|
||||
Byleveld: Dossier van ’n baasspeuder |
Oudbrigadier Piet Byleveld was voor 2011 al ’n bekende speurder. Die oplossing van raaisels soos die Wemmerpan-moorde, die Jeppe-hamermoorde en die Leigh Matthews- en Sheldean Human-moorde het wye mediadekking geniet en van hom ’n huishoudelike naam gemaak. Of ten minste so huishoudelik as wat ’n polisieman van die SAP (later SAPD) se naam maar kan wees.
Natuurlik is Byleveld nie die enigste polisieman wat ons gereeld in TV-nuusprogramme sien nie. Mense soos Bushie Engelbrecht, George Fivaz en later Jackie Selebi (voor sy berugtheid) het ook al hulle verskynings in die media gemaak as voorbeelde van geregsdienaars wat na die heil van die publiek omsien. Voorts kan ’n mens redeneer dat elke stad en distrik by ondersoek sy kwota uitstekende polisiebeamptes sal oplewer wat as voorbeelde vir en beskermers van die gemeenskap dien.
Met die publikasie van die boek Byleveld: Dossier van ’n baasspeurder (2011) het die joernalis Hanlie Retief egter ’n (werklike) figuur die (fiktiewe) wêreld van die lettere ingedra en so aan hom byna mitiese statuur verleen. Dit gee aan die belangstellende leser die geleentheid om hom met ander mitiese speurders te vergelyk.
Sherlock Holmes
|
Dink ’n mens aan sulke figure, is daar ’n paar voorbeelde wat dadelik by jou opkom: Agatha Christie se Miss Marple, hoewel sy streng gesproke nooit ’n speurder was nie; P.D. James se digtende Adam Dalgliesh; Colin Dexter se Morse, wat groter bekendheid as televisiekarakter beleef het; Umberto Eco se broer William in The name of the rose. Nader aan die huis het ons van weleer Hendrik Brand se Adriaan Hugo met sy “getroue handlanger” in verhale wat waarskynlik deur Arthur Conan Doyle s’n ingegee is, en deesdae ook die fenomeen Deon Meyer se Bennie Griessel.
Christie se Hercule Poirot, Meyer se Griessel, en veral Arthur Conan Doyle se Sherlock Holmes is speurders met wie Byleveld met vrug vergelyk kan word.
In Christie se speurverhale is die moordenaars gewoonlik nie buitestanders nie. Om die waarheid te sê, die raaisel maak staat daarop dat die leser en speurder nie die moordenaar van sy sosiale eweknieë kan onderskei nie. Die oortreder pas soomloos in sy omgewing in, totdat ’n leidraad of lokval of reeks gebeure sy lot verseël. (’n Verhaal soos The ABC murders is ’n uitsondering, met sy reeksmoordenaar wat ’n buitestanderfiguur is.)
Asof in eggo van die beskrywing van Christie se moordenaars word daar in Byleveld se wêreld van die reeksmoordenaar Lazarus Mazingane geskryf: “Niemand in sy familie of werkkring kon glo hy is ’n moordmasjien nie” (100). En: “Mazingane het bedags gewerk; hy was deel van ’n sosiale netwerk, met ’n vriendekring.” Die man was beslis nie iemand wat uitgestaan het nie.
Dis soms asof ons te maklik in die letterkunde van “buitestanderfigure” of hulle naverwante, “randfigure”, praat. Elke karakter wat nie getroud is of gelukkig in sy werk is nie, of nie ywerig meedoen aan sosiale bedrywighede nie, word as sodanig beskou, en dit terwyl daar gereeld praktiese redes is waarom ’n fiksiekarakter nie groot familiebyeenkomste bywoon of baie vriende onthaal nie. Dit verg naamlik baie tyd en energie van ’n skrywer om ’n karakter van vele verbintenisse in sy lewe te voorsien. Die meeste skrywers beplan nie Middlemarch of War and Peace wanneer hulle gaan sit om ’n paar voorvalle uit iemand se lewe selektief neer te skryf nie. Daarby is intrige geneig om op lenigheid aan te dring, ter wille van die vaart en progressie wat nodig is om ’n leser se aandag te behou. Ons as lesers keur hierdie ekonomie goed, aangesien dit die lees makliker maak en ons plesier verhoog, maar terselfdertyd laat dit ons in ’n soort gerieflike, maar slordige, snelskrif aan die karakters as buitestanders dink.
