Geheime revolusie: Memoires van ’n Spioenbaas
Niël Barnard, Tobie Wiese
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624066149
Wanneer ’n skrywer ’n stuk geskiedenis beskryf, word die verhale van noemenswaardige figure en groot eras in kalmte herroep en as inligting en vermaak aangebied. Dit is ook instruksie.
Geheime revolusie: Memoires van ’n Spioenbaas bied, soos die titel aandui, ’n blik op die lewe agter die politieke skerms van Suid-Afrika in die 1980’s. Voor Barnard was daar ook Suid-Afrikaanse spioene en spioenasie en intelligensie en informante, maar sy aanslag was berekend eerder as kragdadig. Dit pas by ’n man wat, hoewel hy tot die rang van kaptein in die weermag gevorder het, eintlik akademies hoogs opgelei was. Hy was dus ’n pennelekker in ’n omgewing waar ’n mens eerder Dirty Harry’s, James Bonds en cowboys verwag het en hulle ook aangetref het.
Dit beteken nie jy kon oor hom loop nie. Een van die redes waarom hy in die laat tagtigs met Nelson Mandela, toe nog gevangene, moes praat, was dat hy “hardegat” kon wees, Soms moes ander instaan wanneer sy eie geduld nie daarna was om ’n netelige puntjie te onderhandel nie. ’n Harde werker was hy en toegewyd tot die lang ure, en daarby ’n man van, volgens die boek, onberispelike karakter.
Die boek teken die verhaal van ’n uitblinker met stoere Afrikanerwaardes, maar ook insig in die wyer omgewing om hom en ’n bereidheid om daarmee te worstel. Dit was ’n omgewing gekenmerk deur onrus en onsekerheid en aggressie. Dis juis wanneer hy met Nelson Mandela gemoeid raak, ’n proses wat die bestaansrede vir die werk bied, dat ’n mens agterkom hoe wyd en onrustig daardie omgewing kon raak.
Ek het die boek byna hand aan hand met my eie herinneringe aan die tagtigs gelees. Ek kon sê: in 1980 was ek so oud; in 1985 se noodtoestand was ek hier; in 1988, toe PW Botha siek word, daar. En natuurlik onthou baie van ons seker een Sondagmiddag vroeg in 1990 toe Nelson Mandela uit die tronk gestap het.
Barnard se boek haal daardie tye weer op en lê hulle aan die leser uit. Jy lees wat tydens die gesprekke met Mandela besluit is, hoe ’n strategie opgestel is, oor die aspekte aan beide kante wat in gedagte gehou moes word voor daar verder met die onderhandelingspad langs beweeg kon word.
Die beeld wat ’n mens van PW Botha kry, is ’n belangrike regstelling. Barnard, wat baie agting vir die man gehad het, maak die uitspraak dat ’n mens se nalatenskap liewer nie aan jou laaste optredes gekoppel moet word nie. Dit is in groot mate wat Botha se huidige negatiewe beeld dra en dit terwyl hy volgens Barnard ’n beter beleidvormer en administreerder as sy voorganger, John Vorster, was. Ook het hy ’n sin vir humor gehad, selfs oor sy eie latere humeurigheid.
Met FW de Klerk is Barnard minder geïmponeer. Dis miskien grotendeels omdat hulle nie werklik saamgewerk het en mekaar kon leer ken nie. Barnard het sy bedanking gou na FW se ampsaanvaarding ingedien, deels op die veronderstelling dat so ’n bedanking altyd geweier kon word.
Die skryfwerk, redigering en proefleeswerk is goed. Tobie Wiese was die man met die pen. Dis lekker om woorde soos wars, derhalwe, dermate en allig in ’n nuwe publikasie teë te kom. ’n Mens moet alle pogings ondersteun om sulke woorde te behou. Die sestien bladsye foto’s is ’n bonus wat die werk verryk. My gunsteling-prent is die een waar Barnard en sy sekretaris tydens ’n besoek aan die CIA in Chicago staan, hande in die sakke van jasse wat sekerlik teen die koue aangetrek is, maar hulle saam met die brillense wat in die sonlig verdonker, na regte “spooks” laat lyk.
Wat ek gou begin wonder het, is wat die boek met sy vertellinge oor ’n vergange era vir ’n lesersgehoor dertig jaar later te sê het. Dis ’n lekker lees, ja, en vol inligting. Daar word so openhartig omgegaan met sake wat destyds so vertroulik was. Hier word die geheime dinge vir openbare taksering voorgelê. Barnard self maak gewag daarvan dat dit nie vir die lede van Nasionale Intelligensie nodig was om voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie te bieg oor wandade nie. En tog het ek die boek voor my en ek wonder of ’n mens ’n verduideliking daarin moet sien, ’n verskoning in pas met die gees van ons tyd.
Maar miskien nie. Miskien moet dit ’n indruk laat van wat was. En dalk ’n herinnering daaraan dat die tydgees geneig is om te verander.
Kommentaar
Ek sou graag 'n kopie wou bekom met beide outeurs se handtekeninge, indien moontlik.