<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.
Ek is nie dapper nie. Die kere wat ek my min of meer macho gedra het, was ek gewoonlik dronk en nog bloedjonk. Ek gee nie meer om om te erken dat ek aan durf ontbreek nie. Dit was egter nie altyd so nie en vir jare het my beskeie army-loopbaan my gepla en dit het my gefrustreer wanneer ek op vrae moet antwoord: “Ek was in Bloemfontein. Ek was ’n drywer. Watter kamp? Valskermbataljon. Maar ek het nie gespring nie. Ek sê mos ek was ’n drywer.” Dis nie dat ek vir een oomblik gevoel het ek moet my land en volk se vyande die stryd aansê nie. So ver het ek nie gedink nie. Vir my was die army ’n toets vir manwees wat ek nie geslaag het nie, ’n inisiasieritueel wat gefaal het. Ek voel gelukkig nie meer so nie. As ’n mens eers ironie en satire ontdek het, is jy sterk met ’n mag wat genderkrisisse oorstyg.
Robert Frost |
"Stopping by Woods on a Snowy Evening" Whose woods these are I think I know. My little horse must think it queer He gives his harness bells a shake The woods are lovely, dark and deep, From The Poetry of Robert Frost. Source: Collected Poems, Prose, & Plays (Library of America, 1995)
|
Vir die grootste gedeelte van my diensplig was ek negatief. Oor my persoonlike vryheid ingekort is. Oor ek landsveiligheid op my skouers moet neem terwyl ek eintlik net Robert Frost se “Stopping by woods on a snowy evening” wil leer en naweeksaande saam met my pel Tertius na die Fonteine-hotel wil stap waar ek na twee biere die gedig vir hom kan opsê en hy op sy beurt vir my van Toulouse-Lautrec kan vertel. Oor ek moet wagstaan op De Brug waar dit spook dat die troepe vroeg grys word of by die bataljon se hoofhek waar daar geen kans is om te slaap nie, want die dienskantoor is twintig tree weg. Oor ek stafsersant X in my lewe gehad het en hy nie kon ophou sê: “Julle is kaksleg. Op die grens veg soldate drie dae lank sonder slaap en julle wil nie Saterdagoggende in die transportpark werk nie.” Oor skutter H my daardie keer in die einste transportpark amper donder omdat ek op hom gesplit het toe hy nie sy lorrie wou was soos ek vir hom volgens die bevelvoerder se orders gesê het hy moet nie. Oor skutter R wat vir my in basies sê: “Ek is hier om soldaat te word. Vir wat moet ek in die tuin werk?” en toe elke denkbare kursus in die kamp doen voor hy homself pasifis verklaar en die dominee se klerk word en lang, nadenkende onderhoude met een of ander publikasie toestaan oor die toekoms van die land waarin hy nie glo nie. Oor die man wat my op pas een eindelose middag besig hou met die bitter en verstommende nuus dat die ANC binne vyf jaar ontban gaan word en dan was ek in elk geval verniet in die army gewees. Oor die RSM wat nie verby my kan loop, ry of draf sonder om te skree: “Daardie HK-kompanie troep, kom hier!” nie. Oor die troep wat my sê: “Die groot tragedie van die lewe is dat alles tegelyk gebeur” en ek kan slange vang, so spyt is ek ek het nie aan die sin gedink nie. Oor die onderkorporaal met die fyn gesig en geen gesag nie wat my een aand skielik as ’n uitdaging sien en my al my dae gee, sy gesag skielik daar soos ’n graafhou teen die kop. Oor die aand toe ek ’n quart bier drink en roll-call mis, na die dienskantoor geroep word en op pad soontoe blare van bome afpluk om te kou in ’n poging om die bierreuk te verdoesel, en toe stink ek so na bier en blare saam dat die luitenant aan diens wil weet hoe is dit dat ’n troep likeur kan bekostig en hy vermoed dis Frangelico. Oor ons twee dae voor uitklaar moet wagstaan en ek toe so naafgat is dat ek die sersant wat my voorkoms kritiseer te lank in die oë kyk en hy my op die paradegrond ’n opfok gee.
