Koors deur Deon Meyer, 'n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 2

“Without us, the Earth will abide and endure; without her, however, we could not even be.” – Alan Weisman, The world without us

Met ’n rits blitsverkopers en verskeie literêre toekennings op sy kerfstok is Deon Meyer die onbetwiste meester van die postapartheid misdaadverhaal in Suid-Afrika. Meyer se indrukwekkend oeuvre sluit in, onder meer: Feniks (1996), Onsigbaar (2007), Spoor (2010), 7 Dae (2011) en Ikarus (2015).

Takseer jy die boek op sy baadjie, lyk Meyer se jongste roman, Koors (2016), nie juis na ’n afsien van sy gewone aanbod nie. “Hulle het my pa doodgeskiet. Ek gaan hulle kry,” dreig die reklame-slagsin op die omslag. Ja, dink jy, dit klink omtrent reg vir ’n lekkerlees-Meyer-spanningsriller. Maak jouself maar gereed vir vinnige pas, ’n paar ontploffings en ’n grieselrige moord of twee.

Toe nou nie heeltemal nie ...

Alhoewel Koors al die kenmerke van die Meyer-treffer behou – ’n aksiebelaaide en spannende storielyn; ’n moord om op te los; en goed-ontwikkelde, komplekse karakters – is dit gou duidelik dat Meyer so stilletjies van ons weggeglip het op ’n onverwagste afdraaipaadjie. Skielik bevind ons ons op onbekende terrein, want hierdie is nie jou alledaagse speurverhaal nie.

Koors herinner aan Cormac McCarthy se The road en Margaret Atwood se MaddAdam-reeks. Die roman flankeer met die elemente van spekulatiewe of bespiegelende fiksie en neem as sy vertrekpunt ’n “sê nou maar”- of “wat sou gebeur as?”-scenario wat Meyer self beskryf as iets “wat nie ons huidige werklikheid is nie, maar wat baie maklik sou kon gebeur”.

Koors speel af in ’n distopiese, postapokaliptiese Suid-Afrika. Die jaar is onbekend, maar ons kan aanneem dat gebeure in die nie te verre toekoms nie afspeel, so min of meer in ons tyd.

95% van die wêreld se bevolking is uitgewis deur ’n dodelike plaag, bekend in die volksmond as Die Koors. Die skielike verlies van lewens het verreikende gevolge. Beskawing soos ons dit ken is iets van die verlede. Die land beleef ’n totale ineenstorting van infrastruktuur en wetgewing. Die handjievol mense wat Die Koors oorleef moet veg om oorlewing vir kos en skuiling. Daar is moorddadige motorfietsbendes wat beroof en plunder. Mak diere het skielik teen hulle vorige meesters gedraai. En boonop is Kaapstad weens ‘n kernramp onbegaanbaar.

Dit is in hierdie nagmerrie wêreld dat ons jong protagonis, Nico Storm, hom bevind.

Die roman word as ’n memoir aangebied. Die gebeurtenisse van sy jeug in die eerste jare na Die Koors word uit die oogpunt van die nou volwasse Nico vertel. Nico se terugblikke word afgewissel deur die insette van verskeie gemeenskapslede wat in die Amanzi-geskiedenisprojek opgeneem is. So ontvou die storie van Die Koors, die stigting van die utopiese nedersetting Amanzi by die Vanderkloofdam, en die moord op Nico se pa, Willem Storm.

 

Meyer en die “natuurgerigte” spanningsverhaal

Daar is al baie geskryf oor Meyer se rol as baanbreker in die oplewing van Suid-Afrikaanse misdaadfiksie en die debat rondom misdaadfiksie as die ‘\”nuwe politiese roman” (sien byvoorbeeld die skrywinge van Leon de Kock en Kavish Chetty).

Met hierdie resensie wil ek fokus op ’n aspek van Meyer se oeuvre, en spesifiek Koors, wat nog betreklik min aandag geniet het: ’n beduidend ekologiese aanslag.

