Simoelégri: stad van onrus – ’n onderhoud met Jaco Fouché

  • 0

Simoelégri. Stad van onrus
Jaco Fouché
ISBN: 9780798182447
Human & Rousseau.

Jaco Fouché praat met Naomi Meyer oor Jaco se jongste roman, Simoelégri, wat die wenner was van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd van 2021.

Jaco, baie geluk met Simoelégri. Dit voel soos gister dat ek met jou oor Aanspreeklikheid gepraat het. Jy was baie produktief die afgelope tyd. En tyd beweeg dalk anders vandat die pandemie posgevat het. Ek lees Simoelégri en mens is al so afgesonderd in hierdie dae dat ek onseker is of die ruimte wat jy beskryf, ’n parallelle wêreld is. Is dit?

Dankie, Naomi. Ja, Aanspreeklikheid was sommer nou die dag. En nou hierdie boek. Dis vir my self nader aan ons eie wêreld, of dan onmiddellike toekoms, as wat dit ’n parallelle wêreld is. Of dis hoe ek dit bedink het. Heelwat van die dryfveer agter die boek was so ’n grendeltydangs. Ek onthou veral in die eerste drie weke was daar gerugte en berigte en vrese wat min goed voorspel het. Maar daar was ook fassinasie – iéts gebeur hier. Later het ’n mens kalmeer, maar toe was die saadjies vir ’n boek gesaai.

Simoelégri, stad van onrus. Begin by die naam: Simoelégri. Vertel hoe die woord jou pad gekruis het. En die betekenis (in jou Netwerk24-onderhoud het jy treffend verwys na kuns wat ’n “verminderde werklikheid” is van die werklike lewe).

Toe ek in Bellville gewoon het, was ek dikwels by die biblioteek, nie net om boeke uit te neem nie, maar ook om daar te gaan sit en lees aan alles en nog wat. Op ’n keer was ek ’n bietjie in die finansiële knyp en het ’n sak vol van my hardebandstorieboeke vir R20 by ’n pandjieswinkel langs die ou Hoërskool Bellville in Voortrekkerweg van die hand gesit. Daarna het ek vir die eerste keer in dae ’n pakkie sigarette gekoop, een gerook en ’n pastei geëet, besef ek is nog glad nie gerus oor my lewe nie, en biblioteek toe gestap en daar in die kinderafdeling na ’n boek op soek gegaan wat ek as laerskoolkind in Vereeniging baie geniet het. Ek het sowaar daar in Bellville se bib ook ’n kopie gekry, op die vloer gaan sit en ’n deel daarvan gelees tot ek kalm gevoel het. Toe kon ek weer die dag aandurf – die vonds van die boek het veel belowe wat positief was. Die boek was Avontuur Limpopo, ’n Staal Burger-roman van Fanus Rautenbach, en ek wou daardie dag net iets voel wat ek as kind gevoel het, so ’n sekerheid dat als tog reg is. Wat dit ook later was.

Vele ander boeke het my ook aangestaan, soos goed oor taalkunde en sielkunde, en ek het iewers op die woorde simulacrum afgekom. Toe vergeet ek dit en onthou dit was iets wat soos “simoelégri ” geklink het. Dis hoe ek die woord in my kop gekry het. Ek wou dit al lankal iewers inspan. Die betekenis is van ’n beeltenis of uitbeelding, beslis ’n “verminderde weergawe”, soos ’n onduidelike fotostaat van ’n oorspronklike dokument, of soos ek ook gesê het, ’n boek van ’n stad of ’n verhaal van ’n karakter.

........

Die betekenis is van ’n beeltenis of uitbeelding, beslis ’n “verminderde weergawe”, soos ’n onduidelike fotostaat van ’n oorspronklike dokument, of soos ek ook gesê het, ’n boek van ’n stad of ’n verhaal van ’n karakter.

.........

Jou boek lees soos ’n brief wat jy gaan sit en begin skryf het. Sit en skryf het sonder om op te kom vir asem. Een lang sin. Een lang gedagte. Hoe het die skryfproses gewerk? (Het jy tussendeur gaan slaap?)

Ek slaan nie sommer ’n slapie oor nie! As ek nie snags slaap nie, sal ek dit die volgende dag doen. Ek probeer nou onthou, maar dis nie meer duidelik wat ek wanneer gedoen het nie. Die twee langste terugflitse, van Lady Die en Jack, het ek reeds op rekenaar gehad en nie geweet waar ek dit moet gebruik nie. Die teenwoordige deel van die storie was baie lekker om te skryf. Baie keer kry ek so ’n benoudheid omdat ek eenvoudig net nie weet wat om volgende te skryf nie, maar met hierdie boek het die een ding op die ander gevolg. Soos daardie sin waarvan jy praat. Weet nie of ek weer so sal kan skryf nie. Sit juis nou en peuter met iets nuut wat net nie mooi wil afskop nie, en dit laat ’n mens baie dom voel.

Ja, dit is ’n brief. Ek het dit nie aan die begin geweet nie. Dit het eers in die laaste paar bladsye aan my duidelik geword.

.......

Ja, dit is ’n brief. Ek het dit nie aan die begin geweet nie. Dit het eers in die laaste paar bladsye aan my duidelik geword.

........

