’n Bietjie kranksinnigheid – Jaco Fouché gesels oor sy GAR-manuskrip

  • 0

Jaco, baie geluk met die toekenning van die derde prys in die GAR. Vertel ons kortliks oor die manuskrip wat jy voorgelê het?

Baie dankie. Die titel is Liefste Lena en dis ’n storie met liefde, ’n Bolandse plaas, drie kroeë en ’n bietjie kranksinnigheid.

Die beoordelaars het in hul commendatio genoem dat die gebruik van twee verhaallyne wat in verskillende rigtings ontwikkel, hulle aan die film Fight Club herinner. Is jy 'n fliekvlooi en dink jy jou skryfwerk word beïnvloed deur films? Is daar spesifieke regisseurs wie se werk jy bewonder?

Ek hou van flieks, ja, maar ek is nie ’n discerning film guru nie en geniet omtrent enigiets wat ek kyk. Die Rocky-flieks geniet ek altyd, en die meeste romantiese komedies ook. Jackie Chan is puik. Op die oomblik kyk ek partykeer snags na e-TV se ou flieks en dis hartverskeurend om te dink dat daardie mense wat so lewendig en flink op die skerm voorkom, almal oorlede is.

Foto: Christine Cronje

My vyf gunstelinge is The remains of the day (alhoewel ek moet sê, toe ek dit die laaste keer probeer kyk het, het ek gevoel nou het ek genoeg daarvan gesien), The Aviator (oor Howard Hughes, en deur Martin Scorsese gemaak), Into the wild (vir my die beste fliek wat ek in seker vyf jaar gesien het), Glengarry Glen Ross (die draaiboekskrywer David Mamet is uitstekend), en ja, ook Fight Club. Ek het nie voorheen besef dat daar ’n ooreenkoms tussen my storie en laasgenoemde fliek se verhaallyne is nie, maar ek sien dit nou raak. Ander flieks wat in hierdie verband genoem moet word, is egter ook Jacob’s Ladder en One flew over the cuckoo’s nest en miskien Birdy. Dis almal flieks oor nuttiness. Jacob’s Ladder het ek net ’n deel van gesien, maar dit was verstommend hoe die storie tussen verskillende verhaallyne glip en daar so ’n smorende atmosfeer van geweld en bedreiging bly hang. En aan die einde is daar ’n terugflitstoneel wat maak dat ek nie kon besluit wat moet ek glo en wat nie. Ek dink dis ’n goeie opsomming van kranksinnigheid, dat ’n mens nie weet wat jy moet glo en wat nie. Wat is relevant? Wat is waar? En as persepsie alles is, beteken die werklikheid as sodanig nog veel? Of is die waarnemer belangriker?

Jy het by die prysuitdeling geskerts dat jy sommer geweet het die eerste prys sal na Ingrid Winterbach gaan, die oomblik toe jy gehoor het sy is ook op die kortlys. Ek neem dus aan jy is 'n bewonderaar van Ingrid se werk? Wie is jou ander skryfhelde?

Sy is inderdaad kop en skouers bo baie ander skrywers. Sommige skrywers is baie intelligent. Ander het die vermoë om lieflike sinne te skryf. Nog ander het ’n visuele ingesteldheid en kan beskryf. Dit lyk of Ingrid die hele pakket gekry het. Sy kan ook oor haar werk praat op ’n wyse wat maak dat ’n mens voel: hier is iemand met iets om te sê. Mense soos sy, Van Niekerk, Schoeman en Brink verleen prominensie aan ’n letterkunde wat ’n mens soms vrees verstoot word.

My skryfhelde is mense soos Anthony Swofford, wat Jarhead geskryf het, en Howard Sounes, wat ’n biografie oor Charles Bukowski geskryf het. Onlangs het ek Laura Esquivel se Like water for chocolate gelees en dit was baie goed. Verlede jaar het ek Hamlet gelees, vir die eerste keer, wat nogal lekker was. (Dit lyk of daardie Shakespeare-ou dalk nog iewers in die lewe kan kom.) Jare terug was ek versot op Graham Greene, maar daar het ’n dag gekom toe ek gedink het hy is eenvoudig te swartgallig. Ek het eintlik baie boeke en flieks wat ek vyftien, twintig jaar gelede geniet het, eenkant toe gestoot omdat ek nou voel hulle is te aggressief of morbied. Maar ’n boek soos The human factor sal ek weer lees.