In ’n artikel getitel “Crimes against nature: ecocritical discourse in South African crime fiction” ondersoek Sam Naidu Meyer se Blood Safari (Onsigbaar) en Trackers (Spoor) as voorbeelde van natuurgerigte letterkunde (“nature-oriented literature”).

Naidu ontleen dié begrip aan Patrick Murphy, ’n navorser werksaam op die gebied van die ekokritiek.

Natuurgerigte letterkunde word gedefinieer as

(a)n aesthetic text that, on the one hand, directs the reader's attention toward the natural world and human interaction with other aspects of nature within that world, and, on the other hand, makes specific environmental issues part of the plots and themes of various works. (Naidu 2014:59)

Vir Naidu is dit duidelik dat beide Onsigbaar en Spoor voldoen aan Murphy se definisie van natuurgerigte letterkunde. Hierdie tekste vestig die leser se aandag op die natuurlike wêreld en aktuele ekologiese vraagstukke in Suid-Afrika, soos byvoorbeeld die lot van die swart renoster. Hierdie ekologiese krisisse word verweef in die storielyn en word temas in die tekste. Naidu sien dit as ’n geleentheid vir sosiale, politiese en ekologiese kommentaar om by mekaar aan te sluit. Maar, waarsku sy, Meyer is tog gebonde aan die reëls van misdaadfiksie. Hy moet binne die lyne inkleur, al toets hy so nou en dan die grense van die genre.

What one has to bear in mind, though, is that Meyer is a crime thriller author, and the conventions of the crime thriller genre, not the fact that they are “nature-oriented” determine the form of these narratives. As such, the emphasis in these novels is definitely on “human interaction”. They are anthropocentric narratives with the detective occupying centre-stage, and “specific environmental issues” or crimes against nature inform the plots and themes without necessarily becoming focal elements of the narrative. (Naidu 2014:60)

Die idee dat die grense van die misdaadriller getoets, maar nie oorskry mag word nie, word geëggo deur die Suid-Afrikaanse misdaadskrywer Margie Orford:

(O)ne of the problems I found with (…) Gallows Hill is that you can’t mess with the genre. You can push against it at certain points. The detective character functions as a scopic eye: a way of doing an internal examination, exploring all sorts of aspects of South Africa. But one of the things [crime-fiction] could never do is write a novel about how poverty functions in Gugulethu. (Chetty 2012)

“Politiese” temas soos armoede en die huidige globale ekologiese krisis mag dus aangeraak word in misdaadfiksie, maar nie tot so ’n mate dat dit die pas van die storielyn ondermyn nie.

Kan Meyer se wegbreek van tradisionele misdaadfiksie na spekulatiewe spanningsfiksie gesien word as ’n poging om die grenslyne van die genre nog verder te verskuif? Om groot filosofiese en ekologiese vraagstukke aan te pak buite die beperkinge van die genre?

Soos satire, het wetenskapfiksie en spekulatiewe fiksie ’n reputasie as mondstuk vir sosiale kommentaar, dikwels onder die dekmantel van liggewig vermaak. In die voorwoord van William Gibson se Burning chrome skryf Bruce Sterling:

If poets are the unacknowledged legislators of the world, science fiction writers are its court jesters. We are Wise Fools who can leap, caper, utter prophecies, and scratch ourselves in public. We can play with Big Ideas because the garish motley of our pulp origins make us seem harmless. 

Boonop het spekulatiewe fiksie ‘n lang geskiedenis van omgewingsbewustheid en bied dit genoeg ekologiese trope om te sorg vir ‘n veilige ruimte om die huidige ekologiese krisis en sy moontlike gevolge vanuit aan te pak.

Meyer se verbeeldingsvlug herinner aan ’n “sê nou maar” wat deur Alan Weisman in sy boek The world without us (‘n teks wat ook in Meyer se bronnelys opgeneem is) ondersoek word. Weisman stel die vraag: Hoe vinnig sou die natuur herstel as die mensdom skielik heeltemal van die aardbol sou verdwyn?

