsinnige, fassinerende boek – uiters geskik vir bespreking deur leeskringe. Die tema van aanspreeklikheid is besonder relevant vir ons tyd; dit betrek nie net die hoofkarakter nie, maar raak ook aan die plig van skrywers en die verantwoordelikheid van lesers.”
In 2021 is Jaco se Engelse jeugboek The Kowie op die kortlys vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur (Engels) in 2021. Die boek is egter nooit gepubliseer nie, aangesien die uitgewers nie verwag het dat dit sal verkoop nie. (e-pos van Jaco Fouché aan LitNet)
Oor die agtergrond vir The Kowie vertel Jaco aan Naomi Meyer op LitNet: “Die storie, behalwe vir die laaste hoofstuk, speel af in Hermanus. Dit vertel die verhaal van ’n matriekleerling wat gedurende die vakansie in ’n buiteverbruik (dit wil sê ’n drankwinkel wat aan ’n hotel behoort) werk. Hy pak die rakke en doen aflewerings met ’n ou fiets.
“Die idee van die storie het al in my skooldae by my aangemeld toe ek ook by so ’n drankwinkel gewerk het en baie interessante ondervindinge aldaar gehad het met verskillende tipes mense. Die hoofkarakter bly saam met sy ma en broer. Sy pa is iewers, maar hy weet nie eintlik waar nie. Die familie is die hooftema van die boek.”
Naomi Meyer wou ook by Jaco weet wat onderskei ’n Suid-Afrikaanse Engelse boek van ander Engelse jeugfiksie: “Yes, there are many books, in all genres. Every time I walk into a bookstore, I’m intimidated by the possibilities stacked all around me. Why write? Because you (as a reader yourself) know all about the joy that a reader finds in a good book. You want to replicate that joy, be responsible for it. A book is a hand reaching out, sometimes to communicate, sometimes to offer comfort, sometimes to outrage. Writing English is of course a slower process to a native Afrikaans-speaking person. I find I think more carefully before putting down sentences. Don’t know if that’s good or bad. As for young people – their company energises. They have so much potential, and their attitudes reflect this. Writing about a young person you feel some of that potential, those attitudes. Makes you feel young again!”
Jaco se jongste roman is Simoelégri wat in 2021 gepubliseer is. En ná ’n derde en tweede plek in NB-Uitgewers se Groot Romanwedstryd loop Jaco toe in 2021 met die eerste prys weg met hierdie roman.
“In Simoelégri vind Lady Die huisvesting in die ruïne van ’n kerk in die stadsbuurt Simoelégri. Dis waar sy saam met talle ander vlugtelinge beland ná die virus en die daaropvolgende rampe en sosiale onrus. In ander dele van die land is daar nog sprake van orde, maar nie in Simoelégri nie. In Simoelégri is jou beste vriend die straat se dwelmhandelaar en jou hitte kom van ’n konkavuur. In Simoelégri loop die groter onrus en geweld. Dit is nie meer nuus dat die Voorsienigheid dalk gekom en toe gegaan het nie. In Simoelégri sak die strukture stadig inmekaar,” word die roman opgesom in Rapport (14 Maart 2021).
Die paneel beoordelaars vir die prys was Valda Jansen, Alida Potgieter en Herman Wasserman. In hulle commendatio het die beoordelaars só geskryf oor Simoelégri: “Dit is ’n enigmatiese, fassinerende werk oor marginale karakters wat hulself en mekaar probeer vind in ’n postapokaliptiese verstrooiing. Die verhaal is tegelykertyd verbeeldingryk en vreemd, maar tog duidelik herkenbaar in die manier waarop aktuele sosiale en politieke kwessies aangesny word – ’n tipe toondig vir ons tyd. Die ek-verteller, Lady Die, (oftewel ‘Dame Dood’), is transgender en woon in ’n ou verlate kerk in die armoedige en gevaarlike fiktiewe enklave, Simoelégri.