In die wêreld van misdaadvoorkoming kan ons egter wel ongetwyfeld van buitestanderfigure praat. Eerstens is daar die misdadigers wat hulleself in hulle ekstreme gedrag van die res van ons uitsonder, selfs wanneer hulle, soos Mazingane of Agatha Christie se moordenaars, deel van ’n sosiale netwerk is. Tweedens is daar die geregsdienaars wat uit ons gewone mens-oogpunt nie net as skans teen die misdaadgolf dien nie, maar ook as tussengangers. Hulle verduidelik daardie misdadige wêreld aan ons terwyl hulle ons daarvan vrywaar.
Hierdie geregsdienaars soos hulle in fiksie opgeteken is, openbaar gereeld sekere kenmerke wat hulle van die sosiale omgewing waarin hulle bedrywig is, laat losstaan.
Hercule Poirot is ’n buitestander in die landskap waar hy sy sake oplos. Hy, “the little Belgian detective with the egg-shaped head and the passion for order” (Voorwoord, The Hollow), kom koddig voor. Daarby bevind hy hom in ’n Engelse omgewing met mense wat nie altyd tegemoetkomend is nie. Sy eienskappe belemmer egter nie sy werk nie. Dis vir die ingehoue Engelse mense in werklikheid makliker om vertroue in hom te stel as in mekaar. Hy het ’n reputasie wat hom vooruitgaan.
Agatha Christie se Miss Marple
|
Colin Dexter se Morse
|
Byleveld is ook gereeld ’n buitestander in die landskap waar hy sy vak bedryf. As Afrikaanse wit man is hy klaar anders as heelparty van die misdadigers wat hy moet aankeer, en tog slaag hy daarin om hulle vertroue te wen. Soos Poirot, beweeg hy in ’n vreemde omgewing, maar hy het ’n reputasie waarop hy kan staatmaak, en gereeld is dit genoeg om ’n verdagte tydens ondervraging sy vertroue in hom te laat stel.
Bennie Griessel waag hom ook telkens in vreemde omgewings. As Suid-Afrikaanse polisieman onderhewig aan die regulasies van die SAPD, die plaaslike misdaadkultuur en ook ’n drinkgewoonte (wat in sy geval alkoholiese afmetings aanneem), is hy op die oog af die naaste aan Byleveld, maar deel nie heeltemal die mitiesheid van veral Sherlock Holmes nie. Griessel is ’n realistiese uitbeelding van ’n goeie polisieman wat daagliks met sleur en eie swakheid te doen kry. Op die oog af is dit natuurlik ook ’n goeie beskrywing van ’n jonger Byleveld, maar die senior Byleveld wie se dade nou in ’n boek aangeteken is, reik eerder na die Holmes-figuur.
Sherlock Holmes is ’n donker speurvoorbeeld. Conan Doyle beskryf in die verhaal “The sign of four” by monde van Dr. Watson hoe Holmes homself met ’n dwelmmiddel inspuit: “It is cocaine, a seven-per-cent solution. Would you care to try it?” (Conan Doyle 1995:64). Dit staan terloops nogal in kontras met die onskuldige beeld wat Hendrik Brand skep van sy speurder Adriaan Hugo, wat “So ver ek ooit kon uitvind, ’n onkeerbare voorliefde vir lekkers (as) grootste swakheid (het), en van alle lekkers hou hy nogal die meeste van sulke sterk pepermente dat hulle die hele omgewing met hulle geur vul” (Brand s.d.:23).