Look around you, at today’s world. Your house, your city. The surrounding land, the pavement underneath, and the soil hidden below that. Leave it all in place, but extract the human beings. Wipe us out, and see what’s left. How would the rest of nature respond if it were suddenly relieved of the relentless pressures we heap on it and our fellow organisms? How soon would, or could, the climate return to where it was before we fired up all our engines? (Weisman 2007:4)

In Weisman se denk-eksperiment is daar geen hoop vir die mensdom nie. Ons word summier verwyder van Moeder Aarde om die natuur toe te laat om volkome van ons vernielsug te herstel. Meyer verwyder natuurlik nie die hele wêreld se bevolking in sy verhaal nie, maar Koors is nietemin gemoeid met die idee van ’n ekologiese balans wat herstel moet word.

Koors open met ’n skermutseling tussen Nico en Willem Storm en ’n trop wilde honde. Dit is die eerste in ’n rits onderonsies met ’n verskeidenheid diere in die roman. Dit is gou duidelik dat hierdie ontmoetings met diere gebruik word as ‘n manier om tyd te merk in ‘n wêreld waar die Gregoriaanse almanak nie meer van veel nut is nie. So word daar deurgaans verwys na Die Jaar van Die Hond, Die Jaar van die Leeu, ens. Die boek word ook volgens hierdie arbitrêre tydperke verdeel, sodat die pas van die verhaal geanker is in die natuurlike wêreld.

Wanneer daar skielik dooie kraaie in groot getalle in en om Amanzi gevind word, meen Willem Storm en Birdie dat dit bloot ’n natuurlike gevolg van Die Koors en die verlies van soveel van die menslike bevolking is, ’n manier vir die ekosisteem om weer die balans te herstel.

Sy sê die dooie kraaie is ’n ekologiese regstelling. My pa stem saam. Hy sê hulle het dekades lank al hoe meer geword omdat hulle so goed aangepas het by mense, stede, dorpe, en al die aas van dooie diertjies langs die pad. Ja sê Birdie, daar was met en ná Die Koors nog meer aas vir hulle. En nou is dit alles weg. Mense, stede, dorp, aas. Dis net ’n ekologiese regstelling. (190)

Die implikasie hier is dat Die Koors self ’n ekologiese regstelling was, en dat die mensdom die onvolhoubare element in die vergelyking was.

Hierdie idee van ‘n wanbalans kom ook na vore in verskeie van die onderhoude met gemeenskapslede wat in die Amanzi-geskiedenisprojek opgeneem is. Abraham Frost vertel byvoorbeeld:

Net so paar maande voor Die Koors, toe lees ek ’n artikel oor piesangs. Toe sê hulle piesangs soos ons dit ken, loop gevaar om uit te sterf … (W)at ek probeer sê, is dat ons as mense ‘n aarde geskep het wat baie onnatuurlik was. Ons het groot wanbalans gebring. En toe gebeur met ons presies dieselfde as wat met die piesangs gebeur het … Dit voel net asof dinge nou weer in balans is. (297).

Volgens Sewes Snijders, een van die Weskussers wat later by die Amanzi-gemeenskap aansluit, het Die Koors baie positiewe gevolge vir die natuur gehad:

(O)ns het ’n lewe gemaak op Lambertsbaai, maar eintlik uit die see uit, elke jaar dan is die vis en die kreef meer, jy kan sien die see het mooi reggekom, en die voëls, dis waar jy kon sien, Die Koors was eintlik goed vir die wêreld. (430)

In teenstelling met die onvolhoubaarheid van die mens se verhouding met die natuur in die tyd voor Die Koors, word die Amanzi-gemeenskap as ’n pastorale Arkadië uitgebeeld. Amanzi, die plek van lig en water, is ’n utopiese nedersetting waar die mens weer nader aan die natuur kan leef.

