
Foto van Chase Rhys: Retha Ferguson
Ingonyama en ander maats met leeueharte: ’n Kortverhaalbundel
Saamgestel deur Carin Krahtz
Uitgewer: Best Books, NB-Uitgewers
ISBN: 978-1-7760-7303-0
Is jy ’n onderwyser en is jy in hierdie moedelose pandemietyd wat so ’n groot impak op die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel het, op soek na lesmateriaal wat jou leerders sowel as vir jou sal inspireer? Ingonyama en ander maats met leeueharte is ’n boek wat onlangs by BestBooks verskyn het en met vrug in die klaskamer ingespan kan word. Gebruik dit vir begripstoetse, kreatiewe skryfprojekte en lekkerlees.
Chase Rhys vertel vir Naomi Meyer van sy kortverhaal “Die een” wat in die bundel verskyn het.
Chase, jy het ’n storie oor buitengewone mense geskryf. Ek het jou storie “Die een” gelees en die enigste deel van die storie wat my pla, is dat dit nie aanhou en aanhou nie. Ek wil so graag weet wat volgende gaan gebeur! Wat was die inspirasie hiervoor?
As kind het ek fantasieboeke gelees omdat dit verligting van my hopelose omgewing gebied het. Daai escapism was nodig. Ek wou ’n verhaal skryf waarin ’n jongmens die negatiwiteit wat hulle in hul omgewing sien en moet verduur, transendeer deur hul innerlike krag te vind.
Wil jy dalk vertel waaroor die storie gaan - en iets van jou buitengewone karakter?
Die verhaal handel oor ’n jong persoon wat teen sy boelie opstaan. Sy beslyt om homself te beskerm, wôd met nog mee geweld ontmoet, wat aanvanklik die vrees vannie karakter vehoog. Hierdie negatiwiteit laat hom yteindlik vermoëns ontdek wat hy nie gewiet et hy hettie. Hy ontwikkel oek ’n waardering vi diegene wat voo hom gekô et en hy laat hulle wysheid en kennis hom lei. Hy leer dat hy nodig is, en dat hy in staat is om homself en sy omgewing te verbeter.
Jou storie is in Kaaps geskryf en dis so belangrik om dit te noem, want hoe gereeld kry kinders wat Kaaps praat die geleentheid om in hulle huistaal begripstoetse te kan aflê - en kinders wat nie Kaaps praat nie, om Kaaps te kan lees. Dalk kan jy ook skryf hoe jy dink oor Kaaps en hoe onderwysers die storie kan gebruik in moderne Suid-Afrikaanse klaskamers.
Vi leerders wat wel Kaaps praat, gloe ek dattie ontmoeting van hul hystaal innie klaskamer ’n geleentheid bied vi heelheid en alignment. Ek hoep dat it hulle laat besef dat hulle tys sowel as op skool hul outentieke self kan wies. Dat hulle nie mee voel dat hulle hulself in twie moet verdeel en hulself moet ytput met code-switching ie. Om te verstaan dattie manier waarop hulle tys praat, geldig is ennie verkeerd issie, kan net ’n positiewe sielkundige ytwerking op hulle hê.
Vi leerders wattie tys Kaaps praatie, maak blootstelling aan hierdie taal hul gedagtes oep. It gie hulle mee geleentheid om bewus te wôd vannie diversiteit vannie Afrikaanse taal en allie verskillende mense wat it praat. Onderwysers moet nou al opgewonde begin raak oo Kaaps innie klaskamer, wan it gaan net mee algemeen word.
Lees ook:
’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum
COVID-19 en verlore skooltyd: Faeed Amardien se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Estelle Kruger se wenke aan ouers en onderwysers
Lesmateriaal vir Afrikaans-onderwysers: Fanie Viljoen se kortverhaal oor kunsmatige intelligensie