En toe kom uitklaar en dis verby en ek begin werk en ek kom agter die army was nie so sleg nie. My eerste kamp breek aan en dis nogal lekker saam met die ouens. Weg is my lugtigheid vir staandemaglede en ek geniet die LO wat ons smiddae moet doen. Ook het my skietvermoë merkwaardig verbeter sedert my twee jaar en ek skiet ’n telling van 125 uit 150 en besluit ek vra eerder nie die ouens in die skietgat wat hulle besiel om my die telling te gee nie. Wat ook op die skietbaan gebeur, is dat ’n ander kamper ’n ammo-kis kry om mee te hardloop, want hy het sy geweer amper op iemand gerig, en ek hoor verkeerd en dag dis ek wat moet hardloop en daar gryp ek ook ’n ammo-kis en steier vyftig meter weg voor ’n samjoor op my skree om die fokken kis met die koeëls terug te bring, want die troepe moet hulle gewere laai.
Op ’n ander kamp het ons voertuie van Lyttelton in Pretoria aangery Bloemfontein toe. Dit het lang ure op die pad beteken, aangesien die voertuie almal op omtrent 90 km/h ge-govern was en buitendien nie so padwaardig was as wat jy miskien sou wou hê nie, dus het bande gebars en batterye gefaal en so aan, wat ons opgehou het. Saans het ons laat in Bloem aangekom. Die volgende dag is ons met ’n bussie teruggeneem om nog voertuie te kry. As nomades was ons nie juis op enige sterktelyste nie en was gelukkig om slaapplek te kry. Kos in ’n menasie was buite die kwessie en ek is een aand uit ’n eetsaal gejaag waar ek gehoop het om saam met die dienspligtiges in te glip. Iets aan my moes baie anders as aan die DP’s gelyk het, miskien die manier waarop ek die viennas betrag het. Later het ons ratpacks gekry. Beddegoed het ons nie gehad nie en ek weet nie waar die komberse skielik een aand vandaan gekom het nie. Ek dink iemand het dit iewers gesteel. Dit moes 1992 gewees het en dit was nie ’n slegte kamp nie, al was daar vir my baie konflik onder die ouens, miskien omdat ons nie ’n goeie mix was nie, miskien omdat niemand meer sin in die kampe gesien het nie, miskien omdat ons mense was wat onder ander omstandighede eenvoudig nie met mekaar sou assosieer nie. Ek onthou een van die ouens, wat skure vir ’n lewe gebou het en verklaar het dat dit onmoontlik is om by Thabazimbi dronk te raak aangesien jy daar so erg sweet dat jy van die dakke af gly (nee, ek weet ook nie mooi wat die verband is nie), wou-wou aan my slaan en het my ’n mooi meisie bly noem, maar ek het heel gebly deur van ’n afstand af te murmureer. My opvoeding as matrikulant in ’n tweetalige skool het tot my voordeel gestrek. Ek kon naamlik Engels praat, iets wat hom verwar het wanneer ek daarna oorslaan om knorrige maar feitlik onhoorbare goed oor hom te mompel: “Whose woods these are I think I know,” sou ek vinnig en binnensmonds sê. “Wat? Wat sê jy? Praat Afrikaans.” “His house is in the village though. He will not see me stopping here to watch his woods fill up with snow.” “Wat bedoel jy daarmee? Hoor nou die meisiekind.” “My little horse must think it queer to stop without a farmhouse near.” “Queer? Fok, het jy gesê queer?” “Between woods and frozen lake, the darkest evening of the year.” “Man, dis nege-uur in die oggend.” En so aan. Die man het een aand in ’n kroeg in Bloemfontein probeer om vir my ’n oorbel in te sit en ek het hom met die vuis geslaan en toe ure lank geworry dat hy gaan wraak neem, maar hy het nie, en dinge het daarna beter gegaan.
