NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021: Kortlysonderhoud – Jaco Fouché

  • 0

Ingrid Winterbach, Kirby van der Merwe, Francois Smith, Louis Krüger en Jaco Fouché

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd word deur NB-Uitgewers geborg en vind elke drie jaar plaas. In 2012 was die wenner Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach, in 2015 is die kompetisie gewen deur Dan Sleigh, met sy roman 1795, en in 2018 was die wenner Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach. Verlede jaar het NB-Uitgewers 95 inskrywings vir die Groot Afrikaanse Romanwedstryd ontvang.

Vanjaar se kortlys van vyf, in geen spesifieke volgorde nie, is:

  • Eugene X deur Kirby van der Merwe
  • Die getuienis deur Francois Smith
  • Die verleiding van Eva de Winter deur Louis Krüger
  • Voorouer. Pelgrim. Berg. deur Ingrid Winterbach
  • Simoelégri deur Jaco Fouché

Jaco Fouché

Jaco Fouché praat met Naomi Meyer oor Simoelégri. 

.........

Iemand lag eendag dat die inperkingstyd my seker nie geraak het nie. Dit is wel so dat ek maar meestal by die huis en in die skryfkamer is. Die algemene atmosfeer wat saam met die inperkings gekom het, dit het my wel geraak – die mistroostigheid en onsekerheid het in my boek beland.

..........

Baie geluk daarmee dat jou jongste manuskrip op die kortlys van NB-Uitgewers se Groot Roman-kompetisie is! Kan jy die kernidee van jou roman in drie sinne vertel?

Dankie, Naomi. My boek speel af in ’n minder gegoede, selfs vervalle, stadsbuurt in die nabye toekoms. Die verhaal vind in die nadraai van onbepaalde krisisse plaas, hoewel ek spesifiek ’n virus noem not unlike a certain virus of our acquaintance. Die idee vir die buurt het ontstaan toe ek ’n lugfoto van ’n Europese stad sien waarin blok na blok na blok dieselfde lyk: drie of vier verdiepings hoog en baie grou in kleur. Weet nie meer watter stad nie, onthou net daar het so ’n skuins pad deur die reëlmaat van die geboue en straatblokke gesny. Die toneel het bra deprimerend voorgekom, maar het tog my verbeelding aangegryp. 

Wie is jou hoofkarakters en hou jy van hulle? Waar het hulle uitgebroei – kan jy die dag onthou toe hulle hul opwagting gemaak het?

Die hoofkarakter is Lady Die, oor wie ek sommer mal is, al is Lady Die ’n maaksel met ’n hart soos ’n hotel, dus bra gul met die lyf. Die figuur kom uit my slegte geheue. Ek het in seker 2017 ’n toneel van ’n vlugtende vrou in ’n ou fabriek gesien, dit verkeerd onthou, en toe het die karakter in 2020 uit die herinnering voortgespruit as ’n mens in ’n vervalle kerk en samelewing. 

.........

Ek het in seker 2017 ’n toneel van ’n vlugtende vrou in ’n ou fabriek gesien, dit verkeerd onthou, en toe het die karakter in 2020 uit die herinnering voortgespruit as ’n mens in ’n vervalle kerk en samelewing. 

.........

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd het verlede jaar midde-in die grendeltyd gesluit. Het die inperkings jou tyd gegee en jou bevry om te skryf? Of het dit ook jou kop gevange gehou en jou aandag van jou skryfwerk afgetrek?

Iemand lag eendag dat die inperkingstyd my seker nie geraak het nie. Dit is wel so dat ek maar meestal by die huis en in die skryfkamer is. Die algemene atmosfeer wat saam met die inperkings gekom het, dit het my wel geraak – die mistroostigheid en onsekerheid het in my boek beland. ’n Man met op die oog af geen skeet nie het my eendag tot my verbasing vertel hy dink daaraan om homself om die lewe te bring weens die spanning van die lewe. Toe wonder ek of die werklike impak van die grendeltyd en ook van die lewe hier in Suid-Afrika en wyer nog in die deurtrapte wêreld my dan verbygaan – dalk moet ek meer aandag skenk, het ek gewonder. Wat aardig was, was die "donker" gevoel waarvan ek bewus geword het. Dit span so ’n net oor ’n mens. Natuurlik dink ’n mens dan dat hierdie gevoel met vrug aangewend kan word iewers. Dit is ook so dat ’n mens plan wil maak met jou vrese – jy skryf dit uit jou uit.