Die karakter Lady Die. Sy bewoon en besit (glo sy) ’n vervalle kerk, in ’n vervalle stad. Daar was ’n glorietyd in die verlede. (Na vreeslike dinge in die verlede word dit onthou as glorieryk.) Alles is nie meer wat dit was nie. Lady Die – vertel my van haar. Dis darem die mees treffende woordspel. Loop jy al met daardie frase in jou kop rond vanaf die regte Lady Di?

Die kerk is haar karapaks, seker soos enige huis of woonstel of pondok vir die inwoner is. Wat die karakters se opvatting van die verlede betref, is daar so ’n spanning tussen idealisering en ontnugtering. Dis nie altyd maklik om net te gaan sit en onthou nie.

Toe ek die gedagte kry om ’n karakter soos die prostituut te probeer, was Lady Die dadelik die regte naam. Eers redelik diep in die storie in het ek skielik gewonder of die naam nie dalk van die prinses s’n af kom nie. Dit moet tog so wees, dink ek, hoe anders, maar ek het dit nie doelbewus, of bewustelik, so beplan nie. En ek wou dit eers verander, maar na wat? Dan is ’n mens dadelik die woordspeling kwyt.

Jou Lady Die herinner aan of voel tog soos ’n herbesoek aan jou Ryk van die rawe-karakter, die een wat nie oorleef het nie (bederfverklikker). Is sy iets van daardie karakter? Haar verlede, in elk geval. Hou hierdie twee karakters met mekaar verband?

Ja, jy verfris my geheue en ek sien self die verband. Ek kan eintlik nie meer onthou wat die inspirasie vir Cathy in Ryk van die Rawe was nie. Maar Lady Die het ’n voorganger in die werklike lewe. Op ’n stadium het ek gehoor van ’n gewese prostituut wat by ’n sendinggroep ingeneem is en daar gehelp is. Sy het begin om toebroodjies te maak wat sy bedags op straat verkoop het. Ek het so ’n toebroodjie by haar gekoop en na die ouerige vrou gekyk en ek kon my nie voorstel watse lewe sy agter die rug het nie. Ek weet nie wat haar in die eerste plek op straat laat beland het nie. Dis baie dikwels nie uit eie keuse nie. Dis mense sonder ondersteuningstelsels wat aangryp watse hulp of heenkome daar ook al mag wees. Later is sy oorlede terwyl sy mense se huis opgepas het. Erge dinge gebeur. Aanmekaar.

Watter skrywersblokgeteisterde denker was dit wat gesê het ’n skrywer skryf dieselfde boek oor en oor? Ek het baie lanklaas na Ryk van die rawe gekyk – seker vyf jaar of meer laas. Ek kan onthou dat ek toe gedink het ek sal nou die meeste vloekwoorde uithaal, maar die res omtrent net so skryf.

En toe koop sy ’n kerk. Alles baie ironies. Want nou is geld niks werd nie. Ek het gedink aan besittings en aan appropriasie, wat ook oor besit handel. Sy is ’n vrou; jy verbeel haar. Jy gee haar mag. Of jy wys hoe min mag sy het. Wat het jy alles hieromtrent gedink toe jy dit geskryf het? En waarom ’n vroulike hoofkarakter? (Dit kan ook wees dat jy jou lesers om die bos lei – ek besef jy gee te kenne dalk is sy nie ’n vrou nie, maar moontlik vroulik van aard.)

Dis ’n netelige vraag, Naomi! Ek weet nie mooi wat om te antwoord nie. Jy is reg dat ek in ’n mate die leser om die bos lei. Sy is ’n fassinerende karakter vir my en ek kan net hoop ek het reg aan haar laat geskied.

Toe ek die manuskrip begin skryf het, wou ek van ’n aktuele tema gebruik maak. Eers het ek aan ras gedink, maar daar is reeds soveel daaroor geskryf. En seks en seksualiteit is interessant en onskuldiger as rassisme. (Miskien erken ek nou dat ek vlug vir wat ek weet ek eendag sal moet aanpak.) Toe dag ek ek gaan dit waag om oor so ’n figuur te skryf. Ek meen nie dis verkeerd om oor ander mense te skryf nie. Jy mag skryf net wat jy wil en oor watter soort mense jy wil, solank jy bereid is om replieke en kritiek te aanvaar en te oorweeg. Dis ’n gesprek, natuurlik. Ek dink dis waar die woord dialektiek inkom, dat ’n mens worstelend en argumenterend oor en weer en saam-saam verken aan die lewe. Dis hoe letterkunde en kuns gebou word.

Toe ek ’n skoolkind was, het ek van presies twee mans geweet met ongewone uitkyke op die lewe, om dit so delikaat te stel. Die een geval is maar bedenklik. Die man was al ouerig en het agter ’n hotel in ’n kamer gebly. Ek is gewaarsku om nie naby hom te kom nie omdat hy vroeër kinders gemolesteer het. Dus het ek ver weg gebly, maar hom soms gesien wanneer ek gaan fietsry. Hy was sku – dis hoe hy gelyk het as hy iewers heen loop: sku. En altyd, altyd alleen. Later jare sou ek die boek The world according to Garp lees waarin verwys word na “sexual suspects”, mense met ongewone uitkyke op die lewe, om weer die frase te gebruik. Dan dink jy oor die bedremmelde ou man wat in sy later lewe moet boet vir sy vermoedelike misdade as jonger mens. Dis nie dat ek hom wil goedpraat nie. Ek wonder net oor die menslike aard. Ons het al hierdie sterk impulse wat nie almal met ewe veel sukses kan beheer nie. En die lewe is vol wesens wat ly omdat hulle nie die voordeel van opvoeding, afkoms, genetika of selfdissipline of bloot goeie maniere het nie. Ek dink kunstenaars is iets verskuldig teenoor hulle en moet hulle uitbeeld. Nou ja, dis net ’n voorbeeld wat nie op die oog af veel met my hoofkarakter te doen het nie. Ek wil net die punt maak dat ’n mens op ’n manier nie anders kan as om te skryf oor dit wat jy sien nie. En wat jy sien, is tog wat aktueel is.

