Fouché - die amptelike boekhouer van die frustrasies van die Afrikaanse laer-middeklas amptenaar

  • 0

Ed van Inligtingstelsels – ’n werkersklasroman
Skrywer: Jaco Fouché
Uitgewer: LAPA
Formaat: Sagteband; 129 x 198 mm
ISBN: 9780799344585
Handelsprys:
R150,00
 


Jaco Fouché staan waarskynlik tot Bellville soos Irvine Welsh teenoor Glasgow. Bellville is, nes enige middel- en laermiddelklasbuurt, ’n plek waarna jy verwys met deernis, nooit begeerte nie. Niemand wat fantaseer oor ’n Lotto-meevaller sê ooit dat hulle ’n “paleis in Bellville wil bou” nie. En ek sê dit as iemand wat sélf vir ’n ruk in Groenvallei, aan die verkeerde kant van Bellville, gewoon het.

En tog is Bellville ’n teelaarde vir daardie broodnodige bestanddele vir skeppende vermoëns: ’n kombinasie van intelligensie en ’n chip op die skouer. Party letterkunde gedy, nes goeie rock, in ’n vrugbare omgewing waar skeppende frustrasie gevoed word deur ’n “fok jou”-houding – een waarmee Bellville ryklik geseën is, veral as jy kyk na die Jack Parows en Fokofpolisiekarre van die wêreld (Die Antwoord, aan die ander kant, is ’n phoney, siniese konstruksie van Engelse opportuniste, uitgevoer deur phoney, Engelse kunstenaars wat laerklas-Afrikanerskap parodieer en ’n Malcolm McLaren trek op rappers van die Kaapse Vlakte.)

Soos kunskritici na Picasso se Blou Periode verwys, sal dit nie vergesog wees nie om na Ed van Inligtingstelsels te verwys as die swanesang van Fouché se Bellville-periode nie, een wat werke soos Party by Jake’s en Twee Dae in Mei insluit.

Die Afrikaanse lesersmark het besliste voorkeure. Skryf jy ’n goeie spanningsverhaal of, nóg beter, een oor bloedskande en liefde oor die kleurgrens (of, die hemel behoed ons, ’n kombinasie van al drie), is groot verkope vir jou gewaarborg.

’n Roman soos Ed van Inligtingstelsels val egter buite die verwysingsraamwerk van die breë koperspubliek. Daar is geen held, geen “skandaal”, geen morele lessie nie. Geen poging tot boetedoening of oorwinning van die goeie oor die bose nie. In plaas daarvan is daar lang beskrywings van die hoofkarakter se gedagtegang en verteenwoordig die boek ’n meesterklas in ’n kwesbare karakter se neurotiese introspeksie.

Ed Meurger is ’n karakter wat wróég. Wroeg oor sy drankprobleem. Oor sy eksvrou. Oor sy narsistiese vriend Charlie wat hom met minagting behandel. Oor sy sosiale onbeholpenheid. Maar veral oor sy uitsiglose werk by die hoofkantoor van ’n groot versekeringsmaatskappy in Bellville. Hy’s geskei en probeer sin maak oor sy bestaan en sy identiteit. Dis ’n eksistensiële roman wat jy nie wil lees as jy depressief en/of kwaad vir jou baas is nie. Of miskien moet jy dit dan júis lees. Fouché se beskrywing van die hoofkarakter se haat teenoor Buys, sy onmiddellike toesighouer, is deels iets uit The Office, deels ’n psigotiese De Niro in Taxi Driver.

Sommige lesers sal wag vir “iets om te gebeur” – ’n moraliserende storie of lewenslessie. Hulle sal tevergeefs wag. Dis ’n boek wat jou aandag vereis. Na ’n paar bladsye begin jy amper terugdeins van die amper hopelose bestaan van Ed. En dis een van die boek se sterk punte. Want dit beeld die wérklikheid uit in al sy wanhopige, hartverskeurende en onmoontlik-om-te-ignoreer-of-ontken besonderhede.

Fouché se waarnemingsvermoë is van hoogstaande gehalte. Die eerlikheid tref in die gesprek tussen hom en sy aanstaande skoonpa in die strip club toe dié verwys na een van die strippers: “Dis Monica. Sy was eens ’n sexy vrou en sy’t ’n wonderlike geaardheid, maar is nie baie skoon nie. Het jy haar geruik? Sy is eintlik verby haar prime. Ons moet maar wag vir die jong wippe. Dis een van die groot waarhede van die wêreld, dat jonk mooi is. Waar is Dad darem nou? Ek en hy het in die ou dae so uitgegaan, soos ek en jy nou. Dan bly Wilna en Tiens by die huis en hulle dink ons speel darts. Jy moet vir Alta sê ek leer jou darts speel, hoor. ’n Vrou moenie alles weet nie.”

Die beskrywings van sy dienspligjare was ook ’n genot om te lees, veral vir iemand soos ek, wat in dieselfde eenheid was en persoonlik te doen gekry het met ’n paar van die karakters na wie hy verwys.

Uiteindelik raak die uitsigloosheid en vervreemding te veel vir Ed. Sy donker fiksasie met Buys raak al hoe moeiliker om te ignoreer en wanneer hy die eienaar word van ’n onwettige rewolwer nadat sy suster in ’n motorongeluk dood is, vang hy uiteindelik iets onbesonne aan en lei dit tot die boek se slot – wat ek nie hier gaan verklap nie, behalwe om te sê dat die afsluiting, nes die res van die boek, werklikheidsgetrou en onthutsend is. Geen singende engelkore of Hallmark-oomblikke nie. Net ’n kaalgestroopte konfrontasie met die werklikheid.

Ed van Inligtingstelsels is die soort boek wat, met die regte Skandinawiese regisseur, ’n puik film sou kon wees, nes 101 Reykjavik die wanhopige frustrasies van ’n klomp jong Yslanders so treffend uitgebeeld het.

Hennie van Coller het al na Fouché verwys as een van ’n geslag “Afrikaanse Tarantino’s”. Ek wil verder gaan en sê dat Fouché waarskynlik die amptelike boekhouer is van die frustrasies van die Afrikaanse laermiddeklas-kantoorwerker en/of -amptenaar. ’n Soort van ’n literêre beskermengel vir dié wat ’n lewenslange vonnis vir middelmatigheid moet uitdien. Al is daardie mense self salig onbewus van hulle eie eksistensiële hel. Miskien is dit beter so.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top