Die yskas is wit en laer as Jan se kop. Eileen sê: “Ek sal lekker maklik bo-op kan bykom.” Dis ’n Wyness. Die naam is sigbaar op die winkelvensters wat op die supermark uitkyk.
“Ons wil hierdie een hê,” sê Jan. Hy moet hard praat, want die verkoopsman is aan die ginnegaap met ’n vroulike klerk.
“Seker,” sê die verkoopsman. Hy neem die geldnote by Jan en handel die papierwerk in rekordtyd af, waarskynlik haastig om na sy gesprek terug te keer. “Ons lewer môre af.”
Buite glimlag Eileen vir Jan. “Dis ’n mooi yskas. Nie die grootste een nie, maar ons het nie meer nodig nie.”
“Pasop vir jou handsak teen die kar.”
“Nou ja, laat ek nie jou heiligdom skaad nie.”
Jan vee met sy handpalm oor die blink dak van sy motor.
Die aand maak Jan ’n draai by ’n kollega. “Ons het ’n yskas goedkoop gekry. Nou sal ek ’n bietjie geld eenkant kan sit vir nuwe vellings vir die kar. Dié wat daar op is, is net nie reg nie. Ek soek iets met meer speke.”
Die volgende dag sit twee mans die yskas in die woonstel se kombuis neer en begin die lae plastiek en beskermende skuim afhaal.
“Is dit nie baie groot nie?” vra Eileen.
“Wat?” sê Jan. “Nee, dit is nie. Dis ’n lekker yskas.”
“Maar dit is wel groot. Dis ook nie wit nie.”
“O, gaats,” sê Jan. “Waar is die faktuur?”
Hy en Eileen kyk saam met een van die draers daarna.
“Kyk,” sê Eileen, “dis ’n ander model hierdie, ’n groot gryse. Dis die Wyness X8000. Ons het ’n kleiner wit een gekoop, die Wyness X6000.”
Die draer skud sy kop. “Ons lewer af wat hulle vir ons gee om af te lewer. En die omhulsel is nou afgehaal. Ons kan dit nie terugneem nie. Tot siens.”
Besluiteloos kyk Jan en Eileen na mekaar. Dan sê hy: “Ek sal die verkoopsman bel.” Dit neem ’n rukkie voor die man antwoord. “Ons het die verkeerde yskas gekry,” sê Jan. “Dis die X8000.”
“Heng!” sê die verkoopsman. “Ek dink net gou, ek dink net gou … Meneer, hoekom bel jy?”
“Want daar is ’n fout.”
“Dis dan ’n groter yskas.”
“Ek weet, maar dis nie die een waarvoor ons betaal het nie.”
“Jy’s ’n eerlike een, is jy nie? Ek kyk gou wat die verskil in prys is.”
“En ons kan nie meer betaal as wat ons het nie. Dis julle fout.”
“Ek weet, Meneer. Dis nou baie papierwerk en ek sal verantwoording moet doen. Ek sê jou wat. Hou dit.”
“Ekskuus?”
“Moet niks by die winkel kom sê nie, want dan is ek in die moeilikheid by my baas. Hou die groter yskas vir die prys van die kleiner een. Dis die maklikste vir ons almal.”
“Nou ja,” sê Jan vir Eileen toe hy neersit.“Ons het ’n groot yskas goedkoop gekry.”
“Jan …”
“Wat moet ek maak? Hulle wil nie die ding terughê nie. In elk geval, ek wil die kar gaan poleer.”
’n Week later is Jan en Eileen by ’n werkfunksie. Hulle ry met Jan se motor, sy trots. Alles daaraan blink. Aan die einde van die aand kom hulle by die motor wat op sy onderstel staan, die wiele al vier afgesteel.
“Jan, doen iets!” sê Eileen in die lig van ’n straatlamp.
“Ek sal bel dat iemand die kar kom haal.”
“Dis darem nou onnodig dat ’n mens só moet leef,” sê Eileen. “Dis asof almal deesdae skelm is.”
“Dis daardie vellings,” sê die kollega. “Hulle was ’n versoeking. Het jy versekering?”
“Ek het, ja.”
Jan laat sleep die motor na die handelaar toe. Die volgende dag staan hy weer daar, en kyk na die vellings wat met die rakke teen die mure langs glim.
“Die vellings is gesog. Mense hou van mooi goed,” sê die handelaar toe hy van die diefstal hoor. “Daarby moet jy in gedagte hou ons bly deesdae in die Wilde Weste.”
“Dis só ’n stel wat ek gehad het. Ai, kyk net die mooier vellings. Dit sou darem lekker gewees het as …”
“Jy het mos versekering? Ek kan vir jou ’n duur stel gee.”
“Hoe? Ek kan dit nie bekostig nie.”
Die handelaar glimlag. “Jy hét dit in werklikheid al gekoop. Ek gee jou ’n kwitansie vir ’n duur stel en ek maak die datum ses maande terug. Dan dien jy dit in en dit lyk of dit die duur stel is wat gesteel is. En dis wat hulle dink jy nou laat vervang.”
“Kan ’n mens dit doen?” vra Jan.
“Dis moeilike tye vir ons almal. Dis ’n geleentheid dié.”
“Goed.”
“Dan sit ek sommer nou vir jou die mooies op.”
En dit beklink die saak. Jan ry, in sy skik met die blink wiele, die kwitansie in sy sak.
“Kyk,” sê hy vir Eileen. “Kyk die mooi wiele aan my kar.”