Die ander figuur wat ek as kind geken het, was nie vir my omstrede nie. Hy was vriendelik en beleef. Hy was die eienaar van ’n tekstielwinkel en ’n kenner op sy gebied. Hy was gay. Dit was soms so half vreemd en fassinerend om so ’n persoon in lewende lywe te aanskou, maar hy het nie groot indruk op my gemaak totdat ons gehoor het hy is oorlede nie. Dit was selfdood. Die gerugte wou dit hê dat hy nie met homself kon saamleef nie.

Dis natuurlik absolute strooi, daardie gerugte, dink ek vandag. Wie kan sê, werklik sê, wat ’n ander mens dryf? Dis egter ’n ander tyd, nou. Daar is nog heelwat vooroordeel, maar ek dink mense aanvaar ander mense makliker. Wel, hulle sal nog skel en sleg praat, maar ek dink die ergste verguising is iets van die verlede. Maar seker ook nie oral nie.

In elk geval, so kom hierdie mense oor jou pad en jy wonder oor hulle. Ek glo in iets wat Martin Amis uitgewys het, die “universality of response”. In ’n sekere situasie met sekere ervarings en geskiedenis sal ons baie dieselfde optree. Dit is iets wat my in die army opgeval het, dat ’n mens hoe moeg kan wees, wanneer jou maatjies hardloop en oefeninge doen terwyl ’n sot op hulle skree, doen jy dit saam. The universality of response. Ek dink met die regte, of verkeerde, assosiasies en opleiding sou ek ’n heel ander mens gewees het. Soos dinge staan, is ek die produk van ’n Afrikaanse, wit gemeenskap. Ek is ’n redelik belese mens en bewus van onreg en alternatiewe. Situasies uit die land sowel as die persoonlike verlede moet oordink en krities ondersoek word, voel ek. Dus skryf ’n mens ’n storie in ’n poging om jouself in die skoene van iemand anders te plaas. Miskien wil jy iets leer, of eenvoudig iets maak wat jy soos ’n blou bord wat die wilgerpatroon uitbeeld, kan uitstal. Miskien wil jy boete doen vir jou vroeëre minagting. Dit is tog iets wat ten opsigte van ras en klas en godsdiens gebeur. Dis vir my byvoorbeeld altyd snaaks om te dink dat ons op skool by die NG Kerk geleer het watse vreeslike sekte die AGS-Kerk is (dit was ’n hoofstuk agterin my katkisasieboek), en vandag is charismatiese godsdiens so lewendig. So verander gesindhede ten opsigte van seksuele voorkeur en gedrag ook.

.......

Situasies uit die land sowel as die persoonlike verlede moet oordink en krities ondersoek word, voel ek. Dus skryf ’n mens ’n storie in ’n poging om jouself in die skoene van iemand anders te plaas. Miskien wil jy iets leer, of eenvoudig iets maak wat jy soos ’n blou bord wat die wilgerpatroon uitbeeld, kan uitstal. Miskien wil jy boete doen vir jou vroeëre minagting. Dit is tog iets wat ten opsigte van ras en klas en godsdiens gebeur.

.........

Maar kyk waar draai ek. Ek hoop dis ’n soort antwoord.

Jou verhaal is gebou rondom jou karakters se herinneringe. Ek sien hulle heeltyd terugkyk, en tussendeur in die hede leef. Ek sien nie juis ’n toekomsvisie nie. Was dit doelbewuste sosiale kommentaar, in hierdie tyd?

Dis moeilik om daaraan te dink as “doelbewus”. Ek vind dat ’n mens ’n sin op ’n plek neersit omdat jy voel daar iets op daardie plek kort. Dis nie heeltemal so serebraal as wat ’n akademiese lees te kenne mag gee nie, hoewel ’n mens natuurlik jou leeswerk doen en bewus bly van akademiese oorwegings. So sosiale kommentaar is vir my eerder deel van die vesel van die verhaal, wat op ’n manier sterker is as die kommentaar en dit moet dra en bestaansreg moet gee.

Dis wel so dat die karakters nie vorentoe kyk nie. Te veel het miskien met hulle gebeur. Die terugslag of terugslae was te groot. Hulle leef vir die oomblik en in die oomblik.