“Melankolie en besinning word afgewissel met humor en die rol van godsdiens, ofte wel ’n soort spirituele soeke na ’n sinvolle bestaan, word belig. Die struktuur, milieu en verhaallyn is weldeurdag en daar is iets elegies aan die vertelling, met die werklik gesaghebbende, wyse, filosofiese stem van ’n ervare skrywer aan die woord. ’n Waardige wenner.” (Netwerk24, 21 Maart 2021)
Op LitNet som Jaco Simoelégri só op: “My boek speel af in ’n minder gegoede, selfs vervalle, stadsbuurt in die nabye toekoms. Die verhaal vind in die nadraai van onbepaalde krisisse plaas, hoewel ek spesifiek ’n virus noem not unlike a certain virus of our acquaintance. Die idee vir die buurt het ontstaan toe ek ’n lugfoto van ’n Europese stad sien waarin blok na blok na blok dieselfde lyk: drie of vier verdiepings hoog en baie grou in kleur. Weet nie meer watter stad nie, onthou net daar het so ’n skuins pad deur die reëlmaat van die geboue en straatblokke gesny. Die toneel het bra deprimerend voorgekom, maar het tog my verbeelding aangegryp.”
In ’n onderhoud op LitNet wou Naomi Meyer by Jaco weet: “Hoekom skryf skrywers – in ’n tyd van ’n pandemie, in ’n tyd sonder ’n pandemie? Hoekom skryf jy?”
Hierop antwoord Jaco: “Skrywers reageer op hulle onmiddellike omgewing. In ons onmiddellikheid is daar ’n pandemie. Ons gaan daaroor skryf. Is daar nie ’n pandemie nie, maar ’n dreigende burgeroorlog, of kulturele droogte, skryf ons oor daardie stel omstandighede.
“Skribbelary is iets wat ek ’n paar keer laat vaar het. Dit lyk soms so sinloos in ’n wêreld wat meer mediese dienste en bekostigbare regshulp nodig het, om van beginselvaste politici nie te praat nie. Wat moet ’n mens met fiksie maak? En tog is daar die behoefte om met die taal te werk. En ook die begeerte dat mense lees wat jy gepleeg het. Miskien is dit pleinweg ekshibisionisme, die kunste.
“Hoe ook al, ná ’n paar dae, weke of maande, tref die private bevlieging my weer en dan begin ek aantekeninge maak. Dis gewoonlik in kleinserigheid: Iemand sê of doen iets wat my pla, in my persoonlike lewe of in die nuus, of ek lees ’n mooi beskrywing in ’n ou gedig, en dan krap dit so aan my dat ek dit moet uitskryf. Natuurlik is dit ook lekker as ’n mens af en toe ’n sin uit die warboel in jou kop wring wat jou bly en dankbaar maak dat jy die moeite gedoen het.”
Meyer vra vir Jaco of skryf vir hom terapie is en of dit hom beter laat voel: “Iewers het ek gelees dat die beste deel van die lewe die deel is wat jy jou verbeel of nog afwag. Ek hoop ek onthou dit reg. Dit gaan oor die verwerking van sleur en spanning. Ek sou in elk geval geskryf het, sonder publikasie ook. Dan sou ek seker ’n dagboek gehou het.
“Dit laat my wel beter voel. Nie net oor die gedagtes en ervarings wat ’n mens verwerk nie, maar oor die suiwer feit van werk doen, van ’n taak verrig. Dis ’n wonderlike gevoel om ure lank verdiep in ’n stuk skryfwerk te wees en dan terug te sit en te dink oor die paragrawe wat jy geskep het. Dit voel altyd na iets wat die moeite werd was. Nie baie tydverdrywe gee my daardie gevoel nie. Studeer gee dit ook. Dalk is ek ’n ‘muppy’: middle-aged and upwardly mobile.” (LitNet, 28 September 2021)
Oor die titel Simoelégri en die betekenis daarvan vertel Jaco aan Meyer op LitNet: “Toe ek in Bellville gewoon het, was ek dikwels by die biblioteek, nie net om boeke uit te neem nie, maar ook om daar te gaan sit en lees aan alles en nog wat. Op ’n keer was ek ’n bietjie in die finansiële knyp en het ’n sak vol van my hardebandstorieboeke vir R20 by ’n pandjieswinkel langs die ou Hoërskool Bellville in Voortrekkerweg van die hand gesit. Daarna het ek vir die eerste keer in dae ’n pakkie sigarette gekoop, een gerook en ’n pastei geëet, besef ek is nog glad nie gerus oor my lewe nie, en biblioteek toe gestap en daar in die kinderafdeling na ’n boek op soek gegaan wat ek as laerskoolkind in Vereeniging baie geniet het. Ek het sowaar daar in Bellville se bib ook ’n kopie gekry, op die vloer gaan sit en ’n deel daarvan gelees tot ek kalm gevoel het. Toe kon ek weer die dag aandurf – die vonds van die boek het veel belowe wat positief was. Die boek was Avontuur Limpopo, ’n Staal Burger-roman van Fanus Rautenbach, en ek wou daardie dag net iets voel wat ek as kind gevoel het, so ’n sekerheid dat als tog reg is. Wat dit ook later was.
