
Foto van Jaco Fouché: verskaf
In die skrywe hier onder, besin Jaco Fouché oor die mees basiese storie-idee.
Plotgedrewenheid kelder partykeer storieboeke. Dit gebeur op spoed. Dit gebeur nie wanneer boeke meer situasie as vaart is nie, hoewel ’n mens kan dink dat hulle om ander redes mag misluk: styl, filosofie, edelheid van bedoeling.
...............
Daar is die soort boek wat nie soseer uit storie nie as uit karakter en agtergrond en situasie bestaan. Die rykgeskakeerde en fassinerende omgewing, die benarde en hopelose situasie van die karakter wat hom in die een of ander halfwêreld bevind – dit is iets besonders en behoef nie ’n einde, ’n ontknoping, nie.
...............
Daar is die soort boek wat nie soseer uit storie nie as uit karakter en agtergrond en situasie bestaan. Die rykgeskakeerde en fassinerende omgewing, die benarde en hopelose situasie van die karakter wat hom in die een of ander halfwêreld bevind – dit is iets besonders en behoef nie ’n einde, ’n ontknoping, nie. Jy kan die boek weer en weer oopmaak sonder dat jy voel jy verloor na die eerste lees iets wat jy nooit weer sal kry nie. Jy kry dit wel weer, en weer. Dis nie 'n boek wat gesteur word deur iets so banaal soos resolusie nie. Dit is nie daardie ding waaroor stories dit so graag het, die journey of redemption met volop aksie in die laaste deel nie. Die skrywer van hierdie boek voel geen druk om resolusie te bied nie. Die konsep redemption is vir hom of haar kinderlik, nie iets vir daardie grootse donker natuurwêreld waarin sy of haar karakters dwaal en waarvan die bot, smorende rykheid hulle sig versper sodat hulle eie motiewe nie te onderskei is van dié van die anonieme magte wat op hulle inwerk nie.
Die vaart van vertelling speel af teen die stasis van bepeinsing. 'n Goeie boek is soos 'n welige tuin waar jy op die gras onder die bloureën kan gaan sit en deur die maanhek kyk na die paadjie tussen die roosbeddings, en verderaan die veld en dan die berge. Dit is egter ook so dat jy soms vir bye en perdebye en selfs slange moet koes, want hulle hou in tuine wat hulle naam waardig is. En watter tuin is daar waar 'n beeldskone, gewonde, honger, wrede roofdier nog nie skuiling gesoek het nie? Die “natuur in simpatie”, hoor ons soms wanneer dit reën terwyl iemand op die doek swaarkry: Die landskap staan in diens van die karakter se krisis.
..........
Die “natuur in simpatie”, hoor ons soms wanneer dit reën terwyl iemand op die doek swaarkry: Die landskap staan in diens van die karakter se krisis.
............
Lyding is kommoditeit, dit is produk. Nie in die werklike lewe nie, nee. In kuns. In vermaak. En kuns is tog sekerlik vermaak al pes ’n mens die verminderende idee. 'n Boek wat iets beteken, wat iets besonders is, iets wat jy kan maak en agterlaat terwyl jy daarvan wegloop en kleiner en ouer word en uiteindelik verdwyn – dit is iets om van te droom: 'n monument in die wildernis waardeur die een lewe sy weg gebaan het, langs 'n mens se voetspore soos 'n mylpaal met graffiti.
En dan onthou ek wat 'n Engelse persoon vir my gesê het, dat die passiewe Afrikaanse Taalmonument geen monument is nie, maar die aktiewe Rooikruis-Kinderhospitaal in Rondebosch wel. Maar dit vind ek nie so 'n edele formulering nie, nie net omdat my lojaliteite vereis dat die Taalmonument staan waar hy staan nie, maar ook omdat die ding van lyding weer insluip, by die hospitaalgedagte. Lyding as kommoditeit, as produk. Natuurlik skryf ek nou in die konteks van ’n stuk skryfwerk; ek wil nie hospitale gering ag nie.
Het so ’n werk, ’n vertelling, dadelik gravitas omdat dit lyding bevat? Is dit regtig so? Dis tog asof ons gemaak is vir oorgangsrites. Jy moet swaarkry en daarna die verligting ken en dit as nuwe insig sien. En noodwendig beskryf jy die proses aan ander, jou reis. Dit lyk of daar meriete aan grootpraat is – dit gaan oor die verspreiding van inligting, oor instruksie aan oningewydes.
Sien ek die saak bloot as skrywer en nie as ’n heel mens nie? Dis tog so dat 'n kunstenaarspersona maar 'n onderafdeling is van die heel mens, wat anders na dinge moet kyk en met die werklikheid in sy geheel oor die weg moet kom.
Dis moontlik als 'n blufspel. Mickey Rourke het gesê dat die tough guys in Hollywood nie regtig tough guys is nie. Hulle is bloot akteurs. Die eintlike tough guys, sê hy, sit waarskynlik in die tronk. Iets soortgelyk geld vir fiksieskrywers wat fantasie aanbied. Jy skep 'n situasie met patos of tragedie of lyding, voorsien dit van ’n klinkende titel, en dink jy vertoon hiermee insig wat net jy het. Of jy gee voor dat net jy dit het. Jy bied figure uit 'n sekere stratum aan, ’n buurt in jou kop, en jy ken hulle. Jy weet waarvan jy praat.