Oor ons toekomsvisie weet ek nie wat om te sê nie. Dis nogal maklik, en selfs gerieflik, om aan die toekoms te dink as Graham Greene se “unpredictable ambush”, maar daar lê op stuk van sake wonderlike en goeie dinge ook voor. Tog is dit waar dat krisis en konflik stories veel interessanter maak as vreugde en geluk. Uit daardie drie volumes wat Dante geskryf het, het ek net Inferno gelees. Die Vagevuur en die Paradys klink eenvoudig nie so fassinerend nie. Ook dink ek altyd aan fiksie as instruksie. Op verskillende maniere, maar die een manier is dat dit ’n mens toelaat om jouself in sekere scenario’s te plaas en te wonder hoe jy sou optree terwyl jy dikwels wenke van ’n aard kry. Jy hoef nou nie letterlik te leer hoe om in ’n haglike buurt te oorleef nie. Miskien leer jy bloot iets soos meer geduld met dwelmafhanklikes. Maar instruksie, dus.

Het my boek iets met ’n algemene toekomsvisie te doen? Noodwendig, ja. Ek dink enige leser sou dit as ’n gegewe aanvaar. Maar ek voel ek as skrywer wil nie as ’n profeet optree nie. ’n Mens sal hopeloos te gou van daardie troontjie afval of gepluk word.

“Hoop, geloof, daai ding tussen mense.” Hierdie opmerking het jy in jou Netwerk24-onderhoud gemaak. Handel die boek dus ook oor mense wat hulle heil in mekaar vind? Die stad is dalk vernietig, maar die menseverhoudinge is sterker as ooit. Al is die mense, sou hulle geboue gewees het, nie juis argitektoniese skoonhede nie.

Toe ek ná die army begin werk het, was dit by ’n rekenaarwinkel hier in Hermanus. Ná ure het ek soms in kroeë gaan sit. Kort na betaaldag sou ek sommer ’n hele aand daarvan maak, baie keer saam met my skoolmaats wat vir ’n naweek by die huis was wanneer hulle die studies ’n bietjie laat staan. Maar ek het ook alleen in die Windsor Hotel se manskroeg gaan sit. Dit was nie so ’n gewilde plek soos die Astoria Hotel in die hoofstraat waar die Old Boys vergader het nie. By die Windsor het ’n meer eenkant soort drinker by die toonbank gesit. So ’n man het ek een aand dopgehou terwyl ek, 21 jaar oud, ’n paar meter van hom sit. Hy was seker by die 60 en baie teruggetrokke. Hy het gesit en drink en rook en tob. Van die jonger ouens het met hom probeer gesels, wat hom net sy kop laat skud het. Dit het die ouens vies gemaak en hulle het hom begin terg. Later het hy geloop en daaroor was hulle ook vies. Hulle wou kontak met hom maak, dink ek. Hulle wou sy guns wen, en was kwaad en teleurgesteld toe hy dit nie wou toestaan nie. Mense is sosiale wesens. Ons smag na mekaar. En ons vind baie dikwels juis ons heil in mekaar.

.......

Mense is sosiale wesens. Ons smag na mekaar. En ons vind baie dikwels juis ons heil in mekaar. Of dit altyd gesond is, is ’n vraag. En die manier waarop daardie kontak gebeur, lyk vir my partykeer verdag.

..........

Of dit altyd gesond is, is ’n vraag. En die manier waarop daardie kontak gebeur, lyk vir my partykeer verdag. Ek dink aan organisasies waar mense bymekaar sal kom om onder ’n vaandel hulle samesyn te pleeg. Wat ek bedoel, is dat daar in sulke organisasies nie diep verbintenisse is nie, intieme raakpunte nie. Kontak word via ’n sekere kode gedoen. Snoekerspelers wens mekaar geluk met hulle posisionele spel. Boksaanhangers praat in terme van uppercuts en jabs. Die karatemeester Stan Schmidt het ’n boek geskryf oor karate as sosiologiese arena waar seniors juniors ophef om ook seniors te word, en die proses is as waardig en edel beskryf al gaan die sportsoort, of kuns, in essensie oor geweld. Ander voorbeelde is daar vir die gryp, maar hulle almal skiet vir my te kort juis omdat hulle nie van daardie diep verbintenisse verteenwoordig nie.

.......

Letterkunde is ’n diep verbintenis. In ’n goeie boek kom jy by ’n kern uit. Jy is ’n duiker wat in ’n skag af gaan tot by ’n ondergrondse bron wat min te doen het met die bedrywighede van die swemmers in die vlak waters.

.........

Letterkunde is ’n diep verbintenis. In ’n goeie boek kom jy by ’n kern uit. Jy is ’n duiker wat in ’n skag af gaan tot by ’n ondergrondse bron wat min te doen het met die bedrywighede van die swemmers in die vlak waters. Wel, ek raak nou liries, maar ek hoop ek verduidelik wat ek bedoel. Miskien moet ek terugkom by menseverhouding en net sê in my vriendskappe verlang ek diepte.

Vertel my van die video van Roger Waters.

Dis die video van die liedjie “The last refugee”. As ’n mens daarna kyk op YouTube, is dit duidelik dat dit ingegee is deur die vlugtelingkrisis in Europa van ’n paar jaar gelede. Eers sien ’n mens ’n pragtige vrou dans en dan hoe sy op ’n strand stap. Wanneer sy dans, is dit by ’n konkavuur in ’n gebou soos ’n fabrieksvloer. Ek kan nie besluit watse plek dit presies is nie. Daar is twee groot arms eenkant wat ek weet nie wat nie kon aangedryf het. Ek het die dansende vrou in ’n ou kerk laat tuiskom. Dit bly vir my ’n pragtige video.