“Vele ander boeke het my ook aangestaan, soos goed oor taalkunde en sielkunde, en ek het iewers op die woorde simulacrum afgekom. Toe vergeet ek dit en onthou dit was iets wat soos ‘simoelégri’ geklink het. Dis hoe ek die woord in my kop gekry het. Ek wou dit al lankal iewers inspan. Die betekenis is van ’n beeltenis of uitbeelding, beslis ’n ‘verminderde weergawe’, soos ’n onduidelike fotostaat van ’n oorspronklike dokument, of soos ek ook gesê het, ’n boek van ’n stad of ’n verhaal van ’n karakter.”
Louise Viljoen begin haar bespreking van Simoelégri (Rapport, 29 Augustus 2021) as volg: “Die aanvangsin in Jaco Fouché se roman Simoelégri, wenner in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd vroeër vanjaar, is sowel liries as informatief: ‘Wanneer ek nie soos ’n man redeneer en my lot in die lewe herbeplan nie, werk ek aan ’n dans, iets wat ek hier in die vertrek bo die kerk doen, tussen my konkavuurtjie en die boeke oor die kerkstigters en emansipasie wat ek nog wil hou. Vir ingeval. Vir ingeval.’
“Aan die woord is die roman se hoofkarakter, Lady Die. Daar is suggesties van vloeibaarheid tussen mans- en vroue-identiteite, ’n lewe wat om een of ander rede herbeplan moet word, ’n ongewone blyplek sonder elektrisiteit en verwarming, ’n liefde vir die uitdrukkingsmoontlikheid wat dans bied, asook ’n sin vir ironie en ’n element van optimisme.
“Ons het hier te doen met ’n roman wat afspeel in die toekoms, êrens nadat ’n virus en ’n ongespesifiseerde krisis die land omgekeer het. Dit fokus op ’n paar karakters wat hulleself bevind in ’n bouvallige woonbuurt genaamd Simoelégri. (…)
“Dit is onvermydelik dat ’n mens hierdie roman sal lees met Fouché se vorige roman, Aanspreeklikheid, in die agterkop. Laasgenoemde was inhoudelik en stilisties meesterlik. Dit het herinner aan die meedoënlose presisie waarmee Camus in sy bekende roman L’étranger ’n buitestanderfiguur geskryf het. Dit is die soort boek waarmee ’n skrywer in ’n groter leesgemeenskap as die Afrikaanse kultusstatus sou kon bereik.
“Hoewel Simoelégri nie vir my op dieselfde vlak as Aanspreeklikheid is nie, bied dit wel ’n fassinerende uitsig op die toekoms, veral omdat dit aangebied word uit die perspektief van ’n karakter met ’n bepaalde agtergrond en lewensinstelling. Daar word ook met ’n groot mate van empatie gekyk na die manier waarop die minstes in ’n samelewing hulle verweer teen ’n krisis van apokaliptiese omvang. Dit is ook ’n roman waarin die haglike en die hoopvolle mekaar tegemoet tree sodat dit nie ’n volslae negatiewe toekomsblik is nie.”