In verband met die postapartheid misdaadriller skryf Christopher Warnes:

(T)he postapartheid crime thriller should be read as negotiating – in the ambivalent sense of the word – the threat and uncertainty that many feel to be part of South African life, creating fantasies of control, restoration and maintenance, and reflecting on the circumstances that gave rise to this unease. (2012:989)

Amanzi kan gesien word as ’n tipe Eden waar fantasieë van beheer, restourering en instandhouding uitgeleef kan word. Die gevaar en gevoel van ongemak wat hier weerspieël word, is kwessies van toepassing op hedendaagse Suid-Afrika: armoede, geweld, oorbevolking, aardverwarming.

Nero Dlamini, ‘n Amanzi-gemeenskapslid wat voor Die Koors ‘n sielkundige was, vertel van ’n “recurring theme” in sy terapiesessies:

You would not believe the stress levels ordinary people had to cope with … And then they worried about the things happening in the world. Terrorism, and recession, and we’re running out of fish to catch, and there’s more plastic than fish in the sea, and there’s global warming … So, getting back to that recurring theme: a disturbing number of my patients had this wish, this fantasy, this urge for a new beginning. Just to walk away from their old lives, their old worlds and their old planets, and start over. Free from the worries. (299).

Die beskawing en instandhouding van Amanzi is in direkte teenstelling met die afskuwelike gedrag van die “slegte ouens” wat Nico en sy makkers deur die loop van die verhaal raakloop: die “ooms” in Vanderkloof-dorp wat Melinda Swanevelder aanhou, die KTM-bende, en nog vele kleurryke skurke.

Meyer bied dus twee teenstrydige filosofieë aan die leser. Die eerste is Domingo se mantra, “The other guy wants to kill me. If I hesitate, I die”, wat gebaseer is op die geloof dat ons almal net diere is onder die dun lagie vernis wat die illusie van beskawing bied:

Hier is my philosophy: Ons is animals, Nico. Social animals. Domesticated, social animals. Thin veneer of civilisation. Gentle creatures as die wêreld orraait is, as die social conditions undisturbed and normal is. Ma’ as jy die conditions disturb, dan skuur daai veneer af. Dan raak ons wild, ons raak predators, killers, ons hunt in packs. Dan raak ons soos die honne. (196)

Die tweede is Willem Storm en Birdie se geloof in die potensiaal van die mensdom. Die geloof in die onblusbaarheid van die menslike gees, selfs wanneer onmoontlike probleme soos aardverwarming ons in die gesig staar:

Ek mis die potential ... Dit was al laat in die nag met global warming, maar die ding is, we were getting closer and closer to a solution. Da’ was die potential of fixing it all. Nou, jy kan sê ja, ma’ daai was net ‘n potential of a solution, ons was eintlik in baie groot trouble. But look at our track record. Kyk wat het ons al gedoen, mankind. Kyk na al die diseases wat ons al ge-eradicate het. Kyk na die theory of relativity. Quantum theory. We mapped the human genome. Ons het dit in ons gehad om al die probleme op te los, we had the potential. (Meyer 195)

Die kiem van hierdie twee perspektiewe – die mens se vernielsug en die mens se potensiaal om met uitvindinge nuwe positiewe te skep wat die wêreld kan bevoordeel – bly voortbestaan na Die Koors. In Meyer se nuwe wêreld is daar plek vir beide moorddadige motorfietsbendes en goedbedoelende wetenskaplikes wat dink hulle kan positiewe bydraes lewer. Die vraag is egter: Is die handhawing van ‘n gesonder ewewig in die natuurlike ekobalans die oorheersende strewe in die post-Koors wêreld of dra die uitkoms van Die Koors die kiem van ‘n volgende aanslag op die ekobalans in die mense wat oorleef het? Watter belange gaan voorrang geniet in die post-Koors wêreld: die ekobalans of die mens se drang om die aarde te beheer en te bestuur, al is dit onder die dekmantel van die handhawing van ekobalans? Is die mens werklik in staat om tweede viool te speel?