Hoe is die land waar Simoelégri is? Waar is dit? Hoe is die klimaat? (Ek besef die gebou is gebaseer op ’n kerk in Bellville. Wil jy daardie gebou beskryf?)

Die land waar die plek geleë is, is vir my iewers in Europa, maar ek spel glad nie so iets uit nie. Die terugflitse is in elk geval Suid-Afrikaans. Dis ’n kouerige plek, miskien amper soos Frankfurt wat ek vlugtig in 1993 gesien het. Die lug was toegetrek en dit was koud en winterig en nogal neerdrukkend.

Die kerk in Bellville is die Presbiteriaanse Kerk oorkant die poskantoor, maar dit lyk heel anders as my kerk, wat uit drie vlakke bestaan: die kerk self met banke en preekstoel, dan ’n vertrek bo waar Lady Die woon, en ’n keldervertrek waar die badkamer geleë is. Van buite is die plek van rooi baksteen soos baie geboue in die omgewing, en ook met spuiers versier, wat ’n spokerige besonderheidjie is.

In die kerk in Bellville het ek gekom wanneer daar niemand anders was nie. Dan kon ek daar sit of die preekstoel bekyk en net die ruimte geniet. Ek het toegang gehad aangesien ek die sleutels vir die kerksaal gehou het om Woensdagaande vir AA-vergaderings oop te sluit. Ek moes die stoele in die konsistorie gaan haal en kon in die hoofgebou kom.

Hoe voel dit om voor mense jou boodskap te bring, as AA-persoon, as dominee? Dit was so treffend toe jy daaroor gepraat het in jou bekendstelling. Dalk het jy ook so ’n boodskap gebring in die boek. Voor mense. In ’n kerk wat jy herverbeel.

........

Omtrent die enigste openbare toesprake wat ek gemaak het, was by AA-vergaderings. Ek het dit geniet. AA was ’n ruimte van diep verbintenisse en eerbaarheid.

.........

Omtrent die enigste openbare toesprake wat ek gemaak het, was by AA-vergaderings. Ek het dit geniet. AA was ’n ruimte van diep verbintenisse en eerbaarheid. Wel, solank ’n mens nie drink nie, natuurlik. Jy moet jou by die reëls hou. Wanneer jy dit nie doen nie, kan dit sleggerig vir jou wees. Dis nie aangenaam om te moet dink AA fire jou uit jou posisies nie!

Ek het nog baie min in Christelike hoedanigheid gepraat. Eintlik voel ek altyd ek is te onervare en naïef. Ek is skepties oor kuddes mense en wil nie altyd met die stroom saamgaan nie. Daarby hou bekering soms onmoontlike uitdagings in, soos om in tale te praat, iets waarvoor ek prontuit vrekbang is, en aan die ander kant moet jy sekere dinge prysgee en ’n vroomheid aanleer waarmee ek sukkel. Dalk het ek as jongman eenvoudig te veel bier gedrink, Chesterfields gerook en Pink Floyd geluister; en is ek korrup.

Ek hoop hard my boek het ’n boodskap. Wat die gehalte van my ootmoed is, weet ek nie, maar ek glo in die Here en ek glo dat selfs ’n sondaar ’n deel kan doen ter bevordering van die evangelie. Nou ja, die Kerk het ook ’n verlede waarmee afgereken moet word, en daar is nog opvattinge wat beslis opgeknap kan word.

’n Mens weet hoe ongewild ’n Christelike sienswyse in sommige geledere is. Dan dink ek aan Graham Greene wat geskryf het oor die “ideas coming in quietly without the reader noticing”. Maar as skrywer onthou ’n mens ook die gerug dat Greene nooit die Nobelprys gekry het nie juis oor sy godsdienstige preokkupasies. Ek weet nie altyd of ek my eie grootste vriend is nie, want ’n mens moet seker strategies en polities ook dink aan jou loopbaan. Maar godsdiens is in my vasgelê, soos my sosiale stand en my naïwiteit en waarskynlik my selektiewe manier van loop met my hart op my mou. Ek kan nie daarvan ontslae raak nie. Wil ook nie. Daar is lesers wat dit alles herken en waardeer.

En dan ook: die lugfoto, waarvan jy in die bedankings praat. Die vrou wat jy gesien het. Wie was sy?

Die vrou is die een in die Roger Waters-video. Lieflike mens in ’n treffende situasie.

’n Gebrek aan beheer en kontrole, ’n ondermyning van gesag. Is dit wat die toekoms inhou?

Dis vanselfsprekend baie moeilik om te sê hoe dinge gaan wees. Deel van ons vrese oor die toekoms is gebou op ’n relatief stabiele verlede. Ek bedoel ons onthou iets soos die goeie ou dae en dit lyk of dit aan die verbygaan is. Ek praat nou noodwendig as wit mens wat bewus is van white comfort en die manier waarop ’n mens jou kop kan wegdraai van wat jou behoort te pla. Dit is iets om aan aandag te gee en dit help niks om op sosiale media te mor oor hoe sleg ons behandel word nie. ’n Mens moet dalk aan geleenthede dink. Gebrek aan beheer dui juis op ’n omgewing waar kreatiwiteit en nuwe denke kan gedy. Dis nie noodwendig ’n slegte toekoms wat ons tegemoet gaan nie.

........

