Deon Meyer (1958–)

  • 1

Gebore en getoë

Deon Godfrey Meyer is op 4 Julie 1958 in die Paarl gebore. Toe hy 18 maande oud was, verhuis die gesin na Klerksdorp in die ou Wes-Transvaal. Sy pa, Neil, was hier areabestuurder van ’n hysermaatskappy. Sy ma, Francis, was ’n tuisteskepper.

Sy pa het arm grootgeword en moes ná standerd 6 (deesdae se graad 8) die skool verlaat. Hy het hom as elektrisiën bekwaam en aanvanklik by African Theatres in die Kaap gewerk.

Deon begin sy skooljare aan die Laerskool Meiringspark en matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Schoonspruit. Hy is die middelste van drie seuns. In standerd 6 moes hy sy twee broers, Bertus en Francois, afpers om sy eerste storie te lees. Hulle raad aan hom was dat hy nie dadelik met ’n nuwe boek moet begin nie. Deon sal sy Engels-onderwyseres, Valerie de Bruyn, altyd onthou as iemand wat hom voortdurend aangemoedig het en met haar positiewe terugvoer oor sy opstelle ’n sekere selfvertroue vir skryf by hom gekweek het.

Sy liefde vir skryf was maar net altyd daar. Deon meen dat dit dalk te doen het met die feit dat hy in ’n boekehuis grootgeword het. “Lees was van kleins af ’n intense vreugde,” vertel hy aan Heidi de Goede. “Ek onthou ek was so agt of nege jaar oud toe ek, ná die lees van ’n (vergete) wonderlike boek, vir die eerste keer besef het: Ek wil ook eendag probeer om stories te maak, hoewel ek tog as seuntjie die gewone seuntjie-goed soos soldaat of speurder wou word.”

Deon beskou sy pa as die wonderlikste storieverteller wat hy ken, en sy ma as die beste resensent van sy pa se stories – sy het van almal gehou. Wanneer die gesin vakansietye Kaap toe gery het, het sy pa vertel die lewe is soos ’n reis Kaap toe: jy moet eers die dor vlaktes van die Karoo oorsteek voordat jy die oase van die Kaap kan bereik. In die grootmens Deon se lewe beteken dit die lewe vra opofferings as jy iets wil bereik.

“Albei my ouers was lief vir boeke, maar my liefde vir lees kom beslis van my ma af. Sy het baie gepraat oor wat sy gelees het en die liefde vir lees by die kinders gekweek. My pa was weer ’n natuurlike storieverteller wat bloot die verloop van sy dag of ’n goeie grap in ’n verhalende belewenis kon omskep. Hy het nooit die moeite ontsien om ons twee, drie keer per week biblioteek toe te neem nie.

“My pa was hierdie natúúrlike storieverteller. Hy kom ook uit ’n geslag van storievertellers. Dit was die era voor televisie. Sosialisering en vermaak het plaasgevind om ’n tafel of ’n vuur waar stories vertel is.

“My pa sou byvoorbeeld elke aand by die huis kom en sy dag as ’n stórie vir ons vertel. Op so ’n boeiende manier. En stories uit sý jeug uit.

“Die man met die rooi mus ... as ons nou iewers heen ry, dan sal my pa sit en stories opmaak oor die man met die rooi mus. En dan sou hy kindertjies gehad het wat almal rooi mussies gedra het,” vertel hy aan De Goede.

In Rooi Rose vertel Deon aan Ilse Salzwedel: “My ma was versot op boeke – sy het veral graag Engels gelees. Ek en my twee broers is aangemoedig om te lees en sy het ons elke week biblioteek toe geneem vir nuwe boeke. Ek het reeds van jongs af Engels ook gelees.”

Deon se latere sukses as spanningsverhaalskrywer kan teruggevoer word na sy verslaafdheid as kind aan ’n skrywer soos Ed McBain. “Ek het op 14 die eerste keer met McBain kennis gemaak en daarna alles gekoop wat uit sy pen verskyn. Hy is volgens my die beste misdaadromanskrywer ooit en dit het my die grootste thrill gegee toe foto’s van my en hom pas langs mekaar in ’n Nederlandse katalogus verskyn het.”

Die naaste wat Deon aan kultuur in Klerksdorp destyds gekom het, was die Voortrekkerfees. “Daar was maar min wat musiek en drama betref. Die hoogtepunt van die jaar was die landbouskou. Soos ander dorpe geskei word deur die regte en verkeerde kant van die spoorlyn, het Klerksdorpers van die regte of die verkeerde kant van die spruit gekom. Songloed, die voorstad waar ek gewoon het, was aan die verkeerde kant. Dit was positief en negatief: Ek het skoolgegaan saam met kinders uit gegoede huise én saam met bitter arm kinders. Ek het mense ontmoet wat ek andersins nooit sou leer ken het nie.

“Ons het aan die rand van die dorp gebly. Ons het dus ’n groot deel van die tyd in die veld deurgebring. Ons het in die bloekombosse duiwe gejag, kaal geswem in die spruit en kleilat gegooi. Ek dink nie daar is iets verkeerd met jag nie, maar my kleintyd-ervaring het nie van my ’n jagter gemaak nie,” vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt.

Verdere studie en werk

Na skool is Deon na die lugmag vir sy militêre diensplig. Hy gaan na die PU vir CHO en volg ’n BA-kursus met Engels en geskiedenis as hoofvakke met die doel om hom as onderwyser te bekwaam.

Na ’n jaar van klasgee aan minderbevoorregte matrieks as deel van ’n uitreikprogram om swart leerlinge met hulle studies te help, besef hy onderwys is nie vir hom bedoel nie. Gelukkig ontdek hy toe die wêreld van die joernalistiek.

In 1980 begin hy as joernalis by Die Volksblad in Bloemfontein werk. Hy het ook ’n tyd lank in Kroonstad deurgebring, waar hy bydraes uit die kontrei vir ’n bylae tot Die Volksblad gelewer het. “Die meeste van my berigte het ek van speurders en uit die polisiekantore gekry. Ek onthou hoe ek elke oggend al die sentrales in die streek gebel het om uit te vind of daar nuwe stories opgeduik het. Ek sal nooit die polisiehoof, majoor Koos Calitz, vergeet nie. Ek en hy het daagliks polisiestories uitgeruil. Ons het later uitsonderlike pêlle geword.”

In 1983 volg hy sy joernalistieke mentor, Tom Ferreira, na die Universiteit van die Vrystaat se Skakelburo. Daar behaal hy sy honneursgraad in geskiedenis en handel driekwart van die vakke vir sy BIur-graad af. In 1989 verlaat hy die Vrystaat en sluit hom as reklamekopieskrywer by Sanlam in Kaapstad aan.

In 1991 word hy aangestel as bestuurder van interne kommunikasie en skeppende direkteur van Sanlam se reklame-afdeling. Deon is ook onder meer raadslid, president en later senator van die Suider-Afrikaanse Vereniging van Bedryfsredakteurs (SAVBR) en hoofbeoordelaar van SAVBR en UniTech se publikasiewedstryde.

Met die koms van die internet is hy deel van Sanlam se eerste treë in die kuberruim en ontvang hy en sy span verskeie internettoekennings, waaronder Business Day en London Financial Times se pryse. Hy behartig ook ’n tegnologierubriek vir die tydskrif Insig.

Hy bring sy eie maatskappy op die been wat spesialiseer in die skep en bestuur van virtuele gemeenskappe op die internet. Behalwe skrywer, was hy destyds bestuurder van spesiale projekte van BMW se motorfietsafdeling.

Terwyl hy op universiteit was, het Deon soetsappige gedigte in Engels geskryf. Dit was eers in die negentigerjare dat hy ernstig begin skryf het. In 1992 stuur hy ’n kortverhaal aan Huisgenoot, wat dit publiseer. Hy is so aangevuur dat hy onmiddellik nog een aan hulle stuur, wat afgekeur word. Dertien kortverhale verskyn later in Sarie en Huisgenoot; dit word later gebundel en in 1997 deur Van der Walt onder die titel Bottervisse in die jêm uitgegee.

In 1992 begin Deon ook werk aan sy eerste roman, met die titel Ikarus. Die uitgewers glo egter nie dat eenwoordtitels in Afrikaans sal werk nie en dit word gepubliseer onder die titel Wie met vuur speel. Deon voel oor die boek “soos ’n mens oor ’n broer in die tronk voel – jy is lief vir hom, maar jy praat nie eintlik oor hom nie”. Die boek is, ten spyte van Deon se eie mening daaroor, in 2007 heruitgegee.

Corli van der Merwe skryf in Volksblad (26 Maart 2008) dat nadat sy die tweede uitgawe gelees het, sy duidelik kon sien dat Deon in sy latere skryfwerk baie beter gevaar het.

Wie met vuur speel vertel die storie van die pragtige en intelligente Rachel Bergh wat ’n boekwinkel in Langstraat besit. Nadat sy die sjarmante Dirk Buchner by ’n boekeveiling ontmoet, raak sy dolverlief op hom. Haar ontnugtering is egter groot, en wanneer sy om hulp soek, ontmoet sy die “geheimsinnige Ivan Malan, ’n man wat om ’n goeie rede nie oor sy verlede praat nie,” skryf Gunther Pakendorf (Die Burger, 22 Maart 1995).

“Nou begin ’n soektog wat nie net van die Kaap na Johannesburg en terug verskuif nie, maar ook sielkundige aanvoeling en speurvernuf uit die boonste rakke verg. Dit ontwikkel in ’n konflik tussen die twee antagoniste, broers in hul stryd teen die wêreld, teen hulself. En nou, deur ’n eienaardige verloop van gebeure, in stryd met mekaar. Ambassadeurs van goed en kwaad.

Wie met vuur speel bevat al die elemente van ’n goeie spanningsverhaal: mooi vroue, sterk manne, blink motors, ’n titseltjie romanse met ’n bietjie seks daarby, ’n stewige dosis aksie met ’n knippie bloedige geweld, en ’n slim intrige wat nét nie te ingewikkeld is om jou konsentrasie te versteur nie. Daar is ook inligting oor sielkundige oorlogvoering, wapentegnologie, afpersing en bedrog, want ons het hier met opgeleide teenstanders te make.

“Maar dit is nie net die wat nie, dit is veral ook die hoe. Deon Meyer het sy huiswerk gedoen, en daarin geslaag het om ’n eersterangse aksieverhaal te skryf wat alle elemente van dié genre op oortuigende manier met mekaar verbind. Dit is nie ’n geringe prestasie nie, veral aangesien dit ’n debuutroman is. Die lakmoestoets vir romans in hierdie genre is dat die leser dit nie kan neersit as jy eers begin lees het nie. Nouja, ék kon dit nie neersit nie, en ek wil vir die skrywer sê: Doe zo voort!” prys Pakendorf vir Meyer.

Wie met vuur speel plaas Deon op die toneel van die Afrikaanse letterkunde in ’n genre wat nog nie behoorlik ontgin is nie, naamlik die spanningsverhaal.

In 2023 kondig kykNET aan dat Plan B, ’n televisiereeks wat op Wie met vuur speel gebaseer is, verfilm is. Die eerste episode van vyf is in Maart 2024 op kykNET uitgesaai. Tertius Kapp was verantwoordelik vir die draaiboek en Jozua Malherbe die regisseur.

Van die spelers is Amalia Uys (Ragel Bergh), Tim Theron (Ivan Malan), Arnold Vosloo (Paul Schmidt) en Armand Aucamp as Joshua Lansky.

Dit is egter met Feniks (1996), sy tweede boek, dat Deon sy merk gemaak het as een van die beste skrywers van spanningsverhale in Afrikaans. Op LitNet vertel Chris van der Merwe so ’n bietjie meer oor die storie van Feniks: “Die hoofkarakter in Feniks is kaptein Mat Joubert van Bellville-Suid se Moord- en Roofeenheid. Hy het die regte naam gekry, want Mat Joubert is afgemat. Sy vrou is oorlede (die leser weet nie presies hoe sy dood is nie, maar ’n mens kom agter dat dit ’n verskriklik traumatiese gebeurtenis moes gewees het), hy het belangstelling in sy werk verloor, en hy is oorgewig en onfiks en lewensmoeg.

“Op hierdie laagtepunt in sy lewe word ’n nuwe hoof deur regstellende aksie bo hom aangestel, kolonel Bart de Wit, en hy waarsku vir Mat om hom reg te ruk. Hy gee aan Mat twee uiters moeilike sake om op te los. In die eerste plek is daar ’n reeks bankrowe, almal op dieselfde bankgroep, met die skuldige wat telkens in ’n ander vermomming verskyn; en in die tweede plek die moorde deur ’n geheimsinnige reeksmoordenaar wat met ’n antieke Mauser die een slagoffer na die ander neervel.

“En so ontwikkel ’n konflik wat Mat op verskeie fronte moet veg – ’n konflik teen sy hoof, wat vir hom ’n bedreiging is; ’n konflik met die misdadiger of misdadigers wat vir die bankrowe en die Mauser-moorde verantwoordelik is; maar bowenal ’n konflik met homself om homself te rehabiliteer – om die traumas van die verlede te verwerk, om sy lewenslus te herwin, en om ’n wenner in plaas van ’n verloorder te word.

“Hierdie persoonlike herstel is die eintlike tema van die roman. Dit titel Feniks suggereer dit al – Mat Joubert worstel om te wees soos die feniks, die mitologiese voël wat uit die as herrys. Sy stryd teen die misdadigers vorm ’n simboliese parallel met sy eie stryd om genesing.”

Ander karakters wat ’n rol speel in Joubert se herstelstryd is Bennie Griessel, wie se liefde vir drank sy huwelikslewe verwoes. Ook die hoof De Wit se persoonlikheidsontwikkeling word onder die loep geneem.

“Die skrywer het in ’n radio-onderhoud vertel hoe hy met die polisie saamgewerk het terwyl hy besig was om hierdie roman te skryf. Sodoende het hy baie oor die werk van die polisie geleer, en het hy ’n roman geskryf wat nie ’n karikatuur van die polisiemag en van hul werk maak nie. Ons het in die Afrikaanse literatuur baie soorte uitbeeldings van die polisiemag gehad – in die sewentiger- en tagtigerjare meestal ’n negatiewe uitbeelding. Miskien is dit ’n teken van die volwassenheid wat ons nou bereik het dat polisiemanne nie meer verheerlik of afgekraak hoef te word nie.”

Van der Merwe beskryf Feniks as ’n storie wat baie lekker lees deur ’n skrywer wat baie goed daarin geslaag het om sy leser vasgenael te hou van die eerste tot die laaste bladsy. “Met meesterlike vakmanskap wissel die skrywer die verskillende spanningsdrade af, breek die verhaal telkens op ’n spanningshoogtepunt af, stel dit uit om die inligting te gee wat die leser verlang, lok jou uit, mislei en verras jou voortdurend. Uiteindelik bied hy ’n ontknoping wat miskien nie almal sal bevredig nie, maar sekerlik almal sal verras. Saam met die volgehoue spanning is daar die humor wat die plesier van die leser verhoog. Feniks is 288 bladsye van louter genot. As daar nie ’n draaiboekskrywer en ander kundiges is wat hierdie boek omwerk tot ’n film nie, dan is iemand êrens baie dom.”

Orion (2000), Deon se volgende spanningsroman, bied dieselfde leesgenot as Feniks. Fanie Olivier skryf in sy resensie in Beeld van 25 September 2000 dat dit ’n heerlike storie is wat goed vertel word, met interessante karakters, asook ’n tikkie sentiment.

“Zatopek van Heerden, ’n verslonste wegkruiper van sy verlede as ’n topkriminoloog en polisie-ondersoekbeampte, word genader om ’n testament op te spoor wat soek geraak het tydens ’n gruwelike moord in voorstedelike Kaapstad. Daarvoor het hy sewe dae, en die formele organisasie van die roman is dan ook in een stel hoofstukke die aftel van hierdie opdragtyd.

“In alternatiewe hoofstukke (ook in ’n ander lettertipe geset) skryf Zatopek sy eie verhaal waarin hy probeer vertel hoekom hy geword het wat hy nou is: ’n slegte mens. Die onderliggende tema in sy lewe is een van afdraaipaaie, waarvan die verhouding met Nagel en die liefdesverhouding met Nonnie die twee keuses is wat sy lewe tot op ’n punt van verwoesting sou bring. Daarna word hy meedoënloos sinies: ‘Die regte ding om te doen is om te oorleef. Om seker te maak niemand fok met jou nie.’

“Omdat die twee wêrelde in die psige van Van Heerden verstrengel is, bly die nuuskierigheid van die leser geprikkel. [...] Meyer demonstreer, soos in Feniks, ook in Orion die wins van sy agtergrond as koerantman. Kort sinne, goed-georkestreerde paragrawe, bedagtheid oor die effek van te veel bywoorde en byvoeglike naamwoorde, wat die tempo van die roman aansienlik verhoog. Verder skryf hy ’n keurige Afrikaans, sodat afwykings en ‘slordighede’ funksioneel is.

“Een van die boeiendste dinge omtrent Orion is die onmiskenbare onmiddellikheid wat dit het, beide geografies en in terme van die gebeure. Al die herkenbare dinge verleen ’n bekoring aan die roman, waardeur die leser se betrokkenheid verseker word. [...] Orion bewys weer eens dat Afrikaans geskik is om alles mee te doen, en dat jy jou nie hoef te verlaat op allerlei foefies om ’n ordentlike storie ordentlik te vertel nie.”

As deel van ’n ATKV-kursus in draaiboekskryfwerk wen Deon die kompetisie. Die SAUK sou die regte koop vir die draaiboek, maar dit val deur die mat. Hy help skryf aan die draaiboek vir die televisiereeks van Orion, maar vind dit baie moeilik. “Kreatiewe keuses moet vir televisie gedoen word, wat soms die essensie van ’n karakter verander. Ek dink nie ek gaan meer draaiboeke lees nie.”

Hierdie televisiereeks, met Neil Sandilands as Zatopek en Erica Wessels as Hoop Beneke in die hoofrolle en Gerrit Schoonhoven as regisseur, word in 2006 op kykNET en M-Net gebeeldsend en is ’n baie groot sukses. Vir die reeks is Deon met ’n ATKV-Veertjie bekroon in die narratiewe genre vir die draaiboek van die reeks en word Schoonhoven aangewys as die beste regisseur en die reeks as die beste Afrikaanse dramareeks.

Wat Orion vir Elmari Rautenbach (Volksblad, 30 Oktober 2000) anders maak, is dat die “suiwere speurverhaal deeglik gemotiveer, soepel geskryf, ongelooflik spannend, kompleks maar altyd geloofbaar is. Voeg hierby ’n baie menslike hoofkarakter, wat in ’n tweede, parallelle storielyn sy persoonlike verhaal ontboesem, en jy sit met ’n boek wat jou as ’t ware heel insluk.

“Veral die persoonlike aspek, die grootword, seksuele ontwaking, soeke na beroepsidentiteit, gepaardgaande selftevredenheid en uiteindelike val van ’n doodgewone Afrikaanse man gee die speurstorie wyer dimensie. Zatopek bly nie net polisieman nie, maar word ’n volronde karakter, weliswaar met foute – beduiweld, koppig, maar skrynend alleen, wat sy kreatiwiteit en soeke na warmte uitstort in ’n oorgawe aan kosmaak (elke resep wil ’n mens self probeer) en goeie musiek. [...]

“Ek het Orion het toegemaak met ’n gevoel van intense bevrediging,” eindig Rautenbach. “Moenie weer kom sê daar is nie speurromans wat vergelyk met die bestes uit Europa of Amerika nie. Daar is. Boonop is hierdie een van die mooiste boeke wat ek nog in my hand gehou het. Komplimente aan die uitgewers.”

Deon se derde spanningsroman, Proteus, word in 2002 uitgegee en in Beeld van 9 Desember 2002 skryf Dirk Jordaan dat Deon hom met hierdie roman gevestig het as die “voorste eksponent van die spanningsroman-riller” in Suid-Afrika. In Proteus ontmoet die leser weer twee van die karakters uit Orion: Zatopek van Heerden en Thobela “Tiny” Mpayipheli. In Proteus verskuif die hooffokus egter na Thobela.

Jordaan gaan voort: “Tobela beland op ’n pad sonder omdraaikans wanneer ’n ou struggle-vriend se dogter, op haar pa se aanbeveling, hom om hulp nader. Tobela kan weens ‘ou skuld’ nie weier nie, al bedreig sy nie-amptelike sending sy geluk saam met sy nuwe kitsgesin.

“Hy moet ’n rekenaarhardeskyf in Lusaka gaan aflewer om sy vriend se lewe te red, maar wanneer ’n spesiale Suid-Afrikaanse spioenasie-agentskap op sy spoor beland en sy roetes daarheen begin toestop, moet hy plan maak. Die gevolg is ’n rolprentagtige jaagtog wanneer Tobela ’n motorfiets steel en die pad noorde toe aanpak teen ’n oormag spesialiseenhede, die polisie en selfs helikopters. Die sentrale karakter se eertydse ondervinding as sluipmoordenaar en spioen maak van hom ’n onverwags waardige teenstander vir dié oormag. [...]

“Meyer benut in der waarheid talle spanningskeppende filmiese tegnieke om die verhaaldele aan mekaar te bind. Daar is heen en weer flitse tussen die verskillende karakteromgewings (waarvan hy die insetsels se lengte ook afwissel ten einde die spanning te beheer); koerantberigte; en terugflitse wat verskaf word deur transkripsies van onderhoude deur die regering se agente gevoer. Laasgenoemde word tussenin geplaas om stelselmatig al hoe meer lig op die intrige te werp. Want intrigerend is dit gewis. Dit gaan hier oor die nuwe Suid-Afrikaanse intelligensiebestel, wat maar steeds ’n grys onderwêreld is.

“Die verhaal snel, letterlik, voort met die hoofkarakters op parallelle paaie tot sy einde in Botswana en die uiteindelike ontknoping. Tot sy krediet bied die skrywer ’n geloofwaardige einde aan en nie ’n klimaktiese botsing wat die leser sou vervreem nie. Meyer het ’n gespierde skryfstyl wat beelde en besonderhede betref. Op plekke is dit selfs macho, met fyn besonderhede oor wapens en motorfietse – laasgenoemde ’n groot liefde by die skrywer.

“Die enigste swak plekke in Proteus se mondering is die stereotipering van die groep mense wat in die geheime agentskap se opskamer werk. En, aansluitend daarby, die onnodige nabootsing van ’n Duitser se swak Engelse aksent, terwyl al die ander karakters se gesprekke in Afrikaans (ongeag hul herkoms) weergegee word. Dit was sekerlik ook nie noodsaaklik om al die rekenaarterme in Afrikaans te verskaf nie: niemand praat tog van ‘rugsteun maak’ (backups) nie. Maar dit is klein klippies op ’n opwindende pad waarop Meyer die leser saamneem. Proteus is nie net ’n hoogtepunt vir hom nie, maar waarskynlik die beste (ont)spanningsverhaal nóg in Afrikaans.”

André Vos (Rapport, 3 November 2002) beskryf Thobela as volg: “Met die veggees van ’n filistyn en die ratsheid van ’n springbok is Mpayipheli nietemin ’n onwillige held, aangesien hy tot inkeer gekom het wat betref sy gewelddadige verlede.

“Die politieke agtergrond waarteen die verhaal hom afspeel, is ’n knap verwewing van die hedendaagse en eertydse politieke toneel, plaaslik en oorsee, wat die storielyn boeiend en relevant hou. Hoewel die storielyn ’n goeie skoot geskiedenis uit die dae van die Koue Oorlog van die jare tagtig bevat, is dit ook in voeling met die mees onlangse politieke verwikkelinge op die wêreldtoneel, soos die bedreiging deur Moslem-ekstremiste. Dit doen Meyer sonder om enigsins in die proses kant te kies.

“Meyer het duidelik geput uit sy ervaring as joernalis. Sy loopbaan het destyds by Die Volksblad in Bloemfontein begin, hoewel hy deesdae onder meer internetkonsultant is. Die karakterisering is lewensgetrou.

“Hoewel die leser se simpatie sonder twyfel sal lê by Mpayipheli, wat geensins as ’n vlekkelose held voorgestel word nie, word antagoniste soos Jenina Mentz van die nuutgeskepte presidensiële intelligensie-eenheid en kaptein Tiger Mazibuko, die taai soldaat, nie so omskryf of gestereotipeer dat ’n mens afsydig voel teenoor hulle nie. Veral Mentz en Mazibuko se onderskeie agtergronde en lewensinvloede word genoegsaam uitgepluis in die verloop van die verhaal dat die leser ’n mate van empatie ontwikkel vir elk se persoonlike agenda.”

Ook Deon se volgende roman, Infanta, wat in 2005 gepubliseer is, is ’n wegholsukses. Dit het Madeleine van Biljon (Beeld, 22 November 2004) binne die eerste paar minute vasgenael gehad “soos ’n vlieg in ’n spinnerak in die spannende wêreld van Deon Meyer wat met elke nuwe boek ’n trappie hoër klim, al hoe meer meester van sy vak en ongetwyfeld tans die Afrikaanse eweknie van die sogenaamde grotes in die genre soos Ian Rankin, Henning Mankell of Michael Connelly.

“Wat Meyer so aanvaarbaar maak vir ’n Afrikaanse leser is een van sy belangrikste hoofkarakters, die Zoeloe, Tobela. Meyer het in ’n onderhoud vertel dat hy hard gewerk het om die kop van ’n swart man te verstaan totdat hy besef het hy’s ’n man, soos alle ander mans, trouens soos hyself. Tobela is ’n besondere skepping.

“Wat Meyer ewe aanvaarbaar maak (vir een soos hierdie resensent) is sy onberispelike navorsing. As hy die leser vertel dis hoe ’n sekswerker dink en optree, kan jy maar weet hy het met sekswerkers gepraat. Wanneer Tobela iemand doodsteek met die kortlemassegaai van die impi’s, weet Meyer presies hoe daardie wond gaan lyk en wat die staatspatoloog se opsomming gaan wees.

“Maar in Infanta gaan dit om meer as nougesette navorsing, dit gaan oor persepsies van reg en geregtigheid. Tobela, diep ongelukkig oor Pakamile se dood en die skurke wat ontsnap het, koop weer ’n assegaai ...

“Inmiddels het ons nog die verhaal van die foonsnol Christine en haar verhouding met Carlos Sangrenegro, ’n dwelmhandelaar en baie besitlik. Hy sien haar dogtertjie, Sonia, en ’n vreeslike vrees pak haar beet – sy ken mans en die uitdrukking as hulle na iets begeerliks kyk. Dan tree sy amper roekeloos op met ongewone en bittere gevolge.

“Die ontplooiing van die verhaal gebeur nie dramaties vinnig nie, maar op ’n volgehoue pas wat volgehoue leesaandag afdwing. (Meyer skryf ek-kon-dit-nie-neersit-nie boeke.) Die spanning is egter hoog en dit gaan bepaald nie net oor wie volgende gaan sterf of hoe vinnig die polisie vorder nie.

“Bennie Griessel se hunkering na ’n herstelde verhouding met sy vrou en twee kinders word met deernis en insig beskryf. Dat die boek suiwer leesplesier is vanuit die verhaalstandpunt is nie te betwyfel nie.”

Vir Philip John (Rapport, 16 Januarie 2005) wys Meyer in Infanta dat hy hom ernstiger met sy medium bemoei as voorheen. “Veel meer aandag word bestee aan die uitdieping van die psigiese kante van karakters, veral dié van Bennie Griessel en die prostituut Christine. Dit is ook asof daar meer aandag geskenk word aan die ‘realistiese’ inkleding van die agtergrond waarteen die gebeure hulle afspeel, onder meer deurdat kommentaar gelewer word op die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing.

“Een nadeel van hierdie verhoogde aandag aan die teks as sodanig is dat dit die pas van die intrige vertraag, en Infanta lees effens moeisamer as Meyer se vorige romans, veral in die middelste gedeelte. Lesers sal waarskynlik verskillend oordeel oor die relatiewe meriete van die lewendige skop-skiet-en-donner-inslag van ’n roman soos Orion en die ‘harder’, meer werklikheidsgetroue realisme van Infanta.

“Wanneer die pas nader aan die einde van die roman weer versnel, is die ‘ou’ Meyer egter terug en kan ’n mens die boek werklik nie neersit totdat die laaste, ontstellende skoot geval het nie.”

In 2007 verskyn die Engelse vertaling van Infanta onder die titel Devil’s Peak. In 2023 word ’n televisiereeks ook onder die titel Devil’s Peak op M-Net uitgesaai met Hilton Pelser in die rol van Bennie Griessel.

Vir die televisiereeks moes daar noodwendig veranderinge aangebring word, omdat die boek meer as 15 jaar vantevore geskryf is en die wêreld intussen baie verander het, verduidelik Deon aan Christa Steyn-Bezuidenhout op Maroela Media: “Dit wat relevant was in terme van Infanta/Devil’s Peak, is nie vandag meer relevant nie. Om die storie dus net so oor te vertel, sou nie sinvol gewees het nie.”

Die Britse draaiboekskrywer en vervaardigers van Devil’s Peak het besluit om Bennie se karakter veel jonger te maak: “Hulle hoop dat hierdie die eerste seisoen van ’n klomp Bennie-boeke is wat verfilm gaan word. So hulle wil seker maak dat hulle met ’n akteur begin werk wat op ’n ouderdom is sodat hy oor 10 jaar nog nie te oud is om Bennie te speel nie.”

Deon Meyer het oor die afgelope dekade sy stempel deeglik op die spanningsverhaal in Afrikaans afgedruk, meen Ronel Nel (Beeld, 22 November 2007). In Onsigbaar (2007), die eerste keer dat die protagonis se stem in die eerste stem gelees word, brei Meyer sy oeuvre “ontsagwekkend” uit.

“Lemmer (dis eintlik sy van, maar almal spreek hom so aan – sy voornaam is Martin) is ’n anti-held. Hy was voorheen in die tronk en werk nou by Body Armour as ’n persoonlike lyfwag. [...] Lemmer werk volgens ’n paar eie wette. Soos Wet 1: Moenie betrokke raak nie. Wet 2: Moenie vertrou nie. En nog ’n paar wette wat hulself ontwerp soos hy aangaan in sy onderhandelinge met sy nuwe kliënt: die mooi, ryk Emma le Roux. Hy gaan delf sommer dadelik vir nog ’n wet: Moenie klein vroue vertrou nie. Maar voordat jy kan sê ‘oorhaal en skiet!’ is hy betrokke by die einste Emma se dilemmas. [...]

“Emma vertrek Laeveld toe op die dag na Kersfees in haar soektog na haar broer. In sy hoedanigheid as haar gehuurde lyfwag moet Lemmer haar noodwendig vergesel. En soos hy saam met haar reis, begin dinge hom pla. [...] En skielik besef hy. Daar ís nog iets wat hy kan bydra. Sy ou instinkte is nie dood nie, net diep begrawe. Dit is dán, soos die spreekwoord lui, dat die poppe begin dans.

Onsigbaar – die titel dui duidelik op Lemmer se selfbelewenis van sy posisie in die samelewing – word uiters sigbaar kort na die aanvang van die openingsin.

“Lemmer is ’n volronde, brawe karakter wat soms kru en met ’n goeie dosis misantropie kan optree – maar ook een met noodsaaklike menslikheid, broosheid en foute. En dit is juis dié mengsel wat hom geliefd maak. [...]

“Meyer het deur die jare sy potloodpunt al skerper gevyl, en in Onsigbaar val dit veral op hoe hy deesdae soomloos en oënskynlik sonder inspanning ’n verweefde, ‘layer-ed’ verhaal kan neerpen sonder dat dit die leser verwilderd laat.

“Daardie gemak kom slegs met jare se inskerping en verfyning van sy kuns: skryf. Meyer kry dit reg om kwessies wat homself waarskynlik na aan die hart lê, veral ons natuurerfenis, só te deurvleg dat dit nie opval nie, maar deel word van die tapisserie van die boek. So gesê, sou die leser graag ’n dieper ontginning van die aasvoël-tema wou beleef. [...]

“Die einde in Onsigbaar jaag wel effe snel op die leser af. Dit is uiteraard kompleks, maar word met tye onvergenoeglik vereenvoudig vir die leser en dit maak die ontplooiing dalk te maklik. Volgens hierdie leser, egter, Meyer se beste boek tot dusver.”

Met Deon se volgende boek, 13 uur, wat in 2008 verskyn het, keer hy terug na die speurder Bennie Griessel wat al in Feniks sy verskyning gemaak het, en later ook in Infanta.

Gert van der Westhuizen (Beeld, 25 November 2008) skryf dat Bennie Griessel se ervaring in 13 uur ingespan word. Hier is hy ’n mentor vir jong speurders en moet hy drie van sy studente, Vusi Ndabeni, Fransman Dekker en Mbali Kaleni, bystaan met die ondersoek na twee sake wat op die oog af niks met mekaar te doen het nie: ’n moord op ’n jong Amerikaanse toeris en die dood van die baas van ’n platemaatskappy. Hulle moet teen die horlosie werk, aangesien die Amerikaanse toeris ’n vriendin het wat nou deur die skurke gejag word. Bo en behalwe hulle soektog na die boewe moet Griessel en sy “studente” ook nog die huidige Suid-Afrikaanse probleme in hul werkplek hanteer: politieke onderstrominge in die polisiediens en korrupsie.

Van der Westhuizen skryf verder: “Meyer se realistiese uitbeelding van die Suid-Afrikaanse samelewing, wat op deeglike navorsing gegrond is, is juis een van die redes waarom sy romans veral plaaslik so gewild is.”

Vir Mariana Malan (Die Burger) is Deon Meyer se insig in wat in die polisie aan die gang is, verstommend. “Elke karakter is volledig mens; die leser het simpatie, en veral empatie, met elkeen. Daar word nie weggeskram van bestaande rassisme en seksisme nie. Hulle praat ’n taal wat ons elke dag hoor, mondeling en in hul gedagtes. Humor bly nooit uit nie.”

Deon het in 2009 as homself in die bekende Afrikaanse sepie 7de Laan verskyn om 13 uur bekend te stel.

’n Bundel kortverhale van Deon word in 2009 uitgegee onder die titel Karoonag en ander verhale.

“Lesers met ’n sagte plekkie vir speurder-kaptein Bennie Griessel, een van die protagoniste van Infanta, sal bly wees om te hoor hy is nou 34 dae sonder alkohol, al voel hy nog ‘die dranklus wat ontluik soos ’n skaam minnares’ (39). Hy moet in ‘Die perfekte moord’ sin maak van ’n selfmoordbrief wat vreemde bekentenisse bevat en hy kry hond se gedagtes,” skryf Adèle Dempers (Volksblad, 15 Desember 2009).

Lemmer van Onsigbaar maak ook weer sy opwagting in die verhaal “Karoonag”. In die verhaal word vertel van ’n plaasaanval met ’n kinkel in die kabel. Vir Dempers is dit ’n “lekker skop-skiet-en-jaag-storie en die arme Lemmer skryf sy splinternuwe bakkie af omdat hy Lemmer se Eerste Wet oortree: Moenie betrokke raak nie ...”

Die bundel bevat ses kortverhale en ’n lang-kortverhaal, “Stiltetyd”, wat as vervolgverhaal in Die Burger verskyn het. Van die ander verhale, soos “Die Nostradamus-dokument” en “Die ontvoering van Leendert le Roux” het as vervolgverhale in Huisgenoot en Sarie verskyn.

“Die pas in die kortverhale is flink soos dit ’n spanningsverhaal betaam. Maar wat pla, is dat dit verby is nog voordat die storie behoorlik op dreef kom. Meyer is gelief vir sy goeie karakterisering, maar die kortverhaalgenre is net te kort hiervoor. Hoewel die meeste verhale nie nuut is nie, is Karoonag en ander verhale ’n lekker peuselboek in die afwesigheid van ’n Deon Meyer-roman in 2009” – aldus Dempers.

Wat baie interessant van die bundel is, is dat daar ná elke verhaal ’n nawoord is waar die skrywer verduidelik hoe die verhaal ontstaan het en wat baie van die lesers se vrae kan beantwoord.

Hy vertel byvoorbeeld oor “Die Skoen in Maria” dat dit een van die opdragte was terwyl hy sy meestersgraad in kreatiewe skryfwerk onder Marlene van Niekerk gedoen het. Hy vertel hoe sy hulle as studente gemotiveer en gestimuleer het en dra die verhaal aan haar op.

“Verslag oor ’n verdwyning” word weer opgedra aan Petra Muller, “wat een donker nag op Melkbosstrand my mistieke muse was”. En oor “Die ontvoering van Leendert le Roux” erken hy: “[M]et die insluiting van ‘Die Ontvoering’ ... in hierdie bundel het ek lank gedink oor ’n moontlike totale herskryf daarvan, want vandag staan die leemtes en foute daarin ongemaklik uit ... ek het eindelik besluit om dit nie te doen nie ...” Dit verg moed van ’n skrywer om homself só bloot te stel.

Wat veral weer vir Chris Barnard (Die Burger), ook ’n uitsonderlike beoefenaar van die kortverhaal, opval, is dat Meyer nooit verval in voor die hand ­liggende wendings nie. “Jy word ­kort-kort verras deur die soms aweregse kinkels van ’n ­vindingryke verbeelding. En jy kry heeltyd die gevoel: Hierdie verteller ken sy materiaal – van ­rekenaartegnologie en handwapens tot Italiaanse skoeiselontwerp en Maleise kookkuns.

“In ‘Stiltetyd’, die langste ­­ver­haal in die bundel, word ons voorgestel aan twee (vir my) nuwe ­karakters van wie ’n mens graag weer sal wil hoor: Supt John ­October, reeds naby aan aftrede, wat so graag vir oulaas nog ’n moordenaar wil vastrek, en sy dierbare vrou, Pearlie, wat ’n hond uit ’n bos uit kook in haar restourantjie met sy sabanang, ­kabobs, essies en rulle. Deon Meyer streef verby ­soetsappigheid, toeval, cliché en kunsmatige handgrepies. Elke ­verhaal loop snaarreguit na sy ­­­­on­afwendbare einde toe.”

Soos Deon belowe het toe hy in 2008 voltyds begin skryf het, verskyn daar jaarliks ’n nuwe werk van hom. In 2010 word sy “bielie” van ’n boek, Spoor, gepubliseer. En weer maak hy staat op ’n karakter uit een van sy vroeëre boeke: hierdie keer Lemmer – lyfwag van die rykes en ’n man met ’n verlede – wat aan die einde van Onsigbaar rus vir sy siel op Loxton in die Karoo gevind het. “Dit was nog altyd my plan om Lemmer weer in te span. Daar is net te veel karakter om dit nie te doen nie,” verduidelik Deon.

Spoor was ook betrokke by ’n eerste in die Afrikaanse letterkunde: ’n kort lokprent is van die boek gemaak en vooraf op die internet beskikbaar gestel om lesers se aptyt te wek. En soos ’n mens teen hierdie tyd van Meyer verwag, is dit ’n boek wat jy nie sommer kan neersit nie.

Hierdie keer raak Lemmer betrokke wanneer hy renosters wat vervoer word, moet oppas, en gou kom ’n mens agter dat daar meer agter die belangstelling van booswigte lê as die diere se kosbare horings.

“Partykeer is ’n mens gelukkig,” sê Deon oor die aktuele toevalligheid wat tussen sy gegewe met die renosters en die onlangse arrestasies van vooraanstaande horingstropers lê. “Ek bly op die hoogte van bewaringsnuus en was bewus van neigings, maar die ooreenstemming tussen die uitreiking van die boek en die inhegtenisnemings was ’n gelukskoot.”

In Spoor word spoorsny as ’n leitmotief gebruik. “Ek het van die begin af besluit dat spoorsny betrokke moes wees.” Hy het gesukkel om ’n plaaslike boek daaroor te kry, maar hou vol dat ons van die wêreld se beste spoorsnyers in Suid-Afrika het. “Ek het selfs ’n kursus in spoorsny gaan doen as deel van my navorsing.”

Dit is nie die eerste keer dat natuurbewaring ’n tema in sy romans is nie. “Ek voel sterk oor natuurbewaring, want ek het baie na aan die natuur geleef in my grootwordjare. Dit was deel van die redenasie om ’n plek in die Karoo (ook Loxton) te koop, sodat my kinders dit ook kon hê.”

Volgens Madri Victor het Spoor ’n ingewikkelde intrige, met baie feite, baie karakters en ’n magdom inligting om te verwerk. Sy skryf op LitNet: “Wat dadelik opval van Spoor, is die onkonvensionele struktuur: dit bestaan uit drie boeke wat losweg aan mekaar gekoppel is. Daar word van die leser verwag om die spoor wat regdeur loop, te volg. Die titel is nie om dowe neute nie. Deon verwag ook van die leser om spoorsnyer te raak, om die tekens te lees, deel van die jag te word. Daar is ’n magdom feite en inligting, daar is red herrings en misleidende afdraaie, en sommige lesers sal beslis beter kophou as ander. [...]

“Boek een vertel die verhaal van Milla Strachan, ’n gefrustreerde huisvrou van Durbanville wat uiteindelik genoeg moed bymekaar skraap om uit te loop op haar man wat haar gereeld verneuk en haar manipulerende, selfsugtige tienerseun. In Kaapstad trek sy in haar nuwe woonstel in, kry werk by die Presidensiële Intelligensie-agentskap, waar sy verslae moet skryf, en begin stadig haar lewe van voor af opbou. Want van haar ‘ou’ lewe het Milla genoeg gehad. Sy soek opwinding en ’n uitdaging, sy wil haar selfvertroue en haar vreesloosheid terugkry. Wanneer Milla by haar dansskool vir Lukas ontmoet, word haar nuwe lewe totaal op sy kop gekeer. Want sy ken vir Lukas, so soort van – sy moes ’n verslag oor hom skryf. Lukas word, soos die Moslem Supreme Committee, baie goed deur die PIA dopgehou. En sy sogenaamde betrokkenheid by die Moslem Supreme Committee se plan lyk al meer verdag.

“Indien jy, soos vele ander, ’n Lemmer-aanhanger is, sal Boek twee jou kos wees. Dáár sal jy nou eers begin lekker lees. Want Lemmer is terug en soos gewoonlik soek hy nie moeilikheid nie, maar volg dit hom nietemin. Lemmer word deur Diederik gevra om as back-up saam met Laurens te ry wanneer hy ’n renosterpaar by die Zimbabwiese grens gaan optel. En hier kom Vlooi by, spoorsnyer sonder weerga en ’n katjie wat jy beslis nie sonder handskoene wil aanpak nie. Dinge verloop nie heeltemal volgens plan nie en voor hy hom kom kry, oortree Lemmer alweer sy Eerste Wet. Want hy vat soos ’n bloedhond daai spoor ...

“In Boek drie is Mat Joubert weer in die prentjie. Hy het bedank uit die polisiediens en begin as senior konsultant, of gewoon gestel privaat speurder, by Jack Fischer werk. Vir sy eerste saak moet hy die raaiselagtige verdwyning van Danie Flint ondersoek. Maar die tyd vir ondersoek is min, want Tanja Flint se geld raak vinnig op en Jack Fisher is ’n man wat sy pond vleis eis.

“Of jy van die begin af onstuitbaar deur die inligting en verwysings spoorhou en of jy ’n paar keer moet terugblaai en naslaan, een ding bly seker: Deon neem jou weer eens op ’n jagtog wat jou teen die einde van die verhaal na meer sal laat vra. En dan wag jy ook, soos ’n verslaafde, saam met al die ander fans vir die volgende boek.”

Pieter Haasbroek (Die Burger) skryf: “Deon Meyer se gevoel vir plek en tydsverloop is trefseker – dit getuig van deeglike navorsing – die leser kan saamloop op die spoor van die ­Karoo tot by Kariba en terug. Met die Wêreldbekersokkertoernooi in die nuwe Kaapstadse stadion in die vooruitsig, gebeur soveel dinge ­gelyktydig dat dae en ure teen ’n asemrowende pas verbytol; die leser moet soms terugblaai om seker te maak van hoe iets begin het, en waarheen dit gaan.

“En dan voeg Meyer hierby soveel interessante gegewens oor die omstandighede waarin sy verhaal afspeel as wat hy nodig vind. [...] Onder die aanhangers van spanningsverhale tel fyn­proewers wat sal let op elke besonderheid wat Meyer beskryf. Hulle ken vuur­wapens en renosters se velsiektes. As iemand Meyer kan uitvang dat hy een brokkie verkeerde inligting in Spoor bied, sal ek graag daarvan wil hoor.

“Is daar enige leemtes in Spoor as spanningsverhaal? Miskien tog. Omdat Meyer sy verhaal in ­ver­skillende frag­mente verdeel het, het hy die spanningslyn verbreek. Dit is jammer, want dit maak van die boek ’n optelsom van ervarings en ondermyn die verhaal. Om die drie spoorsnyers ­Lemmer, Becker en Joubert saam na ’n ontknoping te volg, sou aan die leser moontlik ’n interessanter ­uitdaging gebied het. Dat Spoor nogtans lekker lees, is nie altemit nie. Hierdie boek kan jy net met moeite toemaak en neersit.”

Wat was Deon se inspirasie agter die verhaal?

“Ek moet bieg en sê ek glo nie in inspirasie nie – om ’n boek te skryf is feitlik uitsluitlik perspirasie. Die elemente van die storie het uit vele oorde gekom – die interessantheid van Durbanville (ek woon vir die eerste keer in 22 jaar weer in wat beskou kan word as ’n ‘Afrikaanse’ voorstad), die verstommende tegnologie van die Golden Arrow-busmaatskappy waarvan my broer Francois my vertel het, die slagting onder renosters, Mike Nicol se boek Payback ...”

Deon se volgende boek, 7 dae, het in November 2011 verskyn en is ook voorafgegaan deur ’n lokprent wat op die internet te sien was.

Weer is dit Bennie Griessel wat die leidrade moet opvolg en die moord van Hanneke Sloet, ’n prokureur, moet oplos, asook die persoon wat op polisiemanne jag maak, moet vang.

JB Roux (Beeld, 7 November 2011) se mening oor 7 dae is: “Maar al is geloofwaardigheid in ’n boek soos hierdie hóé belangrik, sal lesers met ’n avontuurlike streep dalk wens die skrywer het effens kop verloor.

“Griessel is ’n geskeide, middeljarige speurder en gerehabiliteerde alkoholis. Hy sukkel om met sy salaris deur te kom, rook, vloek (al probeer hy ophou) en voel, op sosiale gebied, ongemaklik buite sy werkomgewing. Hy is halfpad verlief op ’n vrou wat hy nie regtig verstaan nie en sy kinders gee hom hoofbrekens. Maar Griessel se gewóónheid; die feit dat niemand die bestaan van iemand soos hy, of honderde soos hy, durf ontken nie, sal sommige lesers teen die mure uitdryf. ’n Mens wonder of ’n bietjie meer oorspronklikheid ten opsigte van die hoofkarakter wel die verhaal se geloofwaardigheid sou bedreig. Griessel se amper-liefde (’n sangeres wat hy op die waterkar probeer hou) sou kon sorg vir ’n bietjie emosionele diepte, maar Griessel (of die skrywer self?) laat dié geleentheid deur sy vingers glip.

“Griessel se seun wil ’n tatoeëermerk kry en sy dogter is verlief op ’n rugby­speler wat reeds ’n tatoeëermerk het. Tieners is vindingryke wesens. Jy wonder dus: Is dit al waarmee dié twee vorendag kon kom om hul speurder-pa mee uit te daag? Lesers wil hê Griessel se persoonlike lewe moet ook betrek word, maar dié aspek van die roman is nie deurgebak nie.

“Die snelvuur-dialoog en Griessel se interessante en selfs eksentrieke kollegas verskaf gelukkig woema, veral wanneer dit voel asof die eindelose vergaderings tussen Griessel en die top brass en die getjommel oor die ekonomie en die politiek effens oorweldigend raak. Dié aspekte is meestal interessant, funksioneel en akkuraat, maar soms wens mens iemand wil op ’n piesangskil gly sodat daar iets gebéúr. Meyer toon met 7 dae begrip vir hoe uiteenlopende mense uit diverse kulture dink en funksioneer, maar die emosionele nuanses wat van ’n skrywer van sy kaliber verwag word, is maar yl.

“Om te sê Meyer wou net nog ’n goeie spanningsroman skryf, sal ’n klap in hierdie skrywer se gesig wees: Dis nie verregaande om grootsheid van genrewerk te verwag nie, veral nie met ’n skrywer van dié formaat nie. Maar hierdie roman is geen grootse boek nie. Op sy beste is 7 dae ’n roman van wisselende gehalte: Dis die moeite werd om te lees, maar selfs Meyer se getrouste aanhangers gaan dié een nie baie lank onthou nie.”

Joan Hambidge verskil egter van Roux: “Die boek se slim toespelings op Etienne Leroux se Sewe Dae by die Silbersteins, ’n karakter met die naam Henry van Eeden en ’n swenkswaai-plot deur die gebruik van SMS’e, e-pos en ’n ingeboude modem in ’n skootrekenaar, maak van hierdie boek binne die sub-genre van speur- en misdaadverhale ’n kragtoer.

“Roux merk onder meer op: ‘Die snelvuur-dialoog en Griessel se interessante en selfs eksentrieke kollegas verskaf gelukkig woema ... (en wat daarop volg).’ Dit is juis die verskillende storielyne en die aktualiteit van die verhaal soos die subtiele toespelings op onopgeloste moordsake, sluipmoorde (ook gehuurde moorde) wat die roman hoogs leesbaar maak. Boonop verras die skrywer die leser wanneer die moordenaar na vore kom.

“Die enorme navorsing (onder meer na geldwassery, rekenaartegnologie, moordwapens, forensiese ondersoeke, en dies meer) wat ‘vertaal’ word in ’n ónneersitbare misdaadroman, behoort lesers te oortuig waarom Meyer hier te lande én internasionaal opslae maak. (Die fyn leser sal die leidrade optel in ’n operaverwysing en die toespelings op Leroux.)

“Vir kenners van hierdie soort roman is dit duidelik dat die skrywer sy toneel goed ken. Gaan kyk onder meer na die endnote watter navorsing alles gedoen is! Bennie Griessel is back in town.”

“Sewe dae van hel waarvoor jy nie jou aandag kan laat verslap nie”, skryf Piet Steyn (Beeld, 6 November 2011), ook ’n misdaadskrywer, oor die nuwe Deon Meyer. “In die engste sin van die begrip kan Deon Meyer se nuutste boek, 7 Dae, sekerlik beskryf word as misdaadfiksie op sy beste, want daar is aan misdaad en speurders nie tekort nie.

“Daar is ook ’n goeie hoop spanning, afwagting en opwinding gekombineer met ’n vinnige pas by dié mengsel ingeroer om te kwalifiseer vir die genre van outydse riller. 7 Dae sit ’n mens moeilik neer as die skote eers begin klap en die speurders begin krap.

“In die bladteks word die inhoud van die boek hoeka beskryf as: ‘Sewe dae van hel’. Dis ’n storie wat stewig geanker is in die aktualiteit van ’n Suid-Afrika wat gebuk gaan onder die vloek van korrupsie, ingewikkelde saketransaksies en geweldsmisdaad. [...]

“Die boek wemel van interessante karakters wat vernuftig deur die skrywer aangewend word as spanningbrekers, en dit maak die lees ’n aangename ervaring. Die leser loop die ondersoekpad saam met die speurders en dit is wanneer Meyer op sy ondersoekende beste is. [...]

“Die verhaal speel af teen die agtergrond van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) en die komplekse onderwêreld in die skaduwee van Tafelberg. [...] Daar is tog iets wat my pla: In ’n omgewing soos Kaapstad, met sy indrukwekkende natuurskoon van berg en see en ’n weerpatroon wat deur die wispelturige ‘Kaapse dokter’ oorheers word, sou ek meer ruimtelike beskrywings in die boek wou sien. Hoe lyk die toneel? Waai die wind en het Van Hunks al sy pyp opgesteek? Dit is vrae wat soms deur my gedagtes geskiet het by die lees van 7 Dae. Ek besef dit is dalk net ’n persoonlike ding, en dit kan sekerlik nie afbreuk doen aan ’n boek wat ’n moet is vir enige krimi-liefhebber nie.

“Wees egter gewaarsku: Dit is nie ’n boek om te lees as ’n slaapmiddel net voor ligte-uit saans nie. Daarvoor is daar te veel dialoog deur ’n klomp verskillende karakters met onbekende name, vanne en byname wat die demografiese samestelling van Suid-Afrika (goed) weerspieël. Dit is ’n boek om met jou volle aandag te lees – nie dat dit moontlik is om ’n Deon Meyer te lees sónder om dit jou volle aandag te gee nie.”

Maar dit is die ondersteuners en lesers van Deon se boeke wat op die ou end die hardste praat: binne ’n week is 7 000 eksemplare van 7 dae by Exclusive Books in Tygervallei in die Wes-Kaap verkoop.

Pryse bly nie agterweë nie en die ATKV-Prosaprys word in 2001 aan Orion, in 2003 aan Proteus en in 2005 aan Infanta toegeken. Buitelandse erkenning volg met die toekenning van Le Grand Prix du Littérature Policière in 2003 aan Jusqu’au dernier (Franse vertaling van Feniks) en die Prix Mystère de la Critique aan Les soldats de l’aube (Orion in Frans) in 2004. In 2006 word die Duitse misdaadfiksieprys aan Proteus toegeken. Orion en Infanta haal ook die kortlys vir die M-Net-boekprys. Infanta was ook op die kortlys vir die Helgaard Steyn-prys in 2004. Die Martin Beck-toekenning (Den gyllene kofoten / The golden crowbar) van die Sweedse Akademie vir Misdaadskrywers is in 2010 aan Infanta toegeken en die Franse vertaling van Infanta (Le pic du diable) wen in 2010 die Leserstoekenning van CritiquesLibres.com vir die beste speur- of spanningsroman wat in Frankryk verskyn het. Onsigbaar besorg in 2008 aan Deon die ATKV-prys vir die Beste Spanningsroman, en die Duitse vertaling, Weisser Schatten, ontvang die Krimi Preis in 2009. Deon is deur Pansat (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad) vereer in die Taal, Geskrewe of Mondelingse Letterkundekategorie in die jaarlikse multitalige toekennings vir 2010.

13 uur het in 2011 die Barry-toekenning vir die beste spanningsroman ontvang. Deon was self by Boucheron in St Louis in Amerika om die prys in ontvangs te neem. Dit was die eerste prys wat hy in Amerika gewen het nadat hy al verskeie pryse in Europa ingepalm het. Die Barry-pryse word jaarliks by die Boucheron-fees deur Deadly Pleasures, Amerika se voorste tydskrif vir spanningslektuurlesers, toegeken, en ontvangs van ’n Barry-toekenning word deur rolspelers in die bedryf as ’n baie groot eer beskou.

Van sy mededingers om die prys vertel Deon aan Elmari Rautenbach: “Die Amerikaanse mark is waarskynlik die mededingendste ter wêreld, en die kortlys was vol mense wie se werk ek bewonder en respekteer.

“Boucheron is ook die grootste misdaadfiksiekongres in die wêreld. Die ruimhartigheid van veral skrywers oorrompel my elke keer en, dalk omdat alle skrywers in die genre weet hoe moeilik dit is om sukses te behaal, was die reaksie en gelukwensinge oorweldigend. Ek was erg bewoë, natuurlik omdat mens op só oomblik kwaai huis toe verlang.”

13 uur het ook die ATKV-prys vir die Beste Spanningsroman in 2009 gewen, asook die Boeke Prize Fanatics Choice Awards van Exclusive Books in 2011. Ook die M-Net-toekenning vir die mees filmiese roman is in 2009 deur 13 uur opgeraap. Dit was ook op die kortlys vir die CWA International Dagger Award in Brittanje in 2010, en op die kortlys vir die Macavity-toekenning vir die beste misdaadroman in Amerika in 2011. Die CWA International Dagger Award is die mees gevestigde literêre toekenning in Brittanje en word deur die Britse Crime Writers’ Association toegeken.

In 2003 ontvang Deon die PUK-Alumni-oorkonde en in 2007 die Kovsie-Alumni Cum Laude-toekenning vir sy besonderse prestasies op plaaslike, nasionale en internasionale vlak.

In 2013 is ’n spesiale prys vir die eerste keer by die Huisgenoot-Tempo-prysseremonie aan ’n persoon toegeken. Deon het dit ontvang vir uitnemendheid in Afrikaans en in 2015 het hy weer ’n Alumni-toekenning van die Noordwes-Universiteit ontvang op kuns- en kultuurgebied. In 2015 is Deon aangewys as die beskermheer van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ’n Woord-veldtog.

Feniks was die eerste van Deon se boeke waarop filmregte geneem is. Die bekende Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer Johann Potgieter het die draaiboek in 2008 gefinaliseer. Proteus se filmregte is deur ’n Suid-Afrikaanse maatskappy bekom. Hulle het beplan om die film in Suid-Afrika te skiet met plaaslike en Amerikaanse akteurs. 13 uur se filmregte is in Augustus 2009 toegeken aan ’n rolprentspan in Londen, Malcolm Kohll en Robert Fig.

Ook vertalings bly nie agterweë nie, soos reeds hier bo geblyk het, en Deon se boeke is al in Engels, Frans, Duits, Nederlands, Italiaans, Spaans, Tsjeggies, Bulgaars, Deens, Sweeds, Fins en Japannees vertaal. In 2003 maak Deon ’n deurbraak in Amerika deurdat die uitgewersmaatskappy Little Brown die regte van FeniksOrion en Proteus koop. Dit plaas Deon letterlik en figuurlik op dieselfde verhoog as wêreldbekende spanningsverhaalskrywers soos Michael Connelly, Ian Rankin en David Morrell. In Oktober 2004 neem hy saam met dié drie skrywers in Kanada aan ’n beraad vir misdaadskrywers deel as spreker. Ook in 2004 word die Engelse vertaling van Proteus, getitel The heart of the hunter, deur die Chicago Tribune aangewys as een van die tien beste spanningsromans in Amerika. Proteus en Onsigbaar is ook in Japannees vertaal.

Dit is ook die goeie verkope van sy boeke in die buiteland in ander tale wat hom finansieel in staat stel om van 2008 af heeltyds te begin skryf, wat goeie nuus is vir al sy aanhangers, want hy sê self: “Noudat ek heeltyds kan skryf, gaan ek mik na een boek per jaar.”

Uit vrees dat “ek deur my eie boeke verveel sal word”, skryf Deon hom in 2003 in vir ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk onder Marlene van Niekerk aan die Universiteit Stellenbosch. “Ek het nog altyd wonderlike redakteurs by uitgewershuise gehad, maar op ’n manier verval jy én hulle in ’n gemaksone. Ek het dus die kursus gedoen om gestimuleer, uitgedaag en verryk te word; ek het ’n klankbord behoef omdat ek geruime tyd reeds in ’n tegnologiese omgewing gewerk het waar ek nie juis kontak met ander skrywers het nie. Ek was nog altyd effe jaloers op mense wat in ’n meer akademiese omgewing opereer, en met die kursus is jy skielik in wisselwerking met vier skrikwekkende maar onbevange beoordelaars en die geniale Marlene ... ek bedoel, ek het tóé eers gehoor van iets soos narratologie ... die uitpluis van die vertelkuns.”

Deon deel graag sy ondervinding met ander skrywers en aspirantskrywers deur deel te neem aan slypskole soos die een oor die skryf van spanningsverhale wat in 2004 deur die ATKV aangebied is. In 2015 het hy aan die jaarlikse slypskool van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging sy skryfgeheime en ander anekdotes met die deelnemers gedeel.

Deon is ’n gereelde en baie gewilde deelnemer aan kunstefeeste se boekeprogramme en in 2006 deel hy die verhoog met Michael Connelly tydens die Volksblad Kunstefees in Bloemfontein.

Hy hou hom ook besig met die skryf van draaiboeke vir televisie en is so pas klaar met Transito, ’n nuwe spanningsreeks, waarvan die verfilming in Kaapstad begin het. Deon kon die skryf van draaiboeke toepas op die skryf van sy romans, want dit het veral gehelp met die geweldig vinnige aksietonele van hom, asook met sy dialoog.

Die konsep vir Transito het lank in sy kop gemaal, vertel Deon aan Jeanne Calitz (Volksblad, 14 Januarie 2008). “Ek het gewonder wat sal gebeur as die rowers én veiligheidsmense in die aanval omkom en ’n derde party op die toneel afkom. Hy swig natuurlik voor die versoeking van die geldtrommels en vat die pad daarmee.

“En dan is daar ’n klomp mense wat goed in die trommels het, belang het daarby, en eindelik is almal op die spoor van die geld.”

Dié opsomming gee ’n goeie idee van wat in dié reeks verwag kan word. Deon beskryf dit as “spannend maar nie swaar nie”. Hy sê ook kykers moenie dink dit gaan dieselfde verloop hê as verlede jaar se Orion-TV-reeks nie.

Transito is, anders as Orion, ’n spanningsreeks wat homself nie te ernstig opneem nie. Dit is ’n ligte spanningsreeks eerder as ’n wroegende verhaal. Ek het nodig gehad om dit meer lig as donker te skryf.”

In ’n onlangse onderhoud met van die akteurs in die reeks kon die spelers nie uitgepraat raak oor die wonderlike geleentheid om Deon se unieke, volronde karakters te vertolk nie. Dit het hom net soveel plesier gegee om die karakters te skep, om aan hulle soveel fasette te gee. Sy booswigte is byvoorbeeld nie nét sleg nie.

Die onverbiddelike Kruger (vertolk deur Michelle Burgers) is ’n goeie voorbeeld. “Sy is ’n ruwe diamant, eintlik die sout van die aarde,” sê Deon. “Maar sy is deur die lewe se meule. Sy het sterker anderkant uitgekom. Sy vat nie nonsens nie. Van niemand nie. Op ’n manier het Kruger iets edels in haar. Maar sy moet darem iemand kry om haar vuilwerk te doen – die karakter Priester.”

Priester is ’n psigopatiese huurmoordenaar. “Hy praat suiwer Afrikaans, is hoogdrawend, intelligent en welbelese. Dít is sy karakter se reddende eienskap.” Die interaksie tussen Kruger en Priester lewer interessante kykstof.

“Hy kan nie emosie voel nie, want hy is ’n psigopaat. Hy gebruik Kruger se emosie. Sy wil moor, maar sy kan nie; hy wil voel, maar hy kan nie.”

Deon sê sy uitgangspunt met die skep van ’n karakter is dat die meeste mense voete van klei het. “Die lekkerste van die reeks is dat almal, met die uitsondering van die polisieman, ’n klomp skelms is – maar hulle is meestal dierbare skelms. Die meeste van ons het al iets gedoen waaroor ons nie eintlik wil praat nie, en dit is waarby ek in die reeks wil uitkom.”

Deon erken dat daar ’n groot verskil is tussen die skryf van ’n boek en die skryf van ’n reeks vir televisie. Daar was so baie nuwe truuks wat hy moes leer. Die struktuur is waar die verskil inkom. Vir die televisie is die struktuur baie belangrik, aangesien jy só moet skryf dat die konflik tot ’n klimaks moet oploop voor elke onderbreking vir ’n advertensie. Dit is om te verseker dat jy nie die kyker sal verloor nie.

’n Ander verskil is in die manier waarop konflik oorgedra word. “In ’n boek kan ’n mens die interne konflik van die karakter verken, maar met ’n draaiboek is dit moeilik om so iets oor te dra,” verduidelik hy aan Calitz. “As jy vir televisie skryf, moet jy ook die begroting in gedagte hou. Dit is nie ekonomies om ’n klomp goed te laat opblaas nie. Dit is waarom Priester ’n wurgdraad eerder as ’n geweer gebruik om mense uit die weg te ruim. Dit is duur om mense dood te skiet,” sê Deon.

Voel dit soms vir hom vreemd om sy karakters, waaraan hy so mooi in sy kop geskaaf het, aan akteurs en hul interpretasies af te staan? “Met Orion het ek geleer jy moet eenvoudig ’n geloofsprong maak. Die akteurs van Orion het my só oorrompel met hul talent. Hulle is wat my betref almal geniaal. Dit is ongelooflik om te dink die karakters wat ek geskep het, dra nou hierdie mense se gesigte.”

Ook met Transito het hy die geloofsprong gemaak: “’n Mens kan die akteurs se talent vertrou en glo hulle sal die rolle met deernis vertolk.”

Wat ’n mens dikwels van Deon Meyer se karakters opval, is dat hulle selde nét goed of nét sleg is. En dikwels weet ’n mens glad nie waar om hulle te plaas nie. “Ek glo die mens het altyd die kapasiteit om goed of sleg te wees, en as daardie soort ambivalensie by die leser is, is dit vir my goed so.”

Hy wend ’n poging aan om sy fyn waarnemingsvermoë te verklaar: “Ek dink ’n mens is allereers ’n belangstellende in mense en met ’n bepaalde fassinasie in menswees voordat jy ’n skrywer is. Alle skrywers is tog maar voyeurs, en as ek kyk hoe gereeld die hoofkarakter in van my stories ook ’n voyeur is, raak ek eintlik bang!”

Wanneer hy skryf, glo Meyer daarin om nie in te veel besonderhede te beplan nie. “Mens moet jouself die vryheid gun om die storie in die skryf daarvan te laat verander.” Oor die deeglike navorsing, waaroor hy so sterk voel, sê hy: “In hierdie genre is dit belangrik om ten minste die skyn van werklikheid te handhaaf.”

Deon en sy vrou, Anita, se kookboek, Kom eet! Om die tafel met Anita en Deon Meyer, word in 2011 gepubliseer. Dié kookboek bevat gunstelingresepte afkomstig van hulle onderskeie families, asook van ander bronne.

“Die vet was egter in die vuur” nie lank na die publikasie van die boek nie toe Barbara Joubert, Sarie se kosredakteur, kapsie gemaak het teen sommige resepte in die boek waar nie erkenning aan haar gegee is nie. By twee van die resepte gee die Meyers wel erkenning aan haar.

Deon se kommentaar hierop was: “Ons spreek ons bewondering vir Joubert duidelik uit in die boek. Dit was altyd ons bedoeling om haar die nodige erkenning te gee. Dit was ’n fout dat ons nie by ál die resepte erkenning gegee het nie. Dit sal beslis in die volgende oplaag reggestel word.”

Prokureurs het as volg gereageer op hierdie netelige saak van kopiereg op resepte: “Die Meyer-egpaar het nie kopiereg in hul resepteboek geskend nie, tensy hulle die kosredakteur van Sarie se resepte woord vir woord oorgeskryf het.”

Human & Rousseau, wat die Meyers se boek uitgee, het gesê hulle het die skrywers ingelig dat daar geen kopiereg op resepte is nie. Die Meyers het gevolglik nie Joubert as bron erken nie.

“Die bewoording en styl van die resep kan uniek wees, maar mense het geen kopiereg op ’n idee self nie,” het Janusz Luterek, ’n prokureur vir Hahn & Hahn Geïnk, wat in intellektuele eiendom spesialiseer, gesê.

Salomé le Roux van Smit & Van Wyk Geïnk het gesê die spesifieke bewoording van ’n resep is ’n literêre werk wat deur kopiereg beskerm word.

“Enige foto’s wat saam met ’n resep geplaas word, is ’n artistieke werk. As die resep woordeliks oorgeskryf is of ’n foto is net so oorgeneem, sal dit op inbreukmaking neerkom.”

’n Johannesburgse prokureur, Barbara Berdou, het gesê dit is baie moeilik om te bewys wie die oorspronklike outeur van ’n resep is.

Nadat Deon en Anita begin het om Loxton gereeld te besoek en ’n huis daar gekoop het, het die behoefte van die Laerskool JJ Booysen op die dorp vir Deon aangegryp. Hy vertel dat die ouers so arm is dat hulle geen bydrae kan lewer om die skooltjie te onderhou nie. Daar was soms 60 kinders per klaskamer met net vyf leesboeke, geen biblioteek nie, geen vervoer nie en geboue wat uitmekaar val. En iewers in sy verbeelding het ’n storie begin broei van ’n kluisenaarsanger in die Groot Karoo en ’n mooi jong juffrou by ’n eenvoudige laerskool. En die storie het ’n draaiboek geword, en die draaiboek – met die tussenkoms van Darrell James Roodt – ’n fliek. In 2010 het Jakhalsdans die Suid-Afrikaanse rolprentteaters getref. Dit handel oor ’n kluisenaarsanger (gespeel deur Theuns Jordaan) wat in die Karoo wegkruip van die musiekbedryf. ’n Nuwe onderwyseres (Elizma Theron) word by die plaaslike skool aangestel en spoor die inwoners aan om die laerskool van sluiting te red deur ’n halfmiljoen rand in te samel om geboue op te knap en boeke aan te koop.

Oor die lekker van skryf vertel Deon aan Heidi de Goede: “Die groot gevaar van skryf as ’n heeltydse beroep, is dat dit soos ’n ‘werk’ kan begin voel. Met ander woorde, dat mens die lekker verloor tussen al die spertye, bemarkingsverpligtinge, lesers- en uitgewersverwagtinge en groterwordende roetine deur.

“Dan herinner ek myself aan hoeveel pret ek destyds gehad het, as volslae groentjie, met die skryf van kortverhale vir tydskrifte. Daar was geen druk nie, net loslit-kreatiwiteit, die begeerte om die geheimenisse van skryf te probeer ontrafel, en ’n drang om elke storie so lekker as moontlik te probeer vertel. (En natuurlik totale onkunde oor hoe goed of sleg daardie verhale was ...) Daarom is een van my doelstellings vir die nuwe boek (7 dae) dat die skryfproses lekker moet wees. En, eienaardig genoeg, dit werk. Ek het lanklaas soveel pret gehad as met die roman wat nou in wording is.”

Oor watter waarhede hy altyd met hom sal saam dra, antwoord Deon vir Danila Liebenberg (Volksblad, 4 Desember 2007): “Sukses en baie geld kan nie die liefde, die gesin en geliefdes vervang nie. Jack Welch van General Electric het gesê: ‘Mens begryp nie altyd nie. Maar jy moet die werklikheid sien soos dit is. En nie soos jy wil hê dit moet wees nie. Die ware werklikheid moenie misgekyk word nie. Bly binne die werklikheid.’ Ook sê ek, vind geluk in jouself. En vind jouself.”

Aan Murray la Vita (Die Burger, 14 Augustus 2011) verduidelik Deon die voor- en nadele van voltyds skryf: “Die voordele is gróót. Vir die eerste keer in my lewe hoef ek nie meer vieruur in die oggend op te staan om te begin skryf nie. En ek het ’n soveel groter deel van die dag tot my beskikking. Ek werk nou só dat ek iewers tussen vyf en ses begin skryf; dis ’n halwe gewoonte om nog steeds daai vroeë oggend te benut. Maar nou’t ek tyd, jy weet; ek vat in die oggend die kinders skool toe – wat vir my baie lekker is – en dan gaan haal ek hulle weer in die middag.

“Maar dan werk ek tot so teen middagete, dan het ek sewe, agt ure se skryf agter die rug. En daai luukse: om vir ses, sewe, agt ure aanmekaar te skryf ... aanmekaar is nou relatief, jy weet, ’n mens gaan nou en dan ’n koffietjie maak net om jou kop skoon te kry ... daai luukse is fantasties.

“Maar daar is ook nadele. Ek dink die grootste nadeel is dat ek nou baie minder stimulasie kry. Veral met my werk by BMW (as strategiekonsultant) die laaste vyf jaar het ek verskriklik baie gereis, veral in Suid-Afrika.

“Jy word blootgestel en gestimuleer deur nuwe plekke, nuwe mense, nuwe stóries. En dít mis ek. So ek moet nou kompenseer daarvoor deur baie meer doelbewus tyd te maak vir daai soort van dinge. Ek dink dit is die enigste régtige nadeel – dat my wêreld verklein het. Ek is maar in en om die huis, en om vir my vrou iets by Pick n Pay te gaan koop is nogal ’n groot uitstappie deesdae.”

La Vita het gewonder watter invloed die skep van ’n storie soos 13 uur op die psige van die skrywer het.

“Noudat ek voltyds skryf, is dit twáálf maande wat ek saam met hierdie karakters leef,” verduidelik Deon. “So dié mense word regtig ... Ek dink nie ’n mens se brein kan onderskei tussen fiktiewe mense en regte mense nie. Jy hoor wat hulle sê. Jy weet wat hulle voel, baie meer as wat jy met regte mense weet wat hul emosies is. So die identifikasie is verskriklik sterk.

“Ek raak baie betrokke by my karakters, en as dit met hulle sleg gaan, met die karakters vir wie ek regtig omgee, dan vóél ek dit, jy weet ... ek kry hulle jammer. Ek gun hulle dit nie, en dit is vir my moeilik om daardie tonele te skryf.

“En dan is die verligting aan die einde van ’n boek wanneer hulle al die slaggate deur is baie groot. Ek het so ’n lígte gevoel aan my as ek die laaste bladsye skryf.”

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, het Deon aan Beeld (12 Junie 2000) vertel: “Dié geleentheid dring aan op die uitsondering van ’n spesifieke boek. Vergun my om ’n klein bietjie te kul deur twee aan te bied.

“Die eerste is André P Brink se Kennis van die aand. Ek het as student, in die dae van Die Groot Verbod, toegang daartoe gekry onder die leuen van ‘navorsing’ by die PU vir CHO se biblioteek. My primêre motivering was die gerugte van blatante seks wat dit sou bevat. En wat ek in die plek daarvan ontdek het, was ’n Afrikaanse leeservaring wat beter was as enigiets wat ek tot in daardie stadium in Engels ervaar het. Dit was die boek wat my bekeer het tot Afrikaans as storietaal.

“Die tweede is Net gain van Hagel en Armstrong (Harvard Business School Press). Dit is ’n briljante uiteensetting van (so glo ek) die enigste internet-sakestrategie wat die toets van die tyd gaan deurstaan. Min het ek gedink, toe ek dit in 1998 vir die eerste keer gelees het, dat ek eendag my eie maatskappy daarop sou bou.”

Deon huiwer nog nooit om eer te gee aan diegene wat dit toekom nie, veral waar dit sy skryfwerk betref. En hy vertel baie graag van die besonderse verhouding wat daar tussen hom en sy uitgewer, Etienne Bloemhof, bestaan: “Dis vir my ’n verskríklik belangrike verhouding. Ek het nou al met redakteurs in ’n klomp lande en ’n klomp tale gewerk, en ek kan vir jou sê Etienne is wêreldklas. Hy is régtig, régtig. Die groot ding is vertroue.

“Ek weet dit klink baie snaaks, maar as ek ’n boek klaar geskryf het, dan het ek ’n vertérende vertwýfeling in die boek. Ek is séker daarvan dat dit ’n totále mislukking gaan wees; dat niemand dit gaan lees nie; dat dit klomp twak is en dat Etienne vir my gaan laat weet ...

“Wat ook gebeur, is dat ek hier in die helfte al begin twyfel en dan sal ek dit vir hom stuur en sê: ‘Etienne, sê vir my eerlik: Wérk dit enigsins?’ En ek móét hom vertrou ...

“Dis wonderlik om dit met Anita te kan deel, maar sy’s liéf vir my. Hoewel sy sê sy is objektief in haar reaksie, is ek maar bekommerd; sê sy nie net so omdat sy my liefhet nie?”

Wanneer Deon met ’n nuwe boek begin, lê dit soos ’n berg voor hom, want hy weet dit is vir ’n jaar wat hy in die wêreld van skryf ingaan, “en dis dalk die één ding wat skryf verskillend maak van die meeste ander beroepe: jou werkswêreld is suiwer fiksie.”

Anita lees soos hy skryf en dit is vir hom wonderlik, aangesien dit minstens een ander persoon is met wie hy daardie wêreld wat net in sy kop bestaan, kan deel. “Dis ’n ding wat jou insuig, en as jy eers in is, dan ... ek het ’n baie sterk emosionele band met dit wat ek doen, so dis so ’n halwe op en af. Veral aan die begin.

“Die eerste derde van ’n boek is die probleemstelling van die storie en waar jy jou karakters voorstel en hulle het net moeilikheid, jy weet, dit is die groot uitdagings wat voorlê.

“En natuurlik die werk ... jy sien hoe die 400, 450 blaaie hier voor jou lê; daar’s nog niks op papier nie en dan moet jy begin. Dis soos om opdraande te klím of te stáp. Totdat jy uiteindelik by die klimaks van die boek kom, en dan is dit hierdie geweldige verligting van nou’s jy amper klaar en jou karakters is oukei en jou storie, dink jy, werk redelik.

“En daarna is dit die slot wat jy met groot verligting skryf. En as ek klaar is, is dit soos ’n geweldige gewíg wat van my skouers af is.

“En dan dink ek: Nooit weer nie! Dis die laaste boek wat ek gaan skryf in my lewe. En dan, ag, binne ’n maand of twee is die lus maar weer daar.”

In 2013 word Kobra uitgegee. Vir hierdie verhaal was dit nie vir Deon nodig om soveel navorsing te doen as vir 7 dae nie, aangesien hy reeds vir 7 dae heelwat tyd saam met die Valke bestee het. Hy vertel aan Karin Brynard (Volksblad, 17 Oktober 2013) dat sy eintlike navorsing vir Kobra oor sakkerollers was. “Ek kan sê ek is nou ’n bekwame sakkeroller. ’n Groot deel van die klimaks van die boek speel af op Metrotreine tussen Stellenbosch en Kaapstad. Ek het dus baie trein gery en interessante gesprekke met Metrorail se mense gehad.”

Bennie Griessel is ook weer terug in Kobra en sy probleme het nie verander nie en ook nie minder geword nie. Die storie skop af met drie slagoffers by ’n moordondersoek in ’n gastehuis op Franschhoek, vertel Deon verder aan Brynard: “’n Vierde mens is ontvoer, maar niemand weet wie dit is nie. Die Britse ambassade en Suid-Afrikaanse misdaadintelligensie raak betrokke en Bennie kry swaar.”

Jonathan Amid (LitNet) is ná die lees van Kobra weer eens beïndruk met Deon se vermoë as krimiskrywer. Hy som Kobra as volg op: “Wat Meyer die leser met Kobra bied, is ’n veelvlakkige ondersoek in die duistere wêreld van internasionale intelligensie-dienste, die uitruil van inligting in ’n dawerende magspel tussen regerings en hul geheime organisasies. Les bes is daar ’n diepsnydende blik op die manier wat die misdaadgenre, moontlik beter as enige ander, ’n uiteenlopende somtotaal karakters op so ’n manier kan toevou onder omstandighede wat in die regte hande (soos Meyer s’n) nie dreig om geloofwaardigheid of leesbaarheid in te boet nie.

“Meyer is lief daarvoor om sy net wyer as ’n enkele verhaallyn te span. In Kobra is daar hoofsaaklik twee spanningslyne wat eindelik op kenmerkende wyse met mekaar verbind word. Die eerste spanningslyn behels die ondersoek by ’n luukse gastehuis buite Franschhoek op die sluipmoordagtige uitwissing van twee militêre manne en ’n derde slagoffer in ’n bloedige aanval wat die werk van ’n professionele laksman blyk te wees. Boonop is daar tekens dat ’n buitelander met allerlei interessante konneksies en moontlik gevaarlike inligting uit die gastehuis ontvoer is. Die enigste bruikbare leidraad is die spoegkobra wat op die drie koeëldoppies wat saam met die lyke gevind word gegraveer is. Om so min as moontlik weg te gee van die eerste spanningslyn word die Kobra-simbool en karakter met die maksimum woema en adrenalien in die are ontgin. Daar is meer as net ’n tikkie Lee Child en Frederick Forsyth, dalk tog bietjie John Sandford, in die wyse wat die Kobra se agtergrond en duistere motiewe belig word.

“Lanklaas, dalk nog met Meyer se eie 13 Uur en Feniks (met die verruklike Thobela ‘Tiny’ Mpayipeli aan die spits) het ek so die oorweldigende gevoel van lekkerkry ervaar, my so verkneukel in hoe Meyer sy boosdoeners so sterk teenoor die verteenwoordigers van geregtigheid laat opweeg.

“Die tweede spanningslyn fokus op ’n fantastiese nuwe karakter, die sakkeroller Tyrone Kleinbooi, wat na sy slim sussie op universiteit omsien deur die (skelm) vindingrykheid van sy wyle oom te laat voortleef in verskeie ruimtes van die omliggende Bo-Kaap. Tyrone se storie is fassinerend, vars en onderhoudend. Dit wentel veral in die tweede helfte van die roman om sy stryd om oorlewing nadat hy in besit geplaas word van ’n geheueskyf met inligting wat die Kobra bitter graag in die hande wil kry. [...]

“Humor en ironie is twee van die misdaad-riller se vernaamste wapens om die leser wakker te hou. In Kobra is daar ’n oorvloed van fynproewers-oomblikke wat humor en sosio-politieke kommentaar met mekaar versoen. Ek durf hulle nie hier verklap nie.

“Soos wat die lees van die roman vorder het dit vir my duideliker geword dat dit wat op die spel is, laas met Infanta so groot gevoel het. Daar is, soos in daardie roman, nie net ’n kompleksiteit aan die morele en etiese kwessies wat hier ondersoek word en ’n soortgelyke balans tussen spanningslyne, verskillende stemme, aksie en pittige dialoog tussen karakters nie; daar word ook hier ooglopend aandag gegee aan die tipe frustrasies en alledaagse struikelblokke wat dieners van die gereg in ons land die hoof moet bied om betekenisvolle bydraes te kan maak. [...] Meyer lewer met Kobra die tipe vaartbelynde kragtoer wat die spanningsroman in Afrikaans tot groter hoogtes aanvoer.”

Kobra en Bennie sorg ook dat Deon weer op die internasionale pryslys beland. Die Engelse vertaling daarvan het aan hom ’n plek op die kortlys van die Crime Writers’ Association van Brittanje se Dagger-pryse besorg.

Deon verduidelik aan Ilse Salzwedel (Rooi Rose) dat hy probeer om elke jaar op Nuwejaarsdag met ’n nuwe roman te begin: “’n Skoon lei, soort van.” En Deon stel nooit sy fan club teleur nie. ’n Nuwe boek uit sy pen verskyn minstens elke twee jaar. In 2015 word Ikarus gepubliseer.

Bennie staan weer aan die hoof van die ondersoek na die moord op Ernst Richter, wie se lyk tussen die duine op Bloubergstrand uitgespoel het en ontdek word. Ernst het aan die hoof van ’n internet-onderneming, alibi.co.za, gestaan, ’n webwerf wat ’n alibi aan vroueverneukers verskaf. En weer is daar twee spanningslyne, met die een die ondersoek van Bennie en die Valke na die moord en die ander een wat te doen het met ’n wynboer van Stellenbosch wat die leser ontmoet wanneer hy by ’n advokaat se kantoor in Kaapstad instap en wil bieg oor die moord op Richter. Sy vertelling en Bennie se ondersoek na die moord speel gelyktydig af, vertel Deon aan Elmari Rautenbach tydens 2015 se Woordfees. (Beeld, 16 Maart 2015)

Saam met Bennie werk Vaughn Cupido aan die moordondersoek. Deon se lesers het al vir Cupido in Infanta ontmoet en Deon vertel dat toe hy hom aanvanklik geskep het, hy nie eintlik van Cupido gehou het nie en hy was net daar om vir Bennie grensloos te irriteer. Maar soos die storie aangegaan het, het Deon teen die einde van Infanta ’n sagte plekkie vir hom ontwikkel, veral omdat hy so baie selfvertroue het. Deon het ’n stille bewondering vir mense met baie selfvertroue, al is dit vir hom swaar om van hulle te hou.

In haar resensie in Rapport (22 Maart 2015) skryf Elmari Rautenbach dat Cupido en Griessel ’n wonderlike paar en span is: “Want op die ou end is dit mense wat ’n storie maak. En hierdie twee hou kers vas by die bestes in wêreldmisdaadfiksie.”

Hierna vat Deon ’n bietjie van ’n blaaskans en word ’n nuwe kortverhaalbundel, Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale, in 2015 by Human & Rousseau uitgegee. Dit bevat verhale wat voorheen in tydskrifte verskyn het, tesame met vyf nuwe verhale wat nog nie vantevore in druk verskyn het nie.

Die titelverhaal, wat vertel van ’n opkomende sangeres met heelwat geraamtes in die kas, is ook met redelik groot sukses verfilm. Wat vir Dewald Koen (Volksblad, 21 September 2015) opgeval het van hierdie bundel, is die verskeidenheid van temas wat daarin opgesluit lê. “Hierdie bundel kan beskryf word as ’n boeket verhale wat temas soos misdaad, liefde, speurverhale en romanse insluit. [...] Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale is die soort kortverhaalbundel wat nie net oor literêre meriete beskik nie, dit sal ook aanklank by die oorgrote meerderheid van die leserspubliek vind. Danksy die wye verskeidenheid tematiek wat in die kortverhale voorkom, sal hierdie kortverhaalbundel geensins teleurstel nie.”

In 2016, weer net ’n jaar na Ikarus, is daar weer ’n boek van Deon op die mark – een waarna sy ondersteuners koorsagtig uitgesien het, naamlik Koors. Die uitgewers vertel die storie: “Die Koors het byna almal gevat. Maar nie dertien jaar oue Nico Storm en sy pa, Willem, nie. Deur ’n Suid-Afrikaanse landskap feitlik sonder mense, met al hoe minder blikkieskos in die verlate winkels, Koeberg-bestraling in die Wes-Kaap en al hoe meer moorddadige hondebendes – én mensebendes – swerf Nico en sy pa, op soek na ’n plek om die samelewing weer te vestig.

“Wanneer hulle dit eindelik sover het by die ou Vanderkloof – nou Amanzi – met ’n groepie swerflinge wat saam van voor af wil begin, steek al die ou sondes van die mensdom kop uit. Gou is Amanzi op geloofs- en politieke lyne verdeel, en verdediging teen die swaar gewapende motorfietsbendes wat dwarsoor Suid-Afrika plunder en moor raak al hoe moeiliker. En wat van die geheimsinnige, yskoue Domingo, wat by Amanzi aangery kom op ’n motorfiets van sy eie en spoedig as paramilitêre leier ontpop – kan hý ooit vertrou word? Dis nie lank nie, of moord kom inderdaad ook na Amanzi ...

“In Koors vertel die volwasse Nico Storm die verhaal van die moord op sy pa. Dit is ’n aksiebelaaide nuwe rigting vir Deon Meyer, met al die aspekte wat lesers van sy spanningsfiksie verwag en nog vele nuwe lekkertes daarby.”

In Die Burger (1 Augustus 2016) vertel Deon aan Willem de Vries dat hy Koors beskou as sy “spannendste boek wat hy nóg geskryf het”. Hy het die verhaal geplaas in ’n situasie “wat nie ons huidige werklikheid is nie, maar wat baie maklik sal kan gebeur”.

Die verhaal kan gesien word as ’n toekomsverhaal, maar ook ’n storie oor ’n moord. Die spanningselement is egter vir Deon die belangrikste. “Om die waarheid te sê, ek dink dit is my beste werk tot nog toe.”

Deon het nie sy filmwerk afgeskeep met die skryf van al sy romans nie. Hy het in 2012 ’n jaar afgevat van sy romanskryfwerk en aandag gegee aan die skryf van draaiboeke vir films. Behalwe dat hy die draaiboek geskryf het, is hy ook die vervaardiger van die film Die laaste tango met Antoinette Louw en Louw Venter. In 2013 het Die ballade van Robbie de Wee begin draai en ook Alles wat mal is, wat gebaseer is op Deon se kortverhaal “Helena se verhaal”. Sy films word vervaardig deur The Karoo Film Company, Deon en sy vennoot Diony Kempen se maatskappy.

In 2016 is Jagveld, waarvan Deon ook die draaiboek geskryf het, geskiet. Deon vertel aan Willem de Vries meer hieroor: “Ons het verskriklik lekker daaraan geskiet en het ’n ongelooflike klomp jong mense gehad wat daarin speel. En dit het ’n jong regisseur, Byron Davis. In die rolverdeling is Neels van Jaarsveld, Bouwer Bosch, Leandie du Randt en Tim Theron. Die groep is almal briljant. Ek sien baie uit na die uitreiking van die rolprent. Dis ’n eerste Afrikaanse spanningsaksiefliek en ek is opgewonde daaroor.”

Baie mense wil weet hoe ’n mens ’n draaiboek skryf en daarom beoog Deon dat wanneer Jagveld begin draai in 2017 sy draaiboeke in boekformaat beskikbaar sal wees. Hieronder tel Die Ballade van Robbie de Wee, Die laaste tangoJakhalsdans en die televisiereekse Orion en Transito.

“Intussen werk ek aan ’n geskenkboek vir die Nederlandse Spannende Boeken Weken, wat van 9 tot 25 Junie 2017 plaasvind. Na verwagting sal die boek in ’n oplaag van 400 000 eksemplare verskyn. Die Nederlanders het vir ’n jaar eksklusiewe reg op die werk, waarna dit in Afrikaans sal verskyn,” sê Meyer.

Dit is in 2017 gepubliseer onder die titel Die vrou met die blou mantel. Volgens die aanwysings van die Nederlandse uitgewers mag die boek nie meer as 100 000 woorde bevat nie. En vir Deon was dit ’n uitdaging om so ’n “kort” boekie te skryf, aangesien hy gewoond is aan boeke skryf van meer as 100 000 woorde.

Hy verduidelik aan Elna van der Merwe in Huisgenoot dat dit beslis ’n uitdaging was wat soms groot konsentrasie van hom gevra het: “Dit is baie makliker (en vinniger) om langer te skryf. Dit was eers toe ek snap dat die struktuur en lengte baie soos ’n filmdraaiboek is, dat dit ’n aangename vingeroefening geword het.”

Elna van der Merwe som die storie só op: “Die storie ontvou rondom ’n kosbare skildery van die Nederlandse skilder Fabritius van ’n pragtige vrou, kaal met net ’n blou mantel om haar en oë vol geheime. Alicia Lewis, ’n kunskenner uit Londen, dink dis die vonds van haar loopbaan en kom soek dit in Suid-Afrika, waar dit in ’n boer van Villiersdorp se kluis is.

“Maar ander spring haar voor. Soos al Deon se boeke wemel die storie van plekke wat werklik bestaan.”

Vroeër het Deon gewoonlik sy motorfiets gebruik om hierdie plekke uit te snuffel, maar nadat hy sy motorfiets verkoop het, moet hy maar sy motor gebruik: “My karakters is nie net sleg of goed nie, eerder menslik, soos blyk uit ’n eintlik amusante toneel waar ’n voortvlugtige wat vir Bennie weghardloop net voor hy finaal verdwyn, omdraai en ‘hoflik en simpatiek vir hom wuif’.”

Vir Francois Bekker (Netwerk24, 20 November 2017) is Deon Meyer se boeke die standaard waarvolgens skryfwerk in die genre van spanningsfiksie beoordeel word. En met Die vrou in die blou mantel bevestig Deon net weer hierdie stelling: “Daar is verskeie aspekte, veral wat karakterisering betref, wat Meyer se werk van dié van die meeste ander spanningskrywers onderskei. [...]

“Navorsing verleen eweneens geloofwaardigheid aan Meyer se skryfwerk. Om te weet hoe pandjieswinkels lyk. Om die sleur van polisiewerk getrou weer te gee. Wetlike aspekte in gedagte te hou. [...]

“In hierdie novelle kom daar ook ’n hoogs onderhoudende blik op die internasionale kunsgemeenskap aan die bod. En die monetêre waarde wat aan kuns geheg word. Verstommend van hierdie verhaal is dat die voorskriftelike formaat waarbinne Meyer moes werk nie sy vermoë om ’n boeiende storie te vertel, belemmer het nie. [...]

Die vrou in die blou mantel is ’n raaiselverhaal waar muse en motief sorg vir ’n meesterstuk in die kleine.”

Jacques Myburgh resenseer Die vrou in die blou mantel vir LitNet (15 November 2017): “Alicia was op die spoor van ’n Rembrandt-leerling, Fabritius, se skildery, Die vrou in die blou mantel, toe sy vermoor is, en die moordenaar ken sy storie. Met gewone huishoudelike bleikmiddel is die lyk skoongeskrop van enige DNS, wat die werk vir die twee speurder van die Valke bemoeilik.

“Tot die deurbraak kom en die naam van Billy de Palma, oftewel Martin Fillis, ’n korrupte oudpolisieman, op Alicia se skootrekenaar gekry word. Die naam laat Vaughn se nekhare rys. ‘Piece of work. Piece of shit,’ sê Vaughn. ‘Narcissist, a psycho, real arsehole ...’

“‘Ek sê nou vir jou, as Martin Fillis daai painting gekry het, he won’t hesitate for one second. He’ll kill her in cold blood.’”

“En dit is net hier waar Meyer dit regkry om soos ’n Karoojakkals jou op ’n spoor te sit en die leser ’n paar keer te flous en weer in ’n ander rigting inslaan. Want kan hierdie vuil polisieman dan ’n waardering vir die kunste hê en sal hy so ver gaan om te moor daarvoor? Dit is wanneer Bennie die een oggend ’n oproep kry waar die jakkals weer ’n sluwe systappie gooi en die leser weer van sy spoor af gooi.

“Afgesien daarvan, is Die vrou in die blou mantel ook ’n brug tot Meyer se volgende Griessel-dossier. Bennie moet die kans gegun word om persoonlike kwessies ook aan te spreek, soos om tussendeur die jag na moordenaars ook ’n lening by die bank te kry sodat hy vir sy Alexa kan vra om met haar te trou.

“In 120 bladsye gaan Meyer jou weer die ystersmaak van bloed laat proe en jy sal weer neus eerste in sy versameling induik in afwagting op die volgende misdaadroman uit sy pen.”

Deon is die uitvoerende vervaardiger van die rolprentweergawe van Marita van der Vyver se roman Dis koue kos, skat. Van der Vyver het die draaiboek geskryf. Etienne Fourie is die regisseur.

Deon se trilogie met Mat Joubert se filmregte is aan ’n Duitse rolprentmaatskappy verkoop en die eerste een wat verfilm is, is Feniks (Dead before dying), waarna 13 uur sal volg.

Deon en Anita is intussen geskei en hy en Marianne Vorster is sedert 2010 saam. Hulle is in 2019 getroud. Uit hul vorige huwelike het hulle saam ses volwasse kinders, elkeen ’n dogter en twee seuns. Almal is reeds uit die huis. “Ek voel trots om te weet ek is ’n goeie pa vir my kinders. Ek het hulle onvoorwaardelik lief, ek is dáár vir hulle. Een van my seuns is outisties en dit bring trauma, dit vra geduld. Ek maak foute, maar dis oukei om foute te maak solank ’n mens net daaruit leer,” sê Deon.

Oor hierdie huwelik vertel die twee aan die tydskrif Bruis: “Ons albei kom uit mislukte huwelike, hierdie keer máák ons dit werk,” vertel hy. “Ons voel veilig bymekaar. Ons luister met begrip na mekaar en elkeen gee erkenning aan die ander se gevoelens.”

Marianne sê die grootste uitdaging is om heel te word. “Wanneer jy jonger is, dra jy swaar aan jou bagasie, maar soos jy ouer word, kry jy perspektief. Jy besef die oplossing lê by jóú. Ek en Deon sien die vrugte wat ons reis saam bring.”

In 2018 vra Coenie de Villiers vir Deon om deel te word van die produksie Karoo Suite. Karoo Suite II: Karoonagte het gevolg en beide was ’n groot gunsteling by gehore.

Vir die tweede vertoning kon Coenie en Deon gebruik maak van twee fotograwe wat vir National Geographic foto’s neem, asook foto’s en klanke van planete en meteore by NASA in Amerika met die hulp van Matie Hoffman.

Hierdie vertonings was só gewild dat hulle besluit het om ’n koffietafelboek uit te gee (in samewerking met Atterbury Trust) en Karoo en ook Karoo Suite II: Ons Karoo is binne maande uitverkoop.

Deon vertel verder: “Toe Coenie dus (in 2023) voorstel dat ons moet saamwerk aan ’n musiekblyspel, het dit my 15 sekondes geneem om ja te sê. Dit het tydens die KKNK in 2024 gedebuteer en het onder meer Anrich Herbst, Daneel van der Walt, Eldon van der Merwe en die nuweling Nelandi Boshoff in die rolverdeling. Dis ’n droom wat ek gehad het sedert ek Tommy se klankbaan gehoor het toe ek 19 was. Dit het soveel jare geneem vir Coenie om hierdie droom van my waar te maak.” (KKNK)

Deon en Coenie was verheug oor die sukses van Roem en moes erken dat “dit betowerend en magies en baie, baie lekker was om daardie eerste maal in die gehoor te sit en ons handewerk volsirkel te ervaar”.

Coenie sê: “Ek was flou van spanning en opwinding en antisipasie. En verheug dat die gehore dit so geniet...”

Roem is in 2024 benoem vir beste opkomende kunstenaar of nuweling (Nelandi Boshoff), beste tegniese bydrae (Stefan Benadé & Nicole Holm vir stelontwerp) en beste manlike speler in ’n ondersteunende rol (Eldon van der Merwe).

Roem was ook op die planke tydens 2024 se Suidoosterfees.

Uiteindelik het Eldon van der Merwe weggestap met die Kanna vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol en is ook vereer met die Kunste Onbeperk se Jong Stem-prys.

Deon se volgende roman, Prooi, het weer vir Bennie Griessel en Vaughan Cupido en Mbali Kaleni as die ouens wat die misdaad moet oplos. Hierdie slag is dit ’n veel maerder Bennie en Kaleni, met Vaughan wat sukkel met die lekker kos wat sy meisie vir hom voer.

Die verhaal speel hoofsaaklik in Kaapstad en Parys in Frankryk af, vertel Deon aan Elna van der Merwe van Huisgenoot. “Dit handel oor staatskaping, ’n kleptokratiese president wat heul met Poetin en gekaap word deur drie Indiese misdadigers wat hulle as sakemanne voordoen, en ’n vrot wat van die minister van die polisie tot in die murg van sy hele mag loop.”

Van der Merwe wou weet of Prooi geskryf is as protes teen die bestel. Hierop antwoord Deon positief: “Dis nie uitsluitend wat Prooi is nie, maar ’n deel daarvan is my protes oor wat in die land aangaan. Verstaan net dat ek die idee vir Prooi gekry het voor die Cyril Ramaphosa-era – die protes is hoofsaaklik gemik teen die vorige administrasie.”

Oor die idee dat Prooi dalk verbied sou gewees het as dit in die apartheidsjare uitgegee is, antwoord Deon vir Van der Merwe: “As ’n mens dieselfde bekend klinkende fiksie onder die ou bedeling geskryf het, sou dit verbied gewees het, ja. Ek het so 10 jaar ná die einde van apartheid ’n brief gehad van ’n lid van die publikasieraad se grysskoenbrigade wat vir my streng laat weet het dat my boeke in sy dae beslis verbied sou gewees het.

“Dit was vir my ’n reusekompliment. Ons het destyds net nie dieselfde vryheid van spraak gehad nie.”

Joan Hambidge bespreek Prooi op Woorde wat weeg: “Twee verhale word apart vertel (en saamgesnoer, uiteindelik). Kapteins Griessel en Cupido moet die moord oplos van Johnson Johnson, ’n oud-polisieman, wie se lyk langs die treinspoor gevind is. Johnson was ’n passasier op ’n luukse trein. Waarom was hy op die trein, en wie het hom vermoor? Hier kan ’n mens nie anders as om die beroemde treintonele uit die James Bond-film From Russia with love (1963) in die herinnering te roep nie. Terence Young se regisseurskommentaar by dié film bly insigryk.

“In Bordeaux word Daniel Darrett se lewe geproblematiseer wanneer hy opdrag kry om laksman te speel en ’n president te ‘verwyder’. In die ou dae was hy verbonde aan Stasi en die KGB. 

“En Bennie se verhouding met Alexa Barnard is ’n ander verhaal, soos sy bekende stryd teen drank.

“Hierdie is ’n pakkende roman en wat my betref, Meyer op sy allerbeste. Die vaart is snel, blitssnel en die navorsing uitstekend. En die spanningkurwe hóóg.”

Op Maroela Media skryf Johan Myburg as volg oor Prooi: “Dit is die spanning onderliggend aan die twee parallelle verhale wat die lokaas is wat die leser inkatrol. Dit is die suspisie wat Meyer by die leser wakker maak wat dit so moeilik maak om die boek neer te sit. Boonop is dit deernis met sy karakters wat ’n mens so van hulle laat hou, huidjie en muitjie.

“Meesterstorieverteller wat hy is, het Meyer die vermoë om ’n omgewing of omstandighede te versin waarmee die leser waarskynlik glad nie vertroud is nie. Soos die omgewing van Bordeaux wat Meyer só beskryf dat jy die gevoel van die plek kan kry; en só noukeurig dat jy as’t ware op Google Maps elke tree saam met Darrett kan gee.

“Waarom is Meyer so ’n suksesvolle skrywer? In die eerste plek omdat hy ’n briljante storieverteller is. Boonop kom hy só oortuigend onder die vel van sy karakters (veral die speurder-duo) in en beeld hy hulle uit as mense wat jy eintlik voel jy ken. En les bes omdat hy weet hoe om spanning subtiel te hanteer.

“Dit is dieselfde soort noukeurigheid waarmee hy onder meer vliegtuie en helikopters in Koors, sy vorige roman, beskryf het, wat die leser ’n gevoel van geborgenheid gee – een van: hier is ’n skrywer wat jy kan vertrou aan die woord. Wat die leeservaring des te meer aangenaam maak.”

Naomi Meyer (LitNet) wil by Deon weet wat is sy grootste vreugde, asook sy grootste kopseer van skryf: “Daar is baie vreugdes: die klein dink-deurbraak met ’n storieprobleem; die skielike nuwe storiewending wat jou onderbewussyn aan jou voorstel en jy weet dit is baie beter as die een wat jy beplan het; ’n interessante navorsingsonderhoud met ’n uitsonderlike mens; my agent of redakteur wat laat weet hulle dink die boek werk; ’n petroljoggie by Leeu-Gamka wat jou herken en sê hy geniet jou boeke; daardie laaste sin om die boek klaar te maak ná maande en maande van selfvertwyfeling ...

“En as ek doodeerlik moet wees, is daar nie in die skryfproses vir my groot kopsere nie. Ek geniet die stoei met ’n storieprobleem, die gesukkel om die regte woord of frase of stukkie dialoog te vind, die herskryf van iets wat net nie wil werk nie. Eskom se kragonderbrekings is ’n groot kopseer, want ondanks jou beste voorsorgmaatreëls is daar altyd die kans dat jy jou laaste paar bladsye kan verloor as die rugsteun die dag ingee.”

Op LitNet bespreek Willem Pretorius Deon Meyer se volgende boek, Donkerdrif, wat in 2020 gepubliseer is. Pretorius skryf as volg: “Die ooreenkomste tussen Markus Jooste wat Suid-Afrikaanse beleggers in Steinhoff R200 miljard gekos het en Jasper Boonstra, die hoofboef van Donkerdrif, is ooglopend. Boonop land die koerant met die nuus dat Jooste gestraf word met R122 miljoen vir binnehandel in dieselfde week op my lessenaar as Deon Meyer se nuutste boek.

“Dit raak ’n byna onmoontlike taak om feit en fiksie te skei, hoewel die skrywer en uitgewer waarskynlik enige ooreenkomste sal ontken. Die waarheid is egter vreemder as fiksie in hierdie geval vir diegene wat die grootste bedrogsaak in die land se private sektor die afgelope drie jaar met valkoë dophou.

“Boonstra – of is dit nou Jooste? – het onder meer ’n landgoed buite Stellenbosch, ’n huis op Hermanus, en ’n skelmpie in Franschhoek; daar is duur motors ter sprake en verskeie stories oor die flambojante sakeman wat oënskynlik met sy lewe aangaan asof niks gebeur het nie.

“Boonop kom die nuus in dieselfde week dat Christiaan Prinsloo, ’n voormalige kolonel in die polisie wat wapens vir die Vlakte-bendes gesmokkel het, uit die tronk vrygelaat is. Diegene wat glo die hoofkarakter in Meyer se boek is op hom geskoei, wen ’n Datsun.

“Meyer verstrengel fiksie en feite tot die einde in ’n boeiende tango wat die leser vasgenael hou. Die donker drif van gierigheid is die leitmotief wat deur die boek loop en die goue draad verskaf wat die storielyn bind. [...]”

Pretorius is van mening dat ’n goeie misdaadroman twee belangrike elemente moet hê: die storie moet geloofwaardig wees en die karakters moet lewend en uit die aard van die saak ook geloofwaardig wees.

Hy skryf verder: “Hierin slaag Meyer die toets en word al die lyne van die verskillende intriges netjies bymekaar getrek en die spanningsdraad styf gespan. Hy gaan byna te werk soos ’n kok met ’n beproefde resep wat die gereg doelgerig stuur en later net hier en daar ’n tikkie sout of peper byvoeg vir die fynproewer.

“Tog kan ’n mens sê dit raak ’n bietjie ’n geval van eenrigtingverkeer in ’n tweerigtingstraat. Daar is ’n simbiotiese verhouding tussen ’n boef en ’n speurder in ’n boek. ’n Boekspeurder sukkel sonder ’n onheilspellende boef wat die spanningsvlakke kan bou en die reuk van gevaar in die lug kan laat hang. Hier is die boewe maar mak teen dié wat in die koerant beland.

“Tweedens is daar die karakters. Verbeel ek my of het Griessel en Cupido sag geword? Griessel se drankspook het nou ’n gemoedelike Casper geword en die lang gesprekke oor Cupido se gewig en burgers herinner aan twee huisvroue eerder as geharde Valke. Miskien verloor ou bekendes later hulle grinterigheid, of miskien is die twee besig om soos rivierklippe rond te word.

“Nietemin sal dit nie aanhangers steur nie, maar vir diegene wat hou van hulle karakters met littekens sal dit hinder dat hulle al meer soos gladde TV-aanbieders sonder plooie begin lyk. Nogtans lees die boek lekker. Daar is dele wat jy nie kan wag om om te blaai nie en ander waar jy wens die mes was ’n bietjie ingelê.”

Oor die Nederlandse vertaling wat ook Donkerdrif as titel het, is Marinus van de Velde die resensent op Thrill Zone en hy eindig sy resensie van Donkerdrif só af: “De twee hoofdpersonages dragen het boek en als lezer is het een genot om aan de zijde van het duo mee te reizen door het verscheurde Zuid-Afrika. Verscheurd, wat in het prachtige landschap is de kloof tussen arm en rijk en zwart en wit levensgroot. Tel daarbij de uit zijn voegen barstende corruptie binnen het overheidsapparaat bij op, en je hebt een explosieve cocktail te pakken die Deon Meyer op treffende wijze verwoordt. Of, zoals Cupido met bloemrijke woorden lading geeft aan een mislukte politie-actie: ‘het is een clusterfuck van epische omvang’.

“Deon Meyer is de onbetwiste top in het thrillerlandschap. En voor degenen die twijfelen of het thrillergenre wel een volwaardig rol speelt binnen de boekenwereld; sla alsjeblieft een boek van Meyer open. Je zult snel op je woorden terugkomen.”

In 2023 verskyn Leo – weer met Bennie Griessel en Vaughn Cupido om met oplossings vorendag te kom.

Die uitgewers som Leo as volg op: “’n Student se dood in die berg by Stellenbosch lyk verdag. ’n Oudrecce vermoor as ’n boodskap. Aan iemand: Hou julle bekke. ’n Korrupte politikus se lyk in die sandkuil van Arabella se sestiende putjie. Met ’n onontsyferbare kode daarby. ’n Mooi veldgids, gewerf as ’n heuningwip vir die grootste dollarrooftog in die land se geskiedenis. En staatskapers wat elkeen van die ondersoeke saboteer. Jy’t ’n koel kop nodig om dit alles te ontrafel, om die enorme druk te kan hanteer. Jy moet kalm en gefokus en nugter wees. Maar Bennie Griessel se kop is nie koel nie. Hy’s bedruk. Bekommerd. Bevrees. Want op 12 Junie moet hy trou, ’n datum wat op hom afkom soos ’n sneltrein. En hy’s glad nie reg vir dié ding nie. Dis ’n resep vir ’n ramp. Griessel en Cupido is terug. Hier kom moeilikheid, GROOT moeilikheid.”

Deon vertel op Maroela Media aan Christa Steyn-Bezuidenhout om al die storielyne en intriges van ’n verhaal soos Leo byeen te bring tot ’n bevredigende einde, “maande se reis, navorsing, sorgvuldige beplanning en wêreldbou vereis. In hierdie fase van die proses verkies ek om afgesonderd en onverstoord te werk, omdat ek werklik in die koppe van my karakters wil klim en as’t ware deel word van die fiktiewe wêreld wat ek skep.

“Maar,” voeg hy by, “my beplanning word egter soms ontwrig wanneer ’n karakter eiewillig is en ’n ander rigting wil inslaan. Dit is veral Bennie wat my partykeer kom verras het.

“Jy weet, dit is ’n interessante proses. Wanneer jy begin om die storie te ontwikkel neem jy nie die persoonlikheid van jou karakters in ag nie, en wanneer die storie en karakters dan bymekaar kom, is dit partykeer nogal ’n ding.”

In ’n onderhoud met Matt Nixson (“Why Jacob Zuma’s corrupt presidency inspired thriller writer Deon Meyer’s new book”) vertel Deon meer oor hoe Bennie Griessel en Vaughn Cupido in sy kop bymekaargekom het: “While Bosch (Harry Bosch by Michael Connelly) lives with the murder of his mother when he was a boy, and his ‘mission’ where ‘everybody counts or nobody counts’, Griessel though similarly driven is an alcoholic whose constant struggle to stay sober informs everything else.

“I had one alcoholic friend who took me to AA meetings with people’s permission,” explains Meyer. “I spoke to a lot of alcoholics, and I really tried to make my books different in terms of looking at alcoholism seriously and that daily battle. The alcoholic cop is a very traditional crime fiction character – he’s been with us since the 1950s – but my idea was never to write a series. I wanted to write only standalone books.

“But then you sort of fall in love with a character like Benny. And then the publisher says they would love a series. And the readers say they want more Benny and you sort of get seduced into that.

“Cupido emerged as a counterpoint to the darkness of Griessel over the subsequent novels. Benny is not an upbeat, funny kind of guy,” he admits. “He was struggling with alcoholism, with the loss of his family, with divorce. You need something to balance that with.

“Vaughn became that foil with a totally different outlook on life. A fun-loving, humorous guy who’s always joking, who isn’t as influenced by the dark work that they do. It was almost instinctively that I knew I had to balance these things.

“All authors write for one reader, that is the one inside of them, and I started realising this darkness is not what I like to read. Reading should be fun.

“Especially if you’re trying to create suspense, humour is often a wonderful way to relieve that suspense for a moment before you take it up a notch.”

Nadat sy Leo klaar gelees het, sluit Maryke Roberts op LitNet haar resensie só af: “Leo is voorwaar nie ’n boek om in grepe te lees nie. Daar is baie om mee tred te hou; baie plekke waar verskillende dele van die verhaal gelyktydig afspeel, en ek vermoed dis die rede hoekom die skrywer heelwat dinge herhaal, sodat die leser kan bybly: Tau se ‘hy is niemand se speelmaatjie nie’; Vaughn se ‘shenanigans’; die groep se bymekaarkomplek by Country Pumpkin op Barrydale; die R27 buite Calvinia ...

“Sit daardie verlof in; kry die glas wyn of koppie tee; fluit vir die hond of lok die kat. Jy gaan vir twee dae buite aksie wees. En dan spyt wees dis verby.”

En só skryf Neil van Heerden in 2024 se Tydskrif vir Letterkunde oor Leo: “Leo is ’n meesterklas in misdaadfiksie. Die roman beskik oor bykans al die klassieke Deon Meyer-kenmerke.

“Die roman het, soos die meeste van sy voorgangers, ’n soort dubbelloop-plotstruktuur. Enersyds is daar die verhaallyn van die legendariese speurders Bennie Griessel en Vaughn Cupido. Hulle ondersoek die dood van ’n jong student wat kennelik deur ’n luiperd aangeval is in die berge buite Stellenbosch, maar daar is helaas ’n slang in die gras. Kort voor lank bestryk Bennie en Vaughn se ondersoek ’n veel wyer terrein.

“Andersyds het ons die veldwagter, Christina ‘Chrissie’ Jaeger (ook bekend as Cornel ‘Vlooi’ van

Jaarsveld en lesers het haar in Spoor leer ken), wat as heuningwip betrek word by die grootste dollar-rooftog in die land se geskiedenis. Ondanks Chrissie en haar makkers se haarfyn beplanning, verloop die operasie nie heeltemal volgens plan nie. ‘A snafu there will be,’ merk een karakter op, ‘there always is’ (47). Die gevolg is eersteklas, nekbreek, skop-skiet-en-skarrel opwinding.

“Gesoute Meyer-lesers sal bekend wees met die wyse waarop twee skynbaar onverwante verhaallyne op verrassende wyse oorvleuel. Uiteindelik is die groot raaisel nie soseer óf die twee verhaallyne in Leo gaan kruis nie, maar hóé. Myns insiens is die vernuftige komposisie van ’n veelvlakkige, vervlegte plot nog altyd een van Meyer se sterkpunte. Dit stel die outeur in staat om nie net een nie, maar twee boeiende gegewens aan bod te stel, as ’t ware, twee bronne van spanning

vir die prys van een. Boonop bied dit aan hom die geleentheid om gereeld van die een verhaallyn na die ander te spring, en die fokalisering kort-kort op byna filmiese wyse te verwissel, wat op sy beurt aanleiding gee tot afleiding en vertraging – albei broodnodige bestanddele vir suksesvolle spanningsfiksie.”

Op 20 April 2021 het Aurélien Lechevallier, die Franse ambassadeur in Suid-Afrika, die Chevalier des Arts en des Lettres (Ridder in die Orde van die Kuns en Lettere) aan Deon Meyer toegeken. Die ambassadeur het sy commendatio só begin: “This evening we are very honoured and proud to celebrate a unique writer in his home town of Stellenbosch. A native son – ‘Un enfant du pays,’ as we would say in French.

“He is the man South Africa can call with pride its best crime fiction author, whose reputation has long crossed the South African borders to reach Europe and France. His books have been translated into 27 languages and published in more than 40 countries worldwide, and he has already received numerous international awards. His characters have even made it on to TV and the big screen.

“Tonight we are also celebrating a friend who fell in love with France – I think a long time ago – way before France fell in love with his books. This unique relationship with France, reflected in his novels, makes him a strong and valuable ambassador of French-South African cultural bonds. [...]

“Your love of France is not only for its landmarks, but also its people and joie de vivre. Your friend Henry Lefevre – who is among us tonight, braving limited flights and closed borders – was one of those people who introduced you to France and its way of life. Your first trip together was to la Dune du Pilat – the tallest sand dune in Europe – after which you knew you would be back. With this adventurous explorer you cycled through the forests of Soulac-sur Mer, and the Roger Lapébie cycle track is one of your favourites.

“But let me tell you one thing, dear Deon. The love is mutual. French readers are among your greatest fans, and we all feel so privileged to see how inspiring our country can be to you. My predecessor, Ambassador Christophe Farnaud, and the French team present here proposed your name for this distinction, and I am honoured to be the one standing before you today.

“We are not only celebrating the writer, the South African master of crime fiction, but also the friend, the francophile, the artist and the sharp political critic that you are, dear Deon.

“On behalf of the Government of the Republic of France and by virtue of the authority vested in me, I have the honour and pleasure, Deon Meyer, to bestow upon you the title of Knight of the Order of Arts and Letters, de vous faire Chevalier des Arts et des Lettres.” (LitNet)

In sy antwoord met die ontvangs van bogenoemde toekenning sê Deon as volg: “Over the years I’ve been utterly seduced by French cuisine, from the bouchons in Lyon to the butter in Brittany, the foie gras of Pau to the choucroute of Strasbourg, bouillabaisse in Marseille, oysters in Bordeaux, and baguettes and croissants everywhere. I think if Marianne had to choose between a fresh baguette with beurre sale and me, it would be a close call.

“And then there’s French cheese. We’ve worked our way through about sixty different types so far and have only about 1 540 to go. That is why I want to keep this speech as short as possible. Time is of the essence.

“The internet tells me that every relationship goes through five major stages. The first four are attraction, dating, disappointment and stability, which, I think perfectly fits with my story.

“The fifth one is commitment. I cannot help but view this huge honour as the fifth stage of my relationship with France, and the French people. But the story, I hope, will not end here. This is a new beginning of a beautiful phase in the relationship.

“Thank you for bestowing this award on me. I am committed to being worthy of it, I am committed to strengthening the ties between our two countries, I am committed to, one day, greatly improving my French.”

Deon Meyer word in 2024 vereer met die KKNK Afrikaans Onbeperk-prys vir literêre bydrae. Hy beskou hierdie prys as ’n geweldige eer wat hom heeltemal onkant gevang het: “En dis nie skyn-nederigheid nie. Om vereer te word vir iets wat vir jou lekker is om te doen, voel amper verkeerd.” (KKNK)

Publikasies:

Publikasie

Wie met vuur speel

Publikasiedatum

  • 1994
  • 2de hersiene uitgawe 2007

ISBN

  • 062403321X (sb)
  • 9780624045526 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Joubert, Emile: Dié held en skrywer het inderdaad min in gemeen. Beeld, 13 Desember 1994
  • Ken jou storie met dié relaas. Rapport, 2 Mei 2012
  • Pakendorf, Gunther: Debuut getuig van huiswerk. Die Burger, 22 Maart 1995
  • Van der Merwe, Corli: ’n Welkome heruitgawe met Meyer-vuur. Volksblad, 26 Maart 2008
  • Van der Westhuizen, PC: SSS-verhaal vir selfs die suiwerstes. Beeld, 6 Maart 1995

 

Publikasie

Feniks

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2de uitgawe 2004

ISBN

  • 1874901562 (sb)
  • 0798144262 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Queillerie
  • Kaapstad: Human & Rousseau (2de uitgawe)

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Le Grand Prix de Littérature Policière 2003

Vertalings

  • Engels; vertaal deur Madeleine van Biljon, 1999
  • Nederlands; vertaal deur Jacqueline Caenberghs, 1999
  • Frans; vertaal deur Robert Pépin, 2002
  • Italiaans
  • Bulgaars
  • Tsjeggies
  • Duits; vertaal deur Ulrich Hoffmann 2005
  • Estlands 2016
  • Spaans

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Bottervisse in die jêm: 13 kortverhale

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799323535 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Crafford, Albert: Lekker verhale met angel in die stert. Rapport, 7 Augustus 1997

 

Publikasie

Bottervisse in die jêm: 13 kortverhale

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799323535 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Crafford, Albert: Lekker verhale met angel in die stert. Rapport, 7 Augustus 1997

 

Publikasie

Orion

Publikasiedatum

  • 2000
  • 2de uitgawe 2005
  • 3de uitgawe 2006

ISBN

  • 0798140496 (sb)
  • 0798145617 (sb)
  • 0798148004 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • ATKV-Prosaprys 2001
  • Prix Mystère de la Critique 2004
  • ATKV-prys vir beste draaiboek vir televisiereeks 2007
  • Kortlys vir die Martin Beck-toekenning vir beste vertaalde Sweedse speurroman 2008
  • Kortlys vir M-Net-Boekprys
  • Kortlys vir Sunday Times Letterkundeprys 2004

Vertalings

  • Engels; Dead at daybreak, vertaal deur Madeleine van Biljon 2000
  • Nederlands; vertaal deur Jacqueline Caenberghs 2000
  • Frans; Les soldats de l’aube, vertaal deur Robert Pépin 2003
  • Duits

Resensies en besprekings

  • Botma, Gabriël: Meyer steeds op koers, maar tref soms lugleegte. Die Burger, 6 September 2000
  • De Lange, Amanda: Witwarm Orion gaan skerm laat wasem. Die Burger, 10 Julie 2006
  • Olivier, Fanie: “Orion” ’n ordentlike storie ordentlik vertel. Beeld, 25 September 2000
  • Rautenbach, Elmari: Meyer se misdaadstorie vergelykbaar met heel bestes. Volksblad, 30 Oktober 2000
  • Spanningsverhaal van boonste rak. Beeld, 23 April 2001
  • Vink, Mike: Dis so vars soos nuus wat van vanoggend se voorblaaie kom. Rapport, 15 Oktober 2000

 

Publikasie

Proteus

Publikasiedatum

2002

ISBN

079814274X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • ATKV-Prosaprys 2003
  • Deutsche Krimi Preis (Duitse Misdaadfiksie-prys) 2006
  • Langlys van die IMPAC Literary Award

Vertalings

  • Engels, vertaal deur KL Seegers, 2004
  • Nederlands, vertaal deur Jacqueline Caenberghs, 2005
  • Duits
  • Frans
  • Noorweegs
  • Sweeds

Resensies en besprekings

  • Brand, Gerrit: Meyer wen Duitse prys. Volksblad, 23 November 2006
  • Jordaan, Dirk: Dis Deon Meyer op sy beste. Volksblad, 21 Oktober 2002
  • Smith, Francois: Mosaïek van raaisels. Die Burger, 21 Oktober 2002
  • Vos, André: Spanningsverhaal boei end-uit, breek stereotipes af. Rapport, 3 November 2002

 

Publikasie

Infanta

Publikasiedatum

2004

ISBN

079933314X (hb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • ATKV-Prosaprys 2005
  • The Golden Crowbar, die Martin Beck-toekenning vir beste speurverhaal in Sweeds vertaal is 2010
  • Readers’ Award van CritiqueLibre.com in die afdeling Speurverhaal/Riller 2010

Vertalings

  • Engels; Devil’s Peak, vertaal deur KL Seegers, 2007
  • Sweeds, vertaal deur Svante Weyter, 2010
  • Frans
  • Duits
  • Pools
  • Spaans

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Onsigbaar

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798148962 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • ATKV-Prys vir beste spanningsroman 2008
  • Deutsche Krimi Preis 2009 (derde plek)

Vertalings

  • Frans
  • Duits
  • Engels; Blood safari, 2009

Resensies en besprekings

 

Publikasie

13 uur

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798150101 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • Boeke Prize Fanatics Choice Award 2011
  • Best Thriller in the Barry Awards 2011
  • Kortlys vir Macavity Award vir Beste Speurverhaal 2011
  • Kortlys vir die CWA International Dagger in Brittanje 2010
  • Eerste wenner in die nuwe rolprentkategorie van die M-Net-toekennings 2009
  • ATKV-prys vir Beste Spanningsroman 2009

Vertalings

  • Engels; 13 hours, vertaal deur KL Seegers
  • Suid-Koreaans
  • Frans
  • Duits
  • Nederlands

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Karoonag en ander verhale

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798151177 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Spoor

Publikasiedatum

2010

ISBN

978079815251 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • Barry Award for Best Thriller, 2011, USA
  • Boeke Prize Fanatics Choice Award, 2011, Exclusive Books
  • Shortlisted for the CWA International Dagger award in the UK, 2010
  • ATKV-prys vir beste spanningsroman 2009
  • M-Net-prys vir beste boek in die rolprentkategorie 2009
  • Shortlisted for the 2011 Macavity Award for Best Mystery Novel, USA

Vertalings

  • Engels, vertaal deur KL Seegers, 2011
  • Duits
  • Frans
  • Sweeds
  • Noorweegs
  • Nederlands
  • Italiaans
  • Taiwannees

Resensies en besprekings

 

Publikasie

7 dae

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798156219 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • “Shot in Translation”, best translated crime novel award from Shots Magazine (2012)
  • M-Net-prys vir beste boek in rolprentkategorie 2012
  • ATKV-prys vir beste spanningsroman 2012
  • Booksellers’ Choice Award, 2011/2012, by the South African Booksellers Association (SABA)

Vertalings

  • Engels, 2012
  • Frans
  • Duits

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Kom eet! Om die tafel met Anita en Deon Meyer

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798151641 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kookboek

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2015 – kortlys CWA International Dagger

Vertalings

Ook beskikbaar in Engels: Enjoy! Cooking with Deon and Anita Meyer

Resensies en besprekings

  • Die vet spat oor resepte in Meyer se kookboek. Die Burger, 7 November 2011
  • Malan, Marlene: Resepteboek laat woede oorkook. Rapport, 14 November 2011

 

Publikasie

Kobra

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798165044 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • ATKV-prys vir beste spanningsfiksie 2014
  • Kortlys van die Crime Writers’ Association van Brittanje se Dagger-pryse 2015

Vertalings

  • Engels; Cobra, 2014
  • Frans
  • Duits

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Ikarus

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798169776 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2016 – kortlys CWA International Dagger

Vertalings

  • Nederlands
  • Engels; Icarus, vertaal deur KL Seegers, 2016
  • Frans
  • Duits
  • Italiaans
  • Tsjeggiese Republiek
  • Noorweë
  • Spanje
  • Sweeds

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale

Publikasiedatum

2015

ISBN

0780798169462 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Koors

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798173858 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

  • Engels; Fever: the memoirs of Nicolaas Storm, concerning the investigation of his father’s murder, 2017
  • Nederlands; Koorts, vertaal deur Karina van Santen en Martine Vosmaer, 2017

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Jagveld en ander draaiboeke

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780798175708 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Draaiboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die vrou in die blou mantel

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780798176903 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

  • Engels; The woman in the blue cloak, vertaal deur KL Seegers, 2017, 2020
  • Duits; Die Amerikanerin
  • Nederlands; De vrouw in die blauwe mantel, 2017
  • Frans; La femme au manteau bleu, vertaal deur Georges Marie Lory, 2021

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Prooi

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780798177757 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2020 beste vertaalde roman in Sweeds deur die Swedish Thriller Academy

Vertalings

  • Engels; The last hunt, 2019
  • Duits; Beute
  • Frans; La proie, vertaal deur Georges Lory, 2020
  • Nederlands; Prooi, vertaal deur Karina van Santen en Martine Vosmaer, 2019
  • Sweeds; Villebråd, vertaal deur Mia Gahne
  • Finalis Barry Award for best thriller, 2023

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Leo

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780798183383 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2024 Wenner ATKV-Prosaprys
  • 2024 SA Book Award – wenner beste volwasse fiksie
  • 2024 SA Book Award – Book of the year voted by SA Booksellers

Vertalings

  • Engels, vertaal deur KL Seegers, 2024
  • Frans; Leo, vertaal deur Georges Lory, 2024
  • Duits; Die Stunde des Löwen
  • Nederlands; Leeuw, vertaal deur Karina van Santen en Martine Vosmaer, 2024

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Skorpio

Publikasiedatum

November 2025

ISBN

9780798185677

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

’n Keur van artikels oor Deon Meyer

Artikels deur Deon Meyer beskikbaar

Deon Meyer se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik 12-01-2017 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Pingback: Boeken uit het Huis: Deon Meyer en Peter Römer - Het Zuid-Afrikahuis

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top