Simoelégri: stad van onrus deur Jaco Fouché – ’n resensie

  • 0

Simoelégri. Stad van onrus
Jaco Fouché
ISBN: 9780798182447
Human & Rousseau.

Jaco Fouché se jongste roman het ’n interessante titel. Ek het dadelik “Simoelégri” gegoogle om uit te vind waar hierdie vreemde stad is, maar slegs op verwysings na die roman afgekom. Dit is nie die naam van ’n “regte” stad wat iewers bestaan nie. Simoelégri is ’n gemaakte woord.

Eers later het ek Fouché in ’n onderhoud met Nèlleke de Jager hoor verduidelik dat hy die woord na aanleiding van Jean Baudrillard se term simulacrum geskep het.

Die suggestie agter hierdie opmerking is dat hierdie stad ’n simulacrum of afbeelding is. Vir Baudrillard (in Simulacra and simulation) is die simulacrum nie bloot ’n namaaksel (simulasie) van die werklikheid wat deur middel van tekens en simbole na die oorspronklike werklikheid verwys nie; volgens hom leef ons in die simulacrum wanneer die wêreld wat ons ervaar, slegs uit tekens en simbole bestaan, maar eintlik nie meer ’n simulasie is nie, omdat die “werklikheid” waarvan dit ’n nabootsing is, nie meer noodsaaklik is nie – wanneer al die tekens en simbole wat ons omring en wat ons leefwêreld bepaal, eintlik net na ander tekens en simbole, ander nabootsings, verwys en dat daar geen oorspronklike werklikheid meer agterhaalbaar is nie. Die simulacrum is selfs meer as om die werklikheid deur nabootsings daarvan, deur die TV-beelde en mediaberigte van die werklikheid te ervaar. ’n Mens leef in ’n simulacrum wanneer die beelde self die wêreld waarin jy woon, vorm, en nie die werklikheid waarna hulle verwys nie. Om in die simulacrum te leef is om in ’n gemaakte werklikheid te leef wat nie meer afhanklik is van ’n realiteit daarbuite nie.

.........

’n Mens leef in ’n simulacrum wanneer die beelde self die wêreld waarin jy woon, vorm, en nie die werklikheid waarna hulle verwys nie. Om in die simulacrum te leef is om in ’n gemaakte werklikheid te leef wat nie meer afhanklik is van ’n realiteit daarbuite nie.

..........

Soos die karakter Jack in Simoelégri opmerk: “Daar wag geen hemel meer nie. Daar is net Simoelégri” (102).

Sonder Fouché se opmerking in die onderhoud sou ek nie geredelik die verband tussen die romantitel en Baudrillard se konsep van die simulacrum gelê het nie, maar met daardie “sleutel” maak baie aspekte van die roman meer sin, en dit help beslis om Simoelégri teen hierdie agtergrond te lees – al laat dit steeds ’n hele klompie los drade ten opsigte van die filosofiese implikasies van die roman. (Dalk is ek bloot nie die ideale leser nie, maar ek wonder of ’n belangrike sleutel soos hierdie nie duideliker in die roman self aangebied behoort te word nie?) In die lig van die simulacrum-gedagte maak die volgende verwysing na die aarde voor die apokalips ook sin wanneer dit beskryf word as ’n wêreld “vrot van beelde, kleur en kennis. Die rekenaarstelsel was die eerste planeetwye tegnologie en baie, baie, baie skakel daarby in. Kursusse was algemeen, en werwe met inligting. Om te weet van wiskunde, van godsdiens, van fisika, van toorkuns. Om te weet wat ander weet en nie agter te raak nie; al is dit op die ou end oor praat self. Want kennis baar net kennis en praat net praat” (104–5).

.........

Sonder Fouché se opmerking in die onderhoud sou ek nie geredelik die verband tussen die romantitel en Baudrillard se konsep van die simulacrum gelê het nie, maar met daardie “sleutel” maak baie aspekte van die roman meer sin, en dit help beslis om die Simoelégri teen hierdie agtergrond te lees – al laat dit steeds ’n hele klompie los drade ten opsigte van die filosofiese implikasies van die roman.

