Musiekonderhoud: Jaco Fouché in gesprek met Albert Frost

  • 1

Jaco Fouché gesels met die musikant Albert Frost. 

Foto van Albert Frost: verskaf

Albert, lekker om ’n paar dinge omtrent jou te ontdek. Kan jy iets omtrent jouself vertel? Gesin, familie?

Ek is al meer as 20 jaar in die musiekbedryf. Ek skryf, sing en speel musiek vir ’n lewe. Na lang terugtrek op ’n plaas in Tulbagh het ek en my gesin na Somerset-Wes getrek en is gelukkig om baie familie en vriende naby te hê.

Hoe werk jou musiekmakery? Kom komposisies na jou? Beplan jy noot vir noot aan ’n stuk werk?

Die eerste reël van musiek skryf is daar is geen reëls nie. Partykeer begin dit as melodie, ander kere is dit ’n sin of woord, maar meestal, in my geval, is dit ’n kitaar groove of groep note. Liedjies is soos kinders: hulle kry lewe en besluit self hoe lank hulle vat om groot te word! 

Het jy al ’n day job gehad? Is daar iets anders wat jy dink jy sou wou doen?

Ek het baie vroeg begin geld maak van musiek speel, maar ek het wel in graad 9 en 10 by ’n 7-Eleven gewerk. Dit en ‘n bietjie Mr Delivery in my blou Golf GTS. Haha! Ek is te diep in om enigiets anders te doen. Daar is soveel fasette wat ’n mens kan ondersoek.

Jy is bekend as ’n uitstekende kitaarspeler. Het jy lesse geneem? Het jy ’n kwalifikasie in musiek? Kan jy iets sê oor ’n gunstelingkitaar of twee?

Ek het nie formele opleiding nie. Behalwe die basiese akkoorde leer, het ek myself geleer. Ek was nog altyd mal oor Eric Clapton, Jimi Hendrix en Stevie Ray Vaughan, en al drie speel ’n Fender Stratocaster. Ek het myne 20 jaar gelede gekoop en dit is nog steeds my gunstelinginstrument. Ek het ook ’n pragtige Martin akoestiese kitaar wat altyd naby my is.

Werk jy elke dag aan jou musiek? Of oefen jy voor gigs ter voorbereiding?

Ek werk elke dag in musiek en nie altyd aan musiek nie – dit is hoe die bedryf werk. Daar is altyd iets te doene rondom die vertonings, opnames en feeste! Gelukkig speel ek baie gereeld met my musikante en so oefen ons, haha!

Watter ander belangstellings het jy? Tegnologie neem op alle gebiede so toe dat ons seker almal deesdae ’n mate van tech savvy het. Maar waaraan werskaf jy nog?

Ek is mal oor tegnologie. Klank is al lankal ’n groot belangstelling, en dit help my nogal met die hele streaming ding wat almal nou moet doen.

Oor jou werk: Hoeveel albums het jy uit? Wat lê nog voor? Is daar iets waarna ons kan uitsien?

Ek het twee studio-albums en een live album. Devils and gods is ’n EP wat ek in 2009 uitgereik het en dit is so pas vir die 10-jaar celebration op vinyl vrygestel. My blues trio het saam in 2013 by Grahamstad se Nasionale Kunstefees opgetree en die opname van die vertoning was so goed dat ek dit in 2104 vrygestel het. My vorige album, The wake up, het in 2016 uitgekom en die album het Best Rock Album by die 2107-SAMAs gewen. Ek is gelukkig nou besig met ’n nuwe album – baie opgewonde hieroor ...

Jy hou vertonings op Facebook. Hoe werk dit en hoe kan mense maak om dit te volg?

Facebook Live is ’n wonderlike platform om iets live te doen. Alhoewel dit redelik eenvoudig lyk, is dit so ’n bietjie gekompliseerd. Ek is baie gelukkig om die meeste van die regte toerusting te besit wat daarvoor benodig word. Gaan gerus op Albert Frost se Facebook-profiele en soek onder video’s.

Voorspoed met jou planne en dankie, Albert!

Thanks Jaco.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top