Hoe doen jy gewoonlik navorsing vir ’n storie en moes jy, gepraat van die virus, met die skryf van hierdie manuskrip op ’n ander manier navorsing doen?

Ek dink “navorsing” is ’n baie groot woord. Akademiese mense doen dit. Ek lees maar rond vir my eie vermaak of ek skenk aandag in geselskap, dis hoe ek daaraan dink. Ek lees dus nie doelgerig met die oog op die skryf van ’n spesifieke storie nie. Wat gewoonlik gebeur, is dat ek iets interessant lees, of in videomateriaal sien, en dit dan iewers op ’n manier self wil aanwend. Ek dagdroom wel oor ’n geskiedkundige storie en daarvoor sal ek seker amptelike navorsing moet doen.

Hoekom skryf skrywers - in ’n tyd van ’n pandemie, in ’n tyd sonder ’n pandemie? Hoekom skryf jy? En hoekom het jy vir hierdie Groot Romanwedstryd ingeskryf?

..........

Skrywers reageer op hulle onmiddellike omgewing. In ons onmiddellikheid is daar ’n pandemie. Ons gaan daaroor skryf. Is daar nie ’n pandemie nie, maar ’n dreigende burgeroorlog, of kulturele droogte, skryf ons oor daardie stel omstandighede.

..........

Skrywers reageer op hulle onmiddellike omgewing. In ons onmiddellikheid is daar ’n pandemie. Ons gaan daaroor skryf. Is daar nie ’n pandemie nie, maar ’n dreigende burgeroorlog, of kulturele droogte, skryf ons oor daardie stel omstandighede.

Skribbelary is iets wat ek ’n paar keer laat vaar het. Dit lyk soms so sinloos in ’n wêreld wat meer mediese dienste en bekostigbare regshulp nodig het, om van beginselvaste politici nie te praat nie. Wat moet ’n mens met fiksie maak? En tog is daar die behoefte om met die taal te werk. En ook die begeerte dat mense lees wat jy gepleeg het. Miskien is dit pleinweg ekshibisionisme, die kunste.

Hoe ook al, ná ’n paar dae, weke of maande, tref die private bevlieging my weer en dan begin ek aantekeninge maak. Dis gewoonlik in kleinserigheid: Iemand sê of doen iets wat my pla, in my persoonlike lewe of in die nuus, of ek lees ’n mooi beskrywing in ’n ou gedig, en dan krap dit so aan my dat ek dit moet uitskryf. Natuurlik is dit ook lekker as ’n mens af en toe ’n sin uit die warboel in jou kop wring wat jou bly en dankbaar maak dat jy die moeite gedoen het.

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd is ’n wonderlike uitdaging. Ek het die eerste keer in 1993 ingeskryf. (Die wedstryd het toe ’n ander naam gehad.) Verlede jaar wou ek nie inskryf nie; ek het nog moeg en sonder idees gevoel nadat ek aan Aanspreeklikheid gewerk het. Maar hier voor die helfte van die jaar het ek gedink: Aanspreeklikheid word orraait ontvang en ek kan gerus weer probeer. En toe skryf ek ’n paar stukke, waaronder Simoelégri. Nie die hele boek nie – die terugflitse in die verhaal is bladsye wat ek vroeër geskryf het. Maar ek kon betyds klaarkry vir die sperdatum.

Lees ook:

NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021: Kortlysonderhoud – Francois Smith

Aanspreeklikheid: ’n onderhoud met Jaco Fouché

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top