Gebrek aan beheer dui juis op ’n omgewing waar kreatiwiteit en nuwe denke kan gedy. Dis nie noodwendig ’n slegte toekoms wat ons tegemoet gaan nie.

.........

Aanpassing sal wel nodig wees en dis moontlik dat ons deur ’n ongerieflike periode sal gaan. Die lewe werk in siklusse en ek sou raai wat ’n mens te doen staan, is om inligting in te win oor vorige eras sodat jy meer perspektief op jou eie het en dit wat mag kom. Ten spyte van veral ekonomiese kwellinge wat dreig en natuurlik ander maatskaplike sfere gaan raak en selfs skep of vernietig, dink ek mense is toegerus met hoop, en met goeie reg ook.

Hoe so ’n distopiese teks diagnose is van ons samelewing. Kan jy iets hieroor sê?

Enige teks spruit uit ’n gemeenskap en omstandighede. Orwell het in die dertigerjare die vooroorlogse tydperk in Brittanje gekarteer sonder dat hy presies kon weet of daar wel ’n oorlog gaan wees en indien wel, wanneer. Lees ’n mens vandag die boeke, kom ’n duidelike prent te voorskyn van al die onsekerheid en die oorlogswolke wat tog gedreig het. Boeke wat vandag verskyn, vang vandag se onsekerhede vas. As ’n mens dan later in ’n meer stabiele era die boeke sou lees, sal jy dalk daaruit put wat lesers in die tagtigerjare byvoorbeeld uit Orwell se politieke werke geput het, so ’n leunstoelverligting dat daardie wêreld nie deel van hierdie wêreld is nie, en tog is dit steeds herkenbaar genoeg om relevant te wees. Die distopie dreig altyd. Dis onder die oppervlak. Ons is sterflike wesens, altyd bewus van die groot krisisse wat op die punt staan om plaas te vind en die einde wat moet aanbreek. Die eindtyd wag op ons almal, en dalk gaan distopiese tekste oor instruksie vir sulke gebeure, of ten minste die vertroosting dat jy nie die enigste een met hierdie vrese is nie.

........

Die distopie dreig altyd. Dis onder die oppervlak. Ons is sterflike wesens, altyd bewus van die groot krisisse wat op die punt staan om plaas te vind en die einde wat moet aanbreek.

..........

Ek het nóg ’n prentjie in my kop gesien toe ek hierdie boek lees. Daar was iets van Ryk van die rawe, soos ek nou al genoem het, maar dan ook ’n prent van ’n Suid-Afrikaanse film, Stam. Die film speel af onder straatmense in Kaapstad. Wat het jy alles gesien toe jy dit geskryf het?

Wat films betref het ek onder meer aan Children of men gedink, hoewel my skets nie so desperaat is nie. Die film Stam ken ek nie. Ek het ook ’n aantal video’s gekyk en artikels gelees oor stedelike omgewings se uitwerking op mense se geestesgesondheid en gedrag.

Uit my eie ervaring het ek aan Bellville gedink, veral die buurt tussen Voortrekkerweg en die stasie, daar met Durbanweg langs.

Vertel my van jou verhouding met stede. In elke boek wat ek al van jou gelees het, is ’n stad beslis een van die karakters. Ryk van die rawe is in 1996 gebore. Twee stede is hier prominente karakters: Londen en Bellville (nie te verwar met Kaapstad nie). Aanspreeklikheid bied Hermanus met sy rykmanskontras teenoor die mindergegoede dele (mens sien daardie dele nie juis nie, maar bly bewus daarvan, met bedelaars by die robotte). Later, natuurlik, weer Bellville. In Simoelégri is hierdie Simoelégri ’n fiktiewe stad. Met duidelike flitse van Bellville.

Jy is reg oor Bellville. Toe ek daar gaan bly het, het ek vir drie jaar in ’n hostel agter Sanlam gewoon, daarna vir twee jaar in ’n woonstelblok in Loevenstein, toe vir drie jaar in ’n tuinwoonstel in Boston. Vir ’n ruk het ek ’n motor gehad, maar is dit later kwyt, en toe sommer ook die volgende kar wat ek koop. Toe het my eintlike Bellville-lewe begin, want ek het geloop na waar ek wou wees en van die treine gebruik gemaak om in die Kaap uit te kom. Elke enkele keer wat ek na Bellville-stasie is, het ek iets ongewoon gesien. Daar was ’n meubelwinkel waaruit musiek ongoddelik hard gebulder het. In een van die eetplekkies het ek pap en lewer uit ’n plastiekbord geëet. Twee swendelaars het my in ’n speletjie van R90 verlos en ek het dit as skoolgeld gesien. Een Saterdagoggend het ’n liggaam onder ’n kombers op die sypaadjie gelê terwyl twee polisiemanne langs hulle bakkie staan en gesels. By die stasie en op die treine het predikers gemoedere kalm gehou. Dit was ’n halfuur van Bellville tot op die Kaapse stasie, en van daar kon ’n mens deur die stad stap, heen en weer, en oral was daar iets interessant. Hoe dit vandag is, weet ek nie. Ek hoor dat die treindiens nou baie wisselvallig is weens vandalisme en kabeldiefstal, maar ek is seker ’n mens sal nog oor die weg kan kom. Ander mense sê die kroeg-scene is nou ’n ramp, veral oor die sekuriteitsdienste by die kuierplekke. Maar daar was destyds al dramas rondom uitsmyters en bendes. ’n Mens het maar mooi getrap en nie lank oogkontak gemaak nie, en as ’n baie groot ou na jou staar het jy gesê: “Naand, Oom,” want as iemand vir jou lag, sal hy nie sommer slaan nie.