Later daardie jaar is ek weer opgeroep. Ek het nie gegaan nie. Vandag is ek spyt, want die manne is Lohatla toe vir ’n groot oefening en dit het blykbaar baie skiet en boendoe-bashing beteken. Kon lekker gewees het.
Dis omtrent die omvang van my militêre loopbaan. Ek het so tien jaar terug gaan sit en 30 000 woorde oor die ervaring neergeskryf en dit voorgelê. Daar was nie ’n keurdersverslag nie, net die woorde: “Daar is niks daarin nie.” En tog is dit van my felste herinneringe waarin daar niks was nie.
André P Brink |
Jan Rabie |
Etienne Leroux |
Om te AWOL |
’n Wêreld sonder grense |
Die vraag is: Wat moet ’n mens dan as Afrikaanse skrywer sê? Moet jy dinge vertel wat almal wil hoor? Die bekende stories met misdaad, seks, heldereise? Plot wat jy by ’n skryfskool leer met besonderhede uit jou duim gesuig of uit die koerant gekry? Moet jy esoterika gaan opgrawe en in jou boek aanbied asof mense nie self onderwerpe soos Shinto Zen of topologie kan google nie? Of moet jy vertel wat net jy weet, daardie dinge wat uit jou eie dieptes kom? Veral die demone?
Ek onderskryf daardie laaste benadering, by hook or by crook, en al is jou ervaring tweederangs, want wat my betref, moet ’n skrywer ’n aanspraak op oorspronklikheid maak of jy los skryfwerk heeltemal vir mense wat bloot wil publiseer en nie iets uniek wil lewer nie en dus nie omgee om resepte te volg nie.
Oorspronklikheid, of dalk moet ek dit reguit eksentrisiteit noem, lê vir my in selfportrette. Ek dink aan elke stuk fiksie as ’n portret. Selfs die vrouevertellers, die paar wat daar is, is ek. Daarby skakel ’n mens egter by ’n tradisie van portretmakers in.
Amper twintig jaar terug toe my eerste boek vir publikasie oorweeg word, het ’n boekeredakteur my gevra: “Heul jy met ander skrywers?” Dit was nadat ek my hart uitgestort het oor hoe belangrik die letterkunde vir my is en hy geduldig geluister het. Ek het nee gesê. Ek het nie ’n enkele skrywer persoonlik geken nie en die voorbeelde wat my aangetrek het, was die algemeen bekendes soos Brink, Rabie en Leroux.
Later het ek ’n paar skrywers ontmoet, meestal dié van my eie generasie, die mense wat in die negentigerjare gedebuteer het. Ek gebruik die woord “generasie” versigtig, aangesien dit nie juis lyk of ons van ’n hegtheid onder ons kan praat nie. Dis nie slegte mense nie, glad nie, maar op ’n uitsondering of twee na voel ek ek het meer met die Tagtigers gemeen, hoewel mense wat van buite af inkyk, waarskynlik van my sal verskil. Ek sê dit grotendeels op grond van diensplig as werklikheid in hulle boeke. Ek kan my nie my jongmanlewe sonder Om te AWOL en ’n Wêreld sonder grense voorstel nie. Dis twee boeke wat ons jong laaities op skool gelees het saam met John Gordon Davis en Wilbur Smith. Ons wou weet oor die army en wat op ons wag. Die skrywers van hierdie boeke het ons voorberei op swaarkry en ook verset. Om te AWOL was vir my ’n onnoembaar beduidende boek, want vir die eerste keer het die opsie om nie aan diensplig deel te neem nie, hom aan my voorgedoen. In die kamp het ek ander troepe leer ken wat nie so gretig was om deel te neem nie. Nie een van ons was volksverraaiers nie, nie eens die ouens wat vertel het as jy as troep by die ANC aansluit, maak hulle jou dadelik ’n majoor nie. Ons was net nie in die wieg gelê om soldate te wees nie. Of dalk was dit waar wat die range gesê het: jy kry nie slegte troepe nie, net slegte opfokke.