Naomi Meyer wou weet: “Is hierdie verlede jaar? Is dit die toekoms? Hoe werk tyd in ’n storie? ‘Die gebeure was in elk geval hoe die laaste herinneringe aan ’n redelik onskuldige wêreld vir my was, deurtrek met die geur van dennebome, die groen van wingerd, die gedagte aan die bloed wat teen mure en aan beddegoed kon gekleef het. En wat maak dit vandag saak? Soveel mense is dood, Hendrik-hulle seker ook al. Wat bly oor, die luiperds en die kobras? En hier sit ons in die stad en wie kan sê of ons beter of slegter daaraan toe is? Maar ek het genoeg gesê vir eers. Dit maak darem die nag korter.’”
Jaco se antwoord hierop: “Ja, die tyd van die storie is winter 2020. Dis toe die ding vorm gekry het. Maar dit steier tog ook die onmiddellike toekoms in. Toe Nèlleke (de Jager) met my die Netwerk24-onderhoud gevoer het, was dit die tweede week in Julie 2021, pas na die hewige onluste en diefstal in KZN en Gauteng. Toe het ons gepraat oor hoe onheilspellend toepaslik nie net Simoelégri is nie, maar ook Aanspreeklikheid. Dit laat ’n mens skrik. In sommige kringe voel mense jy moet liefs nooit praat oor moontlike onheil nie, want dan spreek jy dit oor jouself uit. Jy maak dit waar. Dis hoe ek vir ’n paar dae gevoel het, dat ek dalk op die een of ander manier gehelp ontketen het aan die bose magte. Nou ja, dis reeds weer ’n idee vir ’n ander boek net daar.”
Publikasies:
Publikasie |
Die ryk van die rawe |
Publikasiedatum |
1996 |
ISBN |
1874901503 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Eugène Marais-prys 1997 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Paartie by Jake’s |
Publikasiedatum |
1997 |
ISBN |
1874901643 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die avonture van Pieter Francken |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
0624042642 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
2 dae in Mei |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9781415200339 (sb) |
Uitgewer |
Roggebaai: Umuzi |
Literêre vorm |
Novelle |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Ed van Inligtingstelsels: ’n kantoorwerkersroman |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780799344585 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Skrywersblok en ander verhale |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9781869192808 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Grysland-verblyf: ’n novelle |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
9780795703515 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Kwela |
Literêre vorm |
Novelle |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Verstevlei |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780798157797 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Derde prys in NB Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Siobhán van die sirkus |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780798167543 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Somer |
Publikasiedatum |
2018 |
ISBN |
9780798175340 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Aanspreeklikheid |
Publikasiedatum |
2020 |
ISBN |
9780798178334 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Vertalings deur Jaco Fouché:
- Jooste, Pamela: Môrester. Kaapstad: Umuzi, 2007 [ISBN 9781415200421 (sb)]
- Kleinboer: Midnight missionary. Kaapstad: Zebra Press, 2007
- Liebenberg, Danila: Nuut op die boekrak. Volksblad, 30 Desember 2008
’n Keur van artikels oor Jaco Fouché
- 4 vrae aan Jaco Fouché. Vrouekeur, 16 April 2018
- ABSA Chain: Jaco Fouché in conversation with Anton Krueger. LitNet, 20 Desember 2006
- ABSA Ketting: Tinus Horn gesels met Jaco Fouché. LitNet, 12 Desember 2006