.........

Die mense in Simoelégri leef in ’n stad wat hulle (somber) werklikheid is, maar hul het ’n besef dat dit ’n “gemaakte werklikheid” is en hulle het ’n verlange na iets anders (iets werklik). In ’n sentrale gebeurtenis in die roman wil Jack ’n bees slag en die hart vir ’n jongman, Dean, gee in ’n poging om deur die ritueel betekenis aan Dean se lewe te gee. Die poging misluk, met die suggestie dat die ritueel in elk geval geen verband met ’n “waarder werklikheid” het nie. Die hoofkarakter, Lady Die, is ’n prostituut wat die jongman deur die seksdaad probeer inwy in ’n betekenisvolle bestaan, maar ook seks is geen betekenisvolle ritueel wat ’n verbintenis met ’n ander “waarder” en daarom sinvoller wêreld kan bied nie. Uiteindelik het die inwoners van Simoelégri slegs skilderye, afbeeldings, hoorsê-mededelings, ou boeke en preke, clichés wat nie by ’n werklikheid iewers anders kan uitkom nie.

Of hierdie interpretasie moontlik sou wees sonder die toevallige verwysing, is onwaarskynlik, maar so ’n interpretasie kan help om enkele van die irritasies wat ’n leser dalk kan ervaar, uit te skakel.

Simoelégri kan as ’n postapokaliptiese roman beskryf word. Ongeveer dertig jaar voor die verhaalhede het ’n ongespesifiseerde gebeurtenis plaasgevind (daar is onder meer verwysings na ’n virus) wat ’n radikale omwenteling teweeggebring het. Almal wat al postapokaliptiese romans gelees het, weet min of meer hoedat lewe op die aarde uitgebeeld word nadat ’n groot ramp dit getref het. Dit maak nie juis saak of die ramp mensgemaak of natuurlik was, gespesifiseer of onduidelik is nie. Van kernontploffings tot asteroïdes, oorlog en peste of politiek tot klimaatsverandering, die ramp self is nooit die belangrikste in postapokaliptiese romans nie. Die klem val eerder op hoe alles daarná verander het. Byna alle postapokaliptiese romans roep ’n grys, troostelose, verwoeste landskap op: leë snelweë met verwronge motorwrakke daarop, uitgebrande, ineengestorte geboue, verskroeide woude. Óf die lug is donker en grys weens as en rookwolke wat die son uithou, en alles is koud en grou en skemer, óf ’n verblindende, kankergewende son waarteen skuiling skaars is, oorheers. Die oorblywende mense veg in klein groepies om oorlewing. Dikwels voer gewetenlose bendes ’n skrikbewind en beheer die laaste bietjie hulpbronne (meestal sonder die hoë tegnologie wat eens bestaan het – dink aan die vreeslike bendes in Cormac McCarthy se The Road, of die bendes in David Mitchell se Cloud Atlas wat iewers in ’n toekomstige Hawaii met messe en lanse teen mekaar veg terwyl slegs vae herinneringe aan ’n “antieke” beskawing deur die oorblyfsels van betonaanloopbane opgeroep word).

In die meeste postapokaliptiese romans heers ’n ambivalente gevoel oor tegnologie – daar is dikwels ’n verwyt dat juis tegnologie die ramp veroorsaak het, maar die oorlewendes klou soms ook aan die laaste bietjie tegnologie vas om te oorleef. Die oorlewendes van die apokalips is byna altyd in ’n nuwe klasstelsel verdeel wat meestal met wrede geweld in stand gehou word en waarin die ondergeskiktes deur onkunde en vrees “op hul plek” gehou word. Die leiers behou hul mag dikwels deur brute krag, maar soms is die gemeenskappe meer vreedsaam, met leiers wat ’n soort goddelike sanksionering het en byna soos priesters optree.

Soos reeds gemeld, het die ramp in Simoelégri sowat dertig jaar tevore plaasgevind. Sommige, ouer karakters (Lady Die en Jack) het nog herinnerings aan die eertydse, “normale” lewe – ons eietydse bestaan (2020’s) – terwyl die jonger generasie (Dean) dit nie meer het nie. Oorlewing is vir die meeste maar moeilik, en veral energie vir lig en hitte is skaars; elektrisiteit afwesig. Daar is wel gerugte dat dit beter gaan in sommige gebiede buite Simoelégri. Die stad is onder die bestuur van ’n stadsraad met ’n sterk militêre mag, maar eintlik is die “rooikoppe”, ’n versetbeweging van ondergeskiktes, in beheer – ten minste van die rioolstelsel. (Hierdie versetbeweging het wortels terug na die 2020’s en word gelei deur Ronnie Keel, wat as plaaswerker op ’n Bolandse plaas grootgeword het.)

Postapokaliptiese romans gaan gewoonlik nie slegs oor die individu se oorlewing in die veranderde sosiale of die verwoeste natuurlike omgewing nie, maar ook oor die oorlewing van die planeet en die mens se rol in die moontlike dood daarvan. Sodoende bied postapokaliptiese romans kommentaar op ons eie gemeenskap. ’n Situasie waarin alles wat die mensdom eens gedefinieer het, weggestroop is, kan ’n insig bring in wat régtig saak maak, in wat menswees werklik is. In ’n situasie sonder die tegnologie waarvan mense so afhanklik is (en in Simoelégri is daar die interessante verwysing na ’n tehuis met “kuberfreaks” wat sonder sonskyn en elektrisiteit nie regtig ’n goeie kans het om te oorleef nie) en waarin die kapitalisme ineengestort het sodat die ekonomie eerder op ruil staatmaak, kan ondersoek word hoe mense sonder hierdie stelsels is. Die sentrale vraag in baie postapokaliptiese fiksie is: Wat bly oor as alles wat bekend is (veral tegnologie, ekonomie en sosiale verdelings soos ons dit ken), wegval?

Met Simoelégri wend Jaco Fouché hom ook tot hierdie genre wat die afgelope tyd wêreldwyd, en ook in Afrikaans, nogal gewild is (onder meer Alettie van den Heever se Stof, Harry Kalmer se Land sonder voëls, Lien Botha se Wonderboom sluit hierby aan). Dit is ’n lofwaardige poging van Fouché, want hy beweeg hiermee weg van die soort romans wat sy oeuvre kenmerk. Hy is die meester van die roman oor “die gewone ou” (Ed in Ed van Inligtingstelsels of Pieter in Die avonture van Pieter Franken) met ’n vervelige kantoorwerk wat dikwels noodgedwonge of uit keuse aan die swerf raak, met wie die lewe gebeur, eerder as wat hulle beheer het oor hul eie lewens. Fouché is ook die meester van die randfiguur. In Aanspreeklikheid het sy werk ’n hoogtepunt bereik met ’n roman wat filosofies belangrike insigte in ons gewelddadige samelewing uitbeeld terwyl dit ook formeel en stilisties ’n kragtoer is.

........

Fouché is ook die meester van die randfiguur. In Aanspreeklikheid het sy werk ’n hoogtepunt bereik met ’n roman wat filosofies belangrike insigte in ons gewelddadige samelewing uitbeeld terwyl dit ook formeel en stilisties ’n kragtoer is.

.........

Met Simoelégri beweeg hy op die oog af weg van sy bekende karakters. Die hoofkarakter, Lady Die, is ’n transgender vrou, eerder as die alleenloperman wat sentraal in die meeste van sy ander romans gestaan het (’n postmatriek in Ryk van die rawe, effens ouer werkende man in Ed van Inligtingstelsels en ’n vyftigjarige man in Aanspreeklikheid). Maar hy sluit tóg ook weer aan by sy bekende tema van lessenaar- of toonbankwerkers wat vervelige take verrig en vriendskappe vorm waarvan die hoofkarakter uitgesluit voel, wanneer Lady Die terugdink aan haar werk en vriende in die tyd voordat alles verander het. Sy onderneem ook ’n lang wandeling deur die stad waartydens sy allerlei waarnemings maak – iets wat talle karakters in Fouché se oeuvre doen.

Die ruimte verskil oënskynlik van die ruimtes in Fouché se vorige werk. Die stad Simoelégri bestaan in die toekoms, ná die groot verandering. Dit is ’n donker, koue plek waarin mense “onder die radar” leef sodat hulle nie belasting hoef te betaal nie – want belasting finansier bloot die bevoorregtes se lewenswyse in plaas daarvan dat infrastruktuur verskaf en hulp aan die breë bevolking daarmee gebied word (’n waarskuwing gerig aan ons tyd). Baie mense slaap op straat, geboue is vervalle en staan leeg, terwyl basiese dienslewering (behalwe riolering) verval het. Polisiëring is onbetroubaar en orde word eerder deur die “rooikoppe”, ’n groep “vryheidsvegters” gehandhaaf. Hierdie “vreemde” ruimte verskil egter nie so baie van hoe karakters hulle wêrelde in vorige Fouché-romans ervaar het nie: Daar is groter politieke en sosiale stromings waarvan die individu nie veel verstaan nie en dus strompel hulle maar voort in ’n onbekende omgewing waarin onverwagse en toevallige gebeurtenisse hulle te beurt val.

Soos hier bo genoem, word in postapokaliptiese romans dikwels gevra na wat eintlik oorbly as al die bekende strukture weggeval het. Daarom word synsvrae ondersoek, en soos in sommige van Fouché se vorige romans is daar ook in Simoelégri ’n worsteling met godsdiens. Reeds in Ryk van die rawe het Ratkas Goosen katedrale besoek, en Bybelstudiegroepies speel ’n rol in romans soos Verstevlei en Aanspreeklikheid. In Simoelégri word godsdiens reeds deur die ruimte op die voorgrond geplaas. Dit is immers betekenisvol dat die meeste gebeurtenisse in ’n kerkgebou afspeel – die verlate kerkgebou waarin Lady Die, ’n transgender vrou wat haar brood met prostitusie verdien, met die hulp van Jack, ’n dwelmhandelaar, woon. Die kerkgebou bied dus skuiling aan ’n prostituut en ’n dwelmhandelaar. Lady Die beskryf haarself naby aan die einde as ’n “godsdienstige slet” en sy spreek die leser direk aan: “As jy ’n biddende wese is, soos ek aanneem jy is, kan jy moontlik vir my bid. Vra dan genade vir my siel, of die reste daarvan, dit wat oorbly na my aard van sin geloog is. Op my beurt bid ek jou die seën van die Here toe. Mag Hy oor jou waak al die dae van jou lewe.” (Gelees teen die agtergrond van die simulacrum, kan dit as ’n nuttelose versugting na ’n werklikheid buite die simulacrum gelees word – wat nogal interessante interpretasiemoontlikhede sou kon oopmaak – maar wat nie regtig deur die res van die roman ondersteun word nie.)

Die religieuse verwysings en talle sterfgevalle en verwysings na die dood (ook deur die hoofkarakter se naam – in vertaling Dame Dood) is ’n aanduiding dat die roman lewensin in die aangesig van die dood ondersoek. Nie alleen hoor Lady Die flardes van toesprake of preke deur die pype in die kerk nie – telkens woorde met ’n religieuse strekking: “…od …od …od met ons” (72) – maar ook is die kerk die ruimte vir ’n poging tot ’n rituele offer – wat op onvoorspelbare wyse lei tot die dood van die geheimsinnige leier van die “versetbeweging”, Ronnie Keel.

Lady Die is die verteller. Sy beskou die kerk as ’n tydelike blyplek waar sy haar dae omkry deur baie ure te slaap, deur ander mense uit ’n venster bo in die kerk waar te neem,  deur te lees, en deur te dans op musiek indien sy batterye in die hande kan kry. Sy kry warmte van ’n konkavuur wat sy met steenkool aan die gang hou. Sy lees onder meer ’n Bybelkonkordansie, boeke deur televisie-evangeliste en werk oor Marilyn Monroe en Sylvia Plath – sy identifiseer (as Dame Dood) kennelik met laasgenoemde twee vroue wat albei deur selfdood gesterf het. ’n Inkomste verdien sy, soos reeds gemeld, deur prostitusie. Sy word dikwels op straat gespot en oor die algemeen sleg behandel: “Dis die ding van ’n prostituut wees: mans dink hulle kan jou soos ’n hoer behandel” (22).

Simoelégri is ’n stad in verval en onder bedreiging – dwelms word op straathoeke gesmous; daar is lankal nie meer elektrisiteit en ander dienste nie; dit is ’n grou en koue landskap waar die son flou skyn. Dit is ’n plek waarheen mense vlug om van dophoutegnologie te ontsnap en waar hulle sonder belastingnommers leef ten einde sentrale beheer te ontvlug. In hierdie gebied is, soos reeds genoem, die ondergrondse versetbeweging die rooikoppe (’n naam te danke aan hulle kopdoeke) onder Ronnie Keel in beheer. Hulle voer ’n soort skrikbewind en is in verset teen die regeringsmagte. Keel is ’n voormalige plaaswerker en die seun van ’n skilder.

Ek het reeds hier bo gesê dat almal wat al postapokaliptiese romans gelees het, wéét hoe so ’n wêreld lyk. Die wêreld wat in Simoelégri beskryf word, het aanvanklik vir my gevoel na ’n tweedehandse beskrywing van ’n fliek wat ek al gesien het (dalk die beskrywing van die snelweg met die uitgebrande motorwrakke daarop?) en ek wou dit as kritiek in hierdie resensie noem. Maar agterna, in die lig van Baudrillard se simulacrum, kan dalk geredeneer word dat dit juis funksioneel is dat die beskrywings nie van ’n “werklikheid” is nie maar van afbeeldings daarvan?

........

Ek het reeds hier bo gesê dat almal wat al postapokaliptiese romans gelees het, wéét hoe so ’n wêreld lyk. Die wêreld wat in Simoelégri beskryf word, het aanvanklik vir my gevoel na ’n tweedehandse beskrywing van ’n fliek wat ek al gesien het (dalk die beskrywing van die snelweg met die uitgebrande motorwrakke daarop?) en ek wou dit as kritiek in hierdie resensie noem. Maar agterna, in die lig van Baudrillard se simulacrum, kan dalk geredeneer word dat dit juis funksioneel is dat die beskrywings nie van ’n “werklikheid” is nie maar van afbeeldings daarvan?

...........

Lady Die skryf eintlik haar eie lewensverhaal neer, en slegs in twee kort dele van die roman word perspektief gewissel onder die opskrifte “Wat Jack onthou” (15 bladsye) en “Wat Dean vertel” (drie bladsye) wanneer hierdie twee karakters self aan die woord kom. Benewens hierdie twee perspektiefveranderings is daar ook ’n lang terugflits na die tyd voor die verandering plaasgevind het onder die opskrif “Wat Lady Die onthou”. Hierdie gedeelte is veral gemoeid met haar worsteling met identiteit – sy het toe nog as ’n man geleef en verskeie vaal toonbank- en kantoorbetrekkings beklee (baie soortgelyk aan talle ander Fouché-karakters).

In die verhaalhede probeer Jack om vir Dean, ’n onskuldige jong man, in die lewe in te lei; hy probeer om vir hom sekerhede te gee. Hy probeer om vir Dean as “vakleerling” op te lei om sy plek as dwelmhandelaar in te neem en hy probeer om deur die offerritueel vir hom ’n identiteit as volwassene te gee. Hy vra uiteindelik vir Lady Die om die jongman ook seksueel te probeer inlei in die volwassenewêreld. Dean probeer self om ’n identiteit te vind in die versetbeweging. Geen van die prosesse slaag nie. Dit is duidelik dat daar geen groter sekerheid is waarin die jongman ingelei kan word nie. Sy betrokkenheid by die versetbeweging is ook nie vir hom singewend nie – trouens, geen politieke betrokkenheid lyk werklik sinvol nie.

In die afdeling “Wat Jack onthou” word teruggekeer na ’n herkenbare, eietydse Suid-Afrika. En dit is juis hiermee dat die leser se opskorting van ongeloof beproef word. Die Simoelégri van die romanhede wil nie logies lekker klop met ons eietydse Suid-Afrika wat Jack onthou nie. Enersyds is die tydverloop te min om die soort veranderings wat plaasgevind het, geloofwaardig te maak; andersyds is die romanhede net té ongeloofwaardig – die raadslid van die stad is Frank Dube, maar die soldate/polisie wat die klopjag uitvoer, praat soos wit dienspligsoldate uit die 1980’s, terwyl die beweging van die onderdruktes, die opstandiges, die rooidoeke, mense soos Dean (’n naïewe Boerseun) insluit. Simoelégri maak hierdie sprong tussen ’n vernietigde ouer wêreld en die postapokaliptiese wêreld nie oortuigend nie. Miskien is dit wat Etienne Leroux eens in ’n onderhoud in Vrye Weekblad opgemerk het – dat hy nie vir die bevrydes kan skryf nie. Iets aan hierdie verset, aan die Gilde, aan Dean wat daaraan behoort, en aan die karakters Die en Jack wil net nie klop nie – hulle onderduikte en onderdrukte status voel maar steeds baie middelklas.

Wat Jack onthou, is ’n vakansie op ’n Bolandse wynplaas vóór alles verander het. Hy leer daar op die plaas die werkerskind Ronnie Keel ken. Ronnie is ’n opstandige jongman. Sy ma, Vanessa, het as ’n plaaswerker begin, maar ’n bekende kunstenaar geword. Reeds in hierdie tyd wat Jack in herinnering roep, meer as twee dekades tevore, was die land nie meer “idillies” nie: “Die plaas was nie ’n idilliese plek nie. Die land ook nie. Soos vele mense moes ek aanvaar dat die paradys ons net tydelik beskore was” (36). Hierdie sin laat Jack se terugkyk lyk na ’n soort wit terugverlang na apartheid, toe daar vir hom eens ’n “idilliese lewe” was. (’n Lewe wat dalk in verband gebring kan word met ’n tyd toe daar nog ’n “werklikheid” was en nie net die simulacrum nie? So iets sou dalk nog kon sin maak, maar word nie in die roman ondersteun nie en gevolglik lyk dit meer na ’n problematiese politieke/historiese verwysing.)

Die volgende sin resoneer nogal by ons wat die afgelope maande na plundering op TV gekyk of dit ervaar het:

Dat daar kwellinge was, finansieel, polities, was egter oral duidelik. Saans op televisie het die blyke gekom van ’n samelewing wat aan die verander was, selfs aan die verval. Oral was daar woede. Vragmotors met kos is geplunder. Winkels is afgebrand. Beamptes is doodgemaak. Ons is gerusgestel dat dit tydelik is, dat die wêreld in oorgang weer sy lê sal kry, dat ons aan iets besonders en nuuts bou. (37)

Juis omdat hierdie woorde nou so helder by ons resoneer, wil mens eintlik so half opgewonde raak oor die roman – dit skep die verwagting dat die roman ons ’n insig gaan gee in die huidige situasie, dat hier werklik iets diepsinnig oor ons bestaan in hierdie land gebied sal word. Mens wil-wil begin dink aan belangrike romans van soortgelyke aard: Karel Schoeman se Afskeid en vertrek, of JM Coetzee se The life and times of Michael K, waarin ’n herkenbare huidige bestel uitmekaarval; waarin die bestaande orde reeds deur onrus of oorlog omvergewerp is terwyl sekere vorme van gewone lewe nog voortgaan. Maar die hoop stel teleur. Die roman wankel hier tussen die ontleding van die uitmekaarval van die vorige bedeling en die ondersoekmoontlikhede wat ’n nuwe bedeling bied, maar slaag nie in een van die twee nie.

Die pogings om oortuigend oor die werkersklas te dink raak nie grond nie: “Selfs die armste werklose wat in ’n huisie skuil, het meer as ek gehad, en dit was geskiedenis. Iemand soos Ronnie Keel kon oor sy kort lewe heen terugwys en sê hy is nog altyd hiervandaan. Ek self had nie geskiedenis nie. Ek had fragmente” (40). Werklik kan hierdie soort voordoen van diepsinnige filosofiese gedagtes geen ernstige ondersoek deurstaan nie. Hy beskryf homself as ’n “leftie" wat op die "underdog" moet ag slaan. “Lastige verpligting” (49). En hoewel dit ironies bedoel word, is dit byna die gevoel wat die hele roman het – dat die skrywer op ’n manier vanuit ’n bevoorregte posisie sy eie bevoorregting bedreig voel; nie daarvan afstand doen nie, maar skuldig voel daaroor en probeer om ag te slaan op die "underdog", die werker, die transgender persoon, die uitgestotenes van die samelewing. Maar dit slaag nie – nie filosofies nie en ook nie op vertelmatige vlak nie.

Die deel “Wat Dean vertel” bied inligting aan waaroor Dean onwaarskynlik sou kon beskik en doen onoortuigend aan – ’n greep wat moet dien om meer inligting oor die tema van kuns en kunstenaarskap in die roman te bied. Ook verskil die taalgebruik van Dean nie van dié van Die of Jack nie. (Mens sou natuurlik kon vra waarom ek ’n eis van oortuigendheid en “realisties” binne die verhaalverband kan stel oor ’n fiktiewe wêreld wat in ieder geval nie bestaan nie – en mens sou die vraag nog verder kon voer binne die konteks van die roman as simulacrum, maar tog bly al hierdie dinge haper en voel dit na ’n ietwat ondeurdagte en onafgewerkte roman.) Dean vertel intieme inligting oor Ronnie wat sy ma na ’n kunsuitstalling neem:

En sy ma het in die straat na hom gedraai, sy met die drome en skilderye en nog meer ervaring, sy wat op plase gewerk het, in kombuise, in die landerye, in die dorp, wat vir welvarende mense bontgestaan het in versigtigheid, sy wat ’n kind gebaar het en soos elke ma iets vir daardie kind wou wees. Sy het na hom gedraai en gesê: “Ek kan nie dit doen wat ek daar binne gesien het nie. Wat beteken my pogings dan?” (96)

’n Mens sou kon redeneer dat hierdie inligting op ’n soort mitologisering van Ronnie Keel se ma berus en dat hy daarom op so ’n gedetailleerde wyse daaroor kan vertel, maar vir my was dit nie oortuigend nie. Wat hierdie gedeelte wel doen, is om die belangrike rol wat kuns in die roman speel, te beklemtoon. Vanessa Keel skilder voortdurend en oral – haar muurskilderye word ’n belangrike versetsdaad wat haar kuns aan verset verbind, en gevolglik ’n kompleksiteit rakende die nabootsing en die werklikheid oopmaak. Kuns word ’n uitreik na betekenis: “In die kerk kyk ek na die muurskildery. Wat laat mens verf oral waar jy kom, of graffiti skryf? Of romans, gedigte of traktaatjies? Almal reik uit, bewende hande met smal vingers, na die een of ander betekenis” (79).

Betekenis word eerder gesoek in kuns as in die wetenskap. Een van die ideale is dat mense na die kerk toe kom vir die kuns van Vanessa Keel, want die “wetenskaplikes klink te vergesog”. “Kunstenaars word soldate,” (103) is die bewering wat gemaak word – dat Vanessa Keel eintlik die groot bevrydingstryd stry – en haar kunswerke is oral – nie in die museum nie. Word hier iets van ’n kuns bepleit wat die ideale sal voortdra, wat kontak met ’n werklikheid hou, eerder as kuns wat na ander kuns verwys? Dat kuns iets sal bly uitdruk wat mense met mekaar kan deel – en dit word as die hoop en redding aangebied?