Die Tagtigers het meer gedoen as “ons negentigers”. Heelwat meer. Ons weet van tydskrifte en kollaborasies en vermoed daar was hewige partytjies om berade oor apartheid en die ANC mee af te sluit. Ek dink egter hulle het ’n voordeel gehad. Hulle was bevoorreg om in daardie era jonk te wees en ’n saak te hê om voor te veg. Wat het vir ons oorgebly? Wat is nou die aanloklikheid daarvan om die ANC-regering te kritiseer? Dis hoegenaamd nie dieselfde as om jou eie mense aan te vat nie. Jou eie mense, jou eie persoon, jou eie portret – dit is wat my bly aanstaan en fassineer.
Die Tagtigers is inderdaad mense om na op te sien. Maar ons sogenaamde kortsigtigheid en gemaksug is nie ons skuld nie. Dis eerder te wyte aan ’n gebrek aan eksterne druk. Die Tagtigers is deur politiek gevorm, en toe kom die bevryding, en die blok waarin hulle gevorm is, bars en hulle lyk soos hulle lyk en ons wat ná hulle kom, het heelwat minder vorm. Ons was nie in daardie smeltkroes nie en selfs dié van ons wat nog diensplig gedoen het, het die stelsel aan sy einde leer ken.
Ons, of ek, het wel dieselfde impulse. Ek wil ook teen gesagsfigure opstaan en regerende liggame kritiseer. Ek wil ook op foto’s in die Afrika-bos poseer saam met die swart intellektuele figure wat ook aan my as wit mens bevryding en ’n nuwe identiteit moet bring. Want elke generasie moet ’n make-over hê.
Maar die bevryding het gekom en blykbaar is ek vrygemaak sonder dat ek die nuwe identiteit gekry het. Waar laat dit my? Waaroor moet ek skryf en waarteen moet ek beswaar maak in my poging om myself te laat ken? En te léér ken?
Ek weet nie. Hoe ouer ek word, hoe meer dink ek ek moet teen die vryheid self in opstand kom. Ek bedoel in die morele sin; ek bedoel wat ons daaglikse gedrag en belangstellings betref. Vandag se lewe is so dat omtrent enige ding aangebied word. Terselfdertyd bots ’n mens se opvoeding daarmee. Ek bedoel, jy is in die groot versoeking om mee te doen aan al die vryheid, maar net so hard glo jy jy moenie. Ek kan nie sê hoeveel keer ek byvoorbeeld al godsdiens afgesweer het omdat dit my aan bande lê nie, en dan met die volgende rit, krisis of twyfel weer die Here aanvaar het. Ek sê dit sonder ironie of sarkasme. Ek wil ook nie spog met die feit dat ek ’n Christen is nie, want ek is eintlik ’n terrible een, en om die waarheid te sê irriteer ootmoed my maklik, behalwe natuurlik wanneer dit ek is wat dit aan die dag lê. Dis net dat ek nie anders kan as om te dink die Evangelie is al wat my kan rig en red nie.
En dis omtrent hoe ek oor die literêre evangelie ook voel.