- Barendse, Joan-Mari: Eietydse ridders: ’n Vergelyking tussen Die mugu (1959) deur Etienne Leroux en Die avonture van Pieter Francken (2005) deur Jaco Fouché. LitNet, 16 September 2010
- Brümmer, Willemien: ’n Lewe ná Bellville. Die Burger, 24 April 2010
- De Vries, Willem
- Bellville verruil vir die plaas. Beeld, 9 Mei 2013
- Fouché verken die Boland. Die Burger, 9 Mei 2013
- Engelbrecht, Theunis: Selfsug en godsdiens temas wat tot dié skrywer spreek. Beeld, 12 Junie 1997
- Fouché is moeg vir melodrama. Die Burger, 29 November 2007
- Jaco Fouché
- Jaco Fouché
- Jaco Fouché. Storiewerf, 6 Julie 2017
- Kirstein, Clara: Onderhoud met Jaco Fouché. Storiewerf, 19 Januarie 2015
- Kleyn, Leti: Verkeersknoop in die kop. Rapport, 3 Augustus 2010
- Malan, Mariana: Uit veld geslaan oor Eugene Marais prys. Die Burger, 16 Julie 1997
- Meyer, Naomi
- Myburgh, Melt: Korona-kortverhaalfees: Jaco Fouché oor “Magda”. LitNet, 8 Junie 2020
- Slippers, Bibi: ’n Bietjie kranksinnigheid: Jaco Fouché gesels oor sy GAR-manuskrip. 20 Maart 2012
’n Keur van artikels deur Jaco Fouché
- A crucial connection [kortverhaal]. LitNet, 29 November 2011
- ’n Affêre [prosa]. Rooi Rose, 22 Julie 2019
- ’n Annerster soort se stem is sterk [resensie]. LitNet, 13 September 2011
- Blou Maandag: bundel het vermaak sowel as meriete [resensie]. LitNet, 26 Oktober 2011
- Boekresensie: Judaskus deur Rudie van Rensburg. LitNet, 26 Junie 2015
- Die enigste noemenswaardige verhaal [artikel]. LitNet, 3 Augustus 2022
- Die generasie gaping – Jonk, wit, Afrikaans… en wêreldburger. Rapport, 30 Desember 2001
- Die geskiedenis van die wêreld / Wetenskapfiksiekompetisie. LitNet, 7 Desember 2023
- Die liefde [gedig]. LitNet, 31 Mei 2020
- Die ou mense se dinge lyk nou bra gek. Rapport, 4 November 2001
- Dogs [kortverhaal]. LitNet, 17 Augustus 2016
- Ek het uitgegaan [gedig]. LitNet, 11 Augusts 2011
- Elegie vir ’n sterfling [gedig]. LitNet, 7 September, 2017
- Francken se vroue [kortverhaal]. OuLitNet
- ’n Geleentheid soos dié [kortverhaal]. LitNet, 6 Februarie 2012
- ’n Gevoel vir ’n man [kortverhaal]. LitNet, 13 Desember 2011
- Herfsmiddag [gedig]. LitNet, 4 April 2017
- Into the red deur die Blues Broers. LitNet, 20 Mei 2014
- Kind van God. LitNet, 27 Januarie 2015
- Lees: ’n poort na die lewe [universiteitseminaar]. LitNet, 18 Oktober 2016
- Lena in die stad [kortverhaal]. LitNet, 6 Februarie 2007
- Lesersindruk: Marga & Henriëtte: die skadu van skisofrenie [resensie]. LitNet, 30 Mei 2016
- LitNet Akademies-resensie-essay: Die boekspeurder as buitestander [resensie van Byleveld]. LitNet, 16 Februarie 2012
- Mens [gedig]. LitNet, 11 Januarie 2007
- Musiekonderhoud: Jaco Fouché in gesprek met Albert Frost. LitNet, 15 Junie 2020
- Op hierdie mense en dinge, dan [gedig]. LitNet, 28 November 2016
- Op ’n skemeraand so koel soos trane [gedig]. LitNet, 11 Januarie 2017
- Poolshoogte: Oor die army, generasies en selfportrette. LitNet, 27 Augustus 2014
- Resensie: Geheime revolusie: memoires van ’n spioenbaas deur Niel Barnard en Tobie Wiese. LitNet, 24 Junie 2015
- Skisofrenie. LitNet, 8 Junie 2012
- Soutrivierstasie (soos onthou uit 1997) [gedig]. LitNet, 4 April 2017
- Stomdys [fiksie]. LitNet, 14 Junie 2016
- Student, waardeer jou studie [universiteitseminaar]. LitNet, 2 September 2016
- The we field [kortverhaal]. LitNet, 17 September 2014
- Uit die argief: gedigte deur Jaco Fouché. LitNet, 28 November 2012
- Vir ’n sterfling [gedig]. LitNet, 28 November 2016
- Visioene van Syd (1946-2006) [gedig]. LitNet, 23 Maart 2015
Jaco Fouché se ATKV LitNet-skrywersalbum is 20-06-2019 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.