Magda

  • 0

Ek was moeg. Nog nie oud nie, maar wel der dagen sat. Na weke van werkspanning, toe Nel dit voorstel, het ek tot die verlof ingestem en die volgende dag vertrek en alles agterweë gelaat: take, rekeninge, verkeer, afgesweerde vriendinne, die vriende wat ’n mens toevallig versamel.

Die hotel was by die see. Staan ek by my venster, kyk ek oor die straat na waar mense teen skemer iets drink. Die grasperk loop tot teen die rotse, en van daar af na die water is dit so tien meter en ’n mens kan met ’n houttrap afgaan soontoe.

Dis waar ek die vrou ontmoet, onder die houttrap langs ’n krans waarteen vars water afstort tot in die koue seeskuim. Sy lyk ongewoon, in ’n jas en met ’n verrekte mus op haar kop, seker iets wat tydens ’n reis gekoop is, of by ’n tweedehandse winkel. Haar gesig lyk sag, haar mond asof dit gepruil het toe sy jonk was. Toe ek haar oog vang, kyk ek weg, oor die blou, stuwende water, maar sy staar en ek draai terug en knik.

“Dis ’n troostelose omgewing,” sê sy. Haar stem is duidelik.

Ek kyk rond. Troosteloos? Dis wel koel, maar die kusgroeisel is heldergroen en die water blou en die skuim wit en die rotse bruin. En terwyl ek daar staan, sien ek ’n dassie agter ’n rots inglip soos ’n kussing wat van ’n bed af val.

“Nee,” wil ek stry, maar sy het aangeloop na die trap, waarteen sy stadig uitklim.

Aandete sit sy alleen, diep in die eetkamer. En dit terwyl die ander etendes wedywer om ’n tafel by die venster. Ek neem teen ’n muur plaas en bestel lamsvleis. Die vrou eet met haar mus steeds op haar kop, en sonder om op te kyk en bestek van die ruim vertrek te neem.

In die nag lê ek wakker en luister na die see. Miskien is dit al die dinge in die stad wat my nog pla: die werk, die eiendom, die paaie waar ek nie meer wil loop en ry nie. Of moet ek in my jeug gaan krap vir redes? Miskien is dit die vleis wat ek vanaand geëet het. Ek staan op en loop met die sagverligte gang langs, kaalvoet op die diep mat, tussen die afdrukke van ou tonele deur: Europese soldate uit die agtiende eeu, ’n vrou hande omhoog op ’n bruggie, kinders by feetjies in ’n sprokiestuin.

Die houttrap kraak onder my. By die voordeur lyk die nagportier verras om my te sien. Ek stap dieper die gebou in, verby ’n dameskroeg waarvan die deur gesluit is, tot in ’n sitkamer.

Hier sit ek lank in ’n gemakstoel. Daar is nie veel om aan te dink nie. Dis warm genoeg in die vertrek om my vaak te maak. Miskien wag ek, ek weet nie. Miskien wil ek net slaap.

Dan kom sy die vertrek binne, die ouerige vrou, hierdie keer met ’n ander bedekking op haar kop en geklee in ’n japon met ’n Oosterse draakmotief.

“Kan jy nie slaap nie?” vra sy. Sy het ’n notaboek en pen by haar.

Ek weet nie wat om te sê nie en sit daar, die jonger, oorbodige man in die geselskap van die bejaarde vrou wie se mond beweeg terwyl sy skryf. Eers pla dit my dat sy my so oor die hoof sien, maar wat wil ek tog ook vir haar sê? Ek mik om op te staan en die vrou aan haar skryfwerk oor te laat, toe sy praat.

“Ek vind dat ’n mens op reis ervarings beleef wat iets kan beteken.”

Ek sê niks. Die woorde klink so vanselfsprekend. Haar stem val my weer op, soos vroeër onder by die water. Sy praat besonder duidelik.

“En jy doen die kennis van ander op.” Sy sit op die punt van haar stoel, die boek in haar skoot. “Ek is Magda.”

“Dewald.” Ek staan op en gaan skud haar hand, wat sag en warm tussen my vingers voel. Die mou van die japon val terug om haar pols en ek sien ’n rits armbande met kruisies, sterretjies, halfmane, vreemde simbole. Nou het ek rede om na haar gesig te kyk. Sy dra geen grimering nie. Om haar oë en oor haar gesig is die vel geplooi. Sy kom tegelyk waaksaam en verwond voor. Haar boesem en heupe verleen iets vorstelik en byna onvanpas sensueel aan haar. Dis die soort gedagte wat ’n mens oor jou tannie kry en dadelik doodtrap.

“En?” vra sy. “As jy so kyk?”

“Wat skryf jy, Magda?”