Kommentaar
Tans lees ek onvergenoegd aan Jaco se uitstekende boek 'Ed van Inligtingstelsels'. Dit ruk my meer in die bek as Bellow se 'Dangling Man'. Op 'n sekere manier, selfs meer as Coetzee se 'Disgrace'. Nie omdat dit 'n nuwe perspektief op dinge plaas nie. Of dalk die invalshoek verander nie. Maar omdat dit alles bevestig wat ek dink ek weet. Dis soos Pink Floyd se 'Another brick in the Wall'. Nog 'n kneuskol. Jaco en ek moet omtrent tydsgenote wees, en identifiseer ek met wat hy skryf. Maar, na die lees van 'n aantal nuwerige afrikaanse romans en digbundels wonder ek bietjie. Carel van der Merwe, Jaco Botha, Andries Bezuidenhout het ek deurgedraf in die laaste tyd en nou is ek suf. Waar's die rock 'n roll ouens. Hoekom op dees aarde moet ons onsself toets teen jongerige wit Afrikaanse mans? Is dit nodig om 'n identiteit te vind? Wat de f.. is identitei? Calvyn is my vriend wat baie van rooi wyn hou en in Durban bly. In Wellington is die NG Moederkerk seker die kleinste kerk in die hele dorp. Die Portugese was uitstekende seerowers en soldate deur die eeue. Oorlog is onaanvaarbaar maar realiteit. Nou ja, nou het ek my punt vergeet. Behalwe dalk om te wonder of daar al 'n beter boek as 'Zorba die Griek' van Nikos Kazantzakis geskryf is.
Louis Duvenage, dankie vir die reaksie. Ek is bly as jy van my Ed-boek hou. Oor "Dangling Man" wil ek sê: ek onthou die begin waar die verteller reageer teen "hard-boiled" figure redelik goed. Miskien het hy regte mans ook in gedagte gehad, dis hoe ek dit eers gelees het, maar ek verbeel my nou hy het eintlik aan veral Hemingway se stories gedink. Miskien Hammett en Chandler se taai speurders ook, ek weet nie. Die boek is in elk geval 'n genot, al weet die leser dat wat hy geniet eintlik iemand anders se groot frustrasie en spanning terwyl die persoon wag om die burgerlike lewe te verlaat en oorlog toe te gaan. Dis seker waaroor stories gaan, om iemand anders se frustrasie en spanning te aanskou sonder skade aan jou eie persoon. So leer 'n mens dalk iets terwyl jy vermaak word.
Ja-nee, dis seker so. Dit is egter 'n dilemma as mens jou vasloop teen figure wat deel lyk van die Orde van die Heilige Draadsitters. Watter Her(t)zog het nou weer opgemerk dat die verbeelding van die massas deur 'blood & guts' vasgevang word? Mens probeer wegkom van die minderheidsgroep-redenasies maar wat die antwoorde op 'regte vs belange' en 'kos vs vryheid' en 'pret vs erkenning' is, gaan seker maar nog lank by ons spook. Ek dink ek gaan weer jou "Ryk van die Rawe' moet gaan nalees. Dankie vir die verrykende leeswerk wat jy bied.
Tien jaar gelede sou ek die stelling "Die Tagtigers is inderdaad mense om na op te sien" amusant gevind het, en moeilik geglo het. Ek was daar. Ek was deel van die groep wat vir Ops Askari (Des '83) verantwoordelik was. Daar waar ons die oorlog begin verloor het.
Dankie, Sandvelder. Jou invalshoek is 'n breër een as myne. Ek wil natuurlik glad nie sê die negentigers, of hulle skryf of nie, is minderwaardige mense nie. Dis net dat ek self die lekkerste aanklank vind by ouens wat kan onthou van Adam Ant, Hazel Dean, varkpanne, Ry Veilig, daardie garage op Beaufort-Wes waar die ou Mercedesse altyd gestaan het, André le Roux du Toit (voor hy Kombuis was) en so aan. Miskien was my bydrae te persoonlik en moet 'n mens meer algemeen skryf, maar ek hoop daar is 'n groot algemene waarheid in die persoonlikste uitlating, soos die breë kant van 'n wig reeds in sy skerp punt aan te tref is.
Jy skryf nie net as oud-soldaat nie, maar ook as "a man of industry", want jy praat oor jonger mense in die werkplek en dit klink of jy mense lei en dit klink of jy 'n goeie baas is en iemand wat met toegeneëntheid deur voormalige werknemers onthou sal word. Voorspoed met die taak!