Ek het uitgegaan
en onder die roosbeslaande hemel
aanskou hoe jeugleërs teen die bestel opgemars het
en teen die heuwels af
tot waar hulle in die vallei van vergesigte
met verlange na insig en wysheid toegerus is.
En ek het gesien dis wat met ons gebeur,
in daardie donker, lugarme hole
tussen die beendere van ons ouers
waar die gelowiges van die generasie
hulle kans afwag,
biddend, lowend, lydend.
in die stil ure het die kerkklokke geslaan
en op nege vasgesteek.
In die sale en wandelhalle
het filosowe oor wetenskap besin
en van kateders af het dosente
literatuur bespreek
terwyl wiskunde elders behendig toegepas is
en die algemene oproep opgegaan het:
Wees ingelig.
Laataand het studente in kroeë gesit
en luister na sangers met min opvoeding
maar wel digbundels.
In die lirieke is lewens uitgespel.
Meer nog – mense het rigting en leiding gekry
by herlewingspreke onder die berg.
In amfiteaters wou mense aan ’n beroep gehoor gee.
Wat staan ’n mens te doen?
Die lewe, het die prediker geroep, is ’n somersmiddag
wat ’n mens met HP Sauce eet.
Spinnekoppe het oor liggame krioel
en maaiers het in die webbe geroer,
vlieë het hulle voorpootjies geskrop.
In die nag het die dawerende klanke
van sublieme simfonieë uit stadions opgeklink,
maar volgens ordonnansie ná drie stilgeraak
en die stad het gerus.
Slaap sag, dus, doelskieters van die eeue,
baarddraers, skeelkykers en stroefmonde,
operette-skrywers en nagwagte.
Slaap sag, grafgrawers en blommeplukkers.
Dronkaards en eens verliefdes, kom dat julle groet.
Dis reeds laat in die lewe
en die slagvelde lê ver terug.
Slaap nou, slaap tot die dood toe.