’n Mens hoor soms van die anonimiteit van stede, maar ek het gevind dat as ’n mens ’n rukkie in ’n buurt is, word jy deel daarvan en mense begin jou groet en uitvra. Dis anders as jy gewoonlik in ’n motor sit wanneer jy iewers heen gaan. Dis deel van die meer gegoede klasse se afsondering, daardie gemak wat hulle van die strate hou.

Ja, ek hou van die gedagte aan stede. Wat ek hier in Hermanus mis, is die soort vervoer wat ’n mens in stede kry, en ek bedoel treine. In Londen was ek mal oor die underground. Dit was so besig en indrukwekkend, en oud ook, dikwels, sodat die geboë tonnels met sulke klein steentjies of teëltjies uitgelê is. Miskien het ek ook maar net ’n baie toeristiese indruk van stede; ek weet nie.

Ek voel of die boek meer in gesprek tree met Ryk van die rawe as met Aanspreeklikheid, maar dis dalk net ’n persoonlike mening. (En natuurlik onsinnig, want jou boeke tree almal met mekaar in gesprek. Of ís dit so? Wat van jou jeugboeke?). Voortsetting van die vorige vraag, oor of hierdie ’n meer “positiewe Aanspreeklikheid” is (soos in jou Netwerk24-bekendstelling genoem): “Die gerugte van die feit dat daar nog medikasie is, of verwarmers.”

My jeugboeke het met dieselfde dinge as die ander te doen, maar word te lig bevind. Somer is gekritiseer onder meer omdat die twee hoofkarakters nie besonder simpatiek teenoor ’n figuur met geestesprobleme is nie. Maar as jy agtien is, het jy nie baie tyd vir swaarmoedigheid nie en jy lag oor dinge wat eers dertig jaar later vir jou tragies is. Ek voel dus ek het die betrokke situasie akkuraat uitgebeeld. Dit gesê, besef ek my aanslag is miskien swaarwigtig, nie altyd ’n goeie ding in jeuglektuur nie.

Dis wonderlik om te hoor mense lees nog Ryk van die rawe. Die afgelope drie boeke (Verstevlei en die nuwer twee) was pogings om op daardie eerste een te reageer. Miskien herbesoek ’n mens regtig telkens dieselfde terrein.

Ek dink ten opsigte van grafiese uitbeelding is hierdie boek miskien meer positief. Aanspreeklikheid bevat maar wilde tonele, natuurlik doelbewus. Iewers op ’n kol het iemand my gesê Afrikaanse misdaadfiksie is opleidingshandleidings vir misdadigers, of inspireer ten minste sekere karakters tot nare dade en die boeke verdien nie pryse nie, en toe voel ek nogal aandadig daaraan. Miskien moet ek sê: aanspreeklik!

Hierdie boek het ’n baie positiewe boodskap: Wees goed. Ek wou nie ’n blatante traktaatjie daarvan maak nie, en tog ís dit op ’n manier. Soos jy praat van die brief wat die boek is – dis byna ’n sendingsbrief. Dis die evangelie volgens Lady Die.

......

Dis die evangelie volgens Lady Die.

........

Is skryf vir jou prontuit terapie? Laat dit jou beter voel?

Iewers het ek gelees dat die beste deel van die lewe die deel is wat jy jou verbeel of nog afwag. Ek hoop ek onthou dit reg. Dit gaan oor die verwerking van sleur en spanning. Ek sou in elk geval geskryf het, sonder publikasie ook. Dan sou ek seker ’n dagboek gehou het.

Dit laat my wel beter voel. Nie net oor die gedagtes en ervarings wat ’n mens verwerk nie, maar oor die suiwer feit van werk doen, van ’n taak verrig. Dis ’n wonderlike gevoel om ure lank verdiep in ’n stuk skryfwerk te wees en dan terug te sit en te dink oor die paragrawe wat jy geskep het. Dit voel altyd na iets wat die moeite werd was. Nie baie tydverdrywe gee my daardie gevoel nie. Studeer gee dit ook. Dalk is ek ’n “muppy”: middle-aged and upwardly mobile.

Hierdie temas duik weer op: kroeë, kerke, kuns. En outsiders. Mense op die rande van die samelewing. Hoe meld temas hulle by jou aan?

So twee jaar terug is ek en my vrou eendag in Bellville en toe gaan kyk ons na die kroeg waar ek in 1994 gewerk het. Dit was ’n Saterdagmiddag. By die deur het paniek my oorval en ek kon nie ingaan nie. Lorraine het na binne gekyk en ’n blik op die drinkers gekry en die musiek gehoor. Ek het vinnig twee mans in hulle twintigs gesien wat uitgelate gelyk het, en ek wou net daar wegkom. Maar in ’n sin verlang ek na so ’n lewe, daardie sorgvryheid: Vanaand gaan jy niks anders doen as bier drink en musiek luister en groot drome droom nie. Ons was ’n hele paar sulke dromers. Een na die ander het die leefstyl laat vaar, gewoonlik wanneer hulle ernstig oor ’n vrou raak of dissiplinêre probleme by die werk kry. Van die mense het ook aan skeppende werk gedink, maar nooit daarby uitgekom nie, net bly praat daaroor, laataand wanneer almal se oë brand van die vaak. Ek onthou ’n man het my in Durbanville vertel van ’n idee vir ’n televisiereeks wat hy wil verkoop. Hy wou dit nie ontwikkel nie, net verkoop vir geld. Dit was ’n motiveerder vir hom, om oor die plan te praat, iets om hom deur sy lewe te dra. Hoe kan ’n mens anders as om simpatiek teenoor so iemand te voel? En dan skryf jy oor hom, al verklap jy nie die idee waarmee hy jou vertrou het nie.