Maar wat weet jy? Miskien iets oor 'n ongesteldheid; jy dra 'n bietjie kennis van iets fisieks, 'n kwaal, 'n skeet, ’n aspek van lyding. Dalk is iets van jou verwyder: 'n orgaan, of 'n deel van jou gesonde verstand. Dan kan jy tog met gesag praat. Maar kan jy? As jy van jou varkies verloor, sal mense jou nog verduur? Nee. Sal mens regtig 'n halfmal mens ernstig opneem? Sal jy naby hom wil kom? Miskien sal sekere geroepenes: evangeliste, genesers, sjamane. Ons ander is nie so gemaak nie en dit besef selfs die siekes wat so verguis word. Die instink om jou weg te keer van diegene wat ongesteld is, is so sterk dat die sieke wat vermy word dit self verstaan en sy eensame lot aanvaar, of dan verduur. Terselfdertyd is die skepsel natuurlik erg onder die druk van ’n front voorhou. Doen hy dit nie, word hy in die nag uit die gehuggie of stad gejaag. Wie het gesê die moeilikste deel van mal wees is om voor te gee dat jy nie is nie? Jy moet jou inhou. Grin and bear it. Om deel van hierdie samelewing te bly, kners jy jou tande tot stompies.
In die 1990’s het ek dikwels trein gery tussen Bellville en die stad, gewoonlik buite spitstye. Een middag tussen halfvyf en halfses op die Kaapse stasie gaan ek egter 'n wa binne wat stampvol is, afgesien van so drie oop banke aan die punt van die wa. Op die laaste bank het 'n man gesit, verweer, ongeskeer, sy hare lank en deurmekaar, sy klere vuil. Ek kon hom meters ver ruik. En mense wou nie by hom gaan sit nie. Ek ook nie. Ek wou nie met hom kennis maak nie. Dit was laag en gemeen, ja, dat ek so kieskeurig kon wees, en miskien is dit nog laakbaarder dat ek dit hier erken. Maar dit was my sterkste gevoel, dat ek in my relatiewe sindelikheid en versorgdheid nie gesteur wou wees nie. Ek het in 'n ander wa gaan sit.
............
Ek het sy oog gevang voor ek omgedraai het om te loop. En hy het na my gekyk met iets soos kennis, 'n verskriklike kennis oor homself. Hy het verstaan waarom ek loop. Dit het ek geglo, dat hy die eensame lot aanvaar het waarvan ek hierbo praat. Die meeste mense wat as randfigure en buitestanders beskryf word, is dit nie werklik nie. Daardie man was. Hy was buite die samelewing.
...........
Ek het sy oog gevang voor ek omgedraai het om te loop. En hy het na my gekyk met iets soos kennis, 'n verskriklike kennis oor homself. Hy het verstaan waarom ek loop. Dit het ek geglo, dat hy die eensame lot aanvaar het waarvan ek hierbo praat. Die meeste mense wat as randfigure en buitestanders beskryf word, is dit nie werklik nie. Daardie man was. Hy was buite die samelewing. En tog – hy het immers van die treinvervoer gebruik gemaak soos vele ander. Hy het daar gesit in 'n wa met werkende, belastingbetalende, poliskopende, huisbesittende, selfs soms bedagsame en simpatieke mense. Dalk het hy vir sy treinkaartjie betaal. Natuurlik het hy dieselfde lug as die res van ons ingeasem. Dan is hy mos deel van die samelewing. Dan is daar geen buitestanders nie? Is dit so? Of is dit so dat ons almal, elke enkelte een van ons, buitestanders is?
Jy sit in hierdie kokon vleis en dink jy is beskut, maar in werklikheid is jy geïsoleer. En reik jy uit na die ander vleiskokonne, kom jy te naby, gril hulle vir jou vleis, vir jou reuk. Jy vrees daardie gegril meer as enigiets anders. Sê nou iemand sien jou vir ’n vuil man in ’n treinwa aan, op die punt om daardie iemand vir ’n paar rand lastig te val? Dus handhaaf jy ’n beskeie afstand en versigtige, terloopse verhoudinge. Jy sorg dat jy jou lyf was en min of meer presentabel lyk. Wanneer iemand vir jou kyk, knik jy en lig jou wenkbroue. Miskien glimlag jy selfs. Jy sorg ook dat jy so min moontlik sê wat kan aanstoot gee. Jy dra die parfuum van politieke korrektheid. Jy sweer saam met die heersende meningbasuiners dat die drang tot konflik ’n kulturele produk eerder as iets uit ons natuurlike aard is. Kategoriseer volgens die voorkeure van die mense onmiddellik langs jou. Wantrou diegene oorkant die rivier. Plak etikette soos “die meerderheid regeer”. Volg ’n ghoeroe wat sy naels laat poleer. Verhef reaksionêres onbedag tot leiers. Skep eenvoudige, klinkende slagspreuke en herhaal hulle oor en oor, as die litanie van die getroue volgeling wat jy is, terwyl jy versigtig is om niemand per ongeluk in die ribbes te pomp nie. Eerder ’n beskeie afstand as die groot een wat volg wanneer mense jou verag. Jy hou jou op jou plek, al verlang jy so na mense.
Boeke bied situasies en filosofieë aan. Boeke wys op die families, groepe, kategorieë en hiërargieë van die lewe. Boeke verhelder aspekte van ons bestaan en verskaf instruksie. Boeke rig ook ’n versoek, dié van ’n man agterin in ’n treinwa wat oogkontak maak, al weet hy wat sy lot en plek is en al ken hy die omvang van sy lyding. Hoe lank die verhaal ook al, hoe gekompliseerd die storie mag raak – die kernintrige van ons bestaan, en die enigste noemenswaardige verhaal, betrek die behoefte van iemand om aanvaar te word.
...........
Hoe lank die verhaal ook al, hoe gekompliseerd die storie mag raak – die kernintrige van ons bestaan, en die enigste noemenswaardige verhaal, betrek die behoefte van iemand om aanvaar te word.
.............
Lees ook: