Kind van God

  • 2

 

19th Century School. Portrait of Pastor, painting. (Bron: https://en.expertissim.com/paintings/19th-century-school-portrait-of-pastor-painting)

Jesurunstraat 7
Fauna
9301
Bloemfontein

Geagte Pastoor

Eerstens, voor ek my redes gee vir hierdie skrywe wat eintlik so kort op die eerste volg, moet ek sê: dankie vir u belangstelling en besorgdheid. Die laaste jare het ek min met dienaars van God in aanraking gekom en dit is byna vreemd om met mense om te gaan wat nie hulleself en eie ambisie nie, maar iets Groter en terselfdertyd Nederiger verteenwoordig en aanhang. Dankie ook vir u raad en besliste optrede: ek het wel (soos u natuurlik voorgestel en ek my voorgeneem het gistermiddag) die algemene praktisyn gaan sien wat medikasie (dalk ook maar net suikerpilletjies!) voorgeskryf het wat my (tog, en saam met die Genade, natuurlik) goed laat slaap het. Dit was die eerste nag in miskien tien dae dat ek nie lastig geval is nie, nie deur versoeke, eise of ’n getart nie. My drome was skoon en het, sover ek onthou, gegaan oor iemand wat blomme pluk. Vanoggend het ek wakker geword en die lewe het weer eenvoudig voorgekom, sodat ek nou in kalmte kan sit en skryf.

Ek moet ook voor ek verder gaan, my dank teenoor pastoor Kriel uitspreek wat vir my gebid het oor die aangeleentheid waarvan ook u nou kennis dra, naamlik die “teistering” wat die afgelope maande of meer my lot is. Ook moet ek ’n leraar van ’n ander kerk en dorp erken: dat ek nou vir u by die plaaslike kerk nader, is omdat ek in die eerste plek (ongeveer 2 November) op Klerksdorp deur ’n sekere jeugpastoor aangeraai is om u te kom spreek, en dat ek nou meer gerus voel in die geloof dat ek ’n pad volg wat in Klerksdorp in ’n kerk aan my uitgewys is. Hoe ek uit Johannesburg in Klerksdorp beland het, is miskien nie nou ter sake nie. Wat wel is, is dat ek, agtervolg en gejag en bewus van sonde en boosheid, in die kerk se portaal voor ’n sendingpamflet teen ’n bulletinbord skielik herinner is aan iets wat ek my nege jaar terug al voorgeneem het, en dit is om gehoor te gee aan ’n roeping om God aktief te dien. Ek weet nie mooi hoe om dit te beskryf nie: ek is oorval deur berou en selfverwyt en bowenal gerusstelling dat God die Verlosser nie van my vergeet het soos ek van Hom het nie. Daardie aand het die voorsangers in die kerk geoefen, en ek het gaan sit en luister, en gehuil soos ’n kind, ’n kind van God, is ek bly om te sê – en skaam, oor al die jare wat verby is wat ek doodeenvoudig vermors het. (Ek soek nou in die Bybel na die deel oor gelowiges wat nog steeds melkkos eet terwyl hulle al moes onderrig gegee het – dit is my situasie. Ek eet nog melkkos.)

So het van die kerkgangers die jeugpastoor gebel en ’n afspraak vir my gereël. Ek het met hom gesels en hy het my dinge meegedeel: soms op vreemde wyse, wil ek amper sê. Hy, of God deur hom, het dinge en mense uit my verlede aan my duidelik gemaak sonder dat veel woorde gebruik is en ek het begin sien dat hierdie “situasie” ’n netwerk van gebeure oor jare is. Dit sal een of ander tyd nodig wees om die hele gemors bloot te lê. Of so dink ek soms – ander kere wonder ek of ek nie net publisiteit aan die bose sal gee nie. Loof en prys God. “Al wat van belang is, is geloof wat deur insig tot dade oorgaan.”

Het daardie dade enigsins belang by die verlede? Dalk wil ek net aanhou krap aan ’n seerplek. In elk geval, as ek die hele storie moet vertel, sal ek. Indien nie, glo ek God sal my daarop wys dat dit nie nodig is nie. (Laaste gedagte hieroor: ek het ’n boek oor die New Age-beweging gekoop wat my pla. Dit is asof die leser bewus gemaak word van juis die dinge wat hy nie behoort te weet nie. Iewers is daar ’n Bybelvers oor verborge dinge wat nie vir die mens bestem is nie, en elke keer dat ek na die boek kyk, is ek spyt dat ek dit aangeskaf het. Ek wil beslis nie ’n pion wees van en ook nie bydra tot hierdie soort propaganda vir die wêreldse en bose nie.)

Ek draai vreeslik, want ek kom nou eers by my redes vir skryf uit. Ek moet dadelik sê dat ek veel, veel eerder ’n pen as my tong gebruik, maar die groot ding is dat ek wil begin om ’n getuie vir God te wees, en behalwe my traagheid om te praat, is ek ook bang ek is my geloofwaardigheid in die openbaar kwyt as gevolg van die “aanslag” op my. Ek is bang ek doen die Evangelie volgens God meer kwaad as goed as ek mondeling begin getuig. Dit is iets wat ek sal doen sodra die aanslae minder direk is. Op hierdie stadium is dit asof die wêreld my wil verswelg en insleep by die gemors. Dus hierdie brief as getuienis.

My tweede rede klink dalk vreemd en ek is self skrikkerig dat ek “dwaal”. Maar tog, dink ek daaroor, voel ek opnuut seker. Ek wil en moet by u kerk aansluit. Dit is eintlik moeilik om dit te skryf – ek is in ’n gereformeerde kerk gedoop en grootgemaak en aangeneem en wonder of byvoorbeeld die volwasse doop werklik nodig is. Is dit nie ’n teken van gebrekkige geloof in die eerste, kinderdoop nie? Dan dink ek: om nou as volwassene uit volle vrye wil gedoop te word, is ’n teken van gehoorsaamheid, van toewyding aan God. Dan kan ek enige tyd weer gedoop word, want ek wil nie weer staan en “luier” soos ’n stilstaande motor nie. Ek hét wel groot geskrik vir al die bose drama, maar ek het ook iets van God leer ken, en nog meer. U sal baie meer weet as ek van hierdie dinge, maar gisteroggend toe ek u bel en ons gesels, sê u u gaan nie nou vir my bid nie: ek moet eers dokter toe. Maar die Gees van God het my geraak terwyl ons praat: ek het dit geweet aan die wonderbaarlike sensasie van welwillendheid wat oor my gekom het. Ek dink u hét dalk vir my gebid. Ek wil die Genadige God leer ken, en ek glo Hy wil my by Hom hê, en ek kan Hom leer ken in ’n kerk waar mense nie skaam is om liefde te wys nie. ’n Kerk, moet ek dalk duidelik maak, soos juis ’n charismatiese kerk.

My derde rede vir skryf is die plig of roeping wat my opgelê is. Wat ek moet doen, is ek nie seker nie. Soos u gesê het, moet ek loskom van hierdie gemors wat my bind. Ek moet, terwyl ek nou daaraan dink, vir u sê toe u Sondagaand tydens die diens gesê het ek sal loskom van die bindinge, ek ’n stem duidelik hoor sê het dat ek feitlik dadelik weer vasgebind sal wees. Skuins voor my het ’n bejaarde vrou met handbewegings die breek van bande nageboots, en toe beduie hoe hulle weer saamgebind word. Ek het die teken van die heilige sirkel in haar rigting gemaak en het toe gebid dat die verbreking van bande in die hande van God is, nie in mense s’n nie. Ook terloops moet ek noem dat ek gister weer op ’n groepie afgekom het wat my sieleheil sinies staan en bespreek het, in die apteek waar ek die voorskrif moes afhaal. Maar deur op die Gebed aan God te fokus, kon ek enige invloed ongedaan maak, glo ek. My heil is by God, loof en prys Hom.

Maar wanneer ek los is, en ek vertrou dit is gou (vandag gaan dit reeds rustiger en ek kon byvoorbeeld na die koerant kyk sonder om oorval te word deur die oorweldigende betekenis voor my), moet ek hard begin werk. Ek moet die literatuur leer ken, ek moet aktief begin dien, ek moet help waar ek kan, en dalk kan ek begin deur my bietjie kennis, my bietjie insig in die aard van die aanslag, te deel. Ek voel ek moet dalk die volgende opmerkings neerskryf oor kultusse en die wyse waarop hulle werk, soos ek dit in die geval van die Cymuligri-groep ondervind het, in elk geval.

– Gelowiges is die veiligste mense.

– Eensame mense is die maklikste prooi, so ook dié met lae selfbeelde en skuldgevoelens. Maar ook dié met baie ambisie en begeerte na status en aansien loop gevaar om hulleself te kompromitteer ter wille van twyfelagtige belonings.

– Wees versigtig vir vleiende, vriendelik en bewonderende mense. Maak seker oor ’n persoon se godsdiens: “Wie nie vir God is nie, is teen Hom.” Pasop vir geveinsde onbaatsugtigheid, barmhartigheid en mooi glimlagte en gemoedelike hande op die skouers. Hierdie mense is aanvanklik gretig om in behoeftes aan sekuriteit en leiding te voorsien, maar hulle sal weldra hulle eise begin afdwing.

– Pasop vir dominerende mense. ’n Verhouding met so iemand kan so word dat hy/sy altyd besluit wat jy gaan doen en later wat jy gaan sê. Jy kan onder so ’n persoon se magsinvloed beland. Dit kort net iemand om jou gedurig reg te help en te kritiseer, en kort voor lank dans jy na sy pype. Selfs wanneer so ’n persoon van die toneel verdwyn, sal nog so ’n mens gou sy plek inneem. Slagoffers word maklik geëien.

– Waak ook teen die beïnvloeding van jou menings. Nie lank nie, of jy lees boeke en kyk films wat “aanbeveel” is. Nie lank nie, of daar is dalk terloopse lasterlike verwysings na God, flouerige grappies wat ’n mens uit beleefdheid laat verbygaan. Nie lank nie, of jou nuwe vriende is meer wêreldwys en skynbaar gesofistikeerd as die gelowiges wat jy eens geken het. Nie lank nie, of die gedagte aan die “kinderlikheid” en “naïwiteit” van gelowiges begin jou verleë maak.

– Pasop, pasop, pasop vir wat ek gehoor het as “hoër kennis” beskryf word. Oosterse krygskunste, Boeddhisme, Zen, Tao, transendentale meditasie, wit toorkuns, futurologie, Jungiaanse psigoanalise, tradisionele Afrika-godsdienste, die ou mitologieë (Grieks, Egipties, Suid-Amerikaans) – hierdie en baie ander dinge maak deure oop op die verborge dinge waarvan die literatuur praat wat nie vir die mens bestem is nie. Dit is een van “die praktyke van die sondige natuur” in Galasiërs 5: daar is onder andere onreinheid, losbandigheid, afgodediens en towery.

Kort voor ek uit Johannesburg weg is, is ek genooi om by ’n groep aan te sluit deur iemand wat my vir baie jare na aan die hart gelê het. Te midde van die bedrywighede binne ’n koffiewinkel vol van haar “makkers” (ek was nie veronderstel om dit te weet nie, maar teen daardie tyd was al die toevallighede in my lewe net te veel, en ek kon boonop die onderlangse spottende dreunstemme hoor; ek was sonder twyfel omring deur eendersdenkende afvalliges) is ek gevra of ek nie graag wil uitvind wat verlede jaar met my gebeur het toe ek die eerste keer die “stemme” en drogbeelde ervaar het nie. Die lewe is lieflik, is ek vertel, of gewaarsku, as ek dit ’n kans wil gee. Ek sou deur mure kon beweeg en ’n rits ander talentjies kon aanleer. Toe ek halfhartig bly (ek moet sê deels omdat my aandag was by die sagte aanmerkings en uitroepe om my), het die persoon die lawwe stelling kwytgeraak dat ek wéét ek nie geestelik stabiel is nie. Ek het natuurlik beswaar gemaak en gesê ek weet daar is ’n aanslag teen my, dat ek soos ek daar sit bewus is van die vyandigheid en die ondermynende aktiwiteite waarmee ek binnekort ingetrek sal word by God-weet-wat. Iemand by ’n naburige tafel het hard gesê “Ek het dit gehoor” en homself sodoende kenbaar laat word as ’n leier van die beweging. Dit was 30 Oktober, ’n datum wat met Allerheiligenag verband hou, en van daar af is daar pal mense om my wat voortdurend probeer om my by die gemors in te sleep, wat, so verneem ek, die naam Cymuligri dra. Soos hulle natuurlik aanvanklik een vir een ingesleep is, teen hulle sin en in vrees, om nou midde-in die lokval te staan en maar die “werwingswerk” (om dit so te noem) voort te sit.

Pastoor, ek praat nou baie, maar hopelik sluit ek nou af. U het verlede week in die oggenddiens gesê ons moet glo dat God ’n plan het met die land, en met hierdie dorp. En hier is baie mense wat vrygemaak moet word. Ek weet nie hoe dit sal geskied nie, maar ek glo dit sal gebeur as God se opdragte stiptelik nagevolg word. Toe ek op skool was, het ’n skeptiese onderwyser van die Kruisvaarttogte gepraat as maar net take wat Europese konings hulle verveelde ridders opgelê het, maar dit is so dat onder daardie ridders daar baie gelowiges was in wie die roeping gebrand het om Jerusalem te ontset. Hulle het uit geloof en gehoorsaamheid en nie verveeldheid nie gehandel, en ek glo dit sal kruisvaarders verg om hierdie land te ontset.

Laastens wil ek sê wat u natuurlik al baie, baie langer as ek weet. God is almagtig en Sy genade onmeetbaar. Ek weet nie presies waar my plekkie in die land is nie: ek sal graag opgelei wil word vir die een of ander aspek van die bediening. Ek sal graag my tyd aan die dinge van God wil toewy en nie soos in die verlede Hom meestal daardeur verloën nie. Maar hierdie dinge glo ek sal duidelik word, en intussen kan ek net dankie sê vir u geduld en hierdie geleentheid om te getuig van die Heerser God.

Groete
Phillip Swart

  • 2

Kommentaar

  • 'n Pragtige beskrywing van die gedagtes van 'n skitsofreen.

    Laat my dink aan Barbier in Brink se Inteendeel; terselfdertyd rasioneel en in 'n waan.
  • Briljant! Hemelver verwyder van skitsofrenie. Inteendeel, dis die verlore seun wat besig is om sy pad terug te vind na sy werklike skeppingsdoel.

    Die opmerking oor kultusse is uitstekend. Elke stelling in die kol. Die voorlaaste oor menings uitstekend! Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top