Dit is hierdie spanning tussen die ideële en die reële wat Meyer se Koors tot ‘n meer gesofistikeerde ekokritiese diskoers verhef.

 

Slot

In haar ondersoek na die omgewingsgerigte aspekte van Meyer se Spoor en Onsigbaar betwyfel Naidu of die Suid-Afrikaanse misdaadriller ekokritiese diskoers inspan bloot as tema om die plot voort te dryf en of die omgang met ekologiese kwessies dui op die spanningsverhaal as ‘n waardige subkategorie van ekokritiese literatuur.

Soos hier bo gemeld, blyk dit dat Meyer se inspanning van spekulatiewe elemente, asook ekologiese diskoers in Koors, verder strek as temas wat die plot van die sentrale misdaadnarratief voed.

Die mantel van spekulatiewe fiksie bied Meyer wel die vryheid om te speel met groot idees soos dat die drastiese verlaging van die menslike bevolking sal help om die aarde se biosfeer te herstel. Maar Koors ondersoek ook die komplekse verhouding tussen die mens en die natuur, die fyn balans tussen beskawing en animalistiese aard en die mens se reg op die aarde se hulpbronne.

Daarom is die sentrale tema van die roman steeds antroposentries van aard. Dit is egter juis hierdie spanning tussen beskawing en animalistiese aard wat die spekulatiewe elemente meer om die lyf gee, al bly Koors in die eerste plek nog ‘n spanningsroman. Al speel Meyer doeltreffend met tyd en omstandighede, bly die hart van die storie tog steeds die menslike drama wat in hierdie gevaarlike nuwe wêreld ontvou – die lief en leed van die Amanzi-gemeenskap en die humanistiese filosofiese kwessies waarmee hulle worstel met oorgenoeg aksie en ‘n “murder mystery” om hardebaard aanhangers van Meyer aan die lees te hou.

Koors het egter genoeg om die lyf om ernstiger aandag van ekokritici te ontlok.

 

Bronnelys

 

Chetty, K. 2011. New political novels not so political. SLiPnet, 14 Mei. Beskikbaar by http://slipnet.co.za/view/event/new-political-novels-not-so-political.

De Kock, L. 2012. Roger Smith and the genre snob debate. SLiPnet, 9 Januarie. Beskikbaar by http://slipnet.co.za/view/reviews/crime-fiction-the-'new-political-novel'/

Meyer, Deon. 2016. Koors. Kaapstad: Human & Rousseau.

Naidu, Sam. 2014. Crimes against nature: Ecocritical discourse in South African crime fiction. Scrutiny2: Issues in English studies in Southern Africa, 19(2):59–70

Sterling, Bruce. 1995. Foreword. (William Gibson). Burning chrome and other stories. Londen: Harper Collins.

Warnes, Chris. 2012. Writing crime in the New South Africa: Negotiating threat in the novels of Deon Meyer and Margie Orford. Journal of Southern African Studies, 38(4):981–91.

Weisman, Alan. 2007. The world without us. Londen: Virgin Books.

 

  • 2

Kommentaar

  • 'n Probleem met die verhaal is dat die veroorsaking van die koors geen morele verontwaardiging of afkeer, uitlok nie. Ek hou dit maar vaag om nie die boek vir 'n potensiële leser op te mors nie. Ek dink ook dat die uiteinde is dat die gedeeltelike uitwissing van die mensdom niks oplos nie. 'n Mens sien 'n herrysing van die vorige gewraakte patrone in die samelewing. Die menslike dinamika is dus sodanig dat die tydelike blaaskans weer 'n storm gaan word.

  • Sal in die toekoms eers sy goed scan voor ek weer een koop. Anders as al sy vorige boeke staan die een my nie aan nie en het ek hom toegemaak op bl 95.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top