“Magda” is ’n aangrypende verhaal, Jaco. Is dit op die waarheid gegrond? Het jy ’n bekende persoonlikheid in gedagte gehad toe jy die aktrise-karakter geskep het?
Ja, ek het. Dis ’n Afrikaanse aktrise wat ek via haar familie leer ken het. Eendag het sy vir my ’n lang gedig wat sy geskryf het, voorgelees, eintlik opgevoer, sommer in iemand se sitkamer. Dit was net ons twee, ek so 45 en sy in haar sewentigs. Ek was nog maar selde in ’n teater vir opvoerings, so jy kan jou voorstel hoe daardie voorlesing deur ’n ervare aktrise my geraak het. Die karakter in my verhaal is losweg op haar gebaseer, hoewel die storie self uit my duim gesuig is. Sy het ’n baie goeie indruk op my gemaak, was nederig en classy tegelyk. En natuurlik kom sy as aktrise met al daardie wonderlike bagasie saam – ek bedoel al die rolle wat sy in haar lewe gespeel het. Haar kinders is ook dierbare mense, hoewel ek nie beplan om oor hulle te skryf nie! Die hotel bestaan. Dis hier in Hermanus, op die see.
Elke keer wanneer ek ’n verhaal van jou lees waar ’n eerstepersoonsverteller aan die woord is, kan ek nie anders as om te wonder in hoe ’n mate die verteller op die skrywer self gebaseer is nie. Is dit regverdig van my as leser om jou ek-vertellers so te benader, of behoort ek van beter te weet?
Daar beland baie dinge uit my lewe in stories, maar in die skryf word dit volslae fiksie, glo ek. Wat ek soms doen, is om my voor te stel hoe ek in ’n situasie sou reageer. Verder plak ’n mens detail by soos dit jou pas of soos jy dit tot jou beskikking het. Een probleem wat ek met skryfwerk ervaar, is agtergronde. Sou graag meer dorpe en stede wou geken het. Maar die ek-vertellers lyk vir my ook baie na my.
Jy beland kort-kort op ’n kortlys vir ’n literêre prys. In 1997 het jy die Eugène Marais vir Die ryk van die rawe gekry, en in 2012 het jy vir Verstevlei die derde prys in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd ontvang. Hoe voel jy oor literêre pryse?
Ek werk nie volgens ’n roetine nie, maar volgens geesdrif. As ek in die luim is, skryf ek baie, partykeer vir dae lank. Maar wanneer dit nie wil werk nie, moet ek dit los en later terugkom. Dankie tog, tot dusver het ek nog elke keer weer die gier gekry om iets te tik.
Ek het nog net vier pryse gekry. Ek is absoluut dankbaar daarvoor. Eintlik vir goeie lesers. Of moet ek sê simpatieke lesers? Ons skrywers is suckers vir simpatie. En goeie inkomste vir skryfwerk is altyd welkom.
Lees Jaco Fouché se kortverhaal, “Magda”, hier:
Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar: