NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021: Kortlysonderhoud – Francois Smith

  • 0

Ingrid Winterbach, Kirby van der Merwe, Francois Smith, Louis Krüger en Jaco Fouché

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd word deur NB-Uitgewers geborg en vind elke drie jaar plaas. In 2012 was die wenner Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach, in 2015 is die kompetisie gewen deur Dan Sleigh, met sy roman 1795, en in 2018 was die wenner Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach. Verlede jaar het NB-Uitgewers 95 inskrywings vir die Groot Afrikaanse Romanwedstryd ontvang.

Vanjaar se kortlys van vyf, in geen spesifieke volgorde nie, is:

  • Eugene X deur Kirby van der Merwe
  • Die getuienis deur Francois Smith
  • Die verleiding van Eva de Winter deur Louis Krüger
  • Voorouer. Pelgrim. Berg. deur Ingrid Winterbach
  • Simoelégri deur Jaco Fouché

Francois Smith

Francois Smith praat met Naomi Meyer oor Die getuienis. 

.........

Ek wil graag glo dat ek om dieselfde rede skryf as wat ’n boer ploeg of as wat ’n loodgieter geisers herstel – omdat ek in die wieg gelê is daarvoor. 

.........

Baie geluk daarmee dat jou jongste manuskrip op die kortlys van NB-Uitgewers se Groot Roman-kompetisie is! Kan jy die kernidee van jou roman in drie sinne vertel?

’n Egpaar wat in die bevrydingsbediening (die uitdryf van bose geeste) werk, onderneem in navolging van ’n visioen ’n reis deur die land. Hulle doen dit sonder enige middele en net met die vertroue dat Vader sal voorsien. Die reis neem hulle van die een ekstatiese ervaring van die Voorsienigheid na die ander, maar ook al hoe nader aan die wortel van alle kwaad.

Wie is jou hoofkarakters en hou jy van hulle? Waar het hulle uitgebroei – kan jy die dag onthou wat hulle hul opwagting gemaak het?

Gebrand en Retha doen om die beurt in die eerste persoon verslag van hul reis. Hul beweegredes was vir my onverstaanbaar en ek moes naby aan hulle kom om my iets van hul lewe en strewes voor te stel. Ek het reeds in 2013 met hul kennis gemaak toe ek van hulle reis gehoor het. Die verhaal het in my vasgesteek en ek het geweet eendag sal ek iets daarmee wil doen.

..........

Die verhaal het in my vasgesteek en ek het geweet eendag sal ek iets daarmee wil doen.

.........

Die Groot Romanwedstryd het verlede jaar midde-in die grendeltyd gesluit. Het die inperkings jou tyd gegee en jou bevry om te skryf? Of het dit ook jou kop gevange gehou en jou aandag van jou skryfwerk afgetrek?

Ek het beslis meer tyd gehad om te skryf. Ek was heeltemal alleen en dit was stil in my huis; die pandemie was aanvanklik onwerklik ver van my en in hierdie omstandighede was dit vir my byna noodsaaklik dat ek ander mense in my kopruimte kry.

Hoe doen jy gewoonlik navorsing vir ’n storie en moes jy, gepraat van die virus, met die skryf van hierdie manuskrip op ’n ander manier navorsing doen?

Vir hierdie een moes ek na tientalle preke luister van mense in die bevrydingsbediening, en dit kan jy gelukkig maklik op die internet kry. Maar daar was ’n gedeelte van die pad wat my twee karakters gery het waarop ek nog nie was nie, of so lank gelede dat ek my dit nie goed kon voorstel nie. Ek het in ’n stadium aansoek gedoen vir ’n reispermit om dit te doen, maar dit is afgekeur. Daar is iets heel beklemmends daaraan dat reis (en navorsing) op die internet al is wat ons geoorloof is.

.........

Daar is iets heel beklemmends daaraan dat reis (en navorsing) op die internet al is wat ons geoorloof is.

.........

Hoekom skryf skrywers – in ’n tyd van ’n pandemie, in ’n tyd sonder ’n pandemie? Hoekom skryf jy? En hoekom het jy vir hierdie Groot Romanwedstryd ingeskryf? 

Ek wil graag glo dat ek om dieselfde rede skryf as wat ’n boer ploeg of as wat ’n loodgieter geisers herstel – omdat ek in die wieg gelê is daarvoor. En vir hierdie kompetisie het ek ingeskryf omdat ek die geld dringend nodig het. Ek het die spertyd net-net gehaal, maar ek het gedink ek moet ten minste probeer, want dalk kry ek ’n hupstootjie vir ’n volgende boek.

Lees ook:

NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021: Kortlysonderhoud – Jaco Fouché

Francois Smith se Kleinste ramp denkbaar gaan boei, terroriseer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top