Lesmateriaal vir Afrikaans-onderwysers: Jaco Fouché se kortverhaal oor vriendskap

  • 1

Jaco Fouché se foto: voorsien

Ingonyama en ander maats met leeueharte: ’n Kortverhaalbundel
Saamgestel deur Carin Krahtz
Uitgewer: Best Books, NB-Uitgewers
ISBN: 9781776073030

Is jy ’n onderwyser en is jy in hierdie moedelose pandemietyd wat so ’n groot impak op die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel het, op soek na lesmateriaal wat jou leerders sowel as vir jou sal inspireer? Ingonyama en ander maats met leeueharte is ’n boek wat onlangs by BestBooks verskyn het en met vrug in die klaskamer ingespan kan word. Gebruik dit vir begripstoetse, kreatiewe skryfprojekte en lekkerlees.

Jaco Fouché praat met Naomi Meyer oor sy storie “Die getuie”, ‘n verhaal waarby jong lesers sal aanklank vind – en wat hulle sal laat nadink oor vriendskap.

Jaco, waar het jy die inspirasie vir “Die getuie” gekry?

........

In die sewentigerjare in Vereeniging was ek smiddae by ’n naskoolsentrum. Ek was bevriend met die eienaar se seun en hulle het op ’n stadium ’n trampolien gekry waarop ek baie, baie tyd deurgebring het. Die trampolien het teenaan ’n heining gestaan en met elke sprong kon ’n mens in die bure se erf in kyk. Dis wat ek redelik goed onthou.

..........

In die sewentigerjare in Vereeniging was ek smiddae by ’n naskoolsentrum. Ek was bevriend met die eienaar se seun en hulle het op ’n stadium ’n trampolien gekry waarop ek baie, baie tyd deurgebring het. Die trampolien het teenaan ’n heining gestaan en met elke sprong kon ’n mens in die bure se erf in kyk. Dis wat ek redelik goed onthou.

Wat ek minder goed onthou, is dat ek eendag baie stout was, of my vriendjie was baie stout, of een van die ander kinders. In elk geval, iemand (ek kan nie met sekerheid sê dit was nie ek nie, maar wil myself nie inkrimineer nie) het ’n venster stukkend gegooi en toe is daar ’n hele klompie van ons in die moeilikheid oor spring op die trampolien en dis daarna verbied en ek dink die trampolien is selfs afgeslaan. Ek kry vandag nog gewetenswroegings as ek die voorval onthou.

Sal jy in ’n paar sinne jou storie en iets oor die karakters kan vertel?

Die hoofkarakter is ’n meisie wat met ’n seuntjie bevriend is van wie se guns sy nie altyd seker kan wees nie. En hy betrek haar by sy en ’n ander maatjie se stoutigheid, wat haar in ’n moeilike posisie plaas.

Jou storie is realisties, want enige kind vind gou uit: Sommige mense tree verskillend op as hulle by jou alleen is, en dan weer anders as daar ander mense bykom. Dinamika verander as mens net een mens byvoeg of wegneem. Die kernvraag van jou storie is dalk: Wie is regtig vriende in hierdie storie? Kan die karakters mekaar vertrou? Hier is heelwat om oor na te dink. Hoe dink jy kan ’n onderwyser die verhaal in die klas gebruik - as voorbereide lees, as begripstoets, as besprekingsonderwerp?

Vriendskap is ’n moeilike ding. Ek is nie seker hoe ander mense daaroor voel nie, maar ek het al verskeie kere ’n vriendskap aangeknoop en verkeerdelik aanvaar dis nou vir ewig en dan tree iemand anders nader en lojaliteite swaai in ’n oogwink. Dit het lank geduur voor ek besef het dis ek wat te veel van mense verwag. Waar dit vandaan kom, is ek nie seker nie, maar ek het eendag op skool ’n soort eggo van my eie situasie aanskou toe ek hoor hoe ’n ma haar trae dogtertjie vertel hoe lekker sy by maatjies gaan speel. Die dogtertjie wou nie na ’n partytjie toe gaan nie (ek dink vandag met goeie reg waarskynlik), maar sy het haar laat ompraat en die byeenkoms sekerlik verduur voor sy met verligting huis toe is.

.......

Sosiale interaksie is baie dikwels pynlik, veral vir eenkantkinders en -mense wat nie aan algemene verwagtinge voldoen nie, of dit nou op grond van voorkoms, fisieke swakheid, skugterheid is. Genadiglik word ’n mens groot en kry jy meer seggenskap oor jou bewegings. Miskien kan in die klas gepraat word oor gewildheid.

........

Sosiale interaksie is baie dikwels pynlik, veral vir eenkantkinders en -mense wat nie aan algemene verwagtinge voldoen nie, of dit nou op grond van voorkoms, fisieke swakheid, skugterheid is. Genadiglik word ’n mens groot en kry jy meer seggenskap oor jou bewegings. Miskien kan in die klas gepraat word oor gewildheid. Wat maak sommige kinders gewild en ander nie? Ek dink baie boeliesituasies ontstaan omdat die slagoffer bang is vir die boelie en hulleself aan die situasie wil onttrek, maar die boelie ervaar die slagoffer se afwysing as verwerping en word dan kwaad en wil wraak neem. Sommige mense eis mos eenvoudig dat jy bereid moet wees om hulle te alle tye te woord te staan.

Lees ook:

Lesmateriaal vir Afrikaans-onderwysers: Fanie Viljoen se kortverhaal oor kunsmatige intelligensie

Lesmateriaal vir Afrikaans-onderwysers: Chase Rhys se Kaapse kortverhaal oor buitengewone mense

Lesmateriaal vir Afrikaans-onderwysers: Anzil Kulsen se kortverhaal rondom die sosiale media

Lesmateriaal vir Afrikaans-onderwysers: Annelie Ferreira se kortverhaal oor innerlike krag

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top