Deon Meyer, Charlene Lackay en Tracey Lange saam in die WAT se span

  • 0

Charlene Lackay, Deon Meyer en Tracey Lange (foto's verskaf)

Deon Meyer en Charlene Lackay is pas aangewys as nuwe trustees van die WAT Trust. Die doel van die WAT Trust is om fondse te werf en te bestuur vir die samestelling van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Die WAT is die grootste projek wat ooit in belang van Afrikaans onderneem is: dit is ’n omvattende Afrikaanse woordeboek wat nie net op die standaardvariëteit van Afrikaans fokus nie, maar ook op die ander variëteite soos Kaaps, Namakwalands en Oranjerivierafrikaans. Ook streektaal, geselstaal, vloektaal en uitdrukkings is vir die WAT belangrik. 

Beide Meyer en Lackay is reeds jare lank ondersteuners van die WAT en hulle was ook onderskeidelik beskermheer (2015) en beskermvrou (2011) van Borg ’n Woord – ’n fondswerwingsprojek van die WAT Trust.  Die ander lede van die WAT Trust is Johan Holtzhausen (voorsitter), Piet Aucamp, Willem Botha, Rudolf Gouws, Helgaard Raubenheimer, Arnold Schoonwinkel en Gerhard Swiegers.  Donateurs is tans verantwoordelik vir 80% van die WAT se jaarlikse begroting van R9 miljoen. Die Trust geniet belastingvrystelling kragtens artikel 18A.  Bykomende fondse van R3 miljoen per jaar word vir die volgende tien jaar benodig  om die Tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT uit te  voer. Vyf bykomende redaksielede is reeds aangestel en hulle word van Julie tot Desember intern opgelei ten einde die implementering van die Tienjaarplan moontlik te maak.

Tracey Lange is vanaf Internasionale Woordeboekdag op 16 Oktober die nuwe beskermvrou van Borg ’n Woord. Volgens dr. Willem Botha, trustee en uitvoerende direkteur van die WAT, het die keuse op Lange geval vanweë haar geesdrif vir Afrikaans en die lewe:  “Ons glo haar geesdrif sal aansteeklik inwerk op ander wat ook lief is vir Afrikaans. ’n Woord is die mees persoonlike geskenk wat jy vir iemand kan gee.” Tracey spoor almal aan om deel te neem aan Borg ’n Woord met hierdie woorde: Lief vir Afrikaans? Lief vir iemand? Sê dit met ’n woord in jou moedertaal: BORG ’n WOORD vir hom of haar, of vir jouself!

Die WAT se Borg ’n Woord-projek  het mense opnuut bewus gemaak van die rol wat woorde in hul lewens speel.  Die Afrikaanse taal bestaan uit ongeveer een miljoen woorde en daar is reeds meer as tienduisend woorde geborg of gekoop.  Meer as een persoon kan egter dieselfde woord borg, maar elkeen kry ’n sertifikaat met sy naam en die woord of woorde wat hy geborg het. Jy borg ’n woord vir R100 en koop ’n woord vir R5 000. As jy ’n woord gekoop het,mag niemand anders daardie woord borg op koop nie.  Elke deelnemer kwalifiseer vir die prystrekking waarin R25 000 van Sanlam gewen kan word en elkeen kry ook gratis toegang tot die Aanlyn WAT, die elektroniese weergawe van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Tracey het reeds die voorbeeld gestel deur pa te borg ter ere van haar pa wat onlangs oorlede is. Rektor is deur die Universiteit Stellenbosch vir Wim de Villiers gekoop vir R5 000 en poenankies (“oulik”) is deur Debra Meyer geborg .  Ander woorde wat reeds in Tracey se termyn geborg of gekoop is, is onder andere Bitcoin, dinkskrum, spook, beëdigde, braaivleis, draf, grondboontjiebotter, opwipkuns  en Vrydag.  Besoek www.wat.co.za as jy ook ’n woord wil borg of koop, of ’n donateur van die WAT wil word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top