Dit wil egter lyk of alle uitreik na betekenis vergeefs is, asof daar geen uitkomkans is nie – die slotwoorde van die roman suggereer dit. Vir Lady Die is sowel die politieke weerstandspolitiek as die godsdiens en boodskap van redding en troos (dat ons nie alleen is nie) “te groot, hierdie ding. Onnodige distraksie. Ek kan tog niks hiervan maak óf daarmee doen nie” (73). Die gedagte van ’n revolusionêre oorbegin word gelug, maar dit lyk ook nie haalbaar nie: “Ons is vrot mense in ’n vrot wêreld. Die rooikoppe is reg wanneer hulle die stad wil vernietig. Doen dit en begin oor. Sonder die verlede. Laat niemand leef wat erken hy onthou die ou dae nie” (100)

Lady Die merk ook op dat die politiek haar nie traak nie: “… iets te doen met hervorming in die regering. Traak my nie. Ek leef my lewe onder hierdie radar wat burgerlike pligte op jou lê, soos belastings om jou sosiale meerderes te help befonds. Laat die Raad vergader. Laat die Gilde skel en roep. Laat die tente staan. Laat die kinders bakstene gooi. Wat anders tog?” (74). Interessant is dat die sin nie lui “belastings om die armes te help” nie, maar juis “die sosiale meerderes” – wat immers in sigself ’n sterk politieke stelling is en ’n teken dat sy juis nie buite die politiek staan nie.

Lady Die wat besef fantasie baat haar niks:

Die aarde is post-alles, post-hemel ook. Waar is al die berigte oor die eindtye? Die verkondigers van die laaste dae? Almal weggeneem. Ons enkeles bly agter om die sleur oor te neem, insekte in ’n masjien wat stadiger en stadiger loop en kouer en kouer word. ’n Mens kan terughunker na die apokalips. Neerdrukkende gedagte. (99)

Goeie romans is telkens ambivalent en kompleks omdat die temas wat behandel word, ingewikkeld is en geen eenvoudige oplossings sal deug nie. In hierdie roman voel dit egter asof die ambivalensie en ingewikkeldheid nie spruit uit die deeglike deurdink van die temas nie, maar asof die temas self nie deeglik vasgepen is nie, asof te veel dinge betrek is om in ’n betreklik kort roman sinvol te hanteer en deeglik te deurdink. Van seksuele identiteit tot Suid-Afrikaanse raspolitiek, van kapitalisme en dophoutegnologie tot godsdiens en lewensin, van ekologie tot menslike eensaamheid word alles saamgeklits en gee die gevoel van groot wysheid, van volgepakte relevansie, maar uiteindelik word nie een hiervan of almal saam regtig deurdink of aan mekaar verbind nie.

Een manier waarop ’n mens simpatiek na die hele roman sou kon kyk, is deur die moontlikheid wat die verwysing na Baudrillard se simulacrum oopmaak. Dan kan mens alles lees as beelde en afbeeldings wat die karakters se werklikheid vorm en dat hulle almal na ’n realiteit hieragter smag wat nie bestaan nie (soos gelowiges na ’n ander, hoër werklikheid smag). Maar selfs dan is daar baie vaaghede en vrae. Die roman bied soveel potensiaal, maar die gevoel is dat dit nog meer afgewerk en deurdink moes gewees het.

Daar is juwele in die taalgebruik en talle opmerkings. Enkele prettige stukkies graffiti wat Lady Die raaksien, lui: “Wie praat namens die bullebakke?” en “Die skisofrene is toe heeltyd reg. Ek eis ’n verskoning.”

........

Dit is die moeite werd om Simoelégri te lees. Talle interessante idees word op boeiende wyse aan bod gebring en Fouché se taalgebruik is in dele verstommend, maar uiteindelik is dit ’n onbevredigende leeservaring en die gevoel van verspeelde kanse bring so ’n bietjie van ’n gevoel van teleurstelling mee.

.........

Dit is die moeite werd om Simoelégri te lees. Talle interessante idees word op boeiende wyse aan bod gebring en Fouché se taalgebruik is in dele verstommend, maar uiteindelik is dit ’n onbevredigende leeservaring en die gevoel van verspeelde kanse bring so ’n bietjie van ’n gevoel van teleurstelling mee.

Verwysings

Baudrillard, Jean. 1994 (1981). Simulacra and simulation. (Vertaler Sheila Faria Glaser.) Ann Arbor: University of Michigan Press.

Lees ook:

Aanspreeklikheid: ’n onderhoud met Jaco Fouché

LitNet Akademies-resensie-essay: Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top