Die skrywers wat ek die meeste geniet, is dié wat baie leesbaar skryf. Stephen King is ’n goeie voorbeeld en ek ag veral sy vroeër boeke hoog, hoewel dit nou lanklaas is dat ek iets van hom opgeneem het. Wilbur Smith ook. In my tienerjare het ek dié twee skrywers verslind en ek dink stukkies van hulle styl het in my agtergebly. Ek het ook onlangs van my vrou se Agatha Christies begin bekyk. Sy was baie goed. Daar is selde passassies wat sleep.

Is daar nog ruimte vir fiksie in die hedendaagse wêreld, en veral in Suid-Afrika, waar die waarheid dikwels heelwat vreemder as die vreemdste fiksie is?

Vir fiksie is daar altyd ruimte, maar die medium waardeur dit oorgedra word, verander dalk weldra. Soms skrik ek vir die idee dat alles digitaal word, maar dan dink ek aan iets soos LitNet en dan lyk dit na ’n goeie idee, veral omdat dit soveel makliker is om met ’n kort search ou materiaal te vind en na te slaan. Wat van boeke gaan word, weet ek nie. Ek is opgewonde oor e-publikasies, want daar is heel moontlik geleenthede en werkswyses wat nou nog vir my onbekend is.

Maar om terug te kom na fiksie. Wat vandag uit die werklikheid in ’n storie neerslag vind, sal oor twintig jaar ’n aanduiding gee van die tydsgees waarin daardie werklikheid hom eens afgespeel het. Lees ’n mens byvoorbeeld nou boeke uit die tagtigerjare, is jy verbaas oor als wat by jou opgeroep word. In fiksie steek daar heelwat waarheid, en selfs in die dele wat nie waar lyk nie, vermoed ’n mens ’n proses van vermomming van die werklikheid eerder as uit en uit fantasie.

Hoe beïnvloed hierdie toekenning jou planne vir die onmiddellike toekoms, en die jare vorentoe?

Ek hoop nie dit beïnvloed my te erg nie, want die gevaar bestaan dat ’n mens in die glorie baai, baie glimlag en min werk. Die geld is welkom en baie dankie aan NB-Uitgewers daarvoor. Nou die aand by die hotel in Kampsbaai, waar die pryse toegeken is, het dit my weer getref dat ek deel is van iets besonder waardevol. Dis die Afrikaanse letterkunde en dit omvat politiek, godsdiens, potjiekos, sport, liefde, geweld, alles. Miskien klink dit na grootheidswaan, ek weet nie, maar ek glo vas in die geskrewe woord en wil my bydrae tot die mensheid langs hierdie weg lewer. Maar dis natuurlik uitgewers wat skrywers toelaat om dit te doen. So: dankie NB en Kwela!

Dis natuurlik lekker om so iets te kry en ek is verlig dat die kranksinnigheid-tema toe tog die moeite werd is om oor te skryf. Een of ander tyd wil ek nog ’n boek daaroor aanpak om ’n drieluik saam met Liefste Lena en Grysland-verblyf te vorm, maar intussen wil ek nuwe dinge probeer. Party keer snags wanneer ek Westerns op e-TV kyk, dink ek ek moet ook een probeer. Ek wil ook ’n liefdesverhaal aanpak. Liefste Lena is klaar een, maar ek bedoel ’n verhaal van ondraaglike begeerte en groot drome teen ’n eksotiese agtergrond. Maar die lewe gooi ook sulke draaie met ’n mens dat ek sal moet sien of hierdie planne gebeur.

 

Keer terug na die GAR–indeksblad. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top