Dan ken ek ook iemand wat my van tyd tot tyd vir geld nader. In my geselskap is hy altyd voorbeeldig, maar hy doen werk in die tuine na aan my vensters en ek hoor hom met ander mense praat oor skollies wat hom geld skuld en buurte wat hy geken het en ’n huis wat hy eens besit het. Hy sal met ’n draai kom en praatjies maak, my sy ou vriend noem, en dan verduidelik dat hy R500 nodig het. Van tyd tot tyd gee ek dan ook vir hom ’n paar note, en ek dink hy weet dat hy eendag in ’n storie gaan beland. Ek twyfel of dit hom sal ontstig. Maar selfs al skryf ek nooit oor hom nie, dra hy by tot my beeld van die lewe in Suid-Afrika. Hy is ook ’n vermaning dat dit met enigiemand kan begin sleg gaan in die finansiële sin, maar dat jy tog nog vreugde kan behou, al moet jy dan mense met ’n draai nader en praatjies maak en iemand jou ou vriend noem sonder dat hy dit is.

.......

Ek hou van vervulde mense en ek het baie respek vir ambisie en prestasie. Maar aan die rand van die samelewing kom jy op ’n hart af wat jy nie in gegoede kringe aantref nie.

........

Ek hou van vervulde mense en ek het baie respek vir ambisie en prestasie. Maar aan die rand van die samelewing kom jy op ’n hart af wat jy nie in gegoede kringe aantref nie. Buitendien is maniere daar minder van ’n kwessie. Miskien moet ek sê: “Breeding and manner is daar minder van ’n kwessie.” Dis ’n meer ontspanne omgewing, heelwat minder veeleisend.

Oor die kerk het ek hier bo iets gesê. Kuns fassineer my. Spesifiek beeldende kuns. My ideale kunstenaar is ’n skilder. Ek kyk na prente: Rockwell, Banksy, Hopper, Pollock. Ek hou veral van tonele wat lyk of dit uit films of comics kom. ’n Mens kan ’n gedagte oor skryfkuns soms met groter vrug aan die skilderkuns toedig, want dan beweeg jy ten minste weg van jouself. In Simoelégri staan Vanessa Keel se skilderye vir my soos belangrike boeke op ’n rak, daar om betrag en waardeer te word. En sy is as skilder natuurlik onderworpe aan soortgelyke beperkinge as skrywers. Hoe verwerk ’n mens die feit dat daar vele is wat beter as jy skryf? Erger nog – nie net beter nie, maar met meer insig, en dan op groter belangrikheid kan aanspraak maak? Mense wie se boodskap, om tog maar na die kerk terug te keer, duideliker as jou eie opklink? Hiërargie waar ’n mens jou ook al draai. Soms voel dit vir my die enigste sinvolle stryd is die klassestryd. Og, luister daar. Dis ’n hengse ego-ding. Kompetisie maak idees goedkoop. Jy sal jou siel verkoop vir ’n gevatte sin.

Is hierdie verlede jaar? Is dit die toekoms? Hoe werk tyd in ’n storie? “Die gebeure was in elk geval hoe die laaste herinneringe aan ’n redelik onskuldige wêreld vir my was, deurtrek met die geur van dennebome, die groen van wingerd, die gedagte aan die bloed wat teen mure en aan beddegoed kon gekleef het. En wat maak dit vandag saak? Soveel mense is dood, Hendrik-hulle seker ook al. Wat bly oor, die luiperds en die kobras? En hier sit ons in die stad en wie kan sê of ons beter of slegter daaraan toe is? Maar ek het genoeg gesê vir eers. Dit maak darem die nag korter.”

Ja, die tyd van die storie is winter 2020. Dis toe die ding vorm gekry het. Maar dit steier tog ook die onmiddellike toekoms in. Toe Nèlleke met my die Netwerk24-onderhoud gevoer het, was dit die tweede week in Julie 2021, pas na die hewige onluste en diefstal in KZN en Gauteng. Toe het ons gepraat oor hoe onheilspellend toepaslik nie net Simoelégri is nie, maar ook Aanspreeklikheid. Dit laat ’n mens skrik. In sommige kringe voel mense jy moet liefs nooit praat oor moontlike onheil nie, want dan spreek jy dit oor jouself uit. Jy maak dit waar. Dis hoe ek vir ’n paar dae gevoel het, dat ek dalk op die een of ander manier gehelp ontketen het aan die bose magte. Nou ja, dis reeds weer ’n idee vir ’n ander boek net daar.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché

Aanspreeklikheid: ’n onderhoud met Jaco Fouché

Simoelégri: stad van onrus deur Jaco Fouché – ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top