’n Vergelyking met Byleveld laat onvermydelik weer sy alkoholgebruik en rookgewoontes opval. Die alkoholgebruik is nie so erg dat dit hom benadeel soos Holmes se dwelmgebruik met hom (en ook Griessel se eie drankgebruik met hóm) maak nie, maar die rokery en die suurstoftenk wat soms byderhand moet wees ter wille van sy asmaprobleem, herinner ’n mens aan die “innumerable puncture-marks” in Holmes se “sinewy forearm and wrist” (Conan Doyle 1995:64). Ook Byleveld is by wyse van spreke ’n gewonde man wie se wond ons simpatie wek.
Die vraag ontstaan of die middelafhanklikheid ontvlugting uit die werklikheid van die speurders se werk bied, en of dit die gevolg van die gruwelike misdade is waarmee hulle te doen kry. In al drie gevalle (Holmes, Byleveld en Griessel) is die keuse van middels verwant aan hulle leefwêrelde. Ons weet byvoorbeeld uit Leon Rousseau se “Die groot verlange” en ook etlike periode-films dat opium-derivate in algemene gebruik was in Holmes se laat Victoriaanse en Edwardiaanse tyd. Freud en ander dokters het kokaïne in oogoperasies gebruik. En Byleveld, weer, ken, soos Bennie Griessel, ’n wêreld waar wit Afrikaanse polisiemanne gerook en gedrink het.
Terwyl ons as lesers Byleveld met simpatie mag bejeën, loon dit ons om hom nie te onderskat nie. Ons moet veral sy vermoëns in gedagte te hou. Hy is ’n man wat, soos Holmes, soos Poirot, soos Griessel, die gawe van onderskeiding het waar dit by mense kom, in die oplos van raaisels deduktief te werk gaan en flink optree wanneer dit nodig is.
Deon Meyer se 7 Dae
|
Edgar Allan Poe se “The murders in the Rue Morgue” word algemeen beskou as die eerste rasegte speurverhaal met ’n speurder wat op deduksie staatmaak. In die eerste Holmes-verhaal, “A Study in Scarlet”, laat Conan Doyle in ’n flinke stukkie afwysende intertekstualiteit vir Holmes sê: “No doubt you think you are complimenting me in comparing me to Dupin. Now, in my opinion, Dupin was a very inferior fellow. That trick of his of breaking in on his friends’ thoughts with an apropos remark after a quarter of an hour’s silence is really very showy and superficial. He had some analytical genius, no doubt; but he was by no means such a phenomenon as Poe appeared to imagine” (Conan Doyle 1995:18).
Maar ook die Holmes-verhale lok kommentaar uit, soos wanneer Christie se Poirot in The Clocks sê: “The Adventures of Sherlock Holmes. Maitre!” “Sherlock Holmes?” “Ah, non, non, not Sherlock Holmes! It is the author, Sir Arthur Conan Doyle, that I salute. These tales of Sherlock Holmes are in reality far-fetched, full of fallacies and most artificially contrived. But the art of the writing – ah, that is entirely different. The pleasure of the language, the creation above all of that magnificent character, Dr. Watson. Ah, that was indeed a triumph” (Christie 1968:109).
Van Holmes weet ons inderdaad wat ons weet omdat Holmes se vriend Dr. Watson ons dit vertel. Dit is interessant hoe die joernalis Retief in haar boek byna as ’n Dr. Watson funksioneer. Soos Watson Holmes se ervarings opteken, doen sy dit ook met Byleveld s’n. Retief vervul ’n soortgelyke funksie wanneer sy Byleveld en sy werkswyse en karakter aan ons bekendstel. Sy dra ’n werklike mens met hierdie boek die literêre wêreld in en dien as tussenganger tussen die figuur met uitsonderlike vaardighede en ervarings en ons “gewone mense”.
Ook Byleveld is ’n tussenganger, tussen ons en figure met nog meer uitsonderlike vaardighede en ervarings as syne. Hy is ons beskermer, iets wat hy verwoord wanneer hy praat van sy “strewe om ons gemeenskappe en ons land ’n veiliger plek te maak” (Retief 2011:272). As daar in hierdie lig sprake is van hom as buitestander, is dit as ’n figuur wat buite staan omdat hy oor ons waak. Daar is ’n roepingbewustheid omtrent sy werk wat bevestig word wanneer hy noem dat hy “dalk nie agter ’n kansel” staan soos hy as jong man wou nie, maar in sy rol as speurder “deur dieselfde beginsels van deernis en toewyding gelei” word (Retief 2011:272).