Sy laat sak haar gesig na die boek soos een wat ’n gewyde iets gaan doen: sing, bid, evangeliseer.

“Ek skryf oor my seun.”

Ek het weer gaan sit en is ingerig vir ’n nag se gesels. Dis stil, buiten die see wat soos bloed in die are van die wêreldliggaam ruis. Daar is stof in die lug – die meubels en mat moet oud wees.

“Waar is hy? Ook hier?”

“Hy is elders. Besig.”

“En nou skryf jy oor hom?”

“Dis ’n eenvroustuk waaraan ek werk. Vir die Winterfees.”

“O, jy is ’n aktrise? Moet ek jou ken?”

Nou pruil haar mond werklik en sy kyk kamtig kwaai rond en deklameer dan in ’n nasale stemtoon: “‘Roelf Janse, wat julle jongmense van vandag aan ons oumense doen, is nobody’s business.’”

Ek lag verras. “Natuurlik. Roelf Janse, die restauranteienaar. Jy is Magda Somersby of Elkie. Van daardie televisiereeks oor die eetplek.”

Dit lyk asof sy bly is om geken te wees.

“So dis ’n huldeblyk wat jy daar skryf?” vra ek.

“Ek kan vir jou ’n stukkie lees.” Dis asof sy my verlei.

Ek wens ek kan woord vir woord weergee wat sy oordra. Nou moet ek met ’n geheelindruk volstaan, en net sê dat sy regopskuif in haar stoel, die notaboek ’n ent van haar gesig hou – en begin voordra. Dis ’n gedig wat sekerlik op sigself, op papier, treffend sou wees. Maar in haar voordrag kom iets by wat my laat verstaan waarom mense teater toe gaan.

Magda Somersby vertel my in haar helder stem van ’n seun wat gekom het soos ’n belofte wat deur die Voorsienigheid verhoor is. Van die vreugde wat die kind gebied het, sy pligsgetrouheid, sy bedagsaamheid, sy liefde. Dit alles word vertel teen die agtergrond van ’n plaas, Oggendrivier, waar die familie vir ’n ruk gedy het voor dit oorval is deur die tydelikheid en die onvermydelikheid, en als verkoop is sodat daar vandag slegs herinneringe oorbly en ’n sekere waardigheid wat, sê Magda, aan suiwer nostalgie te wyte is.

Sy het gesê: “Ek het ’n man liefgehad saam met wie ek ’n seun voortgebring het.”

Dit was ’n verklaring van prestasie en wonder. Ek kon niks sê nie, maar ’n groot skaamte het oor my gekom oor ’n eie bejaarde ouer wat ek lanklaas gesien het. Ek het egter niks laat blyk nie. Reeds was dit asof die vrou soos my gewete optree.

Hoe lank ons in die sitkamer was, weet ek nie. Die vrou het klaar gepraat en ek het gesê dat dit ’n treffende vertoning was. Ek kon nie sien of sy daarmee ingenome was nie. Miskien was daar reeds soveel akkolades in haar verlede dat myne net nog een van vele was en vergeetbaar.

Ons het bly sit. Ek was vaak en wou gaan lê. Ek het nie. Die vrou, verdiep in wat sy skryf, het nie weer na my gekyk nie, hoewel ek haar dopgehou het, bedag op inspirasie, of net nog geselskap, iets om my te laat ontkom aan die towerspel van melankolie waarin ek my bevind het. Daar in daardie stoel het ek geslaap tot ek verkwik en versterk was.

Die vrou was nie. In elk geval nie op die oog af nie, nie daar waar sy ineengedruk was onder die las van haar eie lyf oor haar skryfwerk nie. Sy was dood.

Ek het die personeel laat weet. Mense het opgedaag. Verleë, oorbodig en selfbewus het ek probeer verduidelik wat ek in haar geselskap gemaak het, maar niemand het geluister nie. Dit het eenvoudig nie saak gemaak nie. Die vrou is weggeneem.

Daar was nie sin daarin om langer in die kusdorp te bly nie. Ek is weg, miskien op lafhartige wyse, voor iemand my oor enige moontlike naasbestaandes kon uitvra. Dieselfde dag het ek teruggery.

Haar seun het ’n toekenning by die Winterfees namens haar in ontvangs geneem. Ek het vir niemand gesê dat ek haar ontmoet het nie, selfs nie toe ek een aand by ’n geleentheid die seun by my sien verbyloop nie. In ’n vlaag weet-nie-wat-nie, miskien ook eenvoudig net selfsug en besitlikheid, het ek besluit om wat ek van haar het, vir myself te hou.

Wat doen ’n mens ook anders met jou herinneringe?

 

Lees ’n kort onderhoud met Jaco Fouché oor “Magda” hier:

Korona-kortverhaalfees: Jaco Fouché oor “Magda”

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top