Soutrivierstasie (soos onthou uit 1997)

  • 1

Soutrivierstasie (soos onthou uit 1997)

Verdra my herfsherinnering,
my teenwoordigheid daar op Soutrivierstasie,
waar die son bottergeel verblind
voor dit ondergaan asof vir oulaas.
Daar waar die perronne donker tussen die spore eiland,
die treine dreunend intrek
by die oorweg, die stasiegebou, die waghokke,
die werkers, werkloses, beamptes, toeriste;
daar waar mense luid venter aan hulle sigarette en lekkers,
soos ander sekerlik aan slenters –
daar is ek bewus van ’n soort ewigheid.

Vergeef my die herinnering,
ek wag steeds op my trein hier op Soutrivierstasie
terwyl die aand om my vassak,
buitelyne uitgelê soos in ’n skets.
Hier waar die donker tam meer word,
die beamptes deure sluit,
die venters moeg vertrek,
die perronne leeg word;
hier waar die strukture se eens kragtige rame roes,
die seisoene verbyskuif –
hier kwyn my onseker huldeblyk aan ’n onsekerder jeug.

Foto van Jaco Fouché: Christine Cronjé

  • 1

Kommentaar

  • johann de Jager

    Dit is môre tien dae dat Jaco se gedigte hier geplaas is. Vir hiedie gehalte vers gee mens nie om dat dit so lank op skerm bly nie, maar beperk dit nie nuwe aspirerendes se kanse as een digter vir weke aaneen die skerm oorheers nie, en dan nie eens naastenby altyd met werk van Jaco se gehalte nie. Sal vinniger rotasie nie die belangespektrum verbreed nie? Nogtans groete,en dankie. J de J.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top