“Is jy nou weer gelukkig? Ek dink nog steeds dis ’n skande dat ’n mens só moet leef, met al die misdaad.”
“Vergeet daarvan. ’n Mens moet mos maar koes vir die houe en jou geleenthede gebruik om terug te slaan.”
Sy is stil, sê dan: “Jy kry nou iets moois en ek kry niks.”
“Jy het dan ’n yskas gekry. ’n Mooi grote. En ek het dit vir jou gekoop.”
“’n Yskas is nie ’n geskenk vir die vrou wat jy liefhet nie. En ek kan niks bo-op neersit nie, want dis te hoog.”
“Nou ja, ek moet sê ek voel rojaal.” Hy haal sy beursie uit en oorhandig al die note daarin aan haar. “Hier is solank ’n ietsie.”
“Oe, ek wil juis ’n nuwe sweetpak vir die gimnasium hê.”
Jan dien die papierwerk by die versekeraar in en baie gou word ’n redelike bedrag aan hom uitbetaal. Hy staan met die OTM-strokie in sy hand en kyk na die syfers. Toe kyk hy op na waar die handelaar wat die bande verkoop het, voor sy vertoonlokaal met iemand gesels. Jan draai om en glip om die hoek.
Die handelaar bel ’n paar dae later op sy selfoon. “Jis, ou maat. Hoe lyk dit? Het die versekering al uitbetaal?”
Jan huiwer.“Waarvan praat jy?”
“Jy skuld my vir die duur vellings.”
Jan lek oor sy lippe.“Ek skuld jou niks.”
“Wat dink jy doen jy nou?”
“Ek het ’n kwitansie wat bewys dis my eiendom. Jy het dit self vir my gegee.”
Toe hy die foon dooddruk, slaan sy hart vinnig. Die foon lui weer, maar hy beantwoord dit nie. Teen die aand se kant toe hy weer vir Eileen sien, het hy nog nie bedaar nie.
“Wat gaan met jou aan?” vra sy terwyl sy hom bekyk.
“Ek moet uitgaan.”
“Nou? Ek het vonkelwyn gekoop. Gedink ons kan jou nuwe wiele vier.”
Sy selfoon lui. Hy lees die nommer en druk die foon dood.
“Sommer iemand wat iets verkoop,” sê hy.
Jan ry na sy kollega toe, wat vra: “En nou?”
“’n Ou probeer my indoen. Luister of dit vir jou reg klink. Ek het ’n stel duur vellings aan my kar en ek het ’n kwitansie daarvoor. Nou wil die ou hê ek moet betaal.”
“Betaal? Of weer betaal?”
Jan mompel iets onverstaanbaar en knik en skud sy kop tegelyk.
“Sy gai,” sê sy kollega, op wie ’n mens kan staatmaak om net te hoor wat jy wil hê hy moet hoor.“Hy het nie gronde nie. Hierdie ouens vat kanse. Dis die ekonomiese klimaat wat hulle so maak.”
Vroegoggend, net na Eileen weg is gimnasium toe in haar nuwe sweetpak, lui iemand die deurklokkie. Jan gaan maak oop, sy hemp nog nie behoorlik toegeknoop nie. Dis die handelaar wat daar staan met ’n fris man in ’n klein hempie by hom.
“Ek soek my geld.”
“Ons het mos … ek het bewyse.”
“Kan ons inkom? Ons kan mos. Mooi plek.” Die handelaar kyk rond, tel ’n ornament op, sit dit neer, tap water by die wasbak in die kombuis, soek in die yskas rond, haal ’n ysbakkie uit. Sy gedrag spreek van verowering.“In die somer moet ’n mens baie water drink,” sê hy gesellig. Elke beweging wat hy maak en ding wat hy sê, word woordeloos deur die ander man se stom en groot gestalte gestaaf. ? beaam ? Die handelaar is nie nou die skraal man in ’n warm vertoonlokaal nie, iemand wat ’n mens hoogstens van ’n vinnige mond sal verdink nie. Hy is nou iemand met gesag.
“Wat kan jy vir my doen, my vriend?” vra die handelaar.
“Goed, ek sal jou betaal.”
“Jy sal. En wat meer kan jy vir my doen? Laat my beter voel in my teleurstelling.”
“Wat wil jy hê?”
“Jy het so ’n mooi plek hier. Die hand van ’n vrou is duidelik, maar jy sal sekerlik vir my sê dis jy wat die besluite neem, sal jy nie?”
“Watse besluite?”
“My swaer het die Wyness-konsessie op die dorp. Jy weet, daardie agentskap by die supermark? Hy doen goeie sake in tweedehandse toebehore. Ek dink ek kan iets vir hierdie yskas kry. Lyk na ’n nuwe model. Mmm, dis die X8000.”
Jan pak mismoedig die kos uit die yskas uit. Die ding is so nuut dat daar nog nie juis ys aangepak het nie. Hy staan terug dat die twee mans kan begin dra, maar die handelaar beduie dat Jan moet help, en hy en die groot man sukkel met die yskas na buite en teen die trap af. In die parkeerterrein laai hulle dit op ’n bakkie.
Die twee mans is net by die uit-hek uit toe Eileen by die in-hek in ry. Sy hou langs hom stil. “Wat maak jy hier?” vra sy.
“Ek het van die yskas ontslae geraak.”
“Dis beter so. Dit het nie regtig aan ons behoort nie. Ek dink nie dit doen ’n mens goed om alles so pasella te kry nie.” Sy maak die motordeur toe. “En ek kon buitendien nie bo-op bykom nie.”