Figure soos Holmes en Byleveld word, nogal soos mense wat wel “agter ’n kansel” staan, gewigtige mense in ons lewens. Ons sien op na hulle. Wanneer hulle weggaan of aftree, ly nie net hulle handlangers verlies nie. Die genoemde Adriaan Hugo-boek eindig waar die speurder Hugo (’n soort Afrikaanse Holmes-figuur) trou en volgens sy adjudant Brand (’n Dr. Watson-figuur) op die punt is om “vet en huislik (te) word en in alle opsigte die lewe geniet” (Brand s.d.: 167). “Die trein het weggestoom; en (Brand) het alleen en swaarmoedig op die perron bly staan.”
Piet Byleveld
|
Holmes, weer, is in die verhaal “The adventure of the final problem” in die arms van sy nemesis, Moriarty, dood toe hulle worstelend oor ’n afgrond is. Watson sluit af: “[I]f I have now been compelled to make a clear statement of his career, it is due to those injudicious champions who have endeavoured to clear his memory by attacks upon him whom I shall ever regard as the best and the wisest man whom I have ever known” (Conan Doyle 1995:446).
Oor Byleveld lees ons: “Toe Piet Byleveld op 1 Julie 2010, die eerste oggend ná sy aftrede, wakker word, tref dit hom soos ’n voorhamerhou: hy is nie meer ’n polisieman nie. Hy’t opgestaan en rondgestaan en gewonder wat hy nou met sy lewe moet aanvang … Toe stap Piet Byl maar klerekas toe en trek – soos elke iedere werkdag die afgelope dertig jaar – ’n pak klere aan” (Retief 2011:269). Ons verneem verder dat hy beeste aanhou op sy broer se plaas, waar hy gereeld besoek aflê.
Hierdie afsluiting in die loopbaan of lewensfase van watter soort fiksiekarakter ook al is beduidend. Lesers lees gereeld nie net vir vermaak nie, maar ook ter wille van wenke wat in hulle eie lewens van toepassing mag wees. Ons smag na leiding en het ’n behoefte daaraan om so voorbereid moontlik die volgende stel krisisse in ons lewens tegemoet te gaan. Vir ’n leser wat self eendag sal moet klaar werk en groet, dra dit veral betekenis wanneer figure wat groter as lewensgroot vertoon, soos speurders met hulle vermoëns en rolle as tussengangers, aan die einde van hulle aktiewe periodes kom. Dit is asof ons eie lewens verarm.
Dat Conan Doyle later op aandrang van sy lesers vir Holmes uit die dode moes opwek om sy avonture voort te sit, bevestig net die onwilligheid waarmee lesers van helde afskeid neem, selfs wanneer hulle as buitestanders beskou kan word. Miskien lê die kern van die saak juis daarin dat dit onvermydelik is dat helde, ook wanneer hulle swakhede toon, buite die gewone en alledaagse staan, en dat ons hulle as ons oppassers en beskermfigure ook net daar verkies.
Bronne
Brand, Hendrik. s.d. Adriaan Hugo (speurder). Suid-Afrika: Nasionale Boekhandel Beperk.
Conan Doyle, Arthur. 1995. The Adventures of Sherlock Holmes. Engeland: Wordsworth Editions Limited.
Christie, Agatha. 1968. The Clocks. Vyfde oplaag. Engeland: Fontana Books.
—. 1987. The Hollow. 23ste oplaag. Engeland: Fontana Books.
Retief, Hanlie. 2011. Byleveld: Dossier van ’n baasspeurder. Suid-Afrika: Umuzi.
>>> Klik hier om die resensie van Byleveld: Dossier van ’